Benarde tye

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-08-10
Teks: 
Daniël 11:21-35
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 11:21-35

 

Die laaste drie hoofstukke van Daniël, 10 – 12, vorm ‘n eenheid.

Ons het twee weke gelede gesien hoe ‘n Man aan Daniël verskyn.

Ongelooflik indrukwekkend.

Ons het geleer dit is Jesus Christus, wat persoonlik na Daniël gekom het om aan hom ‘n boodskap te bring.

‘n Profesie oor wat in die komende eeue met sy volk sou gebeur.

In laasweek se preek oor die eerste deel van hoofstuk 11 het ons na die inhoud van hierdie profesie begin kyk.

Dit het gegaan oor die konings van die Noorde en die konings van die Suide.

Oor hulle eeuelange skermutselinge, oorlogsvoering teen mekaar, en hoe Israel ingeklem tussen hulle gesit het.

Die profesie is, as mens dit so lees, nie maklik om te volg nie.

Dit klink baie tegnies.

Mens moet mooi konsentreer.

Mens kon nie sommer een twee drie ‘n boodskappie, ‘n soort MacDonalds of KFC tipe toepassing daaruit haal nie.

Dis vaste spys, nie melkkos, wat die Bybel hier bied.

Maar die belangrikste boodskap wat uit laasweek se preek gekom het was: “daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel” (Rom 13:1)

Al was God se volkie ‘n speelbal van die groot politieke magte van daardie tyd, dit wil nie sê God was nie in beheer nie.

Inteendeel.

Dis Hy wat konings aanstel en afsit.

Al het Satan sy vorste, sy bose demone uitgeplaas op strategiese plekke, nietemin kon hy nie net doen wat hy wou nie.

Al was God se volkie ingeklem, hulle is nie platgedruk nie.

Hulle het standgehou.

Want Christus het ook sy vorste uitgeplaas op die regte plekke, soos Migael die aartsengel.

En so het God se volk, deur Hom bestem om nog die Messias voort te bring, standgehou, al was dit dikwels onder vreemde politieke oorheersing.

 

Vandag kyk ons verder na Christus se profesie aan Daniël.

Die magtige konings van die Noorde en van die Suide begin stadig maar seker op die agtergrond raak.

Nuwe grootmagte verskyn op die toneel.

Soos byvoorbeeld die Romeine.

Maar ook in hierdie eeue wat volg hou God die wag oor sy volk.

Verlede se tema was: Woelige tye.

Vandag se tema is:

 

Tema: Benarde tye

1 Satan maak die wêreldheersers listig en venynig

2 Christus maak sy volgelinge dapper

 

1 Satan maak die wêreldheersers listig en venynig

In ons teks gaan dit veral oor die diktatuur van ‘n spesifieke persoon: Antiochus die Vierde, of soos hy homself genoem het: Antiochus Epifanes.

Epifanes is Grieks vir verskyning.

Asof hy ‘n goddelike verskyning was.

Al eerder in Daniël, in ‘n eerdere visioen, kan mens oor hom lees – hoofstuk 8.

Maar in ons teks kom hy weer aan die orde.

Onder sy skrikbewind sou daar ‘n groot krisis aanbreek vir Israel.

‘n Krisis wat spesifiek die hart van Israel se godsdiens geraak het.

Soos ons in vers 31 lees:

“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.”

 

Antiochus word beskryf as ’n veragtelike persoon.

‘n Verraaier.

Wat was naamlik die geval?

Sy pa het nie vir hom nie, maar vir sy broer die opvolger op die troon gemaak.

Antiochus Epifanes was diep gekwets.

Hy was op daardie stadium in Rome.

Hy keer toe terug na Sirië onder die voorwendsel dat hy sy broer sal bystaan om die koninkryk te regeer.

Mooi praatjies.

Maar die uiteinde was dat hy sy eie broer vermoor het, om vervolgens die troon oor te neem.

Vers 21 sê: Hy sal “met liste die koninkryk bemagtig.”

Klink dit nie bekend nie?

Is die politiek nie deurspek van liste en bedrog nie?

 

Eers op die troon het dinge net al hoe slegter geword.

Nog veel meer as sy pa het hy die volke wat aan hulle onderwerp was, uitgebuit.

Een van die dinge wat hy graag gedoen het, was om tempels te plunder, te beroof.

Hy het homself as ‘n god beskou, dus hy kon doen met die tempels van die gode wat hy wou.

In vers 24 lees ons: “Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit ...”

Maar dit was nie al nie.

Hy was baie slinks.

Hy het al die goud en silwer nie net vir homself gevat nie.

Soos wat hy deur die strate ry, het hy goud en silwer van sy wa afgegooi op die straat, sodat sy volgelinge dit kon optel.

Antiochus was ‘n baie slinkse politikus.

Hy het geweet hoe om die massas te bespeel.

En sy beste vriende, sy trouste volgelinge, het die grootste geskenke gekry.

 

So het Antiochus Epifanes op ‘n geslepe manier aan die mag geklou, en steeds sy eie eer en mag probeer vergroot.

Dit gaan te ver om in hierdie preek sy hele regeringstyd op te som en al die oorloë en dinge waarin hy betrokke was.

Maar wat wel mag help, is om net kortliks die gebeurtenisse te beskryf wat direk voorafgegaan het aan die verskriklike dinge wat Antiochus spesifiek in Jerusalem aangevang het.

Ons kom nounou daarby, dit wat hy in Jerusalem gedoen het.

Maar eers dus die aanloop daarnatoe.

En onthou – daarom staan dit hier in die Bybel – dit gaan nie net oor Jerusalem as hoofstad nie, maar spesifiek die plek waar die HERE se tempel gestaan het.

Daar waar Hy sy versoening uitgedeel het.

 

Dalk onthou u nog uit vorige week se preek: Antiochus Epifanes se pa het sy dogter – Cleopatra – uitgehuwelik aan die koning van Egipte.

Sy was dus Epifanes se suster.

Toe haar man sterf, word sy die koningin van Egipte.

Maar toe sy sterf, word haar seun, wat nog maar ‘n tiener was, koning.

Sy raadgewers praat hom toe om om Israel en die suide van Sirië te probeer verower.

Dit misluk, sy leër word verslaan deur Antiochus Epifanes.

Hierdie tienerseun se boetie word toe as koning in Egipte aangestel.

Vervolgens probeer Antiochus om hierdie nefie van hom nie met geweld nie, maar met diplomasie – oftewel met liste – aan sy kant te kry.

Maar hy het sy nefie onderskat.

Die was nie dom nie, en in die onderhandelinge was hy net so listig.

Vers 27 sê: “aan een tafel sal hulle leuens spreek”.

Die nuwe vertaling (2020) is hier duideliker: “terwyl hulle aan dieselfde tafel is, mekaar belieg.”

“Maar”, vervolg die profesie, “dit sal nie slaag nie”.

Beide Antiochus en sy Egiptiese neef bereik nie wat hulle wou nie.

Terug in Sirië kom Antiochus al gou agter dat ook hy om die bos gelei is.

Woedend omdat sy neef hom belieg het, besluit hy om nou militêr teen hom op te trek.

Maar, hierdie keer is sy leër nie suksesvol soos die vorige keer nie.

Daar kom naamlik ‘n onverwagse wending.

Onverwags daag die skepe van die Kittiërs op – sê vers 30.

Kittiërs, dit was Romeinse skepe.

Aanvanklik dink Antiochus hulle is sy vriende – hy het mos in Rome gewoon.

Hy dog hulle kom hom help teen Egipte.

Maar nee, hulle oorhandig aan hom ‘n dekreet, ‘n bevel van die Senaat in Rome dat hy Egipte moet uitlos.

Hy moet sy leër ontbind en teruggaan huistoe.

Nou teen Rome was Antiochus nie opgewasse nie, en al wat hy kon doen was om stert tussen die bene koers te vat huistoe.

 

Gemeente, dit is in kort die aanloop tot die dinge wat Antiochus toe in Jerusalem sou doen.

Maar so sien mens hoe die politiek gaan.

Is dit nie vandag nog net so nie?

Twee lande vlieg mekaar in die hare, dan kom ‘n derde, ‘n veel groter land, en gryp in.

Dink aan Israel wat ‘n oorlog teen Iran begin het.

Dit het geduur totdat Amerika ‘n paar groot bomme op Iran se kernaanlegte gooi, en toe beveel het dat die oorlog moes ophou.

Mens wonder wat daar in Ukraïene gaan gebeur ...

Sal ‘n soortgelyke uitkoms moontlik wees?

 

In elk geval, kom ons gaan nou verder met Antiochus Epifanes.

Stert tussen die bene keer hy terug.

En soos u sal begryp, buitengewoon gefrustreerd.

Op sy terugpad kom hy deur Jerusalem.

En daar loop dinge toe fout.

Hy het nog nooit van die Jode gehou nie.

Hulle was altyd opstandig, hardkoppig, wou net hulle eie godsdiens aanhang, het steeds sy pogings weerstaan om hulle meer Hellenisties te maak.

En dus bars hy los om sy gekrenkte trots te wreek.

Vers 30 sê: “dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree ...”

Hoe optree?

Wel, sy soldate kry opdrag om alle vroue te vermoor wie se seuntjies besny was.

En hulle moes elke Jood dwing om aan Zeus – die Griekse oppergod – te offer.

Antiochus bars die tempel binne, hy beëindig die daaglikse offers daar.

Hy plaas selfs ‘n altaar van Zeus bo-op die brandofferaltaar van die HERE.

Almal moet nou aan Zeus offer.

Vers 31 sê: Hy stel die ontsettende gruwel op.

Die woord gruwel word in die Ou Testament gebruik in verband met afgodsdiens.

Dink aan Deuteronomium 27: “Vervloek is die man wat 'n gesnede of gegote beeld maak, 'n gruwel vir die HERE” (Deut 27:15).

Die 2020-Vertaling vertaal: die verfoeilike afgodsbeeld oprig (vers 31).

So ontheilig Antiochus die heiligdom.

Israel se godsdiens word in die hart getref.

 

En, geslepe soos hy is, probeer hy die Jode omkoop.

En hy het gedeeltelik sukses.

Daar is die wat, soos vers 32 sê, goddeloos handel teen die verbond.

Antiochus kry dit reg om hulle met vleiery afvallig te maak.

Hulle wat hulle geloof in die God van Abraham verloën, gee hy silwer en goud.

Duisende Jode doen dit.

Selfs van die verstandiges – sê vers 35 – sal sommige struikel.

Ons sou vandag sê: selfs kerkmense – wat aktiewe gelowiges was – word nou ook afvallig.

Hulle beswyk onder die druk van dit wat rondom hulle aangebied word.

Klink dit bekend?

Is daar voorbeeld uit ons gemeente van hulle wat beswyk vir wat die wêreld aanbied?

 

Maar, God sy dank, nie almal nie.

Die tweede deel van vers 32 is bemoedigend.

Daar staan: “maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree.”

Hulle het sterk weerstand gebied.

Verskeie van hulle is toe deur die swaard omgebring.

Kortom, dit was ‘n verskriklike tyd.

Hoe kon God dit toelaat?

Hierdie vraag moes in baie gelowiges se gedagtes opgekom het.

Hoe kon Hy toelaat dat sy tempel so geskend word?

Hoe kan Hy toelaat dat sy troue volgelinge afgemaai word?

 

Maar gemeente, hier kom die nut van Daniël se profesie in.

Vir die gelowiges wat dit geken het, het die dinge – toe dit gebeur – begin sin maak.

En hulle kon vashou aan die belofte dat dit net ‘n rukkie sou duur: ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd, soos daar in hoofstuk 12:7 staan.

 

Die HERE het sy volk nie in die steek gelaat nie.

Uit die geskiedenis weet ons dat daar mense was wat weerstand gebied het.

 

(Tema: Benarde tye

1 Satan maak die wêreldheersers listig en venynig)

 

2 Christus maak sy volgelinge dapper

Daar was Jode wat weerstand gebied het.

Een van hulle was die priester Mattatias.

Toe die soldate in sy dorp kom en ‘n altaar vir Zeus oprig, het hy – soos Gideon van ouds – die altaar afgebreek.

Hy en sy vyf seuns moes toe vlug na die woestyn.

Daar in die woestyn het hulle ‘n weerstandsgroep begin vorm.

Ons kan aanneem dat Mattatias Daniël se profesie geken het.

Dit het die getroues vertroos: God het geweet dat dit sou gebeur.

Antiochus Epifanes het Hom nie onkant gevang nie.

Dit het hulle moed gegee.

Hulle het ‘n soort guerilla-oorlog teen die Siriese leërs begin voer.

En toe Mattatias sterf het sy seun, Judas Makkabeus, by hom oorgeneem.

Hy was ‘n militêre genie, soos Dawid van ouds.

En so het dit gebeur dat God se volk in hierdie beproewing, in hierdie benarde tye, darem ‘n klein bietjie hulp ontvang het, sê vers 34.

 

Vir God se volk was dit inderdaad ‘n tyd van groot beproewing.

Sommiges het trou en dapper gebly, geweier om aan Zeus te offer, hulle het moed geskep uit Matattias en sy seun Judas Makkabeus se weerstand.

Maar ander het ingegee, toegegee aan die afgodsdiens, uit listigheid sê vers 34, want dit het hulle goud en silwer opgelewer.

En so het Antiochus gedoen net wat hy wil.

Hy het homself verhef, homself groot gehou bo enige god.

Teenoor die God van die gode het hy verstommende dinge kwytgeraak (vers 36).

So is daar ‘n wig ingedryf tussendeur God se volk.

Maar God sy dank, in lyn met Daniël se profesie, was hierdie tragedie van beperkte duur.

Uiteindelik kry Judas Makkabeus dit reg om die tempel te bevry, die altaar te herbou, en die offerdiens te herstel.

Al het die offerdiens hierdie keer nie sewentig jaar stilgelê nie, tog was dit ‘n troumatiese tyd.

Hierdie profesie laat mens inderdaad terugdink aan die verwoesting van die tempel deur Nebukadnesar.

Toe het die daaglikse brandoffer ook opgehou.

Weer word dit ‘n benarde tyd, ‘n tyd van loutering en reiniging en suiwering (vers 35).

Daardie brutale koning sal homself verhef teen God, en dit sal selfs ‘n tyd lyk of hy baie voorspoedig is.

Maar, dis die gerusstelling, die tempel sal nie weer verbrand word nie, maar die volk wat hulle God ken, sal sterk weerstand bied (vers 32).

Christus sal hulle dapper maak.

 

Gemeente, wat het ons aan hierdie gedeelte van Daniël se profesie?

Wel, in die verdere verloop van die wêreldgeskiedenis het geloofsvervolging nie uitgebly nie.

Van tyd tot tyd steek dit die kop op, dan op die een, dan op ‘n ander plek.

Vandag nog steeds.

Ek behandel tans met die belydeniskatkisante die onderwerp van die vervolgde kerk.

Vra gerus vir hulle oor die lande waar Christene tans baie swaarkry.

Soos Antiochus Epifanes was daar nog meer wêreldleiers na hom, tot vandag, wat die gelowiges vervolg het, of dalk andersom, wat bewus probeer om hulle om te koop en te verlei.

Inderdaad, of baie openlik en brutaal – dink aan die vervolgings in die tyd van die vroeë kerk; of dink aan die geloofsvervolging vandag in Noord-Korea onder direkte leiding van hulle president.

Maar ook is daar wêreldleiers wat die getroues verlei, omkoop, sodat hulle hulle diens aan die enige ware God verruil vir die genot van goud en silwer, ‘n sekulêre lewe wat ver wegdwaal van sy Woord af.

Tog, te midde van al hierdie bedreigings – of dit brutaal is of subtiel – bly Christus sy kerk beskerm.

Daar sal altyd die spreekwoordelike sewe duisend wees wat nie hulle knie voor Baäl buig nie, wat dapper sal bly.

Selfs al kom dit hulle duur te staan.

Paulus skryf: “Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Fil 3:8).

 

Geliefdes, die Satan probeer sy wig te dryf dwars deur die kerk, net soos destyds by Antiochus Epifanes.

Satan probeer sy wig te dryf dwars deur die nagmaalstafel.

By die eerste nagmaalstafel het hy dit al gedoen, en hy hou nie op nie.

Bly trou, fokus op julle Aanvoerder, Jesus Christus.

Julle sal nie – beloof Hy – bo julle kragte versoek word nie.

“Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee” (1 Kor 10:13).

Moenie lui raak in die kerk nie.

Gebruik die geleenthede, nou dat jy kan, om sy Woord te bestudeer, om sy profesieë te leer ken.

Berei jouself voor op die toekoms.

Oefen jou – nou dat dit relatief maklik is – in troue diens aan die HERE.

Die oomblik as die beproewinge kom, as jy dan eers moet begin oefen, dan gaan dit te laat wees.

 

Gemeente, DV gaan ons in ‘n volgende preek verder met Christus se profesie aan Daniël.

Dit sal duidelik word dat die profesie oor meer handel as net daardie tyd van Antiochus Epifanes en Judas Makkabeüs.

Aan die slot van die profesie lees ons dinge wat ons sterk laat dink aan die wederkoms, dinge wat ook vir ons nog toekoms is.

Soos die opstanding van die wat in die aarde slaap – 12:2; en die laaste oordeel – sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid vir ewig afgryslik.

En die indrukwekkende woorde waarmee die profesie eindig: “die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.”

(Dan 12:2)

Dit laat ons aan die ewige lewe dink.

 

Hierdie profesie is soos ‘n vergesig.

Jy staan op ‘n hoë berg en jy kan verre horisonne sien.

Op die berge wat naby is, kan jy nog bietjie detail sien.

Maar die verweg berge aan die horison word al hoe blouer.

En die afstand tussen hulle moeilik om in te skat.

So laat Christus Daniël ‘n vergesig sien.

Die bedoeling is om te troos, vir hom, maar ook vir ons, vir alle gelowiges wat in alle daaropvolgende eeue hierdie profesieë lees.

Christus het, toe Hy aan Daniël verskyn, sy hand gerusstellend op hom gelê.

Dieselfde doen Jesus met jou en my.

Al is Hy die Almagtige op die troon, Hy buk en tel jou op, Hy stel jou gerus oor die toekoms.

Moenie oor die toekoms ongerus wees nie.

“Welgeluksalig is hy wat bly verwag” – 12:12.

Al God se beloftes is in Christus ja en amen.

Hou vas aan sy profesieë.

“Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen” (2 Kor 1:20).

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 43:2,3

Wet

Ps 140:5-7,10,11

Gebed

Skriflesing: Daniël 11:2-45

Sb 43:1-3

Teks: Daniël 11:21-35

Preek

Sb 43:4-6

Gebed

Kollekte

Ps 56:2,3

Seën