Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus
In 1986, na 'n tydperk van erge droogte en lae watervlakke is die oorblyfsels van 'n vissersbootjie aan die oewer van die See van Galilea ontdek. Dit is uitgegrawe en word nou bewaar in ‘n museum daar in die omgewing.
Die bootjie is so effens meer as 8m lank
Effens meer as 2m breed,
En effens meer as 1m hoog.
Dit het 2 of 3 roeispane aan elke kant gehad, en ‘n plek vir ‘n mas en ‘n seil.
As u “Jesus boat” google, kan u ‘n foto daarvan sien.
Die bootjie kan natuurlik nie met Jesus self verbind word nie, maar dit word so genoem omdat dit uit die eerste eeu dateer en gemeen word dat dit ‘n tipiese bootjie van daardie tyd en plek was.
Moontlik, as u daar in die skare was saam met die mense in ons teks, dan sou u dalk sulke bootjies op die meer gesien het.
Soos ons teks begin, sien ons twee bootjies aan die kant van die meer lê.
Die een behoort aan Petrus, en die ander aan aan sy vriende Jakobus en Johannes (of moontlik hulle pa Zebedeus volgens Markus 1.)
Voor hierdie drie vissermanne in Jesus se binnekring ingetrek word, was hulle reeds vriende - of “maats” volgens vers 7 en 10.
Interessant genoeg beteken Griekse woord vir “maats” in vers 10 eintlik meer iets soos “besigheids vennote”. Die 2020 vertaling dra die idee bietjie beter oor.
Dis ‘n groepie mans wat nou saamwerk. Moontlik deel hulle mekaar se gereedskap, help mekaar om nette te was en reg te maak, en aan die einde van die werksdag deel hulle die vangs.
Hierdie was mans wat visvang hulle werk gemaak het. Dit was hulle lewe. Wat hulle geken het, en waarin hulle goed was.
Ek stel myself voor dat hulle daardie tiepe mense was wat nie uitgepraat kon raak oor visvang nie. Dat hulle jou presies kon sê waar al die beste vis gate is, watter spesies visse hier voorkom, wanneer en waar jy wat kan vang, hoe om elke tiepe vis te fileer, die lekkerste gaar te maak, wat hulle markwaarde is, ens.
Om ‘n visser te wees het jy het nie graad of skoolopleiding nodig gehad nie, maar ‘n liefde vir die water en om jou brood (en vis) in die sweet van jou aangesig te geniet. Dit was harde werk. In die aand het hulle op die waters uitgegaan, deur die nag gevang (dis deels om die skroeiende hitte van die Galilese middag son te vermy, maar dis ook wanneer die visse in die meer hoër aan die oppervlakte kom en makliker in die nette gevang kan word. En boonop kan jy dan jou visse vroeg in die oggend vars by die mark kry.) Dan moes jy nog al jou nette skoonmaak en enigiets wat gebreek het regmaak vir die volgende vangs, en êrens moes jy nog slaap ook.
Dit was hulle lewe. Maar dit alles gaan Jesus in een dag heeltemal omkeer. Want hierdie drie vissermanne (Johannes, Jakobus en Petrus) gaan vandag alles netso los en Hom volg.
Jesus se eerste dissipels verlaat alles om Hom te volg
-
Die wonderwerk
-
Die belofte
Punt 1 - Die wonderwerk
In ons vorige teks het Jesus in Kapernaum gepreek, en daar het Hy sy woord met kragtige dade bevestig. Hy het demone uitgedryf en siek mense gesond gemaak.
Toe Hy daar weggaan, het die skare Hom gaan opsoek en probeer verhoed dat hy van hulle weggaan. Hulle het Sy wonders gesien en wou Hom vir hulleself hou.
Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.”
En Hy het verder in die sinagoges van Galiléa gepreek.
Vermoedelik was hy nou al tydjie weg van Kapernaum in die ander sinagoges, en soos hy terugkom in die area, kom Hy met met ‘n enorme skare mense wat Hom volg.
En ons teks sê dat hulle by Hom aangedring het om die woord van God te hoor. Is dit nie pragtig nie? Dalk wou hulle ook wonders sien, wie weet(?), maar die teks beklemtoon dat hulle bitter graag wou hoor wat Hy sê.
Die Griekse woord vir aangedring beteken letterlik “verdring.” Soos die 2020 vertaling goed vertaal - “hulle het Hom verdring om die woord van God te hoor.” Ons kry die beeld van ‘n skare wat Hom amper verswelg soos hulle druk om se vêr as moontlik voor te staan sodat hulle nie ‘n enkele woord sal mis wat by Sy mond uitkom nie.
(Is u ook vanoggend ook so opgewonde om die woord van God te hoor?)
Jesus, met hierdie woelende skare kom dan al nader aan die meer van Gennésaret (wat ook die see van Galilea genoem is), en Hy kom tot by die twee bootjies wat ons nou net aan die kant van die water sien lê het. En die bemanning van die bootjies, nadat hulle heelnag op die water was, is aan die eenkant besig om hulle nette skoon te maak in voorbereiding op die volgende nag se werk.
En nou sien ons iets wonderliks van Jesus se praktiese wysheid. Hy klim in die bootjie wat aan Petrus behoort het, vra hom om net so bietjie in die water in te roei, en hierdeur los hy twee praktiese probleme op.
Die eerste probleem is opgelos, omdat Hy nie meer verdring word nie (hy kan nou rustig gaan sit).
En die tweede probleem word opgelos omdat almal Hom nou kan hoor soos sy stem oor die water gedra word. Klaarblyklik weet die Woord van God ‘n ding of twee van akoestiek.
Maar al is dit indrukwekkend, sal ons iets baie belangrik mis as ons net sien hoe Jesus van ‘n bootjie effektiewe preekstoel maak.
Want wat het daar gebeur die oomblik toe Jesus sy voete op die bootjie sit?
Jesus het in Petrus se wêreld ingestap. In sy professie. Dis Petrus se bootjie, sy roeispanne, sy anker, sy knope in die toue - hier op die bootjie is Petrus baas. Hier weet hy wat aangaan en hoe dinge werk.
En hy is natuurlik meer as gewillig om Jesus te help met Sy “probleem.” Hy ken immers vir Jesus, en was daar by toe Hy sy skoonma gesond gemaak het. So as Jesus vir hom vra om bietjie in te vaar, dan doen hy dit graag.
So ons sien: Jesus besig met Sy professie - besig om te preek en te doen wat Hy goed doen, maar Hy betrek Petrus en sy professie - om te doen wat hy goed doen - die bootjie te roei, en te sorg dat hulle parallel met die mense bly ens.
Dit moes dus tot groot verbasing vir Petrus wees toe Jesus klaar gepreek het, en nou ‘n voorstel vir Petrus maak in die gebied waar hy die professioneel is
“Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.”
Jesus is dalk ‘n professioneel in die uitlê van Skrifte, in prediking, geestelike sake. soos die uitdryf van geeste. Ja selfs in gewone siektes soos koors en dinge.
Maar visvang? Dit is Petrus se professie.
Ek vertel mos nie vir jou hoe om jou werk te doen as ek niks daarvan weet nie?
En tog gehoorsaam Petrus. “Meester,” sê hy, (hy gebruik ‘n term van respek vir ‘n persoon met ‘n hoë status) “Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.” vers 5.
Die arme man is moeg - hy het die hele nag hard gewerk; waarskynlik is hy effens negatief aangesien al sy harde werk vir niks was; en nou het Jesus nog ‘n plan wat glad nie sin maak nie - om helder oor dag in die diep water te gaan vang.
Dalk dink hy, “hier kom niks van nie, maar Jesus het my skoonma gesond gemaak. Die minste wat ek kan doen is om te doen wat Hy vra.”
Hy respekteer Jesus genoeg om sy woord te gehoorsaam. Maar Hy verwag nie veel nie, omdat hy nog nie weet wie presies Jesus is nie.
U sien, wat so interessant is van Petrus, is dat hy nie voor Jesus neergeval het toe Hy sy skoonma gesond gemaak het nie. Of daarna toe Jesus ‘n skare mense van siektes en selfs demone genees het nie. Miskien het hy toe nog gedink: “Wat ‘n man! 'n Ware meester van sy professie! Ek verstaan self nie veel van geneeskunde en uitdrywing nie, maar ek is bly dat Hy weet wat Hy doen. Ons kort meer mense soos Hy.”
Maar nou dat Jesus in sy professie inklim en hom vra om iets te doen waarteen elke haar op sy liggaam rebelleer, dis nou wat Petrus begin te verstaan wie hierdie Man regtig is. En dit laat hom in absolute vrees.
Want Petrus verstaan die waters. Hy verstaan visse, Hy weet hoe die dinge veronderstel is om te werk. Dit werk nie so dat as jy jou net uitgooi in die middel van die dag, in diep water, dat elke vis in die see van Galilea daarheen jaag en mekaar wil voorspring om daar in te swem nie!
Maar dit is wat gebeur het. Heelnag het die vissermanne geswoeg en nie ‘n enkele vis gevang nie - dit kan ‘n mens nog glo. Maar op Jesus se woord vang hulle op die verkeerde tyd die grootste vangs van hulle hele lewe, die nette staan so bol dat hulle skeur, en nie net dit nie - nadat hulle hulle vriende nader geroep het maak hulle altwee bote só vol dat dit wou sink!
Ek het bietjie opgelees, en daar is mense wat probeer uitwerk hoeveel vis dit sou vat om ‘n bootjie met die demensies van die sogenaamde “Jesus boat” te laat sink. Die antwoorde verskil ‘n bietjie, maar dis minstens ‘n paar ton per boot.
‘n Letterlik ongelooflike groot vangs. So ongelooflik dat Petrus skielik oorweldig met word met ‘n besef dat hy in die aanwesigheid is van iemand wat nie slegs ‘n meester in sy eie veld is nie, maar die Meester is van selfs die visse in die see. Dat dit Hy is wat die visse in net gestuur het! Ja - dat dit Hy is wat vannag die visse beveel het om weg te bly, net om hulle vandag in oorvloed die nette in te stuur.
Hy val neer voor Jesus en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!” (vers 8)
Dit is moeilik om met sekerheid te sê wat Petrus op hierdie oomblik presies verstaan van Jesus se Godheid. Besef hy dat Jesus selfs die visse, ja - die hele see van Galilea gemaak het? Of besef hy nou net beter as tevore dat God kragtig deur Jesus werk?
Dit is waar dat Petrus Jesus hier met die titel “Here” aanspreek, waar hy hom in vers 5 “Meester” genoem het. En die Griekse woord vir “Here” word dikwels van God self gebruik.
Maar bietjie later, in Lukas 8 - dan lyk dit asof die dissipels dit nog nie ten volle begryp nie.
Hoe dit ook al sy - Petrus se reaksie is wel heeltemal in pas met die voorbeelde in die OT waar God self aan iemand verskyn.Dink aan Esegiël wat plat op sy gesig val, of Jesaja wat sê: “wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man met onrein lippe!”
Of die volk Israel by die vir berg Sinai.
Net so besef Petrus skielik dat Jesus so heilig is dat hy nie eens in die selfde boot as Hy kan wees nie. In die heilige teenwoordigheid van Jesus, voel hy die vlammelig van God waarvan ons voor die preek gesing het. Die “vlammelig wat oor my sonde brand en speur deur al my lede.”
Hy voel heeltemal naak. Sondig en onwaardig.
“Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man.”
--------------
Vir Petrus het Jesus homself geopenbaar in ‘n area wat Petrus self goed verstaan het, voordat hy besef het Wie Jesus is.
Aan die een kant sien ons Jesus se genade en tere liefde hierin, nie waar nie? - dat Hy Homself so op die vlak van Petrus se verstaan bring.
Petrus het nie gevra dat Jesus Homself só moet openbaar nie, en tog doen Jesus dit.
Maar aan die ander kant, geliefde gemeente, sien ons ook nog so Jesus se absolute heiligheid? Die heiligheid van God wat ons sondes oopvlek en ons tot ons knieë dryf?
Dit is nooit genoeg vir enigiemand om Jesus slegs te bely as ‘n goeie leermeester, wie se instruksies ons so effens teensinnig volg, net omdat Hy ons hier en daar bietjie gehelp het nie.
Nee ons moet besef hoe heilig Hy is, en hoe geheel-en-al onwaardig en met sonde deurtrek ons is. Ons moet besef dat hierdie heilige Jesus mag en gesag het oor elke aspek van ons lewens - ons werk, ons kinders, ons tyd, ons Godsdiens, alles - en dan nie om te sê: “gaan weg van my, Here” asof ons geen verhouding met Hom kan hê omdat Hy te heilig is nie.
Nee, Jesus self laat dit nie toe nie. Inteendeel - díe besef moet ons juis dryf tot die bereidwilligheid om alles wat ons het prys te gee, en Hom te volg.
En dit bring ons by ons tweede punt
Punt 2 - Die belofte
---------------------------------
In vers 9 lees ons dat die verbaasdheid wat Petrus aangegryp het, nie tot hom alleen beperk was nie, maar almal wat in die bootjies was.
Dit sluit Petrus maats, of besigheids vennote, Jakobus en Johannes in (vers 10).
Maar die verhaal fokus op Petrus, en die gesprek wat Jesus met hom het.
Wanneer Petrus oorweldig word deur vrees, dan sê Jesus nie vir Petrus dat sy gevolgtrekking van Wie Hy is, verkeerd was nie.
Nee, Petrus is reg om te besef hoe heilig Jesus is en hoe sondig hyself is. Maar Petrus kry die troosvolle woorde dat Hy nie bang hoef te wees nie.
Petrus besef dit nog self nie, maar die einste rede hoekom sy sonde nie ‘n wig druk tussen hom en die Heilige Jesus nie, is juis omdat hierdie Jesus wat voor hom staan, gekom het om met Sy eie dood vir Petrus se sondes versoening te maak.
En nou, met Jesus se vertroosting, kry Petrus ook ‘n taak.
“Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.”
Petrus kry ‘n nuwe taak, ‘n nuwe werk - om mense te vang. Die Griekse woord wat hier met “vang” vertaal word, is ‘n samestelling van die woord vir “lewendig” en “vang.” Eintlik sê Jesus - van nou af gaan jy mense “lewendig vang.”
Nie soos visse wat mens vang om dood te maak en te eet nie, maar hierdie vangs bring lewe! Die mense word uit die sonde en die dood gevang tot die ewige lewe!
Wat ‘n enorme taak!
As ek Petrus was sou ek dalk myself herhaal, “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!”
Maar let op dat hierdie nuwe taak in die eerste plek nie ‘n opdrag is nie, maar dis ‘n belofte. Jesus sê nie, van nou af moet jy mense vang nie, maar van nou af sal jy mense vang. Ek sal jou, sondige mens wie jy is, gebruik om mense te vang vir My koninkryk, om aan hulle die ewige lewe te gee.
En Christus het Petrus so gebruik.
Seker die beste voorbeeld hiervan is direk na die uitstorting van die Heilige Gees, in Handelinge 2, waar Petrus preek en omtrent 3000 mense tot geloof gekom het.
Maar, geliefde gemeente, laat ons die dink dat hierdie taak en belofte net vir Petrus was nie. Jakobus en Johannes het dit ook verstaan.
Elke dispel van Jesus - elke volgeling van Jesus - word geroep om ‘n visser van mense te wees.
Ons kan baie maklik dink dat hierdie taak slegs vir mense gegee is met die gawe om goed die evangelie te kan oordra. En ja, die Here gee sulke mense.
Maar tog behoort dit ‘n kenmerk van elke dissipel te wees, gewoon in ons daaglikse lewens, waar ook al Hy ons geplaas het, en met watse gawes Hy ons ook al geseën het.
Maar hoe lyk dit prakties vir ons - om vissers van mense te wees?
As ons verstaan dat Christus besig is om deur ons Sy koninkryk te bou, dan verstaan ons ook dat die evangelie sentraal staan. Dis die goeie boodskap wat Christus kom bring het.
Dus in die eerste plek moet ek verstaan wat evangelie is.
Oortuig wees daarvan.
En dan kan ek myself daarin oefen om die evangelie in ‘n sin of twee te kommunikeer. ‘n Vers soos Johannes 3:16 wat jy gewoon uit jou kop uit leer, bring mens al baie ver.
En en dan net gereed wees om dit te deel. Mens weet nooit wie God oor jou pad stuur nie.
Gewoon gereed wees om, met sagmoedigheid en vrees, soos Petrus sê in 1 Petrus 3, die hoop wat in ons is met ander te deel.
Ek weet van myself dat dit partykeer makliker gesê as gedaan is om dit te doen.
Maar ek is oortuig daarvan dat mense-vang in ons hart begin. By ‘n liefde vir my medemens, en ‘n hart vir die wat verlore gaan. Omdat ek verstaan waarvan Christus my gered het.
Het ek so ‘n hart?
‘n Hart wat Christus se liefde vir ‘n sondige mensdom weerspieël?
Bid ek vir familie lede wat in hul leer en lewe nie getuig dat hulle nie met die Here wandel nie?
Bid ek vir mense wat ek lanklaas in die kerk gesien het?
Bid ek vir my bure?
Bid ek vir my omgewing?
Bid ek vir die sending?
Wanneer ons so ‘n hart het, dan is soveel makliker om die net te gooi. Om met daardie persoon te gesels, Bybelstudie toe te nooi, betrokke te raak by die sending, of wat ook al.
En laat ons onthou - dit gaan nie oor wat die visse dink nie. Dit gaan nie eens of ek resultate sien nie.
Maar dit gaan oor Christus se belofte.
Van nou af sal julle mense lewendig vang.
Ons gooi dalk die net, maar Hy bring die vis, hoe en waar Hy wil.
------------
Heel laaste wil ek u aandag daarop rig dat ons teks ‘n laaste aspek uitlig van wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus te wees.
En dit is om bereid te wees om alles agter te laat en om Hom te volg.
Vers 11 - En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.
Kan u uself dit indink. Deur hulle bote, nette en gereedskap te los, los hulle hulle besigheid.
Al daardie vis wat hulle gevang het - as hulle dit verkoop het kon elkeen van hulle minstens ‘n jaar by die huis gebly het sonder om te werk. Of hulle kon al die geld in hulle besigheid teruggeploeg het en nog paar bootjies by gekoop het.
Maar hulle los alles net so, en stap agter Jesus aan.
Stel uself voor hulle het dit nie gedoen nie. Stel uself voor hulle het gou gehardloop, sleepwaentjies gaan haal, die bootjies en hulle nette en alles daarop gelaai, en Jesus so deur Galilea en uiteindelik na Jerusalem gevolg.
Belaglik, nie waar nie?
Maar geliefde gemeente, is dit regtig?
Is dit nie dikwels wat ons doen nie?
So maklik kan ons ons dissipelskap so toets:
Spandeer ek genoeg tyd in God se Woord?
Het ek berou oor my sondes?
Deel ek genoeg my geloof met ander?
En dis nie verkeerde vrae nie! Ons het nou net gesê ‘n dissipel deel sy geloof.
Maar ‘n dissipels is ook bereid om alles in hierdie lewe prys te gee om Jesus te volg. Absoluut alles.
Dis hoekom Jakobus, Johannes en Petrus alles agtergelaat het. Nie omdat hulle arm was nie, maar omdat hulle ware rykdom ontdek het.
Die onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis, wat in die hemele bewaar word vir ons, (waarvan dieselfde Petrus in sy eerste brief skryf).
Geliefde gemeente, mag ons ook so vasklou aan ons enige ware skat.
God self. Christus self.
En die hoop wat Hy ons gee in die ewige lewe saam met Hom.
Amen
Lees: Lukas 5 : 1 – 11
Teks: Lukas 5 : 1 – 11
Sing: Psalm 145 : 1, 2, 4, 5
Psalm 51 : 3, 4, 5, 6
Psalm 73 : 9, 10, 11
Lied 485 (O Heer, u laaste woorde)