Preek: Exodus 9:13-35
Die HERE gaan verder om Egipte te besoek.
Mens en dier, Farao en sy towenaars, ook die afgode van Egipteland loop deur.
Met die sewende plaag teiken God die Egiptiese gode van die lug.
In die Egiptiese wêreldbeeld het die werklikheid bestaan uit drie dinge: water, land en lug.
En elkeen van hierdie drie het sy spesifieke gode – afgode – gehad.
Met die tien plae toon die HERE sy almag oor hulle.
Met hierdie plaag – die haelstorm – verneder God die gode van die lug.
Tema: Die haelstorm bring God se donker wolke van oordeel, maar ook die eerste ligstrale van verlossing
Ons teks begin weer met God se eis: Laat my volk trek.
Moses moet die plaag aankondig: God sal môre baie swaar hael laat reën, soos daar in Egipte nog nooit was nie.
Weer eens ‘n wonder omdat God die presiese tydstip kan bepaal.
Hy kan donker wolke oor ‘n woestynland stuur waar dit maar selde reën, laat staan hael.
Weer eens vra ons die vraag: Hoekom laat God hierdie ramp plaasvind?
Teen hierdie tyd moes Farao al besef het dat God in staat is om Egipte van die aardbodem af te vee.
Inderdaad, God demonstreer hoe uniek Hy is in sy almag.
Hy waarsku Farao – vers 14: sodat jy kan weet dat daar niemand op die hele is soos Ek nie.
In vers 14 staan veelbetekenend: Hierdie keer sal al my plae jou in die hart tref.
Dit is wat God veral teiken: Farao se verharde hart.
En so kom die oomblik nader dat Farao God se almag begin te erken.
Want God het vir Farao die troon geskenk en dis net Hy wat hom toelaat om op die troon te bly sit solank as wat Hy wil, Hy die Almagtige.
Nog ‘n doel hoekom God plaag op plaag oor Egipte gebring het, was om sy Naam te verheerlik.
Nie net in Egipte nie, maar oor die hele aarde.
Dit staan met soveel woorde in vers 16:
Juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.
Dis hoekom – sien vers 15 – God toelaat dat Farao sy hart steeds verhard.
As daar slegs een plaag in Egipte sou gewees het, mog dit dalk in die vergetelheid geraak het.
Mense sou dit nog kon wegredeneer – ag, dit was maar net ‘n toevallige natuurfrats.
Maar tien plae ...!
En dit is presies wat gebeur het in die eeue daarna.
God het bekendheid verwerf oor die hele toenmalige wêreld as die God wat Egipte op sy knieë gebring het deur maar liefs tien plae.
Dit het die hele wêreld geskok.
Dit het die boodskap diep laat insink.
En dit sien mens dan ook reg deur die geskiedenis.
Want vir eeue aaneen word daar nog terugverwys na die tien plae.
Nie net onder God se volk nie, ook onder die heidenvolke.
Toe Josua in die beloofde land die Gibeoniete ontmoet, het die vir hom gesê:
Ons het die gerug oor die Naam van die HERE u God gehoor, en alles wat Hy in Egitpe gedoen het (Jos 9:9).
En nog baie jare later het die Filistyne benoud uitgeroep:
“Wee ons, want so iets het gister en eergister nie gebeur nie. Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie geweldige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenaars met allerhande plae getref het ...” (1 Sam 4:7-8)
En so het die tien plae ‘n mylpaal in die geskiedenis geword, een van die groot gebeurtenisse uit die verlede, wat nooit vergeet is nie.
Dit was natuurlik God se doel met hierdie opeenstapeling van plae.
Sy almag is ingeprent in die kollektiewe geheue.
Selfs in die apostel Paulus se tyd was dit nog so.
Daardie selfde almagtige God, wat Farao tienvuldig gestraf het, daardie selfde God het sy Gesalfde na die aarde gestuur.
Paulus skryf in Romeine 9: “Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.”
Paulus haal hier ons teks aan.
God was almagtig.
Hy was in staat om wonder op wonder in Egipte te verrig.
En in die hede, verduidelik Paulus, is hier God ook almagtig.
Weer het Hy in sy almag wondertekens gedoen – wonder op wonder – en dit in die lewe van sy Gesalfde, Jesus Christus.
God het sy almag getoon oor die duiwel, oor die sonde en die dood.
Die goeie nuus van Christus se opstanding, en die verlossing deur geloof in Hom, dit klink nou oor die hele wêreld, sodat sy Naam grootgemaak kan word.
Dieselfde God van die tien plae, Hy het weer groot wonders op aarde verrig.
Een weer klink sy roep oor die wêreld: Bekeer julle, voor dit te laat is!
God gee nog tyd.
So was dit ook die geval met die sewende plaag.
Want ook die was tydelik.
God toon sy almag deur ook die haelstorm weer tot bedaring te bring.
Want dit was nog nie die finale plaag nie.
Baie opvallend is dat daar in vers 20 genoem word dat nie almal hulle hart verhard het nie.
Daar was naamlik onder Farao se dienaars sommiges wat wakker geskrik het, onder die indruk gekom het van die God van Israel, besef het dat dit nie leë waarskuwings was nie.
God gee by hierdie sewende plaag die geleentheid vir die Egiptenaars om hulleself in veiligheid te bring.
Vers 19 – Hy beveel hulle om al die mense en diere wat in die veld is, betyds in veiligheid te bring.
Farao en sy dienaars staan voor ‘n keuse.
En – gesien die eerste ses plae – het hulle alle rede om die waarskuwing van die aankomende haelstorm ernstig te neem.
En so was daar dus sommiges wat in reaksie op die aankondiging van die hael vir die volgende dag, hulle slawe en vee in veiligheid gebring het.
Maar die hardkoppiges het hulle slawe en vee gewoon in die veld gelaat.
Ons kan daarvan uitgaan dat hulle meer op hulle eie gode vertrou het.
Ja, ook by hierdie plaag is dit ‘n wedstryd tussen God en die afgode van Egipte.
Die Egiptenaars het verskillende gode gehad wat hulle nou kon aanroep.
Gode wat hulle teen ekstreme weerverskynsels kon beskerm.
Soos die god Shu, die god van die atmosfeer.
Of Nut, die godin van die lug.
Of Tefnut, die godin van die reën.
Of Seth, die god van wind en storm.
Farao en baie van sy dienaars het nog steeds op hierdie gode vertrou.
Mog dit waar wees dat daar ‘n haelstorm kom, sal ons gode tog hulle beskerming kan bied ...?
En so gebeur dit dat Moses weer sy staf uitsteek, en die HERE het donder en hael gegee.
Vuur – dit is weerlig – het na die aarde uitgeskiet.
Daar was hael en onophoudelike weerligstrale, ongekend vir Egipte.
Al die mense en diere wat nog in die veld was, is doodgeslaan, ook het die hael al die plante en selfs die bome stukkend gebreek.
Maar, weer eens ‘n bewys van die wonder, in die land Gosen was daar geen hael nie.
Weer was die genademuur daar, tussen God se volk en die vyand.
Maar, soos ek genoem het, sommige van Farao se dienaars het wel die HERE se woord gevrees, en betyds hulle slawe en vee in veiligheid gebring.
Dit is een van die dinge waaroor mens maklik heenlees, as mens met huisgodsdiens vinnig deur die tien plae lees.
Maar dit staan hier wel swart op wit.
Hier en daar kom daar krake in Egipte se verset, en in die vertroue op hulle eie gode.
By ‘n vorige plaag het die towenaars al uitgeroep: Dit is die vinger van God!
En nou is daar dus sommige van Farao se dienaars wat ontsag het vir die HERE se woord.
En, gemeente, enkele hoofstukke later beskryf die Bybel die amper ongelooflike feit dat sommige Egiptenaars saam met Israel Egipte verlaat het tydens die uittog!
In hoofstuk 12 staan daar: “En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek” (vers 38).
Mens kan hier dink aan mense wat dalk ‘n Joodse ma en Egiptiese pa gehad het.
Of mense van nog ander afkoms.
Hierdie is ‘n ligpuntjie wat later in die Skrif net nog helderder sal word.
Al tref die HERE Egipte ongekend swaar, Hy gee selfs vir hulle ‘n kans vir ontsnapping.
En sommiges het die kans aangegryp om onder die oordeel uit te kom.
Ja vir die heidense Egipte het God ook ‘n verlossingsplan!
Jeremia profeteer dat God vir Egipte sal herstel na sy sware strawwe (Jer 46:26).
En Jesaja profeteer oor ‘n dag dat die Egiptenaars hulle sal bekeer:
“En die HERE sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot die HERE bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees.”
Ja, skryf Jesaja: “Egipte sal saam met Assirië die HERE dien.” (Jes 19:19-25)
Wat ‘n genadige God!
En gemeente, die vervulling van hierdie ongekende profesieë het veral deurgebreek op Pinksterdag.
Die Heilige Gees is uitgestort.
En daar was ook Egiptenaars, wat gehoor het hoe die apostels in hulle eie taal oor die groot dade van God in Christus Jesus getuig.
In Handelinge 2 hoor ons ook Egiptenaars wat sê:
“hoe hoor ons hulle [die apostels], elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadocië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië ...” en dan volg in hierdie rytjie ook: “Egipte”!
Onder die drieduisend wat op Pinksterdag tot geloof in Christus gekom het, was daar ongetwyfeld ook mense uit Egipte!
Hoe groot is God se genade!
En nie net op Pinksterdag nie, sy genade is reeds sigbaar hier by die sewende plaag!
Egipte se redding het hier al begin, toe sommige Egiptenare die woord van die HERE gevrees het – vers 20.
Ja dis hoe redding vir ‘n mens werklikheid word.
Deur te luister na die Woord van die HERE.
Ook vandag vir jou en my.
As ons antwoord op die Woord van God in geloof en gehoorsaamheid.
As ons, soos sommige Egiptenaars destyds, sy waarskuwing vir die aankomende oordeel ernstig neem.
As ons erken dat dit waar is wat sy Woord ons leer, naamlik dat ons sondaars is wat ewig verlore sal gaan, tensy ons geloof heg aan sy oproep om in Jesus Christus te glo, Hy wat aan die kruis vir sondaars gesterf het.
Terselfdertyd is daar ook hulle, net soos destyds in Egipte, wat nie aan God se Woord aandag skenk nie.
Vers 21: Hulle het geen ag gegee op die HERE se woord nie.
Letterlik staan daar: Hulle het sy woord nie ter harte geneem nie (2020-Vertaling), nie hulle hart daarop gesit nie.
So het hulle die oordeel ingegaan, met alle gevolge van dien.
Toe die haelstorm oor was, was Egipte geruïneer.
Met een uitsondering, vers 32: “Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, want hulle is later.”
Hulle sou eers later opkom.
Dit in teenstelling tot die vlas en die gars, wat reeds in die aar en in die knopstadium was.
Hoekom word dit so eksplisiet genoem?
Dit wys waarskynlik vooruit na die volgende plaag: die sprinkane.
Die koring en spelt sou oorbly om deur die sprinkane verslind te word.
Nou kom daar iets wat ons nog nie uit Farao mond gehoor het nie.
Farao sê: “Ek het dié keer sonde gedoen. Die HERE is reg, maar ek en my volk het ongelyk.” (vers 27)
Farao gebruik God se verbondsnaam, ook iets wat hy aan die begin nie gedoen het nie.
Maar al noem hy die woord sonde, val hy nog nie op sy knieë om vir vergewing te vra nie.
Hy beveel vir Moses om tot die HERE te bid.
Weer die patroon dat Farao net ontslae wil raak van die plaag, die gevolg van die sonde, maar sonder werklike berou.
Baie mense is nog steeds maar so.
In tye van nood word gebid dat die HERE die plaag, die teenslag, wegneem.
Maar sodra die teenspoed weg is, kan hulle weer op die ou voet verder leef, en moet die HERE hulle net uitlos.
Moses kondig dan aan dat hy die donder en die hael sal laat ophou, sodat, beklemtoon hy, u kan weet dat die aarde aan die HERE behoort.
Ja, om hierdie natuurramp te laat ophou, op sy bevel, dit is ook ‘n teken van sy wonderkrag.
Sodat jy kan weet dat die aarde aan die HERE behoort ...
Gemeente, bely mense dit vandag nog?
Die aarde behoort aan die HERE.
Hy bepaal wat daarop gebeur, Hy is in beheer.
Ook vandag vind daar natuurrampe plaas.
Beleidsmakers wyt dit aan aardverwarming, te veel CO2 uitstoot.
Die mensheid moet hulle leefgedrag verander.
Met hulle motors en vliegtuie en kragsentrales vernietig hulle die aarde.
Moeder aarde sug swaar, ...
O, wanneer gaan ons leer
Sy’s al wat ons het ...
Sy wonder oor haar kinders
Dis haar heel laaste hoop”
(Nataniël)
‘n Mooi gedig van Nataniël, maar die probleem lê by daardie een reël: “Dis haar heel laaste hoop”.
Haar kinders – die mensheid.
Dis die uitgangspunt van baie beleidsmakers en milieu-aktiwiste vandag, naamlik die opvatting: Die mens is die aarde se heel laaste hoop ...
In al daardie beleide en prognoses word God se Naam nie genoem nie.
Sy voorsienigheid is ‘non-existent’.
Sy wonderkrag ... dis net ‘n fabel.
Ek praat dit nie goed dat ons maar die aarde kan op-verbruik nie.
Die Bybel leer ons om rentmeesters te wees.
Al warm die aarde tans op, of dit die skuld is van die CO2 wat deur mense geproduseer word, dit daargelaat, daardie bewys is nie baie sterk nie.
Maar net die feit dat CO2-uitstoot die lug in stede wêreldwyd geweldig ongesond maak, talle mense ernstig siek maak, dit moet wel vir ons as rentmeesters genoeg rede wees om ‘n plan te maak, om dit teen te werk.
Die bruin laag besoedeling wat op ‘n wintersoggend bo Pretoria hang.
En wat van die luggehalte in die hoëveld van Mpumalanga?
Op min plekke in die wêreld is die lug so vuil.
As rentmeesters werk ons ook aan die behoud van die skepping met al sy verskeidenheid, maar ons uitgangspunt is anders, ons ignoreer nie vir die HERE nie.
Hy is in beheer.
Met sy wonderkrag kan Hy in een keer groot beskawings onderstebo keer.
So het dit in Egipte gebeur, en so kan dit weer gebeur.
Laat ons Moses se woorde ernstig opvat: sodat julle kan weet dat die aarde aan die HERE behoort.
Maar sommige mense is hardleers, soos Farao en van sy dienaars.
Moses konstateer dit as hy sê: “ek weet dat julle nog nie ontsag het vir die HERE God nie.” (vers 30)
En inderdaad, want toe die reën en hael en donder ophou, het Farao nog verder gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars.
En steeds het hy Israel nie laat trek nie.
So wissel die een plaag die ander af.
Oordeel, verwoesting, en dan weer ‘n ruspouse – genade-oomblikke.
En gemeente, dit is eintlik die patroon deur die geskiedenis heen.
En so sal dit voortgaan – genadiglik is die oordele en strawwe nou nog net tydelik, van korte duur.
Maar dit waarsku die mensheid wel om voor te berei op die finale oordeel.
Want, die haelstorms is nog nie iets van die verlede nie.
In die finale oordeel gaan die haelstene van God se toorn weer terugkom.
Daarvan profeteer die apostel Johannes in Openbaring:
“En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale ... en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openb 16:17-21)
Maar gemeente, net soos God die Egiptenaars destyds ‘n vooraf waarskuwing gegee het, so doen Hy dit ook vandag.
Destyds het Hy sy boodskapper Moses gestuur om Farao en sy dienaars te gaan waarsku.
Vandag stuur Hy ook boodskappers uit oor die lengte en breedte van die aarde om die mensheid betyds te waarsku.
So het Paulus destyds die Atheners gewaarsku:
God het ‘n dag bepaal, sê Paulus op die Areopagus, “waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” (Hand 17:31)
En so wys sy boodskappers, sy Evangeliedienaars, ook vandag die mensheid op God se genade, op hierdie Man wat uit die dode opgewek is.
Hy gaan die wêreld oordeel, dit is op koms.
Maar daar is verlossing vir almal wat by Hom skuil!
Laat ons ons tot Hom bekeer.
Nie net, soos Farao destyds, nie net spyt hê om so gou as moontlik die plaag verby te kry nie.
Om spyt te hê is geen ware bekering nie.
Maar wie sy sonde bely, sal wel genade vind.
Oorvloedige genade.
Dit is die goeie nuus, die heerlike Evangelie, wat al by die sewende plaag begin skyn het, maar vandag in al sy helderheid skyn.
Die sewende plaag het donker wolke gebring.
Maar ook die eerste ligstrale van verlossing.
Redding vir daardie Egiptenare wat wel na die HERE se Woord geluister het.
Vandag skyn die ligstrale van verlossing helder oor Egipte, oor heel Afrika, oor die hele wêreld:
Kom na Jesus Christus, stel jou vertroue op Hom.
Dan is jy veilig teen die oordeel.
Amen.
Votum
Seën
Ps 148:2,3
Wet
Ps 78:3,4,17
Gebed
Skriflesing: Exodus 9:13-35
Ps 18:7,8,9
Skriflesing: Openbaring 16
Sb 32:3,4
Teks: Exodus 9:13-35
Preek
Ps 105:18,23,24
Gebed
Kollekte
Ps 75:1,2,4
Seën