Die skatte wat ons deur die Heilige Gees ontvang

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-06-08
Teks: 
Handelinge 2
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 2

Tema: Die skatte wat ons deur die Heilige Gees ontvang

1e Tafel:

Dit is Pinkster.

Christus het uit die hemel die Heilige Gees uitgestort.

Christus is steeds aanwesig, nou deur sy Gees, in ons en in sy gemeente.

Ons bely in die Heidelbergse Kategismus (Sondag 20) dat die Heilige Gees my deel laat kry aan die weldade van Christus.

Ons kyk vanoggend wat hierdie weldade is.

Weldade is gawes, geskenke, skatte.

As jy vir ‘n oomblik dink aan die mees kosbare ding wat jy het.

As die wêreld aan skatte, waardevolle begeerlike dinge dink, is dit dinge soos ‘n mooi huis, mooi klere, ‘n duur motor, juwele, ‘n bosveldplaas.

Maar wat is die skatte van Christus wat ons deur die Gees ontvang?

Wel, ons kan begin met wat in die Apostoliese Geloofsbelydenis, wat ons nounet gehoor het, genoem word.

In die derde deel, wat oor die Gees handel, word sommige van hierdie skatte genoem:

- die kerk – die gemeenskap van die heiliges;

- vergewing van sondes;

- opstanding van die liggaam;

- ewige lewe.

In teenstelling tot aardse skatte, is hierdie skatte blywend.

Hierdie skatte kan jy met jou saamvat in die graf.

En as die wêreld bietjie verder dink, sal hulle ook erken dat hierdie skatte buitengewoon waardevol is.

Want wie wil nie vir ewig lewe nie?

Wie wil nie na die dood sy liggaam terugkry nie – ‘n volmaakte liggaam?

Maar hierdie toekomstige skatte word verkry deur middel van ander skatte wat ons nou reeds ontvang.

En dis die vergewing van sondes en die kerk – die gemeenskap van die heiliges.

Dis skatte waarin die wêreld dikwels nie belangstel nie.

Maar dis skatte wat ons ook op waarde skat, danksy die werking van die Gees in ons.

Daarom is ons vandag saam aan die nagmaal.

Ja die nagmaal is ook ‘n groot skat.

Christus is aanwesig, want sy Gees is hier.

As dit nie vir die Heilige Gees se werk in jou en my was nie, sou ons nie hier gewees het nie.

Sou ons die nagmaal onnodig gevind het.

Sou ons nie belanggestel het in ons broers en susters hier saam in die kerk nie.

Die nagmaal is ‘n groot geskenk.

Die gemeente is ‘n groot geskenk.

Jou medegelowiges is ‘n groot geskenk.

Dit is alles gawes van Christus waaraan die Heilige Gees jou deel laat kry.

En die Heilige Gees werk ook in jou die begeerte om aktief jou gawes in diens van die ander te stel.

Dit is dus een van die skatte wat baie sigbaar is aan die nagmaal.

Die kerk, die eenheid van die kerk, die gemeenskap van die heiliges.

Daarvoor sê ons dankie op Pinksterdag.

Die kerk wat sedert Pinksterdag al daar is.

Na die uitstorting van die Gees, na die Geesvervulde prediking van Petrus, nadat duisendes die Woord met blydskap aangeneem het en gedoop is, staan daar in Handelinge 2:42:

het hulle “volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.”

‘n Kort beskrywing vir dit wat in die kerk gebeur.

En tot vandag toe gebeur daar nog steeds in die kerk die breking van die brood – die viering van die nagmaal.

Kom ons sê dankie vir hierdie skat van Christus, waaraan U Heilige Gees, ons deel laat kry.

 

2e Tafel:

Daar is nog ‘n skat van Christus wat met nagmaalsviering op die voorgrond tree.

Dit is, wat ons ook in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely, die vergewing van sondes.

Dit is ook ‘n skat waaraan die Gees ons deel laat kry, en wel op die volgende wyse:

Want wat aan vergewing vooraf gaan, is berou, skuldbelydenis.

En waaroor die Skrif duidelik is, is dit iets is wat die Heilige Gees in ons moet werk.

Uit onsself sou ons nie berou gehad het nie.

Uit onsself is ons geneig om opstandig te bly.

Dit is die Gees wat die hart van klip sag moet maak.

Dit is Hy wat ons moet oortuig van skuld.

Christus het dit spesifiek genoem toe Hy die koms van die Gees aangekondig het:

“as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh 16:8).

In daardie konteks, het Christus veral verwys na die Joodse wêreld wat Hom as Messias sou kruisig.

Hulle het selfs gedink hulle doen ‘n goeie ding, toe hulle geroep het: “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Maar toe die Heilige Gees uitgestort is, het Petrus op Pinksterdag in sy preek die Jode oortuig dat dit wat hulle gedoen het, sondig was.

Dat hulle berou moes toon oor die feit dat hulle die Messias verwerp en gekruisig het.

En op daardie Pinksterdag het die Gees toe berou gewerk in duisende harte van mense in Jerusalem.

“Toe hulle dit hoor”, staan daar in Handelinge 2:37, “is hulle diep in die hart getref”.

So was die Gees aktief van die oomblik af dat Hy uitgestort is om mense na Christus toe te lei.

En die boek Handelinge vertel hoe die Gees saam met die apostels gegaan het, orals waar die apostels die Evangelie van Christus verkondig het.

“Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees” – staan daar in Handelinge 4:8 toe hy voor die owerstes en oudstes en Skrifgeleerdes in Jerusalem gebring is.

Oor Stefanus staan daar in Handelinge 6 dat hy “'n man vol van geloof en van die Heilige Gees” was (Hand 6:5).

Die Heilige Gees het vir Barnabas en Saulus opdrag gegee om op sendingsreis te gaan (Hand 13:2).

“So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus” – Handelinge 13:4.

Dis maar enkele voorbeelde.

Die Heilige Gees het deur die prediking die Woord in mense se harte laat insink, berou en bekering in hulle gewerk, en ook vergewingsgesindheid na ander toe.

Dit is die skat van Christus wat in die nagmaal so duidelik na vore tree.

Ons vier die wonder van vergewing.

Christus het aan die kruis vergewing verdien, en die Gees maak dit ons eie.

Hy leer ons bid en vra vir vergewing.

Hy maak ons ook vergewingsgesind.

Hy bring blydskap terug in ons lewens.

“Welsalig wie van skuld en straf onthewe, die woord mag hoor: Jou sondes is vergewe.” (Ps 32:1 – berymd).

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 13:3,4

Wet

Ps 143:2,8

Gebed

Nagmaalsformulier 1e deel

Sb 40:5

Nagmaalsformulier 2e deel

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:4

1e Tafel: Skriflesing: Handelinge 2:1-36; Preek 1e deel; Sb 27:5

2e Tafel: Skriflesing: Handelinge 2:37-47; Preek 2e deel; Ps 32:1

3e Tafel: Lofverheffing; Ps 84:1

Dankgebed

Kollekte

Ps 84:5,6

Seën