Die Gees is waarneembaar teenwoordig in die gemeente deur die verkondiging van die verborgenheid van die Evangelie

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-10-09
Teks: 
1 Korinthiërs 2: 1-16
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Ons ervaar, omdat God dit so besluit het en dit so wil hê, in die verkondiging van die evangelie dat die Heilige Gees kragtig en gesagvol aan die werk is in die gemeente en in ons eie lewe. Die bediening deur die Gees van heerlikheid kom tot ons eenvoudig in die Skriflesing en preek deur ons gehoor en sy werk in ons harte. Hy open geslote harte en maak dooie sondaars lewend, en maak aan ons beloftes wat ons aanvaar omdat ons nuwe mense is wat in God glo. In sy wysheid neem die Gees alles uit Christus om dit aan ons te verkondig. Die Heilige Gees verkondig aan ons dat Christus leef en maak sy gemeente ryk om in hierdie eeu, of ons kan ook sê: hierdie tydperk waarin ons leef, Geesvervuld, in navolging van die gekruisigde Christus vir God te dien.

Paulus se verkondiging van die evangelie aan die Korinthiërs het niks met menslike wysheid of menslike sterkte te make nie. Die Korintiers was gewone mense wat deur God geroep is en behoort daarom in nederigheid alles van God te verwag en van Hom te ontvang. Paulus het Jesus Christus die gekruisigde aan hulle verkondig in die krag van die Heilige Gees. Hy het die boodskap van die gekruisigde Christus in menslike swakheid gebring in uitvoering van die wil van God om die verborgenheid van God se reddende genade wat voorheen bedek was te openbaar. Paulus verkondig in plaas van menslike wysheid, die bewys van die waarneembare teenwoordigheid van God se Gees in die gemeente deur die wonders wat die Gees bewerk. God het self wat vir die wereld die dwase boodskap van die gekruisigde Christus is, vir die gemeente bekragtig deur sy Gees.

Soms dryf mense met hulle idee van die werk van die Gees, naamlik dat Hy direk, sonder die werk van die Vader en die Seun en die middel van die verkondiging van die evangelie sou deurbreek in menseharte om hulle weergebore te laat word nadat hulle hulle bekeer het, en wel as antwoord op die gehoorsaamheid van die gelowige. Hierdie mense maak die Gees en sy werking los van die geheimenis van God se voorbeskikte reddingsplan waarvolgens sy verkiesende verlossing nou in hierdie laaste tyd aan die gemeente verkondig moet word. 

Dit is op die manier van die verkondiging van God se Woord dat die kragtige wysheid van die Heilige Gees geloof en wedergeboorte, regverdiging en heiliging, volharding en verheerliking van die gelowiges werk. 

In die evangelie hoor ons hoe Christus as draer van die Gees, die gawe van die Gees deur sy werk as Messias op aarde vir sy volk, verwerf. Alles wat Hy doen is vervulling van God se beloftes in die Ou Testament. So ook Pinkster, wanneer die Seun en die Vader die Gees uitstort om Christus se gemeente op aarde te vervul deur haar te leer en te lei deur die apostels se getuienis. Hoe nodig het ons die wysheid van God, om vas te hou aan die geopenbaarde verborgenheid van God se redding van ons deur Jesus Christus. Daarvoor het ons nie menslike wysheid nodig nie, maar die teenwoordigheid van God se Gees in sy gemeente.

Paulus preek dus nie met menslike wysheid nie, maar met bewys van die krag van die Heilige Gees, so bring Hy die beloftes van die saligheid in Christus. God se wysheid word geopenbaar deur die Heilige Gees.

Tema: Die Gees is waarneembaar teenwoordig in die gemeente deur die verkondiging van die verborgenheid van die Evangelie
Ons vra eerstens: Hoe is die Gees betrokke by die wysheid van God wat uitloop op die evangelie van die kruis?
Ons vra tweedens: Hoe bekragtig die Gees Christus se gemeente?

1.    Die Heilige Gees en die wysheid van God se genade

In vers 6 stel Paulus die wysheid van God teenoor die wysheid van die mense. Hy preek nie die wysheid van God (1:24,30) vir ‘n groepie uitgelese ingewydes nie. Dit is en bly die wysheid van die gekruisigde Christus 2:8. Hierdie wysheid kan die maghebbers van hierdie wereld nie ken nie. Die wysheid van God in die boodskap van die kruis is aan Paulus deur God se Gees geopenbaar. Sy boodskap sal daarom slegs begryp, geken, geglo word deur die gemeente aan wie God sy Gees gegee het en wat daarom volmaak is. 

Die maghebbers wat verantwoordelik was vir die kruisiging van Jesus (dink aan Pilatus en Herodus) omdat hulle Jesus se werk as dwaasheid bestempel het, begryp nie God se verlossing in Jesus Christus nie. Die menslike wysheid, van die heersers van hierdie wereld, het die owerpriesters en owerstes Jesus laat oorlewer en so die volk op ‘n dwaalweg gelei.

Hierdie heersers is alreeds besig om te vergaan (teenwoordige tyd). Want koning Jesus Christus stel hulle onder sy voete en dit loop uit op die einde, 1Korinthiërs 15:24-25: Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.

Teenoor die wysheid van die heersers van hierdie wêreld preek die apostel wysheid onder die volwassenes of volmaaktes. Dit is die gemeente, dit is die wat in Christus is, die geroepenes of uitverkorenes van God. In ons teks sien volwassenes op die gelowiges, wat in geloof, deur die kragtige werk van die Gees, God se wysheid volledig geleer aanvaar het. Paulus en die ander gestuurdes preek die evangelie tot die gemeente wat die wysheid van die Gees aanvaar het, maar Paulus neem ook later in sy brief die openbaring van die wysheid van die Gees as vertrekpunt vir die verdere vermaan van die gemeente om as geestelike mense (letterlik mense van die Gees) sake en omstandighede te beoordeel vanuit die kennis van die Here Jesus Christus. Want hulle wat teenstrydig met die openbaring van die Gees, steeds optree soos natuurlike mense (2:14,15) kan geen saak geestelik beoordeeel nie. Die volwassenes van vers 6 is die gemeente wat nie luister na die dwaasheid van die heersers van hierdie wereld nie. Hulle glo die evangelie as die wysheid van God se Gees, die waarheid oor lewe en wereld, van begin tot voleinding, heel die geskiedenis oopgevou en deurlig deur God.

Paulus skryf vir die gemeente wat in geloof, hoop en liefde lewe. Om as geestelike mense, mense van die Gees, waar geen vinger op gelê kan word nie, niks teen in te bring is nie, met probleme en sonde in die gemeente om te gaan. Vanuit die openbaring van die wysheid van die Heilige Gees. Die natuurlike mens, vers 14, wat nie die Gees van God het nie, glo nie. Die gemeente van Christus neem egter die evangelie van Christus as die ware wysheid van die Heilige Gees, volledig aan.

Die heersers van hierdie wêreld voer nog heerskappy. God se regering in die wysheid van Christus se kruis is vir hulle ‘n dwase en gevaarlike bedreiging. Hulle kan hulle nie aan God se orde onderwerp nie en Hom laat regeer nie want wat word van hulle samelewing? Hulle wil nie van hulle selfhandhawing afstand doen nie.

Paulus preek egter in ons tyd, hierdie eeu, die wysheid van die komende eeu. In die toekomstige eeu sal almal sien dat alleen die wysheid van God ewig bestaan. In die koningskap van Jesus Christus waarvan die openbaringswerk van die Heilige Gees die bewys is, sien die gelowige gemeente dat Christus Hom nou reeds laat geld. Hy doen dit deur die wysheid van God aan die gemeente deur sy Gees te gee.

In Efésiërs 3:3-5 lees ons dat God aan Paulus deur ‘n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos hy tevore geskryf het; waardeur die Efesiers as hulle dit lees, sy insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, …….naamlik word die geheimenis deur die Gees geopenbaar aan die apostels en die profete. God het die geheimenis wat Hy voor alle tydperke oorleg en besluit het, lank verborge gehou,7. Die apostel moet nou hierdie wysheid van God wat vir eeue lank ‘n geheimenis of verborgenheid was, verkondig. So lees ons Romeine 16:25: Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, …Kolossense 1:26,27: naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. …Efésiërs 1:3-6: Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. 

Gemeente, hierdie verborgenheid van God se liefde en barmhartigheid vir sondaars om sy uitverkorenes te verlos, is van die begin af openbaar maar word nou begryp en in die geloof aangeneem deur die gemeente wat God se Gees ontvang in die prediking van Christus. Die heilsplan toon ons hoedat God alles laat oploop het na die heerlikheid van Christus en bring ons so tot gehoorsaamheid aan God. Die apostels is bevoorreg deurdat God hulle in genade gekies het om sy wysheid, die wysheid van die Gees in die wereld bekend te maak. So deel hulle in die heerlikheid van Christus, wat tereg die Heer van die heerlikheid of verering genoem word,8. Die wysheid is ‘n geheimenis, misterion, wat niemand op aarde geken het nie en wat nou alleen geken word deur hulle aan wie God dit deur sy Gees openbaar. Reeds voor die eeue is deur God voorsien dat ons uit ons sonde en slawerny verlos sou word tot heerlikheid, die heerlikheid van die kinders van God. Voor alles het God sy gemeente van die ewige lewe geken as mense wat hierdie heerlikheid sou verkry. Hy ken ons in die lig van sy eie wysheid, waarvan die offer van Christus die hart en die verheerliking van sy verloste kinders is. 

Die wysheid van God het niemand geken nie. Indien die heersers van hierdie wereld kon insien dat Jesus hulle bewind sou vervang met syne, sou hulle die kruis, hart van Gods plan wou voorkom. In sy kruisdood het Jesus die goddelike bewind van genade en versoening kenbaar gemaak en die wysheid van die heersers van hierdie eeu tot skande gemaak, ontmasker en ontwapen. Hy het met sy volmaakte selfverloëning die sonde en dood en heerskappy van hierdie wereld oorwin. Kol. 2:13-15: En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. 

Die heersers van hierdie eeu gaan voort in eie wysheid, wat in die lig van God se openbaring deur sy Gees, vyandige dwaasheid teen God is. So het in die tyd van die openbaring deur die Gees aan Christus se gemeente, die genade oorwin, die heersers van hierdie wereld wat die Gees teenstaan, het geen toekoms nie.

2.    Die bekragtiging van Christus se gemeente deur die Gees

In verse 9, en 10 haal Paulus aan: "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God."  Daardeur bevestig Paulus dat God nou iets gedoen het vir die wat Hom liefhet, iets wat nooit voorheen gehoor is, en dat Hy dit nou deur sy Gees aan die apostels geopenbaar het. Die aanhaling is ‘n vrye vertaling van Jesaja 64:4 en dit roep ook Jesaja 65:17 op. Jesaja 64:4: Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U. Jes 65:17: Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.

Die gemeente in Korinte se oë is deur die Heilige Gees geopen. In beroep op die Skrif, wys Paulus aan die gemeente dat die geheim van God se wysheid aan haar geopenbaar is. Die gemeente in Korinte sien wat geen oog gesien het nie, hulle hoor wat geen oor gehoor het nie, hulle neem waar en oordink en onderwerp hulle aan wat die Gees aan hulle openbaar het, wat geen mensehart ooit bedink het nie. Hulle het die voorreg om die wysheid van die komende eeu te sien skitter in die verkondiging van die kruis van Christus, vir die verlede, vir vandag, vir die toekoms. Hulle ken nou die gekruisigde as Heer van die heerlikheid van wie vasstaan dat hy alle heerskappy, mag en krag van hierdie eeu onttroon.

Waarom die openbaarmaking van hierdie geheim aan die gemeente? Omdat sy God liefhet. Die gemeente gee Hom en sy genadeheerskappy die allesbeheersende plek. Deurdat hulle deur die geloof vir God erken en werklik erken vir wie Hy is. En dat Hy aan die gemeente seeninge skenk volgens sy welbehae. God leer haar om volgens die reëls van die tot nog toe verborge komende eeu te lewe. En dit kan sy omdat sy van die Heilige Gees God se heilsplan gehoor het en Hy die geloof in haar hart gewerk het.

Vanaf 2:10 bespreek Paulus die werk van die Heilige Gees in die openbaring van God se wysheid aan die gemeente deur die evangelie wat deur die apostel aan haar verkondig is. Dit is die gemeente wat vir God welgeval, vir wie God die openbaring van die verborgenheid berei het. Die Gees van God ken God deur en deur. Wanneer die Gees dan aan mense gegee word, stel Hy mense in staat om dit wat deur God gegee is te erken (12b), en weet hulle wat God hulle uit genade skenk. Paulus maak dit duidelik deur in 11 die Gees van God met die gees van ‘n mens te vergelyk. Hy gebruik hier die woord gees, dit is pneuma, vir die hart of siel van die mens. Ons weet jy kan nie die verborge motiewe, planne, gevoelens van ‘n mens ken nie. ‘n Mens ken alleen sy eie verborge hart, tensy hy self iets uit sy hart aan iemand bekend maak. Die Gees van God is soos die gees van ‘n mens, Hy alleen ken God, Hy maak God bekend aan wie God wil.

Die Gees wat vanuit God is, 12…die Gees wat die apostels ontvang het kom nie van die wereld nie, maar van God... Hierdie is openbaring van Jesus Christus, die hart van God se heilsplan. God het Homself en sy wysheid in sy Seun geopenbaar. Daar is geen tweede openbaring vir die gemeente nie, maar die kragtige en vertroostende werk van onthulling deur die Gees van die wysheid van God. Hierdie wysheid laat sien ons die heerlikheid van die gekruisigde Christus, en dit is deur God so voorbeskik tot ons heerlikheid. Die mense-oog kan dit nie sien nie, sy hart kan dit nie bevat nie. Die Gees ont-dek, of ont-hul God se wysheid deur die prediking en die hoor daarvan, en met die werking van geloof in ons harte. So en so alleen, ont-dek, ken en erken ons vir God. Waarom is die onthulling deur die Gees? Omdat die Gees ondersoek alle dinge, ook die diepte van God. Die eie werk van die Gees is om aan die gemeente voor te dra wat in die hart van God is. Om die geheim van die verborge plan van God aan die apostels en die gemeente uit te lê. Dit is alles wat God van ewigheid vir die verheerliking van die mense bedink het, sodat die in sonde gevalle mens gered kan word in gehoorsame omhelsing van God se aangrypende genade. Sonder die kragtige werk van God se Gees in die skenk van besondere gawes van onderrig en herderlike leiding en versorging gee, met die heilsmiddel van die Skrif, die werking van geloof en wedergeboorte, die navolging van Jesus Christus en alles wat ons in Hom het, sou alles van God se werk vir ons ondeursigtig en ondeurdringbaar gewees het, en ons sou Hom nie reg kon eer en verheerlik nie.

Maar nou - God is nie onkenbaar en onbekend nie. Die apostels en die gemeente het die Gees in hulle harte ontvang en Hy laat hulle deel in sy wysheid van die kennis van die Drie-enige God. Die gees of sin van die volwasse gemeente is nie om uit te munt in eiewysheid en wereldwysheid nie. God se eie Gees, wat weet wat in God is, het van God in die leerlinge van Jesus kom woon. 2 Korinthiërs 1:21,22: Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God,  wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.

Waarom??...sodat ons weet wat ons deur God in genade geskenk is. Hy het sy apostels en elkeen wat in Jesus Christus is, in die rykdom van sy genadegawes gebring. 1 Korinthiërs 12:4: Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees. Die genade van die Gees is so omvattend dat slegs lofverheffend en aanbiddend oor sy werk gepraat kan word. Efésiërs 3:14-21: Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus,  van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang,  dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens,  sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,  en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is,  en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,  aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! 

Die gemeente verkry deur die verkondigde Woord ‘n seker kennis en ‘n vaste vertroue op God se genadewerk. Ons ontvang die Gees en kry so sig op wat God van ewigheid af vir ons voorberei het, sy heilsplan. Die Gees lei soos ‘n gids God se begenadigde kinders in die wonders van God se genade waarin Hy hulle gebring het. Die Gees van die waarheid verkondig aan hulle die volle waarheid. Hy verheerlik Christus, want Hy neem wat van Hom is en verkondig dit aan ons. Johannes 16:13-15: Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.  Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.  Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. 

Die onderwerp van Paulus in ons teks is die genade van God, wat die apostel deur die Gees leer ken het, 2:13 – woorde nie met menslike wysheid, maar deur die Gees onderrig. Sodat geestelike dinge met geestelike dinge vergelyk of saamgebring kan word. Die gemeente het die kennis van God se genadeplan te danke aan die Gees wat hierdie geheim aan hom geopenbaar het. Uit wat hy van die gemeente hoor is daar nog verset teen die wysheid van die Gees. Dit is tipies van die natuurlike of vleeslike mens wat besig is om homself te verhef in eiewysheid van die wereld. Maar die gemeente moet leer om as geestelike mense ooreenkomstig God se genade te lewe, 2:14,15. Ons kan sê die Geesvervulde gemeente vereis geestelike mense.

‘n Mens wat nie die Gees het nie, aanvaar nie die dinge van God se Gees nie, want hy verstaan dit nie. Die geestelike mens ondersoek of beoordeel alle dinge, dit is die dinge met betrekking tot God se wysheid, die dinge van God se Gees. Die geestelike mens word self deur niemand beoordeel nie. Die enigste een wat mag oordeel is die Here. Romeine 8:33,34: Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

God het gekies om sy wysheid in die openbaar, aan die hele wereld te verkondig. In plaas van agter geslote mure van tempels aan uitgesoekte mense nof in kringetjies van ingewyde mense. Dat God se wysheid nie deur almal aanvaar word nie het alles te maak met die keuse van God. Hy maak deur sy Gees die harde harte van sy uitverkorenes ontvanklik sodat hulle hul aan Hom onderwerp. So 1:26-31: Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;  maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;  en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,  sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.  Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem. 

Die geestelike mens, die mens van die wysheid van die Gees beoordeel alle dinge (die hele werklikheid van God, mens, wereld, geskiedenis) en hy kan sy weg daarin vind. Hy kan onderskei tussen wys en dwaas. Goed en verkeerd. Waar en onwaar. Hy toets alles en behou die goeie, 1Tesalonicense 5:21. Hy onderskei waarop dit aankom, Filippense 1:10. Hy het die gedagte/sin/gees (nous) van Christus. (sien 2:11). 

Gemeente as geestelike mense word ons gelei en laat ons ons lei deur God se Gees. In onderworpenheid aan Christus het ons die sin van Christus. Omdat die Gees ons beheers in al ons doen en late, met die sin of gesindheid van Christus wat in ons woon, dank ons God vir die saligmakende wysheid van sy Gees.

Ons word deur Christus self in die voortgang en voleinding van God se genadeplan geleer. Jesaja 40:10-14 is vervul: Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.  Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.  Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal? Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?

Amen

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Groet
Genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen
Psalm 66:1,7

Lees van die Wet
Psalm 40:2,4

Gebed

Skriflesing Johannes 16: 1-15
Psalm 84:3,6

Teks: 1 Kor 2: 1-16
Amenlied: Skrifberyming 22:1,2,9,10,11

Gebed

Kollekte

Slot: Psalm 68:15,16

Geesvervulde gemeente van Christus, ontvang God se seën:
Die Here sal julle seën en julle behoed
Die Here sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor julle verhef en aan julle vrede gee.

SING Amen