Die evangelie van die bevryding van die erfsonde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-08-06
Teks: 
Dordtse Leerreels 3/4 par 2,3
Preek Inhoud: 

In die vorige preek uit die Dordtse Leerreëls het ons aandag geskenk aan die mens se wil.

Wat het met die menslike wil gebeur by die sondeval?

Nadat Adam en Eva hulle wil gebruik het om verkeerd te kies, wat gaan jy en ek doen met ons wil as ons weer die kans kry om te kies?

Het my wil aansporing nodig, of moet dit heeltemal herskep word?

En wat was die sondeval presies?

Beskryf die woord sondeval wel akkuraat wat daar gebeur het?

Ons het gesien dat mens dalk eerder die woord rewolusie kan gebruik.

Dit is wat in die paradys gebeur het.

Sindsdien is die menslike wil nie meer neutraal nie, maar het dit gekneg, verslaaf geraak.

Dit kan net nog een kant op gaan, en dis die verkeerde kant.

Soos ‘n wiel wat op ‘n afdraende pad is.

Dit kan nie op eie krag bultop rol nie.

En daarom vat die Dordtse Leerreëls korrek saam wat die Bybel ons leer.

Die menslike wil moet heeltemal herskep word, ‘n aansporing is nie genoeg nie.

Aansporende genade, die term wat die Remonstrante gebruik het, is veels te sag.

Ons het herskeppende genade nodig.

 

Ons kyk vandag verder na nog ‘n Bybelse onderwerp, ‘n leerstuk wat ook verband hou met die uitverkiesing, soos ons weet, die hooftema van die Dordtse Leerreëls.

Vandag se onderwerp is die erfsonde.

 

Tema: Die evangelie van die bevryding van die erfsonde

1 Die sterwende boom

2 Die lewende boom

 

1 Die sterwende boom

Paragraaf 2 van hierdie hoofstuk gaan verder met hierdie onderwerp.

Dis nie net Adam wat rewolusie gepleeg en daardeur sy vrye wil verloor het nie.

Ook al die nageslag wat hy voortgebring het.

Soos die Leerreëls sê: “As verdorwene het hy verdorwe kinders voortgebring.”

Dit is daarom regverdig wanneer nou die oordeel van God ook oor sy nakomelinge hang.

Adam is ek, en ek is Adam.

Net Christus is hierin ‘n uitsondering.

 

Hierdie word hier geskryf om die opsie van die Pelagiane af te sny.

Sonde plant nie voort in die wêreld omdat kinders hulle ouers kopieer nie.

Die neiging om te sondig sit reeds in die kind self as hy gebore word.

Alle mense word onbekwaam tot enigiets goeds gebore.

Daarom, by ‘n baba se geboorte hang God se regverdige toorn reeds oor hom of haar.

Elke baba word as ‘n slaaf van die sonde gebore.

Geestelik dood in sonde.

En hierdie toestand sal voortduur die res van sy lewe.

Al word hy groot, al kry hy uit die skepping die besef dat Iemand dit alles moes geskape het, al begin hy besef dat daar beslis dinge verkeerd is op aarde, en selfs ook in sy eie lewe, tog sal hy nie self tot God terugkeer, of, soos die Leerreëls sê, self onderneem om sy bedorwe natuur te verbeter, laat staan in staan wees om dit te verbeter nie.

 

Alles somber woorde in hierdie twee paragrawe.

Met een sinnetjie as uitsondering, naamlik:

“Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk ...”

Dit is die ligpunt!

Uit hierdie praragrawe straal dus ook die boodskap: God alleen.

Sonder Hom is ons tot niks in staat nie.

Sonder die Vader se liefde, sonder Christus se genade, sonder die Gees se inwoning, sal ons nêrens kom nie (2 Kor 13:13).

Ons kom nounou hierop terug.

 

Hierdie boodskap is in ons tyd iets waarmee nie gewerk word nie.

Op skole word kinders geleer dat daar iets is wat in hom skuil, ‘n ‘genius’, wat net moet uitkom.

Elke kind is ‘n wenner, hy moet net agterkom op watter terrein hy gaan wen.

En in die konsultasiekamers van terapeute en sielkundiges klink hierdie boodskap ook deurgaans.

Elke mens is inherent goed.

Daaraan moet jy jouself optrek.

Maar basies beteken dit jy moet jouself aan jou eie hare optrek.

Dit is die nugter werklikheid wat die Gees ons in die Bybel leer.

Want die mens is nie inherent goed nie.

Die Bybel praat oor Adam se opstand, sy val in sonde, en dat dit sy nageslag direk geaffekteer het.

Adam is voor die sondeval geskape na die beeld van God.

Maar sy kinders, Kaïn, Abel, Set, is na die sondeval gebore, en hulle het nie meer God se beeld nie, maar hulle reflekteer hulle pa Adam se beeldtenis.

En dit is ‘n sondige, ‘n opstandige beeld.

 

Ons praat dan van erfsonde.

Ook hierdie woord, net soos die woord sondeval, kan misverstand opwek.

Mens kan eerder praat van erfskuld of erfsmet.

Adam se nageslag word nie gestraf vir al Adam se sondes, wat hy gedurende die 900 jaar van sy lewe gepleeg het nie.

Dit gaan hier slegs oor dit wat hy in die paradys gedoen het, voordat hulle uit die paradys weggejaag is.

Sy rebellie, sy opstand teen God, deur bewus die grens wat God getrek het, te oorskry, te ignoreer.

En sedertdien word elke kind, elke afstammeling, gebore met daardie smet.

En daardie smet beteken dat elke kind ook direk gebore word aan die verkeerde kant van die grens wat God gestel het.

Hy word gebore in staat van oorlog met God, onder sy regverdige toorn.

En dus word elke mens ook gebore as ‘n sterflike wese.

As ‘n kind gebore word, staan een ding vas.

Daardie kind gaan een of ander tyd ook sterf.

Miskien eers oor 90 of 100 jaar, maar geeneen sal aan die dood ontkom nie.

 

Nou hier is ‘n belangrike punt van verskil tussen die Gereformeerdes en die Remonstrante, en die Pelagiane lank voor hulle, en ook baie nie-Gereformeerdes in ons tyd.

As Gereformeedes bely ons dat elke baba gebore word, èn met die neiging, die afwyking, om te sondig, èn daarom van die eerste begin af onder die regverdige toorn van God staan.

Maar volgens die Remonstrante is die erfsonde, die erfskuld, nie genoeg om ‘n kind ewig te veroordeel nie.

Daarom die gangbare opvatting onder hulle, en steeds vandag ook nog onder baie, dat ‘n pasgebore baba hemel toe gaan, omdat dit nog nie sonde gedoen het nie.

 

Maar dit vind ons nie in die Skrif nie.

Die Skrif bring ons onder die indruk hoe sieklik en sterwende die boom is wat Adam as stam het, en dit geld ook vir die jongste takkie, die jongste baba.

As ‘n pasgebore baba sterf, staan dit reeds skuldig voor God en verdien die ewige straf.

Behalwe, dit mag ons op grond van die Skrif dankbaar bely, en die Dordtse Leerreëls het dit reeds in hoofstuk 1,17 genoem, behalwe die jonggestorwe kinders van Godvresende ouers.

Saam met die tak van hulle ouers is hulle reeds ingeënt op die nuwe boom, die stam Christus.

 

Gemeente, die verskil kan mens min of meer met die volgende voorbeeld verduidelik.

Die menslike ras is soos ‘n boom.

Toe dit opgekom het, het dit ‘n dodelike siekte gekry in die wortel, waar toe reeds die toekoms van die hele toekomstige boom, van elke tak en blaar, bepaal is.

Die menslike ras is nie soos ‘n koringveld, waar elke koringaar onafhanklik met sy wortels in die grond staan nie.

As dit so was, en ‘n koringaar kry ‘n wortelsiekte, dan kon mens daardie een aar uittrek en verbrand, en dalk nog tien meter reg rondom ook alle koring uittrek en verbrand.

Maar dan red jy wel die res van die koringveld.

So het Pelagius geredeneer.

As jy ‘n jong kind nie onder die invloed van slegte volwassenes plaas nie, dan kan die kind sonder sonde opgroei, omdat daar nie ‘n slegte voorbeeld vir hom is om af te kyk en na te volg nie.

Sorg net dat die slegte mense ver genoeg van die kind af bly.

 

Maar dis nie die boodskap wat ons uit die Bybel kry nie, dink byvoorbeeld aan Romeine 5.

Die boom wat uit die wortel Adam begin groei het, was ‘n verminkte boom, waarby elke tak en blaar geaffekteer word deur die wortelsiekte.

Dis ‘n sterwende boom.

‘n Baba word reeds as ‘n siek, ‘n sterwende mens gebore.

Omdat dit onder dieselfde erfskuld staan as Adam sy eerste voorouer.

Adam se opstand het die hele mensdom se toekoms bepaal.

Ons het reeds in onsself die sondige geaardheid, vanaf die oomblik as ons begin te bestaan.

Ons is nie ‘n koringaartjie wat myle ver van Adam opkom en dus nie deur hom geaffekteer is nie.

Ek het nie ‘n vrye wil om hetsy goed of kwaad in die lewe te kies nie.

En eers as ek as indiwiduele koringaar sleg kies en siek word, dat ek eers dan skuldig sou wees nie ...

Nee, ons is reeds deel van dieselfde boom, ons kan nie anders as om ook sleg te wees nie.

Daarom, net soos die hele boom, die wortels en die stam onder ons wat reeds in die verlede gegroei het, net so staan ons vandag ook onder die oordeel van God.

Die hele boom verdien om met wortel en tak uitgeroei te word.

Daar’s nie ‘n manier hoe ‘n gesonde tak, nie eers ‘n gesonde blaartjie, op so ‘n boom kan begin groei nie.

Daar’s nie ‘n medisyne vir enige tak of blaar, solank dit vassit aan daardie wortel nie.

En dan praat ons nog nie eers oor vrugte nie.

Die bly heeltemal afwesig.

 

Daarom bely ons met die Kategismus Sondag 3: sedert die “val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys” het ons natuur so verdorwe geraak “dat ons almal in sonde ontvang en gebore word”.

Met die “ons almal” word hier die hele mensheid bedoel.

Een siek sterwende boom sonder enige vrugte.

 

Gemeente, laat ons ook in hierdie tyd waarin ons leef dit bely.

Al is die kyk op die mens baie optimistieser.

Laat ons nugter bly, en nie veel verwag nie.

Nie veel verwag, nie net van jou vyande nie, nie net van die politiek nie, maar moet ook nie veel van jouself of van jou kinders verwag nie.

Laat ons Bybels nugter bly.

Ons as mensheid is ‘n sterwende boom.

En die wat enigsins wil roem, moet in die Here roem (1 Kor 1:31).

 

(Tema: Die evangelie van die bevryding van die erfsonde

1 Die sterwende boom)

 

 

2 Die lewende boom

Maar, soos ek hierbo genoem het, daar is een sinnetjie in hierdie twee paragrawe wat ‘n ligpunt is, naamlik:

“Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk ...”

Ook die skenk van die wedergeboorte kan mooi verduidelik word met die voorbeeld van die boom.

Wedergeboorte is as die Gees jou afsaag van die boom van Adam, en jou – jy wat die tak is – inent op ‘n ander boom.

Daardie boom is Christus.

Hy is die stam, waarvan ons in Johannes lees: “Ek is die ware wynstok” (Joh 15:1).

“Bly in My ... Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh 15:4-5)

 

Op die ou stam, Adam, kon ons niks anders doen as siek wees, besig om dood te gaan, sonder om enige vrug te dra.

Op die nuwe stam, die tweede Adam, word ons bevry van ons erfskuld.

Christus het in een keer daarvoor betaal.

Ons kry nou die gesonde sappe uit die stam.

Daardeur word ons as takke in staat gestel om vrug te dra.

Die dodelike gifstowwe van die ou boom is ook nog in ons.

Maar hoe meer sappe van die nuwe stam in ons opstoot, hoe gesonder word ons en hoe meer vrug begin ons te dra.

Gemeente, so vergelyk Paulus in Romeine 5 die lewewekkende werk van Christus met die doodmakende werk van Adam:

“soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het ...”, so het “die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword.” (vers 12 & 15).

 

As deel van die ou boom word elke mens as ‘n sondaar gebore, en dus ten dode opgeskryf.

So gaan dit voort, duisende jare reeds na Adam, tot in die 21ste eeu.

En dit sal nog voortgaan solank hierdie boom nie uitgekap word nie.

God is nog genadig.

Hy gee steeds kans dat takke afgesaag word en oorgeplant word.

Maar vir daardie sterwende boom is daar nie ‘n toekoms nie.

Die dood het tot alle mense deurgedring (vers 12), tot die hoogste tak en verste blaar.

Al is die blaartjie nog hoe jonk.

Ja ‘n pasgebore baba het daarom reeds die erfskuld.

Dit is reeds ‘n besoedelde fontein, en reeds die allereerste water wat uit die bron kom, is ondrinkbaar.

“Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het.” (Ps 51:7 2020-Vertaling)

Hoekom?

Omdat my ma sondig is en my pa, en dit al die pad teruggaan tot op Adam.

Die sonde sit nie in die geboorte of in die bevrugting nie.

Dit is deur God so geskape, dit is goed.

Die sonde sit as ‘t ware in die gene, wat oorgedra word van geslag tot geslag.

 

Gemeente, ‘n paar jaar terug het ons in die wildtuin ‘n hyena onder ‘n boom sien lê.

Soos u weet is ‘n hyena ‘n lelike dier.

Toe ons nader kom, sien ons dat daar ook ‘n paar kleintjies by die wyfie hyena lê.

En dit bly my bly hoe lelik daardie kleintjies was.

Meestal is ‘n klein diertjie mooi.

Maar nie ‘n hyanawelpie nie.

Reeds ‘n skarminkel.

Jy kan reeds sien daar gaan nooit iets moois daaruit kan groei nie.

“Wie kan iets reins uit iets onreins laat voortkom? Niemand nie!” (Job 14:4)

 

So is elke baba in God se oë.

In homself is daar niks goeds nie.

Eintlik sal mens ‘n baba wat kerk toe gebring word om gedoop te word, nie wit, maar swart klere moet aantrek.

En eers by die doop dit vervang met ‘n egte mooi wit dooprokkie.

 

Gemeente, later, as jou kind opgroei en jy sien dat hy stout is, as jou kind sondig, en jy hom of haar moet straf, onthou net altyd: Jy is net so lelik soos jou kind.

Jy is net so sondig.

Jy staan net so skuldig voor God.

Ja jy moet jou kind straf, maar nie met ‘n houding dat jy beter is, en dat jou kind soos jy moet word nie.

Saam groei ons om soos Christus te word.

Saam bid ons:

O Here, laat u Heilige Gees in my lewe en die van my kinders werk sodat ons wedergebore word.

Skep in beide van ons ‘n nuwe hart.

 

En as ek en my opgroeiende kinders bly in Christus, is ons redding seker.

Ons redding is ‘n gawe en ‘n opdrag.

Eerstens ‘n gawe omdat die Gees ons die wedergeboorte skenk, deur ons op die stam Christus in te plant.

Maar ook ‘n opdrag om nou in Christus te bly, soos ons Heiland self beveel:

“Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.” (vers 4)

“As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” (vers 6)

 

Om saam te vat: Adam het oordeel en dood gebring.

‘n Sterwende boom.

Christus bring regverdiging en ewige lewe.

Die lewende boom.

As jy glo in die Here Jesus, ontvang jy sy gehoorsaamheid.

Jy word deur sy werke, sy sappe wat uit Hom as die stam opkom, geregverdig.

 

Broer, suster, glo jy in Christus se volmaakte werk?

Dank jy die Gees dat Hy jou op die lewende boom ingeënt het?

Nou word jy nie meer saam met die sterwende boom veroordeel en verbrand, die boom waarop jy gebore is nie.

Danksy die Gees se werk in jou word jy nou steeds meer bevry van die erfsonde.

Nou word jy gered as deel van die nuwe, die lewende boom!

 

Amen.  

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Johannes 15:1-16 & Romeine 5

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3 & 4, 2-3

Tema: Die evangelie van die bevryding van die erfsonde

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat is ‘n beter woord vir erfsonde?
  2. Wie is die stam van die sterwende boom?
  3. Wie is die stam van die lewende boom?
  4. Wie plant ons in op die lewende boom?
  5. Dank die Here dat Hy jou van die sterwende boom afgesaag het, en bid dat nog baie sondaars deel van die lewende boom mag word.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 1:2,3

Gebed

Skriflesing: Johannes 15:1-16

Sb 38:3

Skriflesing: Romeine 5

Ps 37:22,23

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3&4, 2-3

Preek

Sb 30:1-6

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 92:3,4,6,7

Seën