Die Saligmaker word gebore in Bethlehem

Predikant: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2025-03-23
Teks: 
Lukas 1:57-2:20
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.

In ons vorige teks het Lukas ons meegedeel dat die engel Gabriel verskyn het in die dae toe Herodes koning van Judea was.
U sal onthou dat Herodes ‘n wrede koning was wat sy onderdane met ‘n ystervuis geregeer het. Dit was die daaglikse realiteit van die Jode.

Maar in vanoggend se teks zoom Lukas uit, verby die Jode, verby koning Herodes, verby die goewerneur van Sirië; tot by die magtigste persoon in die bekende wêreld - Keiser Augustus.
Hierdie keiser staan in die geskiedenis ook bekend as Octavianus.

In die jaar 27 v.C. het die Romeinse senaat hom die titel “Augustus” toegeken. Dit beteken iets soos “majestueus, subliem, mees eerbiedwaardig.”

Hy was, menslik gesproke, ‘n goeie keiser. Hy was ‘n wyse administrateur, sy weermag was goed georganiseer, en hy het die gebruike van die provinsies wat hy verower het gerespekteer.

Verder wou hy die morele toestand van die ryk bevorder, dus het hy dinge soos egbreuk onwettig gemaak, en die kunste en skoner literatuur aangemoedig.

Onder hom het die wêreld ‘n tiepe stabiliteit en vrede leer ken soos nog ooit tevore nie - die Pax Romana - die vrede van Rome. Dit is hierdie stabiliteit en vrede wat God later gebruik het om die evangelie van Christus soos ‘n veldbrand deur die wêreld te versprei.

Ek sê dit alles, nie om aandag te rig op hoe goed hierdie keiser was nie. Hy was definitief baie sondig. Hy het selfs die titel gehad “redder van die hele wêreld” en is vereer as ‘n god.

Maar in dit alles sien ons die hand van die ware God. Hy wat die hele geskiedenis lei; en alles perfek voorberei; vir hierdie oomblik.

Op hierdie stadium, in Lukas 2, is Augustus op die hoogtepunt van sy mag.

En met een pennestreek stuur hy ‘n bevel uit wat elke persoon onder hom, selfs duisende kilometers vêr weg, sou beïnvloed.

Mees waarskynlik vir belasting doeleindes sit hy ‘n kettingreaksie aan die gang - waarvan hy self nie eens geweet het nie - wat die hele wêreld onderstebo sou keer. Want een van sy miljoene onderdane was Josef, ‘n eenvoudige timmerman van Nasaret, wat met sy swanger verloofde na Betlehem moes reis om te gaan registreer.

Die evangelie word vanoggend aan ons verkondig onder die tema:

 

Die Saligmaker word gebore in Bethlehem

En die drie punte van vanoggend se preek is 3 aspekte wat uit ons teks na vore kom. Dit is:

  1. lig

  2. vrede

  3. lof

 

Lig

In die velde buite Bethlehem sit die herders en waak oor hulle skape. Dit is die velde waar koning Dawid as seun ook skape opgepas het, ‘n goeie duisend jaar gelede. Die velde waar Rut, ‘n paar dekades voor David, vir Boas in geloof gevra het om te trou. Op die dorsvloer.

Dis pik stik donker nag, maar die herders is nog wakker. U kan uself voorstel hoe hulle vir mekaar verhale vertel om wakker te bly. Dalk speel hulle tussendeur ‘n speletjie - elke keer as ‘n skaap blêr probeer hulle net op gehoor vasstel watter een dit was.

Wat ‘n enorme skok moes dit nie wees toe hierdie rustige nag skielik onderbreek word deur ‘n oogverblindende lig wat alles rondom hulle ophelder nie.

-----

Wanneer mens die verhaal van die herders lees kan mens eintlik nogals vinnig oor die feit lees dat die engel sy verskyning in ‘n helder lig maak.

Soos - is betekenisvol, of is dit nie? Dalk het hierdie engel maar net so gelyk? en dan lees mens verder…

Maar vanuit die konteks, en die term wat gebruik word vir die lig, is dit wel merkwaardig.

Want dit is nie net lig wat rondom die herders skyn nie, maar dis die heerlikheid van die Here.

 

Die heerlikheid van die Here is ‘n term wat in Exodus gebruik word vir God se heilige aanwesigheid. Sy heilige aanwesigheid in die wolk wat die volk gelei het. Wat die tent van die samekoms oordek het en tabernakel met die heerlikheid van die Here vervul het.

In Exodus 24 rus die wolk op die top van Sinai, en die Bybel sê dat “die verskyning van die heerlikheid van die Here … in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur was.

Dink uself in - van pik stik donker tot verterende vuur in ‘n oogwink.

Dit maak hierdie verskyning seker een van die mees vreesaanjaende verskynings van ‘n engel in die hele Bybel.

Dit is geen wonder dat die herders met groot vrees oorweldig was nie.

 

Maar daar is nog iets wat ons moet waarneem oor “die heerlikheid van die Here,” en dit is dat die profeet Jesaja die term gebruik het in konneksie met die koms van Christus:

Jesaja 60: STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op.

Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. (vers1&2)

En dit is presies hierdie profesie van Jesaja wat Sagaria aanhaal in sy lofsang aan die einde van hoofstuk 1 - reg voor die verhaal van Christus se geboorte.

Sagaria tel sy babatjie Johannes op; en vol lof aan God profeteer hy:

Vers 78 - Deur God se innige barmhartigheid hetdie opgaande Lig uit die hoogte ons besoek …,

79 om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.”

 

Dit is nie oor Johannes wat Sagaria dit sê nie. Terwyl hy vir Johannes in sy baba ogies kyk, profeteer hy oor die Een vir wie hierdie kindjie die pad gereed sal maak.

(Sy lofsang gaan in feite meer oor Christus as oor Johannes.)

Hy sing oor Christus in die taal van die profete van ouds. Die lig wat opkom oor ‘n donker wêreld. Die son van geregtigheid wat oor die horison kom en genesing en blydskap bring - soos Maleagi ook gesien het.

------------

Stel uself vir ‘n oomblik voor - dat al wat u ken is duisternis en nag. U het nog nooit die son gesien of die warmte van sy strale in die oggend op u vel gevoel nie.

Dit is in ‘n sekere sin wat die hele geskiedenis tot op hierdie oomblik was.

Die wêreld was in duisternis. Daar was slegs beskrywings van die son, en die belofte dat hy eendag oor die horison sal opkom.

En nou, soos Sagaria sy kind vashou, sien hy die eerste strale van die son oor die horison breek.

 

Die moment waarop ons nog altyd wag, is hier!

Die heerlikheid van die Here is hier!

Daglig het aangebreek!

Dis ‘n ongelooflike sterk beeld. Waar die lig skyn gee die duisternis pad.

Boosheid, onkunde, sonde, liefdeloosheid gee pad vir heiligheid, geregtigheid, ware kennis en liefde.

“stille nag, heilige nag!            

Jesus-kind, lank verwag,            

lig uit lig, uit die vader se ryk,  

word uit liefde aan mense gelyk.  

….

Jesus, Heer, voor u mag,            

voor u ryk moet die duisternis swig;”

Dit is hierdie selfde beeld wat die apostels Paulus en Johannes later in hulle briewe ook opneem: Die ware lig het reeds aangebreek en is besig om die duisternis uit te dryf! Leef dan nou soos in die dag! Moenie die werke van wêreld liefhê nie, want dit is duisternis!

Dit is die tyd waarin ons vandag nog lewe - die oog verblindende heerlikheid van God het reeds aangebreek in die persoon van Jesus Christus en is tans besig om die duisternis uit te dryf.

Geliefde gemeente, besef ons nog vandag dat ons in hierdie tyd leef? Voel ons nog die helder strale van Christus se heerlikheid en heiligheid in ons lewens? Wat besig is om die sonde uit ons uit te dryf?

Of is daar plekke in ons harte en lewens wat ons liewers in die duisternis wil hou?

Mag dit tog ons gebed wees: Here skyn u lig selfs tot in die diepste hoeke van my hart! Help my om nou reeds te wandel in u lig.

Totdat u weer kom en alle duisternis finaal sal uitdryf.

Want dit is in Christus se wederkoms waar hierdie beeld uiteindelik heeltemal vervul sal word. Soos ons sien in die laaste hoofstukke van Openbaring - die stad van God - God se kerk op die nuwe aarde - wat “die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.

Is dit nie ‘n wonderlike belofte om na uit te sien nie?

Dit bring ons by die tweede aspek -

Vrede

Nadat die herders omring was deur die heerlikheid van die Here, en hulle met vrees oorweldig was, begin die engel hulle onmiddellik gerus stel (net soos in die vorige twee verskynings): “Moenie vrees nie!” sê hy in vers 10.

Hoekom nie? “want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,

11 dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.”

Net soos Sagaria en Maria kry die herders ook ‘n teken: “julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.

En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare.

Duisende engele reg rondom! En dan nie soos ons dikwels dink oulik en knuffelbare wesentjies wat harpies speel en sopraan sing nie.

Nee, “leërskare” is ‘n weermag term.

Dink aan die verhaal van Elisa se dienaar in 2 Konings 6 wie se oë oopgegaan het en die berg vol perde en waens van vuur gesien het.

Dit wat skielik rondom hulle staan is die Almagtige God se hemelse weermag!

Hierdie enorme hemelse weermag prys God. En wat sê hulle?

Vrede.

Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!

(Is dit nie indrukwekkend dat die weermag vrede aankondig nie?)

Wat bedoel hulle met vrede?

Bedoel hulle dat Christus, die Saligmaker gekom het om die juk van die Roomse onderdrukkers finaal af te gooi?

Of bedoel hulle dalk dat Hy oorlog en twis sal laat ophou? ‘n tiepe wêreldse vrede en stabiliteit bring soos die Pax Romana; maar net beter?

Dit is die tiepe vrede wat ons dikwels hoog ag, nie waar nie?

Politieke stabiliteit, ‘n rustige werks-omgewing, dat die familie ten alle koste oor die weg moet kom.

Vrede op hierdie gebiede is natuurlik mooi; die Here kan ons daarmee seën; en ons mag verseker die Here daarom bid.

Maar is dit die vrede wat hier bedoel word?

Nee. In die eerste plek kan ons maar net dink aan Jesus-self se treffende woorde later in Lukas 12:
51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid.

52Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.

Nee, die vrede wat die engele aankondig is nie wêreldse tiepe vrede nie. Dit gaan oor iets baie beter, oor die diepste vrede denkbaar - vrede met God. Dis ook waarvan Sagaria sing in sy lied. Hy konnekteer immers die opgaande Lig (in vers 78) met vrede (in vers 79)

En hy beskryf hierdie vrede regdeur sy lied:

vers 68 - God het sy volk besoek en vir hulle verlossing bewerk.

Vers 71 - redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat

Sodat - vers 74 - ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.

en vers 77 - met kennis van saligheid … in die vergifnis van … sondes,

Dit is die vrede wat Christus bring wanneer Hy met sy lig oor ons skyn en ons uit dal duisternis en doodskaduwee red.

Hy red ons uit die kloue van Satan en die magte van die duisternis sodat ons in vrede en saligheid met die Allerheiligste God kan wandel. Hom sonder vrees kan dien.

----------------

En in die tweede plek is dit belangrik om in ag te neem dat hierdie vrede nie vir alle mense op aarde is, ongeag of hulle in Christus glo of nie.

Dis nie ‘n algemene afgewaterde konflikloosheid vir almal nie, maar is bedoel vir ‘n baie spesifieke groep mense.

Dit is nie so duidelik in die 53 vertaling nie. Daar staan: “vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!” Dit lyk amper asof God vrede vir alle mense bring omdat hy ‘n welbehae in alle mense het.

Maar die 2020 vertaling vertaal die vers beter: “vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het!”

Die vrede op aarde is nie vir almal nie maar vir die in wie God ‘n welbehae het.

En wie is dit?

Dit is seker een van die mooiste aspekte van die teks - God se verkiesing uit genade alleen. En dit vir die mees onwaarskynlike mense.

Neem in ag dat die mees belangrike persoon wat al ooit die aarde bewandel het, lig uit lig, die Saligmaker, gebore is. En wie hoor eerste daarvan? Keiser Augustus? Die Joodse Sanhedrin?

Nee, maar onbelangrike en veragte herders.

--------------

Die herders, omdat hulle in die veld gewoon het, was nie in staat om die seremoniële wette onderhou nie - en definitief nie al die mensgemaakte wette wat daar bo-op bygevoeg is nie. Hulle was vuil. Onrein. Die samelewing het hulle ook gesien as leuenaars en diewe, en daarom mog hulle nie eens in die hof getuig nie. Hulle getuienis was onbetroubaar.

Baie kommentare sê dat die enigste klas mense wat laer as die herders was, melaats was.

Maar dit is nou presies vir wie die evangelie van vrede op aarde - vrede met God, verkondig word.

Selfs vir die herders. Selfs vir daardie mense wie ons mag dink onwaardig is.

Dit bring ons, laastens, by die 3de punt.

-------------

Lof

 

Van al die pragtige aspekte wat uitstaan in ons teks, is die lof aan die Allerhoogste God nie die mees indrukwekkendste nie?

Dit deurdrenk ons teks.

Van Sagaria en Elisabet se bure en familie wat saam met hulle bly is oor die Here se barmhartigheid,

Sagaria wie se eerste woorde in meer as 9 maande lof en prys aan God is; nadat sy tong weer losgeraak het.

Sy loflied aan die Here.

Die hemelse leërskare wat uitroep: “Ere aan God in die hoogste hemele!”

Die herders wat God verheerlik en prys oor alles wat hulle gesien en gehoor het, dit aan almal oorvertel

En Maria wat die dinge in hart koester.

-----------

En reg daar in die middel van al hierdie lofprysing - is die geboorte van die Messias (hoofstuk 2:1-7).

Wat maak hierdie verhaal so lofwaardig?

-----------------

Sommige van die liedere wat ons by Kersfees sing, (en ek sê nie dis verkeerd nie,) maar somtyds skep dit so rustige en vreedsame atmosfeer dat ‘n mens die rouheid van die omstandighede kan vergeet.

Hier is ‘n man wat meer as 100km vêr reis saam met sy hoogswanger verloofde om te gaan registreer vir belasting.

By die dorp is nie eens vir hulle plek om in ‘n bed te slaap nie.

Hulle gaan slaap tussen die diere.

Stille nag.

Wat was stil daardie nag?

Nie die gebulk en geblêr van die diere nie. Nie Maria se roep tot die hemel na God om hulp in haar pyn nie

Heilige nag.

Wat was heilig daardie nag?

Nie die diere se mis op die grond nie. Nie die bloed en die sweet deurdrenkte lappe nie.

Wat was so lofwaardig daardie nag dat die engele van die hemel uitroep “Ere aan God!”?

Dis die totale vernedering van die Allerhoogste God. Selfs as hy in ‘n paleis van die aller suiwerste goud gebore was, sou dit al ‘n oneindige vernedering wees vir die Allerheiligste God aan wie alle lof en eer in hemel en op aarde toekom.

Maar hy kies dit. Gebore in ‘n vernedering wat die verstand te bowe gaan.
Hy kies dit uit liefde vir die herders. Vir u. vir my.

Gebore in naaktheid. Met niks behalwe die liefde van sy ouers wat hom met doeke toedraai en in die voerbak van die diere neerlê nie.

Absolute vernedering wat net dieper en dieper sal raak tot die moment waar hy gespoeg en geslaan naak aan die kruis sal sterf en die angste van die hel op homself neem.

Dit is wat die Allerhoogste God, lig uit lig, gedoen het vir u en vir my. Om vir ons ware vrede te bring. Vrede met God. Sodat ons in geregtigheid en heiligheid tot in ewigheid met Hom mag lewe.

 

Geliefde gemeente, as ons dit besef, sal ons dan nie ook uitbars met lof nie?

Sal ons nie ook soos die herders jubel en dit met almal wil deel nie?

Is dit nie die mees wonderlike nuus van groot blydskap; wat werd is om gekoester te word nie?

Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!

Amen