Die Heilige Gees skenk aan sondaars die geboorte van bo

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-11-12
Teks: 
Dordtse Leerreels 3-4, paragraaf 12-15
Preek Inhoud: 

In paragraaf 12 is daar nog twee onderwerpe aan die orde wat met die uitverkiesing te make het.

Dit is die wedergeboorte en bekering.

Die uitverkiesing maak nie wedergeboorte en bekering oorbodig nie.

Wedergeboorte volg ook nie meganies op die uitverkiesing, soos twee ratwiele aan mekaar gekoppel is en die een die ander een in beweging bring nie.

Daar is naamlik nog ‘n rat daartussen, om vir ‘n oomblik by hierdie beeld te bly.

Dit is die prediking.

Maar dit is nie net, sê hierdie paragraaf, die uiterlike prediking nie.

Die Heilige Gees gebruik die prediking om ‘n bonatuurlike proses aan die gang te sit.

En die Dordtse Leerreëls kom byvoeglike naamwoorde tekort om hierdie proses te beskryf, omdat dit so ‘n onverstaanbare wonder is.

Dis ‘n volkome bonauurlike, baie kragtige, tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge, onbeskryflike daad van God!

Ses byvoeglike naamwoorde.

En wat selfs nog indrukwekkender is as al hierdie byvoeglike naamwoorde, is dit waarmee die wedergeboorte vergelyk word.

Nie minder nie as die skepping, selfs nie minder nie as die opwekking van die dooies!

Mens maak nie sommer so ‘n vergelyking nie.

Dink aan die skepping.

Dink aan ‘n dooie mens wat weer lewendig word.

Dit moet ‘n onbeskryflike groot krag wees!

En dit is inderdaad wat die wedergeboorte is!

En om daaraan te dink dat dit iets is wat in jou en my plaasvind!

Ons besef by verre nie hoe ‘n groot daad God besig is om te verrig nie.

 

Tema: Die Heilige Gees skenk aan sondaars die geboorte van bo

- Hoe gebeur die wedergeboorte?

- Waar gebeur die wedergeboorte?

 

- Hoe gebeur die wedergeboorte?

Ons is soos ‘n baba wat gebore word.

Ek dink nie ‘n baba het ‘n benul van die ongelooflike kragte wat sy ma moet inspan om te baar nie.

Die pyn, die bloed, sweet en trane.

Die baba word gebore, salig onbewus van al die inspanning wat iemand moes verrig om hom op die wêreld te bring.

So het ons nie ‘n benul van die titaniese stryd wat besig is om plaas te vind, die kragte wat die Heilige Gees inspan om ons wedergeboorte tot stand te bring nie.

 

Wedergeboorte ...

Gemeente, om presies te verstaan wat Jesus daarmee bedoel, moet ons terug na die Bybel.

Ons is soms geneig om by Bybelse begrippe eers te luister na wat ander mense daaroor sê, potgooie se mening, ander boeke daaroor skryf, of hoe die dogmatiek dit definieer.

En ja, daar is baie oor die wedergeboorte geskryf.

En dit is dikwels een van die eerste woorde wat ongelowiges hoor as hulle geëvangeliseer word:

Is jy wedergebore?

Maar aan die einde van die dag moet nie baie bevloë evangeliste, of bekende predikers met hulle potgooie, of die teologie met sy dogmatiek, bepaal wat wedergeboorte is nie.

Ons moet teruggaan na die Skrif – Sola Scriptura! – en weer rustig luister na wat Jesus self bedoel het.

 

Wat Jesus vir Nikodemus en vir ons leer in Johannes 3 is van wesenlike belang.

Hy sê: Voorwaar, voorwaar, in Grieks: Amen, amen!

Niemand kan so stellig wees oor sy eie woorde, en dit nog voordat hulle uitgespreek is, as slegs iemand wat self uit die hemel kom nie.

Voorwaar, voorwaar, sê Jesus, niemand kan die koninkryk van God ingaan as hy nie weer gebore word nie.

So lees ons in vers 3.

Tog staan daar in die oorspronklike teks iets anders.

Die 2020-vertaling het dit korrek vertaal.

Daar staan nie weer gebore nie, maar: van bo gebore word.

Nikodemus verstaan egter nog nie Jesus se bedoeling nie.

Hy dink aan ‘n tweede aardse geboorte:

“Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” (vers 4)

Dan maak Jesus Homself duideliker: Daar is ‘n geboorte uit water.

Maar daar is ook ‘n geboorte uit die Gees.

En dan in vers 7 staan daar weer: Julle moet van bo gebore word.

Gebore uit water, dit is ‘n uitdrukking vir die gewone geboorte van ‘n baba.

Dink aan die water wat breek, kort voor die geboorte.

Die uitdrukking gebore uit die Gees dui op die Heilige Gees.

Dit is die geboorte van bo af, uit die hemel.

Die Gees het uit die hemel neergedaal.

 

Jesus leer hier vir Nikodemus:

Niemand het reg op toegang in die koninkryk van God bloot op grond van sy eerste geboorte nie.

Hierdie op sig is alreeds ‘n verregaande teologiese stelling.

Want daarmee plaas Jesus die identiteit van die hele Joodse volk op los skroewe.

Die lid wees van ‘n volk op sig, of vandag, kerklid wees op sig, is nie ‘n waarborg vir die hemel nie.

Om die koninkryk van God te mag beërf, moet mens van bo af verwek word.

Jesus sluit hier aan by die prediking van Johannes die Doper.

Gebore Jode is nie outomaties burgers van God se koninkryk nie.

God kan desnoods uit klippe geloofskinders vir Abraham verwek.

Dis net God se Gees wat geloofskinders voortbring.

 

Nikodemus was egter nog nie heeltemal op dieselfde golflengte nie.

Hy vra: ‘n Mens wat al volwasse is kan mos nie vir die tweede keer in die moederskoot ingaan en weer gebore word nie?

Daarom herhaal Jesus, nou in ander woorde, sy verklaring oor die toegang tot God se koninkryk.

Iemand kan nie die koninkryk binnegaan nie, of hy moet gebore word uit water en Gees.

As Jesus dit hier noem – gebore word uit water en Gees – dan ignoreer Hy doelbewus die geboorte uit Abraham.

Want dit was nou juis waarop die Jode so trots was!

As dit gegaan het oor wie die koninkryk van God sal beërf, dan het die Jode hulle antwoord gereed gehad: natuurlik net hulle wat uit Abraham gebore is!

Nee, maak Jesus duidelik, nie outomaties hulle wat uit Abraham gebore is nie.

Maar: hulle wat uit water en Gees gebore is.

Dit is nie iets wat jy van geboorte – van jou eerste geboorte af – op sak kan hê nie.

Dit is iets wat jy van bo af moet ontvang.

Dit verkry jy nie met menslike kragte nie.

Dit moet jou gegee word.

 

Gemeente, dit is ‘n redelik algemene gewoonte dat tydens evangelisasie aan mense gevra word:

Is jy wedergebore?

Nou is hierdie vraag moontlik goed bedoel, maar om dit op daardie stadium te vra, mis die punt.

Dit skep die indruk mense moet op eie krag wedergebore word.

Maar ‘n geboorte is passief.

Jy word gebore – dit is passief.

Dit is nie iets waarvoor jy moeite doen nie, jou ma doen die moeite.

So is die geboorte van bo af ook nie ‘n prestasie van jou nie, maar die werk van die Gees.

Boonop, waar hierdie goedbedoelde vraag ook die punt mis, is dat daar van uitgegaan word dat hierdie wedergeboorte ‘n eenmalige gebeurtenis is, iets waarvan jy die dag en datum kan opskryf.

Asof die Heilige Gees net daardie een dag in jou lewe aktief was.

Want dit is die konsekwensie van sou ‘n sienswyse.

Ja die geboorteproses van ‘n baba duur ‘n paar ure, in die ergste geval ‘n dag en ‘n nag.

Maar in so ‘n geval sal die ma so uitgeput wees dat sy naby aan sterwe sal wees.

Die geboorte van bo af duur egter nie net ‘n dag in menslike terme nie.

God se tyd werk anders as ons tyd.

Die Heilige Gees is besig met daardie geboorteproses in ons lewe.

Ja, daar was ‘n dag – en vir een is dit duideliker aanwysbaar as vir die ander – waarop die geboortepyne van die nuwe lewe begin het.

Maar sedertdien werk die Heilige Gees die nuwe lewe, sodat dit steeds verder vorder.

Daardie geboorteproses sal voltooi wees as ons die volmaaktheid bereik.

En soos met jou eerste geboorte, dit is ‘n volledige geskenk.

Dit is ‘n wonder.

Soos elke nuwe baba ‘n skeppingswonder is, so is hierdie geboorte ook ‘n wonder, wat soos die Dordtse Leerreëls dit verwoord, vergelykbaar is met die skepping en met die opwekking van dooies.

 

So gemeente, as dit iemand verwar om tydens evangelisasie te vra – is jy wedergebore? – wat moet ons dan doen?

In die eerste plek: Hierdie vraag word nêrens in die Bybel aan iemand gevra nie.

In die Bybel is daar ‘n oproep:

Kom, die HERE roep jou!

Hy het groot planne met ‘n mensheid wat in sonde geval het en verlore is.

Die HERE wil ‘n nuwe lewe gee aan elkeen wat na sy roepstem luister.

Kom saam met ons na die plek waar Hy daardie nuwe lewe skenk.

Die plek van lewende water.

Daar is God besig om mense ‘n geboorte van bo af te skenk.

Daar werk die Heilige Gees, daar laat Hy laat mense opnuut gebore word.

Hy werk daar deur die verkondiging van die Woord van Christus.

Kom na daardie plek!

En gemeente, dit is natuurlik die kerk, daar waar sy Woord bedien word.

Kom, ervaar daar saam met ons hoe die Heilige Gees die nuwe geboorte skenk, ‘n wonder van bo af.

Jou lewe bly daar nie dieselfde nie, dit word vernuwe.

 

So kom ons by die tweede punt van die preek:

 

- Waar gebeur die wedergeboorte?

Gemeente, bekering is dat iemand na hierdie oproep luister en kom.

Kom na die plek waar die Gees die Evangelie laat verkondig.

Bekering is daarmee nie voltooi nie.

Dit was maar die eerste tree op die pad van bekering, dat iemand ‘n U-draai gemaak het en by die kerk aansluit.

Maar volledige bekering is dat ‘n pad wat van daaraf gestap sal word.

Elke dag weer, en elke dag steeds meer jou lewe draai na God toe, jou lewenskoers steeds akkurater afstel op die kompas van sy Woord.

Hierdie bekering is ‘n antwoord op, ‘n vrug van, die geboorte van bo af wat die Heilige Gees in jou lewe besig is om te laat gebeur.

 

Dus nogmaals, die geboorte uit die Gees is nie in een dag verby nie, een dag in menslike terme nie.

Wie die Gees ontvang, begin met ‘n proses van die geboorte van die nuwe mens in hom, en dit is ‘n proses wat die res van sy lewe sal duur, al is daar soms ‘n terugval, tye wat ons die Gees bedroef.

Dink aan Dawid in die Bybel, wat beslis ‘n gelowige was.

Tog het hy ook die Gees soms diep bedroef.

Dink aan toe hy diep in sonde geval het, waaroor hy byvoorbeeld in Psalm 51 skryf.

Dawid gebruik daar die woord “skep” – vers 12: “Skep vir my ‘n rein hart, o God”.

Dis ‘n baie kragtige woord.

Daarmee bely Dawid dat hierdie nie mensewerk is nie.

Hierdie wedergeboorte wat hy moet ondergaan vereis bomenslike kragte.

Kragte so sterk as waarmee God hemel en aarde geskep het.

 

Gemeente, was Dawid ‘n wedergebore mens, was hy ‘n bekeerde mens?

Dit het, veral onder die invloed van die charismatiese beweging sedert die vorige eeu, iets geword om vir mense te vra.

Is jy bekeer?

Is jy wedergebore?

Die gevaar is dat die indruk gewek word dat dit ‘n eenmalige gebeurtenis is.

Dawid was nie ‘n wedergebore, ‘n bekeerde mens, schluss klaar nie.

Hy was ‘n gelowige, ja.

Maar sy wedergeboorte – laat ons die regte term gebruik – sy geboorte van bo af – was nog intensief in proses, en so ook die pad van bekering in sy lewe.

 

Daarom moet ons nie vir die Here vra nie: Here, wil u tog vir my duidelikheid gee of ek wedergebore is?

Dis nie ‘n tipe vraag wat mens in die Bybel vind nie.

Laat ons eerder die Here smeek: Here, wil U tog u goeie Gees nie van my af wegneem nie, sodat my geboorte van bo af kan voortgaan, my nuwe mens kan bly groei.

Want waar sy Gees is, waar Hy werk, daar vind die wedergeboorte plaas.

Daar ontvang ‘n mens die krag om homself keer op keer te bekeer.

Om te kan vra: Here, bekeer my, dan sal ek my bekeer (Jer 31:18).

 

Eintlik is evangelisasie ‘n pragtige ding om te doen.

Na mense uitreik is nie hulle skuldig laat voel met vrae soos Is jy wedergebore nie ...

Ons kan nie mense skuldig laat voel nie, slegs die Gees kan oortuig van skuld, en dit waar die Woord verkondig word, week in week uit.

Elke mens is hardekop, halstarrig, na een prekie tydens straatevangelisasie word ons nie wedergebore en bekeer nie.

Maar evangelisasie is om uit te gaan met ‘n ope uitnodiging.

Kom na die waters van die lewe, kom na die kerk waar die Evangelie gepreek word!

Daar gaan jy ‘n beter lewe kry, gewis en seker!

Ek self kan daarvan getuig.

Is dit nie ‘n mooi ding om dit te doen nie?

Evangelisasie is om mense lus te maak, jaloers te maak op dit wat ons al het, en wat hulle ook kan kry.

 

As mens kyk in die boek Handelinge na hoe Paulus die Evangelie uitgedra het, orals op al die plekke waar sy reise hom gebring het, dan val hierdie blydskap veral op.

Hy begin met die goeie nuus.

Dis ‘n ope uitnodiging.

En in die lig hiervan kom die mense se sonde en ongeloof ter sprake.

In die lig van die Evangelie is die sonde iets wat weggeneem kan word, ongeloof kan oorkom word.

 

Gemeente, daar is dikwels drie woorde wat in evangelisasie gebruik word.

Ek noem hulle vir ‘n oomblik in Engels, want dan begin elkeen met dieselfde letter.

Dis die drie woorde: believe, behave, en belong.

Nou is die sleutelvraag as dit by evangelisasie kom: Wat is die regte volgorde?

In watter volgorde moet hierdie drie woorde geplaas word om die Evangelie korrek weer te gee?

Laat ek twee moontlikhede noem, en dan sal blyk hoe ‘n groot verskil dit maak as mens net die volgorde omruil.

Hierdie twee voorbeelde is nie net teoreties op papier nie.

Hulle vertolk baie spesifiek hoe daar deesdae evangelisasie gedoen word.

 

Kom ons begin met die volgorde wat mens dikwels by charismatiese bewegings en Baptiste kry.

Dit is die volgorde: believe, behave, belong.

Hieragter sit die denkwyse:

Ongelowiges moet eers opgeroep word om te glo – believe.

Daarna moet hulle behave – dit is hulle moet bekeer en die regte lewe begin lei.

En daarna mag hulle – belong – dan mag hulle deel word van Christus se liggaam.

 

As Gereformeerdes glo ons egter dit is nie wat die Bybel ons leer nie.

As mens byvoorbeeld na Paulus se prediking in Handelinge kyk, sien mens eerder die volgorde: belong, believe, behave.

Paulus begin met te benadruk dat die heidene mag behoort aan God se volk.

God se verbond is nou oop vir alle volke, tale en nasies.

Dit is ook hoe ons mag evangeliseer.

‘n Oop onbeperkte uitnodiging.

Kom, julle mag ook behoort aan die kerk!

Julle mag ook tot God se volk “belong”.

 

Hierna klink dan die oproep: Believe!

Glo hierdie goeie nuus!

Kom na die plek waar hierdie Evangelie verkondig word.

En dan, laastens gemeente, kom die woord behave.

Daar in die kerk, onder die prediking van die Evangelie, sal die Heilige Gees jou leer om reg te lewe – om te behave.

 

Gemeente, in ons evangelisasiemetodes is ons dikwels geneig om klakkeloos Arminiaanse benaderings oor te neem.

Ons is Gereformeerd in ons leer, maar die oomblik as evangelisasie aan die orde kom, raak ons skielik Remonstrants, dikwels sonder om dit te besef.

Laat ons daarom altyd die regte volgorde onthou: belong, believe, behave.

Dit is naamlik ook die volgorde wat die HERE met ons gevolg het, die van ons wat in die kerk gebore is.

Nog lank voordat jy as baba kon glo, is jy al met die doop in die verbond opgeneem.

Die doop gaan alles oor belong.

En eers daarna, danksy ‘n Godvresende opvoeding deur kerk, gesin en skool, mog jy leer om te glo en om reg te lewe – believe en behave.

Dit is die dankbare evangelie, die blye ruimte van die Heilige Gees se invloedsfeer, waarin ons mag lewe, en waarheen ons ander ook uitnooi.

Kom, word deel van Christus se kudde!

Hier sal jy leer om te vertrou en om reg te lewe.

Dus nogmaals: belong, believe, behave.

 

Hoe God dit doen in ‘n mens – ons verstaan weinig daarvan, soos ons in die Dordtse Leerreëls bely:

Die aard van die werking van die Heilige Gees kan ons in hierdie lewe nie volkome begryp nie.

Al wat ons mekaar en ook nuwelinge mag voorhou: Hierdie geloof is ‘n gawe van God (paragraaf 14).

Moenie dink ons as kerkmense is beter as hulle wat nog nie by die kerk is nie.

Ons geloof is ‘n gawe.

Hier in die kragteveld van die Gees ervaar ons dat dit deur Hom in ons ingestort word, soos paragraaf 14 sê.

Hier bring Hy die wil om die glo en die geloof self in ons tot stand.

Hier, soos Jakobus skryf, word ons nuwe lewe “voortgebring deur die woord van die waarheid.” (Jak 1:18)

Kom hierheen, kom sit hier onder die Evangelie, dan gaan julle dit ook so ervaar!

Hier ontvang ons dinge uit genade.

Jy weet nie wat dit is tot jy dit ontvang het nie.

God is dit aan niemand verskuldig nie.

Tog skenk Hy dit aan sondaars.

Hy skenk aan hulle die geboorte van bo, Hy skenk geloof, bekering, en die regte lewenswyse.

Soos byvoorbeeld verlede week, toe ons getuie was van jongmense wat hulle geloof bely het.

 

Broers en susters, ons vier volgende week nagmaal.

Ek gaan nie vir u vra as voorbereiding daarop of u wedergebore is nie?

Dit wek die indruk dat dit ‘n enkelmalige gebeurtenis is wat op eie krag moet plaasvind, terwyl die feit dat dit ‘n geboorte van bo is, op die agtergrond verdwyn.

Daarenteen is my vraag aan u:

Kom u getrou na die plek waar die Heilige Gees die geboorte van bo werk?

En, die eerste punt, leef u getrou vanuit die Woord van Christus, want daarmee werk die Heilige Gees die nuwe geboorte, die nuwe mens in ons.

Almal wat die Heilige Gees bedroef, wat sy werk dwarsboom, moet hulleself ernstig ondersoek of hulle wel volgende week kan nagmaal vier.

Maar elkeen wat ‘n afkeer het van hulleself en alles verwag van die Gees se werk in hulle, en elke week daarna verlang, hulle word van harte uitgenooi.

 

En dan het ons in hierdie preek ook aandag geskenk aan evangelisasie.

Paragraaf 15 van die Leerreëls sluit af:

Vir die ander, hulle wat nog nie geroep is nie, moet ons tot God bid, wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.

Pragtige woorde: God roep die dinge wat nie bestaan nie, asof hulle bestaan.

So het God in sewe dae alles geskape, deur net toe roep wat Hy wou hê daar moes wees.

En net so ‘n wonder is dit as Hy sondaars roep, as Hy hulle lewe so lei dat hulle kom op daardie plek waar die geboorte van bo plaasvind – die nuwe lewe deur sy Gees.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Johannes 3:1-21 & Titus 3:1-7

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3-4, 12-15

Tema: Die Heilige Gees skenk aan sondaars die geboorte van bo

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Hoe moet die woord weer gebore in Johannes 3:3 eintlik vertaal word?
  2. Hoe werk die Heilige Gees die geboorte van bo?
  3. Waar werk die Heilige Gees die geboorte van bo?
  4. Het jy in jou lewe die Heilige Gees bedroef, soos Dawid gedoen het?
  5. Wat is die Bybelse volgorde van die woorde believe, behave, belong, as dit by evangelisasie kom?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 98:2,3

Gebed

Skriflesing: Johannes 3:1-21 & Titus 3:1-7

Sb 33:1-3

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3-4, par. 12-15

Preek

Ps 43:3,4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:4

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën