Uit elke volk, stam, geslag en taal

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2023-07-16
Teks: 
Nav Dordtse Leerreels 2,8-9
Preek Inhoud: 

Die tema vir hierdie preek is ‘n aanhaling van woorde uit paragraaf 8.

Dit is ‘n bietjie langer tema as gewoonlik, maar dit is die moeite werd om dit uit jou kop te leer, want daarin word die essensie van die uitverkiesing so mooi saamgevat.

En nie net dit nie, ook die verband tussen die uitverkiesing en ander Skrifwaarhede, soos die leer van die verlossing en die sendingsleer.

 

Tema: Dit was die wil van God dat Christus uit elke volk, stam, geslag en taal hulle sal verlos wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is.

 

Artikel 8 begin met die belydenis dat God se raadsbesluit volkome vry was.

Dit was sy vrye wil om uit te kies.

Vir wie?

Mense uit elke volk en stam en geslag en taal.

Die uitverkorenes kom nie net uit een volk nie.

Selfs in die Ou Testament was dit nie al so nie.

Tussen hakies, ons moet hier wel reg onderskei.

Nie elke keer word die woord uitverkies in die Bybel met dieselfde betekenis gebruik nie.

In die Ou Testament het die HERE die volk Israel uitgekies as sy eiendom om ‘n spesifieke taak op aarde vervul.

Dink aan Jesaja 41:9: “Ek het aan jou gesê: Jy is my kneg; jou het Ek uitverkies ...”

Die spesiale verbond met die Joodse volk was met die oog op hulle doel om die Messias voort te bring.

En ook al in die Ou Testament moes Israel ‘n lig vir die nasies wees.

Daartoe het die HERE sy Woord aan hulle gegee.

Hierdie uitverkiesing van sy volk vir hierdie opdrag beteken nie dat mens daaruit kan aflei dat elke Jood ook vir die ewige lewe uitverkies is nie.

Ook beteken dit nie dat slegs hulle uitverkies is, en niemand anders wat nie Joodse bloed het nie.

Aan ‘n ontelbare menigte het God dus besluit dat die kosbare dood van sy Seun hulle tot voordeel sal strek.

Dit was ‘n ewige besluit, net soos al God se werke van ewigheid af is.

Hy is van niks afhanklik nie, Hy is die bron van alle goeie dinge.

Op sy tyd lei God al hierdie mense se lewens so dat hulle in aanraking met die prediking van die Evangelie kom.

So sorg Hy dat die Heilige Gees die geloof in hulle lewens laat posvat.

Dat deur sy werk hulle verlang na die verlossing van al hulle sondes deur Christus se kruisdood.

En dat deur die Gees se werk in hulle hulle tot die einde in die geloof volhou.

Dit is alles genade. Dit is alles God Drieënig se werk.

Uit al hierdie dinge blyk God se ewige liefde vir al hierdie mense.

En niks sal God keer om sy besluit kragdadig deur te voer nie.

 

Die Remonstrante het geredeneer dat God sy Seun na die wêreld gestuur het om redding vir die mensdom moontlik te maak.

Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy God se toorn teen die menslike geslag weggeneem.

So het Hy dit moontlik gemaak die mensdom om weer na God uit te reik, en vir God om weer na die mensdom uit te reik.

God kan nou weer ‘n nuwe begin met die mensdom maak.

Die mensdom word nou die moontlikheid aangebied om sy vroeëre verkeerde keuse reg te stel – Adam en Eva se verkeerde keuse.

Nou, danksy Christus se kruisdood, kry die mensheid die geleentheid om uit eie vrye wil die regte keuse te maak.

Christus het aan die kruis vir die mensdom gesterf en na Adam se mislukking kom daar dus nou ‘n tweede kans.

Elke mens ontvang nou die keuse om in Hom te glo of om Hom te verwerp.

 

Hierdie redenering klink mooi, tog is daar ‘n aantal skroewe behoorlik los.

Om te begin, as mens die Remonstrante se redenasie volg, dan hou dit in dat die dood van Christus op sig nie ‘n enkele mens se saligheid waarborg nie.

Teoreties is dit moontlik dat elke liewe mens opnuut die verkeerde keuse sou maak – net soos Adam – en hulle vrye wil gebruik om tog weer teen die aanbod van vergewing te kies.

Om, as hulle by die T-splitsing kom, tog weer die verkeerde kant op te draai.

 

As Gereformeerdes stem ons egter nie hiermee saam nie.

Toe God sy Seun gestuur het, het Hy reeds geweet dat sy offer mense gaan red.

Sy dood het nie net die moontlikheid vir redding oopgemaak nie, dit het ook die sekerheid gebring dat die uitverkorenes inderdaad gered gaan word.

Christus se kruisdood is deel van die goue ketting van uitverkiesing tot verheerliking, ‘n ketting wat nie onderbreek sal word nie (Rom 8:28-30).

Hierdie waarheid sluit twee ander scenario’s uit.

Die eerste, die moontlikheid hierbo genoem deur die Remonstrante dat teoreties niemand gered sal word nie, omdat almal weer verkeerd kan kies.

Maar ook aan die ander kant die moontlikheid dat die hele mensdom gered gaan word – ‘n idee wat sommige Remonstrante ook begin opper het, die sogenaamde alversoening.

 

Die leer van die uitverkiesing is daarom onlosmaaklik verbonde aan die leer van beperkte versoening.

Dalk onthou u die eerste preek wat ek oor die Dordtse Leerreëls gehou het, toe ek na die Engelse woord TULIP verwys het.

Elke letter van TULIP verwys na ‘n kernwaarheid wat ons in die Leerreëls bely.

En die L staan vir limited atonement, beperkte versoening.

Dit is nie die hele mensdom wat salig sal word nie.

Daar is die donker werklikheid van die hel.

Maar daardie groep – en soos reeds genoem – dit is ‘n ontelbare menigte, daardie groep wat die Vader aan sy Seun toevertrou het, hulle sal sonder twyfel gered word.

Christus het na die aarde te kom om hulle te red wat die Vader Hom gegee het om te red.

Hulle is die uitverkorenes.

In die Skrif word hulle ook met ander name beskryf, soos sy skape, sy kudde, ook wel sy vriende, en ook sy kerk.

So, toe Jesus na die aarde gekom het en sy lewe opgeoffer het, het Hy reeds presies geweet vir wie Hy dit gaan doen.

Dis nie, soos die Remonstrante sê, dat Christus gesterf het en opgestaan het, en dat Hy nou afwag in die eeue wat daarop volg om te kyk wie van sy versoening, sy aanbod, gebruik gaan maak of nie.

Christus het reeds geweet.

God het ‘n groot menigte mense aan Hom geskenk.

En miskien tot vervelens toe, maar dit kan nie genoeg gesê word nie: Hierdie groep mense het geen enkele meriete in hulleself gehad nie.

Hulle is, net soos die ander, gevalle en sondige en skuldige mense.

Maar Christus se sending na die aarde was om hulle tog te red.

Dit was die Vader se wil wat Hy moes uitvoer.

Wat Jesus oor Saggeüs gesê het, geld vir ons elkeen: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (Luk 19:10)

Dus, toe Hy na die aarde gekom het, was Hy nie op die uitkyk na mense wat moontlik in Hom belanggestel het nie.

Hy het vooraf geweet niemand sou Hom inwag nie.

Geen ereboog, geen koninklike ontvangs nie.

Slegs ‘n voerbak, die krip in Betlehem.

Niemand het Hom gesoek nie, selfs nie een nie!

Ja selfs sy eie verbondsvolk het Hom nie ingewag nie, hulle het nie belanggestel nie.

Hy het na sy eiendom gekom, maar sy eie mense het Hom nie aangeneem nie – Johannes 1:11.

Nieteenstaande het die Vader wel sy Seun gestuur om hulle te soek.

 

Die term wat Jesus vir die uitverkorenes gebruik, is in die sin veelseggend – sy skape.

Hulle is ook net soos al die ander verlore skape.

As ‘n skaap verdwaal en wegraak, kan dit nooit self die pad terugvind na die kraal nie.

Dit is nou maar soos ‘n skaap is, ‘n dom dier.

Dom onnosel.

Een van die diere met die minste breins.

Die uitverkorenes word byvoorbeeld nie met ‘n hond of ‘n perd vergelyk nie.

Hulle kan dikwels die pad terug huistoe vind.

Daar is verhale van honde wat oor honderde kilometers terug huistoe geloop het.

En in die Boere-oorlog, as ‘n boer van sy perd afgeskiet is, het die perd dikwels alleen terug plaas toe gestap.

‘n Skaap kan dit nie doen nie.

In Jesaja 53 staan daar: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop” (Jes 53:6).

Die enigste manier hoe ‘n skaap kan terugkom, is as dit teruggebring word.

As ‘n herder dit op sy skouers optel en terugdra kraal toe.

Redding is daarom ‘n saak wat slegs van een kant af kom.

Die skapie loop nie na die herder toe sodat hulle mekaar halfpad vind nie.

Die skapie het klaar by die krans afgeval, en die herder moet hom optel en terugdra.

 

Dit is trouens, gemeente, dieselfde ervaring van ‘n sendeling.

As hy êrensheen uitgestuur word en daar aankom, sit daar nie mense en wag vir hom nie.

Dis nie dat hulle reeds ‘n kerk gebou het waarin hy kan gaan preek nie.

Die sendeling moet die Evangelie begin preek, en dit is slegs daarna, en daardeur, deur daardie nuus, dat mense se denke, hulle gesindheid sal begin verander, waardeur daar belangstelling in hulle gewek sal word.

Altans, by sommiges.

Ander gaan die blye boodskap verwerp.

Dit is deur iemand baie mooi soos volg verwoord:

Christus stuur sy predikers uit na hulle wat die Vader aan Hom gegee het en vir wie Hy gesterf het.

Maar die prediker weet nie vooraf wie dit is nie.

Al wat hy weet is dat hy geen enkele volk of stam of geslag of taal mag oorslaan nie.

Want daaroor is die Skrif baie duidelik:

Die groot skare van uitverkorenes sal kom uit elke volk en stam en taal en nasie.

 

In Suid-Afrika se geskiedenis was daar tye wat sommige mense beweer het:

Hierdie oorspronklike inwoners van die land is heidene, hulle is afstammelinge van Gam, hulle is nie uitverkies nie.

Toe die eerste sendeling in Suid-Afrika aankom, het sommige koloniste vir hom gesê dat dit onmoontlik is om die Hottentotte te bekeer.

Dit is hartseer dat die leer van die uitverkiesing soms deur Gereformeerdes so verdraai is.

Want met so ‘n uitspraak neem sulke mense as ‘t ware op God se troon plaas deur te sê: Ons weet vooraf dat daardie stam of nasie nie uitverkies is nie, en dus is sendingswerk onder hulle ‘n mors van tyd.

Geliefde gemeente, dit is so duidelik dat die Dordtse Leerreëls totaal iets anders sê – paragraaf 8:

“Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis ... uit elke volk, stam, geslag en taal hulle ... sal verlos wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is.”

Geen sendeling weet vooraf wie dit gaan wees nie, watter mense dit is uit die groep wat daar voor hom sit.

Al wat hy weet is dat deur God se voorsienige leiding hy ook na hierdie volk of stam of nasie gebring is om die Evangelie te preek.

En al wat hy met sekerheid kan weet is dat die Woord van God nooit leeg tot Hom sal terugkeer nie.

Dit gee die sendeling vertroue en moed om voort te gaan, al voel dit soms hy ploeg op rotse.

 

Gemeente, al is die Dordtse Leerreëls soms misbruik om sendingswerk te ontmoedig, is dit eintlik die belydenisskrif wat die meeste oor sending handel, wat sendingswerk die meeste aanmoedig.

Weer eens sien ons hoe die leer van die Skrif soos ‘n netwerk is.

Wie een element uithaal, tas die hele netwerk aan.

In die vorige preke oor die Dordtse Leerreëls het ons gesien dat wie die leer van die uitverkiesing verwerp, ook die leer van die versoening gaan verloor.

In hierdie preek sien ons dat wie die uitverkiesing verkeerd verstaan, die sendingsleer verloor.

 

In verskeie paragrawe van die Leerreëls kom die noue band tussen uitverkiesing en sending aan die orde, dat Christus sy uitverkorenes versamel uit elke volk en taal en stam en nasie.

Dink byvoorbeeld aan die oproep in paragraaf 5: “Hierdie belofte moet aan alle volke en mense [na wie God sy Evangeliedienaars stuur] sonder onderskeid en willekeur verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.”

Ja die leer van die uitverkiesing spoor ons aan tot sendingswerk, dit onderstreep die dringendheid van sending en evangelisasie.

Want dit is hoe Christus sy kerk vergader uit alle hoeke van die aarde.

En in sy alwysheid het Hy vir ons ook daarin ‘n taak gegee, ‘n taak wat ons absoluut nie mag verwaarloos nie.

 

Ja Christus sal sy kerk versamel uit elke volk en stam en taal en nasie.

‘n Wesenlike onderdeel van Christus se werk is ook inderdaad – bely ons in paragraaf 9 – dat hierdie mense lidmate word van sy kerk.

Die kerk is Christus se geskenk wat die gelowiges by die verlossing bewaar, wat hulle in staat stel om te volhard tot die einde.

Die kerk wat tot stand kom deur die werk van die Gees en die Woord.

Daar word hulle bewaar en ook voorberei om ‘n stralende bruid vir die Bruidegom, Christus, te wees.

Om gereed te wees, hulle lampe brandende, wanneer Hy terugkom.

Om, soos die Leerreëls sê, met volharding Hom te dien, en nie aan die slaap te raak nie.

In die kerk leer ons om saam met Paulus te sê, wat homself die grootste van alle sondaars noem:
Die Seun van God het ook my liefgehad en Homself vir my oorgegee (Gal 2:20).

 

Gemeente, dit alles maak ons as mense baie nederig.

En dikwels word Gereformeerdes verwyt dat hulle ‘n minderwaardigheidsgevoel by mense veroorsaak.

Dit is egter ‘n verkeerde verstaan van die Evangelie.

Dis net dat ons geloof, ons toekoms, op ‘n vaste fondament gebou moet word.

Slegs Christus is daardie fondament.

Ons redding is volledig eensydig, eensydig beplan, eensydig betaal en eensydig bewerkstellig, deur Vader, Seun en Gees.

Die Here Jesus weet dat as iets aan ons oorgelaat word, ons redding gaan misluk.

Christus het nie gekom om hulle wat reeds redelik regverdig is, of hulle wat reeds op Hom wag, te red nie.

Hy het gekom om sondaars tot bekering en geloof te roep (Matt 9:13).

Wie deur Hom gedra word, soos ‘n skapie, voel dalk onwaardig, maar wel baie geliefd, selfs baie vereerd dat die Herder spesiaal die 99 ander laat staan het om juis vir hom te soek.

Wat ‘n voorreg!

Dit lei nie tot minderwaardigheid nie, dit lei tot dankbaarheid en selfversekerdheid, in die sin hoe Romeine 8:31-34 dit uitdruk:

“As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”

 

Geliefde gemeente, as ons om ons heen kyk, sien ons hoe God se plan nog op koers is.

Ook vandag in ons tyd bestaan die kerk.

Om ons heen sit daar nog gelowiges wat deur Christus se Gees en Woord hier in die kerk geleer word om te volhard tot die einde.

Elkeen van ons kan teruggaan in ons persoonlike geskiedenis, en waarneem hoe God met elkeen van ons ’n pad gestap het.

Ons het nie self gekies om gedoop te word nie, ons het nie self gekies om in ’n gelowige gesin op te groei nie.

Dit alles het die Vader in sy verkiesende liefde reeds vir ons voorberei.

En dieselfde geld op die sendingsveld.

Dink aan hoe Paulus van stad tot stad getrek het op sy sendingsreise.

Daardie stede het hom nie uitgenooi nie.

So kan mense op die sendingsveld ook vandag getuig dat God hulle redding voorberei het.

God het gesorg dat ’n sendeling uitgestuur is, dat hy juis in hulle land, hulle stad, hulle woonbuurt, begin preek en die huise begin besoek het.

Dit alles is al gereël lank voor die dag wat die sendeling op daardie persoon se deur geklop het, ja die persoon was toe nog salig onbewus daarvan.

Ja selfs, leer die Skrif, dit alles was al beplan lank voor ons geboorte, van ewigheid af.

Onverstaanbaar, maar baie gerusstellend en bemoedigend.

Want Hy wat so met ’n goeie werk begin het, sal dit ook voltooi.

Hy sal nie laat vaar die werke van sy hande nie.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 107:1

Gebed

Skriflesing: Jesaja 41:1-10 & 49:1-7

Sb 24:5,6

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 2,8-9

Preek

Ps 87:1-5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 65:2-4

Seën