Jesus is God: Aanbid Hom

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-12-08
Teks: 
NGB artikel 10
Preek Inhoud: 

“Hy laster!  Wie anders as God kan sondes vergewe?”  Kan julle sien wat hier besig is om te gebeur?  As ek teen my vrou sondig, en ek vra vir een van julle om my te vergewe, dan sal julle tereg antwoord: “Ek kan nie.  Jy het nooit teen my gesondig nie.  Jy moet dit van God vra.”  Hoekom?  Want alle sonde is uiteindelik teen God.  Jesus is hier besig om iemand te vergewe wat nooit direk teen Hom gesondig het nie.  Tog is alle sondes wat hierdie man ooit gepleeg het, eintlik teen Hom.

Dit is die punt van die verhaal.  Is Jesus God?  Of is Hy net ’n groot profeet?  Dit is die vraag wat vandag in ons geloofsbelydenis beantwoord word.  Jesus Christus is die ware en ewige God.  Moslems beskou dit as laster, Mormone en Jehovasgetuies beskou dit as net gedeeltelik waar.  Die wêreld dink dit is arrogant en eksklusief.  Maar dit is die kern van ons geloof: dat die Man wat by geboorte die naam Jesus gekry het, God is. Hy is Jahweh: die groot Ek Is. Elke volmaaktheid van God waarvan ons in die Nederlandse geloofsbelydenis lees, is waar van Hom.

Jesus is God: Aanbid Hom

  1. Jesus is God
  2. Aanbid Hom

Jesus is God

Die hooggeagte kerkgeskiedkundige, Jaroslav Pelikan, het die volgende gesê: “Die oudste oorblywende preek van die Christelike kerk begin met die volgende woorde: ‘Broeders, ons behoort dieselfde van Christus te dink as wat ons van God dink, as die Regter van die lewendes en die dooies.  En ons behoort nie ons verlossing te verkleineer nie; want as ons Hom verkleineer, dan kan ons ook verwag om min te kry.’  Die oudste oorblywende rekord van die dood van ’n Christelike martelaar bevat die volgende verklaring: ‘Dit sal vir ons onmoontlik wees om Christus te verlaat ... of om enigiets anders te aanbid.  Want ons aanbid Hom, die Seun van God, en ons koester die martelaars.’  Die oudste oorblywende heidense vertelling oor die kerk beskryf Christene as mense wat voor sonsopkoms saamkom en “vir Christus ’n lied sing soos vir ’n god”.  Die oudste oorblywende liturgiese gebed van die kerk was ’n gebed gerig tot Christus: “Ons Here, kom!” Duidelik was dit die boodskap van wat die kerk geglo en geleer het: dat die Naam “God” ‘n gepaste naam vir Jesus Christus is.

Wie is vir Maria op daardie dag, ongeveer tweeduisend jaar gelede, gebore?  Vir wie wag ons?  Het hulle gewag vir ’n profeet om te kom?  Of ’n koning?  Vir wie wag ons om terug te kom op die wolke van die hemel?  Eenvoudig gestel: net ’n Man. ’n Persoon wat Jesus genoem word.  Nee, ons wag vir GOD Self om te verskyn!

Dit was as gevolg van die sonde in die tuin van Eden dat daar ’n skeiding gekom het wat geen mens ooit kan oorbrug nie.  As God ooit weer met die mens in sy skepping sou wandel, soos wat Hy met Adam gedoen het, dan sou Hy self moes kom en die sonde wegneem.  Want geen mens sou dit kon doen nie.  As die mensdom weer herstel moes word, dan sou God Self moes kom!  En op daardie Kersdag het Hy gekom in die gedaante van baba Jesus.  In die begin was die Woord.  En die WOORD was God!

“Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” (Joh. 1:18)

Geliefde gemeente, hier, in die persoon van Jesus Christus, het God na sy eiendom gekom.  Kersfees is die viering van die geboorte van Jesus Christus, wat God is.  In daardie sin is dit die geboorte van God.  Dit lyk onverstaanbaar.  Hoe kan God, die ongeskape Skepper van alle dinge, gebore word?  Hoe kan ’n wese wat selfbestaande en ewig is, die Skepper van tyd en ruimte, gebore word?  Dit lyk nie asof dit enigsins sin maak nie.

En tog is dit op 'n manier presies wat Christene met Kersfees vier.  Die Christelike leerstelling van die menswording stel dat Jesus Christus God in vlees is.  Jesus was dus ware God en ware mens. Hy is gebore uit die maagd Maria; Jesus het ’n bonatuurlike bevrugting gehad, maar ’n perfekte natuurlike geboorte. Aangesien Jesus God in die vlees was, is sy moeder, Maria, in die vroeë Christelike belydenisse die “Moeder van God”, of die “God-draer” genoem.  Dit is nie omdat God op die een of ander manier ontstaan het as gevolg van die swangerskap van Maria of dat Maria God op die een of ander manier voortgebring het nie. Inteendeel, Maria kan die God-draer genoem word omdat die persoon wat sy in haar baarmoeder gedra en aan wie sy geboorte gegee het, goddelik was.  Dus, in hierdie sin was Jesus se geboorte die geboorte van God.

Ja, dit is ook wat Hy self beweer deur sy hele lewe, nie net in Johannes 1 nie. Ons sien dit ook op verskeie ander plekke in die evangelies, en veral in Johannes, wat deur ons belydenis aangehaal word.

Verder, die Bybel sê dat alle mense deur Hom geoordeel sal word. Paulus sê in 2 Korinthiërs 5:9 :  “Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees.  Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

Hy is die Een tot wie gebid word in 1 Korinthiërs 1:2 :  “Aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Jesus Christus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here.”

Hy word as God aanbid.  Ons lees dit in Romeine 9:5 waar Paulus met die Jode hieroor praat: “aan wie die vaders behoort en uit wie Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.”  Ek weet nie hoe dit duideliker as hierdie kan wees nie.

Tog glo baie sektes nie in die goddelikheid van Jesus nie, want dit is ’n baie radikale ding om te sê dat God in die persoon van Jesus gebore is, geleef en gesterf het.  maar dit is nou juis die wonder van die menswording.  Die Moslems aanvaar Jesus as ’n profeet, maar nie as God nie.  Die sjeiks beskou Hom as ’n hooggeplaaste heilige man.  Die Mormone en die Jehovasgetuies sê beide dat Hy nie God-gelyk is aan die Vader nie.  Hoekom?

Nie een van hulle beskou Hom as God wat mens geword het nie.  Tog is dit wat Hy is.  Hy was nog altyd God, van die begin af, voordat die persoon Jesus gebore is.  En selfs toe Jesus gebore is, het Hy nie opgehou om God te wees nie.

Johannes Calvyn sê: “Want selfs as die Woord, in sy onmeetbare essensie, met die natuur van die mens verenig tot een persoon, kan ons nie dink dat Hy daarin ingeperk was nie.  Hier is iets wonderliks: die Seun van God het van die hemel neergedaal op so ’n manier dat [...] Hy dit bestem het om van die maagdelike skoot gebore te word, om op die aarde rond te beweeg en aan die kruis te hang; tog het Hy aangehou om die wêreld vol te maak net soos Hy van die begin af gedoen het!”

In sy eie lewe kon Hy die harte lees, iets wat net aan God toegeskryf word.  Hy het sondes vergewe.  Hy het die skepping beheer, Hy het verklaar dat Hy van ewigheid af bestaan.  Hy het na Homself verwys as EK IS. Hy is uit die dood opgewek.  Hy het self die skoot gemaak waaruit Hy gebore is, die kruishout waaraan Hy gesterf het, en die graf waaruit Hy opgestaan het. 

Vir my is een van die ongelooflikste waarhede in die heelal juis die feit dat, op ’n sekere punt in die geskiedenis, is “God geopenbaar in die vlees “ (1 Tim. 3:16).  Die baba wat in die stal in Betlehem gebore is, was God.  Maria het God gedra!  Dink daaraan!  Ongelooflik!  Geen wonder nie dat Paulus uitroep:  “En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees!” (1 Tim. 3:16)

 

Aanbid Hom

In hierdie feestyd is daar dus geen ander opsie nie as om te doen wat die belydenis ons beveel om te doen:  “Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.”  Daar was geen bespreking of debat in die eerste eeu van die Kerk dat Jesus God is nie.  Dit is waarvoor so baie mense gesterf het.  Was Caesar God, of Jesus?  Moet elke knie uiteindelik buig voor die Romeinse god, of voor hierdie man wat die Christene Jesus noem?  Caesar is weg, en niemand buig meer voor hom nie.  Maar Jesus lewe, en die knieë buig nog steeds voor Hom.  Maar die gode van ons eie tyd beskou Jesus as enigiemand anders behalwe God.  ’n Groot filosoof, ‘n profeet, ‘n geestelike kenner, maar nie God nie.  As jy na die sektes in die Christendom kyk, sal jy sien dat baie van hulle die Goddelikheid van Jesus ontken.  Want hulle weet dat, as Jesus God is, is Hy Here van alles.  En ons sien inderdaad sy goddelikheid in die verandering van die wêreld vandat Hy opgevaar het. 

Terwyl baie mense die vraag gevra, of die antwoord aangebied het vir die vraag: “Wie is Jesus van Nasaret?”, kan niemand ontsnap aan die getuienis dat Hy ’n geskiedkundige persoon was en dat sy lewe die menslike geskiedenis radikaal verander het nie.

Soos Jaroslav Pelikan dit stel: “Dit is vanuit sy geboorte wat die meerderheid van die menslike geslag hulle kalenders vasstel.  Dit is in sy Naam wat miljoene mense vloek, en dit is in sy Naam wat miljoene mense bid.”

Danksy sy invloed, het Jesus van Nasaret al vir byna twee millennia mense se lewens verander.  In die proses het Hy die rigting en die uiteinde van die menslike geskiedenis herskryf.

Jesus het beweer dat Hy God is.  Jesus het gedink dat dit wat ander mense van Hom glo, van fundamentele belang is.  Hy was nie geïnteresseerd in neutraliteit nie.  Hy het gesê: “Ek en die Vader is een.”  Toe hy sondes vergewe, het Hy die ekstra stap gedoen om te bewys dat Hy ook die mag het om dit te doen deur genesing.  Wanneer Jesus gesê het: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.”  Sy Goddelike wese het sentraal gestaan in sy boodskappe; Jesus het die twee as onlosmaaklik beskou.

CS Lewis het gesê: “ ’n Man wat net ’n gewone man was en dieselfde dinge as Jesus sou gesê het, sou nie ‘n groot morele leraar gewees het nie.  Hy sou òf kranksinnig wees – op die vlak van die man wat beweer dat hy ’n gekookte eier is – òf anders sou hy die duiwel van die hel wees.  Jy moet kies. Of hierdie man was, en is, die Seun van God, òf anders ‘n waansinnige of iets ergers.  Jy kan Hom as ’n lafaard tot stilswye maak, jy kan in sy gesig spoeg en Hom as ’n demoon doodmaak; òf jy kan by sy voete neerval en Hom Here en God noem.  Maar laat ons nie met enige neerhalende nonsens vorendag kom oor Hom, wat ’n merkwaardige mense-leraar was nie. Hy het dit nie aan ons oorgelaat nie.  Hy wou nie.

Wie is hierdie Man vir jou vandag?  God?  Dan is jy jou lewe aan Hom verskuldig.  Jy skuld Hom aanbidding, nie net op Sondae nie, maar elke dag van jou lewe.  Dan is jy totale, absolute en ongetwyfelde gehoorsaamheid aan Hom verskuldig.  As Hy God is, dan is al die woorde wat Hy nog ooit gespreek het, nie net woorde nie, maar skeppende dade.  As Jesus God is, dan kan ons God werklik in Hom ken.  As Hy God is, dan kan jy Hom geheel en al vertrou.  Dan het God Homself in die geskiedenis geopenbaar.  Dit is verstommend.  En ’n geweldige troos.  Want in Jesus Christus het God Homself gewys as ’n God van reddende dade.  ’n Verbondsgod wat vir ewig en altyd sy Woord hou.

Geliefde gemeente, ek weet nie wat jou beskouing van Jesus is nie.  Maar ons kultuur gee vir ons ’n gemaklike, hippie, postmodernistiese weergawe wat glad nie lyk soos die Jesus wat ons ken nie.  Hierdie Jesus is gaaf, aanvaar almal en alles.  Maar dit is nie die beeld wat ons van Hom kry nie.  Veral van Hom soos wat Hy nou in die boek Openbaring is.  Jesus is nie meer die swak mens nie...  Hy het in nederigheid gekom, Hy sal terugkom in hoogheid en heerlikheid.  Hy het gekom om te red, Hy kom terug om te oordeel.  Hy is GOD!  Hy is heilig, heilig, heilig.  Die heiliges se reaksie toe hulle die Leeu, of die Lam, of die Man met die swaard, sien, is aanbidding.  Totale aanbidding.  Kyk na die boek Openbaring en sien raak hoeveel mense neerbuig en aanbid en sing.  Of weghardloop, huil en verskrik is.  Dit is reaksies wat jy net by God in daardie boek sien.  En dit is omdat Jesus God is.

Ek sluit af met die woorde van Putting Jesus in His Place: The Case for the Deity of Christ.  Jesus verdien die eer wat slegs God toekom, Jesus deel in die kenmerke wat slegs aan God behoort, aan Jesus word dieselfde Name gegee as wat slegs aan God gegee kan word, Jesus doen dade wat slegs God kan doen, Jesus het ’n sitplek op God se troon.

Geliefde gemeente, Jesus, ons Verlosser, verdien al die eer en heerlikheid en mag en heerskappy vir ewig en ewig en ewig.  Hy is God.  As Hy nie is nie, dan is die Bybel vals.  God is ’n leuenaar, en ons glo in ’n sprokiesverhaal.  Ons bly dood in die sonde.  As Hy God is, dan word alle dinge nuut gemaak deur sy opstandingskrag.  Dan het die nuwe skepping reeds begin.  Ons sondes is vergewe, en Hy het die mag om ons tot by die einde te bring.  Die goddelikheid van Jesus is sentraal.  En enigiemand wat nie glo dat Jesus God is nie, bly veroordeeld staan.  Mag ons Hom aanbid, Hom gehoorsaam wees, Hom volg.  En Hom vir die wêreld laat sien.

“Christus, ewig God en Heer,
Christus daar omhoog vereer,
in die volheid van die tyd
word Hy mens, in need’righeid.
Sondelose Lam van God
kom aanvaar die mens se lot
Hy, met mense saamgetel,
ware God - Immanuel!
Ook die aarde bring Hom eer -
Christus, ewig God en Heer!”            (Lied 365, vers 2, Afrikaans)

Amen.