Ons Rots is die ewige en onveranderlike God

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-08-10
Teks: 
Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is ewig en onveranderlik)
Preek Inhoud: 

Ons glo met die hart en met die mond ...

So begin die NGB.

En daarom, gemeente, die prediking oor die Bybelse onderwerpe wat in die NGB aan die orde kom, gaan nie teoreties wees nie.

Dit is dinge waarin Guido de Brès, die skrywer van die NGB, met sy hele hart geglo het.

En ook die ander mense in sy tyd wat vir hierdie einste geloof van hulle vervolg is, net soos Guido de Brès.

Dit was vir hulle hartsake.

Hierdie is nie net teoretiese sake nie, dit is wesenlik.

En ek wil u vra, as ons nou weer vir ‘n periode die NGB gaan behandel, dat u ook so daarna luister.

Dat dit ook vir jou wesenlike sake sal wees, of so sal word, soseer selfs dat jy bereid is om daarvoor te sterf.

Guido de Brès het die marteldood gesterf vir die dinge wat in die NGB staan.

So wesenlik moet dit wees.

 

En so begin artikel 1 met die kern van ons geloof.

Dat ons in God glo, dat ons Hom ken, dat ons weet hoe Hy is, soos Hy Homself in sy Woord openbaar.

In artikel 1 begin die NGB by die belangrikste: Ons God en wie Hy is.

Dikwels gaan dit deesdae in kerke so dikwels oor die mens, oor sy geloofservaring, sy gevoelens, dat sy lewe geseën moet word.

Maar wesenlik aan die Gereformeerde erediens is dat God sentraal staan.

Dit is in die dien en prys van Hom wat ‘n skepsel sy geluk en lewensvervulling vind.

 

Daarom begin ons nou, saam met die NGB, om te fokus op ons God, wie Hy is, hoe Hy is.

In artikel word enkele wesenskenmerke van Hom beskryf.

In sy Woord, en deur die bril van sy Woord ook in sy skepping, leer ons sy karakter ken.

Hy is naamlik, ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Ek wil in vanaand se preek op twee van hierdie wesenskenmerke van ons God fokus:

die feit dat Hy ewig is, en die feit dat Hy onveranderlik is.

 

Tema: Ons Rots is die ewige en onveranderlike God

1 Ewig

2 Onveranderlik

 

1 Ewig

As ons nou gaan fokus op wie God is, is dit belangrik dat ons dit met die regte houding doen.

Ons kan nie oor Hom praat met die houding asof ons Hom kan ontleed nie.

Ons kan nie objektief oor Hom besin en as ‘t ware ‘n persoonlikheidsanalise van Hom maak nie.

Sy heerlikheid en heiligheid is so groot en ontsettend dat ons nie naby Hom kan kom nie.

Laat staan dat ons kan praat oor wie en hoe Hy is.

Laat staan dat ons enigsins Hom kan begryp.

Ons is skepsels, Hy is die Skepper.

Ons kan nie oor laat staan met ons Maker praat asof ons op dieselfde vlak is nie.

Dit is slegs met die diepste eerbied en aanbidding wat ons voor Hom kan nader.

En ook dit is nog nie genoeg nie.

Soos ons later sal sien, slegs en alleen in die Naam van ons Here Jesus Christus het ons ‘n toegang tot die almagtig en oneindig verhewe God.

 

Nou een van die mees bekende eienskappe van God is die feit dat Hy ewig is.

Wat hou dit in?

Ek wil dit kortliks in vyf dinge saamvat, soos ons sy ewigheid uit die Bybel leer ken.

Ewig beteken 1) onveranderlik, 2) dat sy werk sal standhou, 3) dat Hy getrou is, 4) dat Hy altyd groter is, en 5) dat jy by Hom veilig is.

 

Ewig beteken onveranderlik

In Psalm 102 word die mens se tydelikheid gekontrasteer met God se ewigheid:

“My dae is soos ‘n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek. Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag.” (vers 12-13)

En dan ook verse 26-27: “In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.”

 

‘n Skaduwee ... ons almal weet hoe vinnig dit verbygaan.

En ‘n kledingstuk, ons weet ook hoe dit kan verslyt.

Hoe goed jy dit ook oppas, met verloop van jare sal die kleur begin verblyk, die tekstuur sal verander, op plekke sal jou klere met verloop van tyd, soos jy dit gebruik, letterlik deurslyt.

So, sê Psalm 102, is die mens se lewe, en, vir ‘n feit, elke ding onder die son, selfs die son self.

 

Psalm 102 is ‘n gebed van iemand wat baie swaar in die lewe kry, wat homself platgeslaan voel soos plante, verdor, soos ‘n pelikaan wat smag na water in die woestyn.

Ons ken daardie verskynsel – ‘n watergat wat opgedroog het, diere wat dit vergeefs besoek.

Maar te midde van alle ellende mag hy vashou aan God, vertroos word dat nie die ellende op aarde nie, maar God se gedenknaam ewig sal standhou.

Ook as ek al lankal in die graf lê, ook as my liggaam en selfs my grafsteen al vergaan het, ook dan sal Hy nog daar wees, ook dan sal Hy nog steeds ‘n lewende en sorgsame God en Vader wees vir my kinders en kindskinders, ja van geslag tot geslag!

 

Die Hebreërskrywer verwys terug na Psalm 102 as hy skryf:

Hemel en aarde “sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt, en soos ‘n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (Hebreërs 1:11-12)

 

Ons kom in die tweede punt weer terug by God se onveranderlikheid, daar kan nog veel oor gesê word.

Ons kyk nou eers verder na wat ewig vir ons inhou:

 

Ewig beteken ook dat sy werk sal standhou

Nog ‘n Bybelboek wat vir ons asemrowende dinge oor God vertel, is die boek Job.

Dink aan ‘n vers soos Job 36:26: “Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.”

Maar die hoofboodskap van hierdie boek is dat, hoe die Satan ook te kere gegaan het, hy kon die groot werk wat God in Job se lewe begin het, nie uitgeblus kry nie.

In kort, God se werk in Job se lewe het standgehou!

Job is ‘n geweldig troosvolle boek, veral vir mense wat deur moeilike tye gaan.

Want as so ‘n groot God, Hy wat ewig is, ‘n werk in jou lewe begin het, dan kan jy seker wees dat sy werk in jou lewe sal standhou, ja hoe die Satan ook blaas, hy sal die vlam van geloof nie uitgeblaas kry nie.

Want die ewige God se werk op aarde sal standhou!

 

Nog ‘n aspek van God se ewigheid is:

 

Ewig beteken getrou

As die Here Jesus aan die apostel Johannes op die eiland Patmos verskyn, sê Hy die volgende:

“Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde ... wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” (Openbaring 1:8)

Christus was daar van ewigheid af, Christus is daar in die hede, Christus kom terug, Hy regeer tot in ewigheid.

Dit is die ondubbelsinnige boodskap van die laaste Bybelboek.

Dit is waarmee almal moet rekening hou, Hy sal as Regter terugkeer om alle volke, tale en nasies te oordeel.

Maar vir hulle aan wie Hy sy lewe gegee het, aan hulle bly Hy getrou tot in ewigheid.

Sy genade is elke dag weer nuut oor almal wat Hom vrees.

God is getrou, Hy laat nie vaar die werke van sy hande nie.

 

Ewig beteken altyd groter

By die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

God, wat ewig is, se tydsbegrip is dus totaal anders!

Moenie aards, moenie tydelik, oor God dink nie.

God is altyd groter as ons begripsvermoë.

So word ons elke keer weer in die Skrif opgeskerp: Dink nooit te gering oor God nie!

God is altyd groter!

 

Ewig beteken veilig

In Deuteronomium 33:27 staan daar: “Die ewige God is ‘n woning, en onder – ewige arms”.

Die Skrif gebruik hier die metafoor van ewige arms.

Daar is ewige arms wat jou hele bestaan dra.

Hiermee word ‘n gevoel van absoute veiligheid en geborgenheid oorgedra.

Soos ‘n baba in die sterk arms van sy pa.

Dit is die impak van God se ewigheid, van die besef dat Hy ewig is.

Ja, dit laat die mens klein en nietig voel, maar terselfdertyd ook geweldig veilig.

Want jy is in sy ewige arms.

Ja ewig beteken dus: veilig.

 

Gemeente, dit is in kort wat die Skrif ons leer oor God wat ewig is.

Hy is 1) onveranderlik, 2) sy werk sal standhou, 3) Hy is getrou, 4) Hy is altyd groter, en 5) jy is by Hom veilig.

En my vraag aan jou: Is dit vir jou ‘n hartsaak?

Ons bid dat die Heilige Gees rus in ons harte bring.

Onder jou is daar ewige arms!

Laat hierdie besef jou rustig maak.

Mag dit jou laat verlang na jou God, wat jou geskape het.

Ook om volgende week weer nagmaal te vier.

Wat ‘n wonder, dat Hy die Ewige, die Alfa en die Omega, by ons tydelike mense wil wees.

Ja Hy is oneindig goed vir ons!

 

2 God is onveranderlik

Hoekom is God onveranderlik?

Wat is die implikasie daarvan?

Wat beteken dit vir ons dat Hy onveranderlik is?

Deesdae hoor mens dikwels ‘n spreekwoord wat sê in Engels: adapt or die.

Verander, pas aan, of gaan ten onder.

Geld dit ook vir God?

Is God ewig, juis omdat Hy die heeltyd verander?

Of is Hy ewig, juis omdat Hy altyd dieselfde bly?

Kom ons luister na wat die Skrif oor God se onveranderlikheid openbaar.

 

Ook in die tweede punt wil ek dit verduidelik met ‘n paar kernbegrippe, naamlik:

Onveranderlik beteken eerstes betroubaar, tweedens eerlik, derdens standvastig, en vierdens konsekwent.

 

Eerstens dus:

 

Betroubaar

In Exodus 3:14 verduidelik God aan Moses wat sy Naam beteken.

 “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”

Jahweh staan vir: EK IS WIE EK IS.

Dit dui op God se onveranderlikheid en daarom ook sy betroubaarheid.

Die omgekeerde van betroubaarheid is wisselvalligheid.

‘n Mens kan jou toekoms nie bou op iets wat wisselvallig is nie.

‘n Wisselvallige geldeenheid is nie aantreklik vir langtermyn beleggers nie.

Dieselfde geld vir ‘n wisselvallige god.

‘n Mens wil graag sy god kan vertrou.

Die gode van die heidene, ook die afgode in Egipte, was wisselvallig.

 

Die HERE het bewus aan Moses verskyn met hierdie Naam:

EK IS WIE EK IS!

As Ek in julle voorvaders se tyd ‘n God van wonders was, is Ek dit vandag nog steeds!

Ek is onveranderlik!

Die implikasie van onveranderlik is dus dat Hy betroubaar is.

Ook vandag kan jy op Hom staatmaak!

Hy het nie verander nie.

Alles in die skepping, ook die hardste materiale, is aan slytasie onderhewig.

Al wankel die berge in die see, God is ‘n toevlug wat rotsvas bly staan (Ps 46).

Niks bly ooit dieselfde nie, niks nie, behalwe God.

Sy onveranderlikheid gaan ons verstand te bowe.

Maar juis die feit dat Hy onveranderlik is, beteken dat Hy betroubaar is.

 

Tweedens beteken God se onveranderlikheid, Hy is:

 

Eerlik

In Numeri 23:19 staan daar:

“God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”

Hierdie woorde kom uit die mond van Bileam.

Maar dit is woorde wat God self hom in die mond gelê het.

Die implikasie: Moenie dink jy kan God omkoop sodat Hy iets anders gaan sê nie.

God is onveranderlik!

Ons sien in hierdie teks ‘n verband tussen God se onveranderlikheid en sy eerlikheid.

Dit is inderaad kenmerkend vir ‘n eerlike persoon dat hy onveranderlik is.

Ook al probeer jy hom omkoop, ook al dreig jy hom, wat jy ook doen, ‘n eerlike persoon sal nie die waarheid buig nie.

So is God dus.

Hy het ‘n belofte aan sy volk gemaak, dat Hy hulle tydens die woestynreis sou bewaar en in die beloofde land sou bring.

En nou hou Hy Homself aan daardie belofte.

Bileam het homself in die pad van hierdie belofte opgestel.

God bly egter by sy Woord.

 

Gemeente, hierdie is dus ook ‘n baie belangrike aspek van God se onveranderlikheid: die feit dat Hy eerlik is.

In sy wet wat God aan Moses gegee het, kom dit telkemale na vore.

Sy wet is soos Hyself: Hy laat nie toe dat die reg gebuig word nie.

Almal, ryk en arm, belangrik en onbelangrik, val onder dieselfde reg.

Hy is die een wat die regsaak van die wees en weduwee sal verdedig.

Moenie in sy pad kom deurdat jy die reg probeer buig nie.

Hy is onveranderlik.

Hy bly eerlik.

Dit is ‘n groot troos vir wie by Hom skuil.

Die lewe is soos die deinings van die see.

In ons land, maar net so in ander lande in die wêreld, nêrens is die reg onveranderlik, onbuigbaar, nie.

So dikwels gebeur dit dat mag en geld die reg buig.

So dikwels dat konings en presidente nie die gevolge hoef te dra vir hulle misdade nie.

So dikwels sien mens dat die weg van die minste weerstand gekies word, pleks van die reg te laat seëvier.

Die deinings van die wêreldsee maak mens dronk, dit bied geen vastigheid nie.

Broer, suster, kyk op na God, hou vas aan Hom.

Hy is onveranderlik in sy eerlikheid.

Hy is die bron van alle eerlikheid.

Hy hou sy beloftes.

Dit het Hy in Christus bo alle twyfel bewys!

Wie by Hom skuil, word nie in die steek gelaat nie.

 

Derdens beteken God se onveranderlikheid ook Hy is:

 

Standvastig

“Die HEER se raad word nooit gekeer nie.

Dit sal bestaan in ewigheid.” (Ps 33:6 – berymd)

So sing ons in Psalm 33.

Dit is in teenstelling tot die raad van die nasies, die gedagtes van die volke.

Die ou mense onder ons sal kan vertel hoe wisselvallig die raad van die nasies is.

Dit wat vir die nasies op aarde belangrik was vyftig jaar gelede, dit is nou byna vergete.

Nou is daar nuwe onderwerpe wat die nasies besig hou.

Maar oor vyftig jaar gaan die nasies weer hulle kop skud oor wat die mense vandag besig gehou het.

“Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van ons God hou stand in ewigheid.”

Dit is die trooswoord wat Jesaja namens die HERE aan sy volk mog oordra, Jesaja 40:8.

Laat Israel nie moedeloos wees nie.

Alles om hulle heen sal blyk verganklik te wees.

Nie net die gras en die blom, wat seisoensgebonde is nie.

Selfs die tempel sal nie vir ewig vas bly staan nie.

Dit was die wrede ontnugtering wat God se volk aan die begin van die ballingskap moes ondergaan.

Dat selfs die woonplek wat God uitverkies het nie onveranderlik was nie, maar verganklik.

Geen fondament op aarde is tot in ewigheid standvastig nie.

Maar, skryf Jesaja, die woord van ons God hou stand in ewigheid.

Deur die eeue kom en gaan kerke.

Maar dit moet ons nie laat wanhoop nie.

Christus is ‘n ewige Koning wat nooit sonder onderdane sal wees nie, skryf Guido de Brès in art. 27 van die NGB.

Wat ‘n troos gemeente, u mag opkyk na Christus, u het sy Woord in u hand.

Dit is die konstante, die standvastige, die onveranderlike in u lewe, die anker van hoop! (Hebr 6:19)

Tot die dag wat Christus terugkom sal Hy sy gemeente vergader, sal daar hulle op aarde wees wat die nagmaal sal vier soos Hy dit ingestel het.

So ook ons DV volgende week.

Standvastig gaan ons verder, ons lewe bouende op Hom wat standvastig is.

 

Vierdens, onveranderlik beteken ook:

 

Konsekwent

Rigting die einde van die Ou Testament, na die ballingskap, sê die HERE deur die profeet Maleagi vir sy volk:

“Want Ek, die HERE, het nie verander nie” – Maleagi 3:6.

Die HERE sê dit hier na aanleiding van die aankondiging van die dag van die HERE.

Wie kan die dag van sy koms verdra?

Wie kan standhou as Hy verskyn?

Die HERE sê dit in die kader van die verbond.

In sy verbond het Hy gewaarborg dat Hy van sy kant trou, dit is onveranderlik, sal wees.

Hy sal sy beloftes hou, en so ook sy bedreigings.

Hoewel God hulle oorvloedig geseën het, het sy volk nie die verbondseis nagekom nie.

Alhoewel God hulle in staat gestel het om goed te doen, het hulle dit tog nie gedoen nie.

Dan moet hulle nie dink dat God dit nie raaksien nie, of dat Hy dit deur die vingers sien.

God is onveranderlik en dit beteken dat Hy ook konsekwent is, ook in die straf wat Hy destyds aangekondig het.

Omdat hulle God beroof deurdat hulle nie hulle tiendes betaal nie, daarom sal die HERE vir hulle wees soos die vuur van ‘n smelter, soos die loog van ‘n wasser.

Gemeente, God se onveranderlikheid moet ook ontsag by ons inboesem.

God se geheue is soos van ‘n olifant, nee nog oneindig beter.

Laat ons Hom daarom vrees, laat ons oppas om Hom te bedroef, om teen sy wil in te gaan.

 

Om daardie rede gaan ons volgende week nie net uit gewoonte nagmaal vier nie.

Ons word opgeroep om ons lewens skoon te maak.

Ons sondes opreg te bely, daarvoor opreg vergewing te vra.

Ons hoef nie bang te wees vir God se konsekwentheid nie, want ons kan skuil agter Christus sy Seun.

Hy was konsekwent, Hy het Hom gestraf.

Nou is Hy konsekwent in sy vergifnis, dag na dag, as ons in die Naam van sy geliefde Seun tot Hom nader.

Daarom mag ons by elke nagmaal dankbaar bely:

“Aangesien God reeds sy liefde vir ons daarin bewys het dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom 5:8-10), soveel te meer sal ons deur Hom van sy toorn gered word noudat ons in sy bloed geregverdig is.” (Nagmaalsformulier – Lofverheffing)

 

Geliefdes, ek vat saam.

God is ewig, God is onveranderlik.

Beide hierdie eienskappe het ongelooflike diepgang.

Ons leer ons God ken as getrou, altyd groter, betroubaar, eerlik, standvastig, konsekwent, sy werk sal standhou en by Hom is jy veilig.

Vertrou jouself daarom van harte aan Hom toe.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 90:1,2

Gebed

Skriflesing: Exodus 3:13-15; Numeri 23:16-20

Ps 102:11

Skriflesing: Psalm 33:1-15

Ps 33:6,7

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis art. 1

Preek

Ps 46:1,3

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 46:6

Kollekte

Sb 35:2,3

Seën