Vier jou feesdae!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2023-12-24
Teks: 
Nahum 1:15
Preek Inhoud: 

Preek: Nahum 1:15

 

Ons het in verlede week Sondag se preek gesien dat die oorsprong van die woord evangelie in die Ou Testament lê.

Evangelie kom van die Griekse woord euangelion wat blye tyding beteken.

En dit gaan terug op die Ou Testament, soos die teks vir vandag.

Daar vind ons ‘n woord wat beteken: bringer van ‘n goeie boodskap.

Dit verwys na die boodskapper van ‘n blye tyding.

‘n Boodskapper in die oudheid was ‘n maraton atleet, wat ver afstande moes aflê om ‘n dringende boodskap oor te dra.

Hulle het gehardloop van stad tot stad, van die een land na die ander, om ‘n blye tyding of soms ‘n onheilstyding te bring.

Die wagte op die mure van die stad het meestal so ‘n boodskapper die eerste oor die berge aangehardloop sien kom.

Aan sy manier van hardloop kon hulle al sien of dit ‘n goeie of slegte tyding was.

Goeie nuus gee ‘n draf in jou stap, soos die uitdrukking sê.

Om so ‘n boodskapper, so ‘n maraton atleet te wees, was ‘n beroep.

Hulle het meestal ‘n verseëlde brief by hulle gedra, waarin die nuus gestaan het.

Sodat die ontvanger van die tyding kon verifieer dat dit wat die boodskapper vertel, waar was.

Alhoewel dit nie oor so ‘n hardloper gegaan het nie, maar veral oor die tyding wat hy gebring het, lees ons dat hierdie mense bejubel is oor die blye tyding wat hulle gebring het.

Hulle rats voete is selfs lieflike voete genoem.

Voete wat die goeie tyding oor berge en klowe gedra het.

 

Tema: Vier jou feesdae!

 

Inderdaad, as ons na vandag se teks kyk, wat ‘n welkom tyding was dit nie, die aankondiging van vrede na jare van oorlog!

Assirië was ‘n magtige ryk.

Sy hoofstad Ninevé, was oninneembaar.

Ninevé was op ‘n manier die hoofstad van die wêreld.

Dit was die knooppunt van die wêreldhandel, tussen oos en wes, tussen noord en suid, daar waar dit aan die oewers van die Tigrisrivier gelê het.

Nahum skryf dat daar meer handelaars in die stad was as sterre aan die hemel (Nah 3:16).

Dit laat mens dink aan ‘n stad soos New York, wat tans die knooppunt van die wêreldhandel is.

Ninevé was ‘n megastad.

Mens kan ook dink aan wat die profeet Jona daaroor skryf:

“Ninevé”, skryf hy, “was ‘n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet.” (Jona 3:3)

Jona het ongeveer ‘n eeu voor Nahum gelewe.

Maar Ninevé se bekering op die prediking van Jona het nie standgehou nie.

‘n Eeu later, in Nahum se tyd, was hulle so arrogant as kon kom.

 

Gemeente, daar is maar min bekend oor wie Nahum presies was.

Dit lyk of hy moontlik self een van die ballinge uit Israel was.

Assirië het Israel, die noordelike ryk, in ballingskap gevoer.

Die indruk ontstaan, as mens Nahum lees, dat die HERE Homself aan Nahum geopenbaar het toe hy in ballingskap in die omgewing van Ninevé was.

Nahum gebruik bepaalde woorde wat ‘n Assiriese afkoms het.

Ook wek die beskrywing wat hy van Ninevé gee en wat daar gebeur, die indruk dat hy hierdie stad persoonlik geken het.

Wat dit betref, as Nahum ‘n balling in Assirië was, kan mens hom goed vergelyk met die profeet Daniël.

Sowel Daniël as Nahum profeteer nie teen die verbondsvolk self nie, maar teen die magte wat hulle oorheers het.

Daniël het as balling in Babel gewoon.

Sy profesieë het veral gegaan oor God se almag oor Babel met sy konings soos Nebukadnesar, Belsassar en Darius.

Dieselfde boodskap kom daar uit Nahum.

Al is Ninevé hoe magtig, voor God se almag sal dit nie standhou nie.

En inderdaad, na jare was God se geduld toe op.

Die slag van Ninevé in die jaar 612 vC was immens groot.

‘n Alliansie van die Babiloniërs en Meders het die stad beleër.

Hulle het dit ingeneem en verwoes.

En enkele jare later het hulle finaal ‘n einde gemaak aan die magtige Assiriese Ryk.

Hierdie nuwe maghebbers, die Babiloniërs en Meders, was diensknegte van God.

Die Almagtige, Hy wat Baas is oor alle kragte van die natuur, wolke en reën, stormwinde, aardbewings en vuurvlamme, Hy heers ook oor die konings van die aarde en hulle staan in sy diens.

 

Maar Nahum het nog gelewe in die tyd toe Assirië met ‘n ysterhand oor die wêreld geregeer het.

Ook Juda het gesteun en gekreun onder hulle bewind.

Assirië se oorheersing het selfs vir heidense terme in daardie tyd as ‘n buitengewoon wrede oorheersing bekend gestaan.

En Assirië was buitengewoon arrogant.

Ons kan dink aan die voorval toe Sanherib die God van Jerusalem openlik gespot en gesmaad het (2 Kon 18 en 19).

So ‘n arrogante houding is ook nie vreemd aan regerings vandag nie.

Westerse regerings regeer asof God nie bestaan nie.

In Islamlande word God Drieënig openlik gesmaad.

In Indië kyk die regering neer op die Christene en hulle God.

In Indië is die Hindoeïsme die dominante godsdiens – 80 % van die bevolking is Hindu.

Die regering besef hulle moet die Hindoes tevrede stel, as hulle aan bewind wil bly.

Daarom kom die regering nie die klein minderheid Christene te hulp, as hulle aangeval en hulle huise en kerke geplunder word nie.

Daar was ‘n spesifieke versoek dat ons in hierdie tyd voorbede doen vir ons medegelowiges in Manipur, in die ooste van Indië.

Hulle het ‘n swaar jaar agter die rug.

Kerke is verwoes, huise afgebrand.

Hulle het hulleself afgevra of hulle wel in vrede kan Kersfees vier hierdie jaar.

Ons bid dat hulle ook, soos Juda in ons teks, die boodskap mag ontvang, die goeie tyding van vrede.

Sodat hulle ongehinderd weer hulle feesdae kan vier, net soos ons.

 

Destyds was dit in Juda inderdaad ook die probleem.

Die Assiriese oorheersing het die vier van die feesdae, soos deur die HERE in die Torah beveel, moeilik gemaak.

Vir ‘n lang tyd is die feeste nie gevier nie, totdat Koning Josia dit weer ingestel het, nadat die vervalle tempel weer opgekanp is.

Nahum profeteer: Die snoodaard – ou vertaling – oftewel die booswigte – 2020-Vertaling – sal nie meer deur jou trek nie.

Hulle mag is gebreek.

Vier jou feesdae, o Juda, betaal jou geloftes!

Dit bid ons ook ons medechristene toe, orals ter wêreld waar hulle nie ongehinderd net soos ons Kersfees kan vier nie.

Ons dink aan die Midde-Ooste, Noord-Afrika, Indië, Noord-Korea, en daar sal nog ander plekke wees waarvan ons nie weet nie.

Maar die HERE weet!

Hy sal die wat by Hom skuil nie in die steek laat nie!

 

Gemeente, daarom is Nahum se profesie nog net so relevant vandag.

Ook die grootste onderdrukkers gaan, net soos Assiriërs, les opsê.

Hulle dag sal kom.

God sal hulle oordeel.

En God se maatstaf, ook vir die heidense ryke, is gewoon sy wet.

Sy wet wat Hy aan Moses gegee het.

Dit was nie net bedoel vir Israel nie.

Dit was gegee aan Israel om dit uit te dra in die wêreld.

God se universele wet, op grond waarvan Hy ook die volkere sal oordeel.

Sy oordeel is swaar – God is ‘n wreker soos Nahum aan die begin sê – maar terselfdertyd is sy oordeel ‘n blye tyding.

Die val van Ninevé was ‘n blye tyding wat Jerusalem bereik het!

 

En soos ek aan die begin genoem het, die Nuwe Testamentiese woord evangelie gaan terug op ‘n Ou Testamentiese teks soos hierdie een – Nahum 1:15.

Ja die HERE het Nahum oor meer laat profeteer as net oor Ninevé.

Op die verre horison het die lieflike voete aangekom van Hom vir wie alle nasies en maghebbers op aarde ‘n voetbank vir sy voete sal word!

 

Aan die begin van die Nuwe Testament ontmoet ons ‘n paar boodskappers wat die blye tyding oor die Messias se koms gebring het.

Dink aan Gabriël, wat aan Sagaria, aan Maria en Josef verskyn het.

Die engele in die velde van Betlehem, wat aan die herders verskyn het.

Johannes die Doper, die voorloper van die Messias.

So ‘n bringer van die blye tyding is ook wel ‘n herout genoem.

En dit is presies wat Johannes was.

 

Hulle almal het die blye tyding gebring, die evangelie, soos destyds in die Ou Testament die heroute, die boodskappers uit ‘n ver land.

En later gebruik Jesus self hierdie woord – evangelie! – by sy eerste optredes in die sinagoges:

Die Here het My gesalf om die evangelie te bring (Luk 4:18)!

Hierdie woord – evangelie – het dié benaming by uitstek vir die Nuwe Testament geword.

Paulus preek in Anthiochië en sê: “ons bring jule die goeie tyding” – hoor u, weer die woord evangelie! – “die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek” (Hand 13:32).

En soos ek reeds in laasweek se preek genoem het, Jesus is èn self die Boodskapper wat dit goeie tyding bring, èn terselfdertyd gaan die goeie tyding ook oor Homself!

 

Gemeente, ons, in hierdie Advents- en Kerstyd, is ook boodskappers.

Paulus skryf oor die lieflike voete van hulle wat die evangelie van vrede verder dra ... (Rom 10:15)

Woorde wat ook uit ons teks in Nahum kom.

Paulus het hier gedink aan die apostels wat uitgestuur is, in opdrag van Jesus.

Gaan heen, wees my getuies in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde (Hand 1:8).

Ons dink ook aan die lieflike voete van sendelinge, wat na die tyd van die apostels voortgegaan het om die evangelie nog verder te dra.

Maar dit gaan ook oor jou en my.

Lieflike voete wat die evangelie dra.

Waar jy ook gaan in die lewe.

In hierdie Advents- en Kerstyd is daar dikwels meer geleenthede wat die Here gee.

Mense verlang na vrede juis in hierdie tyd.

Mense dink na oor die sin van die lewe juis in hierdie tyd.

Mense praat oor Kersfees.

‘n Geleentheid om die gesprek na ‘n dieper vlak te vat.

Te verduidelik dat Kersfees oor Christus gaan.

Dat die betekenis van Kersfees is: Christusfees.

 

Ook vandag smag die wêreld na vrede.

Wat ‘n blye tyding was dit aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog dat die oorlog verby was.

Die bejaardes onder ons wat dit nog meegemaak het, kan presies vir jou vertel waar hulle was toe hulle daardie berig gehoor het.

Wat ‘n blye tyding was dit toe die berig gekom het dat die ystergorden geval het in 1989.

Ek onthou dit nog helder.

Mens se eerste reaksie was dat dit nie waar kon wees nie.

Maar soos die televisiebeelde deurgekom het van mense wat in Berlyn die muur afbreek, het dit begin insink dat dit die waarheid was.

En vandag, wat ‘n blye tyding sal dit wees as die oorlog in Ukraïene verby is.

Of dat vrede gesluit is in Israel en Gasa.

Maar die realiteit van vandag is dat enige oomblik nog ‘n nuwe oorlog weer kan uitbreek.

Wie kon voorspel het, twee jaar gelede, toe Covid soort van verby was, dat daar binnekort twee dodelike oorloë op aarde sou uitbreek?

En wie weet wat ons nog die komende jare te wagte sal staan?

 

Maar al hierdie oorloë is tekens van die tye.

Dit herinner ons, dit prent oor en oor by ons in dat ons nie op die mens moet vertrou nie.

Dat wêreldmagte tydelik is.

Destyds kon niemand vermoed dat die magtige stad Ninevé ooit verower sou word nie.

Tog het dit gebeur.

Dit is verwoes, geplunder, platgebrand.

Op die plek waar dit gestaan het – dit is heeltemal in die noorde van die hedendaagse Irak – is daar nooit weer ‘n nuwe stad opgebou nie, tot vandag toe.

Kan jy jouself indink dat soiets met New York, of met Moskou, of London of Bejing sal gebeur?

Dat waar hierdie groot stede vandag staan, dat daar in die toekoms net veld en hope rommel sal wees?

Moenie ‘n fout maak nie – sulke dinge het in die verlede oor en oor gebeur – dink aan Jerigo, dink aan Babilon.

Dit kan en sal weer gebeur.

Dit is die blye tyding.

 

Het u geweet, gemeente, dat Nahum 1 eintlik ‘n lied is?

Mens kan dit in die 2020-Vertaling sien aan die bladuitleg.

Dis ‘n tipies Joodse gedig, ‘n sogenaamde akrostiese gedig, waar elke sin met ‘n nuwe letter van die alfabet begin.

Hierdie tipe gedig kry mens ook in die Psalms, soos Psalm 119.

Eintlik is Nahum 1 ook ‘n Kerslied, ‘n Adventslied!

Dit eindig met die blye boodskap:

Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring!

Dit was die atleet wat die goeie tyding kom bring het dat Ninevé geval het!

Maar meer as dit: Dit profeteer ook oor die blye tyding waarop ons nog wag met groot verlange:

Dat die groot hoer van Openbaring 17 gaan val.

Die dag as die HERE sy regverdige en ewige straf sal bring oor die hele wêreld.

Dat alle aardse opstand beeïndig sal word, as Christus met heerlikheid op die wolke verskyn.

 

En solank daardie dag nog nie aanbreek nie, mag ons by die HERE skuil.

Nahum beskryf God aan die een kant as ‘n wreker – sien vers 2 – drie keer word gesê: ‘n wreker is die HERE; maar aan die ander kant bied Hy troos vir die wat na Hom toevlug.

Vers 7: “Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.”

Die HERE sal uitkoms gee vir sy kinders!

Laat ons ons vertroue op Hom bly stel!

Hy sal veiligheid bied, tot daardie dag aanbreek waarop weer oor die berge die voete sal aankom van hom wat die blye tyding bring.

 

Gemeente, in die Ou Testament was daar basies twee ballingskappe.

Assirië, met as hoofstad Ninevé, het vir Israel, die noordelike ryk, in ballingskap gevoer.

En Babel het vir Juda, die suidelike ryk, in ballingskap gevoer.

Maar selfs nog voor hierdie gebeurtenisse het die HERE vir die wat by Hom skuil al troos gegee.

Jesaja – so het ons laasweek gesien – het geprofeteer dat die dag sal kom dat Juda die goeie tyding sal ontvang dat hulle mag terugkeer uit die ballingskap!

En Nahum het geprofeteer dat die dag sal kom dat die boodskapper in Jerusalem sal aankom met die blye tyding dat Ninevé geval het.

Die HERE se belofte in Nahum is bestem vir sy hele volk, vir die noorde en die suide.

In ons teks word Juda genoem, maar in hoofstuk 2:2 spesifiek ook dat die HERE die heerlikheid van Israel sal herstel.

 

Die HERE het toegelaat dat Assirië en Babilonië vir sy volk straf.

Daar was alle rede daarvoor.

Ook vandag is Christus se kerk dikwels afvallig.

Die mens sal nie vrede op aarde bring nie.

Selfs die kerk sal nie vrede op aarde bring nie.

Die voete op die berge van hom wat die boodskap van vrede bring, dit kan net Christus wees.

Dit laat ons in verlange vooruit kyk.

Nie net na die berge aan die horison nie, maar op na die hemel, vanwaar Christus belowe het dat Hy sal terugkom.

Hoe lieflik as Hy sal terugkom!

Dan sal ons aan sy voete neerval, Hom aanbid.

Dan sal die basuine klink!

Die eerste woord van ons teks is die woord: “Kyk!”

Dit is soos ‘n basuin wat blaas, wat die aandag vra:

Kyk daar, kyk wie daar aankom oor die berge!

Hy kom om die tyd van vrede, die jubeljaar van die Here, aan te kondig.

 

Gemeente, vier jou feesdae!

Daar is alle rede om dit te doen.

Deel die blye tyding met die wêreld.

Dis al hoop vir die wêreld.

Christus, Hy wat die Boodskapper van die blye tyding is.

Sy belofte is betroubaar.

Sy lieflike voete sal weerkom!

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Nahum 1-2:2

Teks: Nahum 1:15

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Waar kom die woord evangelie vandaan?
  2. Waar was Nahum waarskynlik toe hy van die Here die profesie ontvang het?
  3. Watter blye tyding bereik Jerusalem in ons teks?
  4. As daar in Nahum 1:15 staan “Vier jou feesdae”, aan watter feeste kan mens dink?
  5. Dank die Here vir die blye tyding wat op Kersfees herdenk word.

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 122:1

Wet

Ps 81:1,11,12

Gebed

Skriflesing: Skriflesing: Nahum 1-2:2

Ps 118:10,12,14

Teks: Nahum 1:15

Preek

Ps 116:7-10

Gebed

Kollekte

Ps 40:5,8

Seën