Die HERE gee nie op nie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-04-06
Teks: 
Exodus 9:1-7
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 9:1-7

 

Is u al moeg vir die plae in Egipte?

Ons is nou eers op die helfte.

As u al moeg daarvoor begin raak, dink net hoe moes die Egiptenare gevoel het.

Soms moet ‘n volk ly onder die hardkoppigheid van hulle leiers.

Dit was in Egipte dubbel en dwars die geval.

En vandag sien mens dit nog steeds.

Duisende Russiese jongmanne sterf omdat Putin so hardkoppig en magswellustig is.

Dit begin stadig maar seker duidelik te word dat die Amerikaners ook moontlik gaan swaarkry onder Trump se hardkoppigheid.

En in ons land en ander lande in Afrika is magsbeheptheid en hardkoppigheid moontlik die grootste oorsaak dat hierdie kontinent in armoede gedompel bly.

Gewone mense se vooruitgang word belemmer deur politici wat net aan hulle eie belange dink.

Egipte se bevolking het gebuk gegaan onder Farao se hardkoppigheid.

Hulle is in ellende en armoede gedompel.

Veral as mens kyk na die impak van die vyfde plaag.

Dink jouself ‘n oomblik in: as die vee in Suid-Afrika by bossies begin vrek.

Dit sal ‘n terugslag wees wat jare en jare gaan duur vir ‘n land om weer daarbo op te kom.

So is Egipte in absolute rampspoed gedompel.

 

Maar die HERE gee nie op nie.

Hy sal Farao so ver kry dat hy ingee.

En, plaag vir plaag, leer Hy heel Egipteland hoe waardeloos hulle afgode is.

 

Tema: Die HERE gee nie op nie

1 Weer span Hy sy weermag in

2 Weer verneder Hy die afgode van Egipte

3 Weer eis Hy dat sy kinders Hom dien

 

1 Waar span Hy sy weermag in

Kom ons begin met ‘n vraag wat vir baie van ons ‘n tameletjie is.

Hoe werk dit dat daar in vers 6 staan: “al die vee van die Egiptenaars het doodgegaan”.

Maar dan lees ons by die sewende plaag dat die hael ook die vee van die Egiptenare doodgeslaan het (ves 20), altans die vee van daardie mense wat hulle diere nie betyds in veiligheid gebring het nie.

Skynbaar was daar dus nog vee oor na die vyfde plaag.

Hoe werk dit, want in vers 6 staan daar tog: “al die vee”?

Nou voordat mens sê dat daar teenstrydighede in die Bybel is en die Bybel daarom nie betroubaar is nie, moet mens kyk of daar nie ‘n logiese verklaring is vir hierdie teenstrydigheid nie.

Onthou, Moses het Exodus geskryf, en die eerste hoorders was mense en hulle kinders wat hierdie wonders self meegemaak het.

As Moses onwaar dinge geskryf het, sou hulle dit opgetel het.

Nou is dit inderdaad moontlik om hierdie oënskynlike teenstrydigheid te verklaar.

Eerstens, die uitdrukking al die vee kan dui op al die verskillende soorte vee wat die Egiptenare gehad het.

‘n Paar soorte word in vers 3 genoem: perde, esels, kamele, beeste en kleinvee.

Die pes was dus nie beperk tot net een spesie nie, maar alle soorte diere is aangesteek.

Dikwels tref ‘n epidemie net een spesie, soos vandag ook gebeur – die beeste, of die hoenders, of die skape.

Maar die pes in Egipte is van so ‘n aard dat alle vee aangesteek word.

Tweedens, ‘n verklaring wat ook gegee word is dat dit hier spesifiek oor die vee gaan wat in die veld was – sien vers 3: “dan sal die hand van die HERE wees teen jou vee wat in die veld is”.

‘n Derde verklaring is dat die uitdrukking “al die vee” in vers 6 hiperbolies opgevat moet word.

Hoe dit ook sy, ‘n geweldige hoeveelheid beeste, kleinvee, kamele, perde en esels het gevrek as gevolg van die pes.

Hierdie vyfde plaag het Egipte op sy knieë gebring.

Dit was swaar op Egipteland.

 

Teen hierdie tyd ken ons al die patroon wat die tien plae volg.

Dit begin met God se bevel: “So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: laat my volk trek, dat hulle My kan dien.” (vers 1)

Moses gebruik weer God se Verbondsnaam.

Dis dié God wat Hom aan hierdie Hebreeuse volkie verbind het.

Hy eis sy kinders vir Hom op.

Hulle moet Hom dien, nie vir Farao nie.

Die doel van die exodus is dat hulle God kan dien.

Om Hom te dien, dit is Israel, en so ook ons doel in die lewe.

 

Vervolgens kom die bedreiging.

As jy weier en hulle nog langer vashou ... en dan kondig Moses die vyfde plaag aan.

En, is duidelik, Farao is die enigste wat vir hierdie plaag geblameer sal word.

As die plaag kom, sal dit slegs te wyte wees aan sy verharde hart.

En daarom sal hierdie plaag Hom direk tref – jou vee wat in die veld is, kondig Moses spesifiek aan.

 

So gesê, so gedaan.

Inmiddels is duidelik dat die plae nie net waarskuwings is nie.

Dit tref Egipte se ekonomie in die hart.

‘n Verskriklike pes breek uit onder die diere waarvan hulle so afhanklik was.

Vir hulle melk, voedsel, klere, maar ook vir hulle arbeid en vervoer.

Want met die beeste is daar geploeg.

En die esels en kamele was die lasdiere en vervoermiddels.

Toe die HERE enkele maande later sy wet vir sy volk gee, beveel Hy in die vierde gebod:

Nie net jy moet rus nie, maar ook jou vee.

Hierby moes die Islaeliete beslis teruggedink het aan Egipte, waar die diere ingespan is vir al hierdie take.

Maar Egipte se landbousektor en ook vervoersektor kom tot stilstand.

Die diere lê dood langs die paaie en op die velde.

Dieselfde geld vir Farao se groot veestapel.

Hulle word geensins gespaar nie.

God se hand was teen hulle, staan daar in vers 3.

Sy soewereine hand.

 

Net soos die ander plae, was hierdie plaag nie net ‘n natuurverskynsel nie.

Dit was ‘n wonder.

Die Skepper span sy skepping in om sy straf uit te voer teen ‘n opstandige mensheid.

Pes word veroorsaak deur bakteries.

Ook hulle is skepsels wat God se bevele uitvoer.

Onsigbaar vir die mense-oog, maar God sien hulle wel.

En net soos by die vorige plaag – die steekvlieë – ruk hulle in hulle miljarde op.

Ja weer span Hy sy weermag in, hierdie keer die bakteriële divisie.

Hulle saai verderf in Egipteland.

 

En net soos by die vorige plaag, is hierdie plaag ook ‘n wonder in die sin dat dit toeslaan op die presiese tyd deur God aangekondig.

Vers 5: “die HERE het ‘n bepaalde tyd gestel en gesê: Môre sal die HERE dit doen in die land.”

 

En wat net so ‘n wonder was, is weer eens dat daar ‘n onsigbare muur was tussen Egipteland en die land Gosen.

Die vee van die Egiptenare het gevrek, maar die vee van Israel, daarvan het nie een doodgegaan nie.

Israel het aan die HERE behoort, en so ook hulle vee.

Hy waak oor hulle vee.

Maar Egipte se gode staan magteloos, hulle vee vrek.

 

(Tema: Die HERE gee nie op nie

1 Waar span Hy sy weermag in)

 

2 Weer verneder Hy die afgode van Egipte

Ja ook met hierdie plaag verneder die HERE die afgode van Egipte.

Die sleutel tot die verstaan van die tien plae lê in Numeri 33, waar ons in vers 4 lees:

Die HERE het “aan hulle gode strafgerigte voltrek.”

Soos ek al eerder genoem het, die Egiptenaars het meer as tagtig afgode gehad.

Ten aansien van die vee – die Egiptenaars se mak diere – was daar ‘n hele ry gode.

Ek gaan nie almal se name noem nie.

Kom ek noem drie bekendes.

Daar was ‘n god wat as ‘n bul afgebeeld is, Apis.

By die tempel in die Egiptiese stad Memphis is daar ‘n lewendige stoetbul aangehou.

As die ding gesterf het, is hy seremonieel begrawe.

Tydens opgrawings is daar selfs begraafplase van hierdie bulle gevind.

Ook was daar die godin Isis, wat gewoonlik afgebeeld is met horings op haar kop.

Dan was daar die godin Hathor wat as ‘n koei afgebeeld is, met die koning wat voor haar kniel en aan haar uiers drink.

Die Egiptenare het hulle vee as ‘n direkte geskenk van die gode beskou.

Geen wonder die land was in paniek toe hulle by bossies begin vrek het.

 

Die boodskap vir die Egiptenare was duidelik.

Julle afgode is ‘n nul op ‘n kontrak.

Maar gemeente, dis vir mense vandag ook die boodskap, ook vir ons.

Al het ons nie gode soos ‘n Apis, Isis of Hathor nie, in ons hart sit dieselfde sondige tendense.

Calvyn het ‘n keer genoem: Die mens se hart is ‘n fabriek wat afgode produseer.

Ons het daardie aangebore neiging.

Ons wil vertrou op iets wat ons kan sien, kan voel.

Apis, die stoetbul, was die god van vrugbaarheid, seksualiteit.

Hoe ‘n groot deel van vandag se kultuur draai nie hierom nie: die bevrediging van die mens se seksuele behoeftes.

En die god wat daarmee saamgaan – die afgod van skoonheid.

Dis die dinge wat tyd en geld opeis.

Maar dis tydelike dinge, dis gode wat nie standhou nie.

As voorbereiding op volgende week se nagmaal ondersoek ons weer ons hart.

Is ons besig om afgode te produseer, en ons vertroue daarop te stel?

Of rig jy jou hart op die HERE alleen?

Vertrou jy op die Onsienlike, soos wat Hy tot jou in sy Woord kom?

Elkeen moet hierdie vrae vir homself beantwoord.

Waar is jou hart?

As dit sover kom soos dit in Egipteland gekom het, dat die HERE bewus die gode waarop jy vertrou begin onttroon, is dit pynlik.

Mag ons betyds leer.

 

Dit was selfs vir Israel ‘n leerskool, toe hulle uit Egipte bevry is.

Naamlik om die invloed van die Egiptiese gode agter hulle te laat.

Om net op die HERE te vertrou.

En ook, soos die HERE hulle met die tweede gebod geleer het: om Hom te dien soos Hy beveel.

Toe Aäron onder druk van die volk by die berg Horeb ‘n goue kalf bou, was dit nie toevallig hierdie dier nie.

Dit gaan terug op Egipte.

Net soos die Egiptenare wou Israel hulle God sien.

Ons weet wat toe gebeur het.

Eiewillige godsdiens het die HERE nie verdra nie.

 

(Tema: Die HERE gee nie op nie

1 Waar span Hy sy weermag in

2 Weer verneder Hy die afgode van Egipte)

 

3 Weer eis Hy dat sy kinders Hom dien

 

Eiewillige godsdiens het die HERE nie verdra nie.

Vroeër nie, net so min vandag.

Dien die HERE met vrees en bewing, wees versigtig om teen sy wil in te gaan.

Rig jou lewe, jou liggaam, jou tyd, jou geld, op die ware doel van die lewe.

Ons leef om God te dien, Hom te verheerlik.

Die HERE beveel Farao: Laat my volk trek, sodat hulle My kan dien.

Die HERE het hulle vir daardie doel bevry.

So bevry God vandag sodat ons vir Hom kan dien.

Dit is ons lewensvervulling.

Christus bevry ons met ‘n doel.

Sodat ons kan dien, nie dat ons terugkeer na die ou afgode nie.

Dis ‘n boodskap ook vir jou as jy al jare lid van die kerk is.

Is jy by die kerk omdat dit as ordentlik beskou word?

Omdat dit die verwagtingspatroon van jou ouers is?

Omdat jy in daardie groef is?

Maar eintlik is jou hart elders?

Dank jy die Here gereeld vir sy gawes, dinge waarvan jy so baie hou?

Of beskou jy dit as wesenlik jou eie besit, of dit materiële dinge is, of jou kinders en kleinkinders, of jou skoonheid, of jou gesondheid ...?

Dank jy die HERE gereeld vir sy gawes?

Of belemmer al daardie gawes jou sig op Hom?

Begin jy die gawes te dien pleks van Hom?

Onthou, hierdie dinge kan jou nie red nie.

 

Redding is uit geloof alleen.

Dit leer die vyfde plaag ons ook.

Die onsigbare muur tussen die Egiptenare en die Israeliete was God se genade, en die geloof daarin, die vertroue daarop.

Slegs deur geloof in Jesus Christus se kruisdood sal jy bevry word, sal jy die finale oordeel vryspring.

Destyds is hulle wat op God vertrou het, beskerm teen die plaag.

Die vyfde plaag is maar ‘n flou voorafskaduwing van die finale oordeel.

Die vyfde plaag was tydelik, op die oordeelsdag sal dit finaal wees.

Maar gelowiges in Christus mag rustig wees by die gedagte dat hulle vir ewig vry sal wees.

Dat sy muur van genade staan tussen hulle en die vlamme van die hel.

 

Vandag is hierdie onsigbare muur steeds daar.

Ek bedoel die onderskeid tussen hulle wat op die HERE vertrou en hulle wat hulle rug op Hom draai.

Dis vandag nie meer die grens tussen Gosen en die res van Egipteland nie.

Hierdie onderskeid loop vandag deur volke heen, selfs deur families en gesinne heen.

Ek noem dit ‘n onsigbare muur, maar dit is ‘n baie reële onderskeid.

Dit word baie sigbaar in hoe mense lewe, op wie hulle steun.

 

Ek kom vir ‘n oomblik weer terug by Farao.

Dis opvallend dat die teks noem dat Farao ondersoek gaan instel het.

Vers 7: “Farao het toe gestuur, en kyk, van die vee van die Israeliete was daar nie een dood nie!”

Is dit regtig so dat hulle wat na hierdie God luister, dat hulle beter af is?

Farao wou weet of wat Moses voorspel het, wel regtig so was, naamlik dat daar geen pes in Gosen sou wees nie.

Hy stuur ‘n ondersoekskommissie na Gosen.

Hulle kom terug met inderdaad die bevinding: van die vee van die Israeliete was daar nie een dood nie!

Dis eintlik ironies.

Pleks van Israel weg te stuur, stuur hy om ondersoek in te stel.

Maar, pleks van oortuig, so eindig die teks, het hy weer sy hart verhard.

 

Hierdie optrede van Farao laat my dink aan wat die Fariseërs en owerpriesters gedoen het.

Hulle het na Jesus se kruisiging vir Pilatus versoek om wagte by sy graf te plaas.

Daardie wagte was die eerstes wat die wonder van die opstanding gesien het.

Hulle was die eerste ooggetuies.

Maar toe hulle vir die owerpriesters gaan vertel wat gebeur het, het die hulle hart verhard.

Hulle het geweier om die wonder te erken.

Hulle het hulle verhard en ‘n leuenstorie die wêreld ingestuur.

So weier Farao om sy greep op die volk te laat vaar, hoewel die wonder in sy gesig was, sy ondersoekskommissie se rapport so duidelik was.

Paulus skryf: “mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Ef 4:18).

 

Vandag is daar ook so baie mense wat kies om skepties te bly.

Wat kies dat hulle verstand verduister word.

Wat die Bybel nie wil aanvaar nie.

Die Godheid van Jesus?

God Drieënig?

Die opstanding uit die graf?

Die aanbod van verlossing aan elke mens op aarde, uit genade alleen ...?

Mense skraap allerlei redes bymekaar, net sodat hulle nie hierdie Bybelse waarhede hoef te glo nie.

Dis hartseer, maar baie waar, baie werklik.

Orals om ons, by ons, selfs in ons huise.

Ja laat ons ook op ons eie hart let.

Die Hebreërskrywer waarsku: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.” (Hebr 3:12)

‘n Bose, ongelowige hart, dis wat Farao gehad het.

Dit was die geval by die owerpriesters en Fariseërs.

Tot vandag gebeur dit.

Is daar in ons midde ook bose, ongelowige harte?

“Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word” (Spr 4:23).

As ons nagmaal vier en jy jouself daarop voorberei, dan vra jy: Sit my hart nog op die regte plek?

Is daar enigsins sprake van ‘n mate van verharding van my hart?

Bid dan:

HERE, wil U my hart weer sag maak.

Wil U ook dit met my doen, wat U destyds al beloof het in Esegiël:

“Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee.” (Es 36:26)

Verwyder elke vorm van twyfel en opstand uit my binnenste.

Gee dat ek van harte glo in die wonder van die leë graf.

Gee dat ek slegs daaraan vasklou, ja aan u opgestane Seun, my Verlosser en Saligmaker.

Wil U verhoed dat ek iets anders het of uitdink waarop ek my vertroue stel (HK 34).

Gee dat ek van alle skepsels afsien.

Gee dat ek U alleen met my hele hart liefhet, vrees en eer.

 

Gemeente, al staan dit nie in die teks nie, is dit natuurlik ‘n feit dat die Israeliete al hierdie dinge ook sien gebeur het.

Met verbystering het hulle gesien hoe die Egiptenaars se vee by bossies vrek, terwyl al hulle diere gesond bly.

Dit moes hulle laat nadink het.

Dit moes hulle vertroue in hulle Verbondsgod versterk het.

Gemeente, laat ons net so in ons geloof versterk word, elke keer as ons weer fokus op al God se heilsdade.

Dis ook die bedoeling van die nagmaal, wat ons volgende week weer hoop te vier.

As Christus dit vir ons gedoen het, wie sal Hom dan nie van harte liefhê en dien nie?

Moenie moed opgee nie, julle finale bevryding is op hande!

Die HERE gee nie op nie.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 76:1,4,5

Wet

Sb 26:1,2

Gebed

Skriflesing: Exodus 9:1-7 & Hebreërs 3

Ps 78:18

Teks: Exodus 9:1-7

Preek

Ps 91:2-5

Gebed

Kollekte

Ps 2:5,6

Seën