Ons God kan en sal verlos in lewe en in sterwe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-09-24
Teks: 
Daniel 3:17-18 & 28
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 3:17-18 & 28

 

In die prekeserie wat ek tans hou oor die boek Daniël is hoofstuk 3 vandag aan die orde.

Dalk onthou u, verlede jaar het ek ook oor hierdie hoofstuk gepreek, toe daar jongmense uit ons gemeente belydenis van geloof afgelê het.

Vandag se preek is deels ‘n herhaling, maar dit bevat ook verdere verdieping in hierdie besondere hoofstuk in God se Woord.

Ons gaan vandag meer aandag skenk aan die aard van die drie vriende se geloof, en ook aan die optrede van die Engel van die HERE.

 

Tema: Ons God kan en sal verlos in lewe en in sterwe

1 Koning Nebukadnesar rebelleer teen God se boodskap in die droom

2 Die aard van die drie vriende se geloof

3 Die optrede van die Engel van die HERE

 

1 Koning Nebukadnesar rebelleer teen God se boodskap in die droom

Die boek Daniël laat ons iets sien van die omstandighede waaronder God se volk geleef het toe hulle in ballingskap was.

Die vryheid om God te dien was nie meer ‘n gegewe, soos dit vir baie jare in die beloofde land was nie.

Die Jode moes hulle God dien te midde van mense wat verskillende ander gode gedien het.

Die owerheid het ook nie die godsdiens aan die HERE ondersteun nie.

Daar was ‘n ander staatsgodsdiens, en om nie daaraan deel te neem nie, is gesien as vyandigheid teen die koning.

Net soos vandag, was daar toe ook regeringsleiers wat geen kritiek geduld het nie.

 

Hierdie hoofstuk begin met ‘n absolute antiklimaks.

Hoofstuk 2 het op ‘n klimaks geeïndig, toe koning Nebukadnesar openlik erken het dat Daniël se God die God van die gode is, die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse (Dan 2:47).

Dit lyk of hy die boodskap uit die droom wat God hom gegee het, goed verstaan het.

Mens sou verwag dat dit hom nederiger sou maak wat betref sy posisie.

Al was hy op daardie stadium die magtigste regeerder op aarde, dat hy tog sou besef – in lyn met die droom – dat dit tog alles relatief is.

Dat daar ‘n einde aan sy koninkryk sal kom, en dat sy ryk eintlik maar ‘n klein koninkrykie is vergeleke met die koninkryk wat uiteindelik op aarde gevestig gaan word – dink aan die klip wat vanaf ‘n hoë berg losgeraak en later ‘n rots geword het wat die hele aarde sal vul.

 

Maar hoofstuk 3 is ‘n totale antiklimaks.

Reeds in die eerste vers lees ons dat hierdie einste koning vir homself ‘n beeld maak.

Was dit geïnspireer op die droom?

Wel, dit was duidelik in opstand teen die droom.

Want nou is die beeld nie meer van allerhande metale wat verskillende koninkryke verteenwoordig het nie.

Nou is die beeld een en al goud, asof die koning wou sê:

Ek, wat in die droom die kop van goud was, ek is nou dit hele beeld.

Dit wil sê, ek sal wel altyd regeer!

Daar gaan nie silwer en brons en yster ensovoorts kom nie.

Nonsens, my goue ryk gaan ewig duur!

Gemeente, wat ‘n arrogansie!

 

Dit blyk ook uit die daaropvolgende opdrag.

Al die volke, nasies en tale in sy ryk is opgeroep om te kom na die inwyding van die beeld.

Almal moes kniel voor die beeld, eerder, wat bedoel word: met hulle gesigte plat op die grond gaan lê.

Dit was ‘n bevel.

Daaruit moes hulle onderwerping aan die koning blyk.

Om nie voor hierdie beeld te kniel nie, gesien is as vyandigheid, as miskenning van die gesag van die koning.

Hierdie beeld was regtig hoog, amper 30 meter, en dit was van goud gemaak.

Mens kan jou indink hoe ‘n indrukwekkende verskyning dit was.

Die inwyding van hierdie beeld moes ‘n onvergeetlike dag word.

Van heinde en verre uit alle uithoeke van sy koninkryk moes al die hooggeplaastes na die dal van Dura kom, ‘n paar kilometer suid van die stad Babilon..

Die hoogtepunt van die dag sou wees as almal, alle volke, tale en nasies teenwoordig, plat met hulle gesigte op die grond moes neerval en die beeld aanbid.

Duidelik was daar nie godsdiensvryheid nie.

Daar klink nie net ‘n bevel nie, daar klink ook ‘n ernstige bedreiging:

“hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.” (vers 6)

 

So gesê, so gedaan.

Massas en massas mense het bymekaar gekom onder leiding van die landvoogde, bevelhebbers, goewerneurs, raadsmanne, skatmeesters, regters, hoofamptenare, bestuurders.

En al was daar wie weet hoeveel mense, toe die koning se orkes begin speel en almal plat met die gesig ondertoe op die grond gaan lê, ja toe was dit nie moeilik om daardie enkeles te sien wat regop bly staan het nie.

En in geval die koning hulle nie gesien het nie, was daar ander – Galdese manne – wat hulle direk gaan verkla het.

“Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednego; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.” (vers 12)

Gulde geleentheid vir hierdie Galdese manne om in die koning se goeie boekies te kom.

Sadrag, Mesag en Abednego was manne wat, soos Daniël, belangrike posisies beklee het.

Moontlik was hierdie Galdese manne jaloers op hulle posisies, was hierdie ‘n poging van hulle om bevordering te kry.

 

Hierdie verloop van sake is nie iets wat in ons tyd heeltemal vreemd is nie.

Al is daar dalk nie in ons land ‘n beeld van 30 meter hoog nie, tog gebeur in wese nog steeds dieselfde.

Mense is gemeen teenoor hulle naaste, hulle sal hulle medemens beswadder, beskinder, boelie, of op watter manier ook uit die pad probeer stoot om self vooruit te kom.

En meer nog, as jy ‘n opregte gelowige is, sal daar ‘n dag kom dat mense juis jou geloof, jou Godvresende lewenswyse, sal aangryp om jou te benadeel en hulleself te bevoordeel.

As jy op Sondag van jou daaglikse arbeid rus, sal iemand dit gebruik as rede hoekom jy nie in ‘n hoër pos aangestel kan word nie, en daardie persoon wel.

Daarom, moenie verbaas wees as iets soortgelyks met ons gebeur as wat met Sadrag, Mesag, en Abednego gebeur het nie.

Hulle besingsels is op die proef gestel.

En soos ek genoem het, hulle het hulle lewe geleef in ‘n omgewing waar die diens aan die ware God nie algemeen was nie.

In daardie opsig is daar ook ooreenstemming met vandag.

Is jy ook bereid om daarvoor op te staan?

Of soos Sadrag, Mesag en Abednego, daarvoor te bly staan?

Ook as daar ‘n prys daaraan verbonde is ...?

Vir hierdie drie Jode was daar ‘n baie hoë prys aan verbonde, die prys was hulle lewe.

 

2 Die aard van die drie vriende se geloof

Ons teks wys duidelik dat hulle pal gestaan het by hulle geloof.

God se wil, soos hulle dit geken het uit die eerste en tweede gebod, het vir hulle swaarder geweeg as die koning se bevel.

Hulle het krag ontvang om vrymoedig voor die koning te getuig.

Nou mag dit voorkom in ons teks of hierdie drie manne onverskillig was, selfs of hulle nie heeltemal seker was of hulle God hulle wel sou kon red nie.

Daar staan: As onse God wat ons dien in staat is om ons te verlos ... maar so nie ...

Dit klink hier amper asof Sadrag, Mesag en Abednego onseker was of God hulle sou kon red uit daardie oond, wat so ongelooflik warm was.

 

Nou is dit so, gemeente, dat hierdie teks op twee maniere vertaal kan word.

Bogenoemde is naamlik nie die bedoeling van hulle opmerking nie.

Dit was nie dat hulle onseker was of God dit sou kon doen nie.

Daarom is dit beter om te vertaal:

As dit so is – naamlik as dit is wat met ons gaan gebeur – ons God wat ons dien is in staat om ons te verlos uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning.

En dan vervolg hulle met die woorde: maar so nie, laat dit dan aan u bekend wees dat ons dan ook nie die goue beeld sal aanbid nie.

Met maar so nie word nie bedoel dat God moontlik hulle nie sou kon red uit die brandende oond nie.

Met hulle opmerking – maar so nie – bedoel Sadrag, Mesag en Abednego iets anders.

Hulle bedoel: maar sou dit nie die wil van God wees om hulle uit die oond te red nie.

Dus dis nie dat hulle aan God se almag twyfel nie, maar dis so dat hulle as mense nie geweet het wat God se wil met hulle was nie.

Hulle het besef dat dit óók so kon wees dat hulle as martelare sou moes sterf.

En ook dan sou nie net hulle lewens nie, maar ook hulle dood van God se krag getuig.

Mog dit so wees het dat hulle moes sterf, sou die konklusie wat Nebukadnesar daaruit trek nie gewees het dat sy gode sterker was as hulle God nie.

Nee, eerder dat hulle God hulle die krag gegee het om tot in die dood standvastig te bly.

Dis wat ons uit sy mond hoor in vers 28.

Dit het die koning geweldig getref dat hulle bereid was om hulle liggame oor te gee om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.

Deur die eeue was daar ook baie gelowiges wat nie soos hierdie drie gered is, maar wel as martelare moes sterf.

Maar ook met hulle dood het hulle getuig.

Soos die ou gesegde lui, die bloed van die martelare was die saad van die kerk.

 

In elk geval, hierdie drie jong manne het besef dat hulle vir God nie voor hulle eie karretjie kon span deur van Hom te eis dat Hy hulle uit die brandende oond red nie.

Ook hierin was Sadrag, Mesag en Abednego opregte gelowiges.

Hulle het nie – soos dit vandag heet – ‘n ‘welvaartsevangelie’ aangehang nie.

Mense wat dit doen, stel hulle vertoue nie in God nie, maar in hulle geloof.

Glo in jou geloof.

Geloof in geloof.

As jy goed genoeg glo, as jy opreg genoeg bid, dan sal jy verhoor word.

So word geloof self ‘n afgod.

So word geloof ‘n krag waarmee jy God se wil kan beheer.

Pleks dat God se wil soos ons dit in die Bybel vind, jou geloof beheer.

Dis nie soos vertroue op God werk nie.

Geloof is om te buig voor God se wil, ook as sy wil anders as joune is.

Sadrag, Mesag en Abednego los die besluit of hulle gered gaan word, in God se hande.

Ons God is soewerein, en wat sy besluit ook is, ons aanvaar dis die beste.

In hulle lewens word waar wat Jesus later sou sê:

“moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt 10:28)

Die Skrif leer ons dat ons nie met ons geloof ‘n lekker lewe hier op aarde kan bestel nie.

Ook vir gelowiges gaan daar doodsvalleie wees.

Maar ons het wel die sekerheid:

“Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my” (Ps 23:4).

 

In die boek Hebreërs lees ons oor die sogenaamde geloofshelde.

Maar opvallend is dat nie almal van hulle op wonderbaarlike wyse aan gevare ontkom het nie.

Inteendeel, luister wat daar staan in Hebreërs 11 oor hulle lewens.

Ja, sommiges het hulle dode deur opstanding teruggekry, maar ander gelowiges is gefolter, gestenig, in stukke gesaag, deur die swaard vermoor.

Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel, die wêreld was hulle nie werd nie, hulle het in woestyne rondgedwaal en moes op berge en in spelonke en skeure in die grond bly (Hebr 11:35-38).

Moenie verwag dat jy vir jou geloof, vir die feit dat jy opstaan vir jou beginsels, in hierdie lewe beloon gaan word nie.

Dit is nie wat God aan sy kinders beloof nie.

Eerder is dit so dat ons deur baie verdrukkinge heen die koninkryk van die hemel sal ingaan.

Maar vertrou op die HERE dat Hy alles vir jou sal laat meewerk ten goede.

En weet, selfs as jy soos hierdie drie kinders van God in die Ou Testament, op ‘n dag ‘n brandende vuuroond sal moet ingaan, dat jy geen enkele dag alleen sal wees nie.

 

3 Die optrede van die Engel van die HERE

Die HERE het koning Nebukadnesar se oë slegs oopgemaak vir wat elke dag en nag die geval was in Sadrag, Mesag en Abednego se lewe.

Soos ons in Psalm 91 sing: “Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” (Ps 91:11)

Sy Engel was elke dag aan hulle sy.

En daardie dag toe die vuuroond nog sewemaal warmer gemaak is, het sy Engel nie van hulle gewyk nie.

Ons het gelees wat met die sterkste soldate wat in die koning se leër was gebeur het, toe hulle vir die drie Jode in die vuur moes gooi.

Aan hulle sy was nie die HERE se Engel nie, hulle het doodgebrand, net omdat hulle naby die versengende hitte gekom het.

Soms maak die HERE mense se oë oop dat hulle kan raaksien hoe nougeset Hy sy kinders oppas, hoe kosbaar hulle lewens vir Hom is.

 

Die gelowiges in die Ou Testament het gelewe met die bewussyn dat God se engele rondom hulle was.

Dink aan Psalm 91 waarna ek reeds verwys het.

Tussen hakies, gemeente, na aanleiding van die drie vriende wat uit die oond bevry is.

Soos u moontlik weet, bestaan daar ook apokriewe boeke uit die tyd van die Ou Testament.

Een daarvan is ‘n paar hoofstukke wat aan die boek Daniël toegevoeg is.

Daar is byvoorbeeld die Gebed van Asarja, toe hy in die oond was.

En daar is die Lied van die drie jongmanne, nadat hulle uit die oond bevry is.

Dis interessant om dit te lees, maar dit vorm nie onderdeel van die Bybel nie

In die Gebed van Asarja bely hy, terwyl hy in die brandende oond is, die sondes van sy volk, die rede hoekom hulle uitgelewer is aan wettelose vyande.

En nadat die vriende uit die oond bevry is, sing hulle dan saam ‘n loflied.

Hierdie apokriewe gebed en loflied is eers ‘n paar eeue later aan die boek Daniël toegevoeg.

 

Wat natuurlik ‘n feit is, is dat hulle gebid het in die oond, en uiteraard dat hulle die HERE geloof het toe hulle ongedeerd daaruit gekom het.

En feit is dat hulle ‘n lied soos Psalm 91 geken het.

“Wie toevlug neem in veil’ge hut, en skuil by die Alhoë, hy word beskadu en beskut deur God se alvermoë.” (Ps 91:1 berymd)

Hierdie vertroue het in hulle hart geleef, toe hulle in die vuuroond gegooi is.

En toe hulle ineens ‘n vierde persoon saam met hulle in die oond sien, het hulle besef dis die Engel van die HERE.

 

En vandag in die Nuwe Testament weet ons nog veel meer oor hierdie Engel van die HERE.

Hy wat reeds in die Ou Testament sy skape beskerm het.

Die woord engel verwys oor die algemeen na ‘n bode, iemand wat deur God gestuur word met ‘n boodskap.

Maar die term Engel van die HERE is meer as net ‘n bode.

Ons leer Hom in die Ou Testament ken as een wat handelend optree, self besluite neem, eie inisiatief neem.

Hy het Israel beskerm by die uittog en hulle gelei deur die woestyn.

Hy het Bileam gekeer wat oppad was om die volk te vervloek.

Hy het Elia moed ingepraat en nuwe opdragte gegee, na sy totale insinking (1 Kon 19:7).

Hy het, toe Jerusalem deur Sanherib beleër is, in die nag 185 000 man in die Assiriese leërkamp om die lewe gebring, en so veroorsaak dat Sanherib die beleëring beëindig en teruggekeer het na Ninevé (2 Kon 19:35).

En net so is die Engel van die HERE hier aktief in die vuuroond besig om Sadrag, Mesag en Abednego te beskerm.

In die Nuwe Testament, gemeente, leer ons die Engel van die HERE nog beter ken.

Hy het toe weer na die aarde gekom, en dit het duidelik geword dat Hy die eniggebore Seun van God is, Jesus Christus, ons Verlosser, ons Here!

Hy was nog soveel gehoorsamer as Sadrag, Mesag en Abednego.

Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.

Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (HK Sondag 1).

Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond gekom sonder dat hulle hare geskroei het – vers 27 (Dan 3:27).

Dit is die vlak van beskerming wat Hy aan sy kinders bied.

 

Daar is momente wanneer ons die HERE se beskerming baie tasbaar sal ervaar, soos hierdie dag in Sadrag, Mesag en Abednego se lewe.

Daar is ander dae waarop ons nouliks bewus sal wees van God se beskerming, en tog beskerm die HERE ons in sulke dae net soveel.

Verseker van hierdie onwankelbare beskerming, roep die HERE jou net op om sy Engel te vertrou.

Doen sy wil van harte, ook al lyk dit ‘n dom keuse in hierdie teenwoordige wêreld.

Sy seën sal daarop rus, vertrou Hom maar.

 

Die hoofdoel van ons godsdiens is nie om ‘n versekeringspolis te wees vir hierdie lewe nie, om ons ryk en voorspoedig te maak nie.

Soos Jesus ons waarsku: “elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” (Matt 16:25)

Toe Sadrag, Mesag en Abednego besluit het om nie neer te val nie, was hulle motief nie om daardeur bevordering te kry nie.

Inteendeel, dit was gewoon gehoorsaamheid aan die HERE se eerste en tweede gebod.

En toe hulle aan die einde van hierdie dag tog wel deur die koning bevorder is (want dit is die betekenis van vers 30), was dit enkel genade.

 

En dit is die belangrikste boodskap wat hierdie geskiedenis ons leer.

Sadrag, Mesag en Abednego se lewens was nie op hulleself gefokus nie.

Hulle lewe was gerig op die eer van hulle God.

God het getrouheid in hulle lewe gewerk, en daarin het Hy sy Naam verheerlik.

Die uiteinde van hierdie drie jongmanne se vertroue, se beginselvastheid, was dat God se Naam verheerlik is, selfs deur die heidene.

 

Nebukadnesar se afgodsbeeld, sy gode was dood, doof en stom.

Nog erger, sy gode was minder magtig as hyself.

Hy het sy gode beheer, nie andersom nie.

Sy gode was nietig en onmagtig.

Maar deur hierdie geskiedenis het duidelik geword wie die ware God is, en dat Hy almagtig is!

Hy het hierdie drie jongmanne se lewe gebruik om dit aan die heidenwêreld duidelik te maak.

Nebukadnesar se gevolgtrekking na hierdie dag was ondubbelsinnig:

“Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.”

So sorg God self dat sy Naam verheerlik word onder die heidene.

Al was Nebukadnesar magtiger as sy eie gode, hy was nie magtiger as die ware lewende God nie.

God gebruik hom om sy eer op aarde te laat klink.

God sorg self daarvoor dat Nebukadnesar die bevel uitreik, vers 29, “dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, stukkend gekap en van sy huis ‘n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie.”

 

Om die HERE te loof en eer, van sy Naam en heerlikheid te getuig, dit is ons lewensdoel.

Daarvoor gebruik God ons op aarde.

Daarin vind ons ons vreugde.

Daarvin vind ons die beskerming wat ons so nodig het, vir hierdie lewe en selfs vir die lewe tot in ewigheid.

Ja ons God kan en sal verlos, in lewe en in sterwe.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Daniël 3

Teks: Daniël 3:17-18

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat het die goue beeld van Daniël 3 te make met Nebukadnesar se droom in Daniël 2?
  2. Het Sadrag, Mesag en Abednego aan God getwyfel toe hulle gesê het: “As ons God wat ons dien, in staat is om ons te verlos ...”? Verduidelik.
  3. Verduidelik hoe die teks krities is oor die sogenaamde welvaartsgeloof of welwaartsteologie.
  4. Gee voorbeelde van wat die Engel van die HERE in die Ou Testament gedoen het.
  5. Wat doen die Engel van die HERE in jou lewe?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 91:1

Wet

Ps 34:4,6

Gebed

Skriflesing: Daniël 3

Ps 35:1,2

Teks: Daniël 3:17-18 & 28

Preek

Ps 91:5-8

Gebed

Kollekte

Ps 23:1 (eerste beryming); 2 (tweede beryming)

Seën