God se Gees woon in die gemeente wat ‘n heilige tempel van God is

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-11-06
Teks: 
1 Korinthiërs 3
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons leef elkeen afsonderlik en saam as gemeente in die weelde van die nuwe verbond. In die nuwe verbond is die gemeente die tempel van God. God woon in sy tempel deur sy Gees. God waak oor die heiligheid van sy tempel en as iemand aan die tempel van God raak, die tempel skend, sal God hom skend. Want God se tempel is heilig, en dit is ons.

Broer en suster, seun en dogter, hoe kyk ek en jy na God se gemeente? Sien ons God se heilige tempel voor ons? Of sien ons ‘n vrywillige verbintenis wat deur die regte mense doeltreffend bestuur moet word?

God se gemeente is ‘n heilige tempel waarin Hy woon, in elkeen se hart afsonderlik en in die gemeente gesamentlik. Ons is daarom verplig om die gemeente te waardeer as God se tempel, wat die Heilige Gees met die Woord vir Hom afsonder. Alles behoort aan die gemeente, ook die dienaars wat die gemeente lei en opbou met die evangelie, maar die gemeente behoort aan Christus en Christus behoort aan God. As die gemeente dan so aan Christus behoort en hulle word deur die Gees as heilige tempel van God gelei, mag hulle optrede nie vleeslik wees en wereldwys nie maar is dit geestelik, geheilig in die belydenis dat hulle aan Christus behoort en dat alles aan hulle behoort menende hulle moet alles geestelik sien, dat ook die dienaars wat Christus gee, deur Hom gegee word om hulle in die geloof op te bou in heiligheid vir die Here, in onderwerping aan die wysheid van God. Paulus lei die gemeente in Korinte om hulleself te beproef, om verseker te weet dat hulle deur God geheilig is en daarom alles in die lig van Christus die Hoof te benader. Dan sal hulle ook Christus se dienaars reg waardeer as gawes van Christus aan hulle.

Die werk van die Gees in die gemeente is ‘n bonatuurlike, baie kragtige en liefdevolle, wonderbare, verborge en onuitspreeklike werking van God, DL3/4, 12.  

Maar vertoon ek en jy nog in vele opsigte geestelik onvolwasse soos die Korintiers? Vertrouend op ons eie vermoë en in mense se vermoë? Ons word deur die Heilige Gees op die pad van heiliging gelei.

Die evangelie is dat deur die Heilige Gees se genadige werking begin daar in my ‘n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan God, DL3/4, 16. Ons is nie geestelik volgroei nie. Maar die Gees maak ons wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit lieflik en kragtig. ‘n Gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees begin so in ons die oorhand kry. 

Ons, gemeente, word bemoedig maar ook vermaan om biddend, afhanklik, te groei in die kennis van die wysheid van God en van sy ewige voorneme om ons vir Hom te heilig – want ons behoort aan Christus, en ons is heilige tempel van God.

Ons tema: God se Gees woon in die gemeente wat ‘n heilige tempel van God is

1. Die vleeslike gesindheid wat die Korintiers het

Paulus het die Korintiers met die Evangelie gevoed, hy het hulle op grond van God se genade gewen. Sy werkwyse destyds was om hulle met melk te voed, hulle kon nie vaste kos inneem nie, 3:1,2. Sien dit so: bekeerlinge tot Christus uit die heidene, en bekeerlinge tot Christus vanuit die sinagoge, kan ons verwag, groei mettertyd deur die werking van die Gees in toenemende vertroue en verstaan van die evangelie van Christus se kruis, en in die toepas en deurtrek daarvan in alle aspekte van hulle lewe. Hulle leer algaande wat dit vir hulle inhou om die eiendom van Christus te wees. Nou is Paulus se verwyt in 3:3 dat die Korintiers na ‘n aantal jare se werk deur die dienaars van God, hulle steeds by melk gebly het, dat hulle steeds nie in staat was om vaste kos te eet nie, tenspyte van al die arbeid aan hulle. Die probleem is dat hulle nie in alles volgens die Gees gelewe het nie, maar volgens die benadering en praktyk van die wereld, ‘n gesindheid van wereldse of vleeslike wysheid wat dwaasheid voor God is, en wat hulle verhinder het om geestelik op te tree. Hulle het nog veel van die ou onChristelike leef en denkpatroon vertoon. Hulle het op mense geroem en nie in die Here nie. Vanuit die versekering dat God die gedagtes van die wyse mense van hierdie wereld ken, dat dit nietig is, maar dat die gemeente ‘n tempel van die Heilige Gees is en aan Christus behoort, moet hulle die vleeslikheid of wereldsheid van hulle lewenspatroon met sy jaloesie, selfhandhawing, partyvorming, begeertes, gedagtes en planne, onderken en hulle daarvan afwend.

In 1:18-2:16 sit Paulus uiteen dat hy altyddeur die wysheid van God, dit is evangelie van die gekruisigde Christus verkondig het sodat die Korintiers se geloof nie in die wysheid van mense bestaan nie, maar in die krag van God. En dan reageer hy in hoofstuk 3 op die persoonsverheerliking en die twiste van die gemeente in Korinte in die lig van hoofstuk 2 van sy prediking van die heerlike verlossingsplan van God wat eers verborge was maar nou deur Paulus se prediking deur die Gees aan die gemeente openbaar is. 

Korintiers is broeders in die Here, 3:1. Geroepenes van die Here, 2:6. Hy herinner die gemeente dat hy reeds destyds uit die staanspoor hulle volop laat deel het in sy kennis van die verborge wysheid van God. Maar hulle kon toe nog nie alles goed insien en verantwoord nie. Hulle het die boodskap van Jesus Christus, die gekruisigde aanvaar..... Maar  Paulus kan nou by die skryf van die brief steeds nie met hulle as geestelike mense, dit is mense wat die wysheid van die Gees het, en daarvolgens leef, praat nie. Hy hoor van hulle dat hulle doen en late gebonde is aan ‘n wêreldse denkwyse in hulle botsende voorkeure vir God se gestuurde dienaars wat die evangelie aan hulle verkondig het. Hulle is verdeeld in hulle navolging van of Paulus, of Apollos. Dit het tot jaloesie, twiste en partyskappe aanleiding gegee. Dit kon tot skeuring lei. Hulle het gestrewe om soos die wereld hulleself te handhaaf, en die lewe te verower. Ja die Gees was aan hulle geskenk, 2 Kor1:22. Maar hulle het hulle nie in alles deur Hom laat lei nie. Alreeds in 1,26-31 het Paulus bevestig dat die gemeente deur God uitverkore is om in die evangelie van God se wysheid te deel. Dat hulle die boodskap van die gekruisigde Christus aangeneem het wys op die werk van God se Gees in hulle, niemand kan die uitverkiesing en daarom aanraking van mense deur God omverwerp nie. Maar hulle vleeslikheid verhinder dat hulle geestelik omgaan met God en met mekaar. Die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees en hulle staan teenoor mekaar, Galasiers 5. Onder die werke van die vlees is kenmerkend jaloesie en twis of tweedrag. Hulle laat hulle nie lei deur die Gees nie. Hulle het die werking van die Gees in hulle hart en lewe teengestaan en die broers teengestaan deur nie deurgaans op God en sy wysheid te vertrou nie.

Paulus het aan die gemeente die eerste onderwys aangaande Christus gegee. In sy tyd in Korinte het hy en sy medewerkers aan die lê van die fondament gewerk, 3:10. Die gelowige geroepenes van God moet hulle onderwerp aan die evangelie, maar moet groei en dieper aftas om geloof en lewe, waarheid en liefde, te integreer, toe te pas in hulle daaglikse omgaan met God en met mekaar. Paulus vermaan daarom die gemeente so op ‘n herderlike manier om tot selfbeproewing te kom en die vleeslike gesindheid af te lê. Hy wil niks onder hulle weet as Christus die gekruisigde.2:2, aan wie hulle behoort. “Is julle nie vleeslik nie?” 4: Die een sê ek is van Paulus, die ander: ek is van Apollos, is julle dan onveranderde mense, dus vleeslik of ongeestelik? Twiste wys op menslike motiewe (wat natuurlik vir die wereld normaal is). In die gemeente mag dit nie wees nie. Julle moet julle nie deur die wysheid van die wereld laat mislei nie. Deur die werk van die Gees moet julle loskom van die lewe op die manier van die mense.

Hoe behoort die verhouding van Paulus en die ander dienaars tot die gemeente te wees? Omdat hulle, dit is die gemeente in Korinte, aan Christus behoort, 23, en Christus aan God behoort mag die Korintiers die dienaars van Christus nie beoordeel volgens die beginsel van hierdie wereld nie.  Die manier waarop hulle die apostels beoordeel, is verkeerd. Maar hoe dan wel?  Alles is van God. Hulle ontvang die Evangelie omdat hulle deur God uitverkies is om die dwase van die wereld te beskaam sodat geen mens voor God sou roem nie. Deur God se verkiesing van hulle in Christus, en van Christus het hulle wysheid van God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Sodat hulle in die Here roem, 2: 26-31. 

2. Die geestelike gesindheid wat Christus se dienaars moet hê

Die verhouding van die dienaars tot Christus se gemeente illustreer Paulus met drie beelde: ‘n bewerkte stuk grond, ‘n gebou wat opgerig word, ‘n tempel.

Vanaf vers 5 gaan dit oor die plek van die dienaars, dit is verkondigers onder die Korintiers. Paulus  span hom in om die Korintiers te oortuig dat hulle vleeslik op die persoon en werk van hom en Apollos reageer. Die dienaars is niks meer as dienaars, diakens, bedienaars of bediendes van God wat die evangelie preek waardeur die gemeente tot geloof gekom het. Die gemeente kon aanvanklik hierdie dienaars van God nog nie mis nie. Maar nou moet hulle reeds sonder Paulus en Apollos klaarkom. Maar waarom wanhoop omdat hulle sonder hulle moet voortgaan? Is die gemeente dan nie van Christus nie, en Christus van God nie? Christus Jesus, hulle Heiland, is tog hulle hoof.

Die gemeente moet weet: die bedienaars van die evangelie het ‘n beskeie plek ingeneem in die plant en opbou van die gemeente. Deur beide Paulus en Apollos het die Heilige Gees God se wysheid aan die gemeente  geskenk. Daar was verskil in die werk wat elkeen gedoen het. Paulus was die tuinier wat die jong plantjies versigtig in die grond geplant het. Apollos was die man wat die plantjies moes natmaak en verder versorg. Maar sowel vers 6 as vers 7 is dit God wat laat groei. Die jong plantjies en hulle groei kom van God. Geliefde gemeente, dit is die geheim van Christus se sorg aan sy kerk. As Hy die hoof is mag die gemeente nie in verkeerde verwagting opsien na die dienaars nie, maar al hulle aandag moet op God wees wat laat groei. Paulus en Apollos is medewerkers van God, 9, in die sin van dagloners wat gehuur word vir ‘n spesifieke werk. Hulle het ‘n werk gekry van Christus en handel dit af. Die wonder van God se werk, die wonder van sy genadige verkiesing en aanvanklike roeping van hulle (2:6) gaan egter voort daarin dat God laat groei. Wie plant en natmaak is niks, maar God is alles. 8. Hy wat plant en hy wat natmaak is gelyk, of dieselfde, al doen hulle verskillende werk aan die plantjies, omdat hulle nie die eintlike krag nie, hulle is beide in alles van God afhanklik en aan Hom verantwoording verskuldig. Hulle mag nie teenoor mekaar geplaas word nie en die een bo die ander verhef of geëer word nie, asof God nie deur sy Gees in die gemeente woon nie. Paulus wys daarop dat menslike oordeel en voorkeur nie ter sake is nie, maar God se beoordeling van hoe elkeen gewerk het, 10-15, 4:4, is waarom dit gaan. Hulle trou, of betroubaaarheid, hulle gehoorsaamheid aan God. Dit gaan oor die manier waarop hulle Hom gedien het en daarom die gemeente gedien het, nie die hoeveelheid werk of die resultaat in getalle nie.

Elke dienaar sal loon volgens sy eie werk ontvang. Eers op die dag van die Heer sal dit openbaar word. Die gemeente is tempel van die Gees van God en van Christus. Niemand mag in sy eiewysheid wat voor God die dwaasheid van die wereld is, hierdie tempel van God skend deur onbetroubaar in sy werk te wees nie. 

Gemeente, die Korinthiërs is, behalwe akker van God, ook God se bouwerk of gebou, vanaf vers 10. ‘n Bouwerk wat uit die grond uit oprys. Daar sal nog tyd duur voordat die oes ingesamel word of voordat die gebou voltooi is. Waar dit werklik op aankom, die begin is daar. Die gemeente is ‘n reeds beplante, goed versorgde akker, met die belofte van ‘n ryke oes. So is ook die bouwerk wat reeds begin is, om bewonder te word soos wat dit oprys. Alles is alleen te danke aan God, die medewerkers het ‘n baie belangrike aandeel aan die bouwerk maar ook dit gaan terug op God wat in genade roep en stuur. Paulus het ook as kundige boumeester die fondament gelê (dit is die belydenis van Jesus Christus). Daarop bou ander voort. ‘n Wyse argitek of boumeester sorg daarvoor dat gebou word soos sy hoof dit wil hê. Ook dit is ‘n taak wat afgehandel word. Jes 3:3, Eks 35:10,25  26:1,4,8.

Die fondament in die beeld van die gebou is beslissend, want daarin sien ons die grondlyne van die gebou, hoe die gebou sal word. Dit gaan hier veral om die buitelyne van die fondament. Dit wys na Paulus se taak wat hy van God ontvang het om geroepenes te vergader, ‘n gemeente van Christus. 

Daar is net een fondament, Jesus Christus. Elkeen wat verder aan die gemeente werk, moet toesien hoe hy hierop voortbou. Dit gaan oor hoe die dienaar gewerk het? Getrou, toegewy, sorgvuldig, met uitkoop van die tyd. Sal hy op die dag van gerig loon op sy werk ontvang? Of sal hy skade ly? 13b,14,15. Die doel van die opbouwerk is die geestelike volwasswenheid en heiligheid van die gemeente. Ef 4:13, 1Tes 3:13, 5:23, 24, 2Tes 1:8,10, Rom 13:12.

Die bouers is gebonde aan die een fondament, naamlik Jesus Christus, 11. Die gemeente herken Hom en sy werk as Hoof vir haar in haar gemeentewees, in die werk van sy gestuurde dienaars. Ons weet wanneer die dak opgesit is het ‘n  huis vanaf die fondament voltooiing bereik. Dit sal wees met die wederkoms van Christus. Die fondament word gelê en gebou in Korinte en oral waar die gemeente van Christus versamel is deur sy Gees. Paulus se taak was om in Korinte die kruis van Christus te verkondig sodat die geroepenes deur die wysheid van God op ‘n nuwe wyse van menswees voor God en naaste kan glo en leef. Jesus Christus het Paulus gestuur sodat alles wat Christus is, en hy verkry het, aan die gemeente gegee word om in hierdie stad geestelik met die werklikheid van en onder die opgestane Heer te leef. Paulus en die ander dienaars maak nie vir hulleself naam nie, maar deur hulle evangeliebediening maak Christus self naam deurdat Hy die gemeente op Homself rig. 

Die dienaars moet sorgvuldig let op die kwaliteit van hulle werk, waarmee die opbou gedoen word. Goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels, die materiaal waarmee gebou word sal die laaste dag aan die lig kom, die dag sal dit aanwys want deur vuur sal dit getoets word (die oordeel van die dag waarop alles wat ‘n mens in sy lewe gedoen het) (Mark 9,49, Rom 2,16, 2Kor 5,10, 1Pet 1,17, Op 20,12). 

Die dag sal kom wanneer vir elke oog sigbaar word of die bouer hom ingespan het om die gemeente te onderrig en te lei in wat sy in Christus is en behoort te wees. Die doel van die opbouwerk is die geestelike volwasswenheid en heiligheid van die gemeente. Ef 4:13, 1Tes 3:13, 5:23, 24, 2Tes 1:8,10, Rom 13:12. Die uiteindelike loon is verskillend. Paulus het nougeset en met suiwer bedoeling gewerk. 2Kor 2:17, 1Tess 2:3. Die vuur sal duidelik maak of iemand se werk aan die Gees se eis voldoen, indien nie, sal hy skade lei maar self gered word soos deur vuur heen. Nie die resultaat van die werk, die onvolwasse gemeente, gaan in vlamme op nie, maar die bouer sal skade ly om beskaamd te staan voor die afkeuring van Hom deur God. Hy word wel ternouernood gered, soos ‘n stuk brandhout wat aan die vlamme ontkom. Alleen op grond van Christus se kruis, sien God Hom genadiglik aan.

3. Die gemeente as tempel van God waarin Sy Gees woon en werk

Gemeente Die beeld van die gebou gaan in vers 16 oor in die werklikheid van die gelowiges as tempel van God. Waarom moet die opbou van die gemeente op die fondament van Christus so ernstig opgeneem word? Dit is omdat die gemeente nie maar ‘n gebou is nie, maar die gebou van die tempel van God. Die beeld en aangeduide werklikheid loop hier in mekaar. Die gemeente is heilig, afgesonder vir God. God se Gees woon in hierdie tempel. Dit beteken Christus lei en versorg sy gemeente met sy Gees en Woord.  Al kan hulle nie sonder meer as geestelikes, as wyse mense aangespreek word nie, is hulle God se tempel. Dit staan bo alle twyfel. Daarom Paulus se vermanende vraag: weet julle nie dat julle tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? (1Kor 6:19, 2Kor 6:16, Ef 2:21, 2Tess 2:4, 1Pet 2:5. Die gemeente moet daarvan deurdring wees dat hulle tempel van God is. Tempel van God of huis van God is ‘n afgesonderde plek op aarde waar dit God behaag om te woon, waar Hy teenwoordig is. (tent in die woestyn, tempel in Jerusalem). 

God woon in die midde van Israel of van die gemeente: in die vergadering van sy volk. Gemeente is tempel van God, nie weens hulle eie geskiktheid of heiligheid, maar volgens God se beskikking, welbehae, verkiesing, regverdiging en heiliging in Christus. Die hele verlossingswerk van God is daarop gerig om ‘n mensheid, ‘n gemeente te vergader in wie Hy die Heilige kan woon. Met al sy weldade: liefde, goedheid, guns, heerlikheid, mag. Vir die gemeente het dit ingrypende, ontsaglike gevolge. Hulle kan nie meer werelds dink oor die gemeente nie, hulle kan nie meer broers en susters ignoreer nie. Alhoewel die dienaars van God sy instrumente is, is die leiding en versorging van die gemeente, van God. Twiste en persoonsverheerliking is skending van God se heilige tempel. Dit gaan in die eenheid van die gemeente om die eenheid van geloof in God. 

God woon in sy gemeente op die manier van sy Gees. Die gemeente mag dit glo op grond van die belofte dat God sy Gees in die gelowiges se harte gee, Eseg 36:27, Joel 2:29. Die Gees is die eerste gawe Rom 8:23, die onderpand, 2Kor 1:22, Ef  1:14. Op hierdie gawe mag die gemeente haar hoop bou dat die Gees se onderrig haar uit haar vleeslike onvolwassenheid tot geestelike volwassenheid sal lei. Die Gees heilig haar om ‘n geestelike gesindheid te hê. Aan die inwoning van die Gees is te danke dat die vrug van die Gees deur die gelowiges nagespeur word. Maar wees gewaarsku: wat tans in die gemeente in Korinte aan die gang is, lei tot verwoesting van Christus se kerk, God se tempel. Indien iemand die tempel van God skend, sal God hom skend (dit is te gronde rig, vernietig, verwoes). Jaloesie en twis en tweedrag kom van broers in die gemeente wat meen dat hulle wereldwysheid wysheid van God is, maar hulle mislei hulleself, hulle moet besef hulle wereldwysheid is dwaasheid by God. 

4. Die rykdom van die gemeente van Christus

Omdat Christus die saak van sy gemeente opneem, is dit tyd vir haar om van haar verkeerde pad terug te keer. Sy moet haar vleeslike optrede aflê. Die wereldwyse opgeblasenheid, jaloesie, twis en rusie in haar midde.  Laat sy die evangelie van die kruis van Christus vashou en in die lig mekaar dien en die probleme in die gemeente benader. Sy het die evangelie van verlossing van God se dienaars ontvang. Die evangelie dat Christus wat Homself verloën het en niks geword het aan die kruis. God staan by Christus se lyding en sterwe vir sy geroepenes. Aan Christus se kruis verdwyn alle mensename, ja die listige misleiers, maar ook die name wat deur die gemeente spesiale vermelding en eerbetoning gegee word en gevolg word, sodat slegs God se Naam stand hou, want alleen Christus in sy selfverloëning vertoon die heerlikheid van God se redding vir sondaars. Dus keer terug! Word soos Christus en leef van die heil wat Hy verkry het toe hy homself aan die kruis verloën het. Leef uitsluitend vir God wat die wereldwyses se nietigheid ten toon stel. Na aanleiding van Ps 94:11. LXX skryf Paulus dat God ken die oorlegging van die wyses van hierdie wereld. Moet daarom nie op mense roem nie.

Roem op God. 1:31: die wat roem moet in die Here roem. Die enigste Naam wat die gemeente verlos, is Jesus Christus. Die gemeente is slegs van Hom. Alles is die gemeente se deel, Paulus, Apollos, Cefas. Maar ook wereld, lewe, dood, alle dinge en gebeure in die hede of toekoms, alles. In Christus is die Korintiers nie aan hulleself oorgelaat om in begaafde voormanne te roem nie en die een teen die ander af te speel nie, is hulle nie uitgelewer aan die wispeltierigheid van mense nie, maar weet hulle om dienaars as gawes van Christus te ontvang. Dan word alles deel van hulle lewe voor God en in Christus. As hulle in Christus alles besit, kan hulle nie teen mekaar roem nie. As iemand aan God gebind is deur Christus, is hy in Hom oorwinnaar en besit hy in beginsel in Christus alles, wereld, lewe, dood, alles in die hede en in die toekoms. 15:24-28,57. Sien Rom 8:37-39. Gelowiges kan daaraan vashou dat hulle bo al die ander geskape dinge staan wanneer hulle deur die geloof met Christus verbonde is.

Paulus het hiermee die hele saak omgekeer. Die wereldwyses het dit dat leiers identifiseer word om ‘n groep mense te lei. Die groter leier maak die mense in sy groep groter. Baantjies vir boeties. Julle is egter nie van die wereldwyses nie, julle dienaars wat deur God gestuur is behoort aan julle almal, vir die hele gemeente, deur God gegee aan julle, Ef. 4:11.  ....Om julle te dien met die heil wat in Christus is. Hulle word gestuur om julle te dien omdat hulle vir Christus dien, nie julle vir hulle nie. Julle moet die fokus van hulle aandag wees. Nie andersom nie. Dit geld ook van ander dinge. Die wereld, lewe, dood, hede, toekoms. Alles kom van God, tot diens van julle in julle gang om julle ewige bestemming te bereik. Omstandighede met voor en teenspoed word ons gegee om ons bestemming te bereik, om na God toe te vlug en in die regte verhouding voor God te staan en Hom en sy gemeente te dien. Daarom mag en moet ons alles wat Christus oor die gemeente en elke gelowige se pad bring, waardeer, dit uit sy hand met dankbare harte ontvang.

Die enigste Een van wie ons is, is Christus. Die gemeente is alleen van Hom, sy eiendom, tot sy beskikking. Sy Naam is die enigste waar rondom ons vergader is. In Hom is ons eenheid.

Jaloerse en agterdogtige groepe is lewensgevaarlik. Verdeeldheid lei mense weg van Christus. Ons mag as gemeente ons nie koppel aan name, ideologië, organisasies, strategië, bewegings, slagspreuke nie, al kom dit ook christelik voor. Want ons is vry in Christus, ons is tot sy beskikking.

En Christus is van God…..Soos die gemeente van Hom is, so is Hy van God. Hy is uitsluitend op God gerig. Om sy wil te doen, gehoorsaam tot die dood van die kruis. God het Hom verhoog en ‘n naam gegee bo elke naam. Fil 2:7. Hy sal regeer oor alles in die hemel en op aarde as Hoof en Middelaar. Totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 15:24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.   Hoe ryk is ons omdat ons Christus se eiendom is en sy Gees in sy gemeente kom woon en ons heilig om tempel van God te wees…Laat ons dan altyd vanuit ‘n geestelike gesindheid na die gemeente kyk en oor die gemeente praat.

Amen
 

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet
Gemeente genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen.
Psalm 75:1,4,6

Lees van die wet
Psalm 40:1,2

Gebed

Psalm 119:15,19

Teks: 1 Korinthiërs 3

Amenlied: Skrifberyming 24:1,2,4,5

Gebed

Kollekte

Psalm 96:1,4,7

Seën:
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee. SING Amen