Die Evangelie vir elkeen wat wanhopig roep: Ek, ellendige mens!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-01-21
Teks: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 2
Preek Inhoud: 

Broer, suster, wanneer laas het jy geroep: Ek, ellendige mens!

Paulus se uitroep was nie oppervlakkig nie.

Dit was nie standaard woorde wat hy uitgespreek het sonder om daarby na te dink nie.

Hy was diep wanhopig.

Dit was ook nie woorde van herinnering aan ‘n baie slegte tyd in sy lewe nie.

Dit was ‘n wanhoopskreet uit die hede.

‘n Wanhoopskreet nie oor enige eksterne omstandighede nie.

Sy eksterne omstandighede was inderdaad dikwels nie rooskleurig nie.

Hy kla ook nie oor ellende wat ander mense hom aangedoen het nie.

Hy kla slegs en alleen oor homself.

Ek, ellendige mens!

Die woord wat daar in Grieks staan, kan ook vertaal word met:

Ek, patetiese mens!

Ek, jammerlike, miserabele mens!

 

Tema: Die Evangelie vir elkeen wat wanhopig roep: Ek, ellendige mens!

 

Ja, broer en suster, wanneer laas was jy so diep in die put oor jouself?

Dat jou sonde jou radeloos maak?

Paulus skryf selfs: Die gebooie laat die sonde in my oplewe (vers 9).

Die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei (vers 11).

Paulus bedoel as ‘t ware: Die oomblik as ek ‘n gebod hoor, begin ek aan die sonde te dink en sleur die sonde my weer mee.

Het jy dit soms, broer, suster?

As jy Sondagoggend in die kerk sit en jy luister na die tien gebooie, en jy hoor – Jy mag nie doodslaan nie – dat jy begin dink aan daardie persoon wat jy nie kan uitstaan en wat jy nie sal omgee as hy dood is nie?

Of as jy hoor – Jy mag nie egbreek nie – dat sondige seksuele gedagtes by jou opkom?

Of as jy hoor – Jy mag nie begeer nie – dat jy dink aan daardie mooi rok wat jou maatjie het waarop jy jaloers is?

Of as jy hoor – Ses dae moet jy al jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy rus – dat dit jou te binne skiet dat jy daardie een klant se epos nog nie beantwoord het nie, en dat dit baie noodsaaklik is ...

En soos wat jou gedagtes hulle loop neem, is jou aandag afgelei en hoor jy nie eers meer die ander gebooie nie.

Net die aanhoor van die gebooie kan ons weer in sonde laat val!

So ellendig is ons!

Dit is wanhopig om van te word.

 

En dis presies soos Paulus dit ervaar het.

Presies daarom skryf hy dat die wet kragteloos is.

Die wet help jou niks verder nie.

Dit vlek die sonde oop, dit herinner jou wat sonde is, dit gee selfs aanleiding vir jou sondige gedagtes om weer met jou op die loop te gaan.

‘n Hopelose, ‘n ellendige situasie.

Jy voel vasgevang in hierdie bose kringloop.

Jy roep wanhopig uit: Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Want dit is my natuurlike toestand.

 

Sondag 2 sê: Ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.

Presies die teenoorgestelde van wat ek veronderstel is om te doen.

Want al die gebooie kom daarop neer dat ek God en my naaste moet liefhê (Matt 22:37-40).

Maar ek sit vasgevang in hierdie ellendige situasie.

 

Gemeente, die Heilige Gees het Paulus hierdie dinge met ‘n rede laat opskryf.

Kennis van jou ellende is onontbeerlik vir ‘n gelowige.

As jy nooit behoefte het om soos Paulus te skreeu: Ek, ellendige mens! dan is jou geloofslewe oppervlakkig.

As jy nooit ‘n bui van wanhoop ervaar soos Paulus hier nie.

As jy nooit diep teleurgesteld in jouself is nie.

As jy ‘n lewenswyse ontwikkel het waarin jy veral ander se foute raaksien, maar nie jou eie nie.

As jy meer oor ander mense se foute praat as oor jou eie.

Is dit so, broer, suster?

Kla jy meer oor ander as oor jouself?

As ek aan my eie lewe dink, is dit inderdaad ‘n baie groot gevaar.

Ek is gou geneig om oor ander te kla, minder gou om oor myself te kla.

Ek, ellendige mens!

Dit is die wanhopige kreet wat die Here by elkeen van ons wil hoor.

“Slaan op my ellende u oë,

hoor my, HEER, uit medely;

neem my sondes uit meedoë

almal weg, vergeef dit my!” (Ps 25:9 ber)

En:

“U grimmigheid rus swaar

op my ellende, HEER!

U golwe [ook die golwe van u gebooie] staan op, ry aan ry,

en druk my dieper neer.” (Ps 88:7 ber)

En dit is teen hierdie donker agtergrond, hierdie bodemlose put van ellende, wat die verlossing in Christus des te helderder skyn!

Want daar is my ou mens maar ook my nuwe mens.

Met my verstand – skryf Paulus – dien ek die wet van God, maar met die sondige aard wat ook nog in my is die wet van die sonde (Rom 7:26).

Dit is die twee kante van my lewe.

Ek word heen en weer geslinger tussen hulle, my ou mens en my nuwe mens.

Die een oomblik sit en luister ek aandagtig na die tien gebooie, bereid om my lewe te verbeter.

Die volgende oomblik vang ’n sondige gedagte my en val ek weer in die diep gat van my ellende.

Die een oomblik verlaat ek die kerk met goeie voornemens, om my bes te doen om volgens die gebooie te lewe.

Maar voor ek weet betrap ek myself weer dat ek tog terugval in ‘n groef, die mag van ‘n ou sondige gewoonte blyk tog weer sterker.

Die hele tyd gaan dit so, op en af soos ’n yo-yo.

By Paulus was dit so, by ons net so.

Daardie twee uitroepe staan direk langs mekaar in Romeine 7.

Die een: Ek, ellendige mens!

En direk daarna: Ek dank God deur Jesus Christus!

Ja hoe lieflik, hoe bevrydend is dit om te ervaar dat die Heilige Gees my kan optel uit die diep gat.

Die wet stamp my daarin, druk my vas daarin.

Die wet is kragteloos om my te red.

Maar Christus se kruisverdienste het wel die krag.

Elke keer as sy Gees my weer herinner aan sy soenoffer, en ek pleit by God daarop, dan ervaar ek hoe ek uit my ellende bevry word.

Wat ’n heerlike ervaring!

 

Hiervan getuig Paulus in sy Romeinebrief.

Paulus probeer om sy volksgenote te oortuig:

Jou wetswerke kan nie jou geregtigheid voor God wees nie.

Die wet wys jou die regte pad om te gaan, maar jy kry dit nie self uit eie krag reg om dit te stap nie.

Die uitwerking van die wet op jou lewe is eerder omgekeerd.

Dit stamp jou in die gat van sonde en ellende waaruit jy nie uitkom nie.

Nie dat die wet sleg is, dat dit die wet se skuld is nie.

God se wet is volmaak.

Dit is die goue standaard van ‘n onberispelike lewe voor God.

Maar in my as mens is daar ‘n ander wetmatigheid.

En dit voer stryd, dit kompeteer met die wet van God.

Dit verhinder – as ek eerlik is met myself – om vordering te maak op die pad wat God se volmaakte wet my wys.

Paulus roep sy volksgenote op om dit te erken.

Uit julleself is julle nie beter as die heidene nie.

Die feit dat God sy wet aan julle, Jode, gegee het, het julle nie gehelp nie.

Julle wetswerke stel diep teleur.

Net genade kan julle red.

Wat vir die heidene geld, geld net soveel vir julle.

Dit is die indringende boodskap en tegelyk bevrydende boodskap aan die Jode.

Dink aan hoe Paulus getuig voor die Judeërs in Handelinge 15:11:

“Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.”

Met hulle verwys Paulus dan na die heidene, daai mense wat hy op sy sendingsreise ontmoet het en wat tot bekering gekom het.

Een honderd persent genade, dat hulle tot bekering mog kom.

Maar, beste Jode, wat vir daardie Grieke geld, geld ook vir julle.

Een honder persent genade, dis ook wat julle nodig het!

Net die genade wat God bewys het in Jesus Christus, net daardie genade kan vir julle red.

Daarom is die wet vir die Jode nie voldoende nie.

Hulle moet Jesus as die deur God gestuurder Messias erken, aanneem, alles van Hom verwag.

Anders is hulle net so verlore soos die goddelose heidene.

Hulle is net so ellendig, net so doemwaardig voor God as al die heidene.

En hulle moet dit weet, hulle moet dit erken.

En so ook vir jou en my geld dieselfde, gemeente:

Kennis van jou eie ellende is bitter noodsaaklik vir ‘n kind van God.

Jy moet gestroop word.

 

Paulus weet waarvan hy praat.

Hy moes ook eers gestroop word van alle waardelose steunpilare in sy lewe.

En hy het nogal indrukwekkende steunpilare gehad.

Hy was deur en deur ’n wetsgetroue Jood.

Hy skryf oor homself:

“Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; ... wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.” (Fil 3:5-6)
Gemeente, as die Fariseërs ’n Kategismus sou skryf, dan sou vraag 3 van die Kategismus anders geklink het.

Dit sou gewees het: Hoe kan jy jou ellende oorwin?

En dan die antwoord: Deur die troue nakoming van die wet, wat die genadige God aan ons Joodse volk gegee het.

So het Paulus – Saulus het hy toe geheet – oor homself gedink.

Hy was onberispelik in die geregtigheid van die wet.

Hy was oortuig dat God redelik ingenome met hom was.

Meer as met die tollenaars en sondaars, beslis meer as met die heidennasies.

 

Maar toe kom daardie totale ommekeer in Paulus se lewe.

En dit wat vir hom wins was, skielik het hy besef dat dit skade is.

Sy wetswerke hoort nie aan die kredietkant van sy balansstaat nie.

Dit hoort aan die skadekant, die debietkant.

Selfs sy beste werke is nie krediete nie, maar hulle kla hom aan!

En dit het hy begin besef die oomblik toe hy Christus leer ken het.

Die uitnemendheid om Christus Jesus te ken laat alles anders krimp tot niks.

Jy kan dit maar weggooi, prysgee.

Paulus skryf: Jy kan dit maar as drek beskou – Filippense 3:5-8.

Ja, feit is dat hy ook van nature geneig is om God en sy naaste te haat.

Dink aan hoe hy die eerste gemeente vervolg het.

 

Gemeente, broer, suster, as jy dit soos Paulus ervaar, dan kan jy omonwonde sonder aarseling sê:

Ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.

Dit help nie om iets in myself te gaan soek wat goed is nie.

Dit is tydmors.

My ellende staan my lewensgroot voor oë.

Ek is morsdood.

Laat ek maar net vlug na my Heiland, Jesus Christus.

Hy is my geregtigheid voor God.

Hy het die eis van die wet in my plek nagekom.

As ek Hom vasgryp, sal ek gered word.

Hy het gesterf vir my sonde, Hy het weer opgestaan uit die dood.

Christus se sterwe word my sterwe, sy opstanding word my opstanding.

Ek is – soos Paulus verduidelik – nou nie meer met die wet getroud nie.

Die wet het geen juridiese seggenskap meer oor my nie.

Ek is bevry daarvan.

Christus het – juridies – die wetseis vir my betaal, volbring.

Ek is ontslae van die wet.

Tussen hakies, gemeente, ons gaan later in die Kategismus daarna kyk dat die wet nou ’n nuwe funksie in my lewe kry, naamlik ’n riglyn vir ons dankbaarheislewe.

Dit kom aan die orde in die derde deel van die Kategismus, oor ons dankbaarheid vir Christus se verlossing.

Dit is hier in Sondag 2 nie aan die orde nie, dus gaan ek nie in hierdie preek dieper daarop in nie.

Maar ek noem dit net, dat ons nie oorreageer soos sommiges die neiging het om te doen nie.

As ek sê: Ek is ontslae van die wet – dan ontken ek nie daarmee die nuwe funksie van die wet nie.

Dat dit ’n instrument van die Heilige Gees is in die lewe van ons nuwe menswees, in ons heiligmaking.

Paulus verwys daarna as hy skryf in vers 26 dat hy met die gemoed die wet van God dien, teenoor die vlees wat die wet van die sonde dien.

Hierdie is nie ‘n teenstelling tussen liggaam en siel nie.

Gemoed word in die 2020-Vertaling tereg met verstand vertaal.

Dit dui hier op ons verstand wat deur die Heilige Gees verlig is, vernuwe is, teenoor ons ou vleeslike denke.

Dit is ‘n geestelike stryd wat ek die res van my lewe moet bly voer.

As Paulus uitskreeu – Ek, ellendige mens! – dink hy nie net terug aan die jare toe hy ‘n Fariseër was en nie die diepte van sy ellende besef het nie.

Hy praat ook oor die hede.

En so geld dit ook vir ons.

Daardie tweestryd sal bly tot die dag as ons sterf.

Daar is die nuwe lewe wat die Gees in ons werk – die heiligmaking, maar aan die ander kant bly die ou mens wat heeltyd net wil vaskop en protesteer.

 

Hier in Sondag 2 fokus ons nog net op die regverdigmaking.

In die derde deel van die Kategismus gaan die heiligmaking nader bespreek wrod.

Op die balansstaat van ons regverdigmaking kla die wet ons aan, en is daar van ons kant net skuld op skuld op skuld; wat my laat uitroep: Ek, ellendige mens!

Sondag 2 stroop my van alles.

Van nature is ek geneig om God en my naaste te haat.

Punt.

Niks meer kan gesê word nie.

Daar is geen maar ook geen versagtende omstandighede nie.

Ons balansstaat voor God is nie ingewikkeld nie.

Altans, die kredietkant, want daar staan niks nie.

Die debietkant is ’n ellelange lys van sondes ons lewe lank.

By die kredietkant is daar ’n ronde nul.

Maar, God sy dank vir sy genade, aan die kredietkant staan ook sy Seun se Naam.

Ons Heiland en Saligmaker Jesus Christus!

Met die opmerking: volledig voldaan!

En daarom, net soos Paulus, skreeu ons nie net “Ek, ellendige mens nie!” nie (Rom 7:24).

Maar ons roep ook uit: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom 7:25)

En soos wat ons die Heidelbergse Kategismus verder gaan behandel, gemeente, sal jy agterkom hoe dikwels hierdie Naam ter sprake kom.

Dit oorheers alles.

Soos ’n goeie leermeester – onthou die Kategismus is oorspronklik geskryf as ’n kurrikulum vir Bybelonderwys in Heidelberg – soos ‘n goeie leermeester word sistematies die een na die ander waardelose steunpilaar afgebreek.

En dit lei dan na die klimaks in Sondag 6 vraag en antwoord 18, as die Naam bo alle Name eksplisiet genoem word: Ons Here Jesus Christus!

 

Gemeente, hoewel Romeine 7 uiters pynlike dinge oor my en jou sê, is dit tog nie ‘n somber hoofstuk nie.

Dit is ‘n baie realistiese hoofstuk, maar tog sluit dit nie depressief af nie.

Nee, dit bied die Evangelie vir elkeen wat in wanhoop roep: Ek, ellendige mens!

En dieselfde kan ons oor Sondag 2 sê.

Want hierdie Sondag staan in die breër konteks van die res van die Kategismus.

Die Kategismus se indeling in 52 Sondae is op ‘n manier kunsmatig.

‘n Leraar kan net soveel op ‘n Sondag behandel, en daar is nou maar eenmaal 52 Sondae in ‘n jaar.

Maar die gedagtelyn loop verder vanaf Sondag 2 na, soos ek hierbo genoem het, die pragtige klimaks in Sondag 6.

In Sondag 3 en 4 en 5 gaan ons gesloop word van alle steunpilare wat geknakte stokke is, wat geen steun bied nie.

Totdat daar in Sondag 6 net een moontlikheid oorbly.

Wie is hierdie Middelaar, hierdie enigste Naam in hemel en aarde wat ons kan verlos?

Dit is ons Here Jesus Christus, wat voor God ons wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing is.

Hy is ons alles, ons Alfa en Omega.

Aan Hom kom toe die heerlikheid nou en tot in alle ewigheid!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Romeine 7

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 2

Tema: Die Evangelie vir elkeen wat wanhopig roep: Ek, ellendige mens!

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Aan watter tyd in sy lewe dink Paulus as hy uitroep: Ek, ellendige mens?
  2. Wanneer laas het jy jouself werklik ellendig gevoel?
  3. Hoekom stamp die wet ons net dieper in die gat van ons ellende in?
  4. In ons nuwe lewe gee die Heilige Gees aan die wet ‘n nuwe funksie. Waar behandel die Heidelbergse Kategismus dit?
  5. Sondag 2 is ‘n dieptepunt, maar na watter hoogtepunt lei dit in Sondag 6?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 34:2-4

Gebed

Skriflesing: Romeine 7

Ps 88:9,10,11,17,18

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 2

Preek

Ps 25:6,8,9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 22:10

Kollekte

Ps 40:1,8

Seën