Die gebod wat vandag aan die orde is, kan mens vergelyk met ‘n virus.
Byvoorbeeld die Covid-19 virus, of MIV.
’n Virus dring jou liggaam ongemerk binne.
Die dag as hy jou liggaam binnedring, dan gebeur daar eintlik niks merkbaars met jou liggaam nie.
Dalk ook nie die volgende dag of twee nie.
Die virus soek vir hom ’n lekker plekkie in jou liggaam, waar hy homself nestel.
Van daaraf begin hy dan stadig maar seker homself vermeerder.
En eers as die virus homself vermeerder het tot duisende dermiljoene virusse, begin jou liggaam die effek agterkom, en begin jy – wat jou gesondheid betref – agteruit gaan.
Die oortreding van die negende gebod – jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie – het ’n soortgelyke uitwerking.
Dit is so maklik om iets wat nie waar is, of nie heeltemaal waar is nie, oor iemand anders te vertel, agter sy rug om of op watter manier ook.
Iets wat sy goeie naam aantas.
Dit kan tuis gebeur, rondom die koffietafel, op sosiale media.
Dit kan op die kerkplein gebeur, of op die skoolplein.
Dit word gesê, en daarna gaan die lewe weer aan.
Tog is daar ’n saadjie geplant, ’n persepsie geskep, die virus het ingekom.
En as dit nie net daar in die kiem gesmoor word nie, groei dit uit tot ’n wanpersepsie wat oop kommunikasie met die persoon self al hoe meer belemmer.
Net soos ’n virus val dit ook eerste die swakker dele van die liggaam aan.
Daardie mense wat dalk bietjie buitestaanders is, wat nie sterk in die groep staan nie.
En so word hulle net nog meer geïsoleer.
Praat oor, en nie praat met – dit is soos ‘n virus wat die gemeenskap stadig maar seker lamlê.
Ons het in Efesiërs 4 oor die duiwel gelees.
In vers 27 staan: “gee aan die duiwel geen plek nie.”
Mens sou ook kon vertaal: Gee aan die duiwel geen voet in die deur nie.
Die beeld wat hier geskep word, is van iemand wat ongemerk jou huis kan binneglip.
Iemand wat deur die agterdeur inkom.
En as hy binne is, begin hy stadig maar seker jou huis oorheers.
As hy eers in is, sukkel jy verskriklik om hom weer uit te kry.
Jy mag nie valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
Hierdie gebod word miskien dikwels oor die hoof gesien.
Ons doen in verhouding meer moeite om die ander gebooie na te kom.
Maar as hierdie gebod oortree word, kom ons dit soms nie eers agter nie.
Dis hoekom hierdie sonde vir die duiwel so aantreklik is.
Hiermee kan hy maklik ’n voet tussen die deur kry.
Net soos ’n onsigbare virus wat jou liggaam binneglip sonder dat jy dit agterkom.
Maar as hy homself eers genestel het, begin hy jou liggaam, of in die geval van sonde teen die negende gebod, dan begin hy die samesyn tussen mense – tuis, op die werk, in die kerk, by die skool, waar ook al, stadig maar seker te ondermyn.
Die meeste sukses behaal hy as ons nie die reikwydte van die negende gebod besef nie.
Dit is lekker om oor mekaar te praat.
En as ons lekker praat oor ’n ander, kies ons ons woorde nie altyd so sorgvuldig nie.
Daarom roep Paulus so indringend op: Moenie die duiwel ’n plek gee nie.
Hou hom buite die deur.
In die Middeleeue was dit die gewoonte om die kerkklok te lui voor die kerkdiens begin het.
Die mense het geglo dat die klokgelui die duiwels weggejaag het.
Die tradisie van ’n kerkklok het behoue gebly, maar die oorspronklike bedoeling daarmee het verdwyn.
En ons verstaan natuurlik maar al te goed, die duiwel kan nie buite die deur gehou word deur die lui van ’n kerkklok nie.
Maar slegs deur die suiwere prediking van die evangelie.
En as mense die boodskap vervolgens ter harte neem.
Dit is dan ook die bedoeling van die preek.
Ek vat die preek soos volg saam met hierdie tema:
Tema: Moenie die duiwel ’n plek gee nie. Neem die negende gebod ernstig!
1 Jy is deur Christus bevry
2 Jy leef voor sy aangesig
3 Jy het jou goeie naam aan Hom te dankie
1 Jy is deur Christus bevry
Ons het ’n gedeelte uit Sagaria gelees.
Na die terugkeer van die Joodse ballinge uit Babilon het die heropbou van hulle land nie so voorspoedig verloop nie.
Daar was reëlmatig teenslae in die heropbou van stad en tempel.
Daar was moeilikhede van buite af – byvoorbeeld teenwerking deur die Samaritane.
Daar was ook interne moeilikhede.
Baie slapheid en onderlinge geskille.
Maar in Sagaria 8 het ons ’n pragtige en bemoedigende boodskap van God aan hierdie Jode gelees.
Die volk moes naamlik nie dink dat die HERE nog steeds kwaad vir hulle was nie.
Dit was verby, die ballingskap was verby.
God was van plan om nou ’n gelukkige toekoms vir Jerusalem te laat aanbreek.
Op haar strate en pleine sal daar weer ou manne en vroue sit.
En rondom hulle sal weer jong kinders besig wees om te speel.
Moes hulle al maar deur net rou en vas?
Nee, dit was nie nodig nie.
Tel op jou kop, sê die HERE, julle het weer ’n toekoms.
Wees bly en spring aan die werk.
Spreek die waarheid onder mekaar.
Vertrou mekaar en vertrou My.
Beoefen eerlike en heilsame regspraak in die poorte.
By die poort het destyds altyd die regssittinge plaasgevind.
Julle moet die waarheid en die vrede liefhê.
Moenie in jou hart ’n ander se onheil beraam nie.
Moenie ’n valse eed liefhê nie.
Ek soek vir julle dit wat goed is.
Soek nou ook vir mekaar die goeie!
’n Pragtige uitspraak van die HERE is dit.
Julle is nou bevry!
Ek soek vir julle wat goed is!
Is dit nie uit en uit waar vir toe Hy sy eie geliefde Seun na die aarde gestuur het nie?
Ten koste van Homself, ten koste van sy geliefde Seun, het Hy die goeie vir ons gesoek.
So is ons bevry!
Julle kan nou aan die werk spring, dankbaar vir hierdie bevryding.
Leef dan ook nou volgens my gebooie, dan sal julle onderlinge verhoudings gesond word.
Die regspraak word hier by name genoem.
Dit geld ook vir die Kategismusantwoord.
Dat ek in die gereg die waarheid moet liefhê.
Maar daar staan ook: in alle ander handelinge.
Dan kan mens byvoorbeeld dink aan sake doen.
Eerlik wees en jou woord hou.
Ook al sou dit tot jou skade wees.
Dink aan Psalm 15:4: “al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie”.
Soos ons weet, daar bestaan besighede wat nooit hulle klante verloor nie.
Besighede wat, as hulle produk of diens nie ooreenstem met wat daar beloof is nie, dat hulle dit op ’n ruimhartige wyse met die klant oplos.
Dit is ’n voorbeeld van hoe jy heel prakties die negende gebod toepas.
Dat jy op mekaar kan vertrou.
Dat jou ja ja is en jou nee nee.
Op grond hiervan kom duursame verhoudings tot stand.
In die gedeelte wat ons uit Efesiërs gelees het, druk Paulus dit die Christene ook op die hart.
In die heidense wêreld waarin hulle geleef het, was dit heel normaal om te lieg.
Maar hulle is nou uit die heidendom verlos en mog deel word van God se volk.
En dus sê Paulus, net soos Sagaria destyds tot die Jode:
Julle is God se kinders.
God is julle goedgesind.
Daaroor hoef julle nie te twyfel nie.
Begin nou maar gewoon doen wat Hy van julle vra, dan kom dinge reg.
Lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen tot sy naaste.
Aan die Christene in Kolosse skryf Paulus:
Moenie vir mekaar lieg nie, julle het mos die ou mens met sy gedragspatrone uitgetrek en julle met die nuwe mens beklee (Kol 3:9-10)!
Kortom, moenie die duiwel ‘n plek gee nie.
Dit voorkom jy deur die negende gebod ernstig te neem.
En daar is alle rede daarvoor, want julle is bevry!
Wees suinig op jou vryheid.
Wees suinig op die mooi verhoudings wat Christus deur sy Gees tot stand bring!
(Tema: Moenie die duiwel ’n plek gee nie. Neem die negende gebod ernstig!
1 Jy is deur Christus bevry)
2 Jy leef voor sy aangesig
Ons lewe voor God se aangesig.
Dit wil sê ons lewe in sy teenwoordigheid.
In die Bybel noem die HERE Homself die Waaragtige.
Hy is die waarheid in eie Persoon.
Wie by die HERE hoort, wie voor sy aangesig leef, beklee homself dus ook met waarheid.
Dit is uiteraard iets wat jy moet aanleer.
Of, om dit beter te sê, wat die Heilige Gees jou aanleer.
Daarvoor gebruik die HERE byvoorbeeld jou pa en ma.
Daarom is dit so belangrik dat jy as pa of ma jou kind hierin voorgaan.
Kinders is ook by jou, as jy die voordeur toetrek.
Kinders is ook by jou, as jy in die kar ry.
Hulle hoor alles wat jy sê.
Ook as jy slegpraat oor ander mense.
Kinders mag, moet van hulle ouers leer hoe om eerlik te wees.
Hoe om die volle en nie die halwe waarheid te praat.
En dat die waarheid jou sal vrymaak.
Dat ’n halwe waarheid, of ’n wit leuentjie, hoe mens dit ook wil noem, dat dit jou uiteindelik net dieper in die probleme bring.
Dit is een van die kosbaarste skatte, ouers, wat jy aan jou kinders kan saamgee in die lewe.
Veel kosbaarder as ’n kar, ’n studiebeurs, ’n erfenis of wat ook al.
Hierin is die gesin ‘n onmisbare bousteen.
Kinders wat tuis geleer het om eerlik te wees, om nie halwe waarhede te gebruik, om nie wit leuentjies te vertel nie, hulle is soliede stene wat die kerkmure laat sterkstaan.
Eerlikheid is goud werd.
Dit geld in die mees letterlike sin.
Die Kategismus sê:
Dat ek die eer en goeie naam van my naaste soveel as wat ek kan moet verdedig en bevorder.
Soos die spreekwoord uit Prediker 7 sê:
“’n Goeie naam is beter as goeie olie” (7:1).
Olie was as brandstof destyds in Israel minstens so belangrik as olie vandag.
Van goeie olie kon mens skatryk word.
Swart goud, soos dit vandag genoem word.
Maar ’n goeie naam, sê Prediker, styg nog ver daarbo uit.
Silwer en goud en olie kan gesteel word, maar nie ’n goeie naam nie.
Op eerlikheid kan jy bou en vertrou.
Iemand wat eerlik is, is waaragtig.
Net soos God waaragtig is, voor wie se aangesig ons leef.
Gemeente, hierdie is vir ons meer as genoeg om mee aan die werk te spring.
In al jou verhoudings.
Dit begin in die gesin.
Die gesin is die bousteen van die gemeente.
As dit in die gesinne goedgaan, gaan dit in die gemeente goed.
Dit is mooi as daar eerlikheid heers in ’n gesin.
As danksy eerlikheid die band in die gesin heg is.
Dat jy weet wat jy aan mekaar het.
En dat die band heg bly, ook as die kinders die huis verlaat.
Dit begin in die gesin.
En van daaruit gaan dit verder, in die maatskappy, op skool, by die werk, en in die kerk.
So kry die tema van hierdie preek hande en voete:
Ons gee nie vir die duiwel ’n plek nie, nie in die gesin nie, in die familie, by die werk, op skool of in die kerk nie.
Want ons probeer trou om die negende gebod in praktyk te bring.
Ons leef voor die aangesig van die Waaragtige.
Ons mag leef vanuit die waarheid.
Christus het vir ons die waarheid geword.
Laat ons Hom navolg.
Hy het nie net vir Homself gelewe nie.
Hy het selfs nie onder lyde en dood probeer uitkom nie.
Want Hy het bly stry vir die waarheid.
In sy opstanding het die waarheid geseëvier.
Hierdie Evangelie vuur ons aan om te stry vir die waarheid.
Vir die goeie naam van jou Heiland.
En vir die goeie naam van jou naaste.
Ook al beteken dit moeite en lyde.
Dink byvoorbeeld aan hoe Jonatan opgekom het vir die goeie naam van sy vriend Dawid.
Toe koning Saul vasberade was om Dawid uit die weg te ruim, het Jonatan tussen hulle gaan staan.
Hy het sy pa herinner aan al die goeie dinge wat Dawid vir Saul gedoen het.
Dat Dawid nie so sleg is as die persepsie wat Saul oor hom gevorm het nie.
Maar dit het Jonatan duur te staan gekom, dat hy so vir Dawid opgekom het.
Maar as jy die waarheid liefhet, let jy nie daarop nie.
Ons let slegs op die Waaragtige.
Wat Hy vir ons gedoen het, en wat Hy nou van ons verwag.
Ons let op ons tong, om daarmee die naam van ons naaste op te bou, en nie af te breek nie.
Want ons besef wat Jesus gesê het, Mattheüs 12:36:
“elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.”
Daarom roep ek u op, gemeente, en elkeen persoonlik, wees goed en hartlik met mekaar.
Vergeef mekaar soos God jou ook vergewe het in Christus Jesus.
As jy dit doen, dan doen jy wat God in die negende gebod gebied.
As jy dit doen, kry die duiwel nie ’n plek nie.
Dan staan die boustene van ons gesinne sterk, dan staan die kerk sterk.
(Tema: Moenie die duiwel ’n plek gee nie. Neem die negende gebod ernstig!
1 Jy is deur Christus bevry
2 Jy leef voor sy aangesig)
3 Jy het jou goeie naam aan Hom te dankie
In Sondag 43 staan daar:
Dat ek my naaste se eer en goeie naam na my vermoë moet verdedig en bevorder.
In die nagmaalsformulier staan:
God bewys sy liefde vir ons daarin, dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Hoeveel te meer sal ons dan, noudat ons deur sy bloed geregverdig is, deur Hom gered word van die toorn! Want as ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, nog veel meer sal ons, noudat ons met Hom versoen is, gered word, deurdat Hy leef.
Jonatan het die goeie naam van sy vriend Dawid verdedig.
Dawid het inderdaad ’n goeie naam gehad.
En dit was die moeite werd om dit te verdedig.
Mens kan jou goed voorstel dat Jonatan dit gedoen het.
En soos daar in die nagmaalsformulier staan: By Jesus sien ons hierdie houding van Jonatan terug, maar dan in die oortreffende trap.
Hy het vir ons opgekom, om ons naam te red, en dit terwyl ons ’n slegte naam gehad het.
Hy het nie ons goeie naam verdedig nie.
Nee, ons het ’n slegte naam gehad.
Tog het Hy vir ons opgekom en vir ons ’n goeie naam gegee.
Dawid was Jonatan se vriend, en daarom het hy vir hom opgekom.
Ons was nog Christus se vyande, toe Hy vir ons in die brès getree het.
Dit is die vervulling van die negende gebod in die ultieme sin.
En ons mag hierdie voorbeeld van Christus nou navolg.
In die eerste plek deur suinig te wees op mekaar, mekaar se goeie naam en reputasie.
Maar ook as ons die kerk weer verlaat het, doen ons dieselfde met elke ander mens wat ons ontmoet.
Daar is ’n belangrike verband tussen die negende gebod en evangelisasie.
’n Kerk wat die negende gebod nie in praktyk bring nie, sal ook nie groei nie.
Ook al het hulle ’n baie daadkragtige evangelisasiekommissie.
’n Kerk wat dit wel doen, het werfkrag.
Christus se mentaliteit het werfkrag.
Christus het ons selfs beveel om vir ons vyande te bid.
Ons bid vir alle mense, vir hulle ewige behoud.
Dat alle slegte mense, net soos ons, die goeie naam van Christus mag begin dra.
Dat die duiwel nêrens in hierdie wêreld meer ’n poot sal hê om op te staan nie.
Moenie die duiwel ’n plek gee nie.
Sorg dat hy nie ’n voet tussen die deur kry nie, of dit jou agterdeur is of die kerkdeur.
Ons sal hom nie duld nie.
Want ons doen naamlik van harte wat God ons in die negende gebod gebied.
Ons is deur Christus bevry.
Ons leef voor sy aangesig.
Ons het ons eie goeie naam aan Hom te danke.
Dit alles maak ons selfs lus om nie net volgens sommige nie, maar volgens al God se gebooie te lewe, ook die negende.
Amen.
Votum
Seën
Ps 12:1-5
Gebed
Skriflesing: Sagaria 8:14-23
Ps 12:6
Skriflesing: Efesiërs 4:17-32
Ps 12:7
Teks: 9e Gebod – nav Heidelbergse Kategismus Sondag 43
Preek
Ps 36:1-3
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 35:9,12
Kollekte
Ps 101:1-6
Seën