Preek: Psalm 33
Vir mense wat in die kerk opgegroei het, is dit ‘n bekende psalm.
Of op die Geneefse melodie, of op die sogenaamde Voortrekkerwysie.
Nie dat die Voortrekkers hierdie wysie gesing het nie, dit kom eers uit die 20ste eeu.
Ook het hulle nie die beryming geken wat ons sing nie.
Ons sing die Totiusberyming, ook uit die 20ste eeu.
“Sing vrolik, hef die stem na bowe ... “
“by die smeltend skone harp en sitertone, liefd’ en lof verklank!”
“Goedertieren Vader, hoor ons as ons nader ...”
Alles bekende woorde.
Woorde wat teruggaan op ‘n lied wat duisende jare oud is.
Kom ons delf vandag in hierdie bekende Psalm, om ou en nuwe skatte daarin te ontdek.
Tema: Loof die HERE oor en oor met ‘n blye hart!
Psalm 33 vorm deel van ‘n klein bundel binne die Psalmboek, Psalms 33-36, wat almal lof- en dankliedere is.
Hierdie spesifieke Psalm begin met ‘n herhaling van oproepe om die HERE te loof.
‘n Loflied betaam die regverdiges, wie opreg is.
In die digkuns van daardie tyd was herhaling baie normaal.
Dieselfde saak is oor en oor gesê, telkens met nuwe woorde.
Dit word parallelisme genoem.
Sinne wat parallel aan mekaar loop, wat dieselfde gedagte oorbring maar in verskillende woorde.
So is ‘n ryk en pragtige geskakeerde gedig gevorm.
Dit was die manier van digkuns in daardie tyd.
Die digter beskryf ook die instrumente wat gebruik moes word by sy lied:
‘n Loflied wat begelei word met ‘n instrument soos ‘n siter.
‘n Siter was snaarinstrument, iets soos ‘n kitaar of banjo.
En ‘n tiensnarige harp – dit was waarskynlik ‘n baie duur harp.
Ook met trompet.
Letterlik staan hier: geskal.
Geskal kan dui op ‘n blaasinstrument, soos ‘n trompet.
Dit kan ook dui op iemand wat uit volle bors sing.
In elk geval ‘n groot geskal!
‘n Opregte behoort ‘n nuwe lied te sing, om daarmee die HERE te eer.
En so is Psalm 33 ‘n nuwe lied.
Nie nuut omdat daarin soveel nuwe inligting oor God staan, wat nie in die ander Psalms voorkom nie.
Nuut is hier meer subjektief.
Dit bedoel: nuutgemaak, opnuut gedig, deur ‘n nuwe digter.
Gelowiges word opgeroep om nuwe liedere te maak, nuwe liedere te sing!
Die bekende heilsfeite gegiet in ‘n nuwe spesiale digterlike vorm, en op ‘n nuwe melodie!
So gebruik die digter die talente wat hy ontvang het om vir die HERE ‘n nuwe lied te sing.
Wie van julle het talente ontvang om musiek te maak, of om musiek te skryf, of om gedigte te skryf?
Moenie daardie talent in die grond begrawe nie!
Want die Here troon op die lofsange van sy kinders.
Nie net ou bekende versies nie.
Maar ook nuutskeppings, wat die heilsfeite opnuut laat skitter.
Vers 4 gee dan die rede hoekom ‘n nuwe lied gepas is.
Dit gee die motivering hoekom ons kan jubel in die HERE.
Want, staan daar, die Woord van die HERE is reg.
Hy het die reg lief.
Die aarde is vol van sy goedertierenheid.
Die Hebreeuse woord wat vertaal is met goedertierenheid, kan ook vertaal word met verbondstrou, of bestendige liefde.
In Afrikaans is goedertierenheid eintlik ‘n intensiewe vorm, dis die oortreffende trap van goedheid.
Die 2020-Vertaling vertaal: troue liefde.
Dis meer as net liefde in die algemeen.
Dis liefde wat trou is, bestendig, betroubaar.
Nou is hierdie lofsang nie net op die HERE nie, maar ook op sy Woord.
Deur sy Woord is die hemel gemaak, son maan en sterre.
Deur sy Woord is die see gemaak, al die wêreldvloede, alle waters bo in die lug.
En die waters op aarde, dink aan riviere en damme.
En die waters onder die grond, dink aan fonteine.
En die waters in die groot oseane.
Dit herinner aan Genesis 1, die skeppingsgeskiedenis.
Slegs deur ‘n woord te spreek het al hierdie dinge ontstaan.
Sy woord is skeppingskragtig!
Vers 6: Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak; deur die Gees van sy mond hulle hele leër.
Weer ‘n mooi voorbeeld van poëtiese herhaling – of parallelisme soos dit genoem word.
Woord van die HERE; en Gees van sy mond – dieselfde word bedoel, maar telkens in ander beskrywende woorde.
Die digter noem die skeppingsfeite, met as oproep: Laat die hele aarde dus vir die HERE vrees.
Want Hy was dit wat maar net ‘n woord gespreek het, en toe het hulle ontstaan.
So spreek hierdie Psalm oor die HERE se skeppingswoorde, soos dit kortliks in die Bybel opgeteken staan.
Maar ook sy onderhouding van alles.
Alles hou stand, alles bly op hulle plek, alles groei en bloei op sy Woord.
Hierdie is inderdaad ‘n loflied op die almag van God.
Sy almag, so gaan die digter verder, bevat ook ‘n waarskuwing vir alle volke en nasies.
Net soos die HERE ‘n plek vir die waters geskape het, en daardeur hulle woeste kragte bedwing het, so hou Hy die nasies ook in toom.
Want, as water uit sy grense breek, dan veroorsaak dit dood en verwoesting.
Dink aan ‘n tsunami, dink aan ‘n damwal wat breek, dink aan ‘n rivier wat buite sy oewers tree.
Maar gelukkig vind sulke rampe nie daagliks plaas nie.
Die daaglikse werklikheid is dat God die aarde so geskape het, dat die waters in toom gehou kan word.
Die see bly op sy plek.
Riviere en mere bly op hulle plek.
En net so, volgens die digter, hou die HERE ook die mensdom in toom.
Die HERE is so almagtig, Hy kan die nasies se raad, planne en gedagtes, vernietig.
En dis net sy raad, net sy planne, wat vir ewig sal bestaan.
Israel het geweet dis waar.
Hulle hoef maar net na hulle eie geskiedenis te gekyk het.
Hoe die HERE volke, ja wêreldmagte, laat opkom het, laat blink maar ook weer laat versink het.
Dit alles in die belang van sy kinders!
Dieselfde geld vandag.
Al kan ons soms angstig wees.
Soms is daar stabiliteit, as een grootmag dominant is, of as wêreldmagte in balans is.
Soms word die balans versteur, dan kom daar onseker tye, dalk tye van oorlog.
Ons hoef maar net om ons heen te kyk, of die daaglikse nuus oopmaak op ons fone, die radio of televisie aansit, om dit te sien en hoor.
Volke en nasies woel.
Konings, keisers en presidente wedywer vir mag.
Maar hierdie Psalm roep almal op:
“Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees.” (vers 8)
Ryk en arm, groot en klein, belangrik en onbelangrik, onthou:
God sit op sy troon.
Sy raad bestaan vir ewig (vers 11).
Sy werk oorspan generasies, van geslag tot geslag.
Hy is ewig, maar mense en hulle koninkryke is net kortstondig op aarde.
Ja, Hy vernietig die raad van die nasies (vers 10).
En dan volg ‘n dankbare opmerking:
Welgeluksalig is daardie nasie, daardie volk, wie se God die HERE is.
HERE, hier gespel met vier hoofletters, verwys na die verbondsnaam, in Hebreeus Jahweh.
Die digter (ons ken nie sy naam nie) oordink die onverklaarbare maar so wonderlike feit dat hierdie God juis sy volk uitgekies het.
Dat hulle ‘n spesiale posisie by Hom mag inneem, terwyl Hy tog die God van die hele aarde is.
Die feit dat juis hulle so gelukkig is, is nie te danke aan die feit dat hulle vir God gekies het nie.
Dis nie wat die Psalm sê nie.
Maar, hulle is so gelukkig en bevoorreg omdat God om onverklaarbare redes vir hulle gekies het; hulle ‘n plek in sy verbond gegee het.
Broers en susters, die feit dat julle vanoggend hier in die kerk sit, is ‘n bewys dat God ook vir julle gekies het – om redes wat vir ons onverklaarbaar is.
Die feit dat Nina-Louise vandag hier is, en gedoop is, is ook ‘n bewys dat die HERE vir haar gekies het.
Want niemand van ons het genoeg meriete om dit te regverdig nie.
Tog mag ons nou in sy huis wees en na sy Woord luister.
Sy Woord spreek direk tot ons.
Dat die HERE vir sy volk gekies het, is verbondstaal.
Soos vers 12 sê – Hy het hulle as sy erfdeel uitgekies.
Hier word nie bedoel die uitverkiesing tot die ewige lewe nie.
Die bedoeling is dat die verkiesing tot sy erfdeel, verkiesing om verbondslid te mag wees, dat dit sal lei tot die beërwing van die ewige lewe.
Binne die verbond klink sy oproep om sy verlossing dankbaar in ontvangs te neem, by Hom te bly skuil.
Mense in sy verbond mag op sy spesiale sorg reken.
Hulle is die regverdiges, wat in vers 1 opgeroep word om die HERE te loof.
Regverdig nie uit hulleself nie, want hulle verwag alles net van Hom.
Regverdig, soos ons as Nuwe Testamentiese kerk so goed weet, slegs danksy Christus se werk.
Hulle vrees Hom, hulle wag op sy goedertierenheid (vers 18).
Nina-Louise is ook deur God gekies om ‘n verbondskind te mag wees.
In die verbond mag sy in die toekoms opgroei, en leer om ook haar uitverkiesing tot die ewige lewe vas te maak.
Die HERE begin met sy belofte.
En soos wat sy opgroei en God se gawes en geskenke geniet wat vandag by die doop beloof is, gaan die HERE haar oproep om ook van haar kant die verbondseis na te kom.
Wat ‘n voorreg om in die verbond ‘n plek te kry!
Maar ook: wat ‘n verantwoordelikheid vir die wat in die verbond opgroei en volwasse word!
Kom ons gaan verder met die Psalm.
Vers 13: God kyk van die hemel af, Hy sien al die mensekinders.
Hy aanskou al die bewoners van die aarde.
Hy het elke mens se hart geformeer, geskape, dus Hy weet ook wat in elkeen se hart aangaan!
Hy ken die diepste gedagtes.
Hy sien almal.
Hy beheer die aarde.
Dus, sê die digter, is dit nie so dat ‘n koning wen omdat hy ‘n groot leër het nie.
‘n Held wen ook nie omdat hy so baie krag het nie.
‘n Groot perd help ook nie om die stryd te wen nie.
Nee, uiteindelik besluit die HERE wie gaan wen.
Soos die digter so pragtig sê: Die oog van die HERE is op wie Hom vrees.
Hulle is sy oogappel.
Daarom sal Hy hulle siel red van die dood.
Hy sal hulle aan die lewe hou in tyd van hongersnood.
En dan sluit die digter sy Psalm af met ‘n geloofsbelydenis:
Ons siel wag op die HERE.
Ons verwag alles van Hom.
Hy is ons hulp en skild.
Ons vertrou op sy heilige Naam.
En dan eindig die Psalm met ‘n bede: Laat u goedertierenheid – weer eens die mees intensiewe vorm van goedheid – laat dit oor ons wees, asseblief HERE!
Gemeente, wat so mooi is in hierdie Psalm, is dat die verheerliking van God en die voorspoed van sy kinders in mekaar se verlengde lê.
As sy kinders sy Naam verheerlik, dan maak dit hulle gelukkig en voorspoedig.
Dis soos die skepping werk.
Julle, broers en susters, is ook deel van God se skepping, julle daaglikse lewe.
As die diens aan die Here, die verheerliking van Hom, op nommer 1 staan in julle lewe, sal julle lewe suksesvol wees.
Baie mense dink eers aan hulleself, en as hulle nog bietjie tyd oor het, sal hulle dit vir godsdiens afknyp.
Maar so ‘n lewe raak ongelukkig, wie eerstens vir homself lewe, raak hoe langer hoe meer ontevrede.
Wie sy Skepper egter op nommer 1 plaas, ervaar as skepsel dat hy blom en floreer, selfs in tye van teëspoed.
Ja die Skepper sal sy lewe dan voorspoedig en gelukkig maak.
Broers en susters, julle is gelukkig en bevoorreg.
En soos hierdie Psalm leer, nie omdat julle vir die HERE kies nie.
Maar, as julle eerlik is, sal julle in julle lewe raaksien dat die HERE alreeds vir julle gekies het.
En dit was sy voorsienige leiding dat jy nou hier in die kerk sit, of dit vir die eerste keer is, of vir die soveelste keer.
Dit was sy werk in julle verlede waardeur julle leer glo het, en nog steeds leer glo.
Laat daardie ou bekende woorde uit Totius se beryming die steunpilaar van jou lewe wees:
“In God, die God wat ons beveilig, voel nou ons hart opnuut verblyd;
en op sy Naam ontsaglik heilig, vertrou ons tot in ewigheid.”
Hy is julle hulp.
Hy is julle skild.
Ook in daardie dae as daar siekte kom, of beproewings, of versoekings.
Daar was baie mense in Israel, en vandag is daar ook baie kerkmense, wie se lewe wegdwaal van die regte paaie, die oomblik as die realiteit van die lewe inskop – of dit nou sukses is of dalk teenslae.
Maar as die HERE jou hulp en jou skild is (vers 20), sal jou geloof standhou.
Sy Naam, ons Here Jesus Christus se Naam wat vir jou sondes gesterf het en wie se Gees die geloof in jou werk, sal jou geloof beskerm.
Wag op die HERE, sê vers 20.
Dit beteken: Verwag dit van Hom.
Verwag ‘n suksesvolle lewe, verwag ‘n vervulde lewe van Hom.
Moenie dit van enigiets of enigiemand anders verwag nie.
Moenie dit van rykdom verwag, of gewildheid, of aansien in hierdie wêreld nie.
Definieer suksesvol in terme van hoe Christus dit sien.
Dis net die HERE wat jou verwagtings kan waarmaak, en Hy doen dit soos Hy wil.
Laat julle lewe deur gebed gedra word.
Laat julle lewe vol lofliedere wees, oues en nuwes.
Laat julle lewe gelukkig wees, omdat jy op sy ontsaglik heilige Naam vertrou.
Laat sy goedertierenheid jou lewe vul.
Sy goedertierenheid was al daar, nog voordat jy dit besef het.
Anders sou jy nie nou hier in die kerk gesit het nie.
Kerkmense is dikwels so gewoond aan goeie dinge, dat dit nie meer spesiaal voel nie.
Maar soms skud die HERE ons wakker, dat ons besef hoe spesiaal dit is om ‘n gewone lewe in die verbond te mag geniet.
Broer, suster, wag jou siel op die HERE?
Is jou hart bly in Hom?
Vertrou jy op sy heilige Naam?
Vertrou Hom, dat Hy sal verder gaan met sy werk in julle lewens!
Julle kry sy seën vandag hier in die kerk.
Hy skenk julle sy genade.
Die genade van die Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees (2 Kor 13:13).
Ja genade op genade.
Ja goedheid op goedheid, dubbele, trippel, veelvoudige goedheid – inderdaad – goedertierenheid.
‘n Loflied betaam die regverdiges, wie opreg is.
Genoeg rede vir die herhaalde oproep om die HERE te loof met ‘n blye hart.
Amen.
Votum
Seën
Ps 33:1,2
Wet
Ps 33:3,5
Gebed
Doopsformulier
Doop: Nina-Louise de Vente
Oproep aan gemeente
Ps 40:5
Dankgebed
Skriflesing: Psalm 33
Ps 100:1-4 (1 almal, 2 vroue, 3 mans, 4 almal)
Teks: Psalm 33
Preek
Ps 33:6,8,11
Gebed
Kollekte
Ps 104:1,20,21
Seën