Wie is Hy tog dat selfs die wind en water Hom gehoorsaam?!

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2026-03-08
Teks: 
Lukas 8: 22-25
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Deur die eeue heen is een van die interpretasies van hierdie storie soos volg:  ‘n Storm het hulle getref.  Ons almal het storms in ons lewe.  Jesus maak die storm stil.  Hy kan ook die storms in ons lewe stilmaak.  Al wat ons moet doen, is glo.  Amen.  En nou kan ons almal vroeg huis toe gaan.

Ja, dit is 'n belangrike aspek van die verhaal.  Maar die dieper onderliggende boodskap van die verhaal is die vraag aan die einde: "Wie is Hy?!"  Wie is Jesus?  Wat jy van Hom glo, sal nie die omstandighede verander nie, maar dit sal jou hart verander, sodat jy die omstandighede met 'n vrede kan trotseer wat alle verstand te bowe gaan.

Want hierdie hele gedeelte het gegaan oor standvastige en blywende geloof.  Nie 'n geloof wat die toets faal nie, maar 'n geloof wat hou.  'n Geloof wat produseer.  Nie net 'n geloof wat hoor nie, maar 'n geloof wat optree volgens wat dit hoor.

Wanneer dit by ons alledaagse lewe kom, is die vraag nie altyd of ons geloof het nie, maar of ons ons geloof gebruik.  Dit is wat die dissipels in hierdie verhaal moes gedoen het.  Daarom is die vraag wat Jesus vra nie: "Het julle geloof?" nie, maar eerder: "Waar is dit?"  Waarom maak julle nie daarvan gebruik nie?

Wie is Hy tog dat selfs die wind en water Hom gehoorsaam?! 

  1. Die storm bring paniek en vrees
  2. Jesus gee vrede
  3. Vrae

 

Die storm bring paniek en vrees

22Op 'n sekere dag het Jesus en sy dissipels in 'n boot geklim, en Hy het vir hulle gesê: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer, en hulle het uitgevaar.”

Jesus het geweet wat Hy doen.  Hy klim in die boot en sê vir hulle om oor die meer te vaar.  Dus, wat ook al gaan gebeur, hulle is nie daar as gevolg van die slegte keuses wat hulle gemaak het of een of ander fout nie.

Dit was as gevolg van gehoorsaamheid dat hulle die storm invaar.  Dit was hulle gehoorsaamheid wat hulle na hierdie plek van moeilike omstandighede gebring het.  Daar is baie storms in die lewe wat ons oor onsself bring as gevolg van sonde of trots, maar ons moet onsself daaraan herinner dat, net omdat jy te midde van 'n storm is, dit nie beteken dat God jou straf nie, Hy kan bloot besig wees om jou te toets.  Hy wil hê jy moet die vertroue in Hom hê dat Hy jou na die ander kant sal bring.  Maar tensy jy weet dat Hy dit kan doen, sal jy Hom nie vertrou nie.  Moet dus nie verbaas wees as Jesus jou na plekke lei wat jou laat wonder of Hy daar is nie.

23Tydens die vaart het Hy aan die slaap geraak.

Hul eenvoudige gehoorsaamheid is vir my baie mooi.  Hy sê gaan, en hulle gaan.  Hulle reis oor die See van Galilea wat 'n bietjie meer as 12 km breed is.  Omdat dit so ver onder seevlak lê, met die omliggende heuwels reg rondom, was skielike, hewige storms ‘n algemene verskynsel oor hierdie waters.

En op hierdie vaart van 12 km na die ander kant besluit Jesus om onder die dek te gaan, 'n kussing te gryp en te slaap.  Hier was die Een wat die dooies opgewek het, melaatses genees het, sondes vergewe het, demone uitgedryf het, en wat nou slaap nodig gehad het.  Hoekom?  Omdat Hy in elke opsig mens was.  Na 'n hele dag se prediking was Hy moeg.  Uitgeput.  Baie soos wat jy op 'n Vrydagaand voel.  Die Here van die lewe, broos, soos enige mens.

Slaap is die bewys dat Hy moeg was, maar slaap toon ook sy vertroue in die Here.  Veral wanneer jy slaap tydens moeilike storms in jou lewe.  Dit is die groot seun van Dawid wat geskryf het: Ek kan gaan lê, aan die slaap raak en wakker word, want die HERE onderskraag my.  Ek is nie bang vir tienduisende manne wat reg rondom my teen my stelling inneem nie. (Ps. 3:6-7)  In vrede kan ek gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want net U, HERE, laat my veilig woon. (Ps. 4:9)

Hy slaap in vrede, want sy volkome geloof in sy Vader is volmaak.  En terwyl Hy daar in die boot slaap, kom een ​​van die berugte storms oor hulle.  Dit moes sowaar iets gewees het om te aanskou, want selfs hierdie geharde vissermanne wat daaraan gewoond behoort te wees, is bang.  Daar staan: “'n Hewige stormwind het op die meer neergeswiep.  Die boot het vol water begin word, en hulle was in lewensgevaar.  Dit lyk asof dit onvermydelik is dat hulle gaan sink.  Die prentjie wat vir ons geskets word, is een van uiterstes.  Dit kan nie erger raak nie.  Die water vloei vinniger in die boot as wat hulle dit kan uitskep, en stadig maar seker vul dit op.  Hulle lewens is in gevaar – hulle staar die dood in die gesig.

Hulle voel oorweldig deur die lewe.  Hulle word gekonfronteer met iets buite hul beheer.

Hulle sien die storm en hulle is bang.  En soos met ons almal, skep 'n verlies aan beheer die uiterste angs en paniek, veral wanneer daardie verlies aan beheer tot die dood kan lei.  Hulle het gevind dat hulle beheer verloor het.  Of ten minste, die idee dat hulle beheer gehad het, is van hulle af weggeneem.

Hulle kan nie staande bly teen die kragte van die natuur en die krag van die skepping ​​nie.  Hulle het gedink hulle gaan dood.  Daarom gaan hulle na Jesus toe en roep uit: “Ons vergaan!”

Dit is 'n uitroep om hulp, nie 'n kalm vraag nie.  Dit is nie asof hulle eers onder mekaar gepraat en iemand gestuur het om Jesus saggies wakker te maak en te sê: "Ekskuus tog, jammer om te pla, maar kan u ons asseblief help, Meester?"

Nee, dit is: “MEESTER! MEESTER! Ons is besig om te sterf (Ons vergaan)!”  Eerder as vertroue, skop vrees in.

Die dissipels was ervare vissers.  Toe die storm opsteek, was hul eerste instink nie om te bid nie, maar om op hulle eie vaardigheid staat te maak.  Hulle het waarskynlik die eerste uur of wat van daardie storm deurgebring om water uit te skep, die seil se rif in te werk en met die stuur te sukkel (‘veg met die roer’).

Ons doen dieselfde.  Wanneer 'n krisis ontstaan – 'n finansiële verknorsing, 'n bekommernis oor jou gesondheid of 'n gebroke verhouding – is ons eerste stap gewoonlik om dit te "bestuur".  Ons kyk na die bankrekeninge, ons soek simptome op Google, ons speel argumente in ons kop af.  Ons “maak Jesus eers wakker” wanneer ons emmers nie kan bybly met die oorstromingswater nie.  Ons sien Hom as 'n laaste uitweg eerder as ons eerste reaksie.

Doen ons dit nie ook nie?  Wanneer ‘n krisis ontstaan, vergeet ons om in God te rus, en ons wil aksie neem.  Planne maak.  Aan die werk spring.  Eerder as om vertroue te hê, te bid en te wag op die Here.

Wanneer dinge verkeerd loop, is dit moeilik – baie moeilik – om sake nie in jou eie hande te neem nie. Om nie te dink dat die Here ver weg is nie.  Om nie van God te wil oorneem nie.  Dit is moeilik.  Baie moeilik.  Wanneer die kerk of die sendingspunt, of iets anders, besig is om te oorstroom, en ons voel asof dit binnekort inmekaar sal stort as ons nie iets doen nie.

Ons raak paniekerig wanneer ons Jesus uit die oog verloor, sy beloftes en wie Hy is, en ons vestig ons oë eerder op die omstandighede rondom ons.  Eerder as op die Here wat totaal in beheer is.  En dit is nie sommer enige Here nie.  Onthou, Hy is die Een wat die siekes genees, die melaatses reinig, die dooies opwek, die vermoeides rus gee, die sondaar vergewe.  Hy is naby die gebrokenes van hart.  'n Toevlug vir die angstiges.  Jesus gee vrede.  Kyk net na sy krag en genade.  Hy het opgestaan en die wind en die stormsee bestraf.  Dit het bedaar, en alles het kalm geword.  Dit is vir my so mooi: Hy staan op van sy middagslapie, praat met die wind en die woedende golwe wat sy kudde bedreig, en hulle hou op en bedaar, en daar was kalmte.

Dit is interessant dat die woord wat gebruik word vir Jesus se aksie ‘bestraf’ is.  ‘n Teregwysing, ‘n bevel wat Hy ook vir demone sal gebruik.  Dit gaan oor 'n wêreld wat buite orde is.  'n Wêreld waar beide die natuurlike orde en geestelike dinge reggestel moet word.  Sy teregwysing was 'n daad van regstelling.  Jesus het nie net die weer gevra om "te bedaar" nie.  Hy het 'n wêreld reggestel wat buite orde was.  Hy het die oorspronklike ontwerp van die skepping herstel – waar die elemente die Skepper gehoorsaam.

Wie is dit?

Kan jy jou voorstel.

Die een oomblik loei die wind, die golwe breek, die dissipels is paniekerig, die boot word vol water en is besig om te sink, en die volgende oomblik… vrede.  Kalmte, skaars 'n rimpeling op die water, en die wind is perfek stil.  Alles is rustig.  Volkome kalmte.  Dit is wat Jesus bring.  En hierdie kalmte maak hulle bewus van die skrikwekkende werklikheid dat hulle in die teenwoordigheid is van Iemand wat die skepping onder sy bevel het.

En in daardie kalmte staan die Man wat net 'n paar oomblikke gelede 'n middagslapie geneem het, omdat hy 'n moeë mens was, en nou beveel Hy die skepping en die skepping gehoorsaam.

Wie is hierdie Persoon wat ons hier in die evangelie ontmoet?

Sal ons Hom vertrou?

Sal ons Hom volg?

Sal ons gaan waar Hy ons beveel, selfs al plaas dit ons in die storm, op ongemaklike plekke?  En wanneer ons daar is, sal ons rondom ons kyk, of na Hom?  Die magte van die hel moet na Hom luister wanneer Hy demone uitdryf, die dood moet na Hom luister wanneer Hy die dooies opwek, en die skepping moet luister wanneer dit sy dissipels bedreig.

Wie is dit?

Hy is God in die vlees!

Dit is die God van Psalm 29 wat sê: “Die stem van die HERE is oor die waters, die God van heerlikheid laat dit dreun, die HERE is bo die magtige waters, 4die stem van die HERE is kragtig, die stem van die HERE is glansryk.”  Dit is die HERE van Psalm 93 wat magtig is!  “Magtiger as die gedreun van baie waters, as die branders van die see, is die HERE, magtig in die hoogte.”

Vrae…

Waar is julle geloof?

25Toe sê Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?”  Hy sê nie: ‘julle het geen geloof’ of: ‘julle is klein van’ of: ‘julle moes ’n bietjie harder geroei het’ nie!  Maar dit is die vraag: waar is dit?  Kruip julle geloof êrens weg, dat julle nie vandag daarvan gebruik gemaak het nie?  Want mense sê dikwels: Ek wens ek het so en so se geloof gehad, asof geloof iets is wat jy het of nie het nie, wat jy kan “vang”.  Maar geloof is iets wat oefening verg.  Ons moet daarmee werk.  Dit groei wanneer jy dit gebruik, net soos wat spiere groei wanneer jy hulle gebruik.

Geloof is 'n doelbewuste aksie.

Hulle het paniekerig geraak, en Jesus sê: “Waar is julle geloof?”  Dit beteken dat geloof die teenoorgestelde van paniek is.  Die vraag is dus: “Hoe kry ons daardie geloof sodat ons vrede kan hê?”

Hier is geloof ‘n doelbewuste vertroue op God se soewereiniteit en beloftes, eerder as om op jou eie krag staat te maak, veral tydens beproewinge.

En Jesus vra: “Waar is dit?  Dit sou nou die perfekte tyd gewees het om te bely wat jy van My glo in die manier hoe jy op angs en gevaar reageer.”  Jy sien, die vraag is: wat doen ons wanneer ons paniekerig raak, wanneer ons in 'n plek van angs en verlammende vrees leef?  Probeer ons om met al ons kragte daaruit te kom, of kyk ons ​​op?

Geloof is om God te vertrou – dat die Een wat jou op hierdie plek gebring het, ook op hierdie plek sal voorsien.  Geloof beteken gehoorsaamheid en om op Hom te vertrou wanneer die ‘rubber die pad ontmoet’… wanneer die teorie ‘n werklikheid word in jou alledaagse lewe.  Geloof is 'n lewenswyse.  Dit is 'n manier om met die wêreld en die mense rondom jou te kommunikeer.  Dit is 'n manier om op krisisse te reageer.

En hoe jy reageer, sal alles afhang van jou geloof.  Jou geloof in wat?  In Christus.  In hierdie Man.  Hoe jy reageer op wat in jou lewe gebeur hierdie week, hang af van wat jy van hierdie Man glo.  Dit is hoekom Jesus vir hulle kan vra: ‘waar is jou geloof’?  Dis asof Hy vra: “Geliefde dissipels, het julle nie gesien wat Ek die afgelope weke en maande gedoen het nie?”

Ek weet nie waar jy jouself in die lewe bevind nie.  Maar die vraag kom vandag by jou op.  Het jy al vir Jesus ontmoet, het jy al gehoor wat Hy die afgelope maande en jare en dekades deur die prediking gedoen het?  Daardie geloof, versterk en opgebou, moet in die wêreld daar buite toegepas word.  Wat jy van Jesus dink en wie Hy vir jou is, moet 'n impak op die samelewing hê.

Die oplossing wanneer ons nie ons geloof suksesvol beoefen nie, is nie dat ons net harder moet probeer nie, maar eerder dat ons met meer intensiteit na Jesus moet kyk en saam met die dissipels vra: “Wie is Hy tog dat Hy die winde en die water bestraf en hulle Hom gehoorsaam?”

Wie is dit?

Dit is eintlik die vraag wat hulle moes vra.  En die antwoord op hierdie vraag sou hulle gehelp het om die storm op ‘n ander manier te trotseer.  Wat hulle sou leer is om die Een te vrees wat groter is as die storm.

Hulle was met ontsag vervul en verwonderd, en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat Hy die winde en die water bestraf hulle Hom gehoorsaam?”

Soos geblyk het in ds. Gerrit se preek van verlede Sondagaand moet wêreldse vrees vervang word met goddelike vrees.  Die skrik wat hulle nou voel, was as gevolg van die besef dat hulle ‘n klein bootjie deel met die Een wat die atome van die oseaan besit.  Hierdie "Groter Vrees" bring vrede, want as die Een wat die storm beheer vir jou is, dan kan niks anders werklik teen jou wees nie.

Hulle vra die regte vraag.  In plaas van om te vra vir meer geloof, kyk hulle na Hom en besef dat hier Iemand is wat groter is as die storm.  Iemand wat meer vrees waardig is.  Sy krag neem die oë van die dissipels van die omstandighede af weg en plaas dit direk op Homself!  Wat jy van Jesus glo, behoort te verander in hoe jy alle dinge in die gesig staar.  Dit sal rus bring.

Dit is wat hulle nog al die pad moes gesê het.  Wat Jesus probeer sê, is: “Julle het My al hierdie dinge sien doen, maar julle vergeet dit en raak paniekerig.”  Wanneer julle paniekerig raak, is dit inderwaarheid nie ’n gebrek aan geloof nie, maar eerder ’n weiering om die geloof wat julle het, te beoefen.

Daarom wil Jesus ons te midde van ons besige lewens herinner aan wie Hy is.  Om op te kyk.  Om te onthou.  Om te aanbid.  Om te rus.  Om onsself daaraan te herinner dat Hy in beheer is en nie ons nie.

Ons raak paniekerig omdat ons dink dat ons die boot moet laat dryf.  Ons besig wees, ons "planne van aksie" en ons angs is alles maniere waarop ons dink ons is in beheer; ons maak asof ons God is.

Sabbatsrus is dieselfde as die ‘slaap op die kussing’ terwyl die storm woed.  Dit is 'n verklaring dat die wêreld nie tot ‘n stilstand sal kom as ek stop nie, en dat die boot die oewer sal bereik omdat Hy so gesê het en nie omdat ek hard genoeg geroei het nie.

Ons hoef nie alles te doen en oral te wees nie.  Ons hoef nie deur die omstandighede beheer te word nie, en wanneer angs toeslaan en vrees kom, soos dit sekerlik sal, dan is dit belangrik om op te kyk en te vra: "Wie is Hy, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?"  Dit is wat ons vandag weer doen.

Vrees Hom.  Verwonder jou oor sy krag.  Laat sy genade jou bewaak en beskerm.  En aanbid Hom.  Aanbid die Here met blydskap op hierdie Dag van die Here.  Erken wie Hy is.  En laat die waansinnige wêreld wat nooit stop of slaap nie, maar spot, terwyl ons die God van vrede ontmoet, wat ons vrede IS, wat ons met die Woord voed sodat ons nooit honger ly nie.  Hy kalmeer ons vrese en neem ons smarte weg.  Ag, dat ons dit sal weet wanneer ons sing om te “swyg voor die HEER, gerus en stil” (Psalm 37).

Dus vandag, op hierdie rusdag, te midde van die storms van die wêreld.  Haal asem.  Bid.  Wees stil.  En weet dat hierdie man die Messias is.  Die Verlosser.  Hierdie man is God.  Hy mag dalk nie die storm stilmaak nie, maar Hy kan jou vrede in die storm gee.  En eendag sal die hele skepping in volkome vrede wees.  

Amen.