Jou liggaam sal in 'n oogwink opgewek word by die laaste basuin

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2024-02-25
Teks: 
1 Korinthiërs 15:35 - 58
Preek Inhoud: 

'n Pragtige, jong meisie van vyftien jaar oud bevind haarself onverwags op ‘n lydingsbed, totaal en al verlam aan die een kant van haar lyf en amper heeltemaal blind.  Waar hulle langs haar bed staan hoor sy die huisdokter vir haar ouers sê: “Arme kind, haar beste dae is verby.” 

Maar sy roep uit: “Nee dokter, my beste dae lê nog voor, wanneer ek die Koning in al sy skoonheid sal sien.”

My beste dae lê nog voor!  Dit is ongelooflik.  Paulus gee vir ons die geskiedenis van die dood.  Ons het gelees dat die laaste vyand wat vernietig moet word die dood is (dit is interessant dat “vernietig moet word” in die teenwoordige tyd is).  Dit gebeur deur die heerskappy van Een wat opgestaan het.  Nou.

Ons is opgewek, ons word opgewek, en ons sal opgewek word.  Ons sal fisies uit die dood opgewek word.  Ja, ek en jy.  Die ware ek en jy, wat hier in hierdie gebou sit.  Hy praat van ons.  Ons liggame.  Ons skepping.  Ons lewe.  Vir altyd.

Ons sal lewe.  Nie net as siele wat denkbeeldige harpe op denkbeeldige wolke speel nie, maar as werklike liggaam-en-siel-mense in 'n werklike skepping met bome en gras, waar ons sal speel en werk, met nuwe uitvindings, en skoonheid en aanbidding as deel van dit alles.  My gebed is dat dit vir julle almal wat al met die dood te doen gehad het, geweldige hoop gee.  En julle wat die dood vrees.

Jou liggaam sal in 'n oogwink opgewek word by die laaste basuin:

  1. Jy sal spruit uit die saad wat jy is
  2. Jy sal na die beeld van die tweede Adam wees
  3. Vir jou is die dood dood
  4. Jy word geroep om vandag te lewe as die begin van die ewigheid

Jy sal spruit uit die saad wat jy is

Vers 35:  “Iemand sal egter kan vra: ‘Hoe word die dooies opgewek, en met watter soort liggaam verskyn hulle?’ ”  Dit is waarskynlik vrae wat die twyfelaars in die Korintiese kerk gevra het.  Goeie vraag, is dit nie?  Hoe gaan die dooies opgewek word?  Want sien, hierdie mense was nie naïef nie.  Hulle het geweet dat, volgens wetenskaplike reëls, dooie mense dood bly.  Vandag dink sommige mense dat die geloof in die opstanding net ‘n naïewe geloof van die antieke mense was.  Maar om te dink dat die mense wat 2000 jaar gelede geleef het, naïef was, is naïef.

Maar, sê Paulus, kyk rondom jou!  Die antwoord staar jou reg in die gesig!  “Hoe dwaas!  Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf.”  In daardie tyd het almal van die grond gelewe.  Daar was geen Pick ‘n Pay, Checkers of selfs Woolworths nie.  En twee dinge was duidelik vir hierdie mense.  1) 'n Saad wat gesaai is, moes sterf en begrawe word om te groei.  En 2) Alhoewel die hele DNA van die plant in die saad is, lyk die plant glad nie soos 'n saad nie.  Dit, sê Paulus, is soortgelyk aan die opstanding.  “En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou 'n koringkorrel is, of een van die ander sade.  Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade 'n eie vorm gee.”

Dit is wonderlike beeldspraak, om te dink dat, wanneer ons 'n liggaam in Durbanville-gedenkpark of Stikland-begraafplaas begrawe, ons saad saai.  Die eerste skepping is soos 'n saad wat in die tweede skepping sal blom.  Alles is daar in die eerste.  Net soos wat die DNA van die hele plant in die saad gevind word.  Alles wat jou, of my, maak, is reeds daar!

Paulus gaan voort om te praat van die eerste skepping, as 'n saad wat na 'n nuwe skepping wys.  Nie alle lewende wesens is eenders nie.  Daar is een fisiese vorm vir mense, 'n ander vir diere, 'n ander vir voëls, en nog 'n ander vir visse.  Daar is ook hemelliggame en aardse liggame, maar die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame.  Die glans van die son is anders as die glans van die maan, en anders as die glans van die sterre.  Een ster verskil immers van 'n ander in glans.”

Waar anders vind ons hierdie taal?  Inderdaad, in Genesis 1, daar lees ons dat God alle dinge volgens hulle soorte gemaak het.  Die voëls volgens hulle soort.  Die visse volgens hulle soort.  En plante volgens hulle soort.  Hy verwys hier na die son en die maan en praat oor die verskil in heerlikheid.  Ook in Genesis 1 word daar gepraat van die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag.

Die punt is dat ons hier moet terugdink aan Genesis 1 en 2 wat gaan oor die eerste skepping.  En raaksien dat alles 'n vorm van heerlikheid het.  Maar daar is beslis 'n verskil tussen 'n kers en die son.  Daar is 'n verskil tussen Adam – ‘n aardse liggaam – en Christus – ‘n hemelse liggaam.  Ons moet dink aan 'n ware skepping – ‘n ware opstanding – maar groter.  Meer blywend.  Ewig.  Onverganklik.  Ondenkbaar.  En dit is die verskil wat hy nou verduidelik.  Die verskil tussen die skepping van Adam en die opstanding van almal in Christus.

Jy sal na die beeld van die tweede Adam wees (v. 42-49)

Vers 42: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid.”  Daar is eendersheid en verskil.  Wat gesaai word, is dit wat opgewek word.  Maar dit wat opgewek word, lyk glad nie soos dit wat gesaai word nie.  Jy sal absoluut jy wees.  En jy sal anders wees. So anders soos 'n akker van 'n akkerboom.  Wanneer daardie liggaam begrawe word: “wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag.  Wat gesaai word, is 'n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is 'n geestelike liggaam.”

Ontmoet jou toekomstige jy.

'n Lewe sonder dood

“Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid” (v. 42B).  Verganglik beteken dit kan bederf, verval, verswak.  Maar daar is geen verval nie.  Niks word swak of oud nie.  Geen heupe wat vervang moet word nie.  Geen virus-infeksie nie.  Geen kanker nie.

As gevolg van die sonde is elke minuut van die lewe op aarde deurspek met kortstondigheid, broosheid en nutteloosheid.  Die hele skepping, insluitend ons liggame, is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan (Romeine 8:21).  Wat gesaai word, is verganklik.  Motors kan bots, harte kan faal, kanker kan sy verskyning maak, operasies kan misluk, griep kan oorweldig.  Die dood is genadeloos; dit sny, beroof, bedrieg en bedroef ons – vir nou.  Maar God sal vir ons 'n liggaam gee wat die dood nie kan bykom om skade aan te doen of te bedreig nie.  En ons het die waarborg daarvan in God se Gees wat aan ons gegee is, sodat ons nou reeds innerlik word wat ons uiterlik sal wees – soos Christus.

‘n Lewe sonder sonde

“wat gesaai word in oneer,” sê Paulus, “word opgewek in heerlikheid” (v. 43A).  Wat beteken dit dat ons liggame in oneer gesaai is?  Dit beteken dat ons almal soos skape afgedwaal het (en gaan).  Dit beteken dat nie een van ons sonder sonde is nie – nee, selfs nie een nie.  Dit beteken dat ons almal, sonder uitsondering, tekort geskiet het aan die heerlikheid van God.  Maar eendag sal ons self deurweek wees van die heerlikheid.  As ons hierdie heerlikheid aanskou, van aangesig tot aangesig, sal ons verheerlik wees.  C.S. Lewis besin oor hierdie heerlikheid wanneer hy skryf:

“Dit is 'n ernstige saak om in 'n samelewing van moontlike gode en godinne te leef, en om te onthou dat die vaalste, mees oninteressante persoon met wie jy kan praat, dalk eendag 'n skepsel sal wees wat, as jy dit nou sou sien, jy sterk in die versoeking sal wees om te aanbid.”

Opgewek in heerlikheid!  Hoe wonderlik sal dit wees om dit te aanskou, geliefdes.  Wat 'n belofte as jy swak is.

 

‘n Lewe sonder swakheid

“wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag” (v. 43B).  Hoe langer ons leef in die liggame wat ons het, hoe meer het ons te doen met swakheid.  Dit sal nie vir altyd so wees nie.

Swakheid het 'n pragtige, tydelike doel; deur God ontwerp, tot sy eer.  In 'n gebroke en swak wêreld wat smag na genesing, krag en vryheid, beklemtoon ons swakhede die krag van God om te red en te onderhou.  Hy het die swak dinge gekies om die wyse te beskaam.  Vir nou: “Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie.” (2 Kor. 4:7)  Maar in heerlikheid sal ons krag, nie ons swakheid nie, sy oortreffende krag verheerlik.  Sy krag sal altyd groter as ons s'n wees, maar Hy sal ons swakheid verruil vir werklike stabiliteit, vermoë en krag.

 

‘n Lewe volmaak bemagtig deur die Gees

“Wat gesaai word, is 'n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is 'n geestelike liggaam.”  Die versoeking is om “natuurlik” as “fisies” en “geestelik” as “nie-fisies” te interpreteer, wat lei tot ‘n siening van die  opstandingsliggaam as iets wat onstoflik en nie-fisies is.  Maar dit is presies die teenoorgestelde van die punt wat hy probeer maak.  Dit gaan hier oor die verskil tussen “gewone menslike lewe” en “'n lewe in die Gees van God”.

“So staan daar immers geskryf: ‘Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.’  Die laaste Adam het egter 'n lewendmakende Gees geword.”  Hoe het die eerste Adam 'n lewende wese geword?  Wel, Genesis 2 vertel dit vir ons.  God het die asem van lewe in hom geblaas.  Hy het lewend geword, maar die vraag is: kon hy enigiemand lewe gee?  Nee.  Hy kon nie.  Selfs al sou hy in perfekte gehoorsaamheid gelewe het, sou hy nie kon nie.  Maar dit is nie so met die tweede Adam – die laaste Adam – nie; Hy het 'n lewendmakende Gees geword.

Die natuurlike het eerste gekom, daarna die geestelike.  Soos Paulus skryf: “Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike.  Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede 'n mens uit die hemel.”  Weer eens gaan hy hier keer op keer terug na Genesis 2.  Ons is gemaak van stof.  Van die begin af moes ons in God opgeneem word.

Dat ons soos Hy sal wees – nie Hy sal wees nie – maar soos Hy sal wees.  Dat ons so naby aan God sal wees en deelneem aan die goddelike natuur sonder om God te wees.

En die hele mensdom is in hierdie twee kategorieë verdeel.  Of julle is uit die stof, of julle is die wat uit die hemel is.  En as jy uit die hemel is, dan sal jy, net soos wat jy nou soos die eerste Adam lyk, dan soos die tweede Adam lyk – soos Christus.  “Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense.”  Om aan Christus gelykvormig te wees, vind nou reeds plaas – God se toekoms het in die huidige oomblik ingebreek; ons word Geestelik aan Christus gelykvormig, maar eendag sal ons ook 'n liggaam soos syne hê.

“Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra.”

Vir jou is die dood dood!

“Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie.”  Ons sal die koninkryk nie binnegaan soos ons nou is nie.  Natuurlik nie.  Hoe kan die tydelike die ewige beërwe?!

“Kyk, ek vertel vir julle 'n misterie: nie almal van ons sal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word by die laaste basuin, binne 'n oomblik, 'n oogwink.”  Aanskou!  Let op!  Kyk!  Ons sal verander word.  Ons.  Hier.  Koppel dan gesigte daaraan.  Kyk rondom jou.  Dit is so belangrik om die realiteit te sien van wie jy is en wat jy sal wees!  Nie almal van ons sal die slaap van die dood slaap nie.  Sommige sal getransformeer word.  Verander word!   Voortgaan van hierdie lewe tot daardie lewe.  Die feit dat ons sal voortgaan, behoort iets te sê oor die lewe wat ons nou leef.

“'n Basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word.  Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid.”

BEKLEE WORD!  Hierdie liggaam sal beklee word.  Hierdie liggaam sal nie verdwyn nie.  Ek hou van die woord “moet”.  Dit moet gebeur omdat Christus oorwin het!  Geen verrotting, geen verval, geen afloop en geen dood nie.

“En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word:’Die dood is verslind in oorwinning.’ ”  Ek hou daarvan: “Die dood is verslind in oorwinning.”  Die dood, die groot verslinder, word self verslind.  Vir elke enkele mens in Christus wat deur die dood geneem is, verloor die dood.  Op die oomblik van geloof alreeds verloor die dood sy angel.

En ons verklaar saam met die kerk van alle eeue: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”  Die angel – dit impliseer dat daar 'n skerp, pynlike dryfkrag teen ons siel is wanneer ons sterf.  En Paulus sê dit is weg.  Dit sal nie vergiftig nie.  Dit steek jou en probeer om jou dood te maak en dit kan nie.  Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe.”  Daar is geen dood in die dood vir diegene wat in Christus glo nie.  Die angel is weg.

“Die angel van die dood is die sonde.”  Die angel van die dood is die sonde.  Wat beteken dit?  Dit beteken dat die dood verskriklik is as gevolg van die sonde.  Die dood is verdoemenis en hel en gekners van tande en buitenste duisternis as gevolg van die sonde.  “Want die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23).  As gevolg van die sonde is die dood ‘n straf.  Dit is die laaste vonnis: weg van God en weg van vreugde, in ellende wat nooit eindig nie.  Dit is die angel.  En dit is as gevolg van die sonde.

En dan sê hy in vers 56b: “die krag van die sonde lê in die wet.”  Hierdie straf, hierdie wettige vonnis van ellende, het bindende krag, want die wet van God sê vir ons wat om te doen en gee God se vloek as ons in opstand kom – wat ons almal gedoen het.  Dus, wat die dood vreesaanjaend maak, is ons sonde, en wat daardie verskrikking so baie krag gee, is dat die hele wet van God daaragter staan.

Dan sê Paulus in vers 57: “Maar aan God die dank, wat aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”  God het iets gedoen—“aan God die dank”!  En wat het Hy gedoen?  Galasiërs 3:13: Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek 'n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: ‘Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.’”  1 Petrus 2:24: “[Hy] wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het.”  Die vloek van die wet is bevredig, die sondes word weggeneem.  Die dood is magteloos.  Dit het sy kloue verloor.  Dit het sy angel verloor!

Leef dus vandag as die begin van die ewigheid

Die angel van die dood is verwyder.  Daar is geen veroordeling nie.  Geen hel.  Geen vrees.  Al word jou liggaam in die graf gelê, sal jou lewe nooit eindig nie.  En as die lewe nie eindig nie – hierdie lewe – dan kan ons weet dat wat ons in hierdie lewe doen, ewige betekenis het.  Sommige mense dink hy praat net van dienswerk – maar ek dink dit is baie wyer.

En dan kom vers 58: “Daarom, my geliefde broers, wees standvastig en onwrikbaar, en wy julle ten volle aan die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie vergeefs is nie.

Sê nou maar jy het vir 18 jaar jou kinders grootgemaak en sodra hulle gereed is om universiteit toe te gaan en te floreer, sterf hulle?  Het jy 18 jaar se belegging in daardie kind gemors?  Sê nou maar jy het drie jaar spandeer om jou huis te bou, en 'n paar weke voordat jy intrek, brand dit af?  Sê nou maar jy het ‘n manuskrip geskryf en die rekenaar breek, en jy verloor al jou werk?  Wat gebeur met alles wat jy gedoen het by die dood?  Dit is die vraag.

Daarom, my geliefde broers.  Dit is die Gees wat deur Paulus praat.  Geliefde.  Dit is jou predikant wat praat.  Geliefde broers en susters.  Wat ons doen is nie tevergeefs nie.  Ons verhouding is ewig.

Paulus sê: DAAROM! want jy weet jy het die oorwinning oor die dood in Christus.  DAAROM!  Sedert God in Christus die dood oorwin het.  MOENIE MEER IN DIE LIG VAN DIE DOOD LEEF NIE.  Hou op om hierdie lewe te probeer leef vir roem, geld, gemak, wat ook al!

Daarom, wees standvastig – dit is onwankelbaar en onwrikbaar, om nie heen en weer geslinger te word deur elke wind van nuwe lering wat jy op youtube kry of elke prediker wat jy hoor nie, en nie geskud te word deur jou omstandighede en hoe die lewe rondom jou lyk nie. Christus is opgewek!

Onwrikbaar beteken nie om in die bed te bly lê nie.  Dit beteken eerder om vas gewortel te wees in die evangeliebeloftes.  Om jouself só te vind in Christus dat die storms van die lewe jou nie rondgooi en 'n ander mens van jou maak nie.  Wanneer omstandighede en situasies moeilik word, en jy in die versoeking kom om jou hoop van die evangelie af weg te skuif na geld of roem of 'n huweliksverhouding wat jy weet jy nie behoort te hê nie.  Wees standvastig.  Onwrikbaar.  Die evangelie is eg.  Hou dit in gedagte.

Ons is standvastig en onwrikbaar, oorvloedig in die werk van die HERE!  Laat ons oorvloedig wees in die werk van die Here, broers en susters.  Laat ons nie van die hoop van die evangelie afwyk nie.

Maar wy julle TEN VOLLE aan die werk van die Here.  Doen baie daarvan.  Wees oorvloeding met die werk van die HERE.  Dit beteken nie net om ‘n predikant, sendeling of onderwyser aan ‘n Christelike skool te wees nie.  Dit het betekenis vir ons almal!  Kolossense 3:17 : “En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”  Hierdie “alles” sluit in om 'n doek om te ruil en 'n spyker in te slaan, eksamen te skryf, 'n sport te beoefen.  As jy dit nie in die Naam van Jesus kan doen nie, moet jy dit nie doen nie.  Soos 1 Korinthiërs 10:31 sê: “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.”

Jy doen dit WETENDE dat in die Here jou arbeid nie tevergeefs is nie.  Jy leef voluit in die wêreld, want jy weet dit is nie leeg nie.  Dit is nie ‘n vermorsing nie.  Die hoofgedagte hier in sy gevolgtrekking is dat, as jy hierdie hoofstuk verstaan, en as jy besef jou werk in die Here het ewigheidswaarde, dan sal jy oorvloedig wees!  Hierdie kerk sal oorvloedig wees in die werk van die Here.

As die dood dood is, is arbeid dus NIE TEVERGEEFS NIE.  As die dood nie dood was nie, sou arbeid nutteloos wees.  Maar aangesien dit is, kan ons maar swoeg om 'n kind groot te maak, 'n boek te skryf of 'n huis te bou wat blykbaar in vlamme opgaan met die dood, want die dood is oorwin.  Wat beteken die beloning is nie net in hierdie lewe nie.

Dit is soos Jesus sê in Lukas 14:13-14: “Nee, wanneer jy ‘n feesmaal aanbied, nooi die armes, kreupeles, verlamdes, en blindes.  Dan sal jy gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie; want jy sal beloon word by die opstanding van die regverdiges.”

Versuim om die toekomstige hoop op 'n fisiese opstanding te beklemtoon en te verkondig, kan heiligmaking opsioneel maak, aangesien dit die kontinuïteit tussen die optrede van die gelowige in die hede en hul stand en beloning in die toekoms verwyder.

Liewe broers en susters, ons moet lewe en optree op dieselfde manier as wat ons in die ewigheid sal doen. Of, soos nogal veelseggend en bondig gestel deur 'n ander Romeinse burger: “Wat ons in hierdie lewe doen, weerklink in die ewigheid.”

Amen.