Die lieflike voete wat die blye tyding bring

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2023-12-17
Teks: 
Jesaja 52:7 & Lukas 4:21
Preek Inhoud: 

Preek: Jesaja 52:7 & Lukas 4:21

 

Ons is nou in die sogenaamde Adventstyd.

Advent gaan vooraf aan Kersfees.

Daarmee word bedoel dat die tyd al nader kom dat die Evangelie – die Goeie Nuus – geopenbaar sal word.

Die Goeie Nuus dat God se Seun, die Here Jesus, gebore gaan word.

Dit was inderdaad goeie nuus, ‘n blye tyding.

Die engel Gabriël noem dit spesifiek so – ‘n blye tyding (Luk 1:19).

Dit was toe hy aan Sagaria in die tempel verskyn het om te vertel dat hy en sy vrou Elisabet, al was hulle bejaard, nog ‘n seun sou kry.

‘n Seun met ‘n spesiale taak op aarde – om voorloper te wees van die Messias.

Dit was inderdaad ‘n blye tyding.

En dan kondig die engel wat aan die herders in die velde van Betlehem verskyn, dieselfde aan.

Ook hy gebruik die woord: ‘n goeie tyding:

“moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here is.” (Luk 2:10-11).

Die blye tyding, die goeie boodskap, hierdie einste woorde het toe die benaming vir die Nuwe Testament geword.

Ons noem die Nuwe Testament die Evangelie.

Evangelie is afgelei van die Griekse woord euangelion, wat presies dit beteken: blye tyding, goeie nuus.

En daarom is Adventstyd en Kerstyd – die jaarlikse periode waartydens ons Christus se geboorte herdenk, hoe dit aangekondig is en hoe dit toe gebeur het – dit is ‘n tyd van vreugde en blydskap, ‘n tyd waarin ons fokus op hierdie blye tyding.

So beleef ons dit elke jaar weer.

Dis ‘n tyd om na uit te sien.

Dis ‘n mooi tyd, ‘n vreugdevolle tyd.

Want dit gaan oor ‘n goeie tyding wat ons lewens verander het.

 

Dit is met reg dat hierdie blye tyding, die aankondiging van die koms van die Messias, hierdie naam gekry het: evangelie, goeie nuus.

Dit is inderdaad die beste nuus wat die wêreld ooit ontvang het.

Daarom gebruik ons tot vandag die woord Evangelie.

Die tyding van Christus se koms na die aarde het die definisie geword van dit wat goed is, die beste tyding wat ooit ontvang is.

Ek mag u vandag die Evangelie, die blye tyding, verkondig met die volgende tema:

 

Tema: Die lieflike voete wat die blye tyding bring

 

Waarna ons in hierdie preek gaan kyk, is dat die benaming evangelie, blye tyding, diep wortels het.

Dis nie die engel Gabriël en die engelekoor in die velde van Betlehem wat dit die eerste keer gebruik het nie.

Ons vind hierdie benaming alreeds in die Ou Testament.

Toe Gabriël praat oor ‘n goeie tyding, het daar ‘n klokkie begin lui by Sagaria.

Praat die Ou Testament nie ook al oor  die woord evangelie, oftewel ‘n blye tyding nie?

Inderdaad, die profete het hierdie woord ook al gebruik.

En Sagaria, wat die Ou Testament geken het, het dit onthou.

Hy sing daaroor: “Geloofd sy die Here ... omdat Hy verlossing teweeggebring het, ... soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af”.

By die sing van hierdie lied het Sagaria onder andere gedink aan Jesaja.

Jesaja.

Geen profeet het meer vertel oor die koms van die Messias as hy nie.

En Jesaja het, honderde jare voor Jesus se geboorte, het al gepraat oor die evangelie.

Nou soos ek genoem het, evangelie is ‘n Griekse woord.

Maar daar was ‘n Hebreeuse uitdrukking wat presies dieselfde beteken het: basar tov – dit beteken: om goeie nuus te bring.

En dan het ons in die verse in Jesaja gelees dat dieselfde woord omgevorm is om te beteken: die boodskapper van goeie nuus, die bringer van ‘n goeie tyding.

 

Gemeente, hierdie persoon was in die outyd ‘n baie belangrike persoon.

Daar was toe nog nie telefone nie.

‘n Tyding, hetsy ‘n blye - of ‘n onheilstyding, moes van een stad na ‘n ander, of van een land na ‘n ander, met ‘n hardloper oorgebring word.

Dit was die maraton atlete, die langafstand atlete van daardie tyd.

Tussen hakies, die woord maraton is ook daarvan afkomstig.

Dit was toe ‘n soldaat, Pheidippides, so vinnig moontlik die nuus na Athene moes bring dat die Grieke vir die Perse oorwin het by die stad Marathon.

Die afstand wat hy moes aflê van Marathon na Athene as ongeveer 40 km, wat vandag nog steeds die lengte van ‘n maraton is.

Die regering in Athene het oorweeg om oor te gee, omdat die Persiese leër soveel groter was as hulle s’n.

Die boodskapper, Pheidippides, moes so vinnig moontlik in Athene uitkom om hulle van die onverwagte oorwinning oor die Perse te vertel.

 

As daar in die oudheid dus nuus was wat vinnig oorgebring moes word, het geoefende atlete gehardloop, dikwels ure lank, om die berig, die brief wat hulle by hulle gedra het, na sy bestemming te bring.

So ‘n brief is verseël met die seëlring van hom wat dit opgestel het, om die woorde van die boodskapper te bevestig, dat dit die waarheid was.

En ons kan ons voorstel hoe welkom so ‘n boodskapper van goeie nuus was.

Dikwels het die wagte op die stadsmure hom al van ver af sien aankom.

Dikwels kon hulle al aflei, net aan die manier hoe hy gehardloop het, of dit goeie of slegte nuus was.

Goeie nuus gee nuwe krag, dit maak dat jy ‘n draf in jou stap kry, soos die uitdrukking sê.

Salomo skryf in die Spreukeboek: “Koel water in ‘n dorstige keel, so is goeie nuus uit ‘n ver land.” (Spr 25:25 2020-Vertaling)

In die warm somermaande weet ons inderdaad hoe ‘n koel glas water jou laat opknap.

Goeie nuus uit ‘n ver land – wat ‘n blye tyding!

Dit maak almal bly.

Dit maak selfs van die boodskapper daarvan ‘n geliefde man.

Jesaja skryf: “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring” (Jes 52:7).

Soos daardie rats atletiese voete aangehardloop kom oor die berge, ‘n lieflike iets om te sien, juis in die afwagting van watter boodskap hy kom bring.

 

En inderdaad, uiteindelik het dit nie oor die boodskapper gegaan nie, maar oor sy boodskap.

By die profeet Jesaja was dit ‘n blye boodskap vir God se volk, ‘n boodskap van vrede, die goeie tyding van verlossing.

Dit het gegaan oor die nuus dat die ballingskap tot ‘n einde gekom het.

Dat daar ‘n nuwe toekoms vir God se volk gewink het.

Dat hulle mog terugkeer na die beloofde land.

Wat ‘n heerlike vooruitsig!

En die besef wat oorheers het, is dat dit nie toevallig was nie.

Nee, die HERE het self daarvoor gesorg.

Hy het self, soos hoofstuk 41:27 sê, aan Jerusalem ‘n verkondiger van goeie boodskap gegee.

Dit was ‘n wonder van die HERE.

Hy het die blydskap geskep.

Hy het die rede vir vreugde gegee.

 

Gemeente, die profesie van Jesaja word globaal in twee dele verdeel.

Die eerste 40 hoofstukke handel oor die tyd voor die ballingskap, voor die verwoesting van Jerusalem.

Dit is die donker wolke aan die horison, wat vinnig besig was om saam te pak.

Maar in hoofstuk 40 klaar die lug op.

Dan breek die lig deur, as ‘n boodskapper die blye tyding bring:

Die ballingskap het tot ‘n einde gekom!

Daar gaan ‘n terugkeer wees!

Die HERE self gaan ‘n pad deur die woestyn aanlê, sodat sy volk uit Babel kan terugkeer (Jes 40:3-4).

Wat ‘n blye tyding!

 

So gemeente, dit is hier in die Bybel waar ons die eerste keer die benaming evangelie vind, met spesifieke verwysing na die boodskapper van die blye tyding.

En toe, eeue later, die engel Gabriël aan Sagaria verskyn, het hierdie woorde uit Jesaja in Sagaria se gedagtes opgekom.

Hy het daaroor gesing: Die Here het sy volk besoek met ‘n blye tyding, ‘n tyding van verlossing (Luk 2:68).

So is die profesie van Jesaja vervul.

Nie net deur die terugkeer uit die ballingskap nie.

Maar, besef Sagaria nou, Jesaja het veral geprofeteer oor dit wat nou aanstaande was op te gebeur.

Jesaja het self nie die volle omvang van sy profesie besef nie, maar die Here het deur Hom gespreek oor nog groter dinge.

Mense het die boodskapper van hierdie groter tyding nog nie sien aakom nie, Hy was nog agter die horison van die hoë berge.

Maar God, wat hom gestuur het, het hom sien hardloop, sy lieflike voete, rats en atleties oor klippe en klowe.

 

En hierdie boodskapper van die blye tyding wat Jesaja se profesie vervul het, wie was dit eintlik?

Gemeente, dit was nie net die engel Gabriël wat aan Sagaria en aan Josef en aan Maria verskyn het nie.

Dit was nie net die engelekoor wat aan die herders in die velde van Betlehem verskyn het nie.

Dit was nie net Johannes die Doper, wat die voorloper was nie.

Hierdie lieflike voete, hierdie boodskapper van blye tyding, dit was die Messias self!

Hy was in aankoms!

En dit het Sagaria besef, so blyk dit uit sy lofsang.

 

Ja gemeente, daardie pragtige verse uit Jesaja is in ons Here Jesus vervul.

Dink aan Jesaja 41:27: “aan Jerusalem gee Ek ‘n verkondiger van goeie boodskap.”

Destyds, in die Ou Testamentiese tyd, was dit die blye tyding dat Koning Kores in Babel die politieke beleid verander het, waardeur dit vir die volk moontlik geword het om terug te keer na hulle eie land.

Maar Jesaja profeteer oor meer as net dit.

Hierdie profesie verwys na die menswording van God se Seun.

Dat die Vader sy eie geliefde Seun gestuur het as die verkondiger van die blye tyding.

Toe Jesus met sy ampswerk op aarde begin het, het Hy goed besef Hy was daardie gestuurde deur die Vader.

In sy eerste preek, in Nasaret, noem Hy Homself daardie boodskapper van die blye tyding, die einste een waaroor Jesaja geprofeteer het.

Sy lieflike voete het oor die uitgestrekte berglandskap van die Ou Testament steeds nader gekom, en nou het Hy uiteindelik aangekom met die goeie nuus.

Jesus sê dan vir die mense in Nasaret se sinagoge, nadat die boekrol van die profeet Jesaja aan Hom oorhandig is:

“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring ...”

Hoor u daardie pragtige woord?

Ons lees so gou daaroor heen.

Maar dit was ‘n unieke woord.

Vir die eerste keer kom dit uit Jesus se eie mond: evangelie, blye tyding.

Dis wat Hy kom bring!

 

En dan gaan Jesus verder:

“Hy [sy Vader] het My gestuur”.

Hier hoor ons dat dit oor ‘n boodskapper gaan wat uitgestuur is om ‘n goeie tyding oor te dra.

Jesus sê: “Hy het My gestuur om die wat verbrysel van hart is, te genees, om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.”

Jesus lees hier voor uit die boekrol van Jesaja, hoofstuk 61, en dan sê Hy, nadat Hy die boekrol toegemaak en aan die dienaar teruggegee het:

“Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.” (Luk 2:21)

Wat ‘n uitspraak!

Wat ‘n heerlike berig, wat ‘n blye tyding!

Vervul!

Dus, Jesus is die Boodskapper wat Jesaja honderde jare terug aangekondig het.

Hy het aangekom!

Die aangename jaar, die jubeljaar, van die Here het nou aangebreek! (Luk 2:19)

 

Gemeente, ons Here Jesus Christus was eintlik die boodskapper en tegelyk ook die blye tyding self!

Hy was nie net die lieflike voete van ‘n anonieme atleet wat die verseëlde brief gedra het nie.

Daardie lieflike voete was die Messias self!

Dit was nie sommer net voete nie, dit was sy lieflike voete!

Daarom kon die volk later kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by die voete van Jesus neersit, en Hy het hulle gesond gemaak (Matt 15:30).

Daarom het Jaïrus aan sy voete neergeval en Hom gesmeek om sy dogtertjie gesond te maak (Mark 5:22).

Daarom het die Siro-Feniciese vrou voor sy voete neergeval en Hom gesmeek om die duiwel uit haar dogter uit te dryf (Mark 7:25-26).

Daarom het die melaatse Samaritaan nadat hy deur Jesus genees is, by sy voete neergeval en Hom gedank (Luk 17:16).

Daarom het ’n vrou uit die bloute met ’n albaste vles vol salf by Jesus aangekom, sy voete met haar hare afgedroog, sy voete gesoen en gesalf (Luk 7:37-38).

En so kan ek aangaan.

Lieflike voete, wat Hom dra wat nie net die goeie nuus bring nie, maar die blye tyding self is.

Die tyding dat die dood en die satan oorwin is.

Want daardie lieflike voete is toe aan die kruis vasgespyker.

Maar hulle het nie dood gebly nie.

Jesus het na sy opstanding die Emmaüsgangers op die feite gewys:

“Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self.” (Luk 24:39)

En toe het Hy aan hulle verduidelik hoekom dit moes gebeur het.

En Maria Magdalena en die ander Maria, het na sy opstanding sy voete gegryp en Hom aanbid! (Matt 28:9)

En nadat Jesus opgevaar het na die hemel, het Hy op die troon gaan sit, met sy voete op die voetbank van sy vyande, soos ons met Psalm 110 sing (Mark 12:36).

 

Geliefdes, vandag kniel ons nog steeds voor die voete van die Messias, ons Heiland, die Koning van die konings, almagtig in die hemel.

En ons kyk nie net terug nie, maar ook vooruit.

Ons kyk weer na die horison, nie net die verre berge op die horison nie, maar ons kyk op na die hemel, vanwaar daardie lieflike voete sal terugkom.

Dit het Hy self beloof.

En solank Hy nog nie verskyn nie, word jy en ek opgeroep om ook boodskappers van hierdie goeie tyding te wees.

Jesaja het Jerusalem destyds opgeroep om, noudat die boodskap by hulle uitgekom het, dit verder uit te dra:

“o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!” (Jes 40:9)

Vanuit Sion moes die blye tyding verder versprei.

 

Gemeente, julle is die Jerusalem van die Nuwe Testament!

‘n Stad op ‘n berg.

Moenie jou lig onder ‘n emmer sit nie.

Moenie bang wees nie.

Versprei die blye tyding!

Word self nou ‘n boodskapper.

Paulus praat oor die nuwe bedeling as hy skryf: “Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” (Rom 10:15)

Jy is ‘n christen, in diens van die Christus, “om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petr 2:9).

 

Hierdie tyd is by uitstek daarvoor geskik.

Sodra mense begin praat oor Kersfees, is daar die geleentheid om die inhoudelike kant ter sprake te bring.

Want Kersfees beteken Christusfees.

Ons vier die koms van die Boodskapper wat God na die wêreld gestuur het, sy geliefde Seun, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).

Wees ‘n boodskapper van die blye tyding.

Laat jou voete ook lieflike voete word, omdat hulle hierdie blye tyding verder dra.

 

“O die goeie tyding,

O die blye tyding –

Helder klink dit met Kersfeestyd:

Diep was ons verlore,

Christus is gebore,

Juig dan, almal, jubel oor die saligheid!

 

O die goeie tyding,

O die blye tyding

Kom met krag in die Kersfeestyd:

Hy, die Hemelkoning,

Maak by mense woning –

Hy, gebore in die volheid van die tyd!

 

O die goeie tyding

O die blye tyding –

oral hoor ons: dis Kersfeestyd.

Blye jubelkore

Loof die Kind, gebore.

Juig nou mensdom, prys Hom tot in ewigheid!” (Gesang 103)

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Jesaja 40:1-11; 41:27; 52:7-12; Lukas 1:19; 2:8-11; 4:14-21

Teks: Jesaja 52:7 & Lukas 4:21

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Waaraan het Sagaria gedink toe hy gesing het: “Geloofd sy die Here ... omdat Hy verlossing teweeggebring het, ... soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af”?
  2. Waar kom die woord maraton vandaan?
  3. Hoekom word in Jesaja 52:7 die voete van die boodskapper lieflik genoem?
  4. Noem ‘n paar voorbeelde uit die Nuwe Testament waar ons oor die Here Jesus se voete lees.
  5. Watter voordeel hou die Advents- en Kersfeestyd in?

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 110:1,2

Gebed

Skriflesing: Jesaja 40:1-11; 41:27; 52:7-12; Lukas 1:19; 2:8-11; 4:14-21

Ps 99:1,2,3

Teks: Jesaja 52:7 & Lukas 4:21

Preek

Sb 22:1,2,3,5,9,10,11 (woorde uit Jes 40)

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 2:1,2,4,5

Seën