Waarskynlik een van die grootste probleme in ons samelewing is individualisme.
Jy kan nouliks meer van 'n samelewing praat.
Mense leef suiwer vir hulleself, is al hoe minder bereid om daar te wees vir ander, en het ook al hoe minder hulp van ander nodig.
Dit is die lewenshouding: individualisme.
Dit gaan alles oor myself.
Ontwikkel ek myself, geniet ek my eie lewe ten volle.
Dit werk nie altyd goed uit nie, want elke mens se lewe het ook terugslae.
Maar – so redeneer ons samelewing – met tegnologie kan ons dit dikwels oorkom.
Tegnologie bied die moontlikheid dat jou wense vervul word.
'n Aangrypende voorbeeld vir my van wat deesdae tegnies moontlik is, is allerlei ingrepe rondom bevrugting, swangerskap en geboorte.
Mense wat nie kinders kan kry nie, kan saad êrens gaan koop.
Of hulle kan ‘n ander vrou inhuur om hulle baba te verwag en daaraan geboorte te skenk.
Selfs homoseksueles kan iemand inhuur om ‘n kind vir hulle te baar.
Maar die vraag is: As iets tegnies moontlik is, is dit dan ook toelaatbaar?
Is dit die tegnologie wat ons grense bepaal, of is dit ons norme en waardes?
Ongelukkig sien mens steeds meer in die welvarende Weste – en ook in ons land – hoe die mediese tegniek misbruik word om die selfsugtige belange van ‘n individualis tegemoet te kom.
Danksy sonars kan al op baie vroeë ouderdom ‘n baba se geslag bepaal word.
Dit stel mense in staat om te aborteer as dit nie die geslag na hulle wense is nie.
Ek wil dit hê, en dit moet moontlik wees.
‘n Ander mag nie aan my oplê wat ek wel en nie wil nie.
Gemeente in Sondag 27 vind ons presies die teenoorgestelde van wat individualisme is.
Byvoorbeeld, in v/a 74 lees ons dat 'n kind van God in die verbond ingelyf word.
Kinders is nie die produk van hulle ouers se wense nie, selfs al ontvang hulle hulle gene van hulle ouers, hulle is unieke mense, hulle het ‘n unieke siel.
Elke kind is 'n unieke skepping van God.
Ouers het nie kinders om met hulle te doen wat hulle wil, om hulle ideale te verwesenlik nie.
Jy moet dit andersom sien:
Kinders word deur God geskape, en van God ontvang hulle ouers wat die taak en verantwoordelikheid van God kry om daardie kinders tot sy eer groot te maak.
Nie tot eer van die ouers nie, maar tot eer van die Skepper.
'n Kind is nie daar om jou individuele behoeftes te bevredig nie.
God gee kinders om sy verbond te bou.
God gebruik ouers om kinders groot te maak, om lojale lede van die gemeenskap van heiliges te wees.
Nie individualiste nie, maar verbondskinders.
Tema: Die verbond as die grondgedagte agter die doop
Is jy gedoop?
En wat beteken dit vir jou geloof?
Baie van ons is as kinders gedoop.
Kort na ons geboorte het ons ouers ons kerk toe geneem en ons is tydens 'n feestelike diens gedoop.
Ons onthou niks van die hele gebeurtenis nie.
Miskien het jou ouers nog ‘n opname van die diens, of foto’s.
Of jy het 'n doopkaart, ‘n doopboekie, ‘n Psalmboekie.
Maar jy het dit self nie bewustelik ervaar nie.
Beteken dit dan dat die doop nie veel vir jou geloof beteken nie?
Sondag 27 van die Heidelbergse Kategismus beklemtoon: Doop en geloof is onlosmaaklik verbonde.
Maar nie in die sin dat die doop bewys van jou geloof is nie.
Dis bewys dat jy opgeneem word in die verbondsgemeenskap waar jy gaan leer glo.
'n Kind word gedoop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees.
Op hierdie manier word die persoon wat gedoop word intens verbind met die Drie-enige God.
Die sakrament van die doop is 'n sakrament van inlywing.
Jy behoort aan Jesus Christus en jy is 'n lid van sy liggaam.
Jy is nie meer alleen nie, maar jy is nou deel van die verbond.
God gee jou 'n plek in sy gemeenskap.
In hierdie gemeenskap, en dit sluit eerstens jou ouers in, maar dan ook die ouderling, die predikant, die jeugleier en al die ander kerklidmate, in hierdie gemeenskap leer God jou om te glo.
En God gebruik al hierdie mense om jou te leer glo, om jou op te voed.
Wanneer die doop in die Bybel die bad van die wedergeboorte en die afwassing van sondes genoem word, beteken dit nie dat die doopwater as sodanig kragte van genade bevat nie.
Dit is en bly slegs water, wat as teken wys na die bloed en die Gees van Christus.
Sy bloed neem jou sondes weg, sy Gees vernuwe jou lewe.
Dit word ‘n werklikheid tydens die geloofsopvoeding en dit duur voort jou hele lewe.
Die doop is die teken, die rigtingaanwyser na die ware ding.
In daardie sin kan jy sê: Sonder geloof het die doop geen effek hoegenaamd nie.
Enigiemand wat sy kinders laat doop, maar hulle daarna nie ‘n geloofsopvoeding gee nie, het geen waarborg dat die kind gered sal word nie.
Die doel van die doop is dat jy lid word van 'n geloofsgemeenskap waar jy leer om te glo.
Deur die doop is ons lede van Christus se liggaam.
Paulus sê:
“Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.“ (1 Kor 12:13).
Dit moet dus nie gebeur dat iemand sy kind laat doop en daarna amper nie meer sy gesig in die kerk wys nie.
Die doop is nie afsonderlik beskikbaar nie.
Deur die doop kry ons en ons kinders 'n plek in die midde van die kerk.
Daarom word die doop altyd in die kerkdiens bedien.
Daar ontmoet gedoopte mense mekaar elke Sondag.
Daar verskyn hulle voor God se aangesig.
Daar leer hulle om te glo, wanneer die Gees geloof werk deur die verkondiging van die Woord.
Nou klink dit alles dalk baie mooi, maar daar is steeds baie mense wat groot probleme ondervind met die kinderdoop.
En hulle gee hul redes hiervoor.
Hulle wys na soveel mense wat ooit as baba gedoop is, maar glad nie soos Christene lewe nie.
Die hoofrede hiervoor is die karakter van baie kerk in ons land.
Dit word ‘n volkskerk-mentaliteit genoem.
Omdat jy ‘n Afrikaner is, behoort jy gedoop te wees, behoort jy ‘n kerklid te wees.
Maar aktiewe weeklikse kerkbywoning is grootliks afwesig.
As die doop bedien word aan kinders wie se ouers skaars by die kerk betrokke is, op Sondae en gedurende die week, word die doop ondermyn.
En wat baat die doop vir iemand as hy nie ook deur godsdiensonderrig binne die kerkgemeenskap leer glo nie?
As dit nie gebeur nie, dan sal die doop òf 'n leë dop bly, omdat die gedoopte persoon as 'n ongelowige sal grootword omdat die ouers hul plig verwaarloos, òf die gedoopte persoon sal later daarteen reageer.
In die sin van: Sien jy, my kinderdoop was van geen nut vir my nie, dit het my nie geloof gegee nie.
En in reaksie hierop skuif hulle na byvoorbeeld die Baptiste, waar die kinderdoop verwerp word.
Waar volwasse doop 'n teken van jou geloof word, en nie meer van God se genade nie.
Die Heidelbergse Kategismus korrigeer hierdie wanbalans deur eerstens en veral weer baie aandagtig na die Bybel te luister.
Nie net geïsoleerde tekste nie, maar aandag gee aan die grondgedagte, die basiese lyn, wat deur die hele Bybel loop.
En dit is die VERBOND.
In sy uitverkiesende liefde het God 'n verbond met Abraham en sy nageslag gesluit.
Alhoewel dit geblyk het dat Israel nie in die Ou Testament 'n betroubare verbondspartner was nie, gee God nie moed op met hulle nie.
Hy bly getrou aan sy verbond en stuur uiteindelik sy Seun, Jesus Christus.
Christus stel die nuwe verbond bekend.
Hierdie nuwe verbond verskil van die oue in vorm, maar nie in wese nie.
Die grondgedagte bly dieselfde.
Wat inhoud betref, is dit ‘n voortsetting van die ou verbond.
Calvyn in die besonder het hierdie siening van die eenheid van die Skrif (Ou en Nuwe Testamente) diepgaande uitgewerk, en die skrywers van die Kategismus het daaruit geput.
Dis ‘n uitgemaakte saak dat klein kindertjies ook ten volle deel het aan die verbond en sy beloftes.
En daarom deel hulle ook in die sakrament van die doop.
Enigiemand wat die kinderdoop verwerp, sal 'n groot skeiding tussen die Ou en Nuwe Testament moet maak.
Asof Christene nie “Abraham se kinders” (Gal 3:29) is en nie in Israel ingelyf, ingeplant is nie.
Hier kan jy byvoeg dat dit opvallend is dat Paulus 'n gesin twee keer in Handelinge 16 doop.
Eers dié van Lydia, en toe dié van die tronkbewaarder van Filippi.
Dit sou nogal toevallig wees as daar geen kinders in enige van die gesinne was nie.
Trouens, die Griekse woord wat daar gebruik word, sluit kinders in.
Dis soos die eerste lesers dit verstaan het.
Dit pas ook nie in die Bybelse denke om kinders uit te sluit nie.
Die Bybelse denke is baie meer kollektief as waaraan ons deesdae gewoond is.
Die individualisme het te veel invloed op ons denke gehad.
Dink ook aan die Evangelies, waar ons lees dat Jesus die kinders hartlik verwelkom en seën, terwyl Hy benadruk: Aan hulle behoort die koninkryk van God.
Daar is baie meer wat gesê kan word vir diegene wat onbevange na die Bybel wil luister.
Maar juis dit is vir ons dikwels so moeilik.
Tog verwag die HERE van ons dat ons die Bybel lees soos Hy dit bedoel het.
Deel die kinders van gelowige ouers nie in die volle verlossing van Christus nie?
Ja hulle doen.
As hulle as baba’s te sterwe kom, is daar geen twyfel oor hulle saligheid nie.
As hulle opgroei, vereis God – na gelang van hulle ouderdom en toerekeningsvatbaarheid – wel steeds meer verantwoordelikheid.
Dat hulle self ook hartlik kies om die Here te dien en Hom lief te hê.
Mag ons hulle uitsluit uit die verbondsgemeenskap, omdat hulle weens hul ouderdom nog nie kan praat en hul geloof kan bely nie?
En wat van die verstandelik gestremdes?
Daar is diegene wat nie eers die woord "ja" kan sê nie.
Leef hulle nie ook onder die belofte van God se verlossing nie?
Die persoonlike geloofsbesluit is onmisbaar, maar God hou rekening met elke mens se vermoë.
Almal van baba’s tot die grysaards, van die verstandelik gestremdes tot die hoogsbegaafdes, almal deel in dieselfde voorregte van die verbond.
En deur in die lyn van die verbond te dink, maak die Kategismus die stelling dat die doop die besnydenis vervang het.
Want besnydenis was nie bloot 'n uiterlike teken nie.
Paulus noem die besnydenis in Romeine 4:11: “'n seël van die geregtigheid van die geloof”.
Die besnydenis het ‘n Israeliet nie gered nie.
Die besnydenis het elke Israeliet wel in die geloofsgemeenskap opgeneem.
Dieselfde geld vir die doop, wat Paulus “die besnydenis van Christus” noem (Kol 2:11)
Doop en besnydenis is nie teenoorgesteldes nie.
Hulle is tekens van dieselfde saak.
Naamlik verlossing deur Christus.
In die Ou Testament was dit nog toekomsmusiek.
In die Nuwe Testament, nou, is dit ‘n harde feit.
In die sin is die doop 'n verryking in vergelyking met die besnydenis.
Om te moet kies tussen die bloed van die besnydenis en die water van die doop, dis nie ‘n moeilike keuse nie.
So weer eens, die doop is nie 'n teken van jou geloof nie.
Die doop is 'n teken van wat God aan jou belowe.
God belowe dat Hy alles van sy kant sal doen om jou te red.
Hy het sy eie Seun aan jou gegee, deur sy gestorte bloed ontvang jy verlossing.
En Hy, Christus, maak jou deel van sy liggaam, die gemeenskap van die kerk.
En God gebruik ouers en onderwysers en kategete en predikante om jou die geloof te leer.
By die doop wil God dus ook van die ouers hoor dat hulle 'n plegtige belofte maak dat hulle sal saamwerk aan die kind se geloofsopvoeding.
As jy so na die doop kyk, sal jy elke dag daarby baat vind.
By die doopvont is as ‘t ware die kontrak geteken, die verbond gesluit, die voordele beskikbaar gestel, waarvan jy die res van jou lewe dankbaar gebruik mag maak.
En vir die van ons wat reeds baie bewus glo, dit is 'n gevolg van die verbond wat by ons doop gesluit is, dit het alles daaruit voortgevloei.
Dit is juis in die kinderdoop wat mens sien hoeveel hart God vir sondige mense het.
Hy het ons nie net lief nadat ons tot geloof gekom het nie.
Hy het ons eerste lief, neem ons in sy verbond op selfs wanneer ons nog babas is, en in sy verbond skep Hy die ideale omgewing waarin ons tot geloof kan kom en uiteindelik vir ewig gered kan word.
Jesus waarsku die Fariseërs om nie een van hierdie “kleintjies” te laat struikel nie (Matt 18:6).
In daardie geval kan so iemand liewerste met 'n meulsteen om sy nek in die see gegooi word, sê Jesus.
Wat 'n groot verskil is daar tog tussen hoe Christus kinders behandel en hoe ons individualistiese samelewing kinders gebruik.
Gemeente, laat ons Christus hierin volg.
Laat ons raaksien hoe hulle deur God geliefd is.
God gee jou as volwassene die verantwoordelikheid om die kinders na God te bring.
Moenie hulle verhoed nie.
Dit is juis jou eie doop wat jou daartoe aanspoor.
Jou doop het die verbond ook as grondgedagte.
Verbond, dit is gemeenskap.
Ons is gemeenskapsmense, nie individualiste nie.
Jonk en oud, saam mag ons aan die HERE behoort.
'n Verbondskind weet dat hy of sy deel is van 'n gemeenskap wat Christus bymekaarbring.
In hierdie gemeenskap is ons diensbaar, deur dik en dun.
'n Individualis gebruik die gemeenskap en onttrek hom aan die gemeenskap as persoonlike wense nie voldoende bevredig word nie.
As kerk vorm ons 'n verbondsgemeenskap.
'n Gemeenskap wat nie geslote is nie, maar ons nooi medesondaars uit, wie God ook al op ons pad plaas: òf dit 'n baba is, òf 'n ongelowige volwassene wat nog nooit gedoop is nie, vir albei sê ons:
Kom saam met ons, doen soos ons doen!
Wat ons saambind, is die verlossing in Christus, wat sonder aansien van persoon is.
Wat ons saambind, is die wil van die HERE, wat goed is vir elke mens.
Dit is die basiese idee agter die doop: Jy word deel van die verbondsgemeenskap, die kerk.
Die kerk is nie 'n mengelmoes van individualiste, elkeen met sy eie wense en voorkeure nie.
Dit is ‘n bedreiging vir die kerk in ons individualistiese era.
Die een wil dit hê, die ander dat.
Sommige mense wil meer vryheid hê in kerkbywoning, hoekom moet hulle elke Sondag twee keer kerk toe gaan?
Die ander wil hê dat alles dieselfde in die kerk moet bly.
Sommige mense wil hê dat kerkdienste meer toeganklik moet wees, terwyl ander nie.
Maar laat ons versigtig wees dat individualisme nie in jou lewe, en ook in die kerk, insluip nie.
Ek sal elders kerk toe gaan as iets my nie aanspreek nie.
Ek dink daaraan om te onttrek, iets word van my verwag wat nie pas in my leefstyl nie.
Besef u, gemeente, dat dit individualistiese stellings is?
Ek kies nie of ek aan die gemeenskap wil behoort of nie.
Ek en jy het geen reg om ons aan hierdie gemeenskap te onttrek nie.
Dit is God wat my in hierdie gemeenskap insluit.
Vandaar die beginsel van geografiese grense tussen kerke.
Vandaar die feit dat die hele gemeente in die erediens voor God se aangesig verskyn.
Jongmense gaan nie na hulle eie kerk toe nie.
Daar is ook nie ‘n kinderkerk nie.
Ouer mense kan nie eis dat in die kerk net die taal uit die verlede gepraat moet word nie.
Die kerkgemeenskap as geheel verskyn voor God se aangesig.
'n Erediens gaan oor die HERE.
Hy word deur die hele gemeenskap aanbid.
Of ek waarde vir my geld kry, is nie die hoofsaak nie.
Of die HERE sy eer ontvang, daarvoor is die kerk daar.
'n Gemeenskap, oud en jonk, gereinig deur die bloed van Christus, geheilig deur die Heilige Gees, verskyn voor God se aangesig.
En dit is die boodskap van Sondag 27.
Die kerk is 'n verbondsgemeenskap, wat ook kinders insluit.
God is baie bly om die kleintjies ook in die kerk te sien.
Hulle behoort net soveel aan die verbond as volwassenes.
As hulle nie teenwoordig was nie, sou God nie sy volle eer ontvang het nie.
Hy is immers die Skepper van daardie kinders!
Hy het hulle gedoop, hulle behoort aan Hom.
Aan hulle beloof Hy ook verlossing.
God wil ook sy lof uit hulle monde hoor.
Amen.
Votum
Seën
Ps 8:1,2
Wet
Ps 32:1
Gebed
Doopsbediening
Doopsformulier
Gebed
Vrae aan ouers
Doop
Oproep aan die gemeente
Sb 14:1,2
Dankgebed
Skriflesing: Romeine 4:1-12 & 1 Korinthiërs 12:12-26
Ps 32:4
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 27
Preek
Ps 34:5,6
Gebed
Kollekte
Ps 81:1,4,12
Seën