Ons Here Jesus Christus begin Homself voorberei op sy lewenstaak

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2024-01-07
Teks: 
Lukas 2:41-52
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 2:41-52

 

2024 het begin, die vakansie loop ten einde, kinders en onderwysers begin weer voorberei vir die nuwe skooljaar.

Hopelik is ons redelik uitgerus en gemotiveerd vir die nuwe jaar.

Ons jeug mag opgroei in die veiligheid van die verbond.

Die sogenaamde driehoek gesin, kerk en skool werk saam sodat die jeug toegerus word vir hulle toekomstige roeping in die lewe.

Volwassenes belê baie in die opvoeding van die jeug.

Offers word gebring vir kerk en skool.

Offers van tyd, betrokkenheid en geld.

Ook in die gesin is kinders bevoorreg as hulle ’n pa en ma het wat vir hulle tyd het, wat hulle bewus grootmaak in diens van die Here.

Daar is ’n Afrika-spreekwoord wat sê: Hoe verder jy die pyl agtertoe trek in die boog, hoe verder gaan hy vorentoe skiet.

Hierdie spreekwoord verwys spesifiek daarna dat ouers nie moet terughou by die opvoeding van die jeug nie.

Daar is ook ’n ou Afrika spreekwoord wat sê: Dit verg ’n hele dorp om ’n kind groot te maak.

Binne die kerkgemeenskap kan ons volmondig daarmee saamstem.

Ons kinders kry soos hulle opgroei te make met hulle ouers, oupas en oumas, ooms en tannies, juffroue en menere, predikante en ouderlinge.

So staan die hele verbondsgemeenskap rondom die jeug.

 

Soos die volwassenes weet, die lewe is nie maklik nie.

Op elke mens se pad sal uitdagings kom, in jou werk, in jou omgewing, in jou familie, met jou gesondheid, met jou verhoudings, noem maar op.

Geseënd is ’n kind wat toegerus is om sy hulp by die HERE te soek, om in afhanklikheid van Hom die pad van die lewe te stap, op sy veilige weë te bly.

 

Tema: Ons Here Jesus Christus begin Homself voorberei op sy lewenstaak

 

Gemeente, toe die engel aan Josef en Maria die geboorte van die Messias aangekondig, en dat Hy in hulle gesin opgeneem moes word, het daarin ook ’n opdrag geskuil.

’n Groot verantwoordelikheid op hulle skouers.

Ons weet nie veel van Jesus se jeug af nie, maar die gedeelte wat ons gelees het, gee ’n klein bietjie insae.

En al Jesus vir ’n paar dae weggeraak, die sterk indruk kom deur dat Josef en Maria ernstig was oor die opvoeding van hierdie kind van hulle.

Dit is iets wat ons nie kan verklaar nie.

Aan die een kant was Jesus God, alwetend.

Maar aan die ander kant is Hy as ’n mens gebore en het soos ander kinders opgegroei en so ook die lewe leer ken.

Hoe sy opvoeding anders was as alle ander kinders rondom Hom, soos sy broers en susters, dit kan ons nie presies agterkom nie.

Maar wat wel duidelik is, is dat sy ouers nie passief nie, maar aktief ook vir Hom opgevoed het.

Aan die een kant sou mens kon dink dat Jesus geen opvoeding nodig gehad het nie, en ook, omdat Hy almagtig was, Josef en Maria oor niks bekommerd hoef te gewees het nie.

Maar aan die ander kant sien ons dat sy ouers wel baie bekommerd oor Hom was, net soos elke ouer wanhopig sou raak as hulle kind vir meer as drie dae weggeraak het.

 

Dit is inderdaad opvallend dat Lukas, en ook die ander evangeliste, so min oor die jeug van Jesus vertel.

Nadat Lukas uitgebreid geskryf het oor die geboorte van Jesus, die vir ons so bekende Kersgeskiedenis, staan hy maar vir ’n oomblik stil by die twaalfjarige Jesus.

Die eerste wat ons daarna oor Hom hoor is hoe Hy versoek is in die woestyn deur die duiwel, as man van dertig jaar.

 

Deur die eeue was mense maar nuuskurig na wat in Jesus se jeug gebeur het.

Veral in die eerste eeue het dit aanleiding gegee tot allerlei apokriewe verhale, basies versonne sotries.

Soos Jesus, die wonderkind, wat kleivoëltjies lewendig gemaak het.

Of Jesus wat ’n stuk hout vir sy pa Josef, wat timmerman was, langer gerek  het, toe dit blyk dat dit te kort was.

Of Jesus wat een van sy maatjies weer lewendig gemaak het, nadat hy van die dak afgeval het, toe hulle op die dag gespeel het.

So het daar allerlei eksotiese verhale in omloop gekom, wat nie histories betroubaar is nie.

Wat Lukas skryf is wel betroubaar.

Hy het alles noukeurig ondersoek, soos hy aan sy vriend Theofilus benadruk aan die begin van sy Evangelie.

Lukas het ook met Jesus se ma, Maria, gepraat.

Sy wat alles wat oor Hom gesê is en met Hom gebeur het, soos daar in vers 51 staan, in haar moederhart bewaar het.

Ons kan daarvan uitgaan dat Maria ook vir Lukas hierdie verhaal vertel het, van toe Jesus weggeraak het.

 

Nou voordat ons verder na hierdie gebeurtenis kyk, laat ons net duidelikheid kry oor hoe mens hierna moet luister.

’n Mens kan met verskillende ore na ’n gebeurtenis luister.

Ons hoor dikwels net die dinge wat vir ons interessant is.

Dit is ook die rede hoekom daar so baie stories rondom die jeug van die Here Jesus ontstaan het.

Want die mense het behoefte gehad aan spektakulêre stories.

Mens sou amper kon sê: ’n skinderpers oor ons Heiland.

Sensasie wat nie die feite so ernstig neem nie.

Nou is dit goed om te besef, ek sê dit baie oordrewe, dit is belangrik om te besef dat Lukas se Evangelie nie ’n sensasieblad is nie.

Dis nie ‘n tydskrif wat weer iets nuuts uitgevind het oor ’n glanspersoonlikheid nie.

Ons het hier te make met geskiedskrywing, wat deur die Heilige Gees geïnspireer is.

Lukas skryf sy Evangelie met ’n baie spesifieke doel.

Hy doen dit in opdrag van die Heilige Gees.

Net soos die ander 3 Evangelies, bereik die Lukasevangelie ook sy klimaks in die kruisiging en opstanding van Jesus.

Dis waar die hooffokus lê.

Dat Hy gesterf het en vir ons sondes betaal het.

Dat Hy die dood oorwin het.

Dit was die taak wat God aan Hom opgedra het.

Dit was die hoofdoel van sy hele lewe op aarde.

En hierdie hoofdoel staan ook sentraal in die Lukasevangelie.

Met hierdie hooftema in gedagte moet ons daarom na ons teks kyk.

Dit is die konteks.

Ook hierdie verhaal, hoe Jesus in Jerusalem weggeraak het, het met die hooftema van die boek te make.

En ons moet onthou: Vanaf sy jeug was Jesus al bewus van die taak wat vir Hom voorgelê het.

Vanaf sy jeug het Hy Hom al begin voorberei op die taak, waarvoor God Hom na die aarde gestuur het.

 

Gemeente, eintlik het Jesus glad nie ’n spektakulêre jeug gehad nie.

Nie ’n jeug wat vir ’n skinderblad interessant genoeg is om te publiseer nie.

Hy het in die dorpie Nasaret opgegroei.

’n Agteraf dorpie, wat vir die buitewêreld nie interessant was nie.

In Nasaret het Jesus waarskynlik die grootste deel van die eerste dertig jaar van sy lewe gewoon.

En uit daardie periode vertel Lukas slegs hierdie verhaal.

Jesus het, soos dit waarskynlik jaarliks die gewoonte was, saam met sy ouers na Jerusalem gegaan, na die tempel vir die Paasfees.

En na afloop van die fees het sy ouers teruggekeer, terwyl Hy ongemerk in Jerusalem agtergebly het.

 

Ons ken die verhaal.

Hulle dog Hy was elders in die reisgeselskap, onder die bekendes en familie.

Dalk het Hy saam met sy nefies gestap.

Daar was nog nie voertuie soos waarmee ons reis nie.

Mense het baie gestap, dikwels in groepe.

Dit het die reis korter gemaak as jy kon gesels, dit het die reis ook veiliger gemaak.

Ons gaan vandag ook nie sommer alleen op ’n staptoer nie.

In hierdie geval was die reisgeselskap die verbondsgemeenskap.

Hulle wat saam na die tempel gereis het vir die fees.

Mense wat in die tradisie gestaan het om God te dien.

Jesus was vertroud met sy mense, en sy ouers het die reisgeselskap vertrou, in die mate dat hulle vir ’n dag lank nie bekommerd was nie.

 

Dinge het egter verander toe hulle die aand Hom nêrens tussen familie en bekendes vind nie.

Die rede, skryf Lukas, omdat Hy sonder hulle medewete in Jerusalem agtergebly het.

Uit die manier hoe Lukas dit beskryf, is duidelik dat Jesus nie per ongeluk sy ouers verloor en wanhopig na hulle op soek was nie.

Hierdie was ’n doelbewuste iets wat Jesus gedoen het.

 

Na drie dae soek vind sy ouers Hom in die tempel.

Dis nou nadat hulle inderhaas na Jerusalem teruggekeer het.

In totaal was Jesus dus nou al vir vyf dae by die tempel.

In die tempel, dit beteken uiteraard nie binne-in die tempel self, daar waar die tafel met toonbrode en die ark gestaan het nie.

Daar mog net die priesters kom.

Maar met die tempel word die tempelkompleks bedoel, al die geboue daaromheen.

Byvoorbeeld ook die slaapkamers van die priesters wat diens gedoen het,

en die ruimtes waar die leraars die volk onderwys gegee het.

Josef en Maria het hulle twaalfjarige seun uiteindelik êrens in die tempelkompleks gevind.

Daar het Hy by die leraars, die Skrifgeleerdes, gesit, waar hulle besig was om die volk te onderrig.

Daar het hulle Hom gevind, waar Hy entoesiasties deelgeneem het aan die onderrig, deur vrae te vra en antwoorde te gee.

 

Soos ek genoem het, hierdie is nie ’n verhaal oor die wonderkind Jesus nie.

Lukas vertel hierdie verhaal nie in die trant van:

Het jy gehoor van daardie seuntjie van twaalf jaar wat meer oor God en die Bybel weet as al die Skrifgeleerdes wat jare daarvoor gestudeer het?

’n Seuntjie vanaf die platteland wat allerlei vrae vra wat die Skrifgeleerdes nie eers kan beantwoord nie ...

Gemeente, as ons die verhaal in so ’n trant lees, dan begryp ons nie die bedoeling nie.

Want wat was naamlik die geval?

Soos gesê, rondom die tempel was die Skrifgeleerdes gewoond om hulle beroep uit te oefen.

By die tempel was daar altyd baie mense.

Vir die leraars was dit ’n geskikte plek en tyd om die volk onderrig in die Woord te gee.

Veral met Paasfees was daar massas mense in Jerusalem.

Na aanleiding van die onderrig van die Skrifgeleerdes het daar dikwels diep gesprekke by die tempel ontstaan, soms ook diskussies tussen verskillende geleerdes.

Ons lees in die Evangelie van Johannes dat Jesus, toe Hy later self ’n Skrifgeleerde was, ook in die tempelkompleks onderrig gegee het.

Daar staan byvoorbeeld in Johannes 7:14:

“En toe dit al in die middel van die fees was, het Jesus opgegaan na die tempel en geleer.”

En ook het Jesus later op die tempelplein, en in die ruimtes van die tempelkompleks, debatte gevoer met ander leraars, soos met die Fariseërs.

Die gebeurtenis wat Lukas in ons teks beskryf, was ook van so ’n aard.

Jesus, as seun van twaalf jaar, was geïnteresseerd in die onderwys van die Skrifgeleerdes.

Hy was daar, na alle waarskynlikheid, saam met baie ander Jode, wat na die rabbi’s kom luister het.

 

Nou is dit belangrik om te weet hoe daar vroeër deur die Skrifgeleerdes lesgegee is.

Dit was veral die gewoonte dat dit vraenderwys gedoen is.

Die rabbi het nie ’n monoloog gehou nie.

Mens kan dit vergelyk met ’n skoolles, waar die meneer aan die kinders vrae vra, en omgekeerd.

En wat opgeval het was dat daardie een seun, Jesus, baie aandagtig gesit en luister het, en dat Hy nie na ’n rukkie weggeloop het nie.

Hy het soms ’n vraag gevra, waaruit geblyk het dat Hy al baie diep oor die dinge nagedink het.

En as hulle vir Hom ’n vraag gevra het, dan was almal verbaas oor sy diepsinnige antwoorde.

Vir dae lank het Jesus elke dag weer teruggekom.

Dit het gelyk of Hy nie genoeg kon kry nie.

Josef en Maria het Hom orals in die stad en orals in die tempelkompleks gesoek, drie dae lank, orals waar ’n seun van twaalf jaar hom moontlik sou kon ophou.

Maar dat Hy hier by die rabbi’s sou wees, daaraan het hulle skynbaar nie gedink nie.

 

As ons so, uit die regte perspektief, na hierdie verhaal kyk, dan maak die manier hoe Jesus sy ma antwoord ook sin:

Hoekom moes u vir my soek?

Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?

Hy bedoel om te sê:

Ma, dit was mos nie nódig om My te soek nie?

Ma kon mos geweet het dat Ek hier sou wees?

Ma weet mos waarmee Ek besig moet wees, waarmee ek besig wil wees?

Het die engel dit nie destyds vir Ma vertel nie?

Onthou Ma nie wat die engel gesê het nie:

Hy sal “die Seun van die Allerhoogste genoem word.”

 

Gemeente, hierdie is nie ’n spektakulêre verhaal nie.

Dis wel ’n pragtige, ontroerende verhaal.

Maria het hier waarskynlik vir die eerste keer begin bewus raak van die feite.

Die feite wat die engel reeds aan hulle meegedeel het, dit het nou begin in plek val.

Dat háár seun inderdaad ook Gód se Seun is, en dat Hy al besig was om Homself vir sy latere taak voor te berei.

Nie dat sy ampsperiode nou al begin het nie.

Dit sou eers begin op sy dertigste, die ouderdom waarop volgens die Ou Testament priesters ook met hulle amptelike diens begin het.

Maar ons sien hier dat Hy al aktief Hom op sy taak voorberei.

Sy taak om as profeet die Vader, wat Hom gestuur het, aan die mense te openbaar.

En sy taak om as priester Homself te offer.

Sy taak om jou en my Verlosser te word.

Sy ma Maria het nie alles toe al begryp nie.

Maar sy het die woorde wel in haar hart bewaar.

Later het alles eers vir haar begin sin maak.

Nadat haar seun, God se Seun, sy taak volbring het.

Sy Godgegewe taak.

Later het sy ingesien wat haar Seun destyds bedoel het, toe Hy gesê het:

“Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?”

Die Skrifgeleerdes sou Jesus later weer ontmoet.

Maar dan self ook as rabbi, wat by die tempel die groot nuus kom bring het:

Ek is die lewende water!

Ek is die brood van die lewe!

Ek kondig die aangename jaar van die HERE aan!

Maar nou, as twaalfjarige seun is ons Heiland al intensief besig om Hom op hierdie latere taak voor te berei.

Nou het Hy al besef hoe belangrik dit is om te weet watter gedagtes daar onder die volk en onder die Skrifgeleerdes leef.

Toe Hy as dertigjarige begin met sy ampswerk, was Hy nie onvoorbereid nie.

 

Gemeente, hierdie verhaal hoe Jesus in Jerusalem weggeraak het, laat dus sien hoe sy jeug het al gestaan in die perspektief van sy toekomstige roeping.

Dit is die boodskap van die preek.

 

Nou kan ons onsself afvra, wat is die toepassing vir my lewe vandag?

Moet ek nou ook soos die twaalfjarige Jesus begin lewe?

En moet ek as ouers my kind opvoed om ook soos Jesus te wees?

Kom ons wees eerlik, dit sal ons nie regkry nie.

Hoekom nie?

Omdat ons sondig is.

En dit was nou juis waarin Jesus van alle ander mense verskil het.

Hy was sonder sonde.

Ook ontvang ons in ons lewe nie dieselfde roeping as Hy nie.

 

Maar hoe sit dit dan met die feit dat Jesus ook moes leer?

Lukas sê dat Hy toegeneem het in wysheid.

Was Jesus dan nie alwetend nie?

Is dit dan nie sonde dat Hy nog moes leer nie?

Gemeente, miskien is hierdie opvatting die gevolg van ’n verkeerde beeld wat ons van die wonderkind Jesus het.

As Jesus nie net mens, maar ook God was, beteken dit dan nie dat Hy alles moes weet nie?

Dit is belangrik om te besef dat as ons oor die godheid van Jesus praat, dat daarmee nie in die eerste plek bedoel word dat Hy ’n geweldige hoë IK gehad het nie.

’n Bomenslike intelligensie, waarvan ons teks dan ’n voorbeeld sou wees.

Dit is nie die boodskap van hierdie verhaal nie.

Jesus was ’n gewone mens, ook as seun van twaalf jaar.

Hy was wel ’n mens met ’n unieke roeping op aarde, ’n taak waarvoor Hy sy godheid baie nodig gehad het.

In Sondag 6 van die Heidelbergse Kategismus staan:

Hoekom moet Hy tegelykertyd waaragtig God wees?

Antwoord: “Om uit die krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan sy mensheid te kan dra.”

Daarom was Hy God, ook op aarde.

Om sterk genoeg te kan wees teen die sonde.

Maar dat Hy nog moes leer, dat Hy homself op sy taak moes voorberei, dit was nie ’n sonde nie.

 

Hoe pas ons hierdie boodskap op ons lewe toe?

In die eerste plek:

Kom ons wees ontsettend bly met ons Heiland!

Kom ons wees verwonderd oor wie Hy is.

Hy is nie ’n wonderkind in die gewone sin van die woord nie.

Maar Hy was God se eniggebore Seun wat met ’n unieke roeping na die aarde gekom het.

Om sy lewe te offer.

Om ons skoon te was van ons sondes.

Om ons weer met God te versoen.

Om die dood te oorwin.

Om vrede op aarde te bring.

 

En in die tweede plek leer ons hieruit:

Jesus was gehoorsaam aan sy taak, wat Hy van sy hemelse Vader ontvang het.

As kind het Hy homself al begin voorberei.

Hierin was Jesus ons voorbeeld.

Laat ons ook van harte die taak doen wat God aan ons opdra.

Spesifiek dink ons nou by die begin van die skooljaar aan die jeug wat na ’n volgende graad gaan.

Sommiges gaan selfs vir die eerste keer skool toe.

Ander begin met hulle laaste jaar, hulle matriek.

Ander is al klaar met skool, en daar is nuwe uitdagings.

Uiteraard is ons taak iets anders as die van Jesus.

Maar ons staan almal in diens van God.

Die taak wat jy van God kry, kan uiteenlopende dinge wees.

Dat jy byvoorbeeld ’n goeie ma is.

Dat jy ’n betroubare kollega is.

Dat jy ’n ouma is wat vir jou kleinkind oor God se goedheid kan vertel.

Laat ons trou wees op ons pos.

Laat ons bewus lewe, saam bou aan God se koninkryk.

Ook as dit soms swaarkry behels.

Laat ons vasbyt in ons roeping.

Laat jou lewe, al vanaf jou jeug, jou skooljare, jou studiejare, as jy begin verdien, as jy trou of ongetroud bly, as jy pa of ma word of nie, as jy afgetree is, laat jou hele lewe in die perspektief staan van die taak wat God vir jou gee.

God roep elkeen van ons.

God gee jou ’n roeping.

As kind het Jesus na die roepstem van sy hemelse Vader geluister.

Hy het sy Vader gedien op die plek waar Hy Hom gestel het.

Hy het sy taak gewillig gedoen.

So word jy geroep om jou taak gewillig voor God se aangesig uit te oefen.

Hy stel sy kinders daartoe in staat.

In die driehoek gesin, kerk en skool word die pyl ver teruggetrek in die boog, voordat dit geskiet word.

Ons is bevoorreg, bo soveel ander in die wêreld.

Ons wens dat al die jeug van ons land ook in daardie voorreg mag deel.

Die deure staan oop.

Laat ons na hulle uitreik.

Want hier word ons toegerus vir ons taak.

Week in week uit, ook in 2024, of jy jonk is, volwasse, of hoogsbejaard.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Lukas 1:1-4 & 2:41-52 & 21:37-38

Teks: Lukas 2:41-52

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat weet ons oor die jeug van Jesus?
  2. Hoekom was Josef en Maria eers na ‘n dag bekommerd oor waar Jesus was?
  3. Wat was Lukas se bedoeling om die verhaal toe Jesus by die tempel agtergebly het, op te skryf?
  4. Wat het hierdie Bybelgedeelte te make met Jesus se roeping op aarde?
  5. Hoe sou jy jou lewensroeping wat jy van God ontvang het, beskryf?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 90:1,9

Wet

Ps 90:4,7

Gebed

Skriflesing: Lukas 1:1-4 & 2:41-52 & 21:37-38

Sb 15:1,2,7

Teks: Lukas 2:41-52

Preek

Ps 144:1,5,6

Gebed

Kollekte

Ps 148:3,4,5

Seën