Vir die derde keer prys die koning van Babel die Koning van die hemel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-10-22
Teks: 
Daniel 4:37
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 4:37

 

Soms wil dit voorkom asof die profete in die Bybel altyd dwarsgelê het.

Of hulle altyd met ‘n boodskap gekom het wat die volk nie wou hoor nie.

In tye van voorspoed, as dinge voor die wind gaan, is hulle doemprofete.

In tye van teenspoed, as die volk diep in die put is, klink hulle profesieë juis weer opgewek.

Die profeet Daniël is veral ‘n voorbeeld van die laaste.

In tye van absolute teenspoed en vernedering is sy lewe en sy profesieë ‘n teken van hoop, ‘n riem onder die hart vir God se volk.

Veral die eerste deel van hierdie boek bevat onheilsboodskappe, maar nie vir Israel nie, maar vir die konings wat hulle verdruk het in die tyd van die ballingskap.

Hoofstuk 4 is ook ‘n voorbeeld daarvan.

Kom ons luister wat die Here Jesus Christus ons in hierdie hoofstuk uit sy Woord wil leer.

Ook vandag is sy Woord aktueel, al stem dit nie noodwendig ooreen met wat ons sou wou hoor nie.

 

Tema: Vir die derde keer prys die koning van Babel die Koning van die hemel

Die HERE toon sy almag deur die heidense koning se val

Die HERE toon sy almag deur die heidense koning se belydenis

 

Die HERE toon sy almag deur die heidense koning se val

Hierdie hoofstuk het natuurlik ‘n aanloop gehad.

Ons ontmoet Nebukadnesar die eerste keer in hoofstuk 1 waar hy die tempel leegroof.

Dit lyk wel of hy magtiger as die HERE is, wie se tempel dit was.

Daardie hoogmoedige houding het Nebukadnesar inderdaad gehad.

Toe verskyn die HERE aan hom in ‘n droom – hoofstuk 2.

Die bedoeling was om hom op sy plek te sit.

Ja, hy het ‘n magtige ryk gehad, in die droom was hy die kop van goud.

Maar hy moet besef dat sy ryk nie altyd gaan standhou nie.

Na hom gaan daar nog ryke kom, en uiteindelik gaan ‘n ander koninkryk die lengte en breedte van die aarde vul, en daardie koninkryk sal vir ewig standhou.

Dink aan die klip wat van ‘n hoë berg af losgeraak het – ‘n profesie van Christus se menswording.

En dink aan hoe daardie klip ‘n rots en ‘n berg geword het – profesie van Christus se wederkoms, wanneer sy koninkryk die lengte en breedte van die aarde gaan vul, sy koninkryk wat soos ‘n mosterdsaad begin het.

Koning Nebudkadnesar was diep onder die indruk.

Hy het erken dat Daniël se God die God van die gode is en die Here van die konings.

Dit was die eerste keer.

 

Tog het hierdie onderdanige houding teenoor Daniël se God nie lank gehou nie.

Inteendeel, in hoofstuk 3 lees ons hoe hy toe vir homself ‘n beeld laat bou.

Heeltemal van goud, dertig meter hoog!

Hy het as ‘t ware gerebelleer teen die droom wat van God gekom het.

Aikona, ek is nie net die kop van goud nie.

Ek is die hele beeld, dit wil sê, my koningskap gaan vir ewig standhou!

Maar weer verneder God hom in hierdie hoofstuk.

Hy gebruik daarvoor drie van sy kinders, Hananja, Misael en Asarja, of soos ons hulle ook ken, Sadrag, Mesag en Abednego.

Hulle beginselvastheid, en veral die Engel van die HERE wat hulle in die vuuroond beskerm het, het diepe indruk op die koning gemaak.

Weer het hy erken dat Israel se God die God van die gode is.

En hy het bevel gegee dat elke volk, nasie en taal oor sy hele koninkryk met eerbied oor hierdie God moes praat.

Dit was die tweede keer.

 

Maar, gemeente, en dan kom ons by die hoofstuk vir vandag, weer eens het Nebukadnesar se verootmoediging teenoor God nie lank gehou nie.

Tussen hakies, daar is eksegete wat sê dat daar nie net ee Nebukadnesar was nie, maar meerderes, en dat Daniël onder al drie van hulle gedien het.

Ook as dit die geval was, is duidelik dat hulle nie die lesse uit die verlede geleer het nie, soos die HERE telkens die koning van Babel verneder het nie.

 

Hier in hoofstuk 4 het die koning weer ‘n droom.

‘n Boom wat lewe bied vir die hele aarde, maar wat toe omgekap word.

Maar weer dieselfde patroon: Nog maar net twaalf maande na die droom  (vers 29), was Nebukadnesar weer so opgeblase en vol van homself, dat hy op die dak van sy koninklike paleis rondgewandel het, en vol trots die woorde kwytgeraak het:

“Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het ... deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” (vers 30)

 

Nou weet ons uit ander historiese bronne dat die Babel wat Nebukadnesar gebou het inderdaad ‘n skitterende stad was.

Om ‘n paar voorbeelde te noem:

Hy het daarin meer as 50 tempels laat bou.

Hy het meerdere paleise daarin laat bou.

Hy het ‘n dubbele muur rondom die stad gebou.

Die muur was so breed dat ‘n strydwa daarop kon ry.

Hy het ‘n waterkanaal rondom die stad laat grawe wat 80 meter breed was.

En, dalk het u al van die hangende tuine van Babilon gehoor, dit was een van die wêreldwonders van die oudheid.

Geen wonder dat Nebukadnesar oorweldig geraak het deur dit wat hy self bereik het.

 

Maar dus, gemeente, dieselfde patroon, oor en oor.

Nebukadnesar loop buite sy skoene, en dan bring die HERE hom weer af aarde toe.

So gebeur dit ook hierdie keer in hoofstuk 4.

Van nog veel hoër as die dak van sy indrukwekkende paleis wat bo Babel uitgetoring het, val daar ‘n stem uit die hemel:

“Koning Nebukadneasr, jou word aangesê – die koningskap word jou ontneem”! (vers 31)

 

Of koning Nebukadnesar al van die droom vergeet het of nie, feit is dat dit nou in vervulling gaan.

Nou gaan die boom afgekap word.

Mag maak mense korrup, mag maak mense blind, mag laat mense gou van foute in die verlede vergeet.

Hoe dikwels sien ons dit nie ook in ons tyd met maghebbers en politici nie.

Maar die dag sal kom dat die HERE hulle sal vloer.

 

En so het hierdie droom nie doekies omgedraai nie.

Opvallend dat Nebukadnesar hierdie keer sy droom self vertel aan die geleerdes en besweerders.

Dis presies andersom as by die eerste droom.

Toe het al die waarseêrs gereed gestaan om uitleg te gee, sodra hulle die droom gehoor het.

Nou hoor hulle die droom, maar waag nie ‘n poging om dit uit te lê nie.

Eintlik is dit nie so verwonderlik nie.

Want hierdie droom oor die kolossale boom wat afgekap is, was op sigself duidelik.

Daar was niks raaiselagtigs aan hierdie droom nie.

Sy uitleg was glashelder.

Duidelik het dit weer gehandel oor ‘n groot maghebber, ‘n oppermagtige koning.

Maar vanuit die hemel kom dan die bevel om dit af te kap.

Waar hierdie maghebber en sy ryk vir niks en niemand op aarde bang hoef te wees nie, teen die hemel was hy nie opgewasse nie.

Die bode, die heilige wat uit die hemel neergedaal het, kon hom sonder moeite omkap.

Die woord heilige beteken toegewyd.

In hierdie konteks: Hierdie bode is toegewyd om die taak wat hom opgedra is, perfek uit te voer.

En die woord bode is maar net ‘n ander woord vir ‘n engel.

Dus, al was hierdie koning oppermagtig op aarde, die hemelse magte was net ‘n ander liga waarteen hy nie opgewasse was nie.

 

Soos ek genoem het, daar was eintlik niks geheimsinnigs of onduidelik aan hierdie droom nie.

Dit blyk uit die feit dat Koning Nebukadnesar aan die einde eintlik self die uitleg alreeds gee, vers 17:

Volgens hom is die uitleg “dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel.”

 

In die lig hiervan, hoekom wou die geleerdes en besweerders dan niks sê nie?

Wel, gemeente, die antwoord herinner aan die sprokie van die koning sonder klere.

Al die koning se raadgewers het ge-oe en ge-aa oor hoe mooi klere hy aan het, terwyl hy inderwaarheid kaal was.

Maar, en dis waaroor dit gaan, niemand het gedurf om die waarheid te sê nie.

Dit was die sogenaamde olifant in die kamer.

So ook hier.

Nebukadnesar het klaar geweet wat die droom beteken.

Al wat hy nog wou weet was: Oor wie gaan hierdie droom?

En natuurlik het Nebukadnesar eintlik baie goed besef dat dit oor hom gaan.

Maar, soos die raadgewers van die kaal koning, het die waarsêers nie gewaag om iets te sê nie.

Hulle het die koning se woedebuie gevrees.

Hulle het nie gewaag om die koning te kritiseer nie.

 

Gemeente, hoe droewig is dit as so ‘n situasie in ‘n land ontstaan, dat niemand meer waag om ‘n maghebber te kritiseer nie, as byvoorbeeld die media gemuilband word.

Vladimir Putin is ‘n hedendaagse voorbeeld daarvan.

Van al die miljoene Russe is daar maar ‘n handjievol wat hom durf te kritiseer, en dit met gevaar vir eie lewe.

Daarom het die geleerdes en besweerders ‘n taktiese besluit geneem.

Hierdie keer gaan hulle nie die koning se droom uitlê nie.

En teen hierdie tyd het hulle ook al vir Daniël geken.

Gerieflik dat hulle die warm patat vir hom kon deurgee.

En dit was die HERE se werk in Daniël dat hy wel integriteit gehad het, en al was hy verskrik, dat hy wel gedurf het om die waarheid met die koning te praat.

En wat ook opvallend is, en dit is ook die HERE se werk, dat Nebukadnesar teen hierdie tyd ‘n groot mate van respek vir Daniël gehad het.

Gedweë het hy na hom geluister, ook toe Daniël dapper die vrymoedigheid neem om die koning na aanleiding van die droom te vermaan:

“Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellediges” (vers 27).

Met die woord ellendiges word hier verwys na hulle wat deur die koning onderdruk is.

Dink aan al die nasies wat hy verower het, Israel inkluis.

Soos ons dikwels by die HERE se profete sien, was die boodskap wat hulle moes bring voorwaardelik.

As Nebukadnesar sou geluister het, sou hy die vernedering nog kon vryspring.

Maar klaarblyklik was dit nie so nie.

Want, na twaalf maande, terwyl hy in ‘n bui van selftrots op sy paleis se dak randwandel, val daar ‘n stem uit die hemel:

“jou word aangesê – die koningskap word jou ontneem” (vers 31).

Gemeente, so toon die HERE sy almag deur hierdie heidense koning se val.

 

Ook vandag gebeur dit nog, meestal onverwags.

Sadam Hoessein het geval, hy wat homself selfs Nebukadnesar die Tweede genoem het.

Ghadaffi het geval.

Napoleon en Hitler het geval.

Putin en alle ander maghebbers en trotses gaan ook val, op God se tyd.

Dit is ‘n groot troos vir die nederiges, hulle wat by die HERE skuil.

Die politiek van die dag, alle oorloë en onrus en misdaad kan ons beangs.

Daniël 4 herinner ons dat Christus regeer, Hy sorg vir magtiges se val, Hy sorg selfs dat hulle die Koning van die hemel begin prys.

 

(Tema: Vir die derde keer prys die koning van Babel die Koning van die hemel

Die HERE toon sy almag deur die heidense koning se val)

 

Die HERE toon sy almag deur die heidense koning se belydenis

 

Koning Nebukadnesar se straf, sy vernedering, dit is iets waaroor daar al baie gespekuleer is.

Hierdie soort dierlike, vegetariese bestaan, wat het dit presies ingehou?

Duidelik is ook dat hy sy verstand verloor het.

Hy sê later self dat na verloop van tyd sy verstand in hom moes terugkeer.

Was hierdie vernedering dat hy een of ander mediese kondisie gekry het, dalk kranksinnigheid, ‘n beroerte of soiets?

Uit dit wat in die Bybel hieroor gesê word, bly die antwoord redelik vaag.

 

Wat nie vaag is nie, was die bedoeling van hierdie vernedering.

Nou al die derde keer lei die HERE dit so dat die koning van Babel dit self uitspreek.

Na sy eerste droom en Daniël se uitleg het hy bely: “Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings” (Dan 1:47).

Na die vriende van Daniël uit die vooroond gered is, het hy uitgeroep: “Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego” (Dan 3:28).

En nou die derde keer bring die HERE hom sover om te bely: “Nou prys ek, Nebukadnesar, en ek roem en eer die Koning van die hemel; al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” (vers 37)

 

Wat ‘n indrukwekkende belydenis!

En dit is dan ook die laaste woorde wat ons van Koning Nebukadnesar in die Bybel vind.

Wat later met hom in sy lewe gebeur het, dit weet ons nie alles nie.

Maar hy verlaat die toneel met hierdie belydenis wat vir geen onduidelikheid vatbaar was nie.

 

Gemeente, so het die HERE die profeet Daniël gebruik om in tye waarin sy volk totale wanhoop beleef het, hulle weer moed te gee.

Hulle God bly die God wat in beheer is.

Wat ook met Nebukadnesar gebeur het, wat sy kranksinnigheid ook ingehou het, dit het van God gekom, soos reeds in die droom vooraf voorspel.

En die HERE het hom daarna ook weer laat bykom, en dit juis met die doel om hierdie belydenis af te lê!

Die laaste verse van hoofstuk 4 is in die ek-vorm geskryf.

Daniël haal hier as ‘t ware aan uit die koninklike dagboek, waarin Nebukadnesar presies vertel wat gebeur het, ja waarin hy bely dat God dit alles oor hom gebring het!

“En al die aardbewoners word as niks geag nie” – dit het ook vir hom gegeld, hy was ook maar net nog ‘n mens op aarde.

“Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, ‘Wat het U gedoen?’” (vers 35)

 

Gemeente, hierdie woorde is vandag onverminderd waar.

Laat ons hulle gebruik.

Die hemelse leër is al die sterre en planete.

Al dink die mensheid hulle is tot baie in staat, in God se oë is hulle ‘n stoffie op ‘n weegskaal.

Nog verder as die maan het die mens nog nooit gekom nie.

Pogings om die naaste planeet Mars te bereik, staan nog in hulle kinderskoene.

Dit terwyl Hy wat in die hemel troon met die sterre en planete maak wat Hy.

Hy stuur hulle in die bane waar Hy wil hê hulle moet gaan.

Dit sal die magtigstes en rykstes van die aarde sier om hierdie selfde woorde van Nebukadnesar ook te bely.

God sal met hulle ook maak wat Hy wil.

Die dag as Hy hulle lewe wegneem, is dit met al hulle planne gedaan.

Hy sal sorg dat hoogmoed tot ‘n val kom.

“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (Jak 4:6)

Wie enigsins sy eie mensheid begin oorskat, wie trots word, sal deur die hemel verneder word om te word soos ‘n dier, soos beeste wat plante eet, of beter gesê, plante vreet.

Hy het Nebukadnesar sover gekry om dit self te bely: “Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” (vers 37)

 

Ons sien uit na die dag as die bode, die Engel van die HERE, dit is ons Messias, deur die Vader na hierdie aarde teruggestuur word, as basuingeskal onverwags uit die hemel sal val, wat sy koms aankondig, as Hy alle aardse koninkryke, en alle opstandiges, hoe magtig hulle ook is, onder sy voete sal vertrap.

 

Gemeente, aan die begin van Daniël het Nebukadnesar die HERE verneder deur van die heilige voorwerpe uit die tempel te roof en in die tempel van sy god te gaan sit.

Daarna het die HERE die koning van Babel in die openbaar drie keer verneder, en die belydenis uit sy mond gepers dat hierdie God wie se heilige voorwerpe hy uit sy tempel in Jerusalem geroof het, ja wie se tempel hy selfs verwoes het, dat hierdie God tog die God van hemel en aarde is, nie net ‘n godjie van nog ‘n volkie wat hy verower het nie.

 

Sedertdien het hierdie God sy eie Seun na die aarde gestuur, daardie klip wat van die berg af losgeraak het.

En nadat Hy die dood oorwin het, het Hy Hom gekroon en die uitvoerende mag gegee oor hemel en aarde.

Net soos Daniël kan ons standvastig staan, onbeweeglik, beginselvas, selfs in die gesig van groot gevaar, want ons weet dat hierdie sterke Vors aan ons kant is.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Daniël 4

Teks: Daniël 4:37

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. By watter drie geleenthede het die koning van Babel publiek die mag van Daniël se God erken?
  2. Hoekom het Nebukadnesar se raadgewers nie die droom vir hom uitgelê nie, al het die koning dit self aan hulle vertel?
  3. Wat het trots met die eerste gebod te make?
  4. Hoekom het die Here vir Nebukadnesar weer herstel uit sy kranksinnigheid?
  5. Is daar ‘n hedendaagse maghebber op aarde wat jou bang maak? Bring dit in jou gebed na die Here.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 47:2,4

Wet

Ps 19:7

Gebed

Skriflesing: Daniël 4

Ps 9:12-15

Teks: Daniël 4:37

Preek

Ps 36:1-3

Gebed

Kollekte

Ps 68:1,2

Seën