Genade vir die eerste gesin na die sondvloed

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-10-12
Teks: 
Genesis 8:22-9:1
Preek Inhoud: 

Preek: Genesis 8:22-9:1

 

Vandag hou ons Biddag vir Gewas en Arbeid.

Ons staan aan die begin van ‘n nuwe seisoen.

Die natuur om ons heen is uitbundig.

Dit het uitgebars in vele kleure.

Daar is nog water van die vorige seisoen in die grond.

Maar ons besef, vir hierdie seisoen om suksesvol te wees, sal daar weer reën nodig wees.

Al weet die mens baie oor die klimaat, besef ons dat die reën van God af kom.

Hy is in beheer van El Nino en La Nina, die oseaan se temperature, die windrigtings en noem maar op.

 

Waarna ons ook gaan kyk vandag, is die jaartema.

Ek het met laasweek se preek begin om spesifiek aandag te skenk aan die gesin as bousteen van die gemeente.

In ‘n paar preke kyk ons na ‘n paar gesinne uit die Bybel.

Ons het laasweek met die eerste gesin van die mensheid begin, Adam en Eva.

Soos ons gehoor het, die eerste gesin wat uit genade mog lewe.

Vandag kyk ons na nog ‘n gesin, die van Noag en sy vrou.

Waar elke mens op aarde van Adam en Eva afstam, stam elke mens op aarde vir die helfte van Noag en sy vrou af.

Vir die ander helfte stam ons af van een van Noag se seuns met hulle vroue.

Toe God die aarde met die sondvloed tref, het Hy uit genade een gesin gered, agt mense.

Na die sondvloed het Hy hulle ‘n nuwe toekoms op aarde gegee, met ‘n pragtige belofte.

‘n Belofte wat alles te make het met Biddag vir Gewas en Arbeid.

 

Tema: Genade vir die eerste gesin na die sondvloed

  • Die HERE se belofte aan die skepping
  • Die HERE se seën vir Noag en sy gesin

 

  • Die HERE se belofte aan die skepping

Kom ons begin by die situasie voor die sondvloed.

Ons fokus daarby slegs op die wat in die Bybel staan.

Ek weet daar is teorieë, hipoteses, oor hoe die klimaat voor die sondvloed was.

Byvoorbeeld dat daar ‘n baie dikker beskermende atmosfeer van water bo die aarde was, wat toe met die sondvloed neergekom het.

Ons lees egter nie daaroor in die Bybel nie.

Die Bybel is nie ‘n natuurwetenskaplike of weerkudige handboek nie.

Die Bybel gaan oor die mens se verhouding tot sy God, oor God se genade, deur die eeue, teenoor ‘n opstandige mensheid.

Dit is dan ook die hoofonderwerp in die geskiedenis van die sondvloed:

die opstandige mensheid en God se reaksie daarop.

Hierdie geskiedenis begin in hoofstuk 6 met die mededeling dat die gelowiges – die seuns van God soos dit daar genoem word – vir hulle die dogters van die ongelowiges geneem het.

Die eerste hoofstukke in Genesis vertel oor die groot skeidslyn wat daar in die mensheid ontwikkel het.

Die vrouesaad en die slangesaad, in terme van Genesis 3.

Die geestelike nageslag van Kain, en die van Abel en Set.

Aan die een kant van die skeidslyn het mense vir hulleself gelewe, hulle eie pad gekies.

Dink aan Lameg, wat God se gebooie uitgedaag het, deur openlik te verklaar hy sal mense sal doodslaan, en wat vir homself twee vroue geneem en daardeur God se instelling van die huwelik tussen een man en een vrou geminag het.

Maar aan die ander kant van die skeidslyn was daar hulle wat die HERE aangeroep het, soos Set en sy geestelike nageslag, en soos Henog, wat met God gewandel het (Gen 5:24).

 

Maar die skokkende waarmee hoofstuk 6 begin, is die konstatering dat die skeidslyn al hoe meer opgehef is, juis omdat die gelowiges, die seuns van God, afvallig geword het.

Die houding van Lameg het al hoe meer die oorhand gekry.

Daar was die reuse, mens kan ook vertaal, onbeskofte mense.

Al die versinsels wat hulle hart bedink het, was deur en deur net sleg (Gen 6:4-5).

 

Dit het God daartoe gebring om ‘n drastiese besluit te neem, omdat daar smart in sy hart was.

Hy het besluit om die mens van die aarde te verdelg.

Inderdaad ‘n ongelooflik drastiese besluit.

Tog is God se genade in hierdie geskiedenis nie afwesig nie, sy genade teenoor alle mense.

Want Hy besluit om hulle nog 120 jaar te gee.

Genadetyd waarin die mensheid hulleself kon bekeer.

‘n Tyd waarin Noag die geweldige groot ark gebou het.

‘n Getuienis aan die wêreld, ‘n waarskuwing dat iets groots op koms is.

Tog het die sondige mensheid vir Noag uitgelag.

Hulle het nie belanggestel om na God te luister nie.

Hulle het sy waarskuwing in die wind geslaan.

 

En so het die dag, ons sou vandag sê Day Zero, aangebreek.

Die dag waarop die sluise van die hemel oopgemaak is.

Dit het 40 dae en 40 nagte gestortreën.

Riviere wat oor hulle walle breek, die seevlak wat styg, dit is nagmêrries wat die mensheid vandag nog steeds besighou.

Daar word deesdae gebeurlikheidsplanne gemaak vir sulke doemscenario’s.

Maar hierdie meer as ‘n maand lange weerstelsel wat bo die aarde gehang het, die mensheid was daarteen nie opgewasse nie.

Al wie oorleef het, was die handjievol mense wat wel na die HERE geluister het.

 

Tussen hakies, oor die 120 jaar, wat die HERE hier noem, is daar al baie gedebatteer, wat daarmee bedoel word.

Soos u gehoor het, lê ek dit uit as ‘n genadeperiode van meer as ‘n eeu wat die HERE nog vir die mensheid van die voor die sondvloed gegee het.

Ander lê dit uit as ‘n aanduiding dat die mense voortaan nie meer so oud sou word nie.

Nou is dit ‘n feit dat die mensheid al hoe minder oud begin word het, dat hulle lewensverwagting al hoe minder was.

Tog het dit nie direk gebeur nie.

Lees mens die Bybel, is dit duidelik dat die ‘n stadige proses was wat eeue geduur het.

Eers kon die mense amper 1000 jaar oud word.

Noag het nog 950 jaar oud geword.

Maar na die sondvloed word dit stadig minder.

Sem het 600 jaar geleef (Genesis 11).

Selag 533 jaar.

Heber 464.

En so het dit stelselmatig minder geword.

Abraham het 175 jaar oud geword, Isak 180, Jakbo 147.

Natuurlik is dit ook onderdeel van die straf van die HERE.

Die mens is geskape om ewig te kan lewe.

’n Lang lewe is ’n seën, maar die mens het sterflik geword.

Daar is mense wat – met die hedendaagse kennis van genetika – die afname in lewensverwagting verklaar deur die toename in genetiese foute.

Dit is skynbaar ’n onomkeerbare proses.

Elke nuwe generasie op aarde se gene het meer foute as die vorige generasie.

Ook is gewys op die feit dat die ryk genetiese samestelling waarmee Adam en Eva geskape is, met die sondvloed drasties afgeneem het.

Na die sondvloed was daar slegs vyf mense se gene oor, Noag, sy vrou, en sy seuns se drie vroue.

’n Dramatiese reduksie dus in genetiese gevarieerdheid.

 

So het die sondvloed ongekende en permanente veranderinge gebring, vir die mensheid, vir die diereryk, vir die hele natuur.

Die aarde sou nooit weer dieselfde wees nie.

Maar in sy genade het God tog besluit om voort te gaan.

Noag en sy familie mog weer uit die ark gaan, saam met die diere.

Die straf was verby, die HERE kyk weer vorentoe.

Hy beloof: Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.

Soos Jeremia dit so mooi verwoord: Die HERE het ’n verbond met die dag en nag gesluit (Jer 33:20,25).

Van sy kant is die HERE trou, Hy verbreek nie sy verbond nie.

Daarop kan ons as mensheid vertrou.

Daar is dag en nag, saaityd en oestyd, some en winter, en dit nie as gevolg van die natuurwette nie.

Die natuurwette is daar as gevolg van hierdie verbond van God!

Net soos die HERE se wet aan sy kinders daar is as gevolg van die verbond wat Hy met hulle gesluit het.

As Hy iets beloof, is Hy trou.

 

Aan die begin van ’n nuwe seisoen mag ons weer stilstaan by hierdie verbond.

Eie aan die mens is om te twyfel, kleingelowig te wees.

Altyd te wonder of die komende seisoen suksesvol gaan wees.

Maar as ons vir ’n oomblik terugkyk, dan sien ons die betroubaarheid van hierdie verbond.

Wat die HERE aan Noag en sy familie beloof het, daardie belofte het Hy gehou, tot vandag toe.

Daarom – al ken ons nie die dag van môre nie – kan ons met vertroue die nuwe seisoen ingaan.

Die HERE sal gee, op sy tyd – die tyd in sy verbond bepaal.

En as Hy beproef deur tye van droogte te gee, sal Hy ons nie bo ons vermoë beproef nie.

Glo jy dit?

Vertrou jy daarop?

Die HERE beloof nie dat elke boer op aarde skatryk sal word nie.

Net so min elke mens wat in die stad woon.

Maar die HERE sal sorg, daarop kan ons vertrou.

“[G]ee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel ... nie.” (Spr 30:8-9)

Wat sal rykdom my baat, as dit my ongelukkig gaan maak?

Christus leer ons om elke dag vir ons daaglikse brood te bid.

 

Broer, suster, as jy hierdie seisoen weer die reënboog sien, dink terug aan God se verbond.

Sy nuwe verbond, om van die aarde na die sondvloed weer ‘n bewoonbare plek vir die mensheid te maak, ‘n plek waar hulle sal kan oorleef en selfs sal kan floreer.

En dit danksy sy planne vir die toekoms.

Want toe het Hy al vooruitgedink aan die Middelaarswerk van sy Seun.

Geweet dat deur sy Seun alle dinge weer met Homself sou versoen.

En dit was genoeg rede om toe die wêreldgeskiedenis voort te sit.

Om aan sy skepping te beloof dat Hy die aarde nie weer sal vervloek as gevolg van die mens se sondigheid nie.

Daar is ‘n nuwe toekoms vir die skepping, dis sy belofte.

‘n Belofte wat vasstaan, danksy Christus se Middelaarswerk.

Hieraan dink ons, op Biddag vir gewas en arbeid.

Hieraan mag ons die HERE ook herinner.

Wil U, ter wille van u Seun se middelaarswerk, trou bly aan u verbond met die skepping, sodat die aarde ‘n bewoonbare plek sal bly, sodat u kerk kan groei en bloei.

 

(Tema: Genade vir die eerste gesin na die sondvloed

  • Die HERE se belofte aan die skepping)

 

  • Die HERE se seën vir Noag en sy gesin

 

Kom ons fokus nou ook ‘n bietjie op Noag se gesin.

Na die sondvloed ontvang hulle die HERE se seën.

Hulle mag, hulle moet vrugbaar wees, vermeerder, die aarde vul.

God beloof aan hulle genoeg voedsel, plante en diere.

God stel ‘n seker toekoms vir hulle in die vooruitsig.

Daar sal nie weer ‘n vloed kom nie.

Hulle kan met vertroue die hand aan die ploeg slaan.

 

En so begin die post-sondvloed geskiedenis.

Noag word ‘n landbouer (Gen 9:20).

God hou sy belofte, en die aarde gee sy opbrengs, selfs oorvloedig.

Maar sommer al spoedig na die sondvloed blyk dat oorvloed, dat rykdom nie altyd ‘n seën is nie.

Soos die spreekwoord sê, dis net sterk bene wat rykdom kan dra.

Noag se bene was nie sterk genoeg nie.

Skynbaar was die druiwe-oes oorvloedig.

Hy het te veel gedrink.

En al spoedig blyk dat die sondigheid nie in die vloed saam verdrink het nie.

En dit is die situasie waarmee elke kind tot vandag toe nog te make kry as hy gebore word.

Hy gaan opgroei in ‘n sondige gesin.

En soos wat jy as kind ouer word, sien jy al hoe meer die sondigheid van jou ouers raak.

Sem, Gam en Jafet word gekonfronteer met die feit dat hulle pa dronk is.

Ook vandag sien kinders dat hulle ouers ‘n verslawing kan hê, van watter aard ook.

En elke kind moet leer, uiteindelik moet my lewenskompas nie afgestel wees op wat my ouers doen nie, maar op wat my hemelse Vader van my verwag.

Dis ‘n leerskool, dis nie altyd maklik nie.

En hoe reageer jy as kind op die sondigheid van jou ouers?

In Noag se gesin sien ons verskillende reaksies.

Sem en Jafet is baie verleë met die situasie, en het die naaktheid van hulle dronk pa bedek, terwyl hulle agterstevoor geloop het.

Gam se reaksie was anders.

Hy was die eerste wat op sy pa afgekom het.

Dus die feit dat hy sy pa so gesien het, was op sig nie sondig nie, dit het hom onverwags oorkom.

Of hy gelag en sy pa gespot het, dit staan nie in die Bybel nie.

Wel dat hy vir sy broers gaan vertel het.

Mens sou daaruit kon aflei dat hy gesondig het, omdat hy geskinder het.

Pleks daarvan dat hy gedoen het wat sy broers gedoen het.

 

In elk geval vervloek Noag vir Gam se nageslag toe hy wakker word.

Moontlik was hy kort van humeur toe hy wakker word, ons sou vandag sê ‘n ‘hang over’.

 

Maar gemeente, wat uit hierdie geskiedenis duidelik word, is dat hierdie ‘n sondige gesin was.

Ek het in laasweek se preek al genoem dat ons nie modelgesinne in die Bybel vind nie.

God se Woord is baie eerlik, dit steek nie dinge weg nie, dit hemel mense nie op nie.

Dit gaan eerder oor sy genade in gebroke gesinne.

Hy gaan voort met die sondige mensheid.

Al begin die skeidslyn weer te wys tussen hulle wat die HERE wil dien en wie hulle eie koers kies, feit is dat elke mens ook na die sondvloed sondig gebly het.

Dit sou uitloop op die toringbou van Babel, aan die een kant (Gen 11), en die roeping van Abram aan die ander kant (Gen 12).

Tog gebruik God sondige mense, en sondige gesinne.

 

Die gesin is bousteen van die kerk, dit is ons jaartema.

Maar dit wil nie sê dat ons gesinne modelgesinne is nie.

Om ‘n lewende steen te wees, hou in dat jou gesin bou op Christus, die Hoeksteen (1 Pet 2).

Laat ons elke keer weer terugkeer na Hom, dan sal die sonde nie die oorhand kry in ons gesinne nie.

Vaders, pa’s, as jy jou gesin elke Sondag kerk toe vat, dan begin julle die week weer met ‘n skoon bladsy.

Uit genade lewe, dit is wat ons gesinne gesond en lewendig hou.

 

Pa’s en ma’s, stry teen julle eie sondes.

Ongelukkig sal ons as ouers soms vir ons kinders moet sê: Doen dit wat ons sê, nie dit wat ons doen nie.

Gee die regte leiding aan jou gesin, deur die regte pad te wys, en deur self ook uit vergewing te lewe, self ook jou sondes te bely.

En kinders, eerbiedig die gesag van julle ouers, want God het hulle oor julle aangestel.

Soms moet julle geduldig wees met hulle sondes, swakpunte, gebreke.

Eendag gaan jou kinders dit ook met jou moet hê.

Volg almal saam die Leidsman en Voleinder van die geloof, ons Here Jesus Christus.

 

Dis danksy Hom dat die geskiedenis van die mensheid nog voortduur.

Dis danksy sy middelaarswerk dat God nog verder gaan met hierdie aarde.

Danksy Hom skenk Hy nou weer ‘n nuwe seisoen.

Danksy Hom mag jongmense ‘n gesin stig.

En vir hulle wat vir Hom wil dien, en volgens sy wil lewe, Christus volg, vir hulle gee God steeds die opdrag wat Hy destyds aan Noag en sy seuns gegee het:

“Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” (Gen 9:1)

Dis ‘n voorreg, nie ‘n reg nie.

Om kinders te kry, dis nie ‘n mensereg vir elke mens op aarde wat nie vir die Skepper van die nuwe lewe wil dien nie.

Dis ‘n voorreg om op sy aarde te mag leef, kinders te kry, as gesin ‘n lewende steen in sy kerk te mag wees.

Met daardie doel gee Hy die kinderseën.

So mag jou gesin ‘n teken van hoop wees, omdat die Heilige Gees daarin werk, dieselfde Gees wat besig is om die aarde te vernuwe.

Laat julle lewe ‘n dankbaarheidsoffer wees, ‘n lieflike geur, net soos Noag se dankoffer wat kort na die sondvloed opgestyg het.

 

Gemeente, daar is vandag nog net soveel sondigheid op aarde, meer as genoeg vir God om weer te besluit tot ‘n sondvloed.

Ook vandag is daar meer as genoeg rede vir God om smart in sy hart te hê (Gen 6:6).

Maar Christus neem die smart in sy hart weg, Christus neem sy toorn weg.

Vir tyd en wyle altans, totdat die volheid van hulle gered is aan wie Hy genade wil bewys.

Dan kom die groot oordeel, waar alles nie in water maar in vuur sal vergaan (2 Pet 3:7,12).

Maar wie betyds die ark ingegaan het, die ark van die Nuwe Testament, dis die kerk van Christus, sal die oordeel vryspring.

Hierdie nuwe ark is bestand teen die oordeelsvuur, en sal anderkant uitkom, op ‘n herskape nuwe aarde, waar daar geen sonde meer sal wees nie.

‘n Heerlike vooruitsig!

Die water van die sondvloed kon al die sonde op aarde nie wegwas nie.

Die vuur van die eindoordeel sal dit wel regkry, soos goud wat gesmelt, gelouter, word (1 Pet 1:7).

Broers en susters, die deure van hierdie ark staan nou nog oop.

Kom in, jy en jou gesin.

En bly binne!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 147:1,3

Wet

Ps 103:9

Gebed

Skriflesing: Genesis 6:1-18

Ps 111:3

Skriflesing: Genesis 8:15-9:29

Ps 111:5

Teks: Genesis 8:22-9:1

Preek

Ps 84:3-5

Gebed

Kollekte

Ps 72:3,11

Seën