Die waarheid oor alle wêreldse lig

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-08-13
Teks: 
Dordtse Leerreels 3/4 par 4
Preek Inhoud: 

In die vorige preek na aanleiding van die Leerreëls het ons aandag geskenk aan die sterwende boom en die lewende boom.

Die evangelie is dat ons steeds meer bevry word van die erfsonde, omdat die Heilige Gees ons afsaag van die sterwende boom, wat Adam as stam het, en ons inplant op die lewende boom, waarvan die stam Christus is.

 

In vanaand se preek kyk ons weer na die sterwende boom se toestand, na aanleiding van paragraaf 4, waar die vraag gevra word:

Het die mens na die sondeval nog ‘n bietjie lig oorgehou?

Lig van die natuur, soos dit hier in paragraaf 4 genoem word.

Die mens het mos nog ‘n vae besef dat daar ‘n God is?

Hy kan tog nog enigsins onderskeid maak tussen wat betaamlik is en nie?

Die mensheid in die algemeen vertoon tog nog ‘n bepaalde strewe na deug?

Wat is die status van hierdie bietjie lig wat nog oorgebly het?

 

Tema: Die waarheid oor alle wêreldse lig

1 Die bankrotskap van die wêreldse lig

2 Die krag van die hemelse lig

 

1 Die bankrotskap van die wêreldse lig

Die Dordtse Leerreëls sny dadelik die gedagte af dat hierdie bietjie lig kan lei tot, soos daar staan, saligmakende kennis van God.

Hierdie bietjie lig is nie genoeg vir die mens om tot bekering te kom nie.

En dan noem die Leerreëls iets wat des te tragieser is.

Eintlik is hierdie lig glad nie tot voordeel van die mens nie.

Hy, soos daar staan, hul dit in ongeregtigheid.

Hy sit ‘n emmer daaroor, sodat dit weer donker kan wees.

En daarom, so sluit die paragraaf af, ten spyte van die bietjie lig, het hy geen verontskuldiging voor God nie.

 

Die Skrifgedeelte wat ons gelees het, Jesus se gesprek met Nikodemus, help ons om te besef wat daar werklik aan die hand is met die mens en wat hy nodig het.

Kom ons gaan net eers weer terug na paragraaf 4, waar daar gesê word dat die mens na die sondeval tog nog ‘n bietjie van die lig van die natuur behou het.

Vir die wêreld klink hierdie as ‘n belediging.

Want al insig van die wêreld, al die wetenskaplike kennis, alle ontdekkings wat ooit gemaak is, alle kennis oor die mense, plante diere, sterre, planete ensovoorts, dit word hier maar net ‘n bietjie lig van die natuur genoem.

 

As mens om jou heen kyk, kan jy vinnig onder die indruk kom van wat die mens alles bereik het.

Die mensdom het die insig bemeester om te kan vlieg, hy het selfs al op die maan geland.

Die mensdom weet al hoe meer van die menslike liggaam, tot die vlak van elke mens se unieke genetiese kode.

Die mensdom kan wonders doen om lewens te red, selfs hartoorplantings is moontlik.

Ons lewe ook vandag in ‘n era van digitale kommunikasie, waar jy met iemand aan die ander kant van die wêreld kan praat, en ook nog daardie persoon kan sien op jou rekenaarskerm of jou foon, en dit vir ‘n appel en ‘n ei.

Ongelooflike ondekkings en ontwikkelings.

En so kan ek aangaan om ‘n lang lys van prestasies te noem van die mensdom.

Geen wonder baie mense het humaniste geword, bedoelende dat hulle op die mens en sy insigte vertrou.

Mense verwag veel van die toekoms, hulle glo die mensheid sal in die toekoms nog baie meer kan vermag.

 

Maar dan kom die woorde van die Dordtse Leerreëls soos ‘n koue stort.

Daardie bietjie lig van die natuur ...

Soos u weet, is Adam en Eva destyds na God se beeld geskape.

Dit wil sê hulle moet God op aarde verteenwoordig en namens Hom oor alles regeer.

Daartoe het die Here hulle geskep met besondere gawes.

Die sondeval, hulle rewolusie teen God, het dinge egter totaal verander.

Sê nou maar die sondeval sou nie plaasgevind het nie, dink net watter hoogtes die mens dan sou kon bereik!

Ja, vandag het die mens nog die verstand, hy het nog sy menslike natuur en eienskappe, waarmee God hom geskape het.

Maar laat ons eerlik wees.

Die manier hoe die mens sy verstand gebruik, is op ‘n egoïstiese wyse.

Dis net om homself te bevoordeel.

Hy gebruik al sy talente nou in sy opstand teen God.

Dis nie meer om sy Skepper te dien en vir die skepping die optimale sorg te gee nie.

Die mens gebruik, eerder misbruik, sy talente – daardie lig van die natuur.

Dit word selfs ingespan om ander mense dood te maak.

Die mees sprekende voorbeeld is natuurlik die produksie van wapens.

Buskruit, kernkrag, besondere dinge wat deel is van die skepping.

Maar dit word ook gebruik deur die mens om oorlog te maak.

Net tussen hakies, ek noem dit nie om passifisme aan te prys nie.

Ongelukkig is dit so dat daar met wapens ‘n magsbalans gehandhaaf moet word, om die kragte van die kwaad te tem.

Maar toe die Here die aarde geskape het met die moontlikheid tot buskruit en kernkrag, was sy bedoeling beslis nie om vernietigende bomme daarvan te maak nie.

 

So, pleks van dat die mens God eer en vir sy skepping sorg met sy gawes, gebruik hy sy brein nou om strategieë uit te dink om van God af weg te kom, Hom nie meer nodig te hê, die mens self in die middelpunt te plaas.

Dit is presies soos paragraaf 4 dit verwoord: Hy bederf alles en hul dit in ongeregtigheid.

 

Die mens is ook deur God geskape met die besef van reg en verkeerd.

Na die sondeval het hy nog steeds daardie besef.

Egter, omdat hy na sy rewolusie self nou op die troon wil sit, gebruik hy daardie besef om sy eie maatstawwe aan te lê, om self te bepaal wat reg en verkeerd is.

Daar is baie sprekende voorbeelde in vandag se tyd.

As die Bybel sê dat God die mens man en vrou geskape het, dan weet die mens beter.

Nee, daar is nie net twee geslagte nie ...

As die Bybel sê dat homoseksualiteit verkeerd is, die mens trek ander lyne as dit by reg en verkeerd kom.

 

En daarom, sê paragraaf 4, help hierdie lig van die natuur, hierdie ingeskape gawes wat hy nog behou het, vir hom niks tot sy saligheid nie.

Op grond van sy ‘gesonde’ verstand kan hy nie self sover kom om by die objektiewe waarheid uit te kom en hom tot God te bekeer nie.

In artikel 5 van die verwerping van die dwalinge by hierdie hoofstuk lees mens – dit was die posisie van die Remonstrante:

“Die ... natuurlike mens kan die algemene genade (waaronder hulle die lig van die natuur verstaan) ... tot sy heil gebruik. Deur dit só te gebruik, kan hy geleidelik ‘n groter genade, naamlik die ... verlossende genade en die saligheid self, verkry.”

Maar, die punt is, ‘n ‘gesonde’ menslike verstand, wat die mens kan gebruik tot sy ewige voordeel, bestaan nie meer nie.

Die mens se verstand is so besoedel deur die sonde dat alles wat hy uitdink met sonde bevlek is.

As hy iets in die skepping ontdek, dan is sy neiging steeds maar weer om dit in sy eie egoïstiese belang te gebruik.

Daarom sal die mensheid nooit self ‘n paradys op aarde kan vestig nie.

Die aarde se toestand verslegter steeds, beweeg steeds verder af weg van die paradystoestand.

Daarom sal die mensheid nooit self op eie krag die pad na God terugvind nie.

Uit hulleself wil hulle ook nie.

Die mensheid wil self voortboender in sy egoïstiese rigting.

 

(Tema: Die waarheid oor alle wêreldse lig

1 Die bankrotskap van die wêreldse lig)

 

2 Die krag van die hemelse lig

 

Soos ek genoem het, gemeente, die Skrifgedeelte wat ons gelees het, Jesus se gesprek met Nikodemus, help ons om te besef wat daar werklik aan die hand is met die mens en wat hy nodig het.

Nikodemus was ‘n baie geleerde man.

Hy het met Jesus ‘n diep teologiese gesprek aangeknoop.

Met sy kennis en insig het hy probeer om te verklaar wie Jesus is, hoe dit byvoorbeeld vir Jesus moontlik is om sulke wonders te verrig.

Op sig was hy bereid om die meriete van Jesus in te sien, erkenning te gee aan sy prediking en sy wonders, maar oor sommige dinge wou hy eers nog duidelikheid hê.

Hy wou dit wat Jesus doen, en wie Jesus is, probeer inpas in sy teologiese sisteem, in sy denke.

 

Maar dan sê Jesus reguit vir hom: Jy gaan My nie kan verstaan nie, jy gaan My nie kan inpas in jou teologiese sisteem nie.

En jy gaan nie tot erkenning van My kom deur jou eie geleerdheid nie.

Daardie insig van jou is maar ‘n baie flou vonkie.

Wat jy daarenteen nodig het, is wedergeboorte!

Hierdie term wat Jesus gebruik, “weer gebore”, is eintlik verkeerd vertaal.

Want letterlik staan daar in Grieks: gebore van bo af.

Jesus kontrasteer die gewone geboorte van ‘n mens, sy aardse geboorte, met nog ‘n geboorte, maar dis ‘n geboorte wat van bo af plaasvind.

En wat Hy presies daarmee bedoel word duidelik in vers 6, as Hy sê dat daar ‘n geboorte is uit die Gees.

Die geboorte uit die Gees is nie in een dag verby nie.

Wie die Gees ontvang, begin met ‘n proses van die geboorte van die nuwe mens in hom, en dit is ‘n proses wat die res van sy lewe sal duur, al is daar soms ‘n terugval, tye wat ons die Gees bedroef.

 

Waar dit hier oor gaan, is dat Jesus vir Nikodemus duidelik maak dat erkenning van die Messias slegs kan gebeur as die Gees in iemand werk.

Saligmakende kennis van God – soos die Dordtse Leerreëls dit uitdruk – dit kan ‘n mens nie self bereik nie.

Met al Nikodemus se teologiese insigte en al sy kennis wat hy deur die jare opgedoen het, kan hy nie self by redding uitkom nie.

Soos daar in paragraaf 6 staan: “Wat nie deur die lig van die natuur ... gedoen kan word nie, dit doen God deur die krag van die Heilige Gees.”

Net die krag van die hemelse lig kan dit doen.

En dan, soos ons weet, die manier hoe die Gees dit doen is deur middel van die bediening van die versoening, deur die verkondiging van die Woord en die sakramente.

 

Geliefde gemeente, ons het in vanoggend se erediens aandag geskenk aan die feit dat die nagmaalstafel ‘n geslote tafel is.

Dit is ‘n fees wat bedoel is vir die gelowiges.

Mense wat geweldig baie teologiese kennis het, maar nie ‘n opregte geloof in Jesus nie, hulle kan nie saamvier nie.

Eers moet iemand tot geloof en bekering gekom het, begin met die geboorte van bo deur die Heilige Gees, al sy heil en saligheid van Christus verwag.

Eers dan kan iemand saam nagmaal vier.

Met die sogenaamde lig van die natuur kan ‘n mens homself nie waardig maak om deel te neem aan die nagmaal nie.

Soos die nagmaalsformulier sê: Dit is slegs God wat ons “waardig maak om deel te hê aan hierdie hemelse voedsel en drank”.

Dit gebeur slegs deur die krag van sy hemelse lig.

 

Dit is die boodskap van Jesus aan Nikodemus, en so ook aan ons.

Dit maak van ons baie nederige mense.

Ons het vandag nagmaal gevier, nie omdat ons beter of waardiger uit onsself is as hulle vir wie die tafel nog gesluit is nie.

Ons het nie nagmaal gevier omdat ons ons verstand beter gebruik, omdat ons die lig van die natuur beter kan verklaar, omdat ons meer kennis het nie.

Uit onsself is ons soos elke ander mens op aarde.

Ons eie lig is bankrot.

Maar ons behoort aan Christus, Hy het ons as sy eiendom gekoop.

Deur sy Gees maak Hy ons waardig om nagmaal te vier.

 

En daarom gaan vandag se viering gepaard met die oop uitnodiging aan elke mens:

Kom na Christus toe!

Vind jou redding in Hom.

Vertrou Hom, Hy sal jou waardig maak!

In die sin is die nagmaalstafel wel ‘n oop tafel.

Daar is altyd plek vir nog meer mense, mense wat hulle saligheid by Christus alleen soek, mense wat totaal ontnugter is in hulleself en in die mensheid en al sy aspirasies.

 

Dit laat my dink aan die bekende gelykenis van die bruilof (Matt 22:1-14).

Die koning het in die bruilofsaal iemand gevind wat nie ‘n bruilofskleed aangehad het nie.

Hy het woedend geword en bevel gegee dat daardie persoon met hande en voete gebind en in die buitenste duisternis uitgewerp moes word.

‘n Verskriklike einde van hierdie gelykenis.

Hoe kan jy iemand wat nie mooi genoeg klere het wegjaag uit die bruilofsaal?

 

Maar gemeente, die punt hier is dat niemand met hulle eie klere in die bruilofsaal ingekom het nie.

Die gewoonte was dat ‘n koning aan elkeen ‘n bruilofskleed voorsien het.

As daar dus iemand sonder een in die saal gesit het, was dit iemand wat nie belang gestel het in die koning se kleed nie, iemand wat ingenome was met sy eie klere.

 

Kyk, dit was alreeds so dat baie van hulle wat uitgenooi is, nie opgedaag het nie.

Die koning het sy diensknegte toe opgedra om almal wat hulle buite op die strate raakloop, uit te nooi.

Dit was mense soos boemelaars en bedelaars, arm mense.

Moenie dink hulle het netjies klere gehad nie, eerder vodde.

Hulle sou maar al te bly gewees het met die bruilofskleed wat hulle aangebied is!

Ons mis die punt as ons sou dink dat die mense self vir daardie bruilof moes ‘opdress’.

Jesus se boodskap met die gelykenis is duidelik.

Met jou eie goeie werke, ja selfs met jou beste werke, as ‘t ware met jou allermooiste klere, is jy vir God nie aanvaarbaar nie.

So kan die wêreld ook nie tot saligmakende kennis kom, en dit het ook vir Nikodemus gegeld, op eie krag en met eie insigte nie.

Bekering en wedergeboorte was noodsaaklik, ‘n geboorte uit die Gees.

‘n Gedaanteverwisseling, ‘n metamorfose, as die Gees jou ou sondige mens uittrek en jou beklee met ‘n bruilofskleed, ja met Jesus Christus self, dat sy werke, sy soenverdienste, aan jou geskenk word.

 

Dis is die boodskap van vandag se nagmaal.

Jy kan nie hier aan tafel sit sonder ‘n bruilofskleed wat God jou skenk nie.

As jy met jou eie klere, dit wil sê, met jou eie goeie werke, met jou eie kennis en insigte hier opdaag, dan word jy teruggestuur, dan bly die tafel vir jou geslote.

Maar vir elkeen wat sy volle heil en saligheid in Jesus Christus soek, staan die deure van die bruilofsaal wyd oop!

Jy mag seker weet dat geen sonde of swakheid wat teen jou wil in jou oorgebly het, kan verhinder dat God jou in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan hierdie hemelse voedsel en drank nie.

 

Gemeente, dit wat Jesus vir Nikodemus gesê het, het nie op dowe ore geval nie.

Daarvoor het die Heilige Gees gesorg.

Hy het in hierdie geleerde man bly werk.

Maar dit is nie sy geleerdheid wat hom aan die einde van die dag gered het nie, maar sy geloof in Jesus.

Sy oorgawe aan sy Heiland het onder andere daaruit geblyk, soos Johannes aan die einde van sy evangelie skryf, dat Nikodemus – hy wat eers in die nag na Jesus gegaan het omdat hy bang was wat ander mense van hom sou dink – nou nadat Jesus gekruisig is, gekom het met ‘n mengsel van mirre en alewee om sy liggaam te balsem.

 

Broer, suster, mag dit wat jy vandag hier in die kerk gesien en gehoor het, nie op dowe ore val nie.

Mag die Gees voortgaan om daardie geboorte van bo af, vanuit die hemel, in jou te werk.

“Send, HEER, uit hemelse geweste

u lig en waarheid neer op my!”

Kom ons sing dit nou, Psalm 43, as ons amenlied.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Johannes 3:1-21 & Mattheüs 22:1-14

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3-4, 4

Tema: Die waarheid oor alle wêreldse lig

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Het die mens ‘lig van die natuur’ na die sondeval oorgehou? Wat kan hy daarmee doen?
  2. Hoe is dit moontlik dat die mensheid na die sondeval tog soveel ontdekkings op aarde gemaak het?
  3. Watter woorde gebruik Jesus in sy gesprek met Nikodemus oor ‘n tweede geboorte?
  4. Hoekom is die persoon wat nie ‘n bruilofskleed aangehad het, nie toegelaat om saam bruilof te vier nie? Watter betekenis het dit vir ons nagmaalsviering?
  5. Wie sou jy wou uitnooi om saam nagmaal te vier? Hoe sal jy vir hom/haar verduidelik wat die pad daarheen inhou?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 1:4

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Ps 27:1,4

Nagmaalsviering

          Skriflesing: Johannes 3:1-21 & Mattheüs 22:1-14. Sing: Ps 66:7

Lofverheffing & Gebed

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3&4, 4

Preek

Ps 43:3-5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 116:5

Kollekte

Ps 89:6

Seën