Met Christus se Woord die toekoms in

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-08-31
Teks: 
Daniël 12:4-13
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 12:4-13

 

Ons het nou aan die einde gekom van die groot visioen waarmee die boek Daniël eindig.

Hoofstuk 12 begin met die beslissende wending.

Anitochus Epifanes sterf.

Hy wat God se tempel ontheilig het, sterf nou aan ‘n ongeneeslike siekte.

En dit terwyl hy en sy leër hulle in Israel bevind.

Hy het sy magtige leër rondom hom, maar hulle kan niks vir hom doen nie.

Simbolies laat God hom sterf in die land wat hy so gekwel het.

 

En, soos ek al in eerdere preke genoem het, agter elke sigbare oorlog op aarde is daar ‘n onsigbare stryd wat plaasvind.

Uiteindelik is ons worstelstryd teen die bose geeste in die lug (Ef 6:12).

En Migael, die vors, staan God se volk by.

Hy sal sorg dat die volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.

En dan skakel hierdie profesie, wat handel oor Antiochus se ondergang, oor na ‘n hoër rat.

Dit gaan oor meer as net dit.

Ineens is daar ‘n vergesig tot in die laaste dae, vers 2:

“Baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak.” (Dan 12:2)

En die wie se name in die boek van die lewe staan, sal skyn soos die sterre vir ewig en altyd (Dan 12:3).

So eindig die visioen wat Daniël ontvang het, terwyl hy in Babel aan die oewer van die Hiddekelrivier was.

‘n Visioen wat ‘n Man aan hom geopenbaar het, en ons het in ‘n eerdere preek gesien dat hierdie Man Christus self was.

 

Ons teks vir vandag bevat opdragte oor wat Daniël met hierdie visioen moet doen.

Dit vertel ook iets oor hoe lank die vervulling nog gaan duur.

En dit eindig dan met ‘n woord van vertroosting spesifiek vir Daniël.

 

Tema: Met Christus se Woord die toekoms in

1 Bemoediging

2 Opdrag

 

1 Bemoediging

In ons teks is daar twee vrae wat gevra word.

Die eerste een deur iemand wat aan die kant van die rivier staan.

Die tweede vraag deur Daniël self.

En elke keer word die vraag geantwoord deur die Man wat bo-oor die water van die rivier was, met linne bekleed.

 

Kom ons begin met die laaste Persoon, wat die vrae beantwoord.

Wie Hy was, is duidelik in die konteks van die visioen.

Want die visioen is aan Daniël gegee deur ‘n Man met linne bekleed (sien Dan 10:5).

Vers 6 in ons teks verwys dus kortliks terug na die uitgebreide beskrywing van hierdie Man in hoofstuk 10.

Dis nie ‘n gewone mens nie.

Hy staan nie soos die ander aan die kant van die rivier nie.

Hy was bo-oor die water van die rivier, lees ons in die teks.

In ‘n eerdere preek het ons gesien dat hierdie Man Jesus Christus is.

Hy het aan Daniël verskyn om aan Hom ‘n visioen te gee, ‘n visioen wat sy volk moes lei en vertroos in die eeue wat sou volg.

 

Nou die eerste vraag aan Hom word gevra deur ‘n man wat aan die kant van die rivier staan.

Daniël het twee gesien, een duskant op die wal en die ander oorkant op die wal.

Hulle word verder nie beskryf nie.

Baie uitleggers neem aan dit was engele.

En die een vra dus ‘n vraag.

‘n Vraag wat waarskynlik ook op Daniël se lippe was:

“Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?” (vers 6)

 

Vervolgens antwoord Christus.

Maar dis nie sommer net ‘n antwoord nie

Ons lees dat Hy eers sy regter- en linkerhand opsteek na die hemel en ‘n eed sweer by die Ewig Lewende.

In kort: Christus sweer by sy Vader.

Wat Hy gaan sê is dus geweldig belangrik, en dis niks anders nie as net die waarheid.

En dan kom die antwoord:

“’n Tyd, tye en ‘n halwe tyd.”

 

Mens kan verstaan dat hierdie antwoord Daniël eerder nog meer laat wonder het.

Wat word daarmee bedoel?

Vers 8: Ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie.

Dus vra hy nou self: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?

 

En dan antwoord die Man direk vir Daniël.

En daardie antwoord bestaan uit basies twee dele.

Eerstens ontvang Daniël nie ‘n antwoord nie – hy word as ‘t ware weggestuur (ons kom later hierby terug).

Maar tweedens kom daar dan wel ‘n antwoord.

Ons lees byvoorbeeld die getal 1290 dae.

Ons kan dit as ‘n nadere invulling sien van die antwoord ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd.

1290 dae is naamlik drie en ‘n halwe jaar.

Drie en ‘n halwe jaar bestaan uit twee jaar, een jaar, plus ‘n halwe jaar.

Dis simbolies vir ‘n tyd, ‘n tyd wat enersyds lank is, maar aan die ander kant ingekort word.

Want dit halveer elke keer.

Dink in hierdie verband aan Jesus se uitspraak:

“En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” (Matt 24:22)

Dus al kom daar ‘n baie moeilike tyd – die visioen het dit geopenbaar – sal dit van beperkte duur wees.

Die afskaffing van die daaglikse offerdiens by die tempel, die oprig van die ontsettende gruwel voor die tempel – dit sal verkort word.

 

Hoe lank?

Die antwoord is dat dit van beperkte duur sal wees.

Sodat die getroues sal moed hou as dit gebeur.

Welgeluksalig is hulle wat moed hou, wat bly verwag.

Hulle wat 1335 dae bereik, staan daar in vers 12.

Wat presies met hierdie tweede getal bedoel word, is moeilik om agter te kom.

Uitleggers sukkel baie daarmee.

Sommiges meen dis die dag waarop die tyding van Antiochus se dood Jerusalem bereik het.

Ander sê dit verwys vooruit na die eindtyd.

Na die tyd, tye en ‘n halwe tyd – na die duisend jaar in Openbaring, word die duiwel vir ‘n kort tydjie losgelaat – 45 dae – en dan is dit sy einde.

In elk geval, die laaste woord is nog nie oor hierdie getalle gesê nie.

Miskien sal dit in die toekoms ook vir ons duidelik word.

 

Samevattend, Christus openbaar nie presies aan Daniël wanneer al die dinge gaan gebeur nie.

Maar wel, verseker Hy, as dit gebeur, sal dit van beperkte duur wees.

God sal selfs daardie tyd verkort, ter wille van sy uitverkorenes.

 

Maar, daar is nog iets wat Christus aan Daniël sê.

En daarmee begin en eindig sy antwoord.

Hy begin met: “Gaan heen, Daniël” (vers 9).

En Hy eindig met: “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (vers 13).

Wat bedoel Christus met: Daniël, gaan jy heen ...

Hy bedoel: Daniël, moenie bekommerd wees nie.

Jy kan nou heengaan, oftewel, jy kan nou rustig sterf.

Dit sal nie in jou tyd gebeur nie.

Ons weet vandag die tyd van Antiochus was eers eeue nadat Daniël gesterf het.

Maar Christus bedoel ook: Daniël, jy hoef dit nie alles te weet nie.

Jy kan nie toekoms oorsien nie.

Maar moenie bekommerd wees nie.

Ek sal dan nog steeds daar wees.

Ek sal dan ook vir my kinders sorg, ook al lê jy in die graf.

 

Gemeente, hierdie woorde aan Daniël is basies dieselfde woorde wat die apostels later sou hoor vlak voor Jesus se hemelvaart.

Toe het hulle aan Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand 1:6)

En dan gee Christus ’n soortgelyke antwoord: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Hand 1:7).

Dis nie aan Daniël, dis nie aan die apostels, dis nie aan ons, om die presiese dag en uur te weet nie.

Die Vader sal dit bepaal.

Slegs Hy weet.

Maar ons kan heengaan.

Ons hoef nie bekommerd te wees nie.

Ook al bevat die visioen onheilspellende dinge, Daniël kan heengaan, hy kan gaan rus (vers 13).

En ook al bevat vir ons die Bybelboek Openbaring onheilspellende dinge, ook ons kan – as ons tyd op aarde verby is – gaan rus.

Want Christus sal in die toekoms daar wees.

En as dinge te moeilik word, sal Hy die dae verkort.

Dit geld vir die toekoms, dit geld ook vir die hede.

 

Gemeente, so eindig hierdie Bybelboek.

Ons het vir Daniël leer ken toe hy nog ’n jong tiener was.

Toe hy weggevoer is, geroof is, uit Jerusalem na die Babiloniese hof.

Hierdie Bybelboek het vertel oor Nebukadnesar se pogings om hom en sy vriende te breinspoel.

Hulle name is verander.

Godvresende name is ingeruil vir name wat aan die afgode van Babel eer bewys.

Maar tog het Daniël en sy vriende standgehou.

Deur al die beproewinge heen – vuuroonde, leeukuile en noem maar op – het die HERE hulle bewaar.

En nou is Daniël aan die einde van sy lewe – om en by 90 jaar oud.

Sy stryd op aarde is gestry.

Hy kan heengaan, hy kan gaan rus, met die versekering dat hy sal opstaan aan die einde van die dae.

Maar op aarde die stryd is nog nie oor nie.

Christus, en sy aanvoerder Migael, gaan voort.

In die visioen het dit vir Daniël baie duidelik geword.

Maar sy tyd is nou verby.

Hy kan gaan rus.

 

Gemeente, en dan dink ek veral ook aan die bejaardes onder ons, maar nie net nie want jongmense kan ook onverwags sterf, hierdie einde van Daniël is eintlik baie bemoedigend.

As die einde van jou lewe nader, is dit nog nie die einde van die stryd op aarde nie.

Die stryd sal voortduur, baie moeilike tye lê nog voor die deur.

Maar dit hoef jou nie meer te bekommer nie.

Jy is nie vir die toekoms onmisbaar nie.

Jy kan nou heengaan, jy kan maar gaan rus.

Dit wil sê – net soos Daniël – jy mag rustig sterf.

Moenie bekommerd wees oor die toekoms nie.

Want Hy is daar, Hy hou die wag – Christus!

Hy sal sorg dat die poorte van die hel sy kerk nie sal oorweldig nie (Matt 16:18).

Los die toekoms nou maar in sy hande.

Net soos Daniël hoef jy nie al die details te weet nie.

Jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.

 

En, gemeente, so het daar al baie generasies voor ons gaan rus.

Ook hulle was miskien bekommerd – jou ouers, jou grootouers, die gelowiges uit die Reformasietyd – ook hulle was bekommerd oor die toekoms van die kerk, en die gelowiges in die Middeleeue toe die kerk so korrup en afvallig geraak het, en die gelowiges uit die vroeë kerk, toe Romeinse keisers hulle vervolg het.

Tog het al daardie gelowiges gaan rus.

Maar Christus het voortgegaan met die stryd.

Die bestaan van die kerk vandag is die bewys daarvoor.

Tot vandag toe vergader, beskerm en onderhou Hy sy kerk.

En dit sal Hy aanhou doen tot die einde toe.

Broer, suster, as die dag kom waarop Christus jou na Hom toe roep, mag jy met daardie gerusstelling jou geliefdes, en die kerk op aarde agterlaat.

Hy sal nie die werk van sy hande laat vaar nie.

Jy gaan heen, maar Hy gaan voort.

Sy herskepping sal Hy voltooi.

 

(Tema: Met Christus se Woord die toekoms in

1 Bemoediging)

 

2 Opdrag

 

Daar is nog ‘n aspek uit ons teks wat aandag verdien, gemeente.

Aan die begin sê die Man:

“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe.” (vers 4)

Hoekom moet Daniël dit geheim hou, hoekom moet hy dit verseël?

Wat is die doel daarvan?

Dit klink bietjie teenstrydig met die tweede deel van hierdie vers: “baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.”

Word hiermee bedoel dat die mense van Daniël se eie tyd nie daarin mog lees nie?

Daar is uitleggers wat meen dat mens hierdie vers eerder moet vertaal as: Bêre hierdie boek sorgvuldig, bewaar dit goed.

Die bedoeling is dat die boek tot in verre eeue behoue bly.

Dit wil sê, sorg dat mense wat eers gaan leef in verre eeue in die toekoms, aan die einde wanneer hierdie dinge gebeur, dat hulle dit ook nog sal kan lees.

Dinge wat nou verborge is – onduidelik – sal dan sin maak.

 

Dus, aan die een kant bly die woorde geheim, in die sin dat die mense uit Daniël se tyd nie sou verstaan wat daarmee bedoel word nie.

Maar hulle moet nie hulle koppe daaroor breek nie.

Die feit dat Christus spesifiek in sy visioen gedui het op Antiochus Epifanes, dit was vir hulle nog verborge.

Maar aan die ander kant was die boek Daniël vir hulle wel ‘n boek vol troos en bemoediging.

Wetende dat God die toekoms ken, dat Hy daarop voorbereid is, ja dat Hy self die toekoms bepaal.

 

Wel gemeente, die opdrag wat Daniël gekry het, het hy nagekom, en ook die gelowiges wat geleef het nadat Daniël oorlede is, het hierdie opdrag nagekom.

Want sy boek is inderdaad goed bewaar, dit is verseël.

Ons lewe duisende jare na Daniël, en ons het nog steeds sy boek, terwyl amper alle ander boeke uit sy tyd al vergaan het.

So het Christus se kerk deur die eeue die Woord bewaar.

En dis vir ons vandag ook ‘n opdrag.

Ons nageslagte gaan Christus leer ken uit die Woord.

Dit is ons opdrag om vandag die Bybel te bewaar, sodat die kerk in die toekoms dit ook sal hê.

Christus se opdrag aan sy kerk op aarde is om sy Woord te bewaar.

Die Satan sal graag wil sien dat Christus se Woord op aarde verlore gaan, net soos so baie ander boeke uit die verlede.

Maar ons kry die opdrag, net soos destyds Daniël: Bewaar my Woord.

Verseël dit.

Al staan daar dinge in wat vir julle vandag nog nie duidelik is nie, dalk geheimsinnig.

Dit dui op moontlik nog ‘n verre toekoms.

Of wie weet, dalk is daardie toekoms nou al baie naby?

Maar moenie dit weggooi, omdat dit vir jou vandag nie sin maak nie.

Bewaar dit, in die toekoms gaan dit wel sin maak.

Dit sal toekomstige geslagte troos en perspektief gee.

“U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Ps 119:105)

So was dit in die verlede, is dit vandag, en sal dit in die toekoms wees.

En onthou, ook oor ons het die einde van die tye al gekom.

Soos Johannes skryf: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.” (1 Joh 2:18)

Antichriste is hulle wat die plek van Christus wil inneem.

Dis Satan se werkwyse van ouds.

Hy probeer God naboots, Hy aap God na, soos Luther ‘n keer gesê het.

Soms lyk hy baie oortuigend.

Soms kry hy dit reg om sommiges met sy gevleiery afvallig te maak (Dan 11:32).

Maar die profesieë berei ons daarop voor.

Moenie daarvoor val nie.

Bewaar die Woord, vir jouself en vir komende geslagte.

 

Broer en suster, as ek en jy heengaan, as ons ontslaap, as ons gaan rus, dan bly die Woord – die Bybel met die boeke soos Daniël, Openbaring, ja die hele Bybel, op aarde steeds daar.

Dit is die swaard van die Gees.

En daarmee sal toekomstige geslagte die goeie stryd voortsit.

En orals waar sy Woord gesaai word, sal dit nie leeg tot God terugkeer nie.

Met Christus se Woord gaan sy kinders die toekoms in.

Dis ‘n opdrag, dis ook ‘n groot bemoediging.

Jy gaan heen, maar Christus gaan voort.

Tot op die dag van sy wederkoms, die dag wat deur die Vader bepaal is.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 25:6,7

Wet

Ps 119:33,39

Gebed

Skriflesing: Daniël 12

Ps 34:4,5,9

Teks: Daniël 12:4-13

Preek

Ps 16:1,4,5

Gebed

Kollekte

Sb 43:1,2,4,5,6

Seën