Daniël se gebed in nood

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-09-03
Teks: 
Daniel 2:1-23
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 2:1-23

 

Die dekor waarbinne hoofstuk 2 afspeel, is in hoofstuk 1 reeds voorberei.

Die boek begin met hoe Daniël en sy vriende in ballingskap gevoer is.

Hoe Nebukadnesar hulle in sy paleis opgeneem het, met die doel om hulle ‘n spesifieke opleiding te gee.

Hulle sou gebreinspoel word om raadgewers van die koning te word.

Dit was in die heidense konteks, waar die sterre geraadpleeg is en nog ander vorme van towenary en waarsêery beoefen is.

Hulle sou ook ‘n spesiale dieet ontvang.

In die vorige preek oor Daniël het ons gesien dat die jong Joodse manne dit geweier het.

Dit was teen hulle beginsels.

Hulle is deur hulle ouers opgevoed om die ware God te dien.

Hulle het sy Woord geken, ook sy voedselwette.

Die HERE het dit so gelei dat die bediende wat hulle kos voorberei het, bereid was om hulle voorstel te beproef.

Vir tien dae lank mog Daniël en sy vriende hulle eie kos eet.

Die afloop was buitengewoon gunstig.

So sluit hoofstuk 1 af, dat in daardie vreemde heidense omgewing die HERE tog sy vier verbondskinders opgepas het en selfs baie suksesvol gemaak het.

Want ons lees aan die einde van die eerste hoofstuk dat onder al die studente niemand gevind is soos Daniël, Hananja, Misael en Asarja nie (1:19).

In enige saak wat wysheid en insig geverg het, het hulle al die geleerdes en besweerders tien maal oortref.

 

Dit is die dekor vir hoofstuk 2.

Want nou gaan hulle op die proef gestel word.

 

Gemeente, die boek Daniël kan vir gelowiges wat in ‘n heidense goddelose omgewing moet woon en werk, baie leer.

Toenemend geld dit ook vir ons.

Wie studeer, doen dit saam met mense van allerhande godsdienste, of gebrek aan godsdiens.

Wie werk, ontmoet op die werksvloer mense met baie uiteenlopende lewenstyle.

Hoe funksioneer ons as verbondskinders in so ‘n omgewing?

Hoe kan ons ‘n lig in ‘n donker wêreld wees (jaartema)?

 

Ons skenk vandag aandag aan die eerste deel van hoofstuk 2.

In ‘n volgende preek gaan ons na die inhoud en uitleg van Nebukadnesar se droom kyk.

 

Tema: Daniël se gebed in nood

1 Onverwagte lewensgevaar

2 Onverwagte ingryping

3 Opregte gebed

4 Opregte danklied

 

1 Onverwagte lewensgevaar

Kort na hulle opleiding ontstaan daar ‘n groot vertrouensbreuk tussen Nebukadnesar en sy raadgewers.

Koning Nebukadnesar het naamlik ‘n baie rare droom gehad.

Dit het hom baie ontstel.

Die res van die nag kon hy nie meer slaap nie.

Het jy soms ‘n ontstellende droom, broer, suster?

Dat jy wonder of daar iets agter sit?

By die heidene was dit driedubbel die geval.

Drome het per definisie vir hulle ‘n boodskap gehad.

En in teenstelling tot die gewone volk, het die koning selfs spesialiste in diens gehad om drome te verklaar.

 

Maar hierdie keer was die koning baie onredelik teenoor hulle.

Wat hom daartoe gebring het ...

Agteraf is duidelik dat dit net die HERE kon gewees het wat hom sover gebring het dat hy juis op daardie einste dag sy geleerdes en besweerders wou uittoets, net toe Daniël en sy vriende ook deel van hierdie groep geword het.

 

Die geleerdes het dadelik besef dat hulle nou in ‘n hoek vasgekeer was.

Kyk, om ‘n droom te verklaar, is een ding.

Maar om iemand anders se gedagtes te lees ...

Geen boek, geen sterre, geen towerwoorde sou hulle daarby help nie.

 

Maar die koning was ongenaakbaar.

Die droom het hom duidelik baie buierig gemaak.

Was dit nie die Heilige Gees wat hierdie wantroue teenoor sy geleerdes en towenaars in sy hart laat posvat het nie?

Kortaf het hy geantwoord, toe sy dienaars soebat om die droom eers vir hulle te vertel:

“Die saak staan vas by my. As julle nie aan my die droom en sy uitleg bekend kan maak nie, sal julle ledemate afgekap word, en van julle huise sal vullishope gemaak word.” (vers 5, 2020-vertaling)

Daarenteen was die beloning vir wie wel die droom kon vertel, skouspelagtig groot.

Maar opvallend dat nie een van die geleerdes of besweerders daarvoor val nie.

Hulle wat hulleself so belangrik voordoen, as dit by die punt gekom het, was hulle tot weinig in staat.

Daar was geen ander opsie as om hulle maskers af te haal en te soebat nie:

O koning, daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie ... Tussen die lyne spot die Bybel met hierdie geleerdes.

Slegs die gode sou so iets kon doen, sê hulle.

Maar kan hulle dan nie met hulle gode kontak maak nie?

As die puntjie by die paaltjie kom, nee, vir hulle is die hemel geslote.

Wanhopig soebat hulle die koning:

U het nog nooit so iets onmoontliks van ons verwag nie. (vers 10)

 

Maar hulle gesoebat het nie gehelp nie.

Die koning was baie humeurig.

Hy beskuldig hulle selfs van gekonkel.

Hy verloor sy humeur.

‘n Heidense koning wat sy humeur verloor, dit was bitter gevaarlik.

Daar was nie hofsake nie, daar was nie onafhanklike regspraak nie.

As hy bevel gee om hulle dood te maak, het die lyfwag die bevel uitgevoer.

 

2 Onverwagte ingryping

So gesê, so gedaan.

Maar dan sien ons dat die HERE ineens weer ingryp.

‘n Oënskynlik klein insident, maar tog het dit die gang van die geskiedenis verander.

Want Daniël 1het ‘n taktvolle en verstandige antwoord gegee aan Ariog, die hoof van die lyfwag, toe hy die vonnis by hom te hore kry.

Sy geloof het hom rustig gemaak, ook in die oog van die dood.

En Ariog, hoewel dit vir homself ‘n groot risiko ingehou het, was bereid om na Daniël te luister.

 

Gemeente, daar is ‘n Bybelteks wat ons as gelowiges oproep: Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend wees (Fil 4:5).

As gelowiges gaan ons vriendelik, verstandig, hoflik deur die lewe.

Ons behandel ander mense met respek, al is hulle nie Christene nie.

Dit het dikwels ‘n uitwerking.

So het Daniël met sy verstandige antwoord guns gevind by Ariog.

 

Daniël word toegestaan om voor die koning te verskyn.

En weer gebeur die skynbaar onmoontlike.

Daniël wat probeer tyd koop, slaag daarin.

Die koning staan toe dat die vonnis uitgestel word, meer tyd word aan die geleerdes gegun om met hulle antwoord te kom.

En, Daniël spog nie by Nebukadnesar oor sy eie insig en kennis nie.

Hy getuig van sy God wat wel tot soiets in staat is, en as dit sy wil is, sal hy dit aan Daniël bekend maak.

Maar nie onmiddelik nie.

Dis nie dat Daniël dit kan eis nie.

Eers moet hy huis toe gaan, op die knieë gaan.

 

3 Opregte gebed

Gemeente, dit is ‘n tema wat ons meer as een keer in die boek Daniël vind.

Daniël wat bid, bid in die rigting van Jerusalem, bid in haglike omstandighede.

Dink aan toe Haman en sy kollega’s probeer het om hom om die lewe te bring.

Dink aan toe Daniël in die leeukuil was.

Nêrens sien ons dat Daniël verlossing eis nie.

Maar hy smeek.

Hy gaan op sy knieë, oftewel hy verootmoedig homself.

Hy smeek die Here, op grond van sy genade.

 

En gemeente, dit geld ook vir ons.

Al het Christus vergifnis moontlik gemaak, al het hy dit verdien met sy betaling aan die kruis, tog eis ons dit nie, maar verootmoedig ons onsself, vra nederig om vergewing.

Soos Hy ons geleer het: Vergewe ons ons skulde ...

En net in sy Naam is die Vader dan bereid om te hoor en te verhoor.

 

Nou kan ons daarvan uitgaan dat Daniël en sy vriende net so wanhopig was as hulle kollega’s.

Dit is nie vreemd aan gelowiges om wanhopig te raak nie.

Maar, gemeente, wat doen ‘n gelowige, as hy wanhopig word?

Hy sak op sy knieë, hy kyk op.

Hy vlug na sy God.

Dikwels het ons as gelowiges sulke momente nodig.

In die gewone lewe bid ons dalk roetinematig, sonder dat ons werklik iets daarvan verwag.

Dis veral in tye dat die dood onafwendbaar en baie naby kom, dat ons werklik op die knieë gaan.

So skryf Paulus dat die Here dis so gelei het dat hy aan sy eie lewe gewanhoop het, 2 Korinthiërs 1: “ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie ...” (vers 9)

En nie net Daniël alleen nie, hy skakel sy vriende in.

As ‘n gelowige wanhopig is, hou hy dit nie vir homself nie.

Hy deel dit met sy medegelowiges.

 

So ook Daniël en sy vriende.

Hulle gaan raadpleeg nie hulle heidense boeke en dies meer nie.

In gebed pleit hulle op God se barmhartigheid.

Dat Hy Hom sal ontferm oor hulle, maar ook oor al die ander geleerdes en besweerders.

Inderdaad gemeente, as gelowiges wens ons nie vir die dood van die goddelose nie, maar soos die Skrif sê, dat hy homself bekeer en leef.

Opvallend dat Daniël se optrede heeltyd solidêr was.

Al het die geleerdes en besweerdes dit nie verdien nie, tog kom Daniël vir hulle op.

Soek hy die beste vir sy kollega’s.

Baie opmerklik, in die lig van die feit dat sy kollega’s, met Hamman voorop, later aktief probeer het om van hom ontslae te raak.

So is ons as gelowiges nie.

Ons werk nie met ons elmboë nie.

By die werk is ons solidêr, soek ons ook die welsyn van ons kollega’s.

As gelowige versprei jy ‘n aangename geur in jou omgewing.

Ons is begaan oor sondaars se lot, ook die van owerheidspersone wat oor ons aangestel is.

So word ons opgeroep in 1 Timotheüs 2:

“dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense, vir konings en almal wat hooggeplaas is” (1 Tim 2:1-2)

Ons kan aanneem dat Daniël se gebed nie net was dat hulle gered sou word nie, maar dat hy ook vir koning Nebukadnesar gebid het.

 

Wat die uitwerking van Daniël en sy vriende se gebed sou wees, het hulle nie vooraf geweet nie.

Gebed is nie ‘n bestellysie wat God verplig om uit te voer nie.

Hulle het wel gebid met die wete dat God tot alles in staat is.

En die volgende oggend het Daniël geweet dat die visioen wat hy die afgelope nag gehad het, nie toevallig kon gewees het nie.

Inderdaad, Hy, die lewende God, het sy gebed verhoor.

As jy vir Hom bid, sal blyk dat die hemel nie geslote is nie.

 

4 Opregte danklied

Daar het t‘n danklied in sy hart opgewel, ons lees dit in verse 20-23.

Daaruit blyk hoe hy onder die indruk is van die droom en sy uitlegging.

Hy besef dat daardie droom ‘n bewuste boodskap van God aan koning Nebukadneser ingehou het.

Juis vir ‘n koning wat volgens aardse maatstawe so magtig was.

Uit sy danklied, klink die troos dat alle konings in God se hand is.

Dis ‘n lofpsalm wat mens eintlik behoort te berym, net soos die ander psalms.

Daniël bely verwonderd dat hulle nie oorgelewer is aan die koning se grille nie, inteendeel, God regeer.

Dit was geweldig bemoedigend vir daardie Jode in ballingskap.

Om vas te hou aan hulle geloof is ook in daardie vreemde land geseën.

Sover ons weet het Daniël nooit weer teruggekeer na die beloofde land nie maar is in Babel oorlede.

Hy en nog baie ander Jode saam met hom was ‘n lig in ‘n donker wêreld, om van die ware lewende God te getuig.

Hulle was voorbodes van die Nuwe Testament.

God het hulle ‘n lig gemaak vir die nasies.

Toe die apostels die evangelie van Jesus Christus se opstanding op hulle sendingsreise die heidenwêreld ingedra het, het hulle baie Jode in die Diaspora, die sogenaamde verstrooiing, ontmoet, wat in daardie lande nog steeds die ware God gedien het.

In daardie vreemde lande was die HERE by hulle, en Hy het hulle nie in die steek gelaat nie.

 

Dit is vir ons net so belangrik dat ons hieraan herinner word, elke week weer.

Deur die week kyk ons dikwels die nuus, op televisie, ons lees dit op ons fone.

Al so gou gebeur dit dat ons meer tyd per week bestee aan die lees van allerlei aktuele nuusberigte as die tyd wat ons op Sondag na die preke luister, en deur die week die Bybel lees.

Wie die heeltyd net allerlei nuusberigte lees, kan vinnig wanhopig raak.

Ons voel magteloos in die hande van politieke leiers, politieke partye, presidente en ministers op wie ons geen invloed het nie.

Hulle raak so groot vir ons gevoel, dat Christus en sy heerskappy op die agtergrond verdwyn.

Politieke leiers doen wat hulle wil, dit lyk of hulle onaantasbaar is.

Ons is bevrees, want dit wat hulle doen en sê, het ‘n direkte negatiewe uitwerking het op ons en ons kinders se toekoms.

Wat kan mens doen?

Dit is hoe die raadgewers van die koning gevoel het, Daniël inkluis.

Magteloos, omdat Nebukadnesar in die posisie was om te doen wat hy wou.

 

Wat God daardie nag aan Daniël bekend gemaak het, was om hom net weer te herinner wie die mag het oor  al die regeerders van die wêreld.

Daar is geen regeerder of owerheid wat nie deur Hom aangestel is nie (Rom 13:1).

En dus is dit Hy wat tye en omstandighede kan verander, wat konings kan aanstel of afsit (vers 21).

 

Uit Daniël se danklied spreek opnuut daardie besef.

Sy God is almagtig.

Sy God is alwetend.

Hy ken ook die diepste gedagtes en drome van die konings.

Nebukadnesar kon sy droom wegsteek vir sy raadgewers, maar nie vir God nie.

Meer nog, God het daardie droom aan hom gegee.

Dit was sy werk om Nebukadnesar onrustig te maak, hy wat homself so almagtig gewaan het.

 

Gemeente, om te besef dat daar ‘n God is wat al jou gedagtes kan lees, maak mens baie nederig.

Maar dit is ook gerusstellend.

Want as hy konings en presidente se gedagtes kan lees, dan kan Hy ook keer dat hulle iets doen wat nie sy wil is nie.

Die boodskap aan Daniël en Nebukadnesar is duidelik.

Die toekoms van hierdie aarde, en watter magtige koninkryke daar nog op aarde gaan opstaan, is vir die HERE nie verborge nie.

Hy bepaal, aan Hom behoort die toekoms.

Dit is ‘n troos, soos die HERE deur Jeremia gesê het: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.” (Jer 29:11)

 

Christus se heerskappy is reeds in die boek Daniël duidelik aanwesig, dit word voorspel, selfs in die drome van heidense konings.

Daaraan hoop ons in die volgende preke oor Daniël aandag te skenk.

Ons leef nou in daardie era wat reeds in Daniël voorspel is.

Christus het opgestaan, Hy het opgevaar en teruggekeer na die hemel, Hy is verhoog en heers daar as Koning van die konings.

Dit is iets wat dikwels vir ons net teorie bly, veral as die lewe voor die wind gaan, as ons lewe besig is.

Maar soms is daar momente van wanhoop, reële gevaar, in jou persoonlike lewe, in ‘n land se bestaan, in die kerk se bestaan, momente wat ons opnuut op die knieë dwing.

Gemeente, laat jou opregte gebed klink in tye van onverwagte lewensgevaar.

Laat jou opregte danklied klink, in tye van onverwagte ingryping.

Daniël se loflied is onverminderd aktueel:

Mag die Naam van God van ewigheid tot ewigheid geprys word ...

Hy verander tye en tydperke;

Hy sit konings af en stel konings aan.”

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 148:1,5

Wet

Ps 139:1-5, 12

Gebed

Skriflesing: Daniël 2

Ps 30:1,2

Teks: Daniël 2:1-23

Preek

Ps 89:11,12

Gebed

Kollekte

Ps 138:2-4

Seën