Nie aansporing nie, maar herskepping van die wil

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-07-23
Teks: 
Nav Dordtse Leerreels 3/4,1
Preek Inhoud: 

Een van die eerste woorde wat ‘n baba leer om te sê is pappa of mamma.

Gelowige ouers leer hulle kind ook om al gou amen te sê.

Maar dikwels word ouers ontnugter as die eerste woord wat uit hulle kind se mond kom nie een van hierdie is nie, maar botweg die woord nee.

En spoedig sal elke ouer tot moedeloosheid toe hulle kind hoor sê: ek wil nie, ek wil nie, ek wil nie.

Ouers met klein kinders word al gou uit ervaring oortuig dat die sondeval en die erfsonde inderdaad harde realiteit is.

En vanaand gaan dit veral hieroor: die erfsonde, die sondeval, en veral: die mens se wil, of soos ons by kinders sê: hulle hardnekkige willetjie.

 

Soos ek al eerder verduidelik het, die hele leer van die Skrif vorm ‘n netwerk, ‘n harmonieuse geheel.

Intergrale onderdeel daarvan is die uitverkiesing.

Ons begin vanaand met hoofstuk 3 & 4, waar die fokus val op hoe die uitverkiesing verband hou met die leer van die mens se verdorwenheid, asook wat bekering is – hoe dit werk, en hoe dit met die mens se wil gesteld is.

Die dubbele nommer van hierdie hoofstuk – 3 en 4 – het met die ontstaan te make.

Die Dordtse Sinode het hierdie belydenis opgestel in reaksie op ‘n ander dokument, die sogenaamde Remonstransie.

Daardie dokument, wat 7 jaar voor die sinode verskyn het, is opgestel deur ‘n aantal mense wat gepleit het om anders oor die uitverkiesing te begin dink.

In reaksie daarop het die sinode die Skriftuurlike leer probeer saamvat.

Omdat daardie dokument, die Remonstransie, 5 hoofstukke gehad het, het die Leerreëls ook 5 hoofstukke.

Hoofstukke 3 en 4 van die Remonstransie het egter net een antwoord nodig gehad, wat die sinode toe in een hoofstuk saamgevat het.

Ons begin vanaand met die eerste paragraaf van daardie hoofstuk.

 

Tema: Nie aansporing nie, maar herskepping van die wil

 

Net om u geheue te verfris, in elkeen van die Remonstrante se vyf hoofstukke het hulle ‘n alternatiewe idee aan die orde gestel, wat afgewyk het van die klassieke Reformatoriese leer.

In hoofstukke 3 en 4 het hulle die volgende stellings gemaak:

Hoofstuk 3: Die mens is nie so verdorwe dat daar niks goeds in hom oorgebly het nie.

Hierdie stelling is gemaak teen die agtergrond van die opkomende humanisme aan die begin van die 17de eeu.

En hoofstuk 4: Die mens kan kies om Christus se genade te verwerp.

In laasweek se preek het ons al bietjie hieraan aandag geskenk.

Die feit dat die Remonstrante beweer het dat die doel van Christus se kruisoffer was om die moontlikheid tot versoening weer vir die mensheid oop te maak.

En soos Adam destyds voor ‘n T-splitsing gestaan het, waar hy reg of verkeerd kon kies, so kom die mensheid danksy Christus se kruisoffer nou weer voor ‘n T-splitsing.

God gee hom weer die kans om te kies.

En weer is dit dus moontlik dat ‘n mens verkeerd kies – selfs, sê die Remonstrante, is dit teoreties moontlik dat die hele mensheid kies om Christus se genade te verwerp.

Maar teoreties is dit natuurlik ook moontlik dat die hele mensheid vir Christus sal kies, wat sal beteken dat die hel leeg gaan wees.

En na daardie gedagte het sommige Remonstrante inderdaad geneig, die opvatting van die sogenaamde alversoening, in hulle optimisme oor die mens en die feit dat sy wil nie heeltemal verdorwe geraak het nie.

 

Nou in reaksie op hierdie stellings lê die Dordtse Leerreëls rustig die Bybel uit.

Dit is waar, in die begin het die mens ‘n volmaakte wil gehad.

Van die begin af is hy na die beeld van God geskep.

Verstandelik was hy toegerus met alle kennis van sy Skepper wat hy nodig gehad het.

Sy wil en sy hart, sy hele gesindheid was suiwer.

Hy was volkome aan die HERE en sy diens toegewy.

Maar toe kom die duiwel in die prentjie.

Op sy ingewing het die mens homself van sy vrye wil beroof.

In pleks daarvan het hy oor homself blindheid, verskriklike duisternis gebring.

Voortaan was sy verstandelike onderskeidingsvermoë heeltemal verdorwe.

Dit is totaal ontwrig deur sy opstand, rebellie, teen sy Skepper.

Sy wil en sy hart het hard geword, sê paragraaf 1.

Hard beteken verhard.

Dit wil sê, sy hele gesindheid het nou vyandig geword, aggressief, opstandig teen die Skepper en sy wil.

Ja, die mens het nog ‘n brein, hy het nog steeds vele talente, maar dit alles word nou meegesleur in sy opstand teen God, en pleks van dat dit in diens gestel word van Hom, word dit nou ingespan om God te verloën, om Hom uit die lewe weg te redeneer.

Die mens se brein, sy wil, sy energie, sy alles word nou gebruik om presies die teenoorgestelde te doen as waarvoor dit bestem was.

 

Die vraag is nou egter, hoe kan die mens weer herstel word?

Hoe kan daar bekering kom, omkering van hierdie verskriklike pad waarop hy homself begeef het?

Beteken die mens se verdorwenheid dat hy wel gered wil word, maar dat hy uit homself nie in staat is om gered te word nie?

Of, beteken die mens se verdorwenheid dat hy, behalwe vir die feit dat hy nie self in staat is om homself te red nie, ook nog onwillig is om gered te word?

Gemeente, rondom hierdie twee vrae – wat op die oog af baie dieselfde klink – kom die verskillende vertrekpunte tussen Remonstrante en die Gereformeerdes aan die orde, en dit hoop ek vanaand te verduidelik.

 

Kom ons begin by die Remonstrante.

Die absolute noodsaak van genade het vir hulle soos ‘n paal bo water gestaan.

Sonder Christus se genade kan geen mens gered word nie.

Buite Christus is daar geen weg tot redding nie.

Maar die verskilpunt kom in by die aard van die sondeval.

Het dit gelei tot algehele verdorwenheid, of gedeeltelike verdorwenheid?

Soos in die inleiding genoem, kenmerkend vir die mens voor die sondeval was dat hy heilig was.

Dit beteken, volledig aan die HERE toegewy, om Hom te dien, om die taak te vervul wat hy ontvang het, naamlik om God se beelddraer, sy verteenwoordiger op aarde te wees.

Op aarde het die mens die hoogste gesagsposisie van alle lewende wesens ontvang.

In die sin het hy God verteenwoordig.

Alles op aarde is aan die mens onderwerp, omdat God hom oor alles aangestel het om daaroor te regeer en in wysheid volgens sy wil te bestuur.

 

Maar, ons ken die geskiedenis, Satan het die mens, Adam en Eva, met sy leuens verlei.

Dit staan bekend as die sondeval.

Maar gemeente, en hieroor gaan dit, die sondeval was nie net ‘n eenmalige misstap nie.

Eintlik is die term sondeval verwarrend.

Ons vind die woord sondeval nêrens in die Bybel nie.

‘n Meer passende woord sou wees: rewolusie.

In die paradys het ‘n rewolusie plaasgevind.

Adam en Eva het gerebelleer teen hulle Skepper.

Mens kan ook sê: troubreuk, of verbondsbreuk.

Die profeet Hosea sê dit presies soos volg:

“Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel.” (Hosea 6:7)

Sondeval, oftewel rewolusie, bondsbreuk, daardie diep ingrypende gebeurtenis het die geskiedenis vergoed verander.

 

En die vraag is nou: Wat was in impak van die sondeval?

Want hier kom ‘n verskil in tussen Gereformeerdes en Remonstrante aan die lig.

Laasgenoemdes het erken die mens het in sonde geval.

Maar, het hulle beklemtoon, die wil waarmee die mens geskape is, was wel nog daar.

En daardie wil kan die mens gebruik as hy opnuut die moontlikheid van God ontvang, nou na Christus se betaling vir die sonde, om te kies.

Die Remonstrante het die mens se wil as ‘n neutrale iets gesien.

Ja, die mens het verkeerd gekies, maar ‘n volgende keer kan hy reg kies.

 

Gemeente, dit is nie nodig om te verduidelik dat hierdie siening op die sondeval nie diep genoeg gaan nie.

Juis daarom het ek beklemtoon dat wat plaasgevind het ‘n rewolusie was.

En as gevolg daarvan het God die mens verwyder uit sy hoë posisie as beelddraer, as rentmeester.

Hy is summier afgedank.

En, volgens God se waarskuwing, hy het die dood oor homself gebring.

 

As die Leerreëls nou skryf dat die mens blind geword het, en dat sy verstand verduister is, beteken dit nie dat hy letterlik blind geword het, en dat sy verstand dement geraak het, dat hy sy IK verloor het nie.

Maar die gevolg van sy rewolusie was dat al hierdie uitmuntende gawes waarmee hy geskep is, nou voortaan deur hom gebruik word, laat ons eerder sê misbruik word, in sy opstand teen God.

Hy knyp sy oë toe, hy wil nie meer sy Skepper sien nie.

Maar hy maak sy oë oop om te kyk waar hy afgode kan vind.

Hy verduister sy verstand, hy wil nie meer aan sy Skepper dink nie.

Maar met daardie selfde verstand dink hy nuwe afgode uit.

Ja, die gevalle mens is nog steeds hoogs intelligent.

Maar daardie gawes waarmee hy geskep is, misbruik hy nou in sy opstand.

Pleks van om met sy verstand die ware God te leer ken, gebruik hy dit nou om sy eie afgode uit te dink.

Pleks van met sy mond die ware God te aanbid, gebruik hy dit nou om die afgod se lof te sing.

Calvyn noem veelseggend die sondige mens se verstand ‘n fabriek wat aan die lopende band afgode produseer.

 

En wat sy wil betref, wel dis duidelik, hy wil niks meer met sy Skepper te make hê nie.

Ja, hy het nog sy wil, maar die het verdorwe geraak.

Daar’s net een ding wat hy nog wil, en dis rebelleer, rebels wees.

Soos Luther geskryf het, die mens se wil is gekneg.

Dit het ‘n slaaf geword van die Satan.

 

Samevattend, waar die Remonstrante die mens se wil steeds as ‘n neutrale iets beskou het, bely ons dat die Skrif sê dat die mens se wil gekneg is.

Daarom moet die mens se wil ook herstel word.

Die Gees moet ook ons wil herskep.

Voor die sondeval, oftewel voor die rewolusie, was Adam se wil suiwer.

Hy wou met graagte die HERE dien.

Maar die rewolusie het alles omgekeer.

Dit is die oorspronklike betekenis van rewolusie, iets word omgekeer.

Wat bo was is nou onder.

Wat reg was is nou verkeerd, en wat verkeerd was is nou reg.

 

Net as voorbeeld, die gees wat daar tydens die Franse rewolusie geheers het, laat mens dit bietjie verstaan.

Na die rewolusie het die gewone volk geredeneer:

Omdat die adel altyd aan die linkerkant van die pad gery het, gaan ons nou aan die regterkant ry.

Omdat die adel een ding gedoen het, gaan ons nou uit reaksie die omgekeerde doen.

Daarom ry mense vandag nog steeds aan die regterkant van die pad in Frankryk.

Dit is iets wat met die rewolusie begin het.

En so ook in daardie lande wat deur Napoleon ingeneem is, of wat met die rewolusie gesimpatiseer het, ook daar het hulle aan die regterkant van die pad begin ry.

 

Ag gemeente, nader aan huis, elke pa en ma sal kan vertel hoe die gees van die rewolusie in hulle kind is.

Al van vroeg af kom dit uit, dink aan die bekende uitdrukking ‘terrible two’s’.

Elke mens word met daardie opstandige gesindheid gebore.

Ek wil nie, ek wil nie, ek wil nie ...

En dit is net deur die werk van die Gees dat dit uit ‘n kind, uit elke mens, se lewe uitgewerk, uitgestamp, moet word.

Die Gees gebruik daarvoor byvoorbeeld ouers, as hulle hulle kinders ‘n Godvresende opvoeding gee, hulle opvoed – soos dit heet – in die tug van die Here.

Die Remonstrante was in wese Pelagiaans, as hulle beweer het dat die wil van die mens neutraal is.

In die bylae by hierdie hoofstuk, die Verwerping van die Dwalings, staan daar in paragraaf 7:

“Dit is suiwer Pelagiaans en in stryd met die hele Skrif”.

Want die Remonstrante praat nie oor die herskepping van die wil nie, maar hulle gebruik ’n baie sagter term, naamlik die aansporing van die wil:

“God bewerk”, aldus die Remonstrante, “die instemming van die wil inderdaad op geen ander manier as deur hierdie aansporing nie.”

Hulle het selfs gepraat van ‘n “ligte aansporing”.

Of hulle het die term gebruik “aansporende genade” ...

 

Hoor u die verskil, gemeente?

Herskepping teenoor aansporing.

En dit gaan terug op hoe mens daardie tragiese gebeurtenis in die paradys beoordeel:

Was dit slegs ‘n ongelukkige val in sonde, slegs ‘n verkeerde keuse wat gemaak is ...

Of was dit rewolusie, rebellie, bondsbreuk?

 

Iemand het die mens vergelyk met ‘n motorkar op ‘n afdraende (C Pronk Expository Sermons on the Canons of Dordt).

‘n Kar se wiele is so gemaak dat dit vorentoe of agtertoe kan rol.

Maar op ‘n afdraende pad wil dit net een kant toe rol.

Dit het nie ‘n keuse nie, dit kan nie meer anders nie.

As jy dit loslaat, gaan dit begin rol en al hoe meer spoed optel.

Dit is hoe die mens na die sondeval is.

Hy staan nie op ‘n gelyk stuk pad met die moontlikheid om beide kante op te gaan nie.

Hy is op die afdraende oppad na die afgrond.

Sy wiele wil net een kant toe, dit kan niks anders meer nie.

So is die opstandige mens oppad na die hel.

Hy gaan vanself, niemand hoef hom te stoot nie.

Hy geniet dit selfs om spoed op te tel.

Hy word kwaad as mense hom probeer stop.

Dit gaan van kwaad tot erger.

 

Was dit nie presies wat met Saulus – Paulus – aan die hand was nie?

In sy lewe het dit ook van kwaad tot erger gegaan.

Dink aan sy opstand teen Christus, die vervolging van die gelowiges.

As Christus Hom nie kragdadig gestuit het in sy spore op pad na Damaskus nie, hoe ver sou hy nog gegaan het?

Net so moet jy en ek kragdadig deur die Gees in ons spore gestuit word, want van nature wil ons net een kant toe boender.

Soos die swaartekrag vir die kar geen keuse los as om afdraendepad te kies, so bly daar na die rewolusie vir ons geen keuse oor nie.

As God dit nie self keer nie, sal ons voortboender in ons opstand teen Hom.

 

Maar God sy dank, sy Seun, Christus, het in die pad gaan staan, en Hy keer ons in ons onbesuisde vaart na die afgrond.

Hy bring ons tot stilstand, Hy stuit ons in ons opstandige spore.

Hy draai ons om – dis bekering.

Soos Jesus gesê het: “sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:5).

En Hy gee ons deur sy Gees die krag om weer die ander kant op te gaan, bergopwaarts.

Sy Gees herskep en vernuwe ons wil, dat ons begin insien waarmee ons besig was, dat ons daaroor begin skaam kry, dat ons ‘n afkeer begin kry van ons opstandige ou mens, dat ons steeds meer verlang om terug te keer na daardie hoë plek, daardie posisie waarin God die mens oorspronklik geskape en geplaas het – as sy beelddraer.

Soos die Skrif sê: Die Heilige Gees het Christus gestuur om ons te oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Joh 16:8-11).

Dis wat die Gees doen as Hy ons teen die bult uitstoot.

 

Ek kom terug by wat ek in die inleiding genoem het.

Die uitverkiesing is onderdeel van die hele netwerk van die leer van die Skrif.

Daarby hoort ook die leer van die sondeval, of soos ek verduidelik het, die leer van die mens se rewolusie in die paradys.

Daar gaan die paaie uiteen – hoe verklaar jy daardie rewolusie?

En, wat was die uitwerking daarvan op die mens se wil?

Het die mens se wil daarna slegs aansporing nodig, of moet dit volledig herskep word?

 

Gemeente, as ek sou sê: Here, ek wil gered word, maar ek kan nie. Kom my te hulp!

As ek dit sou sê, dan is ek ‘n Remonstrant.

Luister weer na die stelling: Here, ek wil gered word, maar ek kan nie. Help my!

Dit is Remonstrants!

Dit is nie waar nie.

Want uit myself wil ek nie eers gered word nie.

 

Of nog ‘n voorbeeld, as ek sou sê:

Ek gaan al van jongs af kerk toe, ek het al dikwels gevra dat die Here my sal red, maar ek het tot op hede nog nie ‘n teken, ‘n versekering, ontvang dat ek wel gered is nie.

Gemeente, selfs hierdie stelling is Remonstrants!

Die feit dat jy sê: Ek eht al dikwels gevra dat die Here my sal red.

Want weer eens, van nature vra ‘n mens gewoon nie om gered te word nie.

Van nature is elke mens ‘n vyand van God, stel hy nie belang om deur God gered te word nie.

Daar is net een manier, en dit is wanneer die Heilige Gees jou gewillig maak, in jou die begeerte werk om gered te word, jou toegeknypte oë oopmaak sodat jy begin insien dat jy op die afdraende pad hel toe is, dat dit jou ondergang gaan beteken, en dat jy volledig sal moet omdraai.

 

Daarom, broer, suster, as jy bereid is, as jy in staat is om die volgende te bid:

Here, ek is blind.

Here, ek besef, my lewe moet verander, ja totaal terugkeer na die oorspronklike rigting.

Here, wys my die plaag van my hart.

Here, help my dat ek kan skuldig voel oor my sondes.

Here, ek het die vergewing van u Seun Christus bitter nodig.

Broer, suster, as jy hierdie dinge kan sê, weet dan dat die Gees reeds in jou gewerk het.

Want uit jouself sou jy dit nie gesê het nie.

Jou en my se grootste probleem is dat ons onwillig was, dat ons nie belang gestel het, nie geworry het om gered te word nie.

Maar die Gees werk in jou en my die begeerte, die verlange na redding.

Die verlange om terug te keer na dit wat goed en mooi is.

Hy leer jou om, soos Hy met Dawid gedoen het, vir Christus te vra:

“gee my gewilligheid” – ons het dit nounet gesing uit Psalm 51.

 

Broer, suster, vind hierin vanaand bemoediging.

As die Gees jou nou al so ver gebring het, weet dat Hy jou nie sal los nie, maar dat Hy jou sal terugstoot tot bo op die bult, oftewel jou heeltemal sal herstel in die posisie as beelddraer waarvoor God jou oorspronklik bedoel het.

Daardie goeie werk wat Hy in jou begin het, sal Hy voltooi.

So, daar is ‘n mooi toekoms wat wag.

En gaan voort, hou aan om veel van Hom te verwag!

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Hosea 6 & Johannes 15:1-16

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3 & 4, 1

Tema: Nie aansporing nie, maar herskepping van die wil

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

1. Verduidelik die verskil tussen hierdie twee stellings:

- Die mens wil gered word, maar uit homself is hy nie in staat is om gered te word nie.

- Behalwe vir die feit dat die mens nie homself kan red nie, is hy ook onwillig om gered te word.

2. Wat is ‘n beter woord vir die term sondeval?

3. Waarvoor gebruik die opstandige mens sy verstand?

4. Noem ‘n voorbeeld van die ‘gees van rewolusie’ in ‘n klein kind.

5. Verduidelik die verskil tussen herskepping of aansporing van die wil.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 81:12,13,15

Gebed

Skriflesing: Hosea 6 & Johannes 15:1-16

Ps 51:5,6

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3 & 4, 1

Preek

Ps 22:9,10

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 28:2

Kollekte

Ps 63:1,3,4

Seën