Wek 'n diep verlange om bly en dankbaar te lewe.

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-02-24
Teks: 
Dortdse Leerreëls, Hoofstuk 2, Artikels 1-4, 8
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls I, art. 7
Dordtse Leerreëls II, art. 1-4,8

Indien God vooruit al presies uitgekies het wie hy uit die moeras van die sonde wou red, en wie nie, lê alles dan nie al muurvas nie?  Dan het die mense wat deur God uitverkies is, mos al 'n soort onsigbare stempel op hul voorkop gekry (staan dit ook nie êrens so in die Bybel nie, dat God se kinders 'n seël van God op hul voorhoof kry nie?), en as hulle dan by hul sterwe deur die sorteermasjien gaan, kom hulle dan outomaties op die regte voerband wat hulle hemel toe bring?

Maar waarom sal jy dan nog kerk toe gaan? Of katkisasie? Die vereniging? Waarom persoonlike Bybelstudie doen? Want as God jou nie uitgekies het nie, dan kan die kerk mos ook niks meer daaraan verander nie? Die beste preke en katkisasie leraars, selfs bybellees sal dan niks meer baat nie.

Daar‘s heelwat moedelose gelowiges wat met hierdie gedagtes rondloop. Gefrusteer deur de leer van God se uitverkiesing.
Maar dit kan ook andersom: as God jou wel uitgekies het, as jy die stempel klaar gekry het, wel, dan sal alles mos regkom vir jou? Daar kan die kerk niks meer aan verander nie, of wel? Maak dit dan eintlik nog wel saak hoe jy leef? Veroorsaak die leer oor de uitverkiesing ook nie onverskilligheid by Christene nie?

Ja maar, dit is nie hoe God se Woord ons die verkiesing leer sien nie. 'n Tipe van ‘n stempel wat ‘n mens by jou geboorte al ontvang om eendag deur de hemelpoort te mag binnegaan, waar daar ongelukkig maar 'n beperkte aantal plekke gereserveerd is.

Die Bybel leer ons dat dit nie maar net daaroor gaan hoe God die regte getal mense vir sy nuwe aarde bymekaarmaak nie. God se uitverkiesing gaan hieroor: hoe kry God mense wat sondig geword en van Hom af weggeloop het, al in hierdie lewe weer as sy kinders terug? Hoe kan Hy tog weer Vader wees van kinders wat Hom verwerp?

Ons het in artikel 7 van die Dordtse Leerreëls 1, die aanhaling uit die brief aan die Efesiërs gelees: God het ons in liefde vantevore daartoe bestemd om as sy kinders aangeneem te word deur Jesus Christus.

Daarna het daar nog 'n tweede aanhaling in daardie artikel gestaan, uit die brief aan die Romeine, hoofstuk 8. Wanneer jy die vers lees wat in die betrokke Bybelhoofstuk daaraan voorafgaan, vers 29, kom jy dieselfde teë: “Want Hy het diegene wat Hy reeds vooruit gekies het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die eersgeborene onder baie broers en susters kan wees”.

Toe God gekies het, het Hy 'n groot gesin voor Hom gesien, saam om die tafel, almal broers en susters. Met Christus as die groot Broer, die eersgeborene, in die middelpunt. En ons gelyk aan Hom. Vol liefde vir God as ons Vader. Vol liefde ook vir mekaar. Dit is mos ook vir ons die belangrikste? Nie maar net 'n plekkie in die hemel en daarna op die nuwe aarde nie, maar dat dit weer heeltemal reg is tussen God en ons?

Daarom is verkiesing ook nie: 'n bepaalde aantal mense wat by hulle geboorte al 'n stempel ontvang het, en met wie dit dan by hul sterwe daarom reg sal wees nie. En dat die hele periode tussen jou geboorte en jou sterwe dan eintlik nie so baie saak maak nie. Al daardie jare maak, dag na dag juis wél saak. Daardie tyd is baie belangrik. Want in die tyd bring God ons by sy liefste Seun Christus. Om so van ons, deur Hom, ook kinders te maak wat Hy kan liefhê. In hierdie tyd, tussen ons geboorte en ons sterwe, werk Hy in ons lewe aan daardie diep verlange by Hom, wat ook by ons al meer die groot verlange moet word, dat ons weer as blye en dankbare kinders van Hom sal lewe. Saam met Christus.

Ja, saam met Christus. Daarop fokus ons vanaand. Want Christus speel die sentrale rol in God se verkiesing. Dit het u waarskynlik al begryp uit wat ons gelees het uit die Dordtse Leerreëls. Daar staan mos in Dordtse Leerreëls 1:7 dat God mense “tot die saligheid in Christus uitverkies”.

Het die Dordtse Leerreëls nie daarmee begin nie (ek het vorige week daarop gewys), dat alle mense in Adam gesondig het en daarom God se vloek en de ewige dood verdien? Sulke mense, wat geen kind meer wil wees nie en hulle van Vaders hand losgeruk het, pas nie aan sy tafel nie. En God kan daar ook nie sommer oorheen stap nie. Daarmee begin ook Dordtse Leerreëls hoofstuk II. God is nie slegs barmhartig nie, Hy is ook volkome regverdig. Ons is miskien geneig om te dink: as God dan so vol liefde is, kan Hy ons sondes dan nie maar deur die vingers sien nie? En ons dan maar net 'n nuwe kans gee? Saam opnuut begin?

Dit is ook wat God wil: saam opnuut begin. Maar: Hy kan dit nie sommer doen nie. God se barmhartigheid kan in hierdie geval nie sy regverdigheid oortroef nie.
By ons mense kry jy dit wel dikwels. Jy waarsku één van jou kinders: ‘As jy nog één keer weer so maak, dan.….!’ Maar as dit dan tog nog 'n keer gedoen word, is ons maar eerder simpatiek as streng. Die straf waarmee ons dreig, gee ons tog maar liewer nie.

Maar by de HERE is dit nie moontlik nie. Die HERE ken geen tweestryd in Homself nie, geen innerlike konflik nie. Ons wel: wat moet ek nou maak: moet ek die straf waarmee ek gedreig het, gee? Of dit tog nog maar 'n keer deur die vingers sien? Maar die HERE ken nie so ’n tweestryd nie. Hy bly terselfdertyd ewe barmhartig en regverdig. 

Hy kan sy reg nie eenkant skuif nie. God kan nie leven met: “Kom ons vee dit nou maar uit”.  ‘zand erover’. Of: ‘Kom ons gooi dit nou maar in de doofpot’ nie. Dit wat verkeerd was moet totaal verwyder word. Egte versoening beteken vir die HERE, dat dit ook werklik opgemaak word. Anders sou God niet meer Gód wees nie. Hy sou homself wees nie: die oneindige majesteit. Die wat teenoor Hom, die allerhoogste, majesteitskending durf pleeg, moet wel weet wat hy doen: hy kan reken op die aller swaarste straf: die ewige straf aan liggaam en siel. Die hel.

Maar daarom het God – terselfdertyd ook volkome barmhartig! - sy hemelse Seun ingeskakel. Om die aller swaarste straf vir ons te dra, en so ons skuld by God te vereffen.

Ja, de Dordtse Leerreëls gebruik hier in hoofstuk II die beeld van skuld wat betaal moet word. Dít is beeldspraak wat ons in die Bybel meermale teëkom. “Die Seun van die mens het gekom om sy lewe te gee as losprys vir baie.”

Ons skuld God natuurlik nie geld nie. Ons skuld Hom onbetaalbaar veel liefde. Dit is immers die enigste wat God altyd van de mens gevra het: 'n lewe vol liefde vir Hom en ons medemens.

Maar op hierdie punt skiet ons permanent tekort. Ons maak maar net elke dag meer skuld.

En God kan en wil die rekening nie maar net opskeur nie: “Kom ons los dit maar”. Nee, ons moet vir al ons skulde volledig opmaak. Slegs versoening deur voldoening, noem ons dit. God wil  “voldoen/betaal” op die rekening kan skrywe.

Maar Hy kan dit doen nou dat Christus in ons plek al die agterstallige liefde aan Vader gegee het. Hy het sy Vader en ons so lief gehad, dat Hy ook die woede van God en die vervloeking wat ons verdien het, in ons plek gedra het. Toe Christus daarom op Golgota tenslotte uitgeroep het: “Dit is volbring”, toe kon God “voldoen” op ons rekening skryf. Toe is die struikelblok tussen Hom en sy kinders uit die weg geruim. Met Christus mag jy by God weer kind aan huis wees.

Nou sou ons kon dink dat God deur Christus se offer vir ons sonde dus alle mense weer soos sy kinders in sy arms gesluit het.  Dat elke mens nou weer met God versoen is. Dit sou as sulks wel moontlik gewees het, want – ons het in die Dordtse Leerreëls gelees “Christus se kruisdood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.” Maar as dit so sou wees, hoef ons dus ook eintlik geen mense deur sending en evangelisasie op te roep om tot geloof te kom nie. Ons kan hoogstens nog aan mense vertel dat dit weer reggekom het tussen God en hulle.  En nou ja, ook as hulle dit nie wil glo nie, as hulle met hul eie afgode wil verder leef, wel, dan kom hulle dit by hul sterwe wel agter. Want elke mens kom dan deur die sorteermasjien self op de regte voerband. Of nee, daar is nie eers ’n sorteermasjien meer nodig nie.

Maar dit is duidelik nie hoe God dit Self vir ons leer in sy Woord nie, broeders en susters. Hy het juis mense in die wêreld ingestuur en hy doen dit steeds met die oproep dat hulle hul tot Hom moet bekeer deur hulle te laat red deur sy Seun. Met die waarskuwing daarby, dat God se toorn op jou bly as jy sy Seun as Redder afwys. Uit myself, is en bly ek sondaar voor God. Slegs wanneer Christus as my Redder vóór my gaan staan om my skuld by Vader te versoen, kom ek sonder straf daarvan af. Ja, ek moet myself totaal aan Hom uitlewer. Ek moet die lewe heeltemal buite myself, in Hom soek, my eie selfstandigheid opgee en my aan Hom oorgee. Ek moet by Hom ingelyf word, soos die meeste vroeëre tuislande na 1994 weer by Suid Afrika ingelyf is, en hulle selfstandigheid daardeur verloor het.

Het dit u al ooit opgeval: dat daar in de Bybel heelwat kere gesê word, nie dat ons déúr Christus nie maar ín Christus gered word. Paulus skryf dit byvoorbeeld in die teks wat aangehaal word in wat ons vanaand in de Dordtse Leerreëls gelees het: Efesiërs 1:4. “God het ons immers in Christus uitverkies vóór de grondlegging van de wêreld….” 

Daarom sê de Dordtse Leerreëls ook in artikel 7 van hoofstuk 1 dat God “mense in Christus uitverkies het tot heil”. Ek moet nie langer op my eie bene wil staan en gaan nie, maar my totaal en al aan Christus oorgee. Ek moet die lewe buite myself in Christus soek.

Beteken dit dan dat Christus dit wel vir alle mense móóntlik gemaak het om weer as kind by Vader terug te kom, maar dat dit van die mense self afhang of hulle ook vol berou en dankbaarheid na God terug gáán? Die een mens kies wel daarvoor en die ander mens nie?

In die jaren wat ek voltyds hier in Pretoria in die bediening was het ek gereeld verby 'n kerkgebou iewers boaan 30ste Laan gery, waar met grote letters op geskryf is: “Gee God ’n kans”. Sien jy dit voor jou?: God staan gespanne en kyk water mense wel, en watter nie op sy uitnodiging om weer by Hom tuis te kom, reageer. Elkeen kry die kans, maar of elkeen die kans ook aangryp…?  En dan word dit dus: Geef Hóm asseblief 'n kans. Moet Hom nie teleurstel nie. Asof God van ons afhankelik is!

Daarteenoor leer God ons in sy Woord – en hier kom ons by die hart van sy verkiesing - dat God die kinders wat hy wil red al vóór die grondlegging van die wêreld aan Christus gegee het. God het Christus as offerlam, om ons met Hom te versoen, klaar uitgekies, skryf die apostel Petrus, vóór de grondlegging van die wêreld. Dus toe Adam geval het, het Christus al gereedgestaan. En toe het Christus – terwyl Hy nog as die Seun by die Vader in die hemel geleef het - ook al geweet watter mense hy sou red. Hy het u en my toe al uitverkies. Toe ons nog nie eers gebore is, nog nie eers verwek is by ons moeder nie. Toe het Vader ons ook al uitgekies.

Want lees nou nog weer Efésiërs 1:4 “soos Hy ons in (Christus) uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld (….) deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus". Toe al, in die ewigheid, het die Vader sy uitverkore kinders al aan sy Seun gegee. So hoor ons Christus Self daaroor ook praat in die gebed wat Johannes uit sy mond opgeteken het, kort voordat hy gevange geneem is. Daarin praat Christus 'n paar keer oor “die mense wat U My uit die wêreld gegee het”.

Ons nader hier tot die grense van wat ons met ons verstand kan bevat, broeders en susters. Hoe kon God al mense kies wat vir eeue nog nie gebore sou word nie? En het God dus al geweet voordat Adam en Mannin aan Hom ongehoorsaam geword het, dat dit sou gebeur?! Het Hy Christus dus al agter die hand gehou, toe daar nog heeltemal geen sondige mense was nie? Ek kan dit ook nie alles verstaan en vir u logies verklaarbaar maak nie. Ik kan net dit sê: vir ons gevoel beteken “ewig” iets soos: ‘sonder begin en sonder einde’. Dus God was al daar vóór die skepping van hierdie wêreld. Ver voordat tyd vir die mens begin het, was God reeds daar. En ewig betekent dan ook, dat die tyd nooit meer ophou nie. Ook nie as jy sterf nie. Dit gaan eindeloos verder. 

Maar as die woordjie “ewig" dít vir ons beteken, bind ons dus ook God aan tyd. Terwyl God juis bó ons tyd staan. Hy is nie, soos ons, daarin opgesluit nie. Daarom is vir Hom ook één dag soos duisend jaar en andersom. God oorsien ons komplete mensetyd in ’n allesomvattende blik. En in daardie allesomvattende blik het hy Christus en ons uitgekies, om ons in de tyd aan mekaar te verbind en saam tot sy huisgesin te maken.

Dit bly vir ons iets vreemds, iets wonderliks. Maar wees dan ook veral verwonderd hieroor, broeders en susters, pleks van dat jy jou hieroor vererg. Want wanneer jy Christus lief het as jou Verlosser (en dit ís tog so?), wanneer jy sy Vader lief het as jou barmhartige Vader (en dit is mos ook so?), wanneer jy graag wil groei in nog baie meer liefde vir God (en dis tog wat jy graag wil) dan leer God se Woord jou dus: onthou, dit het nie met jou keuse vir God begin nie. Dit het begin met sy keuse vir jou. En God het jou nie gekies omdat jy beter is as ander nie. God se verkiesing is nie 'n sorteermasjien van lemoene waarby die aanvaarbare lemoene oorbly en die van mindere kwaliteit van die voerband afval nie.

As dit so was, het ons almal deur die mat en van die voerband afgeval. Nee, God het ons al uitgekies, toe ons nog nie eens bestaan het nie! Al voordat hy hierdie wêreld geskape het. En sy liefde was toe al agter die keuse!

So skryf Paulus daaroor in Efésiërs 1. Want ek meen dat hier die NAB die voorkeur verdien bo die1953 en die Direkte Vertaling. In die ou vertaling lees ons dat “God ons in Christus verkies het om sonder gebrek voor Hom in liefde te wees…” Dit gaan dus oor óns liefde wat God by ons wil bewerk.

Die NAB trek die woordjies “in liefde” by die volgende sin. God het ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (vers 4). En dan ’n nuwe sinsdeel in vers 5: “In liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees”.

God het nie maar ’n willekeurige greep nie, maar het sy hart laat praat. En toe al het hy daarvoor gekies om sy liefste Seun op te offer om ons als kinders weer by die huis te kry. En toe Christus aan die kruis gehang het, het hy ook ons name al geken. Ja, ook die name van ons, soos ons nou hier in die kerk bymekaar is. Hy het hulle al geken voordat die eerste steen van hierdie wêreld gelê is.

Dan is nog nie alle vrae beantwoord nie. 

Maar wanneer jy by jouself opgemerk het dat Christus met sy liefde in jou lewe binne gekom het, weet jy nou dus ook dat hierdie liefde al 'n ewige oorsprong gehad het! En dat God jou dus ook werklik nie maar net weer sal loslaat nie.

Amen.

Liturgie: 

Votum en seëngroet
Psalm 89: 1, 6;
Gebed
Dordtse Leerreëls I, art. 7
Dordtse Leerreëls II, art. 1-4,8
Skrifberyming 24: 1, 2;
Verkondiging
Psalm 118: 14;
Sing geloofsbelydenis
Gebed;
Kollekte;
Psalm 31:15, 17;
Seën