Die begrafnis van Sara getuig van ‘n vaste hoop in God se belofte

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2023-06-25
Teks: 
Genesis 23:17-20
Preek Inhoud: 

Preek: Genesis 23:17-20

 

Die eerste keer wat ons in die Bybel lees dat iemand begrawe word, is in Genesis 23 waar Abraham vir sy vrou Sara begrawe, al word daar reeds in Genesis 15 na ‘n aanstaande begrafnis verwys, waar die HERE vir Abraham sê: “jy sal in goeie ouderdom begrawe word.” (Gen 15:15).

 

Ongetwyfeld het mense voor Abraham en Sara ook al hulle geliefdes begrawe, van Abel se tyd af.

Ongetwyfeld was daarvoor ook al mense wat nie begrawe is nie, maar met wie se liggame anders gehandel is, hetsy veras of mense wat ‘n spreekwoordelike seegraf ontvang het.

Dink aan al die mense wat met die sondvloed verdrink het.

 

In die konteks van ons jaartema, Ons lig in ‘n donker wêreld, het die kerkraad gevra dat daar ook aandag geskenk word aan die diskussie oor begrafnis of verassing, ook wel genoem kremasie.

Die manier waarop jy jou geliefdes begrawe sê veel oor jou geloof, of dalk gebrek aan geloof.

In die algemeen sê dit veel oor jou toekomsverwagting.

Waar dit vroeër nie so was nie, is verassing ‘n gewoonte wat al hoe meer gangbaar word in ons kultuur.

By kerkgeboue is daar deesdae ‘n sogenaamde herinneringsmuur, waarin mens die as van hulle geliefdes kan plaas.

By die Voortrekkermonument is daar ook so ‘n muur, waarvan steeds meer Afrikaners gebruik maak.

Of mense kies ‘n gunsteling plek waar hulle wil hê hulle as gestrooi moet word, soos in die wildtuin, by die see, of in die bosveld.

Soos die bekende liedjie sing: “Strooi my as oor die bosveldhorison ...”

 

Wat het mense in die Bybel eintlik met hulle geliefdes gedoen? – en dan dink ek spesifiek aan God se volk, aan die gelowiges.

Daar is enkele voorbeelde van verassing in die Bybel, maar dit was duidelik nie gebruiklik onder God se volk nie.

So het die inwoners van Jabes Saul se onthoofde lyk en die van sy seuns wat die Filistyne teen ‘n muur in Bet-San opgehang het, daar gaan afhaal en verbrand (1 Sam 31).

Die lyke was waarskynlik al in ‘n gevorderde staat van ontbinding.

Verder lees ons in 2 Konings 23 dat koning Josia as onderdeel van sy hervormings die altaar van Jerobeam verwoes het en ook die beendere van die afvallige priesters wat daar begrawe gelê het, opgegrawe en verbrand het.

Dit was onderdeel van hoe hy die land gesuiwer het van afgodsdiens.

 

Vir die res lees mens maar sporadies van verassing in die Bybel.

Deurgaans het God se volk hulle dooies begrawe, of soos toe gebruiklik was, in graftombes bygelê.

Kamers wat in die rots uitgekap is.

Dikwels het elke familie so ‘n graftombe gehad waar hulle geslag op geslag hulle dooies begrawe het.

 

Tema: Die begrafnis van Sara getuig van ‘n vaste hoop in God se belofte

1 Abraham koop ‘n graf in geloof

2 Die gelowiges begrawe deur die eeue in geloof

 

1 Abraham koop ‘n graf in geloof

Wat baie belangrik is, wil ons hierdie geskiedenis verstaan, is die feit dat Abraham en sy huishouding op daardie oomblik vreemdelinge in Kanaän was.

Onthou u hoe God Abraham geroep het om sy vader se huis te verlaat, in Ur, en om na ‘n ver land te gaan?

God het beloof om aan hom en sy nageslag ‘n land te skenk wat volledig onbekend was aan hulle – die land Kanaän.

Ons lees in die boek Genesis hoe Abraham sy vader se huis verlaat het, en moenie vergeet ook die gode van sy vader moes agterlaat, en dat hy die reis onderneem het na daardie verre land waarheen God hom gelei het.

Abraham het geen enkele waarborg gehad dat hy daar iets sou ontvang nie, behalwe vir die belofte van God.

Hy kon slegs afgaan op die woord wat God tot hom gespreek het.

En toe Abraham en sy familie in daardie ver land aankom, het hulle daar hulle hele lewe lank ‘n nomadiese bestaan gelei.

Hulle het met hulle vee van plek tot plek getrek, sonder om enige land of eiendom te besit.

Dus – hoewel God hom hierdie land beloof het – het hy tog ‘n vreemdeling daarin gebly.

Die land was in die hande van ander volke, soos die Hetiete.

 

Soos gesê, in ons teks lees ons vir die eerste keer van ‘n begrafnis.

Abraham wat vir sy vrou Sara begrawe.

Dit is eintlik besonder dat die skrywer van Genesis – Moses – juis hieraan aandag bestee.

Hy doen dit omdat hierdie begrafnis ‘n besondere betekenis gehad het.

Dit was ‘n oomblik van groot belang.

Dit was die allereerste keer dat Abraham eiendom verkry het in die beloofde land.

Dit was, agteraf gesien, die oomblik toe die inbesitname van die beloofde land begin het.

 

Daardie graf was die eerste stukkie grond wat hy wettig gekoop het.

Dit was sy eerste wettige eiendom in hierdie beloofde land.

Die HERE het hom geroep uit sy land uit, uit Ur van die Chaldeërs, om na ‘n vreemde land te trek wat Hy hom beloof het.

Daardie belofte, en daarom vertel die skrywer oor hierdie begrafnis, het eers begin waar word na baie jare toe Abraham by Efron die Hetiet hierdie stukkie grond gekoop het.

 

Abraham het die Hetiete benader het met ‘n spesifieke versoek.

Vers 4: “Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle.”

Abraham het sy vrou verloor en hy moes iets doen met haar liggaam.

Ons sien dat die Hetiete nie onwillig was om te help nie.

Hoewel, dit het uit die onderhandelinge duidelik geword dat hulle die voorkeur daaraan geskenk het om nie ‘n stuk land aan Abraham te verkoop nie.

Hulle het heel vrygewig aangebied dat Abraham sy vrou in een van hulle grafkelders in die omgewing kon begrawe.

En nie die eerste die beste nie, maar ‘n baie groot en mooi een.

Hulle het vir hom gesê (vers 6):

“Luister na ons, my heer! U is ‘n vors van God onder ons” – dit wil sê ‘n belangrike en invloedryke man. “Begraaf u dode in die beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te begrawe nie.”

Ons sien vervolgens dat Abraham sy oog laat val op die graf van Magpela, wat eiendom was van Efron die seun van Sohar, die Hetiet.

Maar ook uit die onderhandelinge met hom blyk dat Efron baie gewillig is om sy grafkelder beskikbaar te stel, maar nie werklik om dit te verkoop nie.

Tog hou Abraham vol.

Hy gaan deur om te onderhandel totdat hulle uiteindelik toegee om te verkoop.

Ons teks is die koop- en verkoopkontrak.

In daardie dae het dit nie op papier gebeur nie, maar mondeling.

Ons teks bevat al die vereiste inligting.

Die presiese prys word genoem.

Abraham het daarop gestaan dat hy dit vir die volle prys wou koop, vierhonderd sikkels silwer.

Dit was ‘n behoorlike bedrag.

Maar daardeur het daar dus geen enkele twyfel bestaan dat hierdie stuk grond voortaan Abraham se regmatige eiendom was.

Efron die Hetiet kon nie na Sara en Abraham se dood die grond terugvat nie.

 

En, wat ook belangrik is, as ‘n plek aan jou behoort, kan jy ook bepaal wat daar gebeur.

Sê nou maar Abraham sou toegegee het dat sy vrou in een van hulle grafkelders begrawe word ...

Dan moes hy homself ook aan hulle voorwaardes hou.

Sou die Hetiete dit aanvaar het as Abraham die begrafnis op sy eie manier wou doen?

Ek bedoel, in ooreenstemming met sy geloof in die lewende God, en nie volgens hulle heidense gewoontes nie?

En wat van later?

Hoe lank sou hulle toelaat dat haar beendere daar lê?

En sou haar liggaam later ook betrek geword het in die rituele wat die heidene vir hulle dode opgevoer het?

 

Daarom ding Abraham nie af nie.

Dit moes vir almal duidelik wees dat hy die graf wettiglik gekoop het vir die volle prys.

En dit het in die aanwesigheid van getuies gebeur.

Ook vind ons ‘n beskrywing van wat presies gekoop is en waar dit geleë was.

Nie net die grafkelder nie, maar ook die heuwel.

Ook die omliggende veld, ook al die bome binne die grense van hierdie stuk veld.

Al hierdie is amptelik oorgedra aan Abraham in die aanwesigheid van die Hetiete wat in die poort van die stad saamgekom het.

Die poort was in daardie tyd die amptelike plek waar transaksies en oordragte plaasgevind het.

 

Gemeente, dit was die eerste stap rigting die vervulling van die belofte.

Ja, dit was uiteindelik die HERE wat dit vir Abraham gegee het.

Want die HERE het hom geseën en hom ryk gemaak en so in staat gestel om die grond regmatig te koop vir die volle bedrag.

Later sou die HERE sy belofte verder vervul, al het dit nog ‘n lang tyd geduur.

Abraham se kleinseun, Jakob en sy gesin, moes eers na Egipte uitwyk.

Daar moes Abraham se nageslag eers vierhonderd jaar as slawe deurbring.

Maar uiteindelik het dit dan tog gebeur, dat Israel die beloofde land in besit geneem het.

 

Sara se begrafnis was dus ‘n daad van hoop, ‘n geloofsdaad.

Geloof in wat in die toekoms sou gebeur.

Geloof in God se belofte.

Ja, om te begrawe is nie net afskeid neem van die liggaam, nie net die laaste eer aan iemand bewys nie, maar om te begrawe is ‘n daad van hoop.

 

Dit was ‘n bewuste keuse van Abraham.

Want hy kon ook anders besluit het.

Hy kon ook haar liggaam behandel het – soos die Egiptenare gewoond was om te doen en redelik algemeen was in daardie tyd onder die ryk mense – sodat haar liggaam ‘n mummie sou word.

En dan kon hy haar liggaam terugvat na Ur, om haar by te lê in die familiegraf daar.

Dit was belangrik om by jou familie, jou voorvaders begrawe te word.

Maar, Abraham het sy vrou se liggaam dus nie na Ur teruggevat nie.

Ons weet dat so iets later wel sou gebeur met die liggaam van Josef.

Josef het in Egipte gesterf, en sy liggaam is gebalsem om ‘n mummie te word, en so is dit bewaar tot die uittog.

Sy nakomelinge, die Israeliete, het sy gebeente, soos dit in Exodus 13:19 staan, saamgevat na die beloofde land.

Die feit dat Josef op sy sterfbed opdrag gegee het om dit te doen, was ‘n teken dat hy God se belofte geglo het.

God het naamlik belowe dat die stamme van Israel nie vir altyd in Egipte sou bly nie, maar dat God hulle sou terugbring na die beloofde land.

Josef het die belofte geglo, en daarom moes sy beendere bewaar word tot die dag van die uittog.

Hy het nie geweet hoe lank dit sou duur nie, dat dit meer as 400 jaar sou duur nie.

Tog het dit gebeur!

Moses het Josef se stoflike oorskot saamgevat.

En nadat die Israeliete hulle in die beloofde land gevestig het, is sy beendere begrawe, soos ons in Josua 24:32 kan lees: “Ook die gebeente van Josef wat die kinders van Israel uit Egipte saamgebring het, het hulle begrawe in Sigem, op die stuk grond wat Jakob van die kinders van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke gekoop het, en wat die kinders van Josef as erfdeel ontvang het.” 

 

Dit was ‘n daad van geloof. Josef het geglo dat God se belofte sal uitkom, net soos sy oupagrootjie Abraham geglo het.

Ons teks, om die eerste punt saam te vat, is dus ‘n geloofsdaad deur Abraham.

 

(Tema: Die begrafnis van Sara getuig van ‘n vaste hoop in God se belofte

1 Abraham koop ‘n graf in geloof)

 

2 Die gelowiges begrawe deur die eeue in geloof

 

En so sien ons dieselfde patroon deur die eeue onder God se volk.

Die gelowiges word in hoop begrawe.

Hoop op iets wat nog onsigbaar is, wat nog nie gerealiseer het nie.

Hoop ten spyte van wat dit wat sigbaar is, naamlik dat die liggaam vergaan en, soos Job gesê het, tot stof terugkeer (Job 34:14).

Ja die HERE self het dit vir Adam gesê: “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Gen 3:19)

Maar gelukkig het die HERE nog meer gesê.

Hy het iets aan Abraham en Sara beloof en daarop het hulle gehoop.

Daarom het hulle die stukkie grond as graf gekoop.

Daarom het Abraham Sara juis daar begrawe.

Daar, in die beloofde land.

En die profeet Jesaja sê:

“U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon!” (Jes 26:20)

Pragtige, verstrekkende belofte wat Jesaja namens die HERE aan die volk gee.

Daarom het die kinders van die HERE hulle dooies begrawe met die hoop op die wederopstanding.

Ook is Christus se liggaam nie verbrand nie, dit is begrawe in hoop.

‘n Hoop wat in sy geval nie lank geduur het om verwerklik te word nie, want na drie dae het Hy opgestaan!

Dit was die belangrikste gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis nog.

So belangrik dat al die gelowiges van die Nuwe Testament besef dat dit ook sal gebeur met elkeen wat in Hom glo.

Daarom het die vroeë Christene hulle dooies begrawe, net soos Jesus.

Hulle het hulle Heiland hierin nagevolg, met die vaste hoop dat dieselfde met hulle liggame sal gebeur.

Dit sal in heerlikheid opstaan.

 

Om lyke te veras was baie algemeen in daardie tyd.

Dit was die gebruiklike manier in die Romeinse Ryk.

Dit het saamgehang met die gangbare godsdienstige opvatting dat die liggaam ‘n kerker, ‘n gevangenis, is vir die siel.

Daarom is dit goed as die liggaam verbrand word.

Daar was geen geloof in die wederopstanding van die liggaam nie.

Dit is as ‘n belaglike idee beskou.

Die Griekse filosowe het vir Paulus uitgelag toe hy dit geopper het (Hand 17:32).

So, teen die gangbare gebruik in, het die vroeë Christene bewus hulle geliefdes begrawe.

Vandag is die katakombes, die kilometers en kilometers lange gange wat onder Rome uitgegrawe is, ‘n stille getuie daarvan.

Wie ooit in Rome kom, moet absoluut ‘n katakombe besoek.

Ontroerend hoe mens vandag nog steeds Bybeltekste, Christelike simbole, en Bybelse afbeeldings daar kan vind.

Soos byvoorbeeld die afbeelding van Lasarus wat deur Christus uit die dood opgewek is.

Wat ‘n getuienis van hoop, van geloof, in die toekoms!

So het die vroeë Christene gevolg in die voetspore van Abraham wat vir sy vrou Sara begrawe het.

So het die Christene deur die eeue in daardie voetspore gevolg, tot vandag toe.

Wie op Zandfontein tussen die grafte loop, word vertroos deur al die Bybeltekste op die grafstene.

Stille getuies, net soos die katakombes, van hoop op die wederopstanding van die liggaam.

Wat ‘n ryke tradisie waarin ons mag staan!

Wat ‘n kragtige getuienis van geloof, as ons ‘n geliefde begrawe, net soos Christus begrawe is, maar met ‘n verheerlikte liggaam opgestaan het.

En soos Abraham die belofte van die beloofde land ontvang het – aan jou sal Ek hierdie land gee – net so ontvang die gelowiges dit vandag ook.

Ons eindbestemming is nie ‘n sielebestaan in die hemel nie, maar hierdie aarde.

Soos Christus self beloof het:

“Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” (Matt 5:5)

 

Nou is daar ‘n misverstand dat Christene sou glo dat God nie ‘n liggaam kan opwek as dit veras is nie.

Dit is natuurlik nie waar nie.

In vandag se wetenskaplike terme, God ken die unieke genetiese kode van elke mens.

Hy is die Ontwerper en Skepper daarvan.

As Hy ‘n mens die eerste keer kon skep, dan kan Hy hom ook weer herskep.

 

Deur die eeue was daar ook Christene wat in brande omgekom het.

Daar was ook Christene wat ‘n seegraf ontvang het.

In die vroeë kerk was daar ‘n diskussie tussen ‘n kerkvader en een van die heidense filosowe.

Laasgenoemde het die Bybelse idee van die opstanding van die liggaam ook as belaglik beskou.

Maar die kerkvader het hom geantwoord:

Selfs al verdrink ‘n gelowige in die see, al word sy liggaam deur duisende visse opgevreet, en na ‘n ruk word daardie visse weer deur ander visse opgevreet, nog steeds is God in staat om sy kind se liggaam op te wek.

Hy is almagtig.

Hy wat vir Adam gesê het: “stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer”, Hy is dieselfde God wat gesê het: “daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan” (Joh 5:28-29).

En: “die dode sal onverganklik opgewek word” (1 Kor 15:52).

En: “die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” (1 Thess 4:16)

Dis dus nie dat Christene teen kremasie kies omdat God anders nie kan opwek nie.

Christene kies vir begrawe omdat hulle daarmee hulle geloof in die toekoms bely.

 

Laat ons as gelowiges daarom nie meegaan met die trend in ons samelewing om te veras nie.

Dit is ‘n tradisie met ‘n heidense oorsprong, ‘n ongelowige oorsprong.

Deesdae kies mense vir kremasie veral uit praktiese oorwegings.

Hoewel nie in alle nie, is dit in sommige lande goedkoper.

Ook bespaar dit die kinders die moeite om die graf te moet onderhou.

En sommiges doen dit uit romantiese motiewe, dat jou as gestrooi kan word op ‘n vir jou geliefde plek, dat jy in die sin deel van daardie plek word.

Dat jy opgaan in die pragtige natuur, een daarmee word.

Eintlik ‘n gedagtegang wat sy oorsprong in die reïnkarnasie het, ‘n totaal ander religie as die Christelike geloof.

So sien ons hoe die sekulêre samelewing ‘n invloed uitoefen ook op Christene, hoe hulle ‘n ritueel kies wat moeilik versoenbaar is met die geloof in die opstanding van die liggaam.

Laat ons daarom voortgaan in die tradisie van hoop, wat teruggaan tot op Abraham en Sara en selfs nog ouer.

Begrawe is ‘n geloofsbelydenis.

Nie vir niks klink die Apostoliese Geloofsbelydenis by die oop graf, ook artikel 11:

Ons verwag die opstanding van die liggaam.

Hierdie woorde het die afgelope maande geklink, elke keer toe ‘n gemeentelid se kis in die graf gesak het.

En as Christus nie voor die tyd terugkom nie, mag hierdie woorde hoopvol klink by elkeen van ons se begrafnis.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 68:1,2

Gebed

Skriflesing: Genesis 23

Sb 2:2

Teks: Genesis 23:17-20

Preek

Ps 16:5

Gebed

Geloofsbelydenis: Sb 27:1-5

Kollekte

Ps 105:4,5,7,23,24

Seën