Die eerste jare van die Here Jesus Christus op aarde.

Predikant: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2025-04-06
Teks: 
Lukas 2:21-52
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.

Het u al ooit daarby stilgestaan hoe min ons weet van ons Here Jesus se kinder en jeug jare?

Ek het ‘n keer op ‘n baie interessante statistiek afgekom.

As mens gaan optel hoe baie die 4 evangelies konsentreer op die verskillende stadiums van Jesus se lewe op aarde, dan is dit iets soos 62% wat gaan oor die drie jare van Jesus se publieke bediening. Dus - van sy doop tot net voor Hy triomfantlik Jerusalem ingaan

‘n Verdere 34% van die evangelies handel dan spesifiek oor daardie laaste week, sy verhoor en kruisiging, en opstanding
maar slegs 4% gaan oor Jesus se eerste 30 jaar op aarde. Slegs 4%.

Dit is merkwaardig, nie waar nie?

Dit wys vir ons baie duidelik waar ons eie fokus moet wees as ons dink aan wie Jesus is en wat Hy vir ons gedoen het

Maar dis ook nie asof ons niks weet van Jesus se jeug jare nie. En die bietjie wat die Heilige Gees wel aan ons openbaar is belangrik.

 

In ons teks vanoggend gee die Heilige Gees, deur die pen van Lukas, vir ons twee “snapshots” uit Jesus se lewe vóór Hy met Sy publieke bediening begin. Beide hierdie “snapshots” vind plaas op dieselfde plek - in die tempel van God - eers as babatjie, en dan as 12 jarige seun.

En beide “snapshots” word gevolg deur ‘n opmerking dat Jesus gegroei het.

In ons vorige preek het ons daarop gelet dat allerhoogste, allerheiligste God, vlees aangeneem het en in absolute vernedering gebore is.

In vanoggend se teks kom hierdie aspek weer na vore. Christus is ware God en ware mens.

  • Hy is saam met sy menslike ouers in die huis van Sy Hemelse Vader.
  • Net soos Sagaria in die vorige teks; noem Simeon in vanoggend se teks Christus die heil wat God berei het die “lig tot verligting van die nasies,” - u sal onthou dat dit gaan oor God se heilige teenwoordigheid.
  • en nogtans is Christus ‘n menslike seun wat groei.

Dit is baie belangrik vir Christene om te onthou dat Christus ware God en ware mens is.

Die HK Sondag 6 leer vir ons dat die geregtigheid van God vereis dat die menslike natuur wat gesondig het vir die sonde moet betaal, maar dat slegs God self kan in sy oneindige krag die oneindige las van die toorn van God teen ons sonde kan dra.

Maar nou die vraag: hoekom moes Jesus dan eers opgroei?

As mens dit baie plat kan stel - al die “ingrediënte” is mos reeds daar aan die begin van Sy lewe. Christus is daar reeds ware God en ware mens.

Dus, hoekom moes Christus eers groei? En van al die jare voor Jesus se publieke bediening - hoekom gee die Heilige Gees vir ons juis hierdie twee “snapshots”?

Die evangelie word vanoggend verkondig onder die tema:

 

Die eerste jare van die Here Jesus Christus op aarde.
Ons gaan kyk na twee punte:

  1. Jesus is gebore onder die wet
  2. Jesus het opgegroei in gehoorsaamheid aan die wet

Toe ons so pas die teks gelees het, het u opgelet hoe baie daar na die wet van God verwys word?

Dit word oor en oor beklemtoon - veral in die eerste gedeelte.

“Volgens die wet van Moses,”

“soos geskrywe is in die wet van die Here,”

“wat gesê is in die wet van die Here,”

“volgens die gebruik van die wet,”

“volgens die wet van die Here”

Dis asof die teks uitroep: moenie die wet in hierdie verhaal miskyk nie!

Hoekom hierdie sterk fokus op die wet?

Sommige mense reken dit is om aandag te rig op is die regverdigheid, toewyding, en gehoorsaamheid van die mense wie die Here Jesus as kind omring.

En daar is natuurlik baie waarheid daarin. God het vir Jesus hierdie godsdienstige aardse ouers gegee, om hom op te voed in die liefde en weë van die Here. Hulle is gehoorsaam aan die wet; asook aan God se direkte opdrag in die vorige hoofstuk om die Kind “Jesus” te noem.

Ook van Simeon word gesê dat hy regverdig en vroom was, die vertroosting van Israel verwag het, en dat die Heilige Gees op hom was.

Van Anna word gesê dat sy selfs in haar hoë ouderdom en hartseer omstandighede nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien het, nag en dag.

Dit is pragtig. Dat hierdie mense wat so lief is vir God en Sy Woord die Here Jesus as kind omring.

Maar is dit die enigste rede hoekom die teks so fokus op die wet?

Nee - en dit sien ons ons in die drie rituele wat Josef en Maria uitvoer.

Ons gaan gou kortliks na elkeen van hierdie 3 rituale kyk, en soos ons daar deurgaan mag u dalk by uself dink, wat is nou die punt van dit alles?

  • Hoekom is Jakob besig om dit te verduidelik?

Maar byt net vas - daar is ‘n goeie rede. Dit sal binnekort duidelik word.

 

Dus - Die eerste ritueel (in vers 21) is die besnydenis. Net soos elke Israelitiese baba seuntjie moes Jesus se voorhuid op die 8ste dag afgesny word - soos God aan Abraham beveel het in Genesis 17. Dit is in die Ou Verbond die teken van God se spesiale verhouding met Sy volk.

God sou Sy volk ryklik seën in die beloofde land, Hy sou hulle grootliks vermeerder; Hy sou onder hulle woon; Hulle sou Sy eiendom wees;

Elke kind wat gebore is het hierdie beloftes ontvang. En ter selfde tyd het die verbond (waarvan die besnydenis die teken is) hulle ook verplig om die wet stiptelik na te kom. Indien nie - dan rus die vloek van die wet op hulle.
Galasiërs 3:10: “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Maar die besnydenis was nie net ‘n inlywing in hierdie Ou verbond nie. Dit was ook ‘n belofte om in geloof aan te neem. ‘n Heenwyse na die vergifnis van sonde - soos ons lees in Kolossense 2:11 - ‘n teken dat die ou, sondige natuur, afgesny sou word deur bloed wat vloei.

Dit is die eerste ritueel.

Die tweede ritueel in ons teks is daar teen die einde van vers 22 en vers 23. Ons sien dat die gesin na Jerusalem gegaan het om Jesus “aan die Here voor te stel, soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word.”

Hierdie ritueel wys al die pad terug na die Eksodus, waar God sy volk uit Egipte bevry het. Toe God dit gedoen het, het al die eersgebore seuns van Egipte gesterf, maar God het die eersgebore seuns van Israel gespaar. En nie net gespaar nie, maar hy het hulle almal vir Homself toegeëien. Eksodus 13 en 34. Hierdie seuns sou heilig wees vir diens aan die Here in die tabernakel en uiteindelik in die tempel.

Maar dan is daar ‘n paar verwikkelinge in die woestyn,

die Leviete kry hierdie eer,

en nou moet al die eersgebore seuns van die volk, (omdat hulle eintlik aan die Here behoort,) losgekoop word met 5 sikkels silver.

Die wet is orals gesprinkel in die boeke van Moses, maar as u ‘n mooi samevattende hoofstuk wil lees, stel ek Numeri 3 voor.

Dit is volgens hierdie wet wat Jesus in die tempel aan die Here voorgestel en losgekoop word.

Die laaste ritueel wat in die tempel plaasvind, is die reinigingsoffer - dis die begin van vers 22 en vers 24.

Net terloops - u sal die voorskrifte vir hierdie offer in Levitikus 12 vind - en daar staan dat die offer eintlik ‘n jaaroudlam en ‘n duif moes wees, maar as jy arm is kan jy twee duiwe offer. So weereens word die vernedering waarin Christus gebore is beklemtoon met Maria wat 2 duiwe offer.

Levitikus 12 sê verder dat die offer ‘n sondoffer en brandoffer is wat eintlik net vir die vrou is. In die 53 vertaling, in Lukas 2:22 lyk dit ook of Maria die offer net vir haarself bring: “nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was” ens. Maar die 2020 vertaling vertaal hierdie teks beter: “Ná afloop van hulle reinigingstyd.”

Dit is waarskynlik in konneksie met ‘n ander wet in Levitikus 15 wat sê dat almal wat in aanraking met die bloed van ‘n vrou kom (bv. van ‘n geboorte), onrein is.

Die punt wat Lukas 2:22 maak is dat die reinigingsoffer nie net oor Maria gaan nie, maar Jesus word daarby ingesluit.

So wat gaan hier aan met die drie rituele? Hoekom het ons in so baie diepte daarna gekyk?

 

Wel dink daaraan, geliefde gemeente. Dink aan hoe vreemd dit is.

Hy Wie sondeloos is, ontvang die teken dat sy sonde afgesny word?

Die Verlosser word los gekoop?

Hy die Heilige, (soos Gabriel vir Maria gesê het,) word gereinig?

Dis vreemd, nie waar nie?

Ja, maar sien u, geliefde gemeente, wat Christus besig is om te doen?

Reeds hier waar Hy as babatjie in sy volk ingelyf word, begin ons sien hoe hy Sy volk kom bevry het.

Deurdat hy soos elke Joodse baba onder die wet gebore is, onderwerp hy Homself aan die vloek van die wet. Hy is hy besig om die sondes van sy volk op Homself te neem. Homself toe te reken.

Om met Sy sondelose bloed sy volk los te koop. En hulle te heilig tot aanneming as kinders van God.

Galasiërs 4 sê dit pragtig:

“… toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet,

om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!”

2 Korintiërs 5:

Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

En Galasiërs 3:

Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word

Geliefde gemeente. Dit is hoekom die Heilige Gees vir ons beklemtoon dat Jesus Christus onder die wet gebore moes word.

Om Sy volk los te koop van die vloek van die wet.

U en ek het deel aan hierdie belofte. Nie omdat ons Jode is wat onder daardie wet was nie. Nee, maar alleen deur geloof in Hom. Want Galasiërs 3 (wat ek nounet gequote het) gaan verder:
sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.

Daardie Gees, wat nou in ons harte uitroep: Abba Vader.

Dit bring ons by die tweede punt:

Jesus is nie net gebore onder die wet nie

Maar 2) Hy het opgegroei in gehoorsaamheid aan die wet

Ek dink, as ons eerlik is, dan is dit nie té moeilik om die babatjie Jesus in ons gedagtes voor te stel nie. Of Jesus terwyl hy rondreis in Sy bediening.

Maar dis ‘n heel ander ding om Hom voor te stel as ‘n peuter.

Of ‘n kleuter.

of ‘n puber. ‘n tiener

En daar is ‘n werklike gevaar om daarmee te begin. 

Dalk het u al gehoor van die sogenaamde “evangelie van Thomas.”

(dit moet eintlik glad nie ‘n evangelie genoem word nie, maar dis nou eenmaal die naam wat dit het)

Dis ‘n verhaal, wat geskryf is ‘n paar 100 jaar na Christus; en in hierdie verhaal, (wat definitief onbybels en denkbeeldig is,) word Jesus uitgebeeld/voorgestel in hierdie tye van sy kinderjare.

Daar is baie probleme met hierdie verhaal - nie die minste daarvan hoe Jesus uitgebeeld word as ‘n onbeheersbare, kort-van-draad seun wat net links en regs mense doodslaan as hulle hom kwaad maak nie. Hy is gevoelloos, almal is bang vir hom en weet nie wat om met hom te maak nie.

Maar nog ‘n probleem met die verhaal, is hoe Jesus se goddelike mag beklemtoon word, terwyl sy mensheid heeltemal op die agtergrond val.

Hy is slimmer as almal anders, kan niks geleer word nie, en oral waar hy gaan dink mense Hy is ‘n god of ‘n engel.

Dis alles onsin - maar dit wys ons die gevaar daarvan om te begin met spekulasie.

Maar al weet ons nie baie van Jesus se kinder-jare nie, gee die Heilige Gees in ons teks vanoggend, wel vir ons die gereedskap om reg oor hierdie tydperk na te dink.

 

Hy gee vir ons daardie tweede “snapshot” uit Jesus se jeug. En wat ons sien is totaal en al anders as wat die sogenaamde “evangelie van Thomas” vir ons wil voorhou.

Jesus is nie slimmer as almal anders nie.

Maar hy is in die tempel van God, besig om geleer te word.

Dit is waar dat ons partykeer die prentjie in ons kop het dat Jesus vol gesag die leraars leer. Maar dis nie wat ons teks sê nie.
Ja almal is verbaas oor sy verstand en antwoorde; ja hy is wys en slim vir sy ouderdom; maar Hy is nie slimmer as almal nie.

Ons sien hom daar sit. Nederig. Hy luister; vra vrae; word geleer.

Ons sien Hom, gretig om te leer by die wat meer weet as Hy. Honger om te groei in sy verstaan van God se Woord. Die dinge wat Hy rondom hom sien gebeur - die Paasfees, die offers, die rituele.

Ons sien Hom daar in die huis van Sy Hemelse Vader. Vol liefde vir die Vader en die dinge van Sy Vader. Met ‘n drang om te groei.

Is Christus nie vir ons ‘n wonderlike voorbeeld hierin nie, geliefde broers en susters? Kinders, het julle ook ‘n begeerte om te groei soos ons Here Jesus? Sien julle ook daarna uit om kerk toe te kom om meer van Hom te leer?

So ‘n begeerte in kinders, maak ouers wat dieselfde begeerte het bly

Maar Josef en Maria was nie so beïndruk deur Jesus se drang om te groei en te leer nie.

En ek dink ons kan wel daarmee vereenselwig. Daardie angs wat hulle moes ervaar toe hulle agterkom dat hulle hul seun êrens verloor het…

Stel jou dit voor.

Vir drie dae is hy weg.

Waar is hy? Ek dag hys by jou!

Hulle gaan soek Hom onder die familie en die wat saam reis, maar vind Hom nêrens nie. probeer uself dit voorstel.

Toe hulle uiteindelik na drie lange dae hom in die tempel vind, sê vers 48: “... toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.

Hoor u die verwyt in Maria se stem?

Dalk voel ons self ‘n bietjie so.

Kon Jesus nie maar net bietjie meer bedagsaam wees nie? Sekerlik kon Hy vir hulle gesê het waarheen hy gaan!

Die teks maak dit egter duidelik, dat wat-ook-al hier aangaan, nie sonde was aan Jesus se kant nie.

Ons moet ook nie te hard op Josef en Maria wees nie - hulle het ‘n Kind grootgemaak soos geen ander nie. Maar wat hier gebeur het, was, wel ‘n tekort aan insig aan hulle eie kant. Daar was iets wat hulle moes geweet het, wat hulle vergeet het.

En dis wat Jesus uitwys in vers 49 -
{stemtoon – liefdevol. Nie veroordelend} Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?

Dis mos ook wat die engel Gabriel vir Maria gesê het, 12 jaar gelede? Dat Hy die Seun van die Allerhoogste is; Koning tot in ewigheid.

Waar sal die Seun van God wees, maar in die huis van Sy Vader?

En net om te beklemtoon dat Jesus nie oneerbiedig met sy ouers omgegaan het nie, maak vers 51 dit duidelik dat hy hulle onderdanig was.

---------------------

Nou van al die jare in Jesus se jeug, en van alles wat moontlik kon gebeur, vind ons hierdie verhaal in die Bybel.

Hoekom?

Wel dit is ‘n interessante verhaal, maar dis definitief nie die punt nie.

Inteendeel, hierdie verhaal dui op iets wat vir ons ongelooflike troos bring.

Want amper soos ‘n kapsule rondom hierdie gebeurtenis vind ons daardie twee sleutel verse. Dis kort, maar dit is ongelooflik belangrik. Reg voor en reg na hierdie gebeurtenis, vind ons die opmerking dat Jesus “gegroei” het. In vers 40 en vers 52.

40 - En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.

52 - En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.

Dit is wat die Heilige Gees wil hê u moet weet van Jesus se eerste jare.

Christus het geweet dat God sy Hemelse Vader is, Hy was lief vir Hom, gehoorsaam aan Hom en Sy wet, gehoorsaam en onderdanig aan sy ouers,

en al die jare, voor en na 12, was Hy doodeenvoudig besig om te groei.

Aan die een kant klink dit so normaal - dis mos wat kinders doen - hulle groei. (Verbasend vinnig!) Maar dit is radikaal.

Onthou oor Wie ons hier praat. Ons praat oor die Seun van God. Die 2de persoon van die Drie-eenheid. Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. - soos ons bely in die Geloofsbelydenis van Nicea.

Of soos die NGB artikel 1 sê:

Daar is ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, ens

Dit is wie Christus is volgens sy goddelike natuur.

Dus, hoe is dit dan moontlik dat Jesus Christus groei? En nee, nie net sy liggaam het gegroei nie, dit is een ding, maar die teks beklemtoon spesifiek dat Hy gegroei het in wysheid.

Sy intellektuele, morele en geestelike groei as kind was net so werklik soos sy liggaamlike groei.

Ja, sy Goddelike natuur weet alles, maar sy menslike verstand moes groei.

Ons kan dit nie verstaan nie. Dit is een van die groot geheimenisse van die inkarnasie. En ons hoef dit nie te verstaan nie. Dit is okay om te sê: “daar is sekere dinge wat ons gedagtes net nie kan omvat nie.” Die doel is ook nie om dit met ons gedagtes te omvat nie.

Die doel is - verwondering.

Verwondering dat die ware God; ware menslike vlees aangeneem het, met ‘n menslike siel;

en moes groei.

Moes leer praat

Leer lees,

Leer skryf,

Leer sommetjies maak.

Leer wat sy pa se hammer is.

Staan u verwonderd, geliefde gemeente?

Luister dan nou na wat die brief aan die Hebreërs ons leer oor die wonder van die inkarnasie: (dit gaan hier oor die rede hoekom Christus dit gedoen het)
 

Daar staan: Christus moes “in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, … (2:17)

“Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (4:15)

Geliefde gemeente - as u dink aan die kinder-jare van ons Here Jesus Christus op aarde - mag u so daaraan dink, want hiermee wil Hy u troos.

Waarmee was Christus besig vir DERTIG jare van sy lewe?

Besig om te groei. Om in alle dinge aan u gelyk te word, behalwe aan die sonde. Om te lewe onder die wet. Om elke dag, elke oomblik vir 30 jaar versoek te word, maar nie te val nie.

sodat Hy vandag vol medelye en barmhartigheid vir u voor die Vader kan intree. Omdat Hy waarlik weet wat dit is om mens te wees.

Amen.

Liturgie: 

Skriflesing & Teks: Lukas 2:21-52

Sing:
Ps 84: 1, 2
Sb. 3 (na die skriflesing)
Hy 42:1, 4, 5, 6 (na die preek)

Ps 103: 2, 7 (na die wet)
Ps 100

 

 

Indien die wet na die preek gelees word, stel ek iets soos die volgende voor:

By die gewone plek van die wet (na Ps 84)

 

Hoe lieflik is u wonings, HEER der leërskare! 

Hoe begeer my siel en hunker van verlange om na Gods woning op te gaan en in u tempelpoort te staan

met jubelende lofgesange.

Die mossie vind 'n huis, o HEER, die swaeltjies lê in nessies neer; en ek vind rus by u altare,

Gedugte HEER der leërskare, welsalig wie in u paleis U altyddeur mag loof en prys!

 

Hierdie is woorde van iemand wat smag daarna om in God se teenwoordigheid te wees. 

Omdat Hy weet sy skuld is vergewe.  Ek vind rus by u altare.

Pragtig, is dit nie? 

In vanoggend se preek sal ons hoor dat die Here Jesus onder die wet gebore is om die wet te vervul.

Deur sy perfekte gehoorsaamheid an die wet, maak Hy ons vry van die vloek van die wet, en gee vir ons hierdie vrede. hierdie rus.

En hierdie verlange om by God ons Vader te wees en te wandel in Sy wee.

Ek gaan die wet van God na die preek lees, nadat hierdie aspek in ons preek aangespreek is.

Na die preek (voor Hy 42)

In antwoord op die verkondiging van God se woord gaan ons nou ‘n paar verse van Hymn 42 van die Book of Praise van ons engelse susterkerke sing.

Dis ‘n beryming van Hebreers 4:14-16

Christus ons ewige hoepriester het in die hemelse tempel ingegaan, waar Hy steeds ware God en ware mens is

En - let veral op vers 4 en 5:

Al het hy nou opgevaar in die hoogte, hoor en antwoord Hy tog elke geroep.

Want Christus, wat voor God se troon pleit, ons baie swakhede is bekend.

Hy was ook versoek, het pyn gely; tog het hy vry van sonde gebly.

Hy wat alle versoeking oorwin het; neem nou ons ellende ter harte.

En die laaste vers is dan ‘n oproep om hierdie genadige en medelyende God van ons se aangesig met vrymoedigheid te soek 

Hymn 42 Vers 1, 4, 5, 6

1) Where high the heav’nly temple stands,

the house of God not made with hands,

Christ has the greatest honour gained,

yet very God and man remained.

4) Though now ascended up on high,

he hears and answers every cry.

To Christ, who pleads before God’s throne,

our many weaknesses are known.

5) He, too, was tempted, suffered pain;

yet free from sin did he remain.

He who did all temptation thwart

now takes our misery to heart.

6) Let us then boldly seek God’s face,

there to find mercy, help, and grace:

our great High Priest will intercede,

come to our aid in time of need.

 

Na die sing van Hy 42 - Die Wet van God

Mag ons nou na die wet van God luister met hierdie perspektief in gedagte.

Lees Exodus 20

Wanneer ons besef dat ons in Christus vry is van die vloek wat ons sondes verdien, dan kan ons nie anders as om God te loof nie.

Dis wat ons nou gaan doen met die sing van Psalm 103.
 

En let op hoe ons sing dat God in sy genade ons krankheid ken.
Ons sing van sy smartgevoel en mededoë (sy medelye, sy simpatie) met ons
Nou - dis onmoontlik vir God om waarlik sulke medelye met ons te kan hê, as Hy self nie ‘n mens is nie.

Maar dis die wonder van die evangelie - God het waarlik medelye met ons swakhede - in Christus wie waarlik ‘n mens is, en waarlik as mens onder die wet geleef het.

Sing Ps 103: 2, 7