Is daar ‘n boek wat volgens jou nie in die Bybel hoort nie?
Daar was altyd mense wat sommige boeke nie ‘n plek in die Bybel gegun het nie
So is daar onder Joodse geleerdes gedebatteer of Hooglied wel in die Bybel hoort.
Is al daardie liefdesliedere nie te aards vir die Bybel nie?
Martin Luther het twyfels gehad of die boek Jakobus wel in die Bybel tuishoort.
Die kern van die Evangelie het hy op aangrypende wyse herontdek, soos dit in die Romeinebrief tot hom gekom het, naamlik die Christus alleen!
Regverding deur geloof in Christus alleen, sonder werke!
Daar was ‘n periode waarin hy gedink het die boek Jakobus doen daaraan afbreuk.
Latere Reformatore soos Calvyn het verduidelik hoe ook Jakobus se gesigspunt nie in stryd is met die Evangelie van genade nie.
En so het Guido des Brès in artikel 4 die lys van die kanon weer bevestig, soos wat dit deur die eeue vanaf die vroeë kerk gefunksioneer het.
Ons kyk vanaand weer na hierdie tweede middel waardeur God tot ons spreek.
Die Heilige Gees het die Woord ontwerp om jou te bring tot aanbidding van Christus.
Tema: Die hele Skrif is deur die Heilige Gees geïnspireer
1 Die Heilige Gees het die ontstaan van elke Bybelboek gelei
2 Die Heilige Gees het ‘n ryke skakering aan Bybelboeke geskenk
1 Die Heilige Gees het die ontstaan van elke Bybelboek gelei
Die kommunikasie tussen God en mens is nie meer van aangesig tot aangesig, direk, soos in die paradys nie.
As gevolg van die mens se sondeval het daar verwydering gekom.
In sy genade gee God egter twee middele, waardeur sy stem tot ons kom.
NGB art. 2 het hulle bespreek: eerstens die skepping, ouderhouding en regering van die wêreld as eerste middel.
En tweedens die heilige Goddelike Woord as tweede middel.
In die preek na aanleiding van artikel 2 het ons aandag geskenk aan die unieke doel van die Bybel.
Ter wille van toekomstige geslagte het God sy heilsplan op skrif laat stel.
Ons het aandag geskenk aan die tydperk van die openbaringsgeskiedenis, rofweg vanaf Moses totdat die laaste apostel gesterf het, ‘n tydperk van ongeveer een en ‘n halwe millenium.
In hierdie tydperk het die Heilige Gees besondere sorg daaraan bestee dat die heilsplan op skrif gestel is.
Die Bybel is nie maar net ‘n ou boek met feite oor die verlede nie.
Elke hoofstuk in die Bybel het ‘n baie spesifieke doel.
Elke hoofstuk in die Bybel is ‘n stukkie in die legkaart van God se heilsplan.
Ja elke hoofstuk in die Bybel openbaar Christus.
Hy is die Alfa en Omega, die begin en einde van God se heilsplan.
Nou in artikel 3-7 van die NGB word die tweede middel verder bespreek.
Artikel 3 fokus op God se spesiale knegte.
In die Ou Testament was dit die profete.
In die Nuwe Testament was dit die apostels.
Hy het hulle beveel om die geopenbaarde Woord op skrif te stel.
In vandag se preek gaan ons nader hierop in.
Hoe het profete en apostels dit op skrif gestel?
In hierdie preek maak ons kennis met ‘n term wat in hierdie verband in die teologie gebruik word, naamlik organiese openbaring.
Ons gaan kyk na wat die Skrif self sê oor hierdie proses, hoe God se openbaring op skrif gestel is deur apostels en profete.
Nou om die begrip organiese openbaring te kan verstaan, is dit goed om eerstens aandag te skenk aan wat dit nie is nie.
En daarvoor neem ek u saam na die heilige boek van ‘n ander godsdiens, naamlik die Koran.
In die Islam is dit algemeen aanvaar dat Mohammed ongeletterd was.
Hy kon nie lees of skryf nie.
Maar hy het dit skynbaar letterlik gememoriseer en deur ander laat opskryf.
Hierdie vorm van inspirasie word dan ook meganiese oftewel letterlike inspirasie genoem.
Die mense was as ‘t ware net die tikmasjien wat dit op skrif gestel het.
Dit word deur Moslems as ‘n wonder gesien.
Moslems sien dit as ‘n bewys vir die betroubaarheid van die Koran, dat dit God se eie woorde was.
Die totstandkoming van die Koran was volgens hulle ‘n bonatuurlike wonder.
Daarom moet Moslemskinders tot vandag toe die Arabiese Koran uit hulle koppe leer, of hulle nou in Saudi-Arabië woon, of op die Kaapste Vlakte, waar ook al ter wêreld.
Want dis mos die einste woorde wat Gabriël geopenbaar het.
Nou het historiese ondersoek uitgewys dat die Koran geskryf is in ‘n vorm van Arabies wat eers baie later na Mohammed se dood die spreektaal geword het.
Gebruik makende van gesonde verstand moet mens dus konkludeer dat die Koran eintlik eers ten minste ‘n eeu na Mohammed tot stand gekom het.
Al met al nie histories betroubaar en oortuigend nie.
Teenoor meganiese inspirasie bely ons egter organiese inspirasie.
Dit wil sê, die orgaan wat God gebruik het om sy Woord op skrif te stel, was mense – die apostels en profete.
Hy het hulle nie net as tikmasjiene gebruik nie.
Hy het hulle hele menswees ingeskakel, hulle denke, hulle taalvermoë, ensovoorts.
Hierdie is net so goed ‘n wonder, maar wel van ‘n ander aard.
God die Heilige Gees het elke apostel en profeet met sy unieke gawes ingeskakel.
God het deur sy voorsienigheid hulle lewens so gelei, dat hulle toegerus is vir daardie taak.
‘n Bekende voorbeeld is hoe God Moses se lewe gelei het.
Pleks van in die Nylrivier te verdrink, is Moses aangeneem deur ‘n prinses.
Aan die Egiptiese hof het hy leer lees en skryf, ja ‘n geleerde man geword.
Dit was deel van God se beplanning vir die taak wat Hy vir hom gehad het, naamlik om die eerste boeke van die Bybel op skrif te stel – ons het vanaand daaroor gelees uit Exodus.
In die Bybelboeke kan mens ook die unieke karakter van elke outeur terugvind.
Daar is geskiedskrywers, dink aan die boeke Rigters tot en met Konings en Kronieke.
Daar is ook skrywers met artistieke vaardighede, dink aan die Psalms wat Dawid geskryf het.
Soos wat ons in laasweek Sondagaand se preek gehoor het, styl, dat iets mooi klink en mooi lyk, is ook vir die HERE belangrik.
In die Bybel vind ons van die pragtigste poësie.
En dan is daar ook die wyse spreuke van Salomo.
Daar is verder profete wat hoogsopgeleide stadsbewoners was, en wie se taal baie versorgd was, dink aan ‘n profeet soos Jesaja.
Dan was daar profete wat as boer op die platteland gewoon het, en wie se taal reguit, ongepolys en sonder omhaal van woorde was, soos die profeet Amos.
Beide profete het in Hebreeus geskryf, maar tog is die taalgebruik heel uiteenlopend.
Verder val dit ook op in die Bybel dat God gebruik gemaak het van die gewone taal wat die mense gepraat het.
Soos ek genoem het, God het sy heilsplan op skrif laat stel in die tydperk van die openbaringsgeskiedenis.
Die tale wat in hierdie periode gangbaar was, het God daarom gebruik.
En soos ons weet, tale is nie staties nie, maar verander steeds.
Die oudste dele van die Bybel is geskryf in ‘n ou vorm van Hebreeus.
Die nuutste dele van die Ou Testament weerspieël egter die taal wat die Jode na die ballingskap gepraat het.
Toe het hulle nie meer die ou Hebreeus gepraat nie, maar steeds meer oorgeskakel na Aramees.
Kom ons by die Nuwe Testament, dan sien ons dat dit in Grieks geskryf is, die gangbare wêreldtaal van daardie tyd.
Hoewel, soos ons vandag weet dat Engels, wat nou die wêreldtaal is, nie in elke land op dieselfde manier gepraat word nie, so was dit ook destyds met Grieks.
Die Nuwe Testament is nie in ‘n Grieks geskryf wat in Athene, die bakermat van die Griekse taal, gepraat is nie, maar die tipe Grieks wat in Paletstina gepraat is.
‘n Persoon uit Griekeland het moontlik sy neus opgetrek vir daardie plat Grieks uit Palestina, net soos ‘n Engelsman vandag sy neus mag optrek vir die Engels wat in ‘Down Under’ gepraat word.
Nietemin, al was dit ‘n Grieks wat nie gepolys was volgens die maatstawwe van daardie tyd nie, tog het dit God behaag om sy Woord in daardie vorm van Grieks duidelik en verstaanbaar te maak.
Die Moslems sien dit as ‘n bewys van die egtheid van die Koran, dat dit sogenaamd woordeliks opgeskryf is soos God dit gegee het.
Ons stem nie daarmee saam nie.
Uit historiese ondersoek is duidelik dat die Koran eers baie jare na Mohammed tot stand gekom het.
Daarenteen geld dit juis as ‘n bewys van egtheid dat die Bybel geskryf is in die taal van daardie tyd.
Dit is ‘n bewys dat die Bybel nie van latere oorsprong is nie.
Dit is ook ‘n bewys van egtheid dat die Bybel al die verskillende karakters van die apostels en profete, asook die taalvorme wat hulle gebruik het, weerspieel.
En dit noem ons dus: organiese inspirasie.
God het apostels en profete volledig in diens geneem, presies soos hulle was.
Die Bybel is deur mensehande op skrif gestel.
Soms moes hulle dinge opskryf waarvan hulle die betekenis nog nie verstaan het nie.
Ander kere het die Heilige Gees die profeet en apostel se eie denke en redenasievermoë ten volle gebruik.
Hoe verskillend elke Bybelboek ook is, hoe verskillend elke Bybelskrywer ook was, die Heilige Gees het elkeen van hulle gelei op unieke wyse.
(Tema: Die hele Skrif is deur die Heilige Gees geïnspireer
- Die Heilige Gees het die ontstaan van elke Bybelboek gelei)
2 Die Heilige Gees het ‘n ryke skakering aan Bybelboeke geskenk
Die Bybel is ‘n dik boek.
In die Bybel is ‘n ryke skakering aan soorte boeke.
Soms het God amptelike dokumente as deel van sy openbaring gebruik.
Soos byvoorbeeld amptelike skrywes van koning Kores ten aansien van die herbou van die tempel (Esra 6).
Andere kere het God die diepste gedagtes van Dawid wat hy in ‘n persoonlike skuldbelydenis uitgespreek het, gebruik – sien byvoorbeeld Psalm 51.
Soms het God eentonige geslagsregisters opgeneem in sy openbaring – sien byvoorbeeld die begin van Kronieke.
Ander kere het God ‘n liefdeslied, wat mens amper laat bloos, in sy openbaring opgeneem – sien byvoorbeeld Hooglied.
Al hierdie wye verskeidenheid aan genres en variasie aan stylvorme en taalvorme bymekaar, vorm die mosaïek van God se onwankelbare Woord.
Verder is daar ook baie herhaling in God se Woord.
Boeke soos Konings en Kronieke beskryf dieselfde periode uit die geskiedenis van God se volk in die Ou Testament.
En al is daar ‘n wye verskeidenheid aan Psalms, sing baie Psalms tog oor dieselfde.
En in die Nuwe Testament is daar ‘n viertal Evangeliste wat diesekfde geskiedenis van Christus se ampswerk op aarde beskryf het.
Hoekom is daar so baie herhaling in die Bybel?
Maak dit die Bybel nie onnodig dik nie?
Al hierdie herhaling, gemeente, het te make met die beginsel wat God al aan Moses duidelik gemaak het:
“op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees” – Deuteronomium 19:15.
In die Skrif vind ons ‘n wye verskeidenheid van getuies, wat almal, geïnspireer deur dieselfde Gees, vanuit eie gesigspunt, tog met dieselfde boodskap kom.
Al die boeke van die Skrif kom met ‘n eensluidende getuienis.
Hulle spreek mekaar nie teen nie, maar hulle versterk mekaar.
Elkeen belig vanuit sy eie gesigspunt God se heilsplan.
So is die hele Skrif deur God ingegee, skryf Paulus in 2 Timotheüs 3:16.
Die oorspronklike Griekse woord vir ingegee kan ook vertaal word as: ingeblaas; of: deur God geasem.
Die Heilige Gees het elke woord in die Bybelskrywers ingeasem, ingeblaas, sodat hulle dit waarheidsgetrou kon opskryf.
So intens was die Heilige Gees daarby betrokke.
Ja elke Bybelboek is deur God geïnspireer (tema).
Hoekom is daar so baie boeke in die Bybel?
66 in totaal, al is dit eintlik net ‘n praktiese nommer, die getal op sig is nie van waarde nie.
Dit hang maar af hoe mens tel.
So bestaan Psalms byvoorbeeld uit meerdere bundels van Psalmboeke.
En behalwe vir baie lywige boeke, is daar ook byvoorbeeld ‘n kort briefie van Paulus aan Filemon wat as ‘n aparte boek getel word.
Verder is daar boeke soos Samuël, Konings en Kronieke, wat elkeen opgedeel is in twee, waarskynlik omdat die boek destyds te lank was vir een boekrol.
Die vraag gaan dus nie soseer oor die getal 66 nie, maar oor hoekom juis al hierdie boeke, briewe, geskrifte, liedere ensovoorts ‘n plek in die Bybel gekry het?
Was dit maar net ‘n toevallige proses wat so deur die eeue plaasgevind het?
Of was daar dalk vroeër ‘n sinode wat dit so vasgestel het?
Die NGB neem sterk standpunt in teen so ‘n siening.
Ons aanvaar hierdie boeke as die Bybel, nie omdat die kerk hulle aanvaar nie, sê artikel 5.
Dis nie so dat die kerk op byvoorbeeld ‘n sinode besluit het watter boeke in die Bybel hoort nie.
Mens hoor soms daardie opvatting, asof ‘n sinode lank gelede in die vroeë kerk die Bybel sou saamgestel het.
Dit is onsin.
Daar is ou sinodes uit die vroeg-Christelike kerk wat inderdaad die lys van al die Bybelboeke opgeskryf het.
Maar daaruit kan mens nie die konklusie trek dat daardie sinode die lys saamgestel het nie.
Wat daardie ou sinodes wel gedoen het, was om die lys van kanonieke boeke te verdedig teenoor dwaalleraars en ketters wat die Bybel wou verander.
U onthou miskien vir Marcion.
Marcion was ‘n ketter uit die tweede eeu wat die Ou Testament verwerp het, en ook die meeste boeke van die Nuwe Testament verwerp het.
Marcion het slegs die Lukasevangelie en 10 briewe van Paulus in sy Bybel oorgehou.
Dit was in reaksie op Marcion se kettery wat vroeg-Christelike sinodes die kanon verdedig het.
Hulle het die kanon dus nie saamgestel nie.
Hulle het slegs die kanon wat reeds bestaan het, verdedig teen ketters soos Marcion.
Ons bely daarom met die NGB: Die Heilige Gees getuig in ons hart watter boeke in die Bybel hoort, watter boeke van God is.
Lees gewoon deur die boeke, vergelyk hulle met ander boeke, dan kom die besef onweerstaanbaar op: Hierdie spesifieke boeke is meer as net menseboeke.
Dit is die Heilige Gees wat daardie besef in jou hart bring.
Dis net mense wat bewus blind wil wees, wat hulleself teen die Gees verhard, wat daardie getuienis verwerp.
Om dit met ‘n voorbeeld te verduidelik:
As ek vir u ‘n ry boeke sou wys, waarvan sommiges hardeband is en ander sagteband.
En ek vra vir u: Sit al die boeke wat hardeband is eenkant, en die wat sagteband is anderkant.
Enige persoon, selfs ‘n blinde, sal dit kan doen.
Slegs mense wat moedswillig wil wees, sal skynbaar nie die verskil agterkom nie.
Maar dit is ‘obvious’, sou ons sê.
Net so is dit klaarhelder, watter boeke Bybelboeke is.
Die NGB sê: Selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.
Bedoelende: As ‘n blinde persoon iets kan uitken, dan staan dit mos dubbel vas.
Nie dat elke hoofstuk in die Bybel eenvoudig en laergraad is nie.
Daar is gedeeltes wat maklik verstaanbaar is.
Maar daar is ook hoofstukke wat baie moeilik is.
Die apostel Petrus het ons al daarvoor gewaarsku. Hy skryf: “waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2 Petr. 3:16)
Maar al is dele moeilik, dit maak hulle nie minder geïnspireer nie, inteendeel.
En so het die kerk dus deur die eeue die Bybelboeke dankbaar aanvaar.
En net soos sinodes in die vroeë kerk die lys van al die Bybelboeke duidelik opgeskryf het, so doen die NGB dit in artikel 4.
Weer eens, ons moenie die redenasie omdraai nie.
Dis nie die NGB wat bepaal watter boeke daar in die Bybel hoort nie.
Die NGB erken dankbaar daardie boeke waaruit die stem van God duidelik spreek.
Dit is boeke waarteen niks ingebring kan word nie.
En ja, die aanvalle op die Skrif steek telkens weer die kop op, in die verlede en hede.
Steeds weer probeer mense foute in die Bybel te vind.
Foute van allerlei aard.
Historiese foute, verkeerde daterings byvoorbeeld.
Of foute wat wêreldbeeld betref, soos die opvatting dat die aarde plat is.
Of foute in die sin dat die Skrif homself weerspreek.
Ensovoorts ensovoorts.
Tog bly dit ‘n wonder dat die Bybel deur al die eeue standhou as die fondament en rigsnoer van die waarheid.
In elke eeu word miljoene mense tog weer deur die Bybel oortuig van die waarheid.
En die feit dat die Bybel die wêreldbeeld reflekteer wat gangbaar was toe in die era van die openbaringsgeskiedenis, maak dit nie onbetroubaar nie.
Dit maak dit juis betroubaar.
Die Bybel is nie ‘n handboek vir natuurwetenskap nie.
Die Bybel is nie ‘n aardrykskundige handboek nie.
Die Bybel is nie ‘n geskiedenisboek wat elke feit oor die verlede wil vertel nie.
Die Bybel openbaar die wonderbare geheimenis van God se heilsplan, wat duidelik geword het, wat tot uitvoer gebring is, in die periode van die openbaringsgeskiedenis.
Ons maak inderdaad kennis met daardie periode uit die wêreldgeskiedenis, en details uit daardie periode, kultuurhistories, aardrykskundig, natuurkundig.
Juis omdat dit God behaag het om in daardie periode iets groots te doen, sy heilsplan tot uitvoer te bring.
Die Bybel bind ons nie aan die aardrykskundige en natuurkundige opvattings van daardie tyd nie.
Die Bybel bind ons wel aan die feite van die heilsgeskiedenis, wat God in daardie periode van die openbaringsgeskiedenis laat plaasvind het.
Heilsfeite waarvan mense van alle tye en plekke die vrugte mag pluk.
In elke eeu bly die Skrif hierdie selfde funksie vervul, en dit met uitnemendheid.
Soos ons uit Timotheüs gelees het:
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig [uitermate geskik] tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim 3:16-17)
Gemeente, hoe ouer ek word, hoe meer verwonderd raak ek oor die Bybel.
Ek is seker die nog ouer mense as ek sal dit beaam
God se Woord is so ryk en diep.
Mens kan ‘n leeftyd elke dag daaruit lees, en steeds raak mens nie moeg daarvoor nie.
Van buite af lyk dit op ‘n sameraapsel van allerlei soorte literatuur van allerlei skrywers.
Maar hoe meer mens daarin lees, hoe meer besef jy dit is ‘n eenheid.
Dit kom met ‘n eensluidende boodskap.
Christus se Gees het ‘n produk geskep wat die tye verduur, wat nie oud en oorbodig raak nie.
Ons kan ons geloof daarna rig, daarop grondves, daarmee bevestig.
Dit is die kosbaarste besit wat jy aan die volgende geslag kan nalaat.
Christus kom tot jou en tot jou nageslag met sy Woord.
Die Heilige Gees het die Woord ontwerp om jou te bring tot aanbidding van Christus.
Gebruik dit daarvoor.
Lees die Skrif heilbegerig.
Die Skrif is dit wat jou wys kan maak tot saligheid.
Deur die Skrif laat die Heilige Gees die geloof in Jesus Christus in jou ontkiem.
Daarom klink die oproep ook vandag:
Verkondig die Woord, hou aan tydig en ontydig.
Want op grond van die getuienis van apostels en profete sal Christus die lewende en die dode oordeel by sy verskyning.
Kom ons sing nou as ons amenlied:
“Omdat jy die Woord bewaar het
van my lyde en lydsaamheid,
is Ek jou ook 'n Bewaarder
in die uur van sware stryd”
(Sb 43:4)
“Ek kom gou! Hou dan bestendig
wat my mond aan jou beloof.” (Sb 43:5)
Amen.
Votum
Seën
Sb 49:4-6
Gebed
Skriflesing: Exodus 31:18; 32:16-19; 34:27-35
Ps 18:14
Skriflesing: 2 Timotheüs 3:10-4:5
Ps 130:3 2e beryming
Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis art 3-5
Preek 1e punt
Ps 119:39
Preek 2e punt
Sb 43:4-6
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 22:5-9
Seën