Preek: Jesaja 53:8b
Ons herdenk vandag Christus se kruisdood.
Aanstaande Vrydag hoop ons om Goeie Vrydag te vier.
Christus het aan die kruis gesterf.
‘n Fees wat sy kerk deur die eeue bly vier, in die lig van wat dit beteken vir elkeen wat in Hom glo.
Dat Hy as Middelaar vir ons ingestaan het.
Dat Hy die straf, die ewige straf, in ons plek aan die kruis gedra het.
Dat Hy al die volledig teregte toorn van God ondergaan het.
So het Hy sy Vader weer ons Vader gemaak.
Tema: Die plaag was op Hom
In Jesaja 53, wat ons gelees het, word oor Christus se Middelaarswerk geprofeteer.
En daar is ‘n woord wat twee keer in hierdie hoofstuk staan, wat my opgeval het.
Dis die woord plaag.
“Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.” (vers 8)
Hoekom het dit my opgeval?
Omdat ons tans besig is met ’n preekserie oor die tien plae in Egipte.
Met tien verwoestende plae het die HERE vir Farao, die Egiptenaars, en die gode van Egipte geslaan.
Hulle het dit alles verdien, in besonder Farao.
Tot en met die tiende plaag het hy sy hart verhard.
Water in bloed, paddas, muskiete, steekvlieë, pes, swere, hael, sprinkane, duisternis, dood.
Na hierdie plae was Egipte platgeslaan.
Daar was niks oor nie.
Hulle ekonomie was verwoes, die diere dood, alle bome en plante en gewasse vernietig, en dan selfs al die eersgeborenes dood.
Eers toe het Farao die volk laat trek, al het hy selfs daarna weer spyt gekry.
Uiteindelik het hy sy verdiende straf gekry op die bodem van die Rooisee.
In hierdie hele proses was Moses die Middelaar tussen God en Farao, die volk en Farao, en tussen God en sy volk.
Al was Moses aanvanklik baie onwillig om hierdie rol te vervul, en al het hy elke moontlike verskoning uitgedink om dit nie te doen nie, uiteindelik toe hy in die rol was, het hy sy bes gedoen, en was hy ’n voorbeeld van vertroue vir die volk, en ’n voorbeeld van standvastigheid teenoor Farao.
Ons het in Hebreërs 3 ook oor Moses gelees.
Moses word daar vergelyk met Christus.
Die Jode het geweldige respek vir Moses gehad.
Die Hebreërskrywer sluit daarby aan.
Moses was getrou oor sy hele huis – Hy was ’n troue leier van Israel.
Hy was ’n toegewyde dienaar.
Al het die volk hoe gekla en kerm in die woestyn, Moses was elke keer maar weer die minste.
Elke keer het hy die volk weer teruggebring na God toe.
Hy’t vir hulle ingestaan.
Hy was hulle middelaar.
Hy was selfs bereid om in hulle plek te sterf.
Eintlik ongelooflik, as mens vir ’n oomblik stilstaan by die rol wat Moses vervul het.
Menslik gesproke was dit slegs aan hom te danke dat die volk dit deur die woestyn gemaak het, daardie veertig jaar.
Om nie eers te praat oor om die volk uit Egipte uit te kry nie, om elke keer maar weer na Farao toe te gaan, hy wat sy hart soveel keer verhard het.
Saamgevat, Moses was die model middelaar van die ou verbond.
Maar, dit het u beslis agtergekom toe ons Hebreërs 3 gelees het, Moses word hier nie geskets as die beste een nie.
As Moses met Christus vergelyk word, dan bly hy ver agter.
En dit is natuurlik wat die skrywer aan sy Hebreeuse hoorders probeer verduidelik, en hulle daarvan probeer oortuig.
Christus was ook getrou.
En Hy is meer heerlikheid waardig as Moses.
Hoekom?
Omdat Hy self die bouer van die huis is.
Hier word op Christus se Godheid gewys: Hy wat alle dinge gebou het, is God.
God het die huis van Israel gebou.
God is nou, in die nuwe bedeling, besig om sy kerk te bou.
Soos vers 6 sê: “En ons is sy huis ...”
Christus bou hierdie huis.
Om sy huis te wees, daarmee gepaard gaan ‘n bevel.
Die verbond ontstaan eensydig, dit funksioneer tweesydig.
Noudat ons deur genade in sy huis opgeneem is, klink die oproep, net soos destyds aan Israel:
Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie (vers 15).
Ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.
So word Moses en Christus vergelyk.
Moses het telkens as middelaar opgetree, veral as die volk hulle harte verhard het.
Maar – dit herdenk ons vandag – Christus het as Middelaar opgetree, en doen dit nog steeds elke dag, elke keer as ons ons harte verhard.
Moses se middelaarswerk was tydelik, Christus s’n gaan aan en aan.
Moses het soms gefaal in daardie rol, Christus nooit nie.
Elke dag mag ons deur Hom weer na die troon van genade gaan.
Wat ‘n voorreg!
En dan, gemeente, is daar nog ‘n groot verskil tussen Moses en Christus.
En dit het met ons teks te make.
Daar staan: “Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.”
Nou wat ons in die serie preke oor die tien plae tot dusver gesien het, is dat God sy volk gespaar het.
Die plae het nie vir Israel getref nie.
Daar was ‘n onsigbare muur tussen Gosen en die res van Egipteland.
Later, toe Israel bevry was, het in die woestyn geblyk dat hulle nie veel beter as die Egiptenare was nie.
Net soos Farao het hulle ook maar hulle harte verhard.
Eintlik het hulle dubbel en dwars ook die plae verdien wat Egipte getref het.
God was hulle genadig.
God was Moses ook genadig.
Moses hoef nie die straf vir die volk te gedra het nie.
Hy kon in elk geval nie.
Want hy was maar ‘n sondige mens net soos hulle.
Maar hier kom die verskil in, en daaroor profeteer ons teks.
Die Kneg van die HERE van Jesaja 53, die plaag was wel op Hom, Hy moes wel die straf vir die volk dra.
En nie omdat Hy dit verdien het nie.
Maar, soos daar staan, ter wille van die oortreding van my volk.
In hierdie hoofstuk is daar ‘n groot teenstrydigheid.
Want eers word uitvoerig beskryf watter straf hierdie Kneg moes ondergaan.
Hy is verag.
Hy moes ons krankhede op Hom neem, ons smarte.
Hy is deur God geslaan en verduk.
Hy is deurboor.
Hy is verbrysel.
Die straf was op Hom.
Hy is gewond.
Hy is mishandel.
Hy is geslag.
Hy is weggeneem.
En, soos ons teks sê, die plaag was op Hom.
Verskriklik, wat alles met Hom gebeur het.
Maar dan staan daar aan die einde van die hoofstuk ineens dat Hy beloon word.
Dit klink teenstrydig.
Hoe kan iemand was so hard gestraf word, direk daarna beloon word?
Hy ontvang buit.
Hy sal ‘n nakroos sien.
Sy dae sal verleng word.
Die welbehae van die HERE sal op Hom rus.
Hy sal voorspoedig wees.
Hierdie teenstrydigheid kan mens slegs verstaan as jy besef dat dit hier oor ‘n Middelaar gaan.
Iemand wat gestraf word, maar nie vir eie skuld nie.
Dan maak hierdie teenstrydigheid sin.
Dit is wat inderdaad gebeur het.
Ons krankhede het Hy op Hom geneem.
Ons smarte.
Ons oortredinge het daarvoor gesorg dat Hy deurboor is.
Ons ongeregtighede was die oorsaak dat Hy verbrysel is.
Die straf wat vir ons die vrede aanbring, het sy wonde veroorsaak.
‘n Middelaar, dis dus waaroor dit hier gaan.
En wat hierdie Middelaar dus ook meegemaak het, is – soos in ons teks staan – dat die plaag op Hom was.
Nou het God se plae dan vir Hom getref?
Dit lees ons in die Evangelies, en dit herdenk ons in hierdie tyd rond Goeie Vrydag en Paasfees.
God het Hom inderdaad met plae geslaan, die een na die ander.
Hy het mense van hulle melaatsheid genees, maar self is Hy uitgestoot asof Hy melaats was.
In Getsemane het sy sweetdruppels bloed geword.
Hy was veronderstel om in Jerusalem gekroon te word, maar Hy het ‘n doringkroon as bespotting ontvang.
Pleks van ons, het Hy die slae gekry.
Hy is gegesel en gepynig.
Hy is opgehang aan die kruis.
Maar die ergste was, net soos die laaste twee plae in Egipte.
Daar het volstrekte duisternis gekom.
Dit was teken van God se afwesigheid.
En toe het die Eersgeborene gesterf.
Hy, die eniggebore Seun van God.
In ons plek het Hy die plae gedra.
Ons wat net soos die Egiptenaars al die plae verdien het.
Meer nog, ons wat verdien het om ewig deur God gestraf te word.
Maar as Middelaar het Hy daardie grootste straf weggeneem.
Die duiwel en die hel jaag ons geen angste meer aan nie.
Ons Heiland het betaal.
Dit is volbring.
Hy het ons uit die slawehuis uitgelei.
Nou is ons deel van sy huis, waar ons in vryheid kan lewe.
Ons is deelgenote van Christus – sê Hebreërs 3.
Ons deel in sy vryheid.
Hy het uit die graf opgestaan.
Die slawekettings van die graf verbreek.
Wie op Hom vertrou, is ook bevry.
Al is ons nog aan hierdie kant van die graf, skyn Christus se lig alreeds oor ons lewe.
Ons lewe alreeds met die ewige lewe in sig.
Meer nog, ons is reeds bevry!
Ons is deelgenote van Christus, dit wil sê, ons besit ook reeds die ewige lewe.
Die dood is slegs ‘n deurgang.
Die duiwel, dood en graf se kettings is verbreek.
Prys die Here.
Dis al wat ons nou wil doen – Hom prys.
Met hart en mond die lof van die Here verkondig van nou af tot in ewigheid.
Amen.
Votum
Seën
Ps 95:1,2
Wet
Ps 95:4
Gebed
1e deel Nagmaalsformulier
Ps 95:5
2e deel Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
1e tafel: Jesaja 53; Sb 7:5
2e tafel: Hebreërs 3; Sb 7:6
3e tafel: Lofverheffing; Sb 7:8-10
Dankgebed
Teks: Jesaja 53:8b
Preek
Ps 116:7-10
Gebed
Kollekte
Sb 33:2,3
Seën