By U is die fontein van die lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-08-17
Teks: 
Psalm 36:10a
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 36:10a

 

Ons behandel tans, dis nou vanaf laasweek Sondagaand, na aanleiding van die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1, wie God is.

Sy wesenskenmerke, soos Hy Homself in die Bybel openbaar.

Ons het verlede week na twee van sy eienskappe gekyk – die feit dat Hy ewig is en dat Hy onveranderlik is.

Vandag wil ek met u stilstaan by nog een van sy wesenskenmerke – wat so eie is aan sy karakater.

Ons bely in Artikel 1:

God is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Dit is iets wat ons op ‘n Nagmaalsondag ekstra mag ervaar.

Hierdie formulering kom natuurlik uit die Bybel.

Daar is verskeie plekke in die Bybel waar die Here en sy werk met ‘n fontein vergelyk word.

Psalm 36:10 is een van hulle.

‘n Pragtige teks om op ‘n Nagmaalsondag te behandel – vloei daar nie uit die Nagmaalstafel ‘n fontein van lewe nie?

 

Tema: By U is die fontein van die lewe

 

Kom ons staan vir ‘n oomblik by hierdie Psalm stil.

Dit bestaan globaal uit drie dele.

Dit begin met ’n beskrywing van mense wat leef asof God nie bestaan nie.

Wat hulle doen en hoe hulle gedrag ander beïnvloed.

Vers 2-5.

Dan skielik skakel die Psalm oor op ‘n lofprysing, vers 6-10.

Oor God se goedertierenheid en trou en geregtigheid.

En tot slot volg dan ’n gebed met ’n uiting van sekerheid dat sy gebed verhoor sal word – vers 11-13.

 

Op eerste gesig lyk dit of hierdie drie dele los van mekaar staan, en niks met mekaar te make het nie.

Tog vorm hierdie Psalm ’n eenheid, as mens besef wat die rooi draad is.

En dit is die vraag:

Wie bepaal uiteindelik jou lewenslot?

Wie bepaal of jou lewe gelukkig gaan wees of nie?

En dat dit vir Dawid ook ‘n brandende vraag was, is wel duidelik uit sy eie lewe.

Dikwels was hy in groot lewensgevaar.

Teen hierdie agtergrond is dit voorstelbaar dat Dawid met hierdie vraag geworstel het.

Wie bepaal eintlik my lewenslot?

Daar was oomblikke wat Dawid ’n insinking beleef het.

Dan het hy nie meer ’n toekoms gesien nie.

Soms het hy juis op so ‘n oomblik ’n Psalm gedig, ’n lied gebore uit ’n angstige hart.

In sy intense nood het Dawid sy toevlug by God gesoek.

 

In die tweede gedeelte van hierdie psalm sien ons hoe die Heilige Gees Dawid se gedagtes weer optel.

O HERE, hemelhoog is u goedertierenheid.

U trou reik tot die wolke.

U geregtigheid is soos die berge.

U oordele soos die oseaan.

O HERE, vergewe my, as ek bysiende geraak het.

Hoekom het ek weer begin vaskyk teen die magtiges van hierdie aarde?

Asof u nie myle en myle bo hulle uitrys nie.

Hoekom sou ek bang wees?

Ek is jammer, HERE, ek het weer vir ’n oomblik die regte proporsies vergeet.

Asof ’n stoffie dit sou kon opneem teen die onbeweeglike gebergte van u regverdigheid.

Asof ’n druppeltjie ’n invloed sou hê op die oseaan van u oordele.

Dawid se gedagtes klaar op.

Sy somberheid verdwyn.

O HERE, ek dank u, dat U my dit weer laat besef het.

 

Gemeente, dit doen ’n mens goed om weer tot stilstand te kom.

Tot rus en besinning.

Die oë na bo gerig.

Uitkyk bo die jagtige en ellendige van die aardse gewoel.

Weer oog kry vir die afmetings van God se grootheid.

O HERE, u liefde, u goedertierenehid is hemelhoog.

Om dit te ervaar is van onskatbare waarde vir ’n mens.

Van onskatbare waarde as ’n mens kan skuil in die skaduwee van sy vleuels.

 

En dan, vanaf vers 8 tot vers 10, gebruik Dawid die een beeldspraak na die ander.

Oor hoe goed ’n mens dit by God het.

Ons verkwik ons aan die vettigheid van u huis.

In die HERE se huis is daar oorvloed – beleef ons dit nie weer vandag nie, gemeente?

U laat ons drink uit die stroom van u genietinge.

Alle seëninge wat God aan sy kinders skenk is ’n onafgebroke koel helder waterstroom.

Dit bring ’n woestyn tot lewe.

Ja, en dan volg ons teks, by U is die fontein van die lewe.

Hierdie sin borduur voort op die beeld van die waterstroom.

Die waterstroom wat die woestyn tot lewe bring, wat ontspring by die fontein.

God is die fontein.

Hy is die bron van alles wat begin lewe.

 

En dan is daar nog ‘n pragtige beeldspraak:

In u lig sien ons die lig.

Dit sluit aan by die fontein-beeldspraak.

Net soos die koel helder water êrens vandaan kom, uit die bron, so kom die lig ook êrens vandaan – God is die bron van lig.

Die lig laat alles opfleur.

Die lig is noodsaaklik vir plante, diere en mense om te groei, om te leef.

U is die bron van die lig.

 

Ons is soms pessimisties oor die toekoms.

Maar soos Dawid mag ons in sulke momente van depressie ons oë na die hemel rig.

Hemelhoog is u goedertierenehid.

U trou reik tot die wolke.

By U is die fontein van die lewe.

In u lig sien ons die lig.

En vandag se nagmaal prent dit opnuut by ons in.

God is die fontein van lewe, die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

God het sy eie Seun gestuur,

Hy het vir ons gesterf het, ons sondes uitgedelg.

Sy bloed het gevloei, dit is daar vir sondaars soos ek en jy.

 

Daar is ‘n mooi lied wat Christus se kruis vergelyk met ‘n fontein:

Uit Engels vertaal klink dit min of meer so:

 

Daar ‘s ‘n fontein gevul met bloed,

wat stroom uit Immanuel se are;

en sondaars wat bad in daardie vloed,

raak alle sondes kwyt wat hul bevlek.

 

Die misdadiger langs Hom aan die kruis

het gejuig om die fontein te vind;

En ek vra, net soos hy so sleg:

Heer, was ook al my sondes weg.

 

O Lam van God, u kosb’re bloed

sal nooit sy krag verloor,

tot almal deur God vrygekoop,

gered is van die dood.

 

Nou ek in geloof dit sien,

die fontein wat u wonde bied,

sal u trou en liefde wees

my lied solank ek leef.

 

So, gemeente, bely ons op hierdie Nagmaalsondag opnuut:

By U, o Here Jesus Christus, is die fontein van die lewe!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 80:1,10

Wet

Ps 119:23

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Skriflesing: Psalm 36; Ps 84:3

2e tafel: Skriflesing: Johannes 4:10-15; Ps 84:5

3e tafel: Lofverheffing; Ps 103:2

Dankgebed

Teks: Psalm 36:10a

Preek

Ps 36:2,3

Gebed

Kollekte

Ps 84:6

Seën