Preek: Exodus 8:1-15
Sewe dae lank het die Nyl gestink van die bloed en al die dooie visse.
Daarna het die HERE die water in die rivier laat terugkeer.
Met hierdie teken agter die rug, so duidelik en voelbaar vir heel Egipte, gaan Moses weer na Farao, met dieselfde versoek, namens die HERE:
Laat my volk trek, sodat hulle My kan dien.
God eis die aanbidding op.
Hy het reg daarop, nie die afgode van Egipte nie.
Hy triomfeer oor Egipte se afgode.
Dit het die eerste wonder duidelik gemaak – die afgode van die Nylrivier is verslaan.
Ons het verlede week daarna gekyk.
Vandag kyk ons na die tweede plaag.
Paddas.
Tema: Die paddaplaag leer: Die HERE alleen is die bron van die lewe
- Hy alleen gee die lewe
- Hy alleen verhoor gebede
- Hy alleen gee die lewe
Saam met die HERE se bevel om die volk te laat trek, kom ‘n waarskuwing.
As Farao weer weier, sal Egipte geteister word met paddas.
Ontelbare paddas sal uit die Nylrivier uit opkom.
Hulle sal oor die land versprei.
Hulle sal in die huise kom, in die slaapkamers, selfs op die beddens.
Tot in die bakoonde en bakskottels
Opvallend dat Moses Farao direk aanspreek:
Ook jou huis, jou slaapkamer, jou bed, jou kombuis met sy bakoonde en bakskottels.
By hierdie plaag sal Farao homself nie in sy paleis kan terugtrek en die realiteit verdring asof niks aan die hand is nie.
Dit sal ‘n plaag wees wat hy eerstehands gaan ervaar.
Tot in die privaatheid van sy paleis, tot in sy slaapkamer.
Maar ondanks hierdie waarskuwing slaan Farao God se bevel in die wind.
Hy gee nie eers antwoord nie, en hy weier om die volk te laat trek.
Daarom laat die HERE nie op Hom wag nie, en beveel Moses:
“Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die paddas opkom oor Egipteland. En Aäron het sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en daar het paddas opgekom en Egipteland oordek.” (vers 5-6)
Soos ’n troepemag het hulle opgeruk uit die rivier, uit die sytakke, kanale en vleilande.
Honderde duisende, dermiljoene.
Hulle het oormekaar geklim, soos hulle vorentoe probeer kom het.
En orals het hulle ingehop, tot in die oonde, moontlik die laaste plek waar die Egiptenare dit sou verwag.
En probeer jou indink watter paddakoor daardie aand oor Egipteland opgeklink het.
Mense wat dammetjies in hulle tuin het, weet hoe vinnig paddas kan aanteel.
En as almal tegelyk begin kwaak ...
Een padda wat kwaak is dalk nog oulik, maar ’n paddakoor hou jou uit die slaap uit.
Dink net aan die oorverdowende geraas wat Egipteland wakker gehou het.
En die geraas was nog die mins erge.
Paddas wat oor jou klim terwyl jy probeer slaap, paddas wat in jou koskaste opeindig, paddas in jou panne, in jou oond, orals.
Die woord “oordek” in vers 6 moet mens letterlik opvat.
Nou was daar ook by hierdie plaag mense wat dit probeer verklaar het asof dit ’n natuurlike verskynsel was.
As die Nyl in vloed afgekom het, een keer per jaar, het die paddas ook baie vermeerder, sodat dit soms ’n plaag kon word.
Hierdie plaag sou die natuurlike gevolg van die eerste plaag gewees het – ’n bo-normale sterk vloed met al die rooigrond wat in die Nyl afgekom het, met as gevolg ’n bo-normale hoeveelheid paddas hierdie jaar.
Maar as mens gewoon die geskiedenis in die Bybel lees, word daar nêrens beweer dat die een plaag ’n natuurlike gevolg van die vorige plaag was nie.
Ook is baie duidelik dat hierdie plae net van ’n ander orde was as enige van die gebruiklike natuurverskynsels.
Ja, daar was soms baie paddas, ja, daar was soms baie muskiete, ja, daar was soms vrekte onder die vee, ja, daar was soms ’n sprinkaanplaag, maar nooit van hierdie omvang nie.
Wat hier oor die paddas beskryf word is ’n plaag duidelik in omvang wat daar nog nooit was nie.
Vir elke Egiptenaar, ook vir Farao, was dit oorduidelik dat hierdie ’n Goddelike ingrype was.
Hierdie plaag het ’n soort humor in hom gehad.
Die feit dat die paddas sonder probleme in die paleis ingekom het, tot in Farao se slaapkamer en tot op sy bed.
En dit terwyl Moses en Aäron nie in die paleis mog kom nie.
Psalm 105 sing spottend daaroor: “Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings.” (vers 30)
Paddas is op sig nie gevaarlike diere nie, maar in so ‘n groot hoeveelheid is dit ‘n ander storie.
Psalm 78 sê: Paddas het verwoesting oor hulle gebring (vers 45).
Kortom, ‘n plaag vol humor, ‘n oorlas, maar uiteindelik ook verwoestend, veral die nasleep daarvan toe die Egiptenare al die dooie paddas moes opruim.
Nou het ek in die vorige preek oor die eerste plaag al genoem dat die tien plae nie net ‘n toevallige rytjie natuurrampe was nie.
Elke plaag is sorgvuldig deur God gekies om die Egiptenare iets te leer.
Met elke plaag het Hy ‘n strategie gehad.
Met elke plaag het God sy heerskappy getoon oor Egipte, en meer spesifiek oor die gode van Egipte.
Plaag na plaag teiken Hy die afgode – die afgode van die water, van die land en van die lug.
En soos ek genoem het, met die eerste twee plae teiken God veral die gode van die water, van die Nylrivier.
Die Nyl wat in bloed verander het, was ‘n oorwinning op die afgode Osiris, Nu en Hapi – het ons in die vorige preek gesien.
Dit was die gode van die Nyl, van die lewe in die Nyl, en van die jaarlikse vloed.
Nou ook met die tweede plaag val God ‘n afgod van die Nylrivier aan.
Spesifiek die godin Heqet.
Sy is gewoonlik afgebeeld met die kop en lyf van ‘n padda.
Vir hierdie rede was die padda ‘n heilige dier in Egipte.
Net soos ‘n koei in Indië mog ‘n padda in Egipte nie doodgemaak word nie.
Die padda was naamlik die simbool van hierdie godin.
En hierdie godin, Heqet, was getroud met die Egiptiese skeppergod.
Hy het mens en dier gemaak soos ‘n pottebakker ‘n beeld maak, en daarna die die godin Heqet die asem van die lewe daarin geblaas.
Gemeente, dis geen verrassing dat hierdie plaag ‘n vernedering was vir die godin Heqet nie.
Ineens was daar so baie paddas dat hulle nie meer ‘n simbool van lewe was nie, maar van die dood.
En heel demonstratief laat God hierdie dermiljoene heilige diere aan die einde van die plaag vrek.
Hy trek hom niks aan van Heqet se bevel dat paddas nie doodgemaak mog word nie.
En die doodsgeur wat al die hope paddas daarna versprei het, het vergoed by die Egiptenare die assosiasie weggeneem dat die padda ‘n simbool van die lewe sou wees.
Die boodskap is duidelik: Op Heqet kon die Egiptenare nie meer vertrou as die een wat die lewensasem gee nie.
Die godin van die lewensasem ...
U sal verstaan dat hierdie godin daarom ‘n belangrike rol in Egipte gespeel het by kindergeboorte.
Sy was soort van die beskermheilige vir swanger vroue, veral tydens die geboorte.
Veral vroeër was geboorte skenk ‘n lewensgevaarlike taak vir vroue.
Maar tot Heqet kon die Egiptiese vroue hulleself wend as die weë gekom het.
Sy sou die vroue beskerm.
Sy sou ook die babatjie beskerm, sodat dit gesond gebore word, met die lewensasem in hom.
En die vroedvroue wat by die geboorte gehelp het, was soort van haar priesteresse.
Nou, gemeente, in hierdie verband – wat betref kindergeboorte – onthou u dalk wat mens ‘n klompie hoofstukke eerder in Exodus kan lees.
In Exodus 1 staan daar dat die HERE sy volk in Egipte geseën het, sodat hulle baie talryk geword het.
Daar is baie babas vir hulle gebore.
En die HERE het in besonder die Hebreeuse vroedvroue se werk geseën.
Dit het nie ongesiens aan Farao verby gegaan nie.
Hy was jaloers.
Hy het die vroedvroue van Israel laat roep en hulle bevel gegee om voortaan die seuntjies te laat sterwe.
Maar, staan daar, “die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe.” (Ex 1:17)
Farao het hulle weer ontbied en gesê: “Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe?”
Waarop die vroedvroue geantwoord het: “Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk – voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar.”
En dan staan daar veelbetekend: “God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. En die volk het vermenigvuldig en baie magtig geword.” (Ex 1:20)
Duidelik was die God van die Hebreeuse vroedvroue meer suksesvol as die godin Heqet van die Egiptenare.
Ons kom terug by die tweede plaag, want dit word nou duidelik dat daar ’n verband is tussen hierdie plaag en die wrede optrede van Farao, sy bevel aan die Hebreeuse vroedvroue wat op niks uitgeloop het nie, en toe sy bevel aan die Egiptenare om al die seuntjies van Israel in die Nyl te gooi dat hulle kan verdrink.
Met hierdie tweede plaag kom nou God se straf hierop.
Nie Heqet is in beheer van lewe en dood nie.
Sy is verneder.
God straf Egipte vir die kindermoord.
Al God se oordele is regverdig.
Farao se misdaad gaan nie ongestraf nie.
En die boodskap is duidelik.
Nie hy, en nie Heqet sy afgod, is in beheer van lewe en dood, en van geboorte nie.
Die HERE alleen is die bron van alle lewe.
Hy gee die lewensasem.
Gemeente, ook vandag word juis rond geboortes duidelik watter afgode mense het.
Net soos destyds wil die mensheid volledige kontrole hê, in die algemeen oor die kry van kinders, wanneer om kinders te kry, hoeveel kinders om te kry, en meer spesifiek oor die geboorteproses.
Vir eeue lank was geboorte skenk ‘n lewensgevaarlike proses.
Ma en baba het oor die rand van die graf beweeg.
Vandag is die sterftesyfer rond geboorte aansienlik teruggedring, danksy die mediese wetenskap.
Maar voeg ons ook nog daarby: danksy God?
Want is die mediese wetenskap nie ‘n gawe van God nie?
En as daar komplikasies is, roep ons uit tot die mediese kundiges, of tot die HERE?
Sien ons dokters en ginekoloë slegs as instrumente in God se hand, wat slegs soveel kan doen as waartoe Hy hulle in staat stel?
Deur die eeue was daar baie bygelowe rondom kindergeboorte, ook hier in Afrika, en ook onder ons voorouers.
En hoewel dinge tans baie minder lewensbedreigend is, is daar tog nog soveel dinge wat ons nie beheer nie.
Daar is mense wat blywend onvrugbaar bly.
Daar is gestremde kinders wat gebore word, hetsy weens genetiese oorsake, hetsy weens komplikasies tydens die geboorte.
Daar is miskrame.
Daar is komplikasies vir die ma soos postnatale depressie.
Al hierdie dinge gaan uiteindelik terug op die gebrokenheid van die wêreld sedert die sondeval, toe God vir Eva gesê het:
“Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar” (Gen 3:16).
As ons deur onseker tye gaan, soek ons houvas.
Die Egiptenare het dit gesoek by die godin Heqet.
Sy het bepaal wie die lewensasem kry of nie.
Vandag se afgode is byvoorbeeld welvaart, loopbaan, maar uiteindelik, sowel by die Egiptenare as by die moderne mens, is dit die mens self wat op die troon wil sit.
En die mens wat dinge wil beheer, na sy eie hand wil sit.
En so gebeur dit wydverbeid vandag nog steeds rondom swangerskap en geboorte.
As ‘n baba se koms ongewens is, neem die mens die lewensasem weg deur aborsie, hetsy voor of na geboorte.
Of as die baba wat oppad is vermoedelik een of ander gebrek het, soos skynbaar opgetel deur ‘n sonar, word die swangerskap afgebreek, soos dit eufemisties genoem word.
Maar op die tyd wat die ouers pas, sal hulle ‘n kind ‘neem’.
Daar is voorbehoeding wat moderne mense in staat stel om die kinderseën so te beheer soos dit hulle materiële agendas pas.
Die mens se wetenskaplike ondersoek spits hom daarop toe om die tegniek verder te misbruik, om nie net tydens die swangerskap die kry van gebreklike kinders uit te skakel nie, maar ook self die resep saam te stel vir die kind wat hulle wel soek – watter oë, watter hare, watter ... ensovoorts.
Sogenaamde ontwerpkinders ...
Asof nie elke kind ‘n volmaakte ontwerp van God is nie!
‘n Kind kry is nie ‘n menslike projek nie, maar ‘n gawe van die soewereine God.
En so word die seën van kinders kry al hoe meer ingespan vir, oftewel versmoor in die mens se sondige ambisies en leefstyl.
Die skeppingsopdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder, en dit om goeie rentmeesters op aarde te wees in diens van God, daardie doel van kinders kry het al lankal uit sig verdwyn.
Maar God, die Gewer van die lewe, laat nie met Hom spot nie.
Op sy tyd kom Hy met sy volledig regverdige straf.
En so het die tweede plaag vir Egipte getref.
Selfs al daarvoor het hy die vroedvroue van Heqet laat misluk en die Hebreeuse vroedvroue buitengewoon geseën.
Aan sy volk het hy groot huisgesinne geskenk (Ex 1:20-21), terwyl Egipte se populasie gekwyn het, soos wat hulle op Heqet vertrou het.
God se paddastraf het ‘n doel gehad.
Farao begin twyfel aan sy gode se mag, ook die paddagodin s’n.
Desperaat ontbied hy sy towenaars.
Ook hulle kan paddas toor.
Maar Farao soek nie nog paddas nie, hy wil juis hê dat hulle moet weggaan.
Maar dit kan die towenaars nie doen nie.
Satan kan stukkend maak, maar nie regmaak nie.
Satan kan siek maak, maar nie genees nie.
Satan maak dood, hy kan nie lewend maak nie.
Dis die HERE alleen wat die lewe gee.
(Tema: Die paddaplaag leer: Die HERE alleen is die bron van die lewe
- Hy alleen gee die lewe)
- Hy alleen verhoor gebede
Ten einde raad ontbied Farao toe maar vir Moses en Aäron.
Laas het hy hulle by sy paleis weggejaag.
Nou het hy hulle nodig.
Hy rig selfs ‘n gebedsversoek.
Hy was waarskynlik al moeg gebid vir sy godin Heqet.
Heqet het nie sy gebede verhoor nie.
Nou vra hy Moses en Aäron: Bid tot die HERE, dat Hy die paddas wegneem.
Skynbaar begin Farao nou iets te leer.
Waar hy die eerste keer spottend vir hulle gevra het: Wie is die HERE?, erken hy nou sy bestaan.
Selfs dat Moses en Aäron vir Hom moet bid.
Skynbaar is Farao nou wel onder die indruk van sy krag.
Hy erken dit was ‘n plaag wat van Hom af kom, en dat slegs Hy dit dus weer kan wegneem.
Hy voeg ook nog ‘n – soos ons later sal sien – valse belofte daaraan toe.
As die HERE die paddas wegneem, sal ek die volk laat trek, dat hulle aan Hom kan offer (vers 8).
Farao is in die moeilikheid.
Mense wat in die moeilikheid is, belowe gou iets.
Mense wat in nood is, is geneig om te bid.
Al bid Farao nie self nie, hy vra Moses en Aäron om vir hom te bid.
Daar’s nie sprake van geloof by Farao nie.
Plus, wat Farao van die HERE vra, is nie wat hy behoort te vra nie.
Farao wil net verlos word van die straf, pleks dat hy eers sy sonde bely.
Hy bid nie dat God sy sondes, sy hardheid van hart wegneem nie, maar dat Hy die paddas moet wegneem.
Is dit nie eie aan elke mens nie?
Ons is vinnig geneig om te vra dat die HERE ‘n siekte wegneem, ons omstandighede verbeter, maar vra ons ook vergifnis vir dit wat ons dalk juis in hierdie penarie laat beland het?
Farao bid nie self nie.
Hy het nie ‘n verhouding met die HERE nie.
Ook vandag gebeur dit nog.
Mense sal vir jou, jy wat ‘n Christen is, vra om vir jou te bid.
Hulle wil nie ‘n verhouding met Jesus hê nie.
Hulle wil net hê Jesus moet hulle help, hulle siekte wegneem of wat ook al.
Maar kinders van die HERE het ‘n verhouding met Hom.
Hulle bid en dank Hom, in voor- en teenspoed.
Hulle gebruik die Naam wat Hy gegee het om direk tot Hom te nader – die Naam van sy seun Jesus Christus.
Ons bid persoonlik tot ons hemelse Vader, en ons vra ons Here Jesus Christus om vir ons te pleit.
Maar goed, iemand wat vra dat jy vir hom bid, is al beter as niks.
En so is dit ook by Farao.
En Moses bid.
Die HERE verhoor Moses se geroep vanweë die paddas.
Die paddas vrek.
Bewus laat hy hulle vrek, nie net terughop rivier se kant toe nie.
Soos ek genoem het, die stank van die hope en hope dooie paddas het hulle geleer om nie meer op die paddagodin te vertrou nie.
Farao gee egter nog nie in nie.
Dit was God se strategie.
Hy verhard nog steeds sy hart.
Farao breek weer sy belofte.
God het nog plae in sy koker, want daar was nog afgode wie se koppe moes rol.
Dit sal ons DV in verdere preke in hierdie serie sien.
Ook vandag leef baie mense so.
Sodra die nood verby is, keer mense terug tot hulle selfsugtige leefstyl.
Net soos by Farao is sulke mense se gebedsversoeke nie opreg nie.
Mense wil net bevry word van die gevolge van hulle sondes, maar nie van die sonde self nie.
Farao moes in die eerste plek gebid het dat sy sondes weggeneem word, nie die paddas nie.
Gemeente, ons is ook mense, van nature tot dieselfde geneig.
Daarom die oproep om werklik tot ons Here Jesus Christus te gaan met die begeerte om van ons sondes gered te word.
Alle mense wil dat die aarde ‘n beter plek word.
Maar wil almal ook dat die oorsaak van die ellende op aarde, hulle eie sondes, weggeneem word?
Laat ons ander daarom oproep om na Jesus Christus te gaan.
Slegs deur Hom kan ons sondes weggeneem word.
Dit moet eerste gebeur.
En gelukkig kan dit.
Wat God het sy eie geliefde Seun geskenk, sodat daar werklik versoening kan plaasvind.
Dit is nou die tyd waarin dit kan gebeur, vandag, in die hede, solank ‘n mens nog lewe.
In die toekoms gaan daar weer plae wees – ons het dit in verlede week se preek gesien, toe ons ‘n gedeelte uit Openbaring gelees het.
Die hele see sal bloed word en ook alle riviere en waterfonteinte (Openb 16).
In Openbaring word daar ook weer verwys na paddas (Openb 16:13-14).
Maar elkeen wat by Christus skuil, sal dan veilig wees.
Ek sluit af.
Die paddaplaag het vir Farao en die Egiptenaars geleer dat die HERE alleen die bron van die lewe is.
Die paddaplaag leer dit ook vir ons en elke mens wat vandag lewe.
Dis die HERE alleen wat die lewe gee.
Dis die HERE alleen wat gebede verhoor.
Eerstens die opregte gebed van skuldbelydenis.
Maar daarna ook die gebed van die herstel van alle dinge.
Amen.
Votum
Seën
Ps 27:1,4
Wet
Ps 78:3,15,16
Gebed
Skriflesing: Exodus 8:1-15
Ps 105:16,17
Teks: Exodus 8:1-15
Preek
Ps 86:3-5
Gebed
Kollekte
Ps 148:1,4,5
Seën