Die opstandingsboodskap breek deur die wolke van ongeloof

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-04-20
Teks: 
Markus 16:9-18
Preek Inhoud: 

Preek: Markus 16:9-18

 

Nadat Jesus uit die graf opgestaan het, het Hy aan honderde mense verskyn.

‘n Keer selfs aan meer as 500 mense tegelyk (1 Kor 15:6).

Daar was dus baie ooggetuies dat Hy teruggekeer het uit die dood.

Hulle getuienis het ons bereik deur verskillende geskrifte.

Verskeie mense se boeke of briewe het ons vandag, waarin dieselfde boodskap van sy opstanding deurklink.

Hierdie mense was mense van uiteenlopende aard.

Daar was die dissipels, wat jare lank saam met Jesus opgetrek het.

Daar was ‘n dokter – Lukas – wat die dinge ondersoek en opgeskryf het.

Daar was Paulus, ‘n gewese Fariseër, wat dieselfde boodskap van die opstanding deurgegee het in sy briewe.

Daar was familie van Jesus self, soos Judas, wat ook ‘n brief in die Bybel geskryf het.

Al met al, ‘n uiteenlopende groep persone se geskrifte wat ons vandag het, waarin die verslae van daardie honderde ooggetuies opgeteken is.

‘n Groep wat normaalweg nie mekaar se vriende sou wees nie.

‘n Groep wat mekaar vooraf ook nie almal geken het nie.

‘n Groep wat vooraf selfs baie vyandig teenoor mekaar was.

Dink aan Saulus – Paulus – en hoe anti-Christelik hy was.

Al met al, daar is volgens my nie ‘n gebeurtenis uit die oudheid wat deur soveel onafhanklike skrywers opgeteken is, en wie se geskrifte al die twee duisend jaar bewaar gebly het nie.

Dit op sig al is ‘n groot appèl op elke mens op aarde wat vandag lewe, naamlik:

Glo die Evangelie van Jesus se opstanding!

 

Tema: Die opstandingsboodskap breek deur die wolke van ongeloof

 

In ons teks word ‘n aantal mense genoem aan wie Jesus verskyn het direk na sy opstanding.

Voordat ons aan hulle aandag skenk, net nog dit.

Al het Jesus aan honderde mense verskyn, ‘n skeptikus sou dalk vra:

Hoekom het Jesus nie aan nog meer mense verskyn nie?

Hoekom het Hy nie ‘n groot massabyeenkoms georganiseer en Homself aan almal getoon nie?

Hoekom het Hy nie nog langer op aarde gebly, sodat Hy veel meer mense kon bereik nie?

Om hierdie vrae te beantwoord, moet mens self ook ‘n skeptikus wees.

Maar dan anders om – skepties oor die vrae wat skeptikusse juis vra.

Ons het die neiging – omdat ons almal êrens in ons hart ook so maklik twyfel – om gou meegevoer te raak deur skeptiese vrae.

Daarom is dit goed om ook skepties te durf wees oor skeptiese vrae.

 

Om te begin by die heel eerste getuies van die opstanding – die soldate wat as wag by die graf geplaas is deur die owerpriesters.

Hulle het die feite gaan vertel aan die owerpriesters.

Hulle is toe baie geld aangebied om ‘n leuen verder te vertel.

So die soldate het gekies om die feite nie te aanvaar nie.

Die owerpriesters het ook nie direk na die graf gegaan om te kyk of dit leeg is en om vir die opgestane Jesus te gaan ontmoet nie.

En ‘n massabyeenkoms organiseer ... sou Jerusalem se stadsbestuur toestemming gegee het om dit te doen?

Kyk, as iemand nie wil glo nie, gaan hy baie redes uitdink om dit nie te wil doen nie, al is die feite voor hom in sy gesig.

Dit is ongelukkig soos die mensheid is.

 

En daarom kies God sy eie manier.

Hy laat Homself nie deur mense lei nie.

Hy weet self wat die effektiefste is.

Vanuit menslike oogpunt lyk dit soms baie oneffektief, maar tog is dit sy regte manier.

 

Neem byvoorbeeld die eerste getuie wat ons teks noem:

Maria Magdalena uit wie Jesus sewe duiwels uitgedryf het.

Daar is twee probleme met hierdie vrou.

Eerstens is sy ‘n vrou.

In die Joodse reg van daardie tyd mog ‘n vrou nie getuig in ‘n regsaak nie.

Vroue se getuienis is nie aanvaar nie.

Dus nie ‘n baie slim keuse dat Jesus juis aan haar as eerste ooggetuie verskyn het nie ...

Verder word ook nog genoem dat sy vroeër besete was van sewe duiwels.

Sy het waarskynlik nie die reputasie gehad as ‘n baie ewewigtige en nugter vrou nie.

Dom keuse van Jesus, sou ‘n mens dink.

Ook baie dom dat Markus juis dit opgeskryf het in sy Evangelie.

Kon hy dit nie liewer uitgelaat het nie?

Want elke Jood uit daardie tyd sou dadelik hieroor skeptiese vrae vra.

Tog staan dit hier in die teks.

Die waarheid bly die waarheid, maak nie saak wie dit vertel nie en maak nie saak wat die waarheid is nie.

 

So kies God om sy eie strategie te volg.

Saam met Maria Magdalena was daar ook nog onder andere Maria die moeder van Jakobus, en Salome (Mark 16:1) – nog vroue.

God steur hom nie aan mense se reëltjies nie.

Hy kies hierdie vroue.

 

En, wat ook belangrik is om te noem, soos elke mens was hierdie vroue van nature sondig en opstandig.

Van nature sou hulle ook die wonder ontken het, al het hulle dit gesien.

Maar die Here het hulle harte gereedgemaak, saggemaak, om dit te erken.

Dit is net so essensieel.

Ooggetuie op sig is nie genoeg nie vir ‘n mens om iets te glo nie.

Dit klink snaaks, maar dit is gewoon so.

En dit sien mens net soveel vandag.

Voordat enige mens vertel wat hy gesien het, sal hy altyd eers nadink: Hoe gaan dit my affekteer as ek die waarheid vertel?

Gaan ek enigsins voordeel daaruit trek as ek die feite met ander deel?

Dalk kies ‘n mens om net selektief die waarheid te vertel.

So is elke mens uit homself geslepe, baie selektief met die waarheid.

Soms is mense te bang om die waarheid te vertel.

Soms baat dit hulle finansieel of andersins om nie die waarheid te vertel nie, of net selektief.

As mens dit in gedagte hou, hierdie sondige manier hoe elke mens op aarde geneig is om met die waarheid om te gaan, dan begin ons ‘n klein bietjie te verstaan hoekom die Here baie bewus aan sommige getuies verskyn het, en hulle harte ook saggemaak het.

Soos byvoorbeeld Maria Magdalena, aan wie Hy reeds tevore sy krag oor sewe duiwels getoon het.

Sy het in haar eie lewe ervaar dat Jesus oor wonderkragte beskik.

Dit het haar hart gereed gemaak om hierdie groot wonder van sy opstanding ook te aanvaar.

 

Dit geld ook vir die dissipels, aan wie Maria Magdalena die nuus moes gaan vertel.

Alhoewel, daar wag vir haar ‘n teleurstelling.

Ons teks sê dat hulle nie gelo het, toe sy vertel dat Hy lewe en deur haar gesien is nie.

Hulle was waarskynlik die groep wat die meeste van Jesus se wonders gesien het.

Hulle was dag en nag vir drie jaar by Hom, onder sy prediking.

Jesus het verskeie kere ook vir hulle vertel dat Hy gaan sterf, maar na drie dae weer opstaan.

Hoe is dit moontlik dat hulle vir Maria Magdalena nie wou glo nie?

Hulle het mos vir haar geken as ‘n goeie vrou.

Is mans hardkoppiger as vroue?

Ek sal dit nou maar in die midde laat ...

 

En behalwe vir die vroue was daar ook nog twee ander wat by die dissipels aangekom het om die nuus aan hulle te bring.

Markus skryf: Jesus het “in ‘n ander gedaante verskyn aan twee van hulle terwyl hulle loop, op pad in die veld.”

Ons dink dan dadelik aan die Emmaüsgangers – Lukas 24.

Wat in ons teks staan lyk of dit pas by wat Lukas oor die Emmaüsgangers geskryf het.

Hulle het Jesus aanvanklik nie herken nie, maar later wel, en toe het hulle dit ook direk aan die dissipels gaan vertel.

Tog is daar eksegete wat beweer dat hierdie twee nie dieselfde mense was as die Emmaüsgangers nie, en hulle is waarskynlik reg.

Want daar is ‘n opvallende verskil in hierdie twee beskrywings.

In Lukas, as die Emmaüsgangers direk teruggaan na Jerusalem om die nuus te deel, ontmoet hulle die dissipels vol geloof.

Die dissipels roep opgewonde na die Emmaüsgangers toe hulle daar aankom: “Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.” (Luk 24:34)

Daarna deel die Emmaüsgangers ook hulle ervaring met die dissipels.

Maar hier in ons teks is dit egter so dat die twee aan wie Jesus op pad in die veld ontmoet het, toe hulle na die dissipels gaan, geen geloof by die dissipels aangetref het nie:

“die het hulle ook nie geglo nie” – vers 13.

Hierdie twee uit die veld was dus heel waarskynlik twee ander persone as die Emmaüsgangers.

Dit is, gemeente, nie ‘n teenstrydigheid tussen die evangelies nie.

Dit is net ‘n bewys dat Jesus regtig aan baie verskillende mense verskyn het.

En, skryf Markus dus, van in elk geval twee onafhanklike groepe het die dissipels die blye berig gehoor, nog voordat Jesus aan hulle self verskyn het – van die vroue en van hierdie twee uit die veld.

 

En daarom het Jesus, toe Hy later op die dag self aan hulle verskyn, met hulle geraas.

Hy het hulle verwyt dat hulle so ongelowig en hard van hart is.

Omdat hulle die wat Hom na sy opstanding gesien het, nie wou glo nie.

Maar noudat hulle Hom self sien, begin die opstandingsboodskap stadig maar seker te breek deur die wolke van hulle ongeloof.

Feit is wel dat dit glad nie vanself gegaan nie.

God self moes die harte van die elf sagmaak.

Hy het hulle nie net as ooggetuies gekies nie, Hy moes hulle ook gewilling maak om dit te aanvaar.

Hy moes hulle bereid maak om hierdie boodskap in die wêreld in te dra.

Want dis waarvoor Hy hulle voorberei het.

Dis sy opdrag aan hulle: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie – hierdie blye boodskap van my opstanding – aan die ganse mensdom!

 

Om saam te vat, ons skud ons koppe oor die dissipels se ongeloof.

Maar ons moet ook erken, van nature is ons dieselfde tipe mense.

Skepties.

Maar ook takties, as dit by die waarheid kom.

Dis net danksy die werk van Christus se Gees dat ons tot ‘n blye erkenning van die waarheid kom.

 

Die verse wat volg het dan ook spesifiek betrekking op die dissipels en hulle toekomstige taak.

Wat Jesus sê in vers 17 en 18 is presies wat daar toe gebeur het – dit kan ons in die boek Handelinge lees.

Byvoorbeeld, in sy Naam het hulle duiwels uitgedryf.

In Handelinge lees ons:

“En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.” (Hand 19:11-12)

Ook het die belofte dat hulle in sy Naam met nuwe tale sou spreek uitgekom.

Ek hoef nie verder hieroor uit te brei nie, ons weet almal wat op Pinksterdag gebeur het.

Verder beloof Jesus dat hulle siekes die hande sal oplê, sodat die gesond sal word.

In Handelinge 28:8 lees ons: “En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.”

Die apostels sou ook slange met hulle hande optel en niks oorkom nie:   

Ook in Handelinge 28 lees ons: “En Paulus het 'n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en 'n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt ... Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie.” (Hand 28:3-5)

Verder het Jesus beloof dat wanneer sy apostels iets dodeliks drink, niks met hulle sal gebeur nie.

Om vir jou vyand gif te gee om te drink, dit was in daardie tyd ook algemeen.

Hiervan is daar nie ‘n letterlike voorbeeld in Handelinge nie, maar wel dat Paulus op ‘n stadium gestenig is en hulle hom buite die stad gesleep het, omdat hulle gedink het hy’s dood.

Maar toe sy dissipels by hom kom, het hy opgestaan en weer teruggekeer in die stad (Hand 14:19-20).

So het Christus sy apostels bewaar teen die vyand.

 

Hierdie wondertekens, gemeente, pas ek so te hore spesifiek toe op die apostels, soos ons dit byvoorbeeld in Handelinge kan lees.

Daar is deesdae mense – veral in charismatiese kringe – wat hierdie wondertekens op elke gelowige toepas.

En hulle redenasie is dan: As jou geloof maar net groot genoeg is, sal jy ook hierdie wondertekens kan verrig.

Wel gemeente, as dit waar was, dan is daar vandag geen enkele gelowige op aarde nie, oftewel, geen enkele gelowige met ‘n groot genoeg geloof nie.

Want daar is niemand wat vandag hierdie wonders verrig, net soos die apostels dit destyds gedoen het nie.

En dit kan natuurlik nie waar wees dat daar vandag geen opregte gelowiges op aarde is nie.

Want Christus is ‘n Koning wat nooit sonder onderdane sal wees nie.

En sy kerk sal nooit tot niet gaan nie.

As hierdie uitleg van charismatiese mense waar sou wees, dan sou dit eintlik ‘n klad op die Naam van die Heilige Gees wees.

Want die Skrif leer ons dat die Heilige Gees die geloof skenk en dit in mense laat groei.

Dan sou die Gees dus vandag in niemand se lewe ‘n kragtige geloof werk nie.

En nie net vandag nie, al vir duisende jare lank.

Daarom, hierdie wonders het Christus geskenk vir spesifiek die apostoliese periode.

In al die generasies daarna het die Heilige Gees voortgegaan om deur sy Woord – deur die prediking van die blye boodskap van sy opstanding – die geloof in mense se lewens te werk.

 

As ons nou vir ‘n oomblik na onsself kyk, is dit nie moeilik om met hierdie mense in ons teks te identifiseer nie.

Ons kan goed verstaan dat die dissipels die berig aanvanklik nie geglo het nie.

As ek en jy in hulle posisie was, sou ons nie anders gedoen het nie.

En ons kan die vroue se eerste reaksie ook goed verstaan.

Dit is beskryf net voor ons teks.

Nadat Jesus aan hulle verskyn het, staan daar: “Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees.” (vers 8)

Dit lyk dus of die vroue nie direk na die dissipels toegegaan het nie.

En dis ook nie heeltemal duidelik of hulle almal saamgegaan het nie.

Ons teks fokus op Maria Magdelena, dit lyk of sy eerste die moed bygemaak geskraap het om wel na die dissipels te gaan en vir hulle te vertel.

Uit Lukas weet ons dat die ander vroue ook uiteindelik by die dissipels opgedaag het (Luk 24:9).

 

Al met al, hierdie ooggetuies word in die Bybel nie opgehemel nie.

Hulle word geskets in al hulle kleingeloof, aarseling, angste.

Tog het God deur hulle gewerk en die blye boodskap rugbaar gemaak.

Langsaam maar seker het die opstandingsboodskap deur die donker wolke van hulle ongeloof gebreek.

 

Vandag ervaar ons dieselfde.

Ook ons hoor die blye boodskap van die opstanding op Paasfees.

Eerstens moet ons hierdie Evangelie aan ons eie harte preek.

Ons eie kleingeloof oorwin.

Die donker wolke van ons eie ongeloof verjaag.

Dit is iets wat voortgaan, want van tyd tot tyd kom daar nog twyfels in ons hart.

Die duiwel probeer ons nog steeds wys te maak dat dit nie waar kan wees nie.

Maar lof aan die Heilige Gees, wat nie moed opgee nie, en die blydskap van die opstanding elke keer weer in ons lewens bring.

Ook vandag op hierdie Paassondag in 2025.

 

En soos wat ons eie kleingeloof oorwin is, mag ons uitgaan en dit deel met ander.

En so hou die blye evangelie nie op om aansteeklik te wees nie, van mens tot mens, van geslag op geslag, van land tot land.

So bly dit donker wolke wegjaag.

Daar is alle rede om vandag Paasfees te vier.

En al word moeite en verdriet die gelowiges nie bespaar nie, is ons daarom blye mense.

Vreugde voer die botoon in ons lewens.

Ons bly positief na die toekoms kyk.

Daar is alle rede daarvoor.

Paasfees is die waarborg.

Soos Paulus so mooi beskryf aan die Korinthiërs:

“As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.

Maar nou, Christus is opgewek uit die dode” (1 Kor 15:19-20)

Aan God die dank, wat ook “ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.

Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Kor 15:57-58)

 

Ook vandag, 2025, word die donker wolke van ongeloof en kleingeloof weer weggejaag, as die helder son van die Paasevangelie verkondig word, hier aan julle, en ook aan die ganse mensdom.

En dit gee ons opnuut moed en begeester ons, dat ons met dankbaarheid in die lewe staan, wetende dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 47:1,4

Wet

Ps 38:15-17

Gebed

Skriflesing: Lukas 24:1-35

Sb 27:3

Skriflesing: Markus 16

Ps 9:7,9,15

Teks: Markus 16:9-18

Preek

Sb 24:5,6

Gebed

Kollekte

Ps 124:1,4

Seën