Lid van die Familie van hoorders en daders van die Woord

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-11-02
Teks: 
Lukas 8:21
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 8:21

 

Sommige mense het ‘n groot familie, broers, susters, kinders, kleinkinders, oupas, oumas ...

Ander mense het maar min.

Sommige mense het wel ’n groot familie, maar die meeste woon in die buiteland.

Al kan mens aanlyn kontak hou, mens mis hulle tog as hulle so ver is.

Mens sien kinders, kleinkinders nie opgroei nie, en die kinders hier leer nie die ooms en tannies persoonlik ken nie.

Maar vir baie mense wat hulle familie naby het, is die lewe heel anders.

Baie besig, om die waarheid te sê.

Vir oupa en ouma kan daar amper elke week ’n verjaarsdag wees om te vier.

Soms kan dit te besig raak, die familielewe, sodat mens maar moeilik tyd kry om nog by ander dinge uit te kom.

 

En dan het ek nog nie eers genoem dat ons as gemeentelede ons ook familie van mekaar is nie.

Maak ons genoeg tyd om met hierdie familie ook tyd te spandeer?

Leef ons uit wat ons in Sondag 21 bely van die Heidelbergse Kategismus, dat ek van die gemeente ‘n lewende lid is, en dat ek gewillig is om my gawes met vreugde aan te wend tot nut en saligheid van die ander – dis nou die familie in die kerk?

 

Tema: Lid van die Familie van hoorders en daders van die Woord

  1. Is Jesus se eie familie wel lid?
  2. Is jy wel lid?

 

  1. Is Jesus se eie familie wel lid?

Soos u weet, behandel ons hierdie jaar die tema: Die gesin as bousteen van die gemeente.

Ons het die afgelope weke al na ‘n paar gesinne gekyk:

Adam en Eva se gesin; Noag se gesin; Abraham en Sara; en Lot en sy gesin.

 

Nou het ons Here Jesus op aarde ook in ‘n gesin opgegroei.

Dit was ‘n groot gesin.

In die teks lees ons van sy ma en sy broers.

Hy het ten minste vier broers gehad: Jakobus en Joses en Simon en Judas.

Dit weet ons onder andere uit Mattheüs 13.

Hy het ook ten minste twee susters gehad.

Dus in elk geval ‘n gesin van sewe kinders, of dalk nog meer.

En, soos by die vorige gesinne geblyk het, is ook in hierdie geval waar:

Dit was nie ‘n modelgesin nie.

Soos in elke gesin was daar in hierdie gesin ook gebreke.

 

Hoe het Jesus eintlik met sy familie omgegaan?

Verse 19-20 wek die indruk dat die familie van Jesus verwag het om direk aandag te kry.

Dit lyk of hulle nogal ‘demanding’ was.

Het hulle ’n spesifieke rede hiervoor gehad?

Was daar belangrike nuus? Slegte nuus? Of dalk goeie nuus?

Of was daar dalk onenigheid?

Of is dit dalk net dat hulle gevoel het Jesus verwaarloos hulle, dat hulle nou so veeleisend is?

Was hulle omgekrap omdat Jesus soveel tyd aan die skare skenk?

In elk geval, hulle daag by die huis op waar Jesus was.

Maar met so baie skare wat saamdrom, kon hulle nie by Hom uitkom nie.

Dus stuur hulle ‘n boodskap – van mond tot mond – tot dit by Jesus uitkom:

Jou familie wag buite vir jou.

 

Ons sien dat die Here Jesus hierdie situasie gebruik as ‘n voorbeeld in sy onderwys.

Dan dink ons aan die gelykenis van die saaier, en die gelykenis van die lamp.

In albei hierdie gelykenisse gaan dit daaroor dat jy ’n dader die Woord moet wees.

Nie net die Woord van God hoor nie, maar dit ook doen.

Dink aan die gelykenis van die saaier: Die saad is die woord.

Alle mense ontvang die woord, maar net by sommiges val dit in goeie grond.

Net sommiges doen iets daarmee, laat dit vrug dra in hulle lewe.

En die gelykenis van die lamp.

Ook hier gaan dit oor die Woord.

Die lamp, die lig wat straal, is die Woord.

As jy die lamp kry, wat doen jy daarmee?

Steek jy dit weg onder die bed?

Of sit jy dit op ’n staander?

Dit wil sê: Die lig, dit is die Woord wat jy ontvang het, maak jy vrugbaar vir jou omgewing.

In dié sin is hierdie voorbeeld van ons teks dus ’n perfekte afsluiting van Jesus se onderrig:

Julle moet nie net hóórders van die Woord van God wees nie, maar ook daders.

As jy dit doen, is jy familie van die Here Jesus.

En dit geld selfs vir sy eie ma en broers.

Ook hulle moet bereid wees om na sy woord te luister.

 

Ons weet nie of Jesus se ma en broers die hele onderrig van Jesus gehoor het nie.

Op daardie stadium waarskynlik nie.

Waarskynlik het hulle niks gehoor van die gelykenis van die saaier of van die lamp nie.

Op daardie stadium was hulle – sy broers in elk geval – nie baie geïnteresseerd in hulle oudste Broer se praatjies nie.

Hulle het net daar opgedaag, waarskynlik hulle vervies dat Jesus die heeltyd met die skare besig is.

Miskien geïrriteerd dat Hy so lanklaas iets van Hom laat hoor het, so lanklaas sy gesig by die huis gewys het.

Ons lees in vers 1 van Lukas 8 dat Hy van die een stad en dorp na die ander gereis het om die Evangelie te verkondig.

Moontlik dat Hy nou in ’n dorp nie ver van Nasaret af was nie.

Moontlik dat Hy nou in Nasaret self was, en dat sy ma en broers gedink het: Nou gaan ons na Hom toe!

Maar by die huis waar Hy was aangekom, kon hulle Hom nie eens bereik nie.

Daar was net te veel mense.

Hoe groot die skare was, weet ons nie.

Dit hang seker ook af van die grootte van die huis.

In elk geval, sy ma en broers laat toe maar die berig oorbring, van mond tot mond.

Meester, u moeder en u broers staan buite.

Hulle wil u sien.

En die skare het seker verwag dat Jesus hulle nou sou wegstuur.

Maar nee, nie dadelik nie.

Jesus gebruik die berig in sy prediking.

 

Mens kan ’n indirekte vermaning in Jesus se opmerking hoor.

Dalk was sy eie familie op daardie stadium nie so bereid om na Hom te luister nie.

Dit is in elk geval duidelik dat sy broers nie baie lus was om na sy praatjies te luister nie.

Ons lees in Johannes 7: “Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie” (vers 5)

Hulle het hulle vervies vir Jesus se optrede.

Hulle kon sy houding nie verstaan nie.

Hulle het sarkasties opgemerk:

“Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie.” (Joh 7:4).

 

Dit was ook nie die enigste keer dat Jesus sy eie familie vermaan het nie.

’n Paar hoofstukke later in Lukas lees ons oor ’n soortgelyke situasie.

Na sy prediking oor die onreine gees – in hoofstuk 11 – roep iemand uit:

“Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het”.

Maar dan antwoord die Here Jesus nie in die trant van:

Ja, dis waar, Ek het ’n baie wonderlike ma nie.

Maar Hy reageer: “Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.”

Is hierdie ’n indirekte vermaning aan die adres van sy ma, Maria?

Het sy ma dalk te veel haar seun wou vashou, hom net wou beskerm, en dalk te min na sy woorde geluister?

Die geloof is uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God (Rom 10:17).

Dit was ’n belangrike, ’n noodsaaklike leerkurwe, waardeur sy ma en sy broers ook moes gaan.

Jesus is nie net haar seun, of hulle oudste boetie nie.

Jesus bring die Woord van God.

Ook hulle moet tyd maak om te luister, nie net die skare nie.

 

Tussen hakies, daar is nie rede om te dink dat Jesus sy familiale pligte verwaarloos het nie.

As kind het Hy geleer om sy ouers onderdanig te wees (Luk 2:51).

Deur sy lewe het Hy steeds kontak met hulle gehou.

Selfs aan die kruis het Hy gesorg dat sy ma – teen daardie tyd dalk al in haar vyftigs – goed voor gesorg sou word – toe Hy spesifiek vir Johannes opgedra het om na haar om te sien, asof sy sy eie ma is.

Moontlik dat Josef al teen hierdie tyd oorlede was? Ons weet nie.

Ons lees verder, na Jesus se jeug, in die Nuwe Testament nooit weer iets oor Josef nie.

Volgens die tradisie was Maria redelik vroeg weduwee.

As oudste kind in die gesin het Jesus dit wat van Hom verwag word, ook nagekom.

 

Maar goed, dit was dus meer as een keer dat Jesus hierdie saak rondom sy eie familie aangespreek het.

Waarskynlik was sy prediking ook uitgebreider as net die paar woorde van ons teks.

Dit is voor-die-hand-liggend dat Jesus hierdie onderwerp – die verhouding tot sy eie familie en sy eie familie sy houding teenoor Hom – dat Jesus dit meerdere kere aangespreek het.

 

En dit sal waarskynlik ook nie net een keer gewees het, dat sy ma en broers gefrustreerd was met Jesus se besige skedule, en dat hulle by Hom probeer uitkom het nie.

Ook in die Evangelie Mattheüs lees ons dat Jesus in sy vaderstad aangekom het, en dat die mense in Nasaret Hom verag het.

“Is Hy nie die seun van die timmerman nie?

Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie?

En sy susters, is hulle nie almal by ons nie?

Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan?

En hulle het aanstoot aan Hom geneem.

Inderdaad, in Nasaret was daar baie familie van Hom.

En vir hulle was dit ‘n veel groter denkskuif om te begin besef, en te aanvaar, dat Hy hulle Messias is.

Geen wonder dat Jesus dikwels hierop teruggekom het nie.

Sy ma, sy broers, of Hy hulle groot held was, of dat hulle Hom verag het,

in beide gevalle moes hulle ‘n denkskuif maak.

Die feit dat hulle Hom so goed ken, die feit dat Hy hulle eie broer is, dit was sekondêr.

Hulle moet na sy woorde begin luister.

Dit is primêr!

Hulle moet minder fokus op Jesus as hulle familielid na die vlees.

Hulle moet meer fokus op sy woorde.

 

‘n Aantal jare later sou Paulus met dieselfde probleem te make kry.

In die gemeente van Korinthe was daar verdeeldheid, groepsvorming.

Sommige mense het gesê: Ek is van Paulus. Ander: Ek is van Apollos. Ander: Ek is van Cefas.

Sommiges het selfs gesê: Ek is van Christus. (1 Kor 1:12)

Moontlik gaan dit hier oor mense wat Christus nog persoonlik geken het tydens sy lewe op aarde.

Hulle het ‘n band met Hom gehad as persoon, na die vlees.

Maar hulle het te min na sy woorde geluister.

Paulus vermaan hulle hieroor: Moenie op die vlees fokus nie.

Moenie op persone fokus nie, of dit nou Paulus, Apollos, Cefas of selfs Christus is.

2 Korinthiërs 5:16: “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.”

Dis presies dieselfde boodskap as wat Jesus vir sy ma Maria gegee het, na sy opstanding.

Moenie My vashou nie.

In die sin van: Moenie My vashou as mens van vlees en bloed nie.

Nee, Ek vaar op.

Hy is nou die verhoogde Christus.

Hy is nie meer ‘n mens soos wat Maria hom as kind in haar huis gehad het nie.

Hy is nou die verhoogde, die verheerlikte, die een wat dood was en weer lewend geword het.

Hy is nou haar en ons ewige Koning.

Hy is besig om alles te herskep.

Hy wat haar, en ons, wil verander, transformeer, deur sy Woord en Gees.

Luister daarom na sy woorde.

Sy ma en sy broers, hulle moet nie net na Hom kyk soos hulle gewoond was, vroeër toe Hy nog by hulle in huis gebly het nie.

Hulle moet nou met geloofsoë na Hom leer kyk.

Want wie die Woord van God hoor en dit doen, hulle is my moeder en my broers.

Jesus se primêre familie is nie sy eie mense, sy bloedverwante nie.

Jesus se primêre familie is elkeen wat na die Woord luister en dit doen.

 

Was Jesus se familie lid van die hoorders en daders van die Woord?

Ja, hulle was lid van die verbond.

Maar, maak Jesus duidelik, dit is nie genoeg nie.

Dis nie genoeg dat jy besny is.

Of vir vandag, dis nie genoeg dat jy gedoop is nie.

Jy moet ook ‘n hoorder en dader van die Woord wees.

Die jongmense wat vandag belydenis doen, is gedoop so twee dekades gelede.

Hulle het opgegroei in die verbond.

Van jongs af het hulle die Naam van Jesus gehoor.

Vir jong kinders in die kerk is Jesus dalk soos ‘n oom wat oorsee woon.

Jy ken sy naam, maar jy ken hom nie werklik persoonlik nie.

Maar soos wat jy opgroei as verbondskind, moet Jesus vir jou nie net ‘n naam bly nie.

Jy moet groei na die besef dat Hy jou Saligmaker is.

Jy moet kom tot die keuse dat jy jou hele lewe aan Hom wil wy.

Vroeër het jou ouers jou geleer om in Jesus Christus se Naam te bid.

Vandag, as jy belydenis doen, is dit nie meer net ‘n naam nie, maar jou Saligmaker, jou Koning.

Daarom bely jy vandag in die kerk jou geloof.

Jy beloof dat jy harte ‘n hoorder en dader van sy Woord wil wees.

 

Dit bring ons by die tweede punt.

 

(Tema: Lid van die Familie van hoorders en daders van die Woord

  1. Is Jesus se eie familie wel lid?)

 

  1. Is jy wel lid?

Soos hierdie onderrig gegeld het vir die skare, en vir sy ma en broers,

so geld dit ook vir almal wat dit lees, nadat die evangelis Lukas dit opgeskryf het.

Hy het sy Evangelie spesiaal geskryf vir iemand genaamd Theofilus.

Dit het ook vir hom gegeld.

Ook hy mag ’n broer van Jesus wees, as hy hierdie Evangelie nie net hoor nie, maar ook doen.

En dieselfde geld vir ons, noudat ons vandag hierdie gedeelte gelees het.

 

Wie is jou primêre familie?

Is dit jou eie mense?

Of is dit hulle wat saam met jou rondom die Woord vergader word?

Soos die uitdrukkig sê: die familie met die hoofletter F.

Is dit nie so, behoort dit nie so te wees, dat jy meer tuis voel by die familie met ‘n hoofletter F nie?

As jy gelukkig is, is jou kleinletter-familie ook deel van die hoofletter-Familie.

Dan is jy werklik geseënd.

Maar dis nie altyd so nie.

Meestal is dit nie uitsluitend so nie.

Die antitese tussen geloof en ongeloof loop deur baie families heen.

Dit ontslaan jou nie van die plig om met hulle te sosialiseer nie.

Dis nie wat Jesus bedoel het nie.

Maar, laat dit duidelik wees, dan kan dit nie net by oppervlakkige sosialiseer bly nie.

Nie as iemand besig is om los te week van die familie met die hoofletter F nie.

Het ons wel die moed om te waarsku as dit nodig is?

Doen ons moeite – soos Jesus met sy eie familie – om hulle te vermaan, om hulle vas te hou by, en te trek rigting die Familie wat werklik saak maak?

 

Daar is soms spanninge in families.

Spanninge is dikwels as gevolg van konflik, vanweë ons eie sondigheid, ons hardkoppigheid, ons trots.

Dalk oor geld.

Dalk oor die verlede.

Dalk oor ’n erfenis.

Dalk oor werk. Wat ook al.

Gemeente, dit is dinge wat nie so aanvaar mag word nie.

Dit is dinge waar daar nie by berus mag word nie.

 

Spanning in familie kan ook met die geloof te make hê.

In Jesus se familie was daar ook spanning.

As daar nie werklik eenheid in die geloof is nie.

Of as daar verskil van mening is oor wesenlike sake uit die Bybel.

Hoe affekteer dit die familieband?

Word dit dan maar net oppervlakkig?

Want ons weet dat as ons dieper gaan praat, daar net spanning kom?

Ma wil tog net dat daar nie verwydering ontstaan nie, dat almal tog bymekaar bly kom.

Maar gaan dit soms ten koste van die waarheid?

Is dit nog egte liefde?

Hoe bewaar mens ’n goeie atmosfeer?

Maar ook: Hoe bewaar mens mekaar by die geloof?

Wat is wysheid?

 

Nog iets anders wat ons onsself kan afvra is:

Vra die bloedband nie soms te veel van ons tyd nie?

Dat ons sosiaal so besig is met ons familie, dat die hoofletter Familie aan die agterste speen suig?

Maak ons ook tyd om die vreemdeling uit te nooi, of daardie gemeentelede wat geen familie het nie, wat meeste naweke maar eensaam is?

Kan ons soms nee sê, soms voorrang verleen aan hulle wat nie-familie is nie?

Dit is eintlik wat in ons teks gebeur.

Jesus sê nee vir sy familie.

Nie nou nie, later.

 

Ons gesinne is boustene van die gemeente.

Tog is dit nie ‘n klomp los boustene nie.

Ons word aanmekaar vasgemessel.

Ons is saam een muur, een gebou.

As die onderlinge netwerke, die onderlinge bande sterk is, dan staan die gebou ook stewig.

 

Ons mag vandag as gemeente saam wees om na die Woord te luister.

As ons die kerk verlaat, dan doen ons dit met die intensie om ook daders van die Woord te wees.

Ons is familie met ‘n hoofletter F.

Hier in die kerk word ons aangespreek as broers en susters.

Dis nie toevallig nie.

Hierdie gewoonte – om mekaar in die kerk broer en suster te noem – is direk afkomstig uit ons teks.

Die apostels het dit goed begryp en in hulle briewe het hulle die gemeentes so begin aanspreek.

Selfs in die brief van Jakobus vind ons dit terug.

Jakobus, hy wat self een van die boers van die Here Jesus was.

Die onderwys van ons teks, die vermaning van Jesus rigting sy eie familie, ook rigting hom, Jakobus, dit het hy dus gelukkig duidelik ter harte geneem.

In sy brief beroem hy homself nie daarop dat hy die Heiland se broer is nie.

Inteendeel, hy begin sy brief met: Jakobus, ‘n dienskneg van God EN van die Here Jesus Christus.

Die hoofletter-Familie het ook vir hom belangrik geword.

Wat hom betref, staan die skare nie meer in die pad nie.

Nee, hy sluit hom aan by die skare, om te luister na sy groot Broer, en self ook ‘n dader van sy Woord te wees.

Jakobus haal sy oudste Broer aan, as hy in sy brief skryf:

Julle moet nie net hoorders van die woord wees nie, maar ook daders (Jak 1:22).

 

Lid van die Familie van hoorders en daders van die Woord, dis ons tema.

Was Jesus se eie familie wel lid?

Aanvanklik het daaroor twyfel bestaan.

Aanvanklik wou sy broers nie in Hom glo nie.

Later lyk dit of hulle omgeswaai het, die denkskuif gemaak het, hulle tot Hom bekeer het.

In elk geval sy ma, Maria, en Jakobus – dis baie duidelik uit sy brief.

En nou die vraag: Is jy wel lid?

Ja, net soos die drie jongmense wat vanoggend belydenis doen, is ons dalk vroeër gedoop.

Jy is ‘n verbondskind.

Maar is jy as verbondskind ook ‘n gewillige hoorder en dader?

Geliefde broer, suster, en ook julle – Marnix, Wian en Tiaan:

Kom ons sê vanoggend vir die Here, en vir mekaar, en vir jouself:

Ja HERE, ek wil lid wees en ek wil lid bly van u Familie!

Gee my die krag, deur u Heilige Gees, dat ek ‘n hoorder en ‘n dader van u Woord sal bly.

Help my om nie te verslap nie!

Dankie, Here Jesus, dat U ook my u broer, en u suster noem!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 89:6

Wet

Sb 19:5,6,7

Gebed

Skriflesing: Lukas 8:1-21

Sb 6:1,3

Skriflesing: Jakobus 1:19-27

Ps 66:7

Teks: Lukas 8:21

Preek

Ps 133:1,2

Openbare Geloofsbelydenis

Seën

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Sb 27:4,5

Seën