Die bede vir ‘n volmaakte koninkryk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-04-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Preek Inhoud: 

Op skool leer mens van al die verskillende lande en koninkryke op aarde.

Daar is groot lande wat maklik is om op die kaart, of op ‘n aardbol te vind – lande soos Rusland, Canada, Amerika of Australië.

Suid-Afrika, wat so heeltemal onder aan Afrika lê, is ook nie moeilik om te vind nie.

Dan is daar ook klein landjies waarvoor mens omtrent ‘n vergrootglas nodig het om hulle te vind.

Lande soos Nederland, België en Luxemburg.

Maar waar vind mens die koninkryk van God op die aardbol?

Hoe goed jy ook sal soek met jou vergrootglas, jy sal dit nie vind nie.

Tog is sy koninkryk daar.

Die Here regeer oor die hele aarde!

Wie is dan die burgers van God se koninkryk?

Daar is op aarde miljoene mense wat kinders van die Here is.

Maar ongelukkig is daar ook baie mense wat nie na sy Woord luister nie.

En dan is daar die Satan, God se vyand.

 

Dus, as mens oor hierdie aarde praat, is dit ‘n verdeelde koninkryk.

Sommige mense is trou aan die Koning.

Ander mense gaan hulle eie gang, gaan aan die einde van die dag agter die Satan aan.

Hierdie aarde is tans ‘n verdeelde gebied.

En dit is in kort hoekom die tweede bede daar is.

Hoekom die tweede bede noodsaaklik is, hoekom die Here Jesus ons opgedra het om dit daagliks te bid: Laat u koninkryk kom!

 

Tema: Die bede vir ‘n volmaakte koninkryk

1 Dit is ‘n bede vir gehoorsaamheid aan die Koning

2 Dit is ‘n bede vir die behoud van die kerk

3 Dit is ‘n bede vir die vernietiging van die teenstand

 

1 Dit is ‘n bede vir gehoorsaamheid aan die Koning

In die Bybel word God se koninkryk dikwels in beeld en metafore beskryf.

Niks op aarde is daaraan gelyk nie.

Die glans en heerlikheid van hierdie koninkryk gaan ons verstand te bowe.

In die hoofstuk wat ons gelees het, verduidelik Christus die koninkryk met ‘n aantal gelykenisse.

Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad (Matt 13:31).

Die koninkryk is soos suurdeeg, wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is (Matt 13:33).

Die koninkryk is soos ‘n skat, verborge in ‘n saailand (Matt 13:44).

Dit is soos ‘n koopman, wat mooi pêrels soek (Matt 13:45).

Dit is soos ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring (Matt 13:47).

Dit is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het (Matt 13:24).

En so kan ek nog ‘n rukkie aangaan.

Met allerlei uiteenlopende voorbeelde maak Christus duidelik hoe die koninkryk lyk wat aan sy Vader en aan Hom behoort.

 

Ons is dalk geneig om by hierdie koninkryk te dink aan iets soos ‘n land, geografies gesproke.

Maar ons moet dit omdraai.

Aardse koninkryke sou eintlik soos die hemelse koninkryk moet lyk!

En hoe moeilik is dit nie vir sondige mense nie!

Selfs vir gelowige mense.

As ons in die Ou Testament die geskiedenis van die koninkryke van Juda en Israel lees, en oor hulle konings, kry ons ook nie ‘n betroubare beeld van wat God se koninkryk is nie, al was dit God se eie volk, al is daardie koninkryke ‘n Teokrasie genoem – ryke waarin God die hoogste gesag gehad het.

Ook oor die koningskap van Godvresende konings soos Dawid en Salomo het ‘n skaduwee gehang.

Selfs hulle het God se koninkryk meer verduister as geopenbaar.

Ons sal dus op ‘n ander manier te wete moet kom wat God se koninkryk presies inhou.

Ons is aangewese op God se eie openbaring.

 

Die Griekse woord vir koninkryk kan ook vertaal word as koninklike heerskappy, of koningskap.

Hierby dink ons dan nie aan ‘n ryk nie, maar aan die bevoegdhede en die uitoefening van die gesag deur die koning.

Dit gaan by die woord koninkryk dus nie net oor die ruimtelik geografiese aspek nie, maar ook oor – kom ons noem dit – die dinamiese aspek, die heerskappy.

In Sondag 48 word veral hierdie dinamiese aspek aan die orde gestel, die heerskappy.

Ons lees:

Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp.

Bewaar en vermeerder u kerk.

Vernietig die werke van die duiwel en elke mag wat teen U opstaan.

Daar word dus veral gefokus op dit wat die koning moet doen, sy heerskappy.

Mens kan sê dat dit hier veral gaan oor die voorbereidende aktiwiteite van Hom wat alreeds op die troon sit.

Die Koning is ons Vader, want so begin ons hierdie gebed – Onse Vader wat in die hemel is.

Maar langs die Vader sit ook sy  Seun op die troon.

Vader en Seun is een.

Wie die Seun gesien het, het die Vader gesien (Joh 14:9).

Dit beteken, ons is op die Seun aangewese om die Vader te kan ken.

En om die Vader se koninkryk te leer ken, is ons ook op die Seun aangewese.

Hier is sprake van ‘n tweevoudige verhouding: die van Vader-kind; maar ook die van Koning-onderdaan.

Ons mag ons Koning ook as ons Vader aanspreek.

Wie dit mag doen, die Koning as Vader aanspreek, is self uiteraard ‘n prins of prinses.

En dit is ons inderdaad, prinse en prinsesse – erfgename van die koninkryk.

Saam met die Vader sal ons, eendag net soos Jesus Christus, as konings heers (Openb 22:5).

 

Nou in Sondag 48 gaan dit spesifiek oor hierdie verhouding Koning-onderdaan.

Die onderdaan moet aan die Koning gehoorsaam wees.

Hy moet homself gewillig deur die Koning laat regeer.

En ‘n goeie onderdaan doen dit ook.

Hy luister na die wette van die Koning.

Nou is dit die ideale situasie.

Die aarde is egter nog ‘n strydtoneel.

Christus is besig om te werk na ‘n koninkryk waar elke onderdaan een en al bereidwillig is.

Dit is Christus se eskatologiese doel.

Dit is waar Hy na toe werk, tot die jongste dag.

Dit sou natuurlik pragtig wees, as dit in die hede al die geval was.

Maar daardie gedagte is irreëel.

Die Koning op die troon sê persoonlik vir sy onderdane, dat hulle hulle moet voorberei op ‘n sware stryd, meer nog selfs:

dat hulle nie net êrens in die toekoms nie, maar nou, vandag, ‘n sware stryd moet voer.

Wie agter My wil aangaan, moet sy kruis opneem en My volg!

Indien jou oog jou tot sonde sou verlei, ruk dit uit.

Dit is beter, dat jy, al is dit net met een oog, tog die koninkryk binnegaan, as wat jy met twee oë in die hel gegooi word, sê Jesus in Markus 9:47.

Voorwaar, wie die koninkryk van God nie ontvang soos ‘n kind nie, sal daar verseker nie binnegaan nie (Mark 10:15).

En, waarsku Jesus:

“Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan!” (Mark 10:23)

En in Johannes 3:3 lees ons: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

 

Dus ja, die pad na die koninkryk is een van stryd.

Ons doodsvyande, die duiwel, die opstandige wêreld en jou eie ou mens, is harde realiteite.

Wie nie daagliks teen hierdie drie bly stry nie, sal nie die koninkryk beërf nie.

Sondag 48 benoem nugter hierdie realiteit: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons steeds meer aan U onderwerp.

Hierin hoor ons die eerlike belydenis: Ons skiet tekort.

Ons kry dit self nie reg nie.

Wil U ons daarom onderwerp.

Die woordjie onderwerp dui op weerstand.

Wil U die weerstand breek en ons gewillig maak.

Maak ons steeds meer gewillig om te buig voor u koningsheerskappy.

Dat ons steeds meer gehoorsaam word.

So is hierdie dus ‘n bede wat ons aanspoor tot gehoorsaamheid aan die Koning.

Ons het vandag twee keer die Onse Vader in die kerk gebid – toe ons dit gesing het.

Ons mag huis toe gaan met die wete dat Christus, danksy sy Middelaarswerk, ons gewillige onderdane sal maak, elke dag hierdie week as ons dit van Hom vra.

 

(Tema: Die bede vir ‘n volmaakte koninkryk

1 Dit is ‘n bede vir gehoorsaamheid aan die Koning)

 

2 Dit is ‘n bede vir die behoud van die kerk

Die Kategismus lê eksplisiet die verband tussen God se koninkryk en die kerk:

Bewaar en vermeerder u kerk.

Kerk beteken letterlik: dit wat van die Here is.

Die groep mense wat aan Hom behoort.

Wat Jesus alles oor die koninkryk geleer het, word in sy kerk werklikheid.

Daar waar die kerk is, daar groei die koninkryk.

Die kerk is in die hede die vergestalting, die sigbaarmaking, van God se komende ryk.

Kerk en koninkryk het dus alles met mekaar te make.

God vestig sy koninkryk nie deur ‘n klomp los individue nie, maar deur ‘n kerkgemeenskap.

Die kerk is die middel waardeur die koninkryk op aarde kom, gestalte kry, sigbaar word.

Die einddoel van die kerk se bestaan is die koms van die koninkryk, die heerskappy van God op heel die aarde.

God se koninkryk is op koms, daar waar die onderdane van die Koning meer en meer hulle lewe aan Hom wy.

Waar hulle groei in ‘n lewe in diens aan God.

As daar persoonlike geloofsgroei is, word die kerkgemeenskap ook ryker en hegter, en groei ook die koninkryk.

Dit laat die kerk groei in kwaliteit.

En as nog meer sondaars langs die weg van geloof en bekering hulle by die kerk voeg, groei die koninkryk ook in kwantiteit.

Waar kerklede hulleself onttrek, word daar skade aan God se koninkryk berokken.

 

Nou mag dit moontlik klink asof ons daarvoor moet sorg dat die koninkryk kom.

Dat dit van ons afhang.

Die antwoord hierop is ja en nee.

In die eerste plek ja, God skakel mense in by die voorbereiding en realisering van sy ryk.

Paulus skryf in Kolossense 4:11 oor die gelowiges dat hulle sy medewerkers is vir die koninkryk van God.

Jy kan, ja jy moet jouself inspan vir die koms van die koninkryk.

Dit hang ook van jou af.

Dit is baie erg, en baie waar, maar die koninkryk kan ook deur ons skade lei.

God se koninkryk het in die Ou Testament geweldige skade gelei deur al die afvallige konings in Juda en Israel, en nie net hulle nie, ook elke onderdaan wat eerder die afgode gedien het.

En so ly die koninkryk vandag ook baie skade as kerkmense afvallig raak, of lou raak, as die afgode van die wêreld ook hulle verlei en hulle aandag aftrek van die diens aan die Here.

So het die Here Jesus die kerkmense van sy dae ook verwyt, Mattheüs 23:13:

“wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemel toe voor die mense.”

Dus ja, die koms van die koninkryk hang ook van ons af.

As ons lou is, word dit vertraag, met die gevolg dat deur ons gedrag ander mense uitmis en die koninkryk nie sal beërf nie.

 

Maar in die tweede plek: ook nee.

Die koninkryk hang nie van mense af nie.

God laat sy koninkryk nie skipbreuk ly deur kleingeloof, onwil, selfingenomenheid of louheid nie.

Ten spyte van kerklede soos die Fariseërs destyds, het Christus sy werk nie laat dwarsboom deur hulle nie.

As die genooides nie opdaag nie, dan maar die ongenooides.

“Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.” (Matt 21:31)

Dit koninkryk vind hoe dan ook deurgang, die fees sal aanbreek.

En daar sal ‘n ontelbare menigte wees, ook al het die genooides nie opgedaag nie.

Mattheüs 21:43: “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.”

God gaan verder, Hy laat Hom nie ophou deur mense nie.

Hy roep ons juis op om gehoorsaam agter Hom aan te gaan.

As ons om ons heenkyk, sien ons hoe baie gevestigde kerke besig is om te kwyn.

Dit is skadelik vir die koms van die koninkryk, ook in hierdie land, as soveel voormalige kerkmense afvallig word.

Desnietemin gaan Christus tog verder.

Hy roep ons op om Hom net trou te bly volg, daar bymekaar te kom waar die lig van sy Woord helder brand.

So is hierdie bede dus ook bede vir die behoud van die kerk.

 

(Tema: Die bede vir ‘n volmaakte koninkryk

1 Dit is ‘n bede vir gehoorsaamheid aan die Koning

2 Dit is ‘n bede vir die behoud van die kerk)

 

3 Dit is ‘n bede vir die vernietiging van die teenstand

God gaan verder.

Christus, ons Aanvoerder in die stryd, bly opruk.

Ons mag agter Hom aangaan.

En daar waar sy koninkryk kom, daar moet die duiwel en sy heerskappy agteruitwyk.

Nie dat hy homself maklik laat verdring of wegjaag nie.

Hy pleeg verset tot die uiterste.

As dit goed is, voel u hierdie verset van die Satan in u eie lewe, in u eie liggaam.

En as dit goed is, maak dit jou bekommerd, en dryf dit jou na Christus toe!

Op allerei maniere probeer die duiwel om sy stukkie grondgebied te behou.

Hy is buitengewoon listig in die beraam van planne om die opmars van die koninkryk van God te blokkeer.

Natuurlik gaan hy dit nie regkry nie, maar hy rig wel skade aan.

Hy saai tweedrag en onderlinge wantroue.

Hy probeer die eerste liefde te blus.

Op allerlei slinkse wyses kom hy na ons en probeer ons mislei.

Hy is self baie belese in die Skrif.

Hy probeer, soos by Jesus destyds in die woestyn, die Bybel op sy eie manier te gebruik en toe te pas.

Hy ken ons kultuur, en ook ons persoonlikhede op sy duimpie.

Hy weet presies waar die swak plekke in elkeen se karakter is.

Van al hierdie dinge maak hy gebruik.

Hy weet hoe hy iets, of in ons karakter, of in ons kultuur, of in die wêreld om ons heen, die beste kan benut om ons te laat struikel.

En so gaan hy aan, ook in die 21e eeu, om aanslae te beraam teen die vrou en haar kind, om dit te stel in terme van Openbaring 12.

Hy sal nie ophou nie, totdat die dag kom dat hom vergoed sy plek gewys sal word (Openb 20).

 

Ons is gewaarsku.

Gewaarsku deur Christus self.

Vlug na Hom toe.

Want op Golgota is die stryd teen die satan besleg.

Die oorwinning is behaal.

Wie trou by Christus bly, is in Hom meer as ‘n oorwinnaar (Rom 8)!

Nie dat ons daarom agteroor kan leun nie, allermins.

Na hierdie nagmaalssondag verlaat ons die kerk weer tot die tande toe bewapen.

Want aanhoudend probeer Satan om skape van die kudde af te skeur.

Maar deur sy Gees sorg Christus dat ons staande bly.

Dat ons die geeste onderskei en beproef.

 

Want laat dit duidelik wees.

Satan kan nie doen net wat hy wil nie.

God stel hom paal en perk.

En op ‘n vir ons verstand onverklaarbare wyse gebruik Hy selfs die werke van die Satan.

Die beste voorbeeld hiervan is Golgota self.

Satan het hom tot die uiterste ingespan om God se Seun aan die kruis te kry.

Met die gedagte dat dit dan met Hom gedaan sou wees.

Hy het egter nie daarmee rekening gehou dat God langs hierdie weg juis sy heilsplan tot vervulling gebring het nie!

 

Die tweede bede, u koninkryk kom, is ‘n bede vir die groei en voortgang van God se werk in hierdie wêreld.

Dis ook ‘n bede teen die bose en die kwaad.

Dis ‘n bede vir die vrye toevoer van genade en geregtigheid na verlore mense.

Dit is tegelyk ‘n bede vir die terugkoms van die Here Jesus.

Want eers dan sal die koninkryk in sy volkomendheid aanbreek.

God sal dan alles in almal wees.

Die aarde sal vol van Hom wees.

Ook aan die ruimtelike aspek van sy koninkryk sal daar dan niks meer ontbreek nie.

Dan gaan die bede vir die volmaakte koninkryk volledig in vervulling.

Dan sal ons nog veel meer as nou besef, wat Jesus bedoel het toe Hy vir Pilatus gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh 18:36).

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 46:3

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Nagmaalsviering. Skriflesing: Mattheüs 13; Sing: Sb 28:1,2

Lofverheffing

Gebed

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 48

Preek

Ps 68:15,16

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

Sb 28:3,4

Kollekte

Sb 17:1-6

Seën