Jesus organiseer sy dissipels, en berei hulle voor vir ‘n lewe van van lyding.

Predikant: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2025-08-17
Teks: 
Lukas 6:12-26
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

Tot dusvêr in die evangelie van Lukas het ons gesien hoe dinge besig was om te groei.
-    Jesus se reputasie het gegroei.
-    Die skare mense wat Hom volg het gegroei
-    En in die afgelope paar tekste - die weerstand van die godsdienstige leiers was ook besig om te groei.

Ons vorige teks het geëindig met daardie vreeslike skaduwee wat oor Jesus se bediening hang
-    [die skrifgeleerdes en Fariseërs] is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen.
‘n Heenwyse na die verskriklike dood wat Christus sou sterf, en die prys wat Hy sou betaal vir almal wie die Vader aan Hom gegee het.

Alles wat God verordineer het, was besig om te gebeur, presies volgens God se ewige plan om sy volk te verlos.

Maar voor Jesus die pad na Jerusalem en Golgota kan stap, is daar nog iets baie belangrik wat moet gebeur. 

So ons teks begin met Jesus, alleen op ‘n berg, besig om te bid.
Dis iets wat ons Jesus reeds gereeld sien doen het, en weer gaan sien doen.

Maar hierdie keer - hierdie gebed - is uniek. 
Dis die enigste gebed in die NT waarvan gesê word dat dit die hele nag geduur het.
Dink uself in…
Wat is die langste wat u al gebid het?

Hierdie lang en intense gebed moet daarop dui dat Jesus voor ‘n enorme besluit staan.
En dus wei Hy Homself aan sy hemelse Vader toe, om Hom in hierdie besluit te lei.

Want van al menigte dissipels wat Jesus volg, moes Hy twaalf kies om sy apostels te wees.
-    Dis hulle wie ‘n spesifieke taak in God se plan sou ontvang.
-    Dis hulle deur wie Christus sou werk, veral na sy hemelvaart, om in ‘n baie kort tydperk, die hele wêreld onderstebo te keer.

Nie met geweld, of deur die krag van mense nie,
Maar, te midde van gevaar en verdrukking, deur die evangelie.

Dus ons tema vanoggend is:

Jesus organiseer sy dissipels, en berei hulle voor vir ‘n lewe van van lyding.

Vers 13 sê dat, toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het:

Wanneer ons van die twaalf mans praat wat Jesus orals gevolg het, gebruik ons soms die woorde “dissipels” en “apostels” uitruilbaar. En die evangelies gebruik ook albei terme om na die twaalf te verwys.

Maar die woord “dissipel” beteken eintlik net “volgeling” of “leerling” - en Jesus het baie van hulle gehad. Mans en vroue. In vers 17 van ons teks sien ons 'n skare dissipels wat na Jesus geluister het.

Maar die apostels was ‘n kleiner groep mans, binne in die groter groep van dissipels. 
Alle apostels was dissipels, maar nie alle dissipels was apostels nie.

Die woord “apostel” beteken “boodskapper,” “gesant,” of “verteenwoordiger,” iemand wat optree met die gesag van die een wat hom stuur.

Ons kan dink aan mense in die Bybel, en ook vandag nog, wat namens ‘n koning of ‘n president na ‘n ander land gestuur word. 
In hulle kapasiteit as ‘n gesant, verteenwoordig hulle die een wat hulle gestuur het. Hulle dra sy gesag.

Onthou hoe die gesag van Jesus ‘n groot tema was in Lukas tot dusvêr -
- en dit is nou vir hierdie twaalf mans, wat reeds dissipels was, wat hy nou apostels maak, en vir hulle Sy eie gesag toevertrou. 

Nou, Jesus self is natuurlik die grootste apostel. In Hebreërs 3 word hy letterlik ‘n “Apostel” genoem. Die Een wat deur die Vader gestuur is.

So is die apostels ook gestuurdes.
In Johannes 20 sê Jesus vir sy apostels: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.

En ons sien daarom ook hoe Jesus paar hoofstukke na ons teks, in Lukas 9, die twaalf apostels uitstuur en vir hulle mag en gesag gee om presies te doen wat Hy besig was om te doen 
- om siektes te genees, 
- duiwels uit te dryf, 
- en om die evangelie van die koninkryk van God te verkondig.

Net voor Jesus se hemelvaart sê hy vir hulle (dis vir hulle minus een): Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies…

En dis wat hulle doen. Hulle verkondig die evangelie, met die gesag van Jesus Christus self.

Terwyl hulle dit doen is een van die dinge wat daarmee saamgaan, dat hulle, geïnspireer deur die Gees van Christus, en in Sy eie gesag, die helfte van die NT te skryf.     
(die ander helfte van die NT is deur die apostel Paulus en sy vriend Lukas geskryf)

Nie elkeen van die 11 het iets geskryf nie, maar:
Van Petrus het ons twee briewe (en tradisie sê hy dat hy Markus gehelp het met die evangelie)
Van Johannes het ons ‘n evangelie, 3 briewe, en die Openbaring
Van Mattheus het ons ‘n evangelie
En van Judas (nie die verraaier nie) ‘n brief.

En op hierdie leering van die apostels wat hulle neergepen het,
Die leering, oor Christus
En in die gesag van Christus
Word die kerk van Christus gebou; oor die hele wêreld.

Soos Efesiërs 2 sê: [ons is] … medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.

Ons kan ook dink aan Johannes se vision in Openbaring 21 waar hy die stad van God sien - dit is die kerk - die stad met twaalf fondamente en daarop die name van die twaalf apostels van die Lam.

Dit is dus nie vir niks dat Jesus heelnag in gebed deurgebring het nie. Hierdie mans ontvang ‘n enorme roeping.
Natuurlik weet ons nie wat presies Jesus gebid het nie, maar ek dink nie dis onmoontlik om af te lei wat Hom so in hierdie gebed besig gehou het nie.
-    Dis natuurlik die besluit wie Hy moet kies
-    Terwyl Hy een vir een vir hulle voorbidding doen - dat die Vader hulle sal bewaar.
-    En ook die worsteling met die feit dat een van hierdie mans Hom sal verraai vir 30 sikkels silwer, en oorlewer om doodgemaak te word.

Soos Jesus later weer bid in die tuin van Getsémané - 
“Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons. Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.”

In vers 14 - 16 lees ons dan die name van die mans wat God in sy plan gekies het om Jesus se apostels te wees - 
Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andréas, sy broer; Jakobus en Johannes; Filippus en Bartholoméüs;
Matthéüs en Thomas; Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon wat Yweraar genoem word;
Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskáriot, wat die verraaier geword het.

Ons weet nie ewe veel van al hierdie mans nie - van sommige weet ons amper niks -
Maar dis wel duidelik dat hulle ‘n onwaarskynlike groep is. 
Sovêr ons weet was hulle nie hoog-opgeleide mense nie - veral nie op die vlak van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie.
Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes was eenvoudige vissermanne.

Verder was Petrus baiekeer impulsief,
Jakobus en Johannes het die bynaam “seuns van die donder” gehad oor hulle vurige humeure - hulle wou bv. vuur op ‘n Samaritaanse dorp neer roep.
Thomas het gesukkel met twyfel,

Mattheüs die tollenaar, wat op ‘n stadium kop in een mus met die Romeinse owerheid gesit het, sou in menselike terme ‘n vyand moes wees van Simon die Siloot / Yweraar. Die Silote was ‘n radikale politieke weerstand beweging teen die Romeinse owerheid.

En almal van hulle, (behalwe dalk Judas Iskariot,) kom uit die veragtelike provinsie Galilea.

Maar hierdie onwaarskynlike bende is wie Jesus kies om sy gesante te wees.
Hy kies nie mense met natuurlike status of invloed nie, maar mense wat Hy, ten spyte van wie hulle is, sal toerus met sy krag. 

Dit beteken definitief nie dat hulle ‘n maklike taak ontvang nie. 
En dit sal hulle nou hoor.

Maar Jesus gooi hulle ook nie by die diep kant in nie. Hulle kry eers ‘n tiepe van ‘n internskap, waarin hulle eers sien en hoor wat Hy doen, dan alleen uitgestuur word in Lukas 9, en uiteindelik uitgestuur word na die nasies.

Maar nou mag hulle Jesus eers van naby volg en observeer.

-----------------------------------------

En so klim die intieme groep mans nou saam by die berg af in vers 17, waar daar op die vlakte weer ‘n enorme skare mense vir Jesus inwag.

En die apostels mag nou sien - presies waaroor Jesus se bediening gaan (vers 17 - 19)
-    Die verkondiging van die evangelie,
-    Vir alle mense - selfs mense buite die grense van Israel (daar is ook mense van Sidon en Tirus was gekom het om te luister
-    En die genesing van alles wat hulle kwel - ook siektes en onrein geeste.

En nadat Jesus dit alles doen, dan draai Hy Homself na sy volgelinge in vers 20, en vir die res van die hoofstuk gaan hulle, en die apostels, ‘n preek hoor oor wat dit inhou om Jesus te volg. 
Ons gaan vanoggend net op die eerste gedeelte van Jesus se preek let - dit is die saligsprekings.

Jesus begin sy preek met: “Salig is julle!”
Die 2020 vertaling sê “gelukkig is julle,” en persoonlik dink ek dat “salig” ‘n beter woord is, want dit gaan hier oor baie meer as blote blydskap. Dit gaan hier oor ‘n vreugde in die Here se goedheid en ontferming. In Sy seën
- dat Hy sy aangesig ons laat skyn ons genadig is, 
- dat Hy sy aangesig oor ons verhef en aan ons vrede gee.
Jesus sê: “Salig is julle!”

Nou wil ek graag hê dat u uself moet indink hoe skokkend hierdie preek eintlik begin.
Die apostels is so pas gekies om Jesus se verteenwoordigers te wees. Die res van die dissipels luister al vir ‘n geruime tyd na Jesus wat die blye boodskap verkondig. So pas het hy weer ‘n klomp mense genees. Daar sou ‘n gees van vreugde in die skare heers.

“Salig is julle!” Geseënd deur die Here
Ja, salig is ons!

Maar dan die skokkende:
Salig is julle, armes.
Salig is julle wat nou honger het.
Salig is julle wat nou ween.
Salig is julle wanneer mense julle haat, verstoot, beledig en julle naam deur die modder sleep.

Is dit saligheid? Is dit wat dit beteken om deur die Here geseënd te wees?
Dis dan presies die dinge wat nie een van ons soek nie.

Ons wil nie arm en honger wees nie - ons wil gemaklik lewe.
Ons wil nie huil nie, ons wil bly wees!
Ons wil nie gehaat word nie - ons wil hê mense moet van ons hou.

Maar let op daardie baie belangrike sinnetjie - Salig is julle wanneer julle hierdie dinge ly ter wille van die Seun van die mens.

Daar is geen saligheid daarin om honger te ly omdat jy lui is nie. 
Daar is geen saligheid daarin om gehaat te word omdat jy mense ingedoen het nie. Maar salig is jy wanneer jy nou, in hierdie lewe ly, ter wille van Christus. 

Want jou loon is groot by God. Aan jou behoort Sy koninkryk. Jy sal versadig wees met alles wat goed is. Aan jou behoort ewige en ware geluk.

Ek kan myself indink hoe hierdie woorde vir sommige van die apostels diep moes getref het. Sommige van hulle het suksesvolle besighede netso agtergelaat om Jesus te volg.
Dink aan Matteus, en die vissermanne.

En dis woorde wat vir die res van hulle lewe by hulle sou bly.
Dink aan Handelinge 5 waar die apostels eendragtig in die tempel die woorde van die lewe verkondig, in die tronk gegooi word, uitkom, weer die woord verkondig, gegesel word, en hulself dan verheug omdat hulle dit waardig geag is om vir Christus se Naam oneer te ly. 
En dan gaan hulle gewoon verder om die evangelie te verkondig.

Ons sien hierdie vreugdevolle lyding ter wille van Christus, nie net by die 11 nie, maar ook by ander. Die diaken Stefanus wat gestenig is terwyl hy die hemele geopen sien.
Paulus en Silas wat psalms sing in die tronk.

Verder, …
geliefde gemeente, …
as die kerkgeskiedenis enigsins akkuraat is, is tien van die oorspronklike twaalf apostels dood gemartel vir hulle geloof. 
Dis almal behalwe Judas wat sy eie lewe geneem het, 
en Johannes wat sy aardse lewe op Patmos volbring het.
(Hy is glo wel in ‘n pot kokende olie gedompel en het dit oorleef)

Maar die geskiedenis vertel dat
Petrus - onderstebo gekruisig is onder Nero
Andreas - gekruis in Griekeland
Jakobus, die broer van Johannes - hy is met die swaard omgebring onder Herodes (Hand 12:2)
Filippus - gestenig en gekruisig
Bartholoméüs - geslag en gekruisig
Die ongelowige Thomas - al die pad in Indie met ‘n spies doodgemaak
Matteus - is met die swaard gedood - waarskynlik in Ethiopië
Jakobus die seun van Alfeus - daar is verkillende weergawes van sy dood, maar nie een van hulle mooi nie
Simon die Siloot is glo middeldeur gesaag
En Judas die seun van Jakobus onthoof

Net om in perspektief te sit wat “lyding ter wille van Christus” vir die apostels beteken het.

En nie net dit nie - maar, ja - hoe baie Jesus van hulle gevra het - maar hoe Hy ook vir hulle die krag daarvoor gegee het. In die perspektief van die ontelbare seën wat Hy beloof het.
Hoe die hoop van die ewige lewe, regtig ‘n werklikheid vir hierdie mans was.
En hoe Christus hulle werk geseën het te midde van ekstreme verdrukking.
-    6 miljoen christene teen die jaar 300

--------------------------

Dit is goed om vir ‘n oomblik hieroor na te dink, broers en susters. Ons kerk se jaar tema is immers dissipelskap.
En in die preek wat Jesus in ons teks vanoggend preek, berei Hy sy volgelinge voor op die koste van ware dissipelskap.

Dus dink ek is goed om onsself af te vra:
Hoe ly ek vir Christus?
Nie net “ly ek nie,” maar is my lyding waarlik ter wille van die Here? 

Of - dalk ervaar u glad geen leiding nie. Dan is dit ook goed om uself af te vra: hoekom nie?
Is dit dalk omdat ek myself nog nie ten volle oorgegee het om Christus waarlik te volg nie?
Is my lewe dalk gemaklik omdat ek dit so gemaak het ten koste van wat Christus van my vra?

Die waarskuwings aan die einde van ons teks mag ons nie ligtelik opneem nie.

Vir die wat hulle saligheid in hierdie lewe soek word die seën wat Christus belowe presies omgedraai.
-    Hulle ontvang nie die koninkryk van God nie, 
-    maar hulle het hul troos reeds weg - dit wat hulle nou het is die gelukkigste wat hulle ooit sal wees.
-    Nou is hulle dalk versadig, en hulle lag, 
-    maar in die tyd wat kom sal hulle sal honger ly, treur en ween.
Want hulle het aardse rykdom hoër geag as die ewige rykdom wat Christus beloof.

Ek wil versigtig sê dat Jesus nie sê dat aardse rykdom op sigself verkeerd is nie.
Abraham, Job, Josef van Arimatea en Nikodemus was ryk. 
Om in hierdie lewe genoeg te hê om te eet, om gelukkig te wees of selfs om oorvloed te geniet is nie in sigself verkeerd nie, net soos armoede en honger op sigself ook nie saligheid beteken nie.

Maar is ek bereid om alles wat ek in hierdie lewe het, prys te gee vir Christus?
Of lewe ek net vir aardse voorspoed?

Ek vra myself af - en ja ek vra dit vir myself ook:
As ons dink aan die lyding van Christus, en die lyding van Sy apostels wat hom daarin gevolg het,
Dan wonder ek wat hulle sou sê oor gesprekke soos
-    Hoe ons presies ons tiendes moet uitwerk 
-    Of dit nou regtig van pas is om oor die evangelie te praat by die werk
-    Of gasvryheid ‘n natuurlike gawe of ‘n vrug van die Gees is
-    Of dit regtig die moeite (die bespotting) werd is om op te staan vir daardie maat by die skool..
(baie keer is die die doel van sulke gesprekke nie om onsself in oorvloed te gee nie, maar so min as moontlik)

Maar het ons dan regtig verstaan wat lyding ter wille van Christus is?
Het ons dan nog ons oog op Hom, Wat die angste van die hel ondergaan het om vir ons die ewige lewe te gee?

Laat ons altyd in gedagte hou, geliefde gemeente, dat hierdie aardse lewe minder as ‘n druppel water in die oseaan is. 

En dat Christus waarlik belowe dat die wat bereid is om in hierdie lewe te ly - terwille van Hom,
Die wat bereid is om in hierdie lewe armoede, honger, verdriet en belediging te ly, terwille van Hom

Soos wat Hy self ook vir ons gedoen het,

Dis díe wat waarlik salig is.
Waarlik God se vreugde ervaar, en sy ryke seën het, in hierdie lewe, en die een wat kom.

Dissipelskap sal nie altyd maklik wees nie, maar laat ons altyd daaraan vashou dat ons nooit alleen is nie. 
In dieselfde gebed wat Christus in die tuin van Getsémané vir sy dissipels gebid het, het Hy ook gebid: Ek bid nie vir hulle (die 11 apostels) alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo … dat hulle ook in Ons een mag wees.

Hy bid vir u en my. 
Dat ons verbind met Hom, bewaar sal word.

Verenig met Christus, in die krag van Sy Gees wat Hy uitgestort het, 
Sy apostels staande gehou het te midde van ernstige verdrukking, 
-    Met sy Heilige Gees SAL Hy ons die krag gee om Hom te volg, waar hy ons lei
-    En Hy SAL ons die krag gee om te volhard in enige leiding wat dit mag veroorsaak.

Verenig met Christus, sal God ons dan ook bewaar, tot die einde, wanneer ons die ewige stad van God, gebou op die 12 fondamente van die apostels, mag ingaan.

Amen

Liturgie: 

Lees - Lukas 6: 12 - 26
teks -  Lukas 6: 12 - 26
Psalm 111: 1 - 3
Psalm 65: 1 - 4
Skrifberyming 16: 1, 2, 4, 9 en 10
Lied 273: 1, 3 en 4 (laat my met U verenig lewe)
Skrifberyming 45: 10 en 11