Preek: Exodus 8:16-19
Die tweede plaag het Farao baie persoonlik getref.
Tot in sy paleis, selfs tot in sy binnekamer, het die paddas gekom.
Hy het Moses gesmeek: Bid tog tot die HERE dat hierdie plaag weggaan.
Hy het darem nou die HERE se mag erken.
Maar hy het nie self tot die HERE gebid nie.
Ook wou hy net ontslae raak van die plaag.
Hy het nie gebid waarvoor hy in die eerste plek moes bid nie: naamlik dat sy sondes, sy opstand, vergewe word.
Hy wou net ontslae raak van die gevolge van die sonde.
So is baie mense ook vandag.
As teenspoed hulle tref, is hulle vinnig om te bid.
Maar daar is nie verootmoediging oor die sonde, oor dit wat in die eerste plek die teenspoed veroorsaak het nie.
Mense wil net dat die teenspoed verbygaan, en dat hulle weer kan aangaan met hulle lewe.
Verder wil hulle niks met God te doen hê nie.
So was Farao.
Want so gou as wat die paddas gevrek het, verbreek hy sy belofte.
Soos ons in vers 15 kan lees: “toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie”.
Maar die HERE was nog nie klaar met Farao nie.
Om die waarheid te sê, dit was deel van sy plan dat Farao nie nou al ingee nie.
Die HERE het nog plae in sy koker gehad.
Stap vir stap sou Hy Farao se opstand breek.
En, belangriker, plaag vir plaag wil Hy wys wie is Baas oor Egipte.
Hy, of die afgode van Egipte.
Want, soos ons in die vorige preke al gesien het, met elke plaag teiken God ‘n Egiptiese god.
Die eerste plaag – die water wat bloed geword het – daarmee het God die afgode van die Nylrivier verneder.
Met die tweede plaag, daarna het ons laasweek gekyk, het Hy die afgod Heket verneder.
Dit was die godin wat in afbeeldings voorgestel is as ‘n padda.
Sy is beskou as die godin van die lewe.
Soos ‘n padda kom sy uit die lewegewende rivier op, en blaas in alles lewe.
Sy was soort van die beskermheilige van alle swanger vroue.
Vroue wat deur die gevaarlike oomblikke van geboorte gaan, kon op haar vertrou.
Vroedvroue was haar priesteresse.
Maar die HERE het gewys wie eintlik die bron van die lewe is.
Egipte het gekwyn, terwyl Israel se bevolking net toegeneem het.
Farao het die Hebreeuse vroedvroue aangespreek, dat hulle die babaseuntjies moes laat doodgaan.
Die Hebreeuse vroedvroue het die HERE egter meer gevrees as Farao.
Ten einde raad het Farao die Egiptenaars toe beveel om self alle babaseuntjies van die Hebreërs in die Nylrivier te verdrink.
Met die tweede plaag straf God Egipte hiervoor.
En die paddas, wat simbool van die lewe was, word nou simbool van die dood.
Hope en hope dooie paddas wat in Egipte ‘n doodsgeur agtergelaat het.
Maar nou volg die derde plaag.
Tema: Dit is die vinger van God!
Aäron moet sy staf uitsteek en die stof van die aarde slaan.
So gesê, so gedaan.
Toe sy staf die grond tref, het daar ontelbare muskiete opgekom.
Nou is daar bietjie onsekerheid hoe die Hebreeuse woord vir hierdie insek presies vertaal moet word.
Die ou vertaling het muskiete.
Die nuwe vertaling het muggies.
Die Engelse King James vertaling het lice – luise.
Verskillende diere kan met die woord bedoel word.
In hedendaagse Hebreeus word die woord (kinnim) gebruik vir vlooie.
Daar is ander wat sê dit was ‘n soort helderkleurige kewer, ‘n insek wat op ou Egiptiese afbeeldings te sien is, en wat op ‘n manier ook die gode verteenwoordig het.
Dis nie altyd maklik om die ou Hebreeuse woorde vir spesifieke dierspesies te vertaal nie.
Dis woorde wat soms maar net een of twee keer in die Bybel voorkom, en ander ou Hebreeuse literatuur het ons ook nie.
Wat hierdie betrokke Hebreeuse woord betref – dit is die enigste plek waar dit in die Bybel voorkom.
Mens kan wel kyk na wat oor hierdie diertjies gesê word.
In vers 17 staan daar dat hulle op die mense en op die vee gekom het.
Muskiete, muggies, vlooie, luise, kewers – dit kon enigeen van hierdie irriterende insekte gewees het.
Soos ek al by die vorige plae genoem het, is daar sommige verklaarders wat beweer dat die een plaag tot die ander een gelei het.
So sou hierdie muskieteplaag die gevolg wees van die Nylrivier wat in vloed was.
Die moerasse was vol water wat die muskiete kon uitbroei.
En ook, omdat die paddas gevrek het, sou daar nou ‘n oorlas aan muskiete wees, omdat die paddas normaalweg die muskiete vreet.
Tog is dit nie die boodskap wat die teks oordra nie.
Aäron moes die stof van die aarde slaan.
Die muskiete, muggies of vlooie het nie op die gewone manier uitgebroei nie.
Normaalweg broei muskiete uit in water, stilstaande water.
‘n Muskiet hou nie van droë grond – stof – nie.
Maar Aäron se staf laat hulle uit die stof opgestyg.
Al die stof van die aarde het muskiete geword – staan daar in vers 17.
Dieselfde Hebreeuse woord wat vir aarde gebruik word, word ook vir land gebruik.
Die bedoeling is hier: Al die stof, al die los grond, van Egipteland het muskiete geword.
Soveel dat hulle ontelbaar was.
Die HERE het dieselfde uitdrukking gebruik toe Hy met Abraham gepraat het:
“Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde” (Gen 13:16; Gen 28:14).
God se bedoeling met hierdie vergelyking – hulle sal soveel wees dat hulle nie getel kan word nie.
So was die muskiete wat opgekom het, totaal oorweldigend, ontelbaar.
Weer eens, hierdie was nie maar net ‘n natuurverskynsel nie.
Dit was ‘n wonder.
God gebruik sy skepping – in hierdie geval insekte.
Maar Hy doen iets wat uitstyg bo die normale natuurwette wat Hy in sy skepping ingeskape het.
Heel die skepping is natuurlik ‘n wonder.
Die geboorte van elke baba, van mens en dier – dit is ‘n wonder.
Die bome wat elke lente weer groen word – dit is ‘n wonder.
Die see, die berge, die riviere, alles is ‘n wonder.
Tog gaan dit hier in die tien plae oor wonders van ‘n ander orde.
Hulle moet anders gedefinieer word.
‘n Verklaarder het ‘n keer die spesifiek Bybelse wonders as volg probeer definieer:
Eerstens: Dit is van ‘n ongekende omvang.
Al was daar soms paddaplae, muskieteplae, siekte onder die vee, hael, ensovoorts, tog is die skaal van die 10 plae op ‘n ander vlak.
Die omvang is nie vergelykbaar met ‘normale’ natuurrampe nie, dit styg ver daarbo uit.
Tweedens, nog ‘n kenmerk van ‘n Bybelse wonder is dat dit presies voorspel word.
Moses het gesê: Môre sal die paddaplaag ophou, en dit het presies so gebeur (Ex 8:10).
Moses het gesê: Môre sal die steekvlieë kom, en dit het presies so gebeur (Ex 8:23).
Natuurrampe kan nie so presies voorspel word nie, hulle kan nie op bestelling verkry word nie.
Derdens, nog ‘n kenmerk van ‘n Bybelse wonder is dat daar onderskeid gemaak word.
In die land Gosen, waar die Israeliete gewoon het, was daar géén vlieë nie, geen dood onder die vee, geen hael nie.
Baie spesifiek tref die plaag sommiges wel, en ander nie.
‘n ‘Gewone’ natuurramp tref almal.
Vierdens, daar is ‘n logiese orde in die 10 plae.
Die plae is nie toevallige natuurrampe nie.
Daar is ‘n volgorde.
Eers teiken die HERE die gode van die water, dan van die land, dan van die lug.
En vyfdens, die plae het ‘n duidelike boodskap.
Elke plaag hou verband met ‘n spesifieke Egiptiese god.
Dit het begin met die gode van die Nylrivier, en die paddagodin, en uiteindelik met die negende plaag die songod.
Dus, al maak die HERE gebruik van sy skepsels – paddas, muskiete, ensovoorts – tog styg hierdie plae ver uit bo die normale natuurverskynsels, selfs abnormale natuurverskynsels – of soos ons dit noem – natuurfratse.
Ons kom weer by die vraag: Hoekom het die HERE gekies om dit op hierdie manier te doen?
Hoekom so omslagtig?
Hoekom het Hy Israel nie net in ‘n handomdraai bevry nie?
Hoekom het Hy nie met Farao gemaak net soos wat Hy byvoorbeeld met koning Belsasar in Daniël se tyd gemaak het nie?
Die een aand het God op bo-natuurlike wyse op die muur van sy paleis woorde geskryf – Mene, mene, tekel, ufarsin – en daardie selfde nag is Belsasar toe om die lewe gebring.
Soos ons gesien het, vir Farao en Egipte het God ‘n ander strategie gehad.
Met elke plaag demonstreer Hy dat Hy magtiger is as die Egiptiese gode.
Die gode van die Nylrivier het Hy verneder met die eerste plaag.
Die paddagodin het Hy verneder met die tweede plaag.
En nou, met die derde plaag, verneder Hy nog ‘n afgod.
Dit was die aarde-god Geb.
Deur die stof te verander in muskiete, wys God sy beheer oor die grond van Egipte.
Daardie vrugbare grond wat elke seisoen weer vir die boere ‘n ryke oes oplewer, daardie selfde grond baar nou peste en plae.
En dit deur net te spreek, soos Psalm 105 beskryf:
“Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied.” (vers 31)
Weer is Egipte in paniek gedompel.
Weer skud die land op sy fondamente.
Koning Farao se taak was om stabiliteit te verseker.
Hy was aangestel deur die gode om voorspoed, stabiliteit, harmonie in die land te waarborg.
Maar weer staan Farao magteloos.
Die hele land is in verwarring, in chaos.
Die HERE versteur die balans, trek die mat onder Egipte se sekerhede uit.
Die gode wankel, Farao stel teleur.
Selfs die towenaars staan hulpeloos – gaan ons nou-nou sien.
Soms trek die HERE die matjie onder mense se sekerhede uit.
So baie mense op aarde stel hulle vertroue in hulle regering, op hulle koning, op hulle president.
Vroeër, vandag nog steeds.
Putin is ‘n held vir miljoene.
Trump is ‘n held vir miljoene.
Noord-Koreane stel hulle vertroue in Kim Jong Un.
Eers in sy pa, nou in hom.
Net soos Farao, ‘n dinastie.
‘n Koningshuis.
Hy het regeer by die grasie van die gode.
Hy het direkte toegang gehad tot die gode.
Daarom kon hy die stabiliteit in die land verseker.
Maar nou word daardie mat onder die Egiptenare uitgetrek.
In ons land is die algemene vertroue op die regering nie groot nie.
Meer en meer besef mense hulle sal hulle eie boontjies moet dop.
Maar te midde van alle onsekerhede soek mense tog houvas.
En die een aardse houvas word verruil vir ‘n ander een.
Daar’s nog ander stokke waarop mens kan steun.
Ons finansiële slaankrag – bankrekeninge, beleggings in binne- en buiteland.
Ander mense stel hulle vertroue op hulle werk, of op hulle besigheid.
Ander mense vertrou op hulle karakter, of hulle intelligensie, of hulle krag, of fiksheid.
Ander vertrou op hulle skoonheid.
Maar die oomblik as God die aarde omkeer, knak al hierdie stokke waarop ons steun.
Al hierdie dinge wat normaalweg vir mense rigting in die lewe gee, waarvoor hulle leef, waarop hulle steun, waarop hulle vertrou.
Genadiglik versteur die HERE soms ons stabiliteite, sodat ons ons houvas net op een plek sal soek:
Op Jesus Christus, sy Seun wat Hy geskenk het.
Hy is die enigste stabiliteit om op te bou, in lewe en in sterwe.
As alles wankel, staan sy rots sterk.
Farao wankel, selfs sy towenaars wankel.
Vir die eerste keer kon die towenaars nie die plaag herhaal nie.
Hulle het probeer om muskiete te tower, maar kon nie.
Hoe hulle daardie eerse plae wel kon naboots, vertel die Skrif nie.
Sommige sê dit was kulkunstenaars, ander sê dit was regtig towery waartoe Satan hulle in staat gestel het.
Wat hier die geval was, is dat God nou ‘n stokkie daarvoor steek.
Nie eers kan hulle die plaag ongedaan maak nie, hulle kan dit nie eers naboots nie.
Tot sover het die Satan hulle kon uithelp, maar nie verder nie.
Ook hulle sit onder die muskiete.
Satan kan “allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” doen – 2 Thessalonisense 2:9.
Maar dis net vir sover God hom daartoe toelaat.
Die towenaars het die eerste twee plae herhaal, by die derde plaag trek God die lyn.
Tot hiertoe en nie verder nie.
Satan is baie kragtig, maar sy kragte is ingeperk.
Soms gee die HERE hom spasie, maar net sodat sy almag nog helderder skyn.
In Job se lewe het Satan baie spasie gekry.
Hy kon al sy kinders se lewens neem, en al sy rykdom, selfs sy gesondheid.
Uiteindelik net om nog duideliker uit te wys dat God se werk in Job se lewe sal standhou.
In Christus se lewe het die Satan ook spasie gekry.
Selfs sover dat Hy aan die kruis gedood is.
Maar weer eens het geblyk dat God steeds in beheer was.
Die kruisdood was per slot van rekening deel van sy plan.
En die Satan kon nie keer dat Christus uit die dood opstaan nie!
Soos die apostel Johannes in sy brief skryf: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1 Joh 3:8)
Dit is jou en my troos, gemeente!
Onthou altyd as jy wankel, as jou sekerhede onder jou uitgetrek word: God stel grense aan wat die duiwel kan regkry.
As ons bid: lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose, mag ons vertrou dat Christus dit sal doen.
Hy beperk die mag van die bose.
Hy beklee ons met sy wapenrusting, “sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.” (Ef 6:11)
Ons kan sterk staan, want Hy maak ons weerbaar: “weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (Jak 4:7)
Die derde plaag is ’n bewys hiervan.
Die duiwel begin agteruit te wyk.
Verbasend wat die towenaars vir Farao sê: “Dit is die vinger van God!”
Hulle was veral ontsteld oor die feit dat hulle die wonder nie kon naboots nie.
Nie dat hulle nou buig voor die enigste ware God nie.
Nie dat hulle in Hom glo nie.
Die towenaars gebruik nie God se verbondsnaam – HERE – nie.
Hulle erken God se almag, maar hulle gehoorsaam nie vir Hom nie.
Vandag is daar baie mense wat ook in God, in die bestaan van ‘n God glo, maar dis waar dit stop.
Van ‘n persoonlike vertroue op Hom en geloof in sy Seun Jesus Christus is nie sprake nie.
‘n Algemene bekentenis dat daar ‘n God bestaan is nie genoeg nie.
Die Skrif leer ons: Slegs “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Rom 10:9-10)
Godsdienstig wees is nie genoeg om gered te word nie.
Maar ‘n lewende, daaglikse, hartlike vertroue in Jesus Christus.
Die towenaars het die uitdrukking gebruik: Dis die vinger van God!
‘n Uitdrukking waarmee hulle bedoel het: Hierdie is ‘n direkte ingryping van God!
Hierdie is die werk van God!
Hulle was geskok.
Hulle het Farao gewaarsku.
Moenie verder met hierdie God kanse vat nie!
Farao het homself egter nog steeds verhard.
Hy het nie na sy towenaars geluister nie.
Gemeente, ons lees weer in die Bybel oor die vinger van God, bedoelende ‘n direkte ingrype van Hom.
Ons het dit vanoggend uit Lukas gelees.
Dit het verband gehou met ‘n wonderteken wat Jesus gedoen het.
Ek het al in ‘n vroeëre preek in hierdie serie verwys na die verband tussen die wondertekens van Egipte, en die wonders wat Jesus verrig het.
Moses se wondertekens het dood en verderf gesaai.
God se vinger, sy direkte ingrype het daardeur sigbaar geword.
Jesus se wondertekens het tot nuwe lewe gewek.
Daarin was God se vinger, sy direkte ingrype, nog duideliker sigbaar!
En dit vertel Jesus self nadat Hy ‘n duiwel uit ‘n stom man gedryf het – Lukas 11:14.
Daarna kon die man praat en die skare was verwonderd.
Maar, net soos by Farao, was daar toe ook mense wat hulle verhard het.
Hulle het opgemerk: “Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit.” (vers 15)
Jesus het egter daarop geantwoord: “as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle sê dat Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf.” (vers 18)
En dan gaan Hy verder deur te sê: “Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.” (vers 20)
Pragtige uitspraak.
Dit roep op tot geloof.
Erken sy wondertekens!
Dit is bewys van God se direkte aanwesigheid en ingrype.
Gemeente, dit is die teken vir jou en my, en vir die wêreld vandag.
Daar sal nie nog ‘n groter teken kom nie.
Glo in Jesus Christus, wat gekruisig is en opgestaan het uit die graf.
Dit is die vinger van God!
Glo in Hom, en jy sal gered word.
Dit is die boodskap, die oproep wat ons moet laat uitgaan, na jouself, jou nageslag, en die wêreld.
Later in die Ou Testament keer die 10 plae telkens as tema terug.
Elke nuwe generasie word opgeroep om na daardie tekens te kyk as bewys van God se ingrype.
Dink aan liedere soos Psalm 78 en 105.
Nou, in die Nuwe Testamentiese tyd word elke nuwe generasie opgeroep om te glo in die wondertekens wat God deur Jesus Christus gedoen het.
Wie homself verhard, wie sy rug draai op die tekens, sal ten onder gaan.
Dit was wat uiteindelik met Farao gebeur het.
Maar daar is redding vir elkeen wat sy Naam bely, die waarheid van Christus se wondertekens erken.
Nog nooit was, en nooit weer sal die vinger van God, sy direkte ingrype in hierdie wêreld, duideliker sigbaar wees nie.
Soos God uit die hemel gesê het: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom!” (Matt 17:5)
Daarom: “salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.” (Luk 11:28)
Amen.
Votum
Seën
Ps 95:2,3,4
Wet
Ps 65:2
Gebed
Skriflesing: Exodus 8:16-19; Lukas 11:14-28
Ps 105:15,17
Teks: Exodus 8:16-19
Preek
Ps 115:3-6
Gebed
Kollekte
Ps 81:1,5,6,7,11,12
Seën