Die opstanding van ons liggaam is ’n aansporing om elke dag vir Christus te werk

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2022-08-14
Teks: 
1 Korinthiërs 15: 58
Verwysing: 
Preek nr. 2225
Preek Inhoud: 

Bybelgedeelte
Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

Doel:

-    Verstaan dat die opstanding ’n beslissende betekenis het
-    Aanmoedig om God hartelik en oorvloedig te dien.

Inleiding: Jesus het opgestaan. Wat nou?

Die opstanding van Jesus was ’n liggaamlike opstanding. Dit het groot gevolge vir elke gelowige. Ons mag uitsien na die opstanding van ons liggame, en na die hereniging met geliefdes, om saam met God te leef.

Wat sal ons dan met die res van ons lewe maak? Moet ons maar net wag tot die wederkoms en ons opstanding?

Dit laat my dink aan sekteleiers in Japan en die VSA wat hulle volgelinge mislei het. Hulle het beweer dat hulle die spesifieke dag van die wederkoms geweet het, en dit sou (natuurlik!) binnekort gebeur.
-    21 Mei 2011 was die datum vd wederkoms wat Harold Camping voorspel het. Mense het hulle huise verkoop om ’n advertensieveldtog om die datum aan te kondig, te betaal. 
-    In ’n ander geval het die leier al sy volgelinge doodgeskiet, en die gebou aan die brand gesteek. (Waco, TX, 1993)
Hulle lewens op aarde het duidelik geen waarde meer gehad omdat hulle gedink het die wederkoms was om die draai.

Hulle het hul Bybel nie mooi gelees nie, 
Eerstens het Jesus baie duidelik gesê: niemand ken die dag of die uur nie.
Maar niemand moet ophou werk omdat die wederkoms om die draai is nie. Paulus maak dit hier duidelik. Hy het ’n hoopgewende boodskap vir ons. Ek kan moeilik aan ’n ander vers dink wat ons meer aanspoor om aan die werk te gaan, as hierdie vers.

1 Korinthiërs 15 is wel die heel duidelikste hoofstuk in die hele Bybel oor die opstanding. En kyk: die konklusie van hierdie hoofstuk is: ons het hoop vir die toekoms, én ons werk vandag en môre is sinvol!

Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

-    Die eerste gedeelte is ’n aansporing: hoe ons die werk van die Here moet doen
-    Die tweede gedeelte is die rede.

Kom ons begin by die rede: die eerste punt.
Daarna luister ons na die gevolge vir ons werk hier op aarde: met watter houding / mindset ons daardie werk behoort te doen.

Tema: die opstanding van ons liggaam is ’n aansporing om elke dag vir Christus te werk
1. ons werk is sinvol!
2. Wees daarom onvermoeibaar oorvloedig in die werk vd Heer.

1.   Ons werk is sinvol!

•   ‘tevergeefs’ in 1 Korinthiërs 15
omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

Opvallend: ontkenning: julle werk in die Here is nie leeg, nutteloos, tevergeefs nie. As iets tevergeefs is, is dit sonder resultaat. Jy kon dit net so wel nie gedoen het nie. Dit maak geen verskil nie.

Hierdie vers is die konklusie van 1 Korinthiërs 15. Jy moet dus die hele hoofstuk in gedagte hou.
Paulus het in hierdie hoofstuk gereëld die woord ‘leeg’ / ‘tevergeefs’ gebruik.
Het jy dit gehoor toe ons die hoofstuk gelees het?
Dit is al dadelik aan die begin, vers 1-2:
BROEDERS, ek maak julle die evangelie bekend (…)
julle word daardeur ook gered as julle daaraan vashou, of julle moet tevergeefs geglo het.

Vers 14: En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;

Vers 17–20: en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; (…)

Die woord ‘tevergeefs’ ‘leeg’ is dus op ons van toepassing indien Jesus nie opgestaan het nie.
Met die opstanding staan dus alles op die spel: die verkondiging van Jesus, jou geloof, en al die werk wat jy jou hele lewe doen.

Die opstanding van Jesus en jou eie opstanding: is dit waar of nie? Dit bepaal dus alles.
In verse 3-8 stel** hy duidelik dat Jesus vir ons sondes gesterf het, begrawe is, en opgestaan het en dat baie mense hom gesien het. Dit is die hoofsaak van hoofstuk 15: die goeie nuus dat Jesus liggaamlik uit die dode opgewek is.
Hy herhaal dit in vers 20: 
20: Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.

Eersteling: alle gelowiges sal hom volg in sy opstanding, en liggaamlik opstaan.
Die opstanding is dus waar. Daarom is ons lewens op aarde nie tevergeefs nie!

•   Jesus het die dood oorwin

Volgens verse 54-57 het Jesus die angel uit die dood afgebreek, verwyder:
Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.
Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. 

Ons dogter het by die skool voor die wintervakansie oor bye geleer, en ’n spreekbeurt gehou.
Illustrasie: as ’n by jou steek, verloor hy self sy angel en agterlyf, en hy gaan dood.
Die dood kon mense steek en doodmaak sedert Adam en Eva gesondig het. Maar toe die dood Jesus gesteek het, het dit sy angel verloor, omdat hy uit die dood opgestaan het!

Die dood is oorwin. Dit het twee ongelooflik groot gevolge:
-    na ons dood sal ons liggame opgewek word.
-    En: ons lewe in die wêreld hier en nou, het ook al klaar verander.

Daarom is Paulus so triomfantelik:
57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. 

•   Jesus het die vloek weggeneem

Onthou jy nog die vloek in Genesis 3?
Straf vir die vrou: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar (…).
Vir die man: (Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie) — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.
Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.
In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Daar in die paradys is die hele mensheid verslaan. Sedert díe dag leef mense onder die vloek. Die werk en die lewe in die skepping het vermoeiend geword. Paulus sê in Romeine 8 dat die skepping aan die vrugteloosheid onderwerp is. Soos Prediker sê: jy werk jou hele lewe hard, maar as jy sterf pluk ’n ander die vrugte daarvan. En wie dink nie by die oorlogsbeelde uit Oekraïene: soveel menselewens, geboue, voertuie, materiale gaan verlore – hoe nutteloos is ’n oorlog nie!

Tog is dit nie al nie.
Jesus gee ons die oorwinning! – sê Paulus.
Hy het die vrugteloosheid van die skepping vir ons weggeneem.
Die belofte in vers 58 is: in die koninkryk van God is die moeite wat jy doen, is jou werk nie tevergeefs nie.

Dis die goeie nuus in die konklusie van hierdie groot hoofstuk oor die opstanding:
Ons werk vir Christus is nie tevergeefs nie. Ons leef nie meer onder die vloek nie, maar ons deel in Jesus se oorwinning.

Hy sê dit ook mooi in Romeine 7:
5 Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra. 
6 Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.
En vers 4, net daarvoor:
So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan ’n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra.

Die opstanding verander alles. Nie net die toekoms nie, maar ook die lewe vandag en môre, totdat Jesus terugkom, in die huidige skepping. Nou kan ons weer vrugte dra.
Ons leef met hoop op die liggaamlike opstanding, en met die hoop doen ons ons werk met die verwagting dat dit nie meer leeg en vrugteloos is nie.
Al die werk wat ons in die Here doen, is nie tevergeefs nie! Daar is resultaat: dit dra vrug!

2. Wees daarom onvermoeibaar oorvloedig in die werk van die Heer

•    Wat is die werk van die Heer? (1) evangelieprediking

In die volgende hoofstuk gebruik Paulus dieselfde woorde vir Timoteus:
hy doen die werk van die Here net soos ek.

En in hoofstuk 15 het hy sy werk van die Here genoem. Vanweë die opstanding was hy bereid om onvermoeibaar die evangelie orals bekend te maak, en selfs om daarvoor te ly!
Verse 30-31: Waarom is ons ook elke uur in gevaar?
Ek sterf dag vir dag, broeders…

Hy se dan in vers 32 dat dit alles leeg, vrugteloos sou wees as die dode nie opgewek word nie:
vers 32: As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!

Maar die opstanding maak die grootste offers die moeite werd: lyding, gevangenskap, en selfs die dood.
Trouens, amper alle apostels het hul lewe gegee vir die goeie nuus van Jesus en sy opstanding.

•    Wat is die werk van die Heer? (2) ons almal se roeping om die evangelie bekend te maak

Hierdie missie van die apostels om Christus orals bekend te maak, is oorgedra op die gemeente - elke gemeente van Christus. Dit is ook ons missie.
Christus se koningskap moet bekendgemaak word totdat hy terugkom. Dit bly die taak van die kerk. Dit is dus ons taak hier, gesamentlik.

Ons maak die evangelie bekend aan ons kinders. Alle ouers in ons midde het ’n mooi taak: om vir jou kinders te wys en te vertel wat die evangelie beteken: help jou kinders om hul sonde te leer ken, vertel hulle van die redding deur Christus, van genade en vergewing, en ook van gehoorsaamheid, liefde, volharding en veg teen die sonde.

Maar dit sou nie goed wees as ons net op verbondskinders sou konsentreer, en nie sou omgee vir die mense buite die kerk wat verlore gaan nie.
As ons geen verhoudings bou met ongelowiges en nie die evangelie buite die kerk laat hoor nie, dan is hierdie eienste vers 58 vir ons ’n oproep om erns te maak met die verspreiding van die evangelie en dit te prioretiseer.

•    Wat is die werk van die Heer? (3) Mekaar dien in die gemeente

Maar praat Paulus hier net van die verkondiging van die evangelie?
Ons kan die sirkel wyer trek. Ons dien nie net vir Christus as ons die evangelie deel nie, maar ook as ons mekaar dien in die gemeente. Wees oorvloedig in die werk van die Heer deur deel te neem aan die gemeentelewe, en ontdek waar jy diensbaar kan wees.

•    Wat is die werk van die Heer? (4) dien God in sy wêreld

Ons kan die sirkel nog wyer trek:
(Vers 58 is die opsomming, die konklusie van die hele hoofstuk. Hy spreek christene aan.)

Deur geloof leef ons ‘in die Here’. Hier kry ons dus die roeping om ons werk ook in die Here te verrig. Dit moet ons ook doen in ons daaglikse werk, in ons huwelik en gesin, in ons vriendskappe, in ons aanlyn gedrag, in die manier waarop ons ons tyd en geld spandeer. Is die dinge waarmee jy besig is en waaraan jy jou hart en energie toewy, vir die Here?

•    Skepping bewaar en ontwikkel

Ons werk in die wêreld is deel van ons roeping om as konings en koninginne oor die skepping te regeer.
God het Adam en Eva aangestel.
Deur die sonde was hulle nie meer koning en koningin nie, maar het hulle slawe van die sonde en die duiwel geword.
Maar ons roeping om die wêreld te regeer, bly. Jesus het die kettings van die slawerny verbreek en plaas ons terug in die verantwoordelike posisie: onderkoning op aarde onder God. Dit is ook ons toekoms: ons sal saam met Christus regeer.

Nou reeds maak hy dit vir ons weer moontlik om soos konings en koninginne ons plek op aarde vol te staan, om nie weer ’n slaaf van die sonde te word nie, maar om ’n goeie rentmeester te wees van alles wat God aan ons toevertrou.

Dit beteken dat ons nie ons kultuur mag volg, as dit God se heerskappy verwerp en die skepping verwoes.
Sonde en uitbuiting laat die aarde leeg, vuil en lelik agter. Dink aan die gevolge van industrialisasie: omgewingsbesoedeling; uitbuiting van mense: onreg, slawerny, prostitusie: beroof mense van hul waardigheid.

Christene wat vir die Here leef en werk, bevorder reg en geregtigheid en maak nie misbruik van mense nie. Ons pas die skepping op, en ons daaglikse werk moet die skepping ontwikkel en nie skade doen nie.

•   Werke van barmhartigheid

Ek dink ons kan sukkel om raak te sien hoe ’n christen ’n betere bakker of tuinman of drywer of direkteur kan wees.
Christus roep sy volgelinge om vir hom te werk. Hoe kan christene ’n verskil maak? Kan ons meer doen as net ’n werk soek of behou om inkomste te kry? Wat kan christene toevoeg?
Christene behoort hul heel beste werk te lewer met die gawes wat ons het en in die posisie wat ons het.
Dit is nie nodig om posisies van mag en invloed te hê nie. Christene kan juis ’n verskil maak waar ander mense nie wil gaan nie, of dit nie die moeite werd vind nie.
Goeie voorbeeld is dr. Paul Brandt, wat ’n baie kundige dokter was, wat goedbetaalde poste afgewys het, en leprapasiënte in India gaan dien het.

Waar kan ons goed doen? Wat kan ons met ons geld en besit doen?
Dink daaroor. Wees oorvloedig in die werk van die Heer.

•   Dis dan ook die laaste aandagspunt

Wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Heer.

Standvastig en onwankelbaar: dit is die taal van die bouwêreld: ’n soliede fondasie laat die gebou sterk staan, ook as daar winde en vloede oor die gebou kom.

Dis hoe ons in die wêreld leef: die duiwel veg teen ons en wil ons ten val bring. Jesus het ons voorberei daarop dat ons teenstand, moeilikheid kan verwag wanneer jy hom volg en sy werk doen.
As dinge moeilik gaan, wil ons tou opgooi, dros.
Hou stand, wees standvastig en gaan aan om Jesus te dien!
Hy gee self vir jou die krag om dit te doen.
Onthou die opstanding van Jesus. Sy krag werk in jou. Daarom kan jy staande bly.

•   Wees oorvloedig in die werk van die Heer

Die besigheidsmense onder ons ken dalk iemand wat vir jou gewerk het, wat altyd die minimum gedoen het. Dis nie iemand waarop jy kan staatmaak nie. As jy onderhoude voer, wil jy weet of dit so iemand is, of dat hy bereid is om hard te werk.

Ons moet ook die verleiding weerstaan om die werk van die Heer te los wanneer dit moeilik is, of om dit laere prioriteit te gee. 
Jy kan dit doen omdat dit moeilik is, of omdat jy teenstand ontmoet.
Maar dit kan ook omdat jy jou energie aan jou eie doele en genietings en voorspoed wil gee.
God roep jou en my om oorvloedig te wees in die werk van die Heer.
Doen dit met jou hele hart, want jy dien Christus daarmee. Deur sy opstanding het hy die wêreld, en die heerser van die wêreld, oorwin. 
In die wêreld sal julle verdruk word, maar hou moed, ek het die wêreld oorwin! sê Jesus vir sy dissipels.

Amen

Liturgie: 

Psalm 121:1
Seëngroet
Psalm 100:1.3

Gebed

Lees:
1 Korinthiërs 15:1-34; 51-58
Genesis 1:27-30
Genesis 3,9-19
Psalm 1:1.2

Preek 1 Korinthiërs 15:58
Skrifberyming 39

Gebed

Sing Geloofsbelydenis

Kollekte

Skrifberyming 49:2-5

Seën