Vier Kersfees met lofliedere!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2023-12-25
Teks: 
Amos 5:23 & Lukas 2:13-14
Preek Inhoud: 

Preek: Amos 5:23 & Lukas 2:13-14

 

Een van die mees wesenlike onderdele van Kersfees is sang en musiek.

Gedurende Adventstyd hoor ons kersliedere op die radio.

Ons sing kersliedere op skool en by die huis.

Ons gaan na kerssangaande waar kore pragtige liedere sing en waar daar samesang is.

En dikwels klink ook die lied van ons teks:

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!”

Aan die einde van hierdie erediens mag ons hierdie lied van die engelekoor uit volle bors sing.

Die mens se stem word wel die mooiste musiekinstrument genoem.

Dit is deur God geskape, terwyl alle ander instrumente deur die mens gemaak is.

Kersfees is by uitstek die fees om die HERE uitbundig met ons stemme te loof.

Wie sing, word bly.

Wie sing, eer God.

Dit is hoekom ons met sulke pragtige stemme geskape is.

 

Tema: Vier Kersfees met lofliedere!

  • Liedere wat geraas maak
  • Liedere wat eer bring

 

  • Liedere wat geraas maak

Ons eerste teks kom uit die Ou Testament, uit die profeet Amos.

Amos het gelewe in die tyd nog voordat Israel in ballingskap gegaan het.

Hy het die skynheiligheid van hulle erediens, hulle feesdae op die korrel geneem.

Hoe hulle die HERE op eiewillige wyse gedien het.

In Dan en Berseba is God aanbid by die heiligdomme, waar Jerobeam desyds twee goue kalwers opgerig het.

Ja, hulle het nog die Bybel gehad, hulle het nog vir die HERE lofliedere gesing, maar dinge het gegaan soos hulle dit wou hê, soos dit vir hulle lekker en relevant was.

Die sang was indrukwekkend.

Die instrumente het gegalm.

Die harpe het ontroerend gespeel.

Desnietemin sê die HERE:

Neem weg daardie lawaai!

Verwyder die geraas van jou liedere!

Na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie!

Ek wil julle feesvierings nie ruik nie.

Julle offers stink.

Die rede hiervoor, gemeente, was nie omdat die offers geen wierook bygehad het nie.

Die geraas van die musiek was nie omdat daar geen professionele sangers was nie.

Maar dit was omdat Israel se hart ver van hulle God af was.

Dit het uiterlikhede geword.

Die regte gesindheid in die hart het ontbreek.

 

In ons tyd, veral in hierdie Kerstyd, is daar ook baie lawaai.

Nie alle Kersliedere is eerbiedig nie.

Dit val my op, veral op die radio en internet, dat die gewydheid van Kersliedere hoe langer hoe minder word.

Dit word net lekker-luister-liedjies, op ‘n stewige ‘beat’, gesing deur sangers op ‘n stemtoon wat oneerbiedig is.

Werklik totaal anders as wat daardie engelekoor in die velde van Betlehem moes geklink het.

 

Dit herinner aan wat die HERE deur die profeet Amos vir sy volk sê.

Hy draai nie doekies om nie.

Ek haat, Ek verwerp julle feeste.

Verwyder tog net van My die geraas van jou liedere!

Na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie!

 

Gemeente, sou die Here ook so dink oor ons Kersfees?

Sou Hy vandag ook sê: Ek haat julle vier van Kersfees?

Ek haat julle musiek.

Neem weg daardie geraas uit my ore!

Wat van vandag se sangers en musiek ...?

Heuwels Fantasties, Steve Hofmeyer, Romanz.

Of die grootste Kersfees Skouspel in Suid-Afrika afgelope week in die Sun Arena, Time Square, hier in Pretoria.

Altesaam met 15 bekende Afrikaanse sangers.

Kaartjies van R225 – R750.

Wat ‘n skouspel!

Maar waar is die eerbied?

Kersfees het kommersieel geword, dit het ‘n skouspel geword.

Dit is al hoe minder ‘n kerklike fees.

Dit gaan daaroor dat die mens die feestyd geniet.

 

Gemeente, word ek nou nie te spesifiek in hierdie preek nie?

Trap ek nou nie onnodig op tone nie?

Wel, dis presies wat Amos ook doen.

En daar is vandag ook alle rede daarvoor.

Wat help die prediking as dit nie grondvat nie?

Ons vier in ons land Kersfees, terwyl dieselfde op daaglikse basis aan die gang is as destyds in Israel.

Daar word onreg gepleeg.

Die wet van die HERE word verwerp, sy insettinge word nie meer onderhou nie – Amos 2:4.

Mense trap op die koppe van die armes – Amos 2:7.

Word die armes in ons land nie dikwels ook uitgebuit nie?

Die man en sy vader gaan na dieselfde meisie – Amos 2:7.

Is dit met die moraliteit in ons land en onder ons volk beter gesteld?

Daarom is die HERE moeg vir ons kersmusiek, ons kersvieringe.

Verwyder dit! sê Hy.

Julle stemme en julle instrumente maak geraas in my ore.

Laat eerder die reg in julle land aanrol soos watergolwe, geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom.

Lofliedere moet gebou word op boetvaardigheid en geloof.

Daarsonder is Kersfees ‘n leë dop.

“Ek soek pille vir kersfees
Vir my gekerfde senuwees
Niks wat 'n tydjie by die see nie kan genees”

          Lirieke van Heuwels Fantasties.

Kersfees word net ‘n tyd van vakansie en genot.

 

Ja, die mensdom wil feesvier, maar die Persoon oor wie dit gaan, is nie meer belangrik nie.

Dis soos mense wat na iemand se partytjie kom, net omdat hulle wil feesvier, wil drink en grappe maak en hulleself geniet.

En dit terwyl hulle nie eers aandag skenk aan die persoon wie sy partytjie dit is nie.

Nie eers daaraan dink hoe die partytjie vir hom aangenaam sal wees nie.

Dit gaan net oor hulleself en hulle eie genot.

Ek walg van julle geraas.

Dis wat Christus dink van baie Kersvieringe van ons tyd.

Oneerbiedige musiek, eet- en drinkpartye, terwyl kerke amper leeg is.

 

Toe Christus na die aarde gekom het, was dit opvallend dat Hy nie in Jerusalem gebore is nie.

Daar waar by die tempel die feeste gevier is en liedere geklink het.

Maar Hy is in Betlehem gebore in ‘n stal.

Die engele het nie aan die bekende en belangrike mense in Jerusalem verskyn nie.

Hulle het aan die herders verskyn, onbelangrike arm veragtelike mense in die samelewing.

En wat die herders toe gehoor het, dit was, gemeente, die musiek soos God dit wou gehad het.

Dit bring ons nou by die tweede punt.

 

(Tema: Vier Kersfees met lofliedere

  • Liedere wat geraas maak)

 

  • Liedere wat eer bring

Tussen hakies, dis nie heeltemal duidelik of die engelekoor hier in ons teks in Lukas ‘n spreekkoor of ‘n sangkoor was nie.

Maar in beide gevalle, dit was buitengewoon indrukwekkend.

Sowel spreekkore as sangkore klink in die hemel, en moet ook op aarde klink.

 

Ons lees: Daar was ‘n menigte van hemelse leërskare.

Ja massakore is nie verkeerd nie, dis pragtig!

Ja laat op aarde ook ‘n menigte van aardse leërskare Hom prys.

Maar laat dit met eerbied gebeur.

Dis opvallend wat hierdie leërskare gedoen het.

Daar staan spesifiek: Hulle het God geprys – vers 13.

Dit was nie ‘n kommersiële Kersfees skouspel nie.

God het sentraal gestaan en die blye boodskap wat hulle mog bring.

Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

“Eer” is tipies ‘n woord wat by die hemel pas.

Die oorspronkelike woord in Grieks beteken: heerlikheid, helderheid, grootheid, lof en eer.

Dit is ‘n woord wat pas by ‘n hemelse wese.

In 1 Timotheüs 3:16 is die woord selfs sinoniem aan die hemel self, waar daar oor Christus staan:

“God” – dis nou Christus – “... is opgeneem in heerlikheid.”

Heerlikheid staan hier vir die hemelse heerlikheid, en dit is dieselfde woord wat die engele hier gebruik, die woord “eer”.

So het die woord “eer” in ons teks ‘n geweldige ryk betekenis.

Slegs God kan die voorwerp wees van die bring van hierdie eer.

 

Vervolgens, die blye boodskap word in ons teks in een woord saamgevat: vrede.

Die aankondig van Jesus se geboorte beteken vrede op aarde.

Dit is die doel van sy koms.

Om vrede te herstel, eerstens tussen God en mens.

Tussen die Skepper en sy skepsel wat teen Hom gerebelleer het.

En dan sê die engele: in die mense ‘n welbehae.

Daar was deur die eeue verskillende maniere hoe hierdie woorde uitgelê is.

Dikwels is dit vertaal as: vrede in die mense van welbehae, oftewel, vrede in goedwillende mense, vrede in mense van goeie wil.

God sou sy vrede, dit is Christus, dan net aanbied aan mense wat ‘n goeie wil het, wat dit begeer.

Dit klink nogal Remonstrants.

Aan die ander kant was daar hulle wat hierdie woorde, vrede in die mense van welbehade, uitgelê het asof dit hier slegs oor die uitverkorenes gaan.

Slegs hulle in wie God van ewigheid af al ‘n welbehae gehad het.

Maar, gemeente, beide verklarings is eksegeties nie korrek nie.

Wat die engele wel bedoel is dat die vrede – dis nou die verlossing deur Christus – op aarde gekom het.

En uit hierdie heilsfeit blyk dat God ‘n welbehae het in die mensheid.

Dat Hy, in sy Seun, aan elke mens op aarde die welgemeende aanbod van verlossing skenk.

Soos Calvyn noem, hierdie vers gaan nie oor die uitverkiesing nie.

Hierdie engelelofsang is nie oor die uitverkiesing nie – dit kom elders in die Skrif ter sprake.

Maar dit gaan oor die heilsfeit van die volheid van die tyd.

Dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom gelo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” – Johannes 3:16.

So bring God die opregte aanbod van vrede vir elke mens op aarde, noudat Hy sy Seun gestuur het, wat in Betlehem gebore is.

 

Christus het deur sy Middelaarskap die vrede herstel tussen God en die mense.

‘n Vrede wat geanker is in geregtigheid.

Christus het die straf gedra.

En elkeen wat nou in sy Naam tot die Skepper nader, mag dit ervaar, die vrede tussen God en my, omdat ek regverdig verklaar word deur my Middelaar.

Dat ek ook een van die mense mag wees in wie God ‘n welbehae het.

Die vrede tussen mense onderling mag ek ook begin ervaar, as ek Christus volg en soos Hom op aarde begin lewe, bekragtig deur sy Gees wat in my woon.

As ek ook nou geregtigheid begin praktiseer.

Dat die reg aanrol in ons lewens soos watergolwe, soos Amos dit so mooi beskryf, geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom.

As ons so begin lewe, in navoling van Christus, dan is ons bodes van nuwe hoop vir hierdie aarde.

Die vrede op aarde, dit begin in ons lewens al bietjie sigbaar word.

En ondertussen wag ons in spanning op die volmaakte vrede.

Want dit sal kom as Christus finaal terugkeer, soos Hy beloof het.

As sy geregtigheid die hele aarde sal oordek, soos waters die bodem van die see.

As die engele hier in ons teks sing vrede op aarde, is dit daarom profetiese woorde.

Dit dui die program aan van die nuwe bedeling, wat met Christus se geboorte begin het, en wat voltooi sal word met sy wederkoms.

 

Gemeente, laat ons met sang en musiek oor hierdie vrede sing!

Laat ons daarvan getuig, soos die herders.

Hulle het, vers 17, oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is.

En hulle het God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het (vers 20).

Laat ons in hulle voetspore verder gaan.

Lofsingend, uitbundig, eerbiedig, opreg.

Laat ons nie nalaat om dit te doen nie.

In ons tegnologiese tyd is dit so maklik is om maar net passief na musiek te luister en nie meer self te sing nie.

By die huis, in ons motors, by die werk, noem maar op.

Natuurlik is dit nie verkeerd om na mooi musiek te luister nie.

Daar is ook in Afrikaans werklik eerbiedige Kersmusiek.

Ek dink aan die pragtige Afrikaanse kerslied Somerkersfees wat deur sommige sangers regtig pragtig gesing word.

En eerbiedig sluit nie uitbundig uit nie.

So mag ons vandag ook sing, Psalms, liedere, lofsange, uitbundig om – net soos die engele – God te prys.

En as ons na musiek luister, laat ons dit met onderskeiding doen.

Ons kan nie enige wêreldse musiek kritiekloos vir ons ontspanning en vermaak luister nie.

Stop daai geraas op jou luidsprekers, sê die Here vir jou.

 

Gemeente, ons vind die engelekoor nóg ‘n keer in die Bybel terug.

En dit is in die boek Openbaring, waar Johannes in ‘n visioen ‘n blik gegun word van wat in die hemel gebeur.

Dit gaan oor dieselfde heilsfeite, dat Jesus na die aarde gekom het.

Dit word daar verwoord in die beeldspraak van die Lam en dat net Hy alleen waardig is om die boek wat met sewe seëls verseël was, oop te maak.

 

En dan hoor ons ook die engelekoor, en weer is dit ‘n menigte – Johannes noem hy het tienduisende van tienduisende en duisende van duisende gesien!

Almal saam het met een groot stem uitgeroep:

“Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Openb 5:12)

Weer hoor ons al hierdie pragtige woorde.

 

Gemeente, dit is heerlik, ook vir ons, om in hierdie feestyd na pragtige Kersmusiek te luister, en om uit volle bors Kersliedere te sing.

Ons sluit aan by die hemelse koor.

Hulle het daardie nag ‘n tippie van die sluier gelig hoe dit die hele tyd in die hemel klink.

Ons aardse sang en musiek is vergeleke daarby maar vaal.

Desnieteenstaande, die Here het behae in ons sang en musiek.

Hy troon op die lofsange van sy kinders.

Al is dit niks vergeleke by die hemelse standaarde nie.

Maar dis soos ‘n ouer wat trots is op sy klein kind wat sy eerste psalmversie sing.

Die wysie klink dalk nog bietjie krom, dit gaan nog bietjie stotterig.

Maar pa en ma se oë glunder, dat hulle kind dit kan regkry.

Net so is die Here trots en verheug as ons lofliedere tot Hom opstyg.

Ons doen ons beste, laat dit duidelik wees.

Dis nie dat ons ons sang en musiek maar kan afskeep nie.

Dikwels is dit nog te veel die geval.

En dikwels, juis in ons tyd, het ons te veel gebruikers van musiek geword met alle tegnologie, en nie meer makers van musiek nie.

Deesdae sing ons nog bitter weinig self.

Tog bly dit ‘n feit, as ons ons beste gee, is dit nog maar vaal by die engele se standaarde.

Nietemin, dit verskaf die Here vreugde as sy kinders opreg tot sy eer sing.

Ja dis wel die voorwaarde, dat dit tot sy eer is.

Dat dit nie mensgesentreerd is, soos die hele Kersfeesindustrie deesdae is nie.

Dat die Evangelie, die blye boodskap self sentraal staan.

 

In sy toekomsvisioen in Openbaring vertel Johannes nog iets wat asemrowend is.

Naamlik dat hy sien dat nie net die engele, maar ook elke skepsel saam sing en heerlikheid en eer bring.

Johannes beskryf wat hy sien noukeurig:

“elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openb 5:13-14)

 

Ons bede op hierdie Kersdag is dat dit gou mag waar word.

Dat reg oor die aarde, van die ooste tot die weste, van die noorde tot die suide, massas en massas sangstemme na die hemel opstyg, en aansluit by die stemme van die hemelse leërskare.

Eer aan God in die hoogse hemele, en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Amos 5:21-27, Lukas 2:1-20; Openbaring 5

Teks: Amos 5:23 & Lukas 2:13-14

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoekom het die HERE gesê dat Israel met sy liedere geraas maak?
  2. Kan ons die manier hoe Kersfees in ons land gevier word, ook geraas en lawaai noem?
  3. Verduidelik die betekenis van die woordjie ‘eer’ in die engele se lied.
  4. Wat bedoel met die engele met die woorde: “in die mense ‘n welbehae”?
  5. Hoe dikwels sing jy tot eer van die Here?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 5:1,2

Gebed

Skriflesing: Amos 5:21-27

Sb 1:1,3,5

Skriflesing: Lukas 2:1-20

Sb 4:1-4

Skriflesing: Openbaring 5

Sb 8:1,2

Teks: Amos 5:23 & Lukas 2:13-14

Preek

Sb 8:3-5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 4:5-7

Kollekte

Ps 150:1-3

Seën

Sing: Ere aan God!