Die HERE roep Abram en sy gesin na sy beloftes toe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-10-19
Teks: 
Genesis 12:1-3
Preek Inhoud: 

Preek: Genesis 12:1-3

 

In die serie preke wat ek tans hou, het ons al na twee gesinne gekyk: die van Adam en Eva, en die gesin van Noag en sy vrou.

Vandag kyk ons na nog ’n gesin: Abram en Sarai, of soos hulle name later geword het: Abraham en Sara.

Nou staan daar baie meer in die Bybel oor hulle as oor die eerste twee gesinne.

In vandag se preek sal ons daarom nie aan hulle gesinslewe van begin tot end kan aandag skenk nie.

In ons teks gaan dit spesifiek oor ’n baie bepalende moment uit hulle gesinslewe, naamlik toe die HERE hulle geroep het om hulle land en familie te verlaat.

 

Tema: Die HERE roep Abram en sy gesin na sy beloftes toe

1 Dis ’n roep om land en familie te verlaat

2 Dis ’n roep om ‘n leefstyl agter te laat

 

1 Dis ’n roep om land en familie te verlaat

Kom ons kyk eers na Abraham se genealogie.

As ons die geslagsregister in Genesis 11 op die voet sou volg, beteken dit dat Abraham ongeveer 3 en ’n half eeue na die sondvloed gebore is.

3 en ’n half eeue, dis ’n lang tyd – ongeveer vanaf Jan van Riebeeck tot vandag.

Aan die ander kant is dit ook nie so lank nie.

As mens Genesis 11 so lees, lyk dit of Abraham, wat van Noag se seun Sem afstam, ongeveer die 9e generasie na hom was.

As mens met die beskikbare getalle in Genesis 11 ’n sommetjie maak, blyk dit dat toe Abram gebore is, sy oupa oupa grootjie Sem ook nog gelewe het.

Sem het 600 jaar oud geword.

Dit wil sê Abraham was meer as ‘n 100 jaar op aarde saam met sy voorvader Sem.

Abraham het self 175 jaar oud geword Gen 25:7).

Of Abraham naby Sem gewoon het, is onbekend, maar mens kan beslis aanneem dat die kennis van die ware God nog aanwesig was onder die afstammelinge van Sem.

 

Daar is eksegete wat meen dat dit juis die rede was hoekom die HERE vir Abram uit Ur weggeroep het.

Vanuit Ur – ’n gebied waar afgode vereer is – om na Kanaän te trek, ’n gebied waar die diens aan die HERE nog in ’n suiwerder vorm aanwesig was.

Daar is eksegete wat selfs opper dat Sem juis daar in Kanaän gewoon het.

Sommiges beweer dat Melgisedek, die koning van Salem waarvan ons lees in Genesis 14, dat hy eintlik Sem was.

Sem sou dan sy agter-agterkleinseun Abram geseën het, soos ons lees in Genesis 14:19:

“Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde.”

 

Of dit korrek is om Melgisedek met Sem te vereenselwig, moet mens dink ek in die midde laat.

Daar is ook gegewens wat daarteen pleit.

In die eerste plek is daar byvoorbeeld eksegete wat beweer dat die geslagsregister in Genesis 11 nie volledig is nie.

Daar sou nie net 8 geslagte tussen Abraham en Sem gewees het nie, maar meer.

Dus nie 350 jaar tussen Abraham en die sondvloed nie, maar moontlik 1000 jaar of selfs meer.

As ons in Genesis 11 elke keer lees dat ‘n persoon die vader geword het van die volgende persoon, bbyvoorbeeld “Toe Serug dertig jaar oud was, het hy die vader van Nahor geword” (Gen 11:22) – kan jy die Hebreeuse woord vir die vader word van ook moontlik anders vertaal.

Dit kan ook in oordragtelike sin gebruik word, soos dit byvoorbeeld staan in Genesis 10:13.

Daar staan: “En Misraim was die vader van die Ludiete”.

Nou Misraim was ‘n ander naam vir die land Egipte.

Egipte was dus die vader van die Ludiete.

Die Ludiete was ‘n volk of ‘n stam.

Hier word die woord dus oordragtelik gebruik.

Egipte was nie letterlik die vader van die Ludiete nie, maar Egipte was die gebied waarvan die Ludiete afkomstig was.

As ons dus telkens in hoofstuk 11 lees: die vader van ...; die vader van ...; dan hoef dit nie elke keer letterlik te beteken dat die een die ander een se kind was nie, daar kon ook geslagte tussen gewees het.

Moontlik dat net die mees bekende name genoem word.

 

En dit bring ons by Tera, Abram se pa, en sy orige familie wat in Haran agtergebly het.

Toe ons die gedeelte gelees het, het u dalk miskien gewonder wie die HERE nou eintlik geroep het?

Want in 11:31 lees mens dat Tera uit Ur van die Chaldeërs weggetrek het om na Kanaän te gaan.

Maar in 12:1 lees ons hoe die HERE vir Abram roep om weg te trek.

Aan wie het God eintlik verskyn?

Gemeente, om eerlik te wees, ons kry hier nie genoeg inligting om ‘n definitiewe keuse te maak nie.

Die Skrif vertel ons nie alles oor die verlede nie.

Dit lyk of die HERE vir Abram geroep het saam met sy pa Tera.

Dit lyk of Tera dus ook geroep is deur God om weg te trek uit Ur van die Chaldeërs.

Maar dit lyk of Tera halfpad vasgehaak het.

Want Haran, waar Tera hom gevestig het, lê omtrent halfpad op die roete na Kanaän.

Aan die een kant sien ons dat Tera die HERE, die lewende God, gedien het.

Aan die ander kant sien ons dat Tera die afgodediens nie heeltemal agter hom gelaat het nie.

Tera het heelwat kinders en nakomelinge gehad.

Hy het ook meer as een vrou gehad.

Ons weet dat Tera die pa was van sowel Abram as van Sarai, Abram se vrou.

Hulle het net verskillende ma’s gehad.

Ons weet dat die afgodediens ook in Tera se nageslag aangegaan het.

Dink aan byvoorbeeld Ragel, Jakob se een vrou.

Ragel was die dogter van Laban.

Laban was ‘n kleinseun van Tera.

Ragel het haar hele lewe aan haar ouerhuis se afgode bly vasklou, naas die diens aan die HERE.

Toe sy en Jakob op ‘n stadium padgee uit skoonpa Laban se huis, het Ragel die huisgode saamgevat in haar kameelsaal.

 

Dus dit lyk of Tera en sy gesin wel weggetrek het uit Ur, maar dat hulle die afgodediens tog nie heeltemal kon afsweer nie.

Hulle het in Haran vasgehaak en nie verder getrek nie.

En dit is om hierdie rede dat God nou ingryp in Abram se lewe.

Abram word opgeroep om weg te trek, nie net uit sy land nie, maar ook om nou sy vader se huis te verlaat.

 

Gemeente, vandag gee die HERE ook soms sulke drastiese opdragte.

Aan die een kant is dit normaal om lojaal te bly aan familie.

Maar as familie afvallig raak, laks raak in hulle erediens, moet daar soms drastiese keuses gemaak word.

Jy en jou gesin is ’n bousteen van die kerk.

Maar wat as die kerk waarin jy is afvallig begin raak, of oppervlakkig, of wêreldgelykvormig?

Dan is drastiese keuses soms nodig.

Meer nog, die HERE roep jou dan moontlik na ’n ander kerk toe.

As jy en jou gesin opgroei in ’n kerk waar niemand omtrent die aanddienste besoek nie, kan dit die behoud van jou gesin wees om ’n kerk te soek waar die HERE wel trou gedien word.

Wie kies om in ’n wêreldgelykvormige omgewing te bly, mag tot sy onsteltenis agterkom dat sy kinders ook so raak, en wat van jouself?

Dink aan Lot wat met sy gesin in Sodom gaan bly het.

Op sy minste gaan dit net soveel moeiliker wees dat jou gesin ’n lewende bousteen bly.

Ja, dit is drastiese keuses, die gaan met pyn gepaard.

Maar in die Bybel roep die HERE soms gesinne om net agter Hom aan te gaan, en nie menslike faktore swaarder te laat weeg nie.

So het Abram en sy vrou die drastiese opdrag gekry om by hulle familie weg te trek.

 

(Tema: Die HERE roep Abram en sy gesin na sy beloftes toe

1 Dis ’n roep om land en familie te verlaat)

 

2 Dis ’n roep om hulle leefstyl agter te laat

 

Ja, dit was ‘n moeilike opdrag vir Abram om sy land te verlaat.

Normaalweg is ’n mens trots op jou land.

As dinge goed gaan – as daar byvoorbeeld geen oorlog of groot gevaar is nie – dan oorweeg mens dit nie om jou land te verlaat nie.

Jy wil bly in jou omgewing waar jy gevestig is, waar jy ’n bestaan opgebou het – jou grond, jou huis, jou besittings.

En nog moeiliker is die opdrag: 

Verlaat jou familie.

Verlaat ook jou mense, jou volk.

Mens is gewoond aan jou eie mense, jou eie taal.

Jy ken mekaar.

Jy help mekaar.

Die lewe is maklik tussen jou eie mense.

Maar nou roep God vir Abram: Vertrek na ’n onbekende land!

’n Plek wie se mense jy nie ken nie.

’n Plek wie se taal jy nie praat nie.

Miskien het Abram gewonder: Sal die mense my aanvaar in daardie vreemde plek?

Sal ek in staat wees om hulle taal te leer?

Of sal ek ’n vreemdeling bly vir die res van my lewe?

 

Maar gemeente, dit was nog nie al nie.

Want God het ook gesê: Abram, gaan uit jou vader se huis uit.

Dit beteken, laat jou pa en ma agter.

Hoe oud Abram se ma op daardie stadium was, is onbekend.

Ons weet wel meer oor sy pa, Tera.

In Genesis 11:32 staan dat hy 205 jaar oud geword het.

In vers 26 staan dat Tera 70 jaar oud was toe Abram gebore is.

En in 12:4 staan dat Abram op sy beurt 75 jaar oud was toe hy sy ouerhuis agtergelaat en uit Haran vertrek het.

As mens ’n sommetjie maak, Tera was dus 145 jaar oud toe Abram weggetrek het.

Dit beteken dat Tera nog vir 60 in Haran bly leef het, voordat hy gesterf het.

Maar die dag toe hy gesterf het, was Abram nie daar om sy pa te begrawe nie.

 

So moes Abram sy vaderlike huis verlaat, met alles wat daarby gehoort het.

By huis moet mens veral ook dink aan die huishouding.

Tera was ’n man wat meer as een vrou gehad het.

Soos gesê, ons weet dat Abram en sy vrou Sarai halfbroer en halfsuster was.

En by huishouding moet mens veral ook dink aan die huisgode – waarvan Ragel later sou gesteel het.

Die huisgode, op daardie stadium was dit ook vir Abram afgode.

Miskien het u nog nie so daaraan gedink nie, maar dit is wel ’n feit.

Abram was ook ’n afgodedienaar.

Hy het – soos die Kategismus sê, naas die enige ware God nog ander gehad waarop hy sy vertroue gestel het.

God het Abram glad nie geroep omdat hy so ’n voorbeeldige persoon was nie.

Die Bybel is heel duidelik daaroor.

Abram kom uit ’n huishouding waar die afgode OOK gedien is.

Dit was vir hom gewoon.

Ons lees byvoorbeeld in Josua 24(:2-3), waar Josua die volgende vir die volk sê:

“So sê die HERE, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon – Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien. Maar Ek het julle vader Abraham van oorkant die Eufraat af geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek en sy nageslag vermeerder ...”

En dit bring Josua dan tot die oproep aan die volk:

“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Jos 24:15)

En om nog ’n voorbeeld uit die Bybel te noem.

In Jesaja 29:22 sê die HERE dat Hy Abraham verlos het.

Deur hom op te roep om weg te trek uit sy vader se huis, het Hy hom van die afgodediens verlos.

 

Abram moes dus nie net sy pa en sy familie agterlaat nie, maar ook die gode.

Abram kon voortaan slegs vertrou op daardie een God wat hom die pad na die nuwe land sou wys.

Abram moes voortaan sy wil volg.

Sy pa, Tera, en sy huishouding se leefstyl, moes hy agter hom laat.

Hy kry die baie pynlike oproep:

Abram, Ek wil hê jy moet nie net jou land en jou familie nie, MAAR OOK jou vader se huis verlaat, dit wil sê: Jy moet daardie leefstyl agter jou laat!

 

Gemeente, sê nou maar die HERE sou van jou al hierdie dinge vra, hoe sou jy daarop reageer?

Sou jy bereid wees om jou land te verlaat?

Sou jy bereid wees om jou volk en taal agter jou te laat?

Sou jy bereid wees om jou ouers en dit wat vir hulle kosbaar is, agter jou te laat?

En waaroor die veral gaan: Is jy bereid om sondige gewoontes, wat dalk deur generasies in jou familie, of in jou kultuur, of in jou volk, ingesluip het, te verlaat?

In kerke waar die tweede erediens bykans nie besoek word nie, is dit dikwels ’n geval van generasies.

Deur die geslagte heen het hierdie gewoonte ingesluip om dit nie te doen nie.

Hoekom is daar eintlik ’n tweede erediens in ’n kerk, as mense dit nie bywoon nie?

Is dit nie ’n anomalie nie?

Kortom, net soos by Abram, vra die Here vir jou en my:

Is jy bereid om met gewoontes te breek ... verkeerde gewoontes?

Is jy bereid om jou leefstyl te verander, as God dit van jou vra?

 

Ek dink dit was ’n geweldig moeilike besluit vir Abram om te neem.

Aan die een kant.

Maar aan die ander kant lees ons in verse 2 en 3 van die beloftes wat die HERE aan hom gee.

Luister ’n bietjie na hierdie beloftes:

Ek sal jou tot ’n groot volk maak en jou seën.

Ek sal jou naam groot maak, en jy sal tot ’n seën gestel word.

Ek sal seën wie jou seën, en wie jou enigsins vervloek, sal Ek vervloek.

Alle geslagte van die aarde sal deur jou geseën word!

 

Hierdie uitdrukking: Ek sal seën wie jou seën, en Ek sal vloek wie jou vervloek, was ’n tipiese frase wat by ’n verbondsluiting gebruik is.

Is dit vandag nie nog steeds so nie?

As twee lande ’n verbond sluit, dan beloof hulle vir mekaar dat hulle ook gesamentlike vriende en vyande sal hê.

Dink aan die bekende artikel van die NAVO – die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie – artikel 5, dat ’n aanval op een land ’n aanval op alle lande is.

Daardie trou het die lande van die NAVO aan mekaar belowe.

So was dit ook in die ou tyd tussen volke.

Abram kry nou hierdie aanbod in die skoot gewerp:

Die allermagtigste moondheid sluit met hom ’n verbond.

Abraham hoef nie bang te wees om sy vaderhuis te verlaat en na ’n onbekende land te vertrek nie.

Want die almagtige Verbondsgod gaan saam met hom.

 

Wat ’n pragtige belofte wat ’n mens kan ontvang.

Abram moet sy mense agterlaat, maar uit hom sal God ’n nuwe volk skep.

Moenie hierby vergeet wat ons reeds weet oor Abram en sy vrou, naamlik dat hulle geen kinders kon kry nie (sien Genesis 11:30).

Tog belowe God dat Hy Abram tot ’n groot volk sal maak.

Ek sal jou naam groot maak.

Elke mens op aarde sal jou naam ken.

Jy sal beroemd word.

En die HERE sal Abram beskerm, waar hy ook gaan.

En selfs al die geslagte van die aarde sal deur hom geseën word!

 

As mens in ons teks lees: En in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word, dan is hierdie aan die een kant ’n belofte aan Abram, maar aan die ander kant is dit ook ’n opdrag.

As Abram gehoorsaam doen wat God hom opdra, as hy die pad stap wat God hom wys, dan sal daarop seën rus.

Soos die tema van die preek dit verwoord: Die HERE roep Abram en sy gesin na sy beloftes toe.

Dis net soos wat ons byvoorbeeld in die tweede gebod lees, waar die HERE sê:

Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

Eintlik staan daar: Diegene wat my gebooie onderhou, hulle sal Ek seën tot in die duisende geslag.

God se beloftes en ons gehoorsaamheid is nou aan mekaar gekoppel.

En so beloof God aan Abram enorme dinge, wat sal realiseer as hy gehoorsaam die pad stap wat God hom wys.

God wys die pad na sy beloftes, Hy roep ons om daardie pad te stap, en Hy maak dit moontlik vir ons om daardie pad te stap.

So roep Hy ons na sy beloftes toe, na die verwesenliking daarvan.

 

En dit bring ons by die vraag: Hoe is dit moontlik?

Wat kan Abram bied aan al die geslagte van die aarde?

Watter voorreg sal alle nasies geniet, te danke aan Abram?

Kom ons probeer die antwoord vind in die geskiedenis van Abram se lewe.

As ons na Abram se lewensloop kyk, sien mens iets in sy lewe wat hom ’n seën vir alle nasies gemaak het?

Het hy dalk iets besonders ontdek of uitgevind?

Het hy dalk iets groots, iets indrukwekkends, iets soos byvoorbeeld ’n piramide gebou, wat tot vandag nog staan?

Wat het hy gedoen?

As ons na die lewensloop van Abram kyk, kan mens eintlik niks besonders vind nie.

Hy het dus nie beroemd geword deur sy eie dade of prestasies nie.

Die rede hoekom hy beroemd geword het, is – kort gesê – omdat God in sy lewe gekom het.

Dit wat God in sy lewe gedoen het.

Dink byvoorbeeld daaraan dat God aan hom en Sara ’n kind geskenk het.

’n Wonderkind, omdat hulle van jongs af onvrugbaar was, en nou al so oud was.

 

Laat ek die vraag herhaal: Hoekom het Abram so beroemd geword?

Hoe word al die nasies van die aarde deur hom geseën?

Vir die antwoord moet ons nie na Abram se eie prestasies kyk nie.

Ons kan hoogstens kyk na sy gehoorsaamheid aan God.

Hy het die pad gestap wat God hom gewys het.

En hierdie gehoorsaamheid – dink aan die woorde van die 2e gebod – het God geseën tot in – by wyse van spreke – die duisendste geslag.

Sy nageslag het die Israeliete geword, die verbondsvolk van God.

Aan hulle het God sy Woord geopenbaar.

Hulle moes sy Woord na die nasies dra.

En uiteindelik, dit was dus  uit Abram se nageslag, is die Redder van die wêreld gebore: Jesus die Messias.

 

Nou het ons ’n antwoord op ons vraag.

Al die geslagte van die aarde sal geseën word deur Abram, want Abram was die voorvader van die Messias.

Maar weer eens, dit was nie Abram se prestasie nie.

Dit was genade van God.

Want Abram en Sara was onvrugbaar.

Abram was ook nie ’n geloofsheld nie.

God moes hom leer hoe om te vertrou.

Dit was die HERE wat hom so ver gebring het om sy land te verlaat en na ’n onbekende plek te trek.

Dit was die HERE wat hom veilig daar laat aankom het.

 

Vandag word elkeen wat die lewende God dien ’n kind van Abraham genoem.

God leer alle volke op aarde met die voorbeeld van Abraham hoe om op Hom alleen te vertrou.

Abraham was nie ’n geloofsheld nie.

Maar in Abraham se lewe sien ons die aanwesigheid van God se genade.

Uit sy lewe kan ons leer hoe om God besig te sien in ons eie lewe, en in ons gesinne se lewe.

God is betroubaar.

Wie Hy kies, laat Hy nie in die steek laat nie.

God het baie dinge aan Abram belowe.

In Jesus Christus sien ons hoe God al daardie beloftes vervul het.

 

Is jy ook ’n kind van Abram?

Dien jy en jou gesin die lewende God?

Hy roep vir jou ook om baie dinge agter jou te laat.

Hy beloof jou ’n beter lewe.

Volg Hom, stap die pad wat Hy jou wys.

Dan sal Hy jou en jou gesin ook tot ’n seën maak, ook vir komende geslagte.

Ons weet nie hoeveel geslagte daar nog op aarde gaan volg nie.

Een ding is wel duidelik: Die leefstyl van voorouers het ’n beduidende invloed op hulle kinders en kindskinders.

Dieselfde geld ook nog vandag.

Jou lewe persoonlik, maar ook ons lewe as kerk, as gemeente, het ’n direkte invloed op die nageslag.

Deur gehoorsaamheid, deur vertroue op ons Saligmaker in die hede, maak God die pad oop na die toekoms.

Ook vandag roep God julle na sy beloftes toe.

Is jy bereid om daardie pad te stap?

Is jy bereid om land, familie, ‘n verkeerde leefstyl, afgode agter jou te laat?

Is jy bereid om Hom alleen te vertrou?

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 122:1

Wet

Ps 34:7

Gebed

Skriflesing: Genesis 11:10-12:20

Ps 105:4,5,8

Teks: Genesis 12:1-3

Preek

Ps 105:23,24

Gebed

Kollekte

Ps 146:1-3,8

Seën