Bid dat die evangelie sal versprei soos ’n veldbrand.

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2023-02-26
Teks: 
2 Thessalonicense 3:1
Verwysing: 
2303
Preek Inhoud: 

Daar is soveel in verse 1-5 dat ek drie preke hieroor gehou het (beskikbaar op die youtube kanaal van VGK Joburg). Hierdie preek is die eerste een, en gaan net oor vers 1.

VERDER, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle;
en dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof is nie die deel van almal nie. 
Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose. 
En ons vertrou aangaande julle in die Here dat julle doen en ook sal doen wat ons julle beveel. 
Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die (lydsaamheid) volharding van Christus!

Doel
- om ons te motiveer om te bid dat die evangelie in ons stad vinnig versprei en dat ons verlange sal groei om saam daarin aktief te wees;
- om ons oë oop te maak vir Gods werk in ons lewens en ons gemeente, sodat ons God daarvoor sal prys.

Inleiding

Het jy al bosbrande gesien?
Ek hoop nie van naby nie, maar op TV. In Kalifornië of Australië gebeur dit gereëld. Die gras, bome en blare is kurkdroog, en die vuur word baie warm en versprei blitsvinnig.
In ons land is minder bosbrande, maar baie veldbrande. Onder die regte (of eintlik verkeerde…) omstandighede kan ’n veldbrand baie vinnig versprei.
So kan nuus versprei soos ’n veldbrand. Of leuens: 
A lie travels halfway around the world before the truth puts on its shoes. (Mark Twain)
= Leuens versprei baie vinnig, voordat die waarheid bekend word.

Dieselfde beeldende taal gebruik Paulus vir die evangelie: bid, sê hy, dat dit vinnig sal hardloop oor die aarde! Dat dit versprei soos ’n veldbrand.

Ek dink hier in Pretoria word by die verspreiding van die evangelie nie juis aan ’n veldbrand gedink nie. Ons is gewoond aan sendelinge wat 20, 30, 40 jaar op een plek 
werk. Sending word die laaste 6 jaar meer as ’n probleem gesien, ’n finansiële las.
Ook kan ons dink dat spoed juis nie goed is nie: lewer dit dalk nie swak gemeentes op omdat daar nie diepte is nie?
En tot nou toe het ons nog maar net van sending gepraat. 

Wat is jullie verwagtings van die verspreiding van die evangelie hier, in die Moot? Verwag jy die spoed van ’n veldbrand?
Teen al ons ondervinding en verwagtings in sê Paulus met Gods gesag: Bid!

Tema:

Bid dat die evangelie soos ’n veldbrand sal versprei.
1. Bid dat die evangelie vinnig sal versprei
2. Bid dat die evangelie aanvaar word.

1. Bid dat die evangelie vinnig sal versprei

VERDER (tenslotte), broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle;

Gebed aan die einde van die brief

Hierdie is die konklusie van die tweede brief aan gelowiges in Griekeland. Paulus sluit sy briewe dikwels af met die vraag dat die gemeente vir hom en sy span sal bid. Hy maak die evangelie orals bekend, in talle stede en plekke in die Romeinse ryk.
Die spoed waarmee hulle beweeg is beperk: hulle kan nie vinniger beweeg as ’n perd of ’n skip nie. Dit neem tyd om ’n volgende stad te bereik.
En as hulle daar is, is die groot vraag of mense die evangelie sal aanvaar
In baie plekke is dit verwerp! Meestal het die Jode die boodskap van Jesus verwerp omdat dit aanstootgewend vir hulle was dat God hulle sou red deur self aan ’n kruis te hang, verneder en verag.

Maar hoe kan die evangelie, die blye boodskap, vinnig versprei as daar teenstand en verwerping is?
Paulus en sy span is in Filippi (selfde land) beskuldig en in die tronk gegooi. In meerdere plekke het die Jode hom uit die stad gejaag. As dit nie die Jode was nie, dan wel die Romeine, wat die nuwe religie as ’n gevaar vir die staatsreligie beskou het.
Orals was daar teenstand, en partykeer selfs moordplanne.
Daarom praat Paulus realisties van slegte mense (vers 2), mense buite die kerk, wat die evangelie verwerp, of selfs aktief teenwerk. En selfs binne die kerk: dwaalleraars, wolwe in skaapsklere, dws leiers wat mense en mag misbruik en die gemeente verwoes.

Daar is dus genoeg dinge wat die verspreiding van die evangelie kan vertraag of selfs tot stilstand kan bring.
Van buite word daar druk op die kerk en op christene geplaas om stil te bly.
As daar geen verdrukking is nie, kan ’n kerk nog steeds sy entoesiasme verloor om die evangelie bekend te maak, en na binne gerig raak. Die geestelike groei kan tot stilstand 
kom, of hulle verloor die suiwere evangelie.

Hoe voorkom ons dit? Wat kan ons doen om die evangelie in ons stad te laat klink?

Paulus ken die teenstand en verdrukking van naby.
Hy roep ons op: bid!

Besef van afhanklikheid

Bedink net wat hierdie gebedsversoek vir ons vertel oor hoe Paulus sy werk benader.
Dit wys dat Paulus en sy span weet dat hulle volledig van God afhanklik is. Hy besef dat die aanvalle van die duiwel ‘n werklikheid is en dat hyself nie immuun is teen die aanvalle van die duiwel nie. Ook die mees suksesvolle apostel kan nie op autopilot, op eie stoom aangaan nie.
Daarom sê hy vir die gemeentes: bid vir ons. 

En onthou: Paulus vra dat ’n jong gemeente met gelowiges wat uit die heidene afkomstig is, vir hom bid. Hy het hulle hulp nodig!
Wat ’n voorreg is dit nie vir die Griekse gelowiges, dat hulle vir Paulus kon bid!

Dink net, jongmense, dat jou pa of ma vra dat jy vir hulle bid.
Of die persoon wat jou katkisasie gee, of iemand wat jou geestelike mentor is, vra dat jy vir hom bid – dan plaas hom op gelyke vlak met jou.
Paulus neem die jong gelowiges ernstig en begeer dat hulle by sy werk betrokke is deur hul gebede. En hy spreek daarmee ook uit dat hy nes hulle ‘n sondaar is wat elke dag die hulp van God nodig het.

Is dit ook die houding wat die sendinggemeentes by ons, hier in die stad, optel?
Het julle al vir jong gemeentes in Soshanguve gevra: bid vir ons gemeente, want ons is swak en afhanklik, ons het nie die antwoorde nie, ons is kleingelowig, ons moet leer om op God te vertrou?

Onthou die wederkerigheid in die gebed. Dit is nie ’n eenrigtingstraat nie.
Die wat bid en die wat gebed nodig het en vra, staan saam in afhanklikheid voor Gods troon.

Dis pragtig! Ons sien hier hoe mooi dit is om Christus te dien: om die evangelie te mag verkondig is eervol, en om dit te kan ondersteun met jou gebede, is ook eervol: diens aan die koning van die konings!

Die noodsaak van gebed vir die verspreiding van die evangelie

Bid vir ons, sê die apostel.
Die apostels was uniek en is nie meer hier nie.
Vir wie moet ons tans bid?
Hoe voer ons dit uit? Watter gebede verwag God van ons?
In die eerste plek kan jy dink aan die mense wat aan die fronte veg: sendelinge en evangeliste.
Hulle het virseker ons gebede baie nodig!

Die stryd vir die siele van mense is moeisaam, dis ’n groot verantwoordelikheid wat hulle dikwels alleen dra, en die aanvalle van die duiwel is gemeen. Die stryd is taai en dit vat baie geloof, geduld, en volharding. Dit is ’n eensame werk, en min mense verstaan dit.
Gebed is die mees belangrike wat ons kan doen vir sendelinge, in ons eie land en ver weg. Hou aan bid!

Paulus, die bekende sendeling, vra heeltyd dat die gemeentes vir hom en sy span bid.
In vers 2 en 3 van hierdie hoofstuk noem hy ook die rede: daar is slegte en verkeerde mense wat die evangelie verwerp en teenstaan, en dit is die resultaat van die groot teenstander: die bose.
Dit is dus ’n geestelike stryd! Hy veg nie teen vlees en bloed nie (mense), maar hy besef hy veg teen die duiwel self.

Ek het dit self alhoe meer ervaar tydens my laaste jare in die sending. belangrikste is, maar dit is ’n geestelike werk, en ’n geestelike vyand moet oorwin word; daarom moet vergaderings, besinning en beleidsplanne na die agtergrond geskuif word, en moet ons gebed die belangrikste aktiwiteit van sending maak. En dit is ook die belangrikste ondersteuning wat julle vir sending en evangelisasie kan gee.

Dit word heel duidelik in die hoofstuk oor die geestelike stryd en die wapenrusting: 
Efésiërs 6:10-20. (lees dit saam)

Let op hoe vers 18 begin:
terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis 
daartoe waak
met alle volharding en smeking vir al die heiliges (en ook vir my...)

Het jy dit al ’n slag raakgesien? Dit is iets wat ek vir jare nie raakgesien het nie. Gebed is deel van ons geestelike oorlogvoering! Dit behoort by alles te gebeur: by elke geleentheid! Ons maak studie oor wat elke onderdeel van die wapenrusting beteken, ons bespreek dit en lees dalk meer daaroor, sodat ons die wapenrusting goed sal gebruik. Maar hoe dikwels hoor jy dat jy voortdurend moet bid terwyl jy die wapens gebruik?

Bid ook vir julself

En daar is nog iets: terwyl julle bid vir die sendelinge, vir die ongelowiges wat tot bekering moet kom, en vir sendinggemeentes wat ontstaan, onthou om ook vir julself te bid. Dit is nodig om te groei in belangstelling vir sending en evangelisasie, om die sendelinge se werk te verstaan en mee te leef met hulle en die gemeentes. Daar heers by baie blanke mense ’n negatiewe houding teenoor ons land, die swart regering, en swartmense in die algemeen. Is dit ook op jou van toepassing? 
Dis eenvoudig om geld te stuur en te dink ‘ons het ons sendingroeping vervul as ons evangelis John ondersteun en die prison ministry met geld ondersteun. Maar om jou aandag en tyd daaraan toe te wy en belangstelling te wys en vir hulle te bid – dis ’n heel ander storie. Daarvoor is gebed nodig!

Om sending regtig te kan ondersteun en belangstelling te wys, moet ons vooroordele en lae verwagtings weggeneem word. Daarom moet ons ook vir onsself bid,
- dat God ons harte sal vervul met liefde, 
- dat hy ons leer om meer van die evangelie te verwag, 
- en dat hy volharding vir ons sal gee, sodat ons nie tou opgooi wanneer ons nie gou genoeg resultate sien nie.

Bid dus!

Tweede sirkel: die gemeente van Christus

So het ons onmerkbaar in die tweede sirkel van gebed inbeweeg.
Die eerste sirkel is die evangeliepredikers, die stryd aan die front.
Maar is dit voldoende as ons vir hulle bid?

Daar is ’n tweede sirkel vir ons gebede.
Die apostels is nie meer hier nie. Wie sit die missie van die apostels voort: sendelinge? 
Nee, ons moet die missie van die kerk beter verstaan.

Die apostels het hulle missie van Jesus ontvang: om die koninkryk van God bekend te maak, om Christus te verkondig as redder en koning. Jesus het hulle uitgestuur om sy missie wat hy van sy Vader ontvang het, voort te sit.

Toe die apostels gesterf het, was daar is geen opvolgers nie. Hulle was uniek. Maar voordat hulle gesterf het, het hulle orals ouderlinge aangestel om die nuwe gemeentes te lei. Onder leiding van die ouderlinge sit die gemeentes van Christus orals die missie voort.

Die gebed vir die werk van die apostels moet dus verander in gebed vir ons taak as gemeente om die evangelie te versprei, naby en ver weg.
(as ’n gemeente ’n sendelinge uitstuur, het hulle dus nog nie hulle volledige missie uitgevoer nie).

Laat ons dus bid vir ons missie, en biid dat die evangelie vinnig versprei in ons omgewing.

Bid vir die ouderlinge wat julle lei in hierdie taak!
(dit sluit die predikant in: ons is maar net ouderlinge met ’n ekstra verantwoordelikheid om te preek):
- dat die ouderlinge hul taak duidelik mag raaksien en die gemeente sal voorgaan in die missie om die evangelie te versprei.
- bid dat die evangelie nie net binne hierdie mure gehoor word nie, maar na buite toe sal gaan, om talle ander mense wat in die duisternis lewe, te bereik.
- Bid dat die ouderlinge hulle sal toewy aan hulle taak, en nie moeg sal word nie, maar met vurige liefde julle, die lidmate, sal toerus vir julle taak.
- Bid dat ook die diakens hul taak geestelik mag verstaan, en dat hulle fokus nie net op die lidmate is nie, maar dat hulle die mense buite die kerk sal liefhê en met die evangelie wil bereik. Bid dat hulle mag leer hoe die liefdebetoon uit hierdie selfde evangelie voortspruit, en die liefde van Christus sigbaar maak vir mense wat hom nie ken nie.

Dit is nie my stokperdjie nie. Dit is die bestaansrede van die kerk van Christus: om 
dissipels te maak, sodat God nog vereer word deur meer en meer mense. God maak die 
evangelie van Christus bekend deur sy gemeente, onder leiding van die ampsdraers.

Hoe bid ons hierdie gebed?

Bid jy vir die verspreiding van die evangelie?
Nie net ver weg nie, maar ook hier in jou omgewing?
Sien jy raak hoe jy deel is van die missie van Jesus om die nasies tot dissipels te maak, omdat jy deel is van sy liggaam?
Is dit julle begeerte: dat die evangelie in hierdie stad vinnig sal versprei en dat mense tot bekering kom?

Of het jy jou verwagtings aangepas by die werklikheid van die verbye jare, omdat dit al dekades so moeisaam gaan? 
Dink jy dat dit so moeilik is dat ons dit tog nie sal regkry nie? 
Of dat daar net ’n paar mense druppelsgewys by die kerk sal aansluit – meer moet ons nie verwag nie?

Bid vir jou stad, dat die mense die evangelie sal hoor!
Daar behoort ’n dringendheid in ons gebede te wees: ons leef in die laaste dae. Die laaste hoofstuk van die geskiedenis het aangebreek toe Jesus in die hemel gaan sit het aan die regterhand van die Vader. Die volgende groot heilsfeit sal die wederkoms wees, en dan sal Christus almal oordeel. Dit is dringend noodsaaklik dat die evangelie vinnig versprei.
Sondaars moet die evangelie hoor voordat Jesus terugkom en die deur toegemaak word.
Bid dat ons liefde vir sondaars sal ontwaak en toeneem.

Kom ons bid!

2. Bid dat die evangelie aanvaar word

Ons het nog nie alles gehoor nie, daar is soveel in vers 1.
Daarvoor is dit nie net nodig dat die woord vinnig versprei nie, maar ook dat dit aangeneem word.
Dis nie dadelik duidelik in vers 1 nie. Paulus sê: bid dat die Woord van die Heer…
verheerlik word net soos by julle;

Verheerlik word: dis nie ‘n woord wat ons gebruik nie.
Hoe verheerlik mens die evangelie, die Woord van God?

Deur dit aan te neem. Deur vrug te dra in ’n gehoorsame lewe.

Ons kan maar gaan kyk hoe die Woord gewerk het in die Griekse gemeente in Tessalonika.
In sy eerste brief het Paulus sy dankbaarheid oor Gods werk in hierdie gelowiges nie onder stoele of banke ingeprop nie.

Waarvoor is hy dankbaar? Wat het die woord in hierdie gemeente bewerk? Ek noem die dinge wat Paulus in sy dankgebed in 1 Tessalonicense 1 noem:

1) Hulle het die evangelie geglo!

(vergelyk die Jode wat die evangelie verwerp het en wat jaloers geword het toe die heidene die evangelie geglo het!)

2) Vervolgens het hulle uit geloof begin en lewe:

wanneer ons tot ons God en Vader bid, dan onthou ons altyd wat julle alles doen omdat julle in Christus glo. Ons onthou ook hoe hard julle werk omdat julle lief is vir Christus (1Tessalonicense 1,3a volgens die 2020 Vertaling.)

Die lewens van hierdie gelowiges wys dat die geloof nie maar net ’n klompie waarhede is wat jy neerskryf en sê dat jy daarmee saamstem nie!
Paulus onthou wat hulle alles doen omdat hulle in Christus glo en hoop op sy terugkoms.

3) Hulle het volhard onder vervolging

Julle het geleer om soos ons en die Here te lewe, want party mense het julle laat swaarkry toe julle die goeie boodskap begin glo het. Maar die Heilige Gees het aangehou om julle baie bly te maak.
… dat julle die afgode gelos het en begin doen het wat God wil hê. So het julle begin om die God wat lewe, die ware God, te dien. Julle wag ook dat God se Seun moet terugkom uit die hemel, God het die Seun weer laat lewe.
(1Tess1,6+9-10; 2020 Vert.)

Hulle het swaargekry juis omdat hulle gelowig geword het en ernstig was oor hulle wandel met God. Die keuses wat hierdie christene gemaak het, het hulle op ’n collision course geplaas het met hul vroeëre vriende, mense by die werk, en sommer die hele stad. 
Die lewe en die kultuur was so verweef met die afgodediens dat hulle onmoontlik onder die radar kon bly. Hulle gehoorsaamheid aan Christus het duidelik geword – en mense het hulle verwerp, teengestaan en dalk ook ekonomies uitgesluit.

Hierdie vervolging het nie hul geloof verswak en hulle laat besluit om terug te keer na die heidense godsdiens nie. Inteendeel. Paulus sê dat hul geloof só gegroei het onder die vervolgings, dat hy dit vir al die ander gemeentes vertel het.

’n Paar maande later, wanneer hy sy tweede brief stuur, het dit nie verminder nie, maar net toegeneem! Dit het ons in 2 Tessalonicense 1 gelees.

“Vriende, ons wil altyd vir God dankie sê oor julle, en ons moet dit doen, want julle 
glo meer en meer en julle almal is meer en meer lief vir mekaar.” (vers 3)

Hulle geloof het toegeneem en deurgewerk in alle dele van hul lewe. 
Dit het ook in die gemeente sigbaar geword: onderlinge liefde.

Terug na hoofstuk 3:1:
Bid dat die Woord van die Heer…
verheerlik word net soos by julle;

Al die dinge wat ek nounet genoem het, was dus die verheerliking van die Woord van die Heer.
Telkens wanneer ’n sondaar gelowig die Woord van die Heer aanvaar, word die Woord verheerlik.

Hoe? Well, die vrugte in die lewens van gelowiges wys dat die Woord van God die krag het om menseharte radikaal en blywend te verander. Die saad van die Woord wys sy krag in die vrugte wat die gelowiges voortbring.

Paulus noem dit ‘die woord van die Heer’ – hy dink dus spesifiek aan ons Heer Jesus. Sy  naam word verheerlik wanneer die evangelie aanvaar word.
Die nuwe lewe (heiliging, gehoorsaamheid) wat sigbaar word, is die lewe van Christus. Hy het uit die dood opgestaan, en hy leef. Hy deel sy lewe met ons.
Wanneer ons uit geloof leef en moedige, moeilike keuses maak, wanneer ons in die geloof volhard, is dit dus ’n getuienis dat die Jesus-verhaal nie maar ’n storie is nie, maar werklikheid.
Dit is dus ter verheerliking van Jesus as ons die evangelie gehoorsaam en ons lewens verander.

‘Net soos by julle’

Ek wil tenslotte aandag vra voor die vier woorde ‘net soos by julle’.
Sien jy dat jou verlange dat ander mense tot bekering sal kom, beinvloed word deur die mate waarin jy self die evangelie aanvaar het en die vrugte daarvan raaksien?
As daar dankbaarheid is vir die geloof, toewyding, liefde en volharding wat God in ons eie harte en in ons midde gee, dan is daar ook geesdrif om die evangelie met ander te deel, en dan gaan ons vurig bid dat hulle dit sal aanvaar en ook die evangelie en ons Heer sal verheerlik.

Laat ons daarom self trou wees met die Woord van ons Heer. Laat dit in jou hart woon. Lees dit, dink daaroor, sodat dit jou gedagtes rigting sal gee, dat jy kan groei in wysheid, en dit sal gehoorsaam in jou daaglikse lewe.
Bid daarvoor, dat God jou daardie verlange sal gee, en dat die Gees die vrugte van die Woord in jou sal laat groei.

Dan sal ons met vrymoedigheid saam bid dat die evangelie sal versprei soos ’n veldbrand, en gelowig aanvaar word.

Amen

Liturgie: 

Ps147,1.2; gebed; Lees 2Tess1 en 2Tess3; Ps147,6.7; preek 2Tess3,1
Ps18,1.16.20; sing geloofsbelydenis; gebed; Kollekte; Sb22,3.5.8.9