Preek: Daniël 10 – 11:1
Die boek Daniël bestaan globaal uit twee dele.
In die eerste deel is daar episodes uit die lewensgeskiedenis van Daniël en sy vriende in Babel.
Dink aan Daniël wat Nebukadnesar se drome verklaar.
Sy vriende in die brandende vuuroond.
Daniël in die leeukuil.
Sowat ‘n jaar en ‘n half gelede het ek in ‘n serie preke hieraan aandag geskenk.
Dan is daar die tweede deel wat veral bestaan uit visioene, profesieë oor die toekoms.
Daniël het gelewe tydens die ballingskap, ‘n skarnierpunt in Israel se bestaan.
Voor die ballingskap was daar die geskiedenis van die koninkryk van Dawid en Salomo, en die ryke Israel en Juda.
En die toenemende afval van die HERE wat uiteindelik tot die ballingskap gelei het.
Die ballingskap het die volk tot veroormoediging gebring, dink aan die pragtige gebed van Daniël in hoofstuk 9, waar hy homself saam met die volk voor God verootmoedig, skuld bely, vergifnis vra.
En die HERE was genadig.
Hy gee sy volk ‘n nuwe kans.
Daniël lewe op die skarnierpunt tussen verlede en toekoms.
Nou lê daar ‘n nuwe toekoms voor.
‘n Onbekende toekoms.
‘n Onseker toekoms.
Wat sal dit inhou?
Mens kan verstaan dat ‘n volk onseker kan raak as sulke erge dinge met hulle gebeur het.
Maar in die tweede deel van Daniël berei die HERE sy kinders voor.
Inderdaad, ‘n onseker en onstuimige toekoms lê voor die deur.
Maar – dit is rooi draad deur die profesieë – die HERE sal daar wees vir sy volk, al is hulle hoe klein en weerloos.
Voel jy jou ook klein en weerloos?
Is jy bekommerd oor jou toekoms, die kerk se toekoms, die wêreld se toekoms?
Tema: Die verskyning van Hom wat die toekoms bepaal
1 Wie is hierdie Man?
2 Wat doen hierdie Man?
1 Wie is hierdie Man?
Die laaste drie hoofstukke van Daniël vorm ‘n eenheid.
Daniël ontvang ‘n profesie van ‘n Man wat aan hom verskyn.
Ons fokus vandag met hoofstuk 10 spesifiek op die Man wat aan hom verskyn.
In die volgende preek oor hoofstuk 11 sal ons nader ingaan op sy boodskap.
Daar is iets besonder aan hierdie laaste drie hoofstukke van Daniël.
Daniël het deur sy lewe al verskillende visioene ontvang, wat hom ook persoonlik diep geraak het.
In hoofstuk 8 lees ons byvoorbeeld dat hy dae lank siek was na die gesig wat hy gesien het.
Tog is dit in hoofstuk 10 nog intenser.
Die Man wat deur God gestuur word om aan Daniël te verskyn, maak ‘n ongelooflike indruk op hom.
Dit het plaasgevind, sê vers 1, in die derde jaar van koning Kores se heerskappy oor die Perse.
Koning Kores is bekend onder twee name.
Hy het ook bekend gestaan as Darius die Meder (Dan 6:29).
Daniël het ‘n belangrike posisie aan sy hof beklee, Darius het hom tweede in bevel gemaak oor sy ryk (Dan 6:4,29).
Koning Kores is nie ‘n onbekende in die Bybel nie.
Ook in ander Bybelboeke lees ons oor hom.
Hy het ‘n dekreet uitgevaardig in die eerste jaar van sy heerskappy dat die Israeliete mog terugkeer na hulle land, dat die tempel herbou mog word.
In die tweede jaar van sy heerskappy het van die Jode inderdaad teruggekeer, en die offerdiens in Jerusalem het weer op gang gekom.
En dan kom ons by die derde jaar van Kores, waarna vers 1 verwys.
In daardie dae, skryf Daniël, het ek drie volle weke getreur.
Pleks van bly te wees – dit was juis die tyd vir die Pasgaviering – was hy bedruk.
Hoekom so?
Was dit omdat hy persoonlik nie in Jerusalem kon wees nie?
Onthou, hy was nou al ‘n man van ongeveer 90 jaar oud.
Terugkeer sou vir hom fisies onmoontlik gewees het.
Waarskynlik was daar ‘n ander rede.
Ons kan aanneem dat hy berig ontvang het dat dit maar moeilik gaan in die beloofde land.
Die teruggekeerdes ontmoet baie teenstand van die heidene en Samaritane.
Hulle raak ongemotiveerd.
Hulle is al ‘n jaar daar, maar selfs die fondament vir ‘n nuwe tempel was nog nie gelê nie.
Miskien was Daniël ook bedroef oor die feit dat relatief min Jode teruggekeer het.
Die meeste Jode het verkies om in Babel te bly, waar hulle ondertussen ‘n goeie welvarende lewe opgebou het.
In elk geval, ten spyte van Kores se dekreet, ten spyte van die terugkeer, was hy tog somber oor die toekoms van God se volk.
Watter donker wolke sal oor hulle saampak?
Is daar nog wel ‘n toekoms vir God se volk?
Maar dan verskyn ‘n Man aan hom.
Daniël gee ‘n kort beskrywing van hierdie Man:
Met linne bekleed.
Heupe omgord met goud van Ufas.
Sommige manuskripte het in pleks van Ufas die naam Ofir – ‘n ou naam vir Afrika.
Sy liggaam was soos chrisoliet, ‘n helder groen edelsteen.
Sy gesig het geflikker soos bliksem.
Sy oë was soos brandende fakkels.
Sy arms en voete soos blinkgeskuurde koper.
En as Hy praat, klink dit of ‘n menigte saam in spreekkoor praat.
Die vraag op ons lippe is natuurlik: Wie is hierdie ongelooflik indrukwekkende Man?
Kom ons kyk na nog ‘n plek in die Bybel waar so ‘n indrukwekkende Persoon aan ‘n mens verskyn.
In Openbaring 1 lees ons van ‘n Man met ‘n kleed wat tot op sy voete hang, met ‘n goue gordel.
Sy hare wit soos wol en sneeu.
Sy oë soos ‘n vuurvlam.
Sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond.
Sy stem soos die stem van baie waters (Openb 1:13-15).
Is die ooreenkoms tussen hierdie twee beskrywings nie treffend nie?
Kan dit wees dat dit oor dieselfde Persoon gaan?
Nou in Openbaring 1 stel hierdie Man Homself voor:
Ek is die Alfa en die Omega.
Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid.
Ek het die sleutels van die doderyk en die dood.
Sonder twyfel is hierdie Man in Openbaring 1 Jesus Christus, wat aan Johannes verskyn het.
Sou dit kan wees dat Christus ook aan Daniël verskyn het?
In ons teks word ook die reaksie op die verskyning beskryf.
Hoewel net Daniël die verskyning gesien het, het die manne wat saam met hom was, ook groot geskrik, gevlug en weggekruip.
Daniël het self flougeval – daar het geen krag in hom oorgebly nie.
Hy het spierwit geword.
Hy het bewusteloos op sy gesig geval teen die grond.
Nou ook wat die reaksie op hierdie Persoon se verskyning betref, is dit goed om elders in die Bybel te kyk.
Is daar meer voorbeelde van mense wat so gereageer het op ‘n verskyning?
Kom ek noem enkele voorbeelde.
Eerstens die apostel Johannes, na wie ek al verwys het.
Toe Christus aan hom verskyn, het hy soos ‘n dooie voor sy voete geval (Openb 1:17).
Nog ‘n voorbeeld is Esegiël.
In Esegiël 1 lees ons hoe die HERE aan hom verskyn in al sy heerlikheid.
En Esegiël se reaksie: “toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval” (Es 1:28)
Dit was sy menslike reaksie op die verskyning van die heerlikheid van die HERE (Es 1:28).
Nog een voorbeeld:
In Handelinge 9 lees ons hoe Christus aan Saulus verskyn.
‘n Lig uit die hemel het hom skielik omstraal (Hand 9:3).
Klink soos weerlig, dink aan hoe Daniël dieselfde beskryf:
Sy gesig het geflikker soos bliksem.
En in reaksie daarop het Saulus op die grond geval en blind geword.
In Esegiël was dit die HERE wat aan hom verskyn het.
In Handelinge was dit Christus wat aan Saulus verskyn het.
Die gevolgtrekking word nou al hoe duideliker, gemeente.
As Daniël ‘n soortgelyke verskyning beskryf as Esegiël, Paulus, Johannes;
as Daniël ‘n op dieselfde manier reageer as Johannes, Esegiël, Paulus;
dan is dit tog duidelik dat die HERE self hier aan Daniël verskyn?
Meer spesfiek – soos ons Hom uit die Nuwe Testament ken – die Tweede Persoon God Drieënig.
Jesus Christus, maar dan voor sy menswording.
Ja Christus was al daar, en Hy was al aktief in die Ou Testament.
Daar is meer voorbeelde.
Het Hy nie aan Jakob verskyn en met hom geworstel nie (Gen 32)?
Het Hy nie aan Josua verskyn nie (Jos 5)?
Hy het Homself as die Leërowerste van die HERE aan Josua voorgestel (Jos 5:14).
En ook hier in Daniël verskyn Hy as die Aanvoerder van alle engelestryders.
Geweldig indrukwekkend, oogverblindend.
Sodoende dat ook Daniël plat op die grond geval het.
En eers nadat die Man sy hand op hom gelê en gerusgestel het, het Daniël waggelend opgestaan, op sy knieë en handpalms.
Dit is die derde ding, gemeente, waaruit blyk, dat dit hier oor die HERE Christus self gaan.
Die manier hoe die Man reageer.
Die Man het sy hand op Daniël gelê, Hy het hom gerusgestel.
Moenie bang wees nie, het Hy gesê.
Dus, al is hierdie Man vreesaanjaend, Hy is ook simpatiek, Hy help Daniël op, Hy stel hom gerus.
En ook wat dit betref sien ons ooreenkomste met ander voorbeelde in die Bybel.
By Esegiël het die Gees van die HERE oor hom gekom en hom laat regop staan.
By die apostel Johannes lê Christus sy regterhand op hom en sê: Moenie vrees nie.
Elke keer dieselfde manier hoe Christus die persoon aan wie Hy verskyn behandel.
Gerusstellend, bemoedigend, versterkend.
Nog ‘n laaste ooreenkoms wat ek wil noem is dat die manne wat by Daniël was, die gesig nie gesien het nie, maar wel groot geskrik het.
Dieselfde gebeur by Paulus oppad na Damaskus.
Die manne wat saam met hom op pad was, het wel die stem gehoor en ook op die grond geval, maar niemand gesien nie (Hand 9:7; 26:14).
So verskyn Christus aan wie Hy wil, wanneer Hy wil, in Ou en Nuwe Testament.
Oogverblindend, ontsagwekkend.
En as Hy verskyn, is dit vir ‘n baie spesiale rede, met ‘n baie belangrike boodskap.
So ook by Daniël, en daarna gaan ons volgende kyk.
(Tema: Die verskyning van Hom wat die toekoms bepaal
1 Wie is hierdie Man?)
2 Wat doen hierdie Man?
Want Daniël treur, hy is diep bekommerd oor die toekoms.
Donker wolke pak saam oor God se volk, daardie groepie wat teruggekeer maar nog nie daarby uitgekom het om die tempel te begin herbou nie.
Nou is die regte tyd, oordeel Christus, om aan Daniël te verskyn.
Om aan Hom duidelik te maak wie Hy is, wat Hy doen, wat daar gaan gebeur, hoekom dit gaan gebeur, en dat dinge nie uit die hand sal loop nie, hoe donker dit ook lyk.
Kom ons kyk vir ‘n oomblik na wat Christus oor Homself bekend maak.
Christus sê dat Daniël se gebed gehoor en verhoor is, en Hy wou al eerder gekom het om dit vir Hom te sê.
Maar daar was iets wat Hom opgehou het, vers 13:
Die vors van die koninkryk van die Perse het 21 dae lank teenoor my gestaan.
Maar toe het Migael, een van die vernaamste vorste, gekom om Hom te help.
Daar is uitleggers wat beweer dat hierdie verse bewys dat die Man wat aan Daniël verskyn, nie God, nie Christus kon gewees het nie.
Want dan sou Hy tog nie hulp nodig gehad het nie?
Hy is mos almagtig ...?
Hoekom sou Hy vir Migael moes gewag het?
Was Hy dan nie self sterk genoeg teen die vors van die Perse nie?
Hulle dink dat hierdie Man eerder iemand soos die engel Gabriël moes wees.
Tog is wat hier staan nie in stryd met wat ons elders in die Ou en Nuwe Testament oor Christus lees nie.
Al is Hy almagtig, tog maak Hy van engelevorste en engeleleërs gebruik.
Vir Josua noem Hy Homself die Leërowerste van die HERE (Jos 5:14).
Hy is Generaal oor alle engelemagte wat daar bestaan.
Hy is die Aanvoerder in die groot stryd teen die “owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug”, soos die vyand in Efesiërs 6:12 beskryf word.
Daar staan derduisende engele gereed om Hom te hulp te kom.
So verseker Christus vir Petrus: “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?” (Matt 26:53)
Christus is almagtig, maar terselfdertyd maak Hy om sy plan te verwesenlik, van geskape wesens gebruik.
Christus openbaar aan Daniël dat daar ‘n geestelike oorlog gevoer word, vir mense op aarde onsigbaar, maar tog ‘n oorlog wat van groot invloed is op aarde.
Paulus roep die gelowiges op om die wapenrusting van God aan te trek, om staande te kan bly in hierdie onsigbare oorlogsvoering (Ef 6:13).
Aanvoerder van die vyandige leër is die heerser oor die mag van die lug, so beskryf Paulus die Satan in Efesiërs 2:2.
Hy het engele, demone, onder hom, wat hy uitplaas op strategiese plekke.
So ook in die koninkryk van die Perse.
As in vers 13 verwys word na die vors van die koninkryk van die Perse, verwys dit nie na ‘n mens, na die koning van Persië nie.
Maar dit verwys na ‘n bose gees in diens van die duiwel, wat die konings van die Perse in sy mag probeer hou.
Daar vind ‘n geestelike stryd plaas, ‘n stryd wat die gang van die Persiese ryk bepaal.
En Christus is direk daarby betrokke, saam met sy engelemagte, saam met Migael, een van sy vernaamste vorste.
Om die sluier vir ‘n oomblik op te lig, in die boek Ester lees ons iets oor hierdie geestelike oorlog wat in die Persiese Ryk besig was om plaas te vind.
Die vors – die bose gees – van Persië, staan teenoor Migael, die vors in diens van Christus.
Christus het hom ontbied, want die Vader stuur Hom nou na Daniël.
En dus stasioneer Christus vir Migael om die stryd daar voort te sit.
Die duiwel is magtig, ook vandag.
Hy weet waar om die aanvoerders van sy bose magte te stasioneer.
Soos hulle die Persiese hof destyds geïnfiltreer het, reken maar dat hulle vandag ook die Kremlin geïnfiltreer het, en die Withuis, en die Europese Parlement, en die Groot Saal van die Volk in China.
Maar Christus is ook daar, Hy hou die wag.
Hy maak Migael verantwoordelik om te sorg dat dinge nie uit die hand loop in die koninkryk van die Perse nie.
Migael, een van sy voornaamste vorste of aanvoerders.
En vandag stry Migael nog steeds.
In Openbaring 12 lees ons: “En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en [maar] hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei ...” (Openb 12:7-9)
Gemeente, ons weet en verstaan maar min oor Christus se oorlogsvoering, en hoe Hy sy almag laat geld ook deur sy engelemagte in te span, en hoe Hy wat bo die tyd staan dit laat gebeur in die geskiedenis, in die verloop van die tyd op aarde, maar een ding weet ons wel: Feit is dat dit gebeur!
Christus stry, Hy is in beheer.
Hierdie boodskap kom bring Hy nou persoonlik aan Daniël.
En, die boodskap vir ons vandag het, ek is seker, al deurgekom.
As Christus as Almagtige – Pantokrator – Owerste oor die konings van die aarde (Openb 1:5), aktief was in Daniël se tyd, in die tyd toe die Perse die aarde beheers het, en die Grieke, en die Romeine in die apsotel Johannes se tyd, dan regeer Hy ook vandag.
Dan gaan Hy voort met die geestelike stryd in die lug, tussen sy leërmagte en die magte van die kwaad.
‘n Oorlogsvoering wat die uitkoms van elke sigbare oorlog op aarde bepaal.
Al plaas Satan sy vorste uit, wat probeer beheer oorneem oor die magtiges op aarde, en reken maar Satan se demone is aktief en invloedryk in Amerika, en in Rusland, en in China, en moenie vergeet nie ook hier in Suid-Afrika; nieteenstaande is Christus se leërmagte ook orals.
Die vorste aangestel oor sy engelemagte het eeue se ervaring in oorlogsvoering – Migael, Gabriel, en nog vele meer.
En bo hulle almal staan Christus self.
Hy, die Topaanvoerder oor die hemelse leërmagte, Owerste oor alle konings van die aarde.
Daniël en die Jode het onseker tye tegemoet gegaan.
Ons lewe ook in onseker tye.
Christus het persoonlik aan Daniël verskyn om hulle voor te berei daarop, maar nie net dit nie, om gerusstellend sy hand op hom te lê.
Wees nie bevrees nie.
Vr die wat die HERE vrees, sal alles ten goede meewerk (Rom 8:28).
Vertrou jy ook daarop?
Gemeente, ek gaan nog een keer terug na Daniël se tyd.
Koning Kores was waarskynlik toe die magtigste man op aarde.
Maar in God se hand is hy ‘n stukkie gereedskap om dit te doen wat sy groter plan dien.
Soos ek reeds genoem het, ons lees nie net oor Kores in Daniël nie.
In Jesaja staan daar ook veel oor hom.
Luister byvoorbeeld na wat daar oor hierdie magtige man staan in Jesaja 45:
“45:1 So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp” – ja Kores was magtig, hy het nasies neergewerp, maar dis die HERE wat hom in staat gestel het om dit te doen.
Maar die HERE het nog ’n taak vir hom gehad, en daarom het Hy hom so magtig gemaak om juis dit uit te voer:
Jesaja 45:4, daar sê die HERE oor Kores: “45:4 ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou 'n erenaam gegee [dis dus Kores], hoewel jy My nie geken het nie. 45:5 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou [Kores], hoewel jy My nie geken het nie, 45:6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; ... hy [dis Kores] sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk, sê die HERE van die leërskare.”
Oor dieselfde lees ons aan die begin van Esra:
“1:1 En in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE--sodat die woord van die HERE uit die mond van Jeremía vervul sou word--die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy 'n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê: 1:2 So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee; en Hy het my opgedra om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.”
Steeds is die HERE in hierdie gedeeltes die onderwerp van elke sin.
Hy handel, en Kores is slegs sy stuk gereedskap om sy raad uit te voer.
Om te sorg dat daar weer ’n tempel in Jerusalem kom.
En so, dit is Christus se versekering aan Daniël, sal die geskiedenis voortgaan.
Kores gaan op ’n dag sterf, en ook as later die Persiese ryk val, en die Grieke onder Alexander die Grote oppermagtig gaan word.
Dinge sal nie uit die hand loop nie, al mag dit by tye so voorkom.
Dink aan wat ook reeds aan Daniël meegedeel word, dat daar nogmaals ’n tyd sal kom waarin die offerdiens by die tempel gestaak gaan word.
Maar moenie wanhoop nie.
Wat geskrywe is in die boek van die waarheid (vers 21), God se vaste raadsplan, dit staan vas, en Christus is in beheer om dit tot uitvoering te bring.
Vandag kan ons dit net beaam.
Ons weet van die hemelvaart en dat Christus regeer op die troon.
Daarom, hou goeie moed.
Wat mense op aarde doen het konsekwensies vir die toekoms.
Dit geld vir konings en presidente, dit geld net soveel vir wat ek en jy met ons lewens doen.
Moenie dink jy is minder invloedryk as Trump of Putin of Ramaphosa nie.
Die manier hoe jy jou kinders opvoed, sal groot konsekwensies hê vir die toekoms.
Dit wat ‘n juffrou op laerskool met die kindertjies in die klas doen, het ewigheidswaarde.
Dit wat jy as ingenieur, of dokter, of bouer, of programmeerder of wat ook al doen, dit gaan die toekoms bepaal.
Leef trou in diens van die HERE, wees ‘n troue arbeider in sy koninkryk.
Jy is ook ‘n stuk gereedskap in Christus se hand.
Rig jou hart daarop om die HERE van harte te dien.
En wees nie bevrees nie.
Want die toekoms behoort aan Hom.
Amen.
Votum
Seën
Ps 98:3
Wet
Ps 48:4
Gebed
Skriflesing: Daniël 10 – 11:1
Ps 2:1,2
Teks: Daniël 10 – 11:1
Preek
Ps 2:3-5
Gebed
Kollekte
Sb 12:1,2
Seën