In Kapernaum openbaar Jesus sy gesag deur die kragtige werking van Sy Woord

Predikant: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2025-06-15
Teks: 
Lukas 4:31-44
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

In die vorige teks het ons gesien hoe Jesus met Sy bediening in Galilea begin het.
Ná Sy versoeking deur Satan in die woestyn, het Hy na Nasaret teruggekeer - Sy tuisdorp - maar daar is Hy verwerp. Hulle wou hom by ‘n krans afgooi.
Jesus is toe daar weg, en in vanoggend se teks kom hy in Kapernaum aan, sowat 35 kilometer verder geleë is, aan die noordwestelike kus van die See van Galilea.

Hier het Jesus Homself vir ‘n tyd lank in gevestig. Dit het eintlik die “hoofkwartier” van Sy bediening in Galilea geword - vir die volgende paar hoofstukke gaan Jesus gereeld hier wees. 
Kapernaum was ‘n bedrywige vissersdorpie met ongeveer 1500 inwoners. Dit het ook langs die belangrike Romeinse handelsroete, die Via Maris, gelê - wat Egipte, Sirië en Mesopotamië verbind het.

Hier in Kapernaum was daar dan ook ‘n paar Romeinse amptenare.
In Lukas 7 lees ons byvoorbeeld van ‘n owerste oor honderd wat hier geplaas was, en ‘n goeie verhouding met die Jode gehad het. Hy het selfs vir hulle ‘n sinagoge laat bou.

Kapernaum het ook ‘n tolhuis gehad - die einste een waar Mattheus - wie later ‘n dissipels geword het - as tollenaar gewerk het (Lukas 5).
Trouens, verskeie van Jesus se dissipels was afkomstig uit hierdie gebied. Die drie dissipels wat in Jesus se binnekring was - Petrus, Jakobus en Johannes - was almal vissermanne hier in Kapernaum.

Ons teks vanoggend speel af op die Sabbatdag.
Net soos in die vorige teks in Nasaret, gaan Jesus in Kapernaum na die sinagoge om te preek - vers 31.
En weer, net soos in Nasaret was almal verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag - vers 32.

Maar daar is ‘n verskil (tussen Nasaret en Kapernaum). Want waar Jesus nie wonders in Nasaret gedoen het nie, doen Hy dit hier in oorvloed. Die mense hier hoor nie net Jesus se gesag in Sy woord nie, maar hulle sien dit in die kragtige werke wat Hy doen.

Die tema vir vanoggend se preek is:

In Kapernaum openbaar Jesus sy gesag deur die kragtige werking van Sy Woord. 

  1. genesing by die Sinagoge

  2. genesing by Petrus se huis

 

Genesing by die Sinagoge

Iets wat uitstaan soos mens die evangelies lees, is hoe gereeld ons Here Jesus in aanraking kom met mense wat deur ‘n duiwel besete is.
Dis interessant, want in die OT lees ons bitterlik min van duiwel besetenheid, terwyl, as ons by die NT kom, dan lyk dit amper of dit ‘n alledaagse ding was.
In die 4 evangelies is daar tenminste 8 verskillende individue wat Jesus van ‘n duiwel verlos het, en dan nog baie meer wat in groepe na Hom gekom het, soos ons ook aan die einde van ons teks sien.
Die Bybel openbaar nie verskriklik baie van wat duiwel besetenheid presies inhou nie, so mens moet versigtig wees om nie verby gaan van wat God self geopenbaar het nie,
Maar as mens kyk na wat die Bybel wel openbaar, dan blyk dit dat besetenheid inhou, dat een of meer van die engele wat aan die begin van die geskiedenis saam met Satan in sonde geval het (Op 12), op een of ander manier ‘n mens, in wie die Heilige Gees nie woon nie, ingaan, en direk en heeltemal beheer. Hy beheer die mens se hande, voete, mond en stembande.

Hierdie geeste, waarvan die NGB art 12 sê dat hulle veronderstel was om die mens te dien sodat die mens sy God kan dien, hierdie geeste bring ‘n mens heeltemal onder hulle mag om slawe van Satan te wees.
Absoluut verskriklik, as mens daaraan dink.

Dit is een van daardie dinge wat ons in vandag se tyd, en in ‘n Westerse kultuur, nogal vreemd kan vind.
Ek het ‘n vermoede dat as ons vir almal hier sou vra wie al ooit in aanraking met ‘n demoon gekom het, daar nie baie van ons sal wees nie.

Hoekom is dit so?

Mense wie die bonatuurlike heeltemal afskryf, sê dat die evangelies net ‘n produk van die tyd is. In daardie tyd was die mediese wetenskap nie baie gevorderd nie, dus gewone siektes wat ons vandag, in ons Westerse kultuur, anders sal beskryf, was aan demone toegeskryf.
Maar wat maak ons - mense wie aanvaar dat die Bybel wel ‘n akkurate beskrywing gee van wat gebeur het, en wie wel in die bonatuurlike glo - wat maak ons met demone? Of die feit dat ons hulle vandag so min teëkom?

Een opvatting is dat ons so min met demone in aanraking kom omdat ons kultuur sterk deur Christenskap beïnvloed is. “Ja, dis dalk waar dat ons nie hier baie demone sien nie, maar gaan na ‘n plek waar ‘n ander geloof heers - en daar sal jy dit wel teëkom.

‘n Ander opvatting is dat die getal demone beperk is. Daar het net so baie engele geval (Op 12), maar die aantal mense op aarde is vandag 25 keer meer as in die 1ste eeu. So hulle is nog daar, maar net baie meer “uitgedun” / uitgesprei oor die bevolking.

Nog ‘n idee is dat die duiwels oor die jare bietjie slimmer geraak het, en nie meer so blatant in die oopte is nie. ‘n Taktiek van Satan om ons te laat vergeet van hom. Want as ons nie meer glo aan bose magte nie, dan is dit baie maklik om God ook te verwerp.

Maar hoe dit ook al sy - ek dink wat ons duidelik kan sien in die bladsye van die Bybel, is dat Satan kliphard aan die werk was om die koms en werk van Christus te verhoed.
Hy ken die Bybel (soos ons kan sien in Jesus se versoeking an die begin van die hoofstuk.)
Hy het verstaan dat God in Genesis 3 ‘n Messias beloof het wat sy kop sal vermorsel.
En die Bybel is verder ook baie duidelik. Die Messias sou uit die nageslag van Abraham, en meer spesifiek uit die nageslag van David gebore word.
In Betlehem.
Ens.

Dus deur die loop van die hele Bybel gooi Satan sy volle gewig in die vernietiging van God se volk, en God se plan.
Die moord en onderdrukking in Egipte
Kanaän, gevul met reuse en verleidelike afgode.
Die moord van baba seuns van Betlehem.

Dit is dus verstaanbaar dat wanneer die Here Jesus in die wêreld inkom, Israel swaar gebuk gaan onder Satan se tirannie, en oorloop van sy bose magte.

En nou, die heel eerste wonderwerk wat Lukas vir ons opteken, gebeur wanneer die lang beloofde Messias, kop-aan-kop te staan kom met die bose magte van Satan.

---------------

Stel uself voor - daardie Sabbat in die sinagoge van Kapernaum.
Stel uself voor u daar was en hierdie botsing waargeneem het.
Toe u vanoggend wakker word, het u moontlik gedink dis ‘n Sabbat soos enige ander. ‘n Pragtige dag om te rus van u werk op die meer van Galilea, om na God se Woord te luister en tyd saam met u broers en susters in die sinagoge te spandeer.

Vanoggend sien u dat ‘n gas-prediker die diens gaan lei.
Hy lees die Skrifgedeelte, en begin dit uitlê soos die gewoonte is,

Maar vanoggend voel u buitengewoon aangesproke deur die Woord-verkondiging.
Hierdie prediker is anders. Soos Markus sê in sy weergawe van hierdie dag: “Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.”
Hy was nie heeltyd besig om die opinies van ander Rabbis te herhaal nie, Hy was nie besig om homself te beroep op oorlewering en tradisie nie, maar hy het gewoon die Woord met gesag verkondig.
Soos u luister, is dit asof u die stem van God hoor soos nog nooit tevore nie. En dit roer u binneste.

------------

Maar skielik word die gas-prediker onbeskof, in die middel van sy preek onderbreek.
Ha! wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!

--------

  • Dit klink amper soos wat Legio sê in Lukas 8 - die legio demone het Jesus gesmeek om nie na die onderwêreld gestuur te word nie.

Het U gekom om ons te verdelg?
Net soos legio, verwys die demoon met die woord “ons” moontlik na homself en al die ander duiwels in die land. “Het U gekom om ons te verdelg?”
Maar dit kan moontlik ook wees dat “ons” na die man en die demoon saam verwys.

Sommige kommentare lig uit dat uitdrywings in daardie tyd ‘n gevaarlike besigheid was - nie net vir die bystanders nie, maar ook vir die persoon self.
‘n Godsdienstige leier sou met allerhande beswerings en heilige voorwerpe die demoon probeer uitdryf. Maar die demoon was nie altyd gewillig nie. Hy kon aggressief raak, sy “host” beseer, stuiptrekkings laat kry of wat dan ook.
Dit sou kon verklaar hoekom Lukas in vers 35 ons aandag daarop rig dat die man ongeskonde hiervan afgekom het.

Maar let ook op hoe die demoon presies weet wie Jesus is: “Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!” Dit laat ons dink aan wat Jakobus sê as hy praat oor ‘n ware en valse geloof: selfs die duiwels glo dat God bestaan, en hulle sidder. Vir hulle is Christus se koms nie goeie nuus nie - hulle weet dat die dag van hulle ewige pyniging naderkom.

----------------

Kan u die spanning van daardie moment in die sinagoge aanvoel?
Jesus, die Heilige van God, staan teenoor die onrein duiwel wie ‘n mensekind, (geskape in die beeld van God,) soos ‘n parasiet onder sy beheer geneem het.
Hoe gaan hierdie prediker, wat tot dusvêr met so baie gesag gepreek het, hierdie situasie hanteer?

Bly stil, en gaan uit hom uit!” (vers 35)

En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.

Daar is krag in Jesus se woord. Hy hoef nie uitgebreide beswerings te gebruik nie, hy ruk nie een of ander heilige voorwerp uit nie, maar Hy, die Heilige van God, Hy praat net en die duiwel gehoorsaam.

----------------

Geliefde gemeente - Bose magte is ‘n werklikheid - selfs al vergeet ons dit soms.
Efesiërs 6:12 sê: ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
Dit is die werklikheid.
Satan is vandag neergewerp op die aarde (soos ons lees in Openbaring) en die apostel Petrus sê hy gaan rond soos ‘n brullende leeu om te soek wie hy kan verslind.
Indien enigiets, is Satan vandag nog meer daarop uit om die kerk te vernietig soos hy sy finale oordeel afwag.

Dus moet ons bang wees?

Nee. Nie as ons in Christus is, en Hy in ons nie. Want geen bose gees kan voor Hom stand hou nie. Die bose magte van Satan is kragteloos is voor Christus.

Ons sien dit hier in ons teks, waar Jesus net deur die krag van Sy woord die bose wegjaag.
Maar dit is ook presies hoekom Christus gekom het, sê 1 Johannes 3:8 - “om die werke van die duiwel te verbreek.
Dit het Hy uiteindelik gedoen aan die kruis, soos Kol 2 sê, waar Hy die owerhede en magte uitgeklee het, hulle in die openbaar tentoongestel het, en oor hulle getriomfeer het.

Alle mag in die hemel en op aarde is aan My gegee, sê Jesus in Matt 28.
En verder het Hy Sy Heilige Gees in ons harte uitgestort, en ons daardeur verseël (Efesiërs 1). En waar God met Sy Gees woon, kan geen bose gees ook woon nie.
1 Johannes 5:18 sê: “die Bose het geen vat op hom nie.”

------

En so kom ons by die tweede punt

Genesing by Petrus se huis

Die eerste gedeelte van ons teks het geëindig met die woorde van vers 36 & 37 - Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir 'n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit!

En daar het 'n gerug aangaande Hom uitgegaan na elke plek van die omgewing.
Nou begin die volgende gedeelte, in vers 38 - En Hy het opgestaan uit die sinagoge en in die huis van Simon gekom.
(Van Mattheus 8 weet ons dat dit Simon is wat later Petrus genoem word.)

En tuis vind hulle Petrus se skoonma siek.
U weet, as jy ‘n skoonma het, dan beteken dit dat jy ‘n vrou het. Dis ‘n interessante gedagte, nie waar nie? Dat Petrus ‘n vrou gehad het. Paulus noem later in 1 Korintiërs 9 ook dat Petrus haar saamgeneem het op sy reise.
Maar okay, Petrus se skoonma was siek, en Lukas - ‘n mediese dokter - lig die feit uit dat sy “hewige koors” gehad het.
Die kommentare wat ek geraadpleeg het sê dat hierdie ‘n mediese term in daardie tyd was vir ‘n lewensbedreigende koors. Sonder die medikasie wat ons vandag so maklik as vanselfsprekend aanvaar, het mense dikwels hieraan gesterf.
Die familie is dus bekommerd vir haar lewe - en so gebeur dit toe dat hulle vir Jesus raadpleeg. Wie nou net, voor hulle oë, met die krag van Sy woord ‘n demoon uitgedryf het.

En Jesus, wie vroeër in hierdie hoofstuk van Homself gesê het dat Hy gekom het om genesing te bring; Hy gaan staan “oor haar” - vers 39. Die Groot Geneesheer neem die posisie aan van ‘n dokter by haar bed.
En let nou weereens op krag van Christus se woord. Hy het nie net totale gesag oor die bonatuurlike magte wat mense teister nie, maar ook oor gewone siektes wat liggame aftakel.
Hy bestraf die koors, en dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.

Dink net hoe geskok die mense moes wees. In ‘n oogwink is sy gesond.
Een oomblik lê sy daar, op die drumpel van die dood, en die volgende oomblik is sy totaal en al genees.
Sy hoef nie nog ‘n bietjie te rus omdat sy nog swak en uitgeput is nie; (-- dit sou al ‘n enorme wonder wees;) maar skielik is al haar kragte terug. Asof niks fout was nie, staan sy op en bedien hulle.

-------------

Maar. Die maaltyd wat Jesus nou uit die hande van hierdie gesonde vrou kon geniet, sou slegs ‘n kort rusperiode vir Hom wees. Sy dag van harde  werk het eintlik pas begin.
Dis interessant om op te let dat hierdie eerste wonders wat Jesus in die evangelie van Lukas doen, op die Sabbat plaasvind, en nog geen teenstand by die Joodse leiers ontlok nie. Later sal hulle wel Hom hieroor aanvat, maar nie nou nie.

Die mense van die dorp is wel nie verskriklik gemaklik met Jesus Sabbats werk nie, al is dit goeie werk.
Hulle wag almal mooi geduldig tot die son gesak het en die Sabbat offisieel verby is.
Maar die oomblik toe die son agter die horison verdwyn het, staan almal van die omgewing daar voor die deur met “hulle siekes” en almal wat aan “allerhande kwale” ly.
En let op hoe Jesus hierdie keer te werk gaan.

Onthou dat die hele punt van die verhaal is dat daar gesag en krag in Jesus se woord is.
En net soos hy die demoon uitgedryf het en die koors genees het, kon hy nou die hele skare met ‘n enkele woord genees. Sommer so van ‘n afstand af.
En dan sou hy kon gaan slaap.
Maar nee, die teks sê duidelik: Hy het een vir een van hulle die hande opgelê en hulle gesond gemaak.
Is dit nie pragtig nie? Sien u Sy liefde? Hoe Hy by elkeen individueel verbygaan en Homself oor hulle ontferm?

--------------

Ook hierdie keer genees Jesus duiwelbesetenes; maar hierdie keer is dit nie net een persoon nie, maar die teks sê - daar was “baie” - vers 41
Hulle skreeu en sê: “U is die Christus, die Seun van God!”
En dan - bestraf Jesus hulle, Hy laat hulle nie toe om te praat nie.
Hoekom nie? Die teks sê - baie vreemd: omdat hulle geweet het dat Hy die Christus was.
Snaaks neh? As hulle weet dat Jesus die Christus is, hoekom mag hulle dit nie sê nie?

Een verduideliking is dat as die mense die demone sou glo en aksie geneem het, dan kon hulle dalk ‘n beweging begin het om Jesus te kroon as koning. En dis nie wat Hy wou gehad het nie.
Maar ‘n beter verduideliking is dat selfs al het die demone die waarheid gepraat, wou Christus nie gehad het dat hulle dit sê nie.
Hierdie onbetroubare en bose magte sal nie van die waarheid getuig nie.

Want soms lyk dit of Satan die waarheid praat. Soms haal Satan selfs die Bybel aan. Maar daar is altyd ‘n bose bedoeling agter. Dink aan Eva.
Satan praat nooit die waarheid omdat hy lief is vir Christus of om mense tot geloof te lei nie.
Soos die kerkvader Athanasius gesê het: Christus wil ons leer om nie eens vir een oomblik na duiwels luister nie. Daarom maak hy hulle stil.

-----------

Al hierdie individuele genesing het vir Jesus klaarblyklik regdeur die nag besig gehou het, want in vers 42 word dit al weer lig.
Nou, ek weet nie van u nie, maar na so ‘n lang dag se werk sal ek net in die bed wil inkruip.

Maar wat doen Jesus? Hy gaan na ‘n verlate plek om te gaan bid. (Markus 1).
Is Christus nie ‘n pragtige voorbeeld vir ons hierin nie, geliefde gemeente?
Dis iets wat ons Hom gereeld sien doen in die evangelie van Lukas. Jesus het ‘n diepe begeerte om versterk te word, nie in die eerste plek deur ‘n goeie slapie nie, maar deur Sy hemelse Vader. In gebed.

-----------------------

Maar in hierdie geval lyk dit nie of Jesus baie lank alleen was nie, want sodra die mense agterkom dat Hy weg is, gaan soek hulle Hom en wil verhoed dat Hy weggaan.
Dis die heel teenoorgestelde reaksie as wat ons in Nasaret gesien het.
Maar nog steeds met verkeerde intensies.
In Mattheus 10 begin Jesus stede waar Hy die meeste van sy kragtige dade gedoen het, verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie:
En Hy sê van Kapérnaüm: Jy Kapernaum, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe.
24Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou.

(Kapernaum..)

Die hartseer ding is dat al daardie wonders wat Jesus in Kapernaum verrig het, absoluut niks beteken sonder geloof nie. Inteendeel - dan word gereken tot hulle oordeel.
Hierdie mense het alles gesien wat Jesus gedoen het, en wou hom net daar hou vir sy wonders.
As Hy hier is, hoef ons nooit weer iets kort te kom nie. Ons hoef nooit meer met enige siekte of kwaal opgeskeep te sit nie…
So hulle wil Hom vir hulself hou.
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.”

En Hy het verder in die sinagoges van Galiléa gepreek.

En so eindig ons teks soos dit begin het. Met die prediking van God se Woord. Dis waarvoor Christus self sê Hy gestuur is. Om die evangelie van die koninkryk van God te verkondig. Met krag en gesag.

------------

En Hy doen dit vandag nog. Oor die hele wêreld weerklink die evangelie van die koninkryk van God. Met die gesag en krag van Christus self.

-----------------

Geliefde gemeente, glo ons dit?
Glo ons dat daar krag in God se woord is?

Dit is dalk verleidelik om te dink: nee …

Want waar het ek al ‘n duiwel-uitdrywing gesien?
Of wonderbaarlike genesings?

Maar geliefde gemeente, as ons so sou vaskyk wondertekens, sou ons dan nie net soos die mense van Kapernaum wees wat Jesus daar wou hou net vir hulle fisiese belange nie?

Die wonders wat Jesus gedoen het is nie die hoogste goed nie - dis nie waaroor dit gaan nie.
Maar die wonders, is tekens. Hulle rigtingwysers; hulle wys na iets buite hulleself.

Waarna? Dit waarmee die teks begin en eindig.
Hulle wys na die woord wat Christus verkondig het, en hulle bevestig dat die Woord waar is.

Laat ons onsself dus nie soos die mense van Kapernaum blindstaar aan die padtekens nie, maar laat ons gaan waarheen die padteken ons wil lei.

Die evangelie. Die grootste wonderwerk. Ware vryheid van Satan en sonde.

Ware genesing. Deur die bloed van Christus.

Amen

Liturgie: 

Liturgie:
Skriflesing en Teks: Lukas 4:31-44
Sing Ps. 33: 1, 5, 11
Ps. 103: 1-3
Ps. 107: 1, 9
Ps. 98: 1, 2 / Hy 53:1-4 (A mighty fortress is our God)
Sb. 53: 1-4

Liturgiese Notas:

Na die preek:
In antwoord op die verkondiging van God se Woord, laat ons antwoord deur die sing van Hy 53:1-4

Dit is die Engelse weergawe van Martin Luther se bekende lied “‘n Vaste burg is onse God”
In hierdie loof ons God vir Sy krag - veral die krag van Sy Woord -
“That word above all earthly powers”

En dat Satan magteloos staan voor die krag van God se Woord.
“one little word shall fell him.”

Hy 53:
1) A mighty fortress is our God,
a bulwark never failing;
our Helper he, amid the flood
of mortal ills prevailing.
For still our ancient foe
doth seek to work us woe;
his craft and pow’r are great,
and armed with cruel hate.
On earth is not his equal.

2) Did we in our own strength confide,
our striving would be losing,
were not the right Man on our side,
the Man of God’s own choosing.
Dost ask who that may be?
Christ Jesus, it is he;
Lord Sabaoth his name,
from age to age the same,
and he must win the battle.

3) And though this world, with devils filled,
should threaten to undo us,
we will not fear, for God has willed
his truth to triumph through us.
The prince of darkness grim,
we tremble not for him;
his rage we can endure,
for lo! his doom is sure;
one little word shall fell him.

4) That word above all earthly powers –
no thanks to them – abideth;
the Spirit and the gifts are ours
through him who with us sideth.
Let goods and kindred go,
this mortal life also;
the body they may kill,
God’s truth abideth still;
his kingdom is forever.

Slotsang:
As slotsang, laat ons nou saam sing Sb. 53: 1-4

Dis ‘n beryming van Efesiers 6:10-20 - die wapenrusting van God -
wat die Here vir ons gee om staande te bly teen ons geestelike vyand, 
die owerhede, magte, wereldheesers van die duisternis van hierdie eeu, die bose geeste in die lug