Twee wonderbaarlike swangerskappe merk die oorgang van skadus na werklikheid.

Predikant: 
br Jakob Mars tydens internskap in Kaapstad
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2025-03-02
Teks: 
Lukas 1:5-56
Verwysing: 
Lukasreeks 2025
Preek Inhoud: 

Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.

In die eerste preek het ons gesien dat Lukas sy evangelie geskryf het sodat Theofilus, en ons vandag, sekerheid mag hê dat Jesus Christus waarlik God se lang beloofde Messias is.

God was besig was om sy Ou Testamentiese beloftes in vervulling te bring, en Lukas het hierdie enorme taak onderneem om alles wat God besig was om te doen noukeurig te ondersoek, om onderhoude te voer met die ooggetuies, en om alles ordelik weer te gee.

Maar waar sal hy begin skryf?

Sal hy begin by Abraham, soos Matteus dit doen?

Of by die bediening van Johannes die Doper, soos Markus?

Of voor die grondlegging van die aarde? Soos Johannes?

Wanneer Lukas sy evangelie begin, dan begin hy by twee wonderbaarlike swangerskappe, en die geboorte van twee seuns.

En hierdie twee verhale word op ‘n pragtige manier saamgeweef. Hulle word langs mekaar geplaas, met die resultaat, dat mens nie anders kan as om die twee met mekaar vergelyk nie.

Hier is twee swanger vroue. Beide die vroue gaan deur iets soortgelyk.

En dis nie net die veranderinge waardeur hulle liggame gaan nie. Dink aan die feit dat beide ouers deur ‘n enorme verandering gaan in hoe die samelewing na hulle kyk en wat almal van hulle dink.

En dan net die verwondering dat God, na 400 jaar van stilte; van alle mense; juis hulle; nou gekies het om sy plan van verlossing tot vervulling te bring.

Dit is geen wonder dat Maria in vers 39 van ons teks, nadat Gabriel aan haar verskyn het, “haastig” na Elisabet reis nie.

Sy wil by Elisabet wees. Beide van hulle deel hierdie wonder. Hulle gaan deur iets soortgelyks.

Maar tog is daar ‘n verskil tussen die swangerskap van Elisabet, en die van Maria.

En dis in hierdie verskil waar die punt van die verhaal lê.

Die een wonder is oneindig groter is as die ander. Die een Seun is oneindig groter as die ander.

 

Uiteindelik draai beide swangerskappe rondom die Seun in Maria se baarmoeder. Die groot vraag is: Wie is Hy?
Glo u dat Hy die langbeloofde Messias is? Die Seun van die Allerhoogste? Dat Hy die Een is na Wie die hele OT wys?

Wie is Jesus?

Dit is waarna ons vanoggend gaan kyk onder die tema:

Twee wonderbaarlike swangerskappe merk die oorgang van skadus na werklikheid.

  1. Die konsepsie van Johannes
  2. Die konsepsie van Jesus

 

Die verhaal van Johannes die Doper begin in vers 5 van ons teks. Ons lees dat sy ouers, Sagaria en Elisabet, albei uit die priesterlike geslag was.

(Lukas, in sy karakteristieke presiesheid, noem ook uit watter afdeling van die priesters; asook tydperk wat die gebeurtenis afspeel - toe Herodus koning van Judea was.)

Die verwysing na Herodus is egter nie net ‘n verwysing vir akuraatheid nie. Dit plaas die verhaal ook in die tydperk wat die volk van God swaar gebuk gegaan het onder die tirannieke regering van Herodus die Grote, en die Romeinse onderdrukkers. Dit was ‘n tydperk waar die volk met groot afwagting na die Messias uitgesien het.

Nou lees ons in vers 6 en 7 dat Sagaria en Elisabet regverdig voor God was, en in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel het, maar dat hulle geen kind gehad het nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd.

Dis ‘n hartseer prentjie, soos enige kinderlose man en vrou sal weet. En boonop, in daardie tyd veral, is daar met veragting op kinderloosheid neergesien (sien vers 25).

Dis selfs gesien as ‘n straf van God.

Maar dis nogtans ‘n mooi prentjie. Want God getuig van Sagaria en Elisabet - - ondanks die publiek se persepsie - -  dat hulle regverdig en onberispelik was. Hulle was mense wat te midde van hul hartseer nie bitter was teenoor God nie, maar hulself toegewy het aan hul diens aan Hom. In dankbaarheid het hulle hul diens van barmhartigheid uitgeleef.

U kan uself indink hoe hulle die siekes versorg het, die armes en die wese gehelp het, die weduwees besoek het.

En toe, op ‘n dag, het die ongelooflike oor hulle pad gekom.

 

In daardie tyd was daar ongeveer 18 000 priesters in-en-om Jerusalem, wat almal opgedeel was in 24 afdelings. Elke afdeling het beurte gemaak om twee keer per jaar vir ‘n week lank tempeldiens te doen. En omdat daar so baie priesters was, is die persone wat die oggend- en aand-reukoffer sou bring met die lot gekies.

Die reukoffer was dan ook die heiligste deel van die dag se tempel liturgie. Die oomblik wat die priester, in tempel van God, die naaste kom aan die gordyn wat die allerheiligste van die heiligste skei.

In die teenwoordigheid van God moes hy reukwerk brand en vir die volk bid.

Die kans dat jy gekies word vir hierdie taak was astronomies skraal - en as jy dit een maal gedoen het, dan ook nie weer nie. ‘n Enorme voorreg.

En hierdie voorreg het nou juis op Sagaria geval. Dit was die hoogtepunt van sy loopbaan. Hy mog tot voor God se troon kom met die gebede van die volk.

Kan u uself voorstel? Dit was nie net ‘n kwessie van daar in die tempel inwals en ongeërg ‘n paar dinge doen nie. Sagaria moes homself voorberei. Geestelik en fisies.

U kan uself voorstel hoe hy homself in vas en gebede aan die Here toegewy het soos die dag naderkom. Hoe hy daardie nag voor die tyd nie kon slaap nie. Hoe hy op die dag self homself heeltemal was en reining, die priesterlike klere met eerbied aantrek. Dan stap hy deur die skare mense in die voorhof, deur die rumoer en geween, by die trappies op tot by die tempel deure.

Soos hy instap raak dit skielik vir hom doodstil. Dis asof hy in hemel self ingeloop het. Hy hoor sy eie voetstappe. Hy sien die uitbeeldings teen die mure. Hy sien die eeu-oue kandelaar, die tafel met toonbrode, die gordyn waaragter God se troon op aarde is, en voor dit die reukoffer altaar. Sy hart klop in sy keel. Hy spry die reukwerk op die kole, en soos die rook optrek tot God, so weerklink die woorde van sy gebed in die stilte van die tempel voor God se troon.

En skielik skrik hy homself boeglam! Daar staan ‘n engel van die Here langs die altaar.

Sagaria weet dit nog nie, maar hierdie engel is Gabriel, die engel wat honderde jare terug aan Daniel verskyn het en vir hom dinge aangaande die koms van Christus verduidelik het. Toe Daniel Gabriel gesien het, het hy flou geval!

Wat sou nie deur Sagaria se kop moes gaan nie. Hier staan hy in die heiligste van die tempel, besig met delikate en presiese werk.

Sou ek iets verkeerd gedoen het? Wat gaan nou aan?

Maar dan begin die engel Sagaria gerusstel - vers 13 - Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar.

 

Soos dit hier staan lyk dit amper of Sagaria die geleentheid om vir God se volk in te tree, gebruik het om ook ‘n persoonlike gebedsversoek tot God te rig.

Dit is natuurlik moontlik, maar ek dink nie dis waarskynlik nie - teen hierdie tyd sou Sagaria lankal hoop opgegee het om ‘n kind by Elisabet te verwek.

Net ‘n paar verse verder sukkel Sagaria om die engel te glo.

Dit kan ook wees dat die engel albei gebede bedoel - hierdie gebed, en daardie gebed van vroeër.

Maar ek dink dat daar ‘n baie meer logiese konneksie tussen Sagaria se gebed en die belofte van ‘n kind is.

 

Van Hebreërs 9:4 weet ons dat die reukofferaltaar baie nou verbind was aan die ark van die verbond - soveel so dat die reukofferaltaar so te sê, eintlik agter die gordyn by die ark behoort het.

Ons sien dit ook in Levitikus 16 - die voorskrifte vir die jaarlikse groot versoendag wanneer die hoëpriester tot agter die gordyn moes gaan.

Op daardie dag moes die hoëpriester die reukofferaltaar en die ark van die verbond so-te-sê met mekaar verbind. Van die reukwerk op die altaar moes op die ark gebrand word, en van die bloed op die ark moes op die reukofferaltaar gesmeer word.

Die twee is met mekaar verbind.

Versoening; verlossing, en die gebede van die volk gaan dus hand aan hand.

 

Waarvoor het Sagaria gebid? Waarvoor het die volk, in vers 10, gebid terwyl Sagaria in die tempel besig was? Was dit nie hoofsaaklik vir verlossing nie? Vir die Messias om sy volk te kom bevry?

Dus wanneer die engel die gebed en die belofte van ‘n kind bymekaar bring, dan sê hy in feite dat hierdie kind ‘n funksie in die verlossing van die volk het.

En Gabriel verduidelik hierdie funksie.

Nou wil ek nie te veel tyd spandeer aan die partikulêre dinge wat die engel oor die kind sê nie, maar ek wil ‘n paar dinge uitlig.

  • In vers 13 sien ons dat dit die engel is wat die naam van die kind aankondiging. En as God die naam kies is dit verseker belangrik. Die kind se naam moet Johannes wees. Dit beteken - “YHWH (die Verbonds-God) is genadig.”
  • Vers 15 sê dat hy “groot [sal] wees voor die Here” --
  • en die vers is verder ook baie interessant want Johannes kry verpligtinge wat in die OT aan die Nasireër gelofte verbind was -- wat ‘n vrywillige en tydelike gelofte was - maar in die geval van Johannes sou dit vir sy hele lewe geld. Verder sal hy vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.
    • Dit wek allerhande interesante vrae by ons op (wat nie onbelangrik is nie) - maar die punt van hierdie vers is duidelik - Johannes is ‘n unieke persoon wie se hele lewe, heeltemal toegewy gaan wees aan die die spesifieke taak wat God vir hom het. En God sal persoonlik, vanaf die vroegste uur, hom vir hierdie taak toerus.

En wat is hierdie taak? vers 16 en 17 -

Hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.

Dit is die vervulling van die profesie wat ons in Maleagi gelees het.

Johannes is die boodskapper, die profeet Elia, wat voor God self uitgaan, om die volk vir Hom voor te berei.

 

Nou hoekom het Lukas vir ons hierdie verhaal opgeteken? Want met hierdie verhaal merk Lukas die begin van die einde van die Ou Verbond;; en die aanbreek van die nuwe. 
‘n Mens sou selfs kon sê dat die verhaal, nie net heeltemal; met sy wortels, takke en blare, ferm geplant staan in die ou verbond nie, maar dat dit die absolute klimaks daarvan is.
Sagaria se kind sal die laaste OT profeet wees wat voor die Here self uitgaan.

Jesus sê self bietjie later in Lukas 7 - Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; (maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.)
en nog bietjie verder: “Die wet en die profete (die OT) was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig” (Lukas 16:16)

Dit is dus glad nie verbasend dat die verhaal van Johannes se konsepsie presies lyk asof dit uitgeknip is met die templaat van ‘n OTse wonder-konsepsie nie.

 

Mens dink outomaties aan Abraham en Sarah wie in hul ver gevorderde ouderdom Isak verwek het. Ons dink Ragel. Aan Hanna wat onder die bespotting van Penniah gely het. Wat met die Here gepleit het vir ‘n kind. Ons dink aan die ouers van Simson wie onvrugbaar was. ‘n Engel het aan hulle verskyn, gesê dat hul seun ‘n Nasireër sal wees, en dat hy Israel van die Filistyne sou verlos.

In al hierdie verhale word ‘n kind deur die magtige ingryping van God verwek, en, al was dit enorme wonders, was die kind wat gebore was, ‘n kind van beide ouers - ‘n gewone mens.

Maar wat elkeen van hierdie verhale spesifiek deel maak van die ou verbond, is dat elkeen van die kinders ‘n voorbereidende taak gehad in God se groot verlossingsplan. Belangrik take, maar voorbereidend.

Hulle het iets groter, meer wonderlik voorafgeskadu. Hulle het die pad gebaan vir Iemand oneindig groter en belangriker as hulself.

Johannes sou die grootste en laaste van hierdie OT profete wees - want dis hy wat sou uitroep - Hy wie onder julle staan … dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie.

 

Dit bring ons by die tweede punt. Die konsepsie van Jesus

Die vervulling van Sagaria se gebed kon natuurlik nie by Johannes se konsepsie stop nie. Want die Here self sou op sy hakke volg.

Maar hoe sou Hy kom?

Dit lees ons vanaf vers 26, met die tweede swangerskap.

En met eerste oogopslag lyk die verhaal redelik dieselfde as die vorige een.

  • Weer is dit die engel Gabriel wat gestuur word om die swangerskap aan te kondig.
  • Weer is dit ‘n godvresende vrou wat menslik gesproke nie kon kinders kry nie
  • Weer is die ontvanger van die boodskap ontsteld.
  • Weer sê Gabriel, “moenie vrees nie”
  • Weer gee Gabriel die naam van die kind,
  • en weer kry die ontvanger van die boodskap ‘n teken.

 

Maar let op die verskil. Die vorige aankondiging was aan ‘n priester, in Jerusalem, in die tempel van God, voor die allerheiligste, gedurende die mees eerbiedigste tyd van die dag. Mens kan sê - die mees waardige mens daardie dag, in die belangrikes plek op aarde.

Maar die tweede aankondiging is skokkend in sy onwaarskynlikheid. Van al die plekke in Israel, verskyn Gabriel in Nasaret van Galilea, ‘n dorp waarvan daar ‘n gesegde was: “kan enigiets goed uit Nasaret kom?”

En van al die mense in die land, verskyn Gabriel aan ‘n jong vrou (waarskynlik ‘n tiener meisie - aangesien hulle in daardie tyd al op 12/13 verloof geraak het.)

Vanuit 'n bloot menslike perspektief was sy onbeduidend. Soos een kommentaar sê: sy was “net 'n niemand in 'n onbelangrike dorp in die middel van nêrens."

Martin Luther het geskryf: God sou netsowel “na Jerusalem toe kon gaan en Kajafas se dogter uitgesoek het. Sy was mooi, ryk, geklee in geborduurde goud met 'n gevolg van diensmeisies wat haar bedien. Maar

God het liewers 'n nederige meisie uit 'n onbeduidende dorp, verkies.”

Wie is Maria dat die Allerhoogste God haar sou kom opsoek met ‘n spesiale boodskap?

Maar is dit nie juis dit wat klein is in die oë van mense wat groot is voor God nie?

Dit is waarvan Maria sing in haar lofsang:

My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het.

 

Dit is die onderste-koninkryk waarvan mense dikwels praat. God werk deur swakheid. Hy vertoon Sy krag en glorie in die dinge wat die wêreld verag.

Rykes stuur hy met leë hande weg, maar hongeriges vervul hy met goeie dinge.

Maghebbers ruk hy van trone af; en nederiges verhoog hy.

En hoe het God die nederige Maria verhoog! Kyk net die belofte wat sy ontvang (vers 31)

Kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.

         (YHWH (die Verbonds-God) verlos!

Hy sal groot wees

         Nie net voor God, soos Johannes nie, maar -

[Hy sal] die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.

In geen onsekere terme spel die engel uit dat die lang beloofde Messias, oor wie hele OT profeteer, uit haar gebore sou word. Dit is Hy vir wie Johannes die pad sou voorberei.

---------------

Nou, Maria is nie so onkundig dat sy nie weet hoe biologie werk nie, so sy wou weet: hoe dit sal werk - ek is nie getroud nie.

Sy vra dit nie omdat sy twyfel nie - maar omdat sy nie verstaan nie. Al die OTse vroue wat swanger geword het, het met ‘n man swanger geword.

So dalk wil sy meer duidelikheid hê op wat sy moet doen - wil u hê ek moet nou met Josef gaan trou?

Maar dan spel die engel nog meer eksplisiet uit dat hierdie kind nie bloot die kind van ‘n mens sal wees nie, maar die Seun van God self. Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.

Hierdie wonder is in ‘n totaal en al ander kategorie as die vorige. Dit is die wonder waarvan al die OTse wonder-swangerskappe maar net skaduwees was. Die kind wat in haar verwek sal word is die realiteit waarheen al die ander na toe gewys het. God self word mens. Dis hoe hy na sy volk toe kom. In die gestalte van ‘n dienskneg.

---------

Seker die mees wonderlike uitspraak in hierdie hele verhaal is Maria se antwoord in vers 38. Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.

Al is hierdie wonder oneindig groter as die wat aan Sagaria openbaar is, glo sy dat God dit kan doen. Al sal hierdie wonder nie smaad wegneem (soos by Elisabet) nie, maar smaad op smaad, veragting, vernedering en bespotting van mense vermenigvuldig, onderwerp sy haarself gewillig, geheel en al aan die wil van haar Hemelse Vader.

Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.

----------------

Sonder dat sy vra kry Maria dan ook ‘n teken - dié van Elisabet se swangerskap. En haastig gaan vertrek sy daarheen. Dit was ‘n lang en gevaarlike reis - van Galilea in die noorde tot Juda in die suide, deur of om Samaria. Maar ook dit kon Maria in geloof doen.

God het hierdie teken vir haar gegee.

En die oomblik wat Maria by die deur van Sagaria se huis binnegaan en groet, dan begin Johannes reeds met sy werk as die grootste en laaste profeet van die Ou Verbond.

Miskien het Maria self nog nie eens geweet dat sy verwag nie, maar toe die Ou Verbond as’t ware in kontak kom met die Nuwe Verbond, die skadu met die realiteit, hoe klein die realiteit toe ook al mog wees in Maria se baarmoeder, toe spring Johannes van vreugde.

Dit is Johannes se eerste getuienis oor die Messias, wat die res van sy lewe sou kenmerk. Reeds nou dryf die Heilige Gees hom om die pad voor God voor te bery.

Maar kyk ook na Elisabet se reaksie. Vir vyf maande lank hou sy al die vreugde van haar eie swangerskap in stilte binne. Maar wat is die eerste ding wat sy uitroep as sy Maria sien? Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot!

Vervul met die Heilige Gees, en in die teenwoordigheid van haar Verlosser roep sy uit: wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?

 

Geliefde gemeente hier is dit so duidelik dat al die aandag op Christus gerig is. Dit is waarom God Johannes gestuur het - om te getuig dat die koninkryk van God in die Persoon van Jesus aangebreek het.

Nie in paleise van silwer en goud nie. Nie by die magtiges in die oë van die wêreld nie. Nie nie by die trotses en hoogmoediges nie.

Maar by dié wat klein is in God se oog. Dié wat in Godsvrees lewe.

Die nederiges en swakkes.

Glo u dit?

Glo u dat Jesus, God se lang beloofde Messias is? Die realiteit waarnatoe die hele OT gewys het? Glo u dat die Allerhoogste God vlees aangeneem het, vir u verlossing, omdat niks by hom onmoontlik is nie?

Dit was waartoe God Sagaria, Elisabet, en Maria opgeroep het. Om dit te glo. En dis waartoe Hy ons vandag nog steeds oproep.

Glo in Hom.

Weet dat Hy getrou is aan al sy beloftes. Vertrou in sy beloftes wat hy aan u vervul in Christus. Bou u hele lewe daarop, ongeag die prys wat dit kos in menslike terme, of die smaad wat u mag verduur.

Want salig - dit sê Elisabet vir Maria in vers 45 - Salig is sy wat geglo het wat die Here aan haar gesê het.

Amen

Liturgie: 
  • Lees: Mal 3:1-3; Mal 4: 5-6

  • Teks: Lukas 1:5-56

  • Sing: 

    • Ps 113: 1, 2, 3

    • Sb 1: 1-2

    • Sb 1: 3-6

    • Ps 40: 1, 2, 4

    • Sb 24 4, 6