Preek: Genesis 13:10-13
Ons behandel tans in die prediking ‘n paar gesinne uit die Bybel.
Dit is in verband met ons jaartema – die gesin as bousteen van die gemeente.
Ons het nou al na drie gesinne gekyk, die van Adam en Eva, Noag en sy vrou, en Abraham en Sara.
Dit was nie modelgesinne nie.
Net omdat hulle name in die Bybel staan, beteken nie hulle is onbesproke nie.
Inteendeel: broedermoord, dronkenskap, afgodediens ...
Wat ons eerder in hierdie gesinne sien, is God se genade.
Dat Hy uit genade ingegryp en sy kinders op die regte pad gelei het.
Soos by Abraham, wat Hy na sy beloftes toegeroep het.
En toe Abraham gehoorsaam die pad van sy beloftes begin stap het, het hy ook daarin vreugde gevind, en ervaar hoe dit HERE hom seën.
Ons kyk vandag na nog ‘n gesin, ‘n gesin wat saam met Abraham uit Ur en Haran vertrek het.
Lot, sy vrou, en twee dogters.
En, na dit wat ons vanoggend gelees het, sal dit vir niemand ‘n verrassing wees as ek sê dat dit ook nie modelgesin was nie.
Tema: Die HERE red Lot van die gevolge van sy eie keuse
Lot het saam met Abraham sy land en familie verlaat en getrek na die land wat God hulle sou wys.
Lot het ook die afgodediens van sy familie agter hom gelaat.
Maar direk kom die vraag by ons op: Was Lot se hart regtig by die HERE?
Wat oor Lot in Genesis staan, laat mens wonder.
Dit gaan oor die keuse wat Lot by Abraham kry om ‘n gebied te kies waar hy wil gaan woon.
Hulle uitgebreide familiegeselskap het so baie vee gehad, dat die land hulle nie kon dra nie en daar het twis onder die onderskeie veewagters ontstaan.
Dan lees ons: Toe slaan Lot sy oë op en sien die Jordaanstreek.
Oral volop water!
Aanloklik vir die oog.
Dit laat my dink aan die ou Voortrekkerliedjie:
“Groen is die land van Natal, wyd lê die velde omheen ...
Stil wil ek droom langs ‘n groen waterstroom ...”
Ek kan my goed voorstel dat Lot ook so gedink het.
Standhoudende water, die hele jaar lank.
Hier sal sy veestapel oneindig kan uitbrei, hier is potensiaal om ‘n megaboer te word ...
Begerig kyk Lot na die Jordaandal.
Dis ‘n paradys!
Dit het water soveel soos Egipteland!
En noudat hy die kans kry om te kies, hoekom sal hy nie die beste kies nie?
Maar so werk dit nou eenmaal, as dit by die mooi en vrugbare dele van die aarde kom, is die kompetisie om dit te besit ook veel groter.
Die Jordaanstreek was reeds bewoon, daar was selfs groot stede.
Sodom en Gomorra, en dis waar die probleme vir Lot begin het ...
Groot probleme vir Lot en sy gesin!
Want, sê die teks, Lot het sy tente tot by Sodom opgeslaan.
As dit oor jou gesin gaan, broer, suster, hoe kies jy waar jy wil gaan bly?
Ook vandag moet gelowiges soms ‘n keuse maak.
Jy kry ‘n werksaanbod, ‘n baie aanloklike aanbod, maar is dit wel ‘n opbouende omgewing vir jou gesin, ‘n omgewing wat dit nie moeiliker sal maak om jou kinders Godvresend op te voed nie?
Gaan bly jy – omdat dit byvoorbeeld finansiële voordele inhou – ver van die kerk, ver van ander gelowiges wat jou kan help om op die regte pad, die smal weg, na die ewige lewe te bly?
Laat dit duidelik wees, dis nie altyd verkeerd om te kies om op enige plek te gaan bly, of vir ‘n periode te gaan bly nie.
Maar by elke keuse moet jy eerlik wees met jouself: Wat is my primêre dryfveer?
‘n Lukratiewe finansiële toekoms, is dit die beste vir my gesin, die beste vir my geestelike lewe?
Hierdie dinge sluit mekaar nie altyd uit nie, maar daar kom soms dae in jou lewe wat jy wel òf – òf sal moet kies.
Òf die een, òf die ander.
Die Bybel maak duidelik dat Lot se keuse uiteindelik nie in belang van sy gesin was nie.
Die aanloklikheid van die liggies van Sodom het soos ‘n magneet getrek.
En hoewel Lot die hele Jordaanstreek gekies het, gaan bly hulle uiteindelik nie êrens ver van hierdie goddelose stede af nie, maar kies selfs om in Sodom te gaan woon.
Hoe dom kan mens nie wees nie – sou ons dink.
Nou moet ons nie te gou oordeel nie.
Ook ons woon in ‘n stad wat nie onderdoen vir Sodom of Gomorra nie.
Ek sê nie om in ‘n stad te bly is per definisie verkeerd nie.
Ook die platteland kan geestelike oppervlakkigheid oor jou gesin bring, ver van die gemeenskap van die heiliges.
In Lot se geval het dinge egter lelik skeefgeloop.
En, daaroor is die Bybel duidelik, dit was deur eie toedoen.
Eie keuses, wat op verkeerde motiewe gegrond was.
En soos die tyd aanstap, het Lot en sy gesin al hoe meer gelykvormig geword.
Jy weet, die plek wat jy as ouers kies om jou kinders te laat grootword, het ‘n invloed.
Dis die omgewing waar, as jou kinders volwasse raak, hulle ‘n lewensmaat moet vind.
Wel, vir Lot se dogters was daar nie Godvresende manne nie.
Lot se aanstaande skoonseuns was lief vir Sodom, net soos sy dogters ook geraak het.
Toe God se oordeel oor die stad hang om enige tyd los te breek, en die engele hulle indringend waarsku om die stad te verlaat, en Lot hulle aanmoedig om te luister en die stad te verlaat, lees ons:
“Maar hy [dis nou skoonpa Lot] was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer.” (Gen 19:14)
Gaan jou skoonkinders, gaan dalk jou eie kinders, eendag vir jou lag as jy by hulle aandring om die regte besluite in hulle lewe te maak, om die regte kerkkeuse te maak, om ernstig te wees oor hulle daaglikse huisgodsdiens?
Maar die probleem was nie net die skoonseuns nie.
Lot se eie kinders, Lot se eie vrou, selfs Lot self het ook al diep gedaal.
Hulle het dalk nog nie so diep gedaal dat Sodomie vir hulle aanvaarbaar was nie.
Sodomie – dis nou die woord wat sedertdien ontstaan het om homoseksuele omgang te beskryf.
Toe die manne van die stad Lot se besoekers – die engele – wou gryp om dit met hulle te doen – u verstaan wel – het Lot die deur toegehou.
Maar, vir ons onbegryplik, bied Lot toe wel sy eie dogters aan.
Vers 8: “doen met hulle soos dit goed is in julle oë.”
Wel, iemand moet baie baie wêreldgelykvormig geword het om soiets te sê.
En so was dit met Lot, en sy gesin nie minder nie.
En so bly hulle talm om die stad te verlaat – al hang God se oordeel reeds swaar bo die stad.
Gemeente, soos ek aan die begin genoem het, ons kyk nou nie na modelgesinne nie.
Die Bybel fokus inteendeel op die genadige werk wat God in baie sondige gesinne gedoen het.
En so was dit ook met Lot en sy gesin.
Uiteindelik, lees ons in vers 16, na ‘n eindelose getalm, gryp die engele vir Lot en sy vrou en sy twee dogters, en trek hulle die stad uit.
Buite gekom, klink die dringende opdrag: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie!” (vers 17)
Ja, soms is vlug beter as om jou oë toe te knyp vir die werklikheid.
Dis presies wat Lot gedoen het.
Te lank het hy ‘n ogie toegeknyp, nie die werklikheid onder oë durf te sien nie, tot groot nadeel van sy gesin.
En in sy gesin was dinge nog erger as by homself, veral wat betref sy vrou.
Ons ken nie haar naam nie.
Maar Lot se vrou het lief geraak vir die ‘glitter and glamour’ van Sodom.
Hoewel sy saamgesleur is deur die engele, hoewel sy agter haar man aangegaan het toe hy vlug na die berge, het sy hom nie bly volg nie.
Sy het terugverlang.
Sy het gedink aan alles wat sy gaan mis.
Sy het omgekyk.
Sy het omgedraai.
Sy het ‘n soutpilaar geword.
Hierdie is ‘n verhaal wat die meeste van ons al as kind gehoor het.
Ek onthou nog die prentjie van die soutpilaar in die Kinderbybel.
Baie vrae daaroor gehad ...
Hoe kon sy skielik ‘n soutpilaar word?
Was dit ‘n bonatuurlike wonder dat sy skielik in ‘n soutpilaar verander het?
Bietjie soos die mense en diere wat in die boek Narnia bevries sodra die yskoningin hulle aanraak?
Gemeente, ja en nee.
Ja, dit was ‘n wonder.
Maar wat was die wonder?
Dit was God se oordeelswonder wat Sodom en Gomorra getref het.
En ook Lot se vrou is ingehaal deur daardie oordeelsvuur.
Sy het getalm, sy het terugverlang na haar lewe in daardie stad, sy kon moeilik afskeid neem.
Haar verlange na haar ou lewe het haar ondergang geword.
Sy het nie gou genoeg weggekom nie, die vuur en swawel het haar ingehaal.
In die Nuwe Testament waarsku Jesus die mense van sy tyd met die voorbeeld van Lot se vrou.
Jesus praat oor die koms van die koninkryk, die verskyning van die Seun van die mens.
Dit sal onverwags wees, maar nie dat die mense nie gewaarsku sal wees nie.
Jesus verwys eers na die dae van Noag.
Hulle het geëet en gedrink, hulleslef geniet, tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.
En toe was dit te laat.
Die sondvloed het gekom en almal vernietig (Luk 17:27).
Net so, sê Jesus, was dit in die dae van Lot.
Hulle het geëet en gedrink, hulleself geniet, maar op die dag toe Lot uit Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.
“Dink aan die vrou van Lot!” sê Jesus dan (Luk 17:32).
Moenie op daardie dag omgee vir jou huisraad nie (vers 31), moenie omdraai nie.
Dis wat Lot se vrou gedoen het, sy was te geheg aan Sodom se lewe, die lewe wat sy daar opgebou het.
So het die oordeel haar ook ingehaal.
Jesus se woorde is natuurlik nie net bedoel vir die mense van sy tyd nie, maar ook vir ons.
Dit laat ons nadink oor die priorieite in ons lewe.
Daar hang weer ‘n oordeel in die lug.
Die apostel Petrus waarsku daarvoor, met verwysing na dit wat met Sodom en Gomorra gebeur het.
Dit word as voorbeeld gestel vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees – 2 Petrus 2:6.
En, dis nie net willekeurige engele wat jou by die oordeel wegtrek nie.
Broer, suster, die einste Engel van die HERE doen dit met jou en my.
Jou Here Jesus Christus, Hy bied jou ‘n ontsnapping aan die oordeel.
En solank daar nog genadetyd is, wees wys.
Moenie in die spreekwoordelike Sodom gaan woon nie.
Moenie op ‘n dag tot jou skok agterkom dat net jy as pa, of jy as ma, nog ernstig is oor die geloof, oor kerkgang nie.
Dat jou kinders ondertussen hulle eie koers gekies het.
Broer, suster, as jy verkeerde keuses gemaak het, kom terug daarvan.
Leef elke dag naby jou Heiland, persoonlik, as gesin.
Dis nie ‘n straf nie, dis ‘n goeie lewe, ‘n gesonde lewe.
Abraham het ‘n goeie lewe by die HERE gekry, al het hy nie die pret en plesier van Sodom beleef nie.
Die HERE het Lot gered van die gevolge van sy eie keuse.
So kan Hy jou ook red.
Daar is ‘n weg terug – danksy Christus.
Uit genade het die HERE vir Lot gered.
Al was daar dinge lelik fout met die seksuele moraal in sy gesin – dink aan Lot wat sy dogters aanbied vir die gespuis van die stad; en dink aan Lot se dogters en hulle plan later hoe om kinders te kry – desnietemin word Lot in die Bybel ‘n regverdige genoem.
Petrus skryf, hy het hom gekwel oor die losbandige lewe van sedelose mense, hy het sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke.
Toe Lot by die poort van Sodom sit en die engele sien aankom, het hy al vermoed hier kom probleme.
Hy het hulle gasvryheid aangebied, juis omdat hy geweet het wat anders sou gebeur.
En genadiglik het die HERE besluit om hom en sy gesin ‘n uitkomkans aan te bied, en Lot het dit gegryp, hy het in vertroue halsoorkop gevlug.
Dit was net betyds, al was dit nie betyds vir sy hele gesin nie.
“[D]ie Here weet”, skryf Petrus dan, “om die godsaliges uit versoeking te verlos” (2 Pet 2:9).
Gelukkig maar, want as dit van onsself afgehang het, sou ons nooit Sodom die rug toegekeer het nie.
Sola gratia, alles is genade.
Lot se lewe getuig daarvan.
Hy het verkeerde keuses in sy lewe gemaak, wat hom en sy gesin duur te staan gekom het.
Die HERE was genadig, en het hom nog ‘n kans gegee.
En laat ons eerlik wees, ek en jy maak ook van tyd tot tyd verkeerde keuses.
Keuses wat jou en jou gesin lelik kan benadeel of inderdaad benadeel.
Wat, as God dit nie genadiglik verhoed, jou gesin kan stukkend maak.
Jou gesin geestelik lui kan maak.
Jy en jou gesin van die Here en sy diens kan vervreem.
Broers en susters, dit begin by klein dingetjies.
Waaroor gaan jy praat as jy vanoggend na kerk by die huis kom?
Vind daar nog geestelike gesprekke in ons huise plaas?
Of gaan dit amper altyd net oor ons materiële dinge, of ons vakansies, en die rugby?
Alles dinge wat nie verkeerd is nie, maar waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
Kies bewus om ook gesprekke in jou gesin te voer oor die Bybel.
Praat spesifiek met jou kinders oor wat Christus van hulle verwag, as dit kom by beroepskeuse, studierigting, as dit kom by ‘n lewensmaat, as dit kom by stokperdjies, watter films jy kyk, en en en.
Is die diens aan die HERE regtig ‘n faktor in jou gesinslewe?
Of het dit ‘n boksie geword wat jy elke Sondag aftiek?
Arme Lot, hy bly sonder vrou agter en met twee ontevrede dogters.
Ons dink soms ook so oor gesinne vandag, waar kinders vervreemd geraak het van die kerk, nie meer Sondag kerk toe wil gaan nie.
Is ons bereid om ook na onsself te kyk?
Het daar dalk ook iets by jou en my foutgegaan?
Was my diens aan die HERE dalk te oppervlakkig?
Introspeksie is eie aan ‘n gelowige se lewe.
Laat ons nie nalaat om dit te doen nie.
Laat ons vergewing vra daar waar ons dit moet vra.
Ons kan, ons mag, uit vergewing lewe.
En dit is ook die begin van die pad na herstel.
Ek sê nie dat alles altyd die ouers se skuld is nie.
Maar daar is geen ouer op aarde wat kan beweer dat hy alles goed gedoen het nie.
As dit van jou en my as ouer sou afgehang het, sou geen kind meer by die kerk gewees het nie.
Dis net genade dat die HERE tog voortgaan in die geslagte.
Dis danksy die wonder van vergewing.
Daardie belofte van vergewing, elke dag weer, is daar.
Die HERE roep jou na daardie belofte toe.
Gebruik dit, smaak hoe goed dit is, ‘n lewe waar Christus en sy vergewing die botoon voer.
Ek sluit af met hoe die apostel Petrus sy brief afsluit.
Dis so relevant!
“Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.”
Amen.
Votum
Seën
Ps 95:1,4
Wet
Ps 119:10
Gebed
Skriflesing: Genesis 13
Ps 62:6,7
Skriflesing: Genesis 19:1-30
Ps 73:5,8
Teks: Genesis 13:10-13
Preek
Sb 32:1-4
Gebed
Kollekte
Sb 34:1-3
Seën