Met die vierde plaag eis die HERE volledige bevryding

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-03-30
Teks: 
Exodus 8:20-32
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 8:20-32

 

Ons kom vandag by die vierde plaag in Egipte.

Teen hierdie tyd begin ons ‘n patroon te sien.

Die HERE stry vir Israel en Hy voer oorlog teen Farao, teen die Egiptenaars, en – baie belangrik – ook teen die gode van Egipte.

Dis nie ‘n stryd met swaarde en spiese en strydwaens nie.

Die HERE span die kragte van sy skepping in.

Dis eie aan die HERE.

Later in die Bybel sien mens dit weer en weer terug.

In Josua se tyd byvoorbeeld, in die Rigters se tyd.

Hy toon sy almag deur sy eie skepping in te span.

Hy het nie mensgemaakte wapens nodig nie.

 

Dan is daar nog ‘n patroon wat ons al begin optel het.

Hierdie plae is nie net lukrake ‘random’ natuurfratse nie.

Die spesifieke vorm van elke plaag word baie sorgvuldig deur God uitgekies.

En soos ons gesien het by die eerste drie plae, het dit te make gehad met die afgode van Egipte.

Die HERE het begin deur sy superioriteit te toon oor die gode van die Nylrivier – Osiris, Nu en Hapi.

Hy het die rivier in bloed laat verander en alle lewe daaruit weggeneem.

Toe teiken die HERE met die tweede plaag die god Heket, wat altyd met ‘n paddakop afgebeeld is.

Met die derde plaag triomfeer die HERE oor die god Geb, die god van die grond.

Hy wat kwansuis vir vrugbare grond in Egipte gesorg het, hy kon nie keer dat daar ‘n verskriklike plaag van muskiete uit die stof van Egipte opstyg nie.

So spot die HERE met Egipte se gode.

En plaag vir plaag is Hy besig om Farao se opstand af te breek.

Farao traak hom aanvanklik nie veel nie, want sy towenaars kan dieselfde doen.

Al – dis belangrik om te noem – kan hulle nie die plae wegneem nie.

Net die HERE kon dit doen.

Maar teen die derde plaag staan die towenaars met hulle hande in hulle hare.

Want nou is hulle ook nie in staat om hierdie wonder te dupliseer nie.

Angstig waarsku hulle vir Farao: “Dit is die vinger van God!” (vers 19)

Maar steeds was Farao se hart verhard.

 

En so gaan God voort met sy voorafbeplande strategie om sy volk te bevry.

Stapsgewys, plaag vir plaag, om nie net een nie, maar al die afgode van Egipte te verneder.

Ons kom vandag by die vierde plaag, wat in ons vertaling steekvlieë genoem word.

Kom ons kyk wat het die HERE daarmee geleer vir Farao, vir die Egiptenare, vir sy eie volk, en ook vir ons.

 

Tema: Met die vierde plaag eis die HERE volledige bevryding

1 Hy is Heer oor sy skepping, ook in Egipte

2 Hy bepaal waar en wanneer sy strawwe sal plaasvind

 

1 Hy is Heer oor sy skepping, ook in Egipte

Ons begin weer met die insek wat God hierdie keer gebruik het.

Soos ons by die derde plaag gesien het, is dit nie so maklik om ‘n Hebreeuse woord wat net een of twee keer in die Bybel voorkom te vertaal nie.

By die vierde plaag is dit ook so ‘n geval.

Op basis van die ou vertaling het ons altyd geleer dat die vierde plaag steekvlieë is.

So vertaal die 2020-Vertaling dit ook.

Tog is dit nie so duidelik nie.

In Engelse vertalings word net die woord flies gebruik.

In die ou Statenvertaling staan slegs die woord ongedierte.

Sommige kommentare op die Bybelboek Exodus hou dit ook redelik neutraal, deur byvoorbeeld te sê dat dit vlieënde insekte was.

As mens na die Hebreeuse woordeboek gaan, staan daar by hierdie woord:

‘n Swerm skadelike insekte – en dan word daar nog bygevoeg – unidentifiable.

Om bestek op te maak, uiteindelik is dit nie seker dat hierdie spesifiek steekvlieë was nie.

Vandag het die wetenskap vir elke dierspesie ‘n unieke Latynse naam gegee, wat universeel gebruik word.

Al het elke land sy eie name vir diere – soms pragtige name – tog het elke diersoort vandag ook ‘n naam wat internasionaal dieselfde is.

Dis natuurlik baie handig om misverstand te voorkom.

As ‘n mens sê toktokkie, sal ‘n Amerikaner nie weet waarvan jy praat nie.

En as jy sê seekoei, sal selfs ‘n Nederlander nie weet wat jy bedoel nie, al is die tale so naby aan mekaar.

Vroeër was daar glad nie ‘n internasionale standaardterm vir elke dierspesie nie.

Dit maak dit so moeilik om hierdie diere wat in die 10 plae genoem word – veral as dit by die insekte kom – te vertaal.

Daar is miljarde insekte op aarde, en ook insektesoorte.

Almal saam weeg hulle swaarder as die mensheid.

En God kan hulle dus opkommandeer as Hy hulle nodig het.

Want Hy is Heer oor sy skepping, ook in Egipteland.

 

Wat ook mag help, soos ons by die vorige plae gesien het, is om te probeer agterkom watter afgod die HERE teiken met elke plaag.

So het God met die tweede plaag – die paddas – vir die paddagodin Heket verneder.

Sy is gewoonlik afgebeeld met ‘n paddakop.

Die Egiptenare was nogal gewoond om diere met spesifieke gode te identifiseer.

Ook met hierdie vierde plaag word ‘n spesifieke god geteiken.

Heelwat uitleggers meen dat dit die god Khepri was.

Ook hierdie god Khepri is in die ou Egiptiese afbeeldings met ‘n dier vereenselwig.

Gaan kyk gerus op internet na die erediens, en tik dan in Egyptian god Khepri.

Dan sal jy afbeeldings vind van ‘n menslike liggaam, maar waar die kop behoort te wees, is daar ‘n insek wat ons vandag ‘n kewer sou noem.

Dus, moontlik dat die vierde plaag nie steekvlieë was nie, maar kewers.

Dink byvoorbeeld aan wat ons hier in Suid-Afrika ken as daardie geel vrugtetorre, wat jou hele perske-oes kan verwoes.

In elk geval, soos die woordeboek sê, op hierdie stadium moet ons nog die finale antwoord skuldig bly wat betref die presiese identifikasie van hierdie insek.

Maar vir die res van die preek – gemaksonthalwe – bly ek gewoon die woord steekvlieë gebruik.

 

In elk geval ken God elkeen van sy skepsels by die naam, van die grootste tot die kleinste.

En Hy kan hulle ontbied om sy wapens te wees, sy leërskare, van die sterre aan die hemel tot klein muggies en steekvlieë in Egipte.

 

By hierdie plaag beveel God weer vir Moses om na Farao te gaan.

Die eis is dieselfde: Laat my volk trek, sodat hulle My kan dien.

God eis sy volk op.

Hulle moet Hom dien, nie vir Farao nie.

God voeg die bedreiging dadelik by – anders gaan daar steekvlieë kom.

Jou en die Egiptenaars se huise sal vol daarvan wees.

Selfs op die grond – elke tree wat jy gee sal jy hulle nie kan mistrap nie.

 

Maar Farao verhard weer homself, en so gesê, so gedaan.

Die Bybel sê dat hierdie insekte Egipte geruïneer het – die land is verwoes.

Ironies dat klein insekte dit kan regkry.

Maar al is hulle klein, dis wat gebeur as God hulle in hulle miljarde opkommandeer.

Hulle het mens en dier geteister.

Ook vir Farao en sy towenaars.

En die gode van Egipte het magteloos gestaan, ook die god Khepri.

 

Vandag, in die Westerse samelewing, word diere nie meer met gode geassosieer nie.

Die Weste het oorgereageer na die ander uiterste.

In die wetenskap is die atheïsme dikwels die uitgangspunt.

Naamlik, dat daar geen God bestaan nie, dat die natuur heeltemal outonoom is.

Maar ook vir ons tyd het die plae ‘n duidelike boodskap.

Die HERE is Heer oor sy skepping.

Dis Hy wat sy diere, van die grootste tot die kleinste, kan inspan vir sy plan.

Die HERE het die afgode van Egipte verneder.

Hulle het nie die diereryk beheer nie, hulle het magteloos gestaan.

Al dien mense vandag nie meer gode soos destyds in Egipte nie, bly die boodskap wel dieselfde.

Want ook vandag moet elke mens erken dat daar ‘n lewende God is.

‘n God wat al die diere geskape het, en wat in beheer van hulle almal is.

Hy kan met hulle kommunikeer.

Hy praat met die insekte, en as Hy hulle ‘n bevel gee, dan voer hulle dit uit.

Ook ons is soms te veel beïnvloed deur die sekulêre wetenskap, en ons vergeet dit.

Maar ook die insekte, muskiete en steekvlieë, kewers en toktokkies dien die HERE.

Elkeen op die manier hoe God hulle geskape het.

Moenie dit vergeet nie.

As mens is jy as rentmeester oor die skepping aangestel.

In die manier hoe jy met die skepping omgaan, moet blyk dat jy respek vir die Skepper het!

Elke dier het sy funksie op aarde.

Elke dier is deur God geskape met ‘n doel.

En jy moet dit as rentmeester leer ken – jy moet die skepping bestudeer en name gee aan die diere – soos Adam destyds gedoen het.

Sodat jy goed oor hulle kan regeer, in opdrag van God.

Soos ons weet, die mens het gruwelik misluk daarin as gevolg van die sondeval.

Maar danksy Christus word ons in daardie amp herstel – rentmeesters oor sy ongekende groot en ryk skepping.

Laat ons ons ernstig daarop toelê om dit na die beste van ons vermoë te doen.

 

(Tema: Met die vierde plaag eis die HERE volledige bevryding

1 Hy is Heer oor sy skepping, ook in Egipte)

 

2 Hy bepaal waar en wanneer sy strawwe sal plaasvind

 

Ons kom nou by ‘n volgende aspek van hierdie wonder.

Ons teks noem dit baie eksplisiet.

Naamlik dat in die landstreek Gosen – waar Israel gebly het – daar geen steekvlieë was nie.

Dit maak die wonder net soveel meer indrukwekkend.

Daar was as ‘t ware ‘n onsigare muur tussen Gosen en die res van Egipte.

Nou was die land Gosen nie êrens doer in die woestyn nie.

Gosen was geleë midde in die Nyldelta.

Daar was nie ‘n natuurlike rede hoekom die steekvlieë nie daar uitgekom het nie.

Gosen was waar die goedgesinde Farao lank gelede land beskikbaar gestel het vir Josef se familie om te gaan woon (Gen 45:9-10; 46:28-29)

Natuurverskynsels soos insekteplae neem nie landsgrense in ag nie.

Ook die feit dat Moses namens die HERE die presiese tydstip aandui waarop die wonder sal begin: “Môre sal hierdie teken plaasvind.” (vers 23)

Weer eens is duidelik dat hierdie nie ‘n blote natuurverskynsel is nie.

So was die vierde plaag ‘n wonder, eerstens wat betref sy intensiteit, tweedens wat betref die tydsberekening, en derdens wat betref die plek waar dit toegeslaan het.

Volledige diskriminasie tussen die Israeliete en die Egiptenare.

So is die plaag ‘n geskiedenis van aan die een kant oordeel en aan die ander kant verlossing.

 

Wat was die oorsaak van hierdie so duidelik verskillende hantering van twee volke?

Dit maak die hele boek Exodus vir ons baie duidelik.

Dit was die verbond.

In sy verbond het God beloof dat hy ‘n God vir hierdie volk sal wees.

En God hou sy woord.

So maak hy aan Farao dit ook duidelik:

“Ek sal ‘n verlossing stel tussen my volk en jou volk.” (vers 23)

Die plaag wat die Egiptenare straf, is onderdeel van die verlossing wat God vir sy eie volk besig is om te bring.

Verlossing – bevryding uit die slawerny.

 

God hou sy woord.

Hy het vir hierdie volk gekies, en Hy bly by sy besluit.

Hoekom eintlik?

Moses sou dit later die volk op die hart druk, ons lees dit in Deuteronomium 7:

“Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte.” (Deut 7:7-9)

 

Die rede vir God se keuse is sy genade.

Israel word nie verlos op basis van hulle aantalle of hulle meriete nie.

God se soewereine genade lê aan die basis van hulle bevryding.

 

En dit is waar vir elke mens wat God deur al die eeue uitgekies het om in sy verbond ‘n plek te ontvang.

Die rede vir ons verbondslidmaatskap lê by Jesus Christus, sy betaling.

Hy het aan die kruis vir sondaars gesterf.

Sy dood en opstanding is die grootste exodus van alle tye.

Hy gaan ons daarin voor, en ons mag Hom dankbaar volg.

Hy bevry ons uit ons slawebande van die sonde.

 

En soos destyds die grens tussen Gosen en die res van Egipte wesentlik was – aan die een kant was swerms steekvlieë, aan die ander kant was niks nie – so is kruis van Chrisus die wesentlike grens.

Wie hulle vergifnis by die kruis vind, ontvang bevryding.

Wie die kruis die rug toekeer, bly onder die oordeel.

Wie nie in Jesus Christus wil glo nie, bly buite die verbond.

En die rykdom van die Nuwetestamentiese tyd is dat dit so maklik is vir enige mens uit elk volk en taal en nasie om in die verbond opgeneem te word.

Geen besnydenis meer, geen voedselwette, ook nie meer vlug na Gosen nie, ook geen deel word van die Joodse nasionaliteit meer nie.

Slegs Jesus Christus.

“As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Rom 10:9-10)

Hierdie oproep gaan vandag deur die wêreld, van land tot land, van eeu tot eeu.

Dis maklik, maar ook eksklusief.

Slegs en alleen deur Jesus Christus.

Enigiemand wat nie Christus vertrou nie, bly buite die bevryding, bly onder God se oordeel.

Daarom bly sending en evangelisasie ‘n wesenlike deel van die kerk se bestaan.

Christus stuur sy kerk uit om die goeie nuus te verkondig.

 

Ons kom nog vir ‘n oomblik terug by Farao.

Wat was sy reaksie op hierdie plaag?

Gemeente, as mens hierdie hoofstukke uit Exodus oor die plae lees – byvoorbeeld tydens huisgodsdiens – is mens geneig om oor die nuanses heen te lees.

Op eerste oogopslag vertoon elke plaag dieselfde patroon.

Tog is daar belangrike nuanseverskille.

Ook wat Farao betref.

Stadig maar seker sien mens sy gedrag verander.

Wat opval by hierdie plaag is dat hy glad nie sy towenaars ontbied nie.

By die vorige plaag het hulle misluk – hulle kon nie die plaag naboots nie.

Hulle het toe groot geskrik en vir Farao gewaarsku: “Dit is die vinger van God!” (Ex 8:19)

Nou stel Farao nie meer belang in sy towenaars en hulle raad nie.

Hy besef al persoon wat nou ‘n verskil kan maak, is Moses.

Daarom ontbied hy vir Moses en Aäron.

En dan gebruik Farao ‘n ander taktiek.

Hy besef hy’s met die rug teen die muur, en nou begin hy te onderhandel.

OK, dis reg, gaan offer maar vir julle God.

Maar, hier in die land – julle mag nie Egipte verlaat nie.

 

Moses hou egter voet by stuk.

God se bevel is sy bevel, daar’s nie ruimte vir onderhandelinge nie.

Dit gaan nie werk nie – en in ons teks noem Moses maar net een van die redes hoekom die nie gaan werk nie.

Maar waar dit oor gaan is: God se bevel bly sy bevel.

As God jou iets beveel, kan jy nie die wêreld ingaan en probeer om ‘n kompromis te bereik, ‘n tweede-beste opsie nie.

God se bevryding is volledig.

Christus se bevryding is volledig.

Nie halfpad, met die een voet in die slawerny bly vashaak, en die ander voet wel bevry nie.

Moses besef dit gaan nie werk nie.

Mag ons dit ook besef, soos wat ons in ‘n sondige wêreld ons lewens moet lei.

Kompromisse gaan jou bevryding belemmer.

Wees eerder eerlik, hou voet by stuk.

Christus wil jou heeltemal bevry!

Satan wil jou met een been in jou sondige gewoontes hou, anders verloor hy sy greep op jou.

Moses het Farao se slinksheid deursien.

Farao het hierdie keer tegemoetkomend geklink, bereid om te onderhandel.

Hy was selfs bereid om nog ‘n bietjie in hulle rigting op te skuif.

OK, maar moet net nie te ver in die woestyn intrek nie.

Met in sy agterkop: sodat my weermag kan ingryp, hulle nog kan terugbring.

Die steekvlieë maak Farao desperaat.

Bid vir my! roep hy selfs uit.

Maar dit was onopreg.

Want die oomblik toe die HERE die steekvlieë wegneem, het hy homself weer verhard.

Toe was al sy kompromisse weer van die tafel.

Al sy gunstige terme en voorwaardes het soos mis voor die son verdwyn.

So kan Satan soms redelik wees – oënskynlik.

Maar die oomblik as hy sy kans kry, sal hy weer toeslaan.

Moenie tyd met hom mors nie.

Soms probeer mens met God ‘n kompromis aangaan.

Ja, ons dien Hom op Sondag, maar deur die week doen ons dinge wat eintlik nie hoort nie.

Ja, ons gehoorsaam Hom, maar sommige gewoontes bly voorlopig deel van ons lewe.

Moontlik sou sommige Israeliete vir Moses geadviseer het – jy moet Farao se voorstel maar aanvaar.

Dis in elk geval beter as wat ons nou het.

Dit sal verligting bring.

Maar dit was nie die HERE se plan nie, Hy het ‘n beter plan vir sy kinders gehad.

Sy plan was om hulle heeltemal te bevry, nie net halfpad nie.

Met die vierde plaag eis die HERE volledige bevryding.

Net so, geliefde broers en susters, het Christus ook groot planne met jou!

Nie halwe planne nie.

Hy koop jou los, hy verlos jou met liggaam en siel, uit alle heerskappy van die duiwel.

Moenie vir minder gaan nie.

Moenie met minder tevrede wees nie.

Volg Hom!

Hy is jou Bevryder!

Hy alleen.

Hy heeltemal.

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 31:5,6

Wet

Ps 25:7-10

Gebed

Skriflesing: Exodus 8:20-32

Ps 78:16,19

Teks: Exodus 8:20-32

Preek

Ps 105:17,23

Gebed

Kollekte

Sb 34:1-3

Seën